Читать книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach - Страница 3
1
Оглавление“Ons het ’n uitnodiging gekry na ’n bal by die estancia San Felipe de Oragon,” kondig Don Ramon aan toe die Almas de la Montara-familie voor aandete in die groot voorkamer van hulle herehuis bymekaarkom.
Al Miranda se sintuie is onmiddellik opgeskerp, want nie net is ’n uitnodiging na die huis van Don Alejandro, die skatryk jong patrón van een van die grootste estancias in Argentinië, baie gesog nie, maar sy het ’n persoonlike belang daar. Die blote aanhoor van sy naam laat haar hart bons, en die moontlikheid om hom te sien, laat haar altyd tintel van opwinding.
“Kan ek asseblief die uitnodiging sien, Vader?” vra sy, want die kaartjie of brief wat gestuur is, het deur sý, Alejandro, se hande gegaan.
Don Ramon oorhandig ’n kaartjie met die Spaanse heraldiese wapen van die hertog, die Conde Alejandro Semillano de Oragon, daarop. Miranda kyk ekstaties daarna. Dit kom weliswaar nie net van hom af nie, maar van die hele familie: Alejandro, sy moeder die Condesa, Doña Natalia, en sy sestienjarige suster, Dolores. Sy vader, Conde Orlando, is twee jaar gelede oorlede en Alejandro het die titel geërf. Daarmee saam is hy nou die patrón – die heer en meester oor hulle uitgestrekte veeplaas van duisende hektaar waarop groot troppe beeste, skape en perde wei. Sover sy weet, is dit die grootste estancia in Argentinië en meer gaucho’s of veedrywers, peones en campesino’s werk vir hom as op enige ander estancia. Hy is soos die heerser van ’n klein koninkrykie.
Hy is vir haar die toonbeeld van ’n cavallero, ’n Spaanse ridder. Ongelukkig is dit nie net sy wat deur hom betower word nie. Alejandro is die mees gesogte vrygesel in die land: fors, lank en onbetwisbaar manlik, met die breedste skouers wat sy nog gesien het, effens krullerige swart hare en donker oë wat ’n bars kan kyk … of diep in jou siel kan indring om jou diepste geheime te ontsluit. Sy gesig is sterk; sy kakebeen toon ’n onversetlike wil en karakter. Sy weet hy is trots en dominerend, maar sy wil hom juis troef. Hy is vir haar die grootste uitdaging in haar lewe.
Die kere dat sy hom gesien het sedert haar sosiale debuut het sy die indruk gekry dat hy haar dophou, graag met haar dans, haar selfs bewonder. Dit het haar dag- én nagdrome begin beïnvloed.
Soos die gaucho’s is Alejandro ’n briljante ruiter. Hy kan vee net so goed as die gaucho’s aankeer met behulp van die boleadoras, die drie klippe in leer toegedraai aan drie voet lange leerbande. Sy het hom al in aksie gesien – hy is ’n uitstekende perderuiter wat wilde perde kan tem. Soos vir haar broer, Raúl, het die gaucho’s hom al dié vaardighede van jongs af geleer.
Sy het hom al aangetrek soos ’n gaucho gesien, met ’n poncho oor sy skouers, ’n mes in sy gordel en ’n leersweep wat hy goed kan gebruik. Sy het hom al in deftige aandklere gesien met kant om sy hals en polse, en in ryklere met blink stewels. Nooit was hy anders as manlik en indrukwekkend nie. Op sy blinkswart volbloedhings is hy ’n asemrowende gesig. Hy dans soos ’n droom. Wat kan hy nié doen nie? Vir haar is hy bykans perfek.
Dis natuurlik ’n probleem dat al wat ’n vroumens is hom begeer. Ouers probeer verbete om hulle dogters aan hom voor te stel, maar Alejandro het nog nie vrou gesoek onder die plaaslike Argentyne nie, en hy is al diep in die twintig. Hy is soos die rypste vrug heel bo aan ’n boom – aanloklik, begeerlik, maar moeilik om in die hande te kry.
Miranda het nog altyd gehoop dat sy ’n voordeel bo die ander meisies het omdat hulle estancia aan sy familie s’n grens en hulle mekaar van kleins af ken. Hy en Raúl is boonop goeie vriende. Goeie buurskap het ook gemaak dat hulle, die Almas de la Montara-familie, altyd genooi word na die swierige geleenthede by die Semillano de Oragon-familie se kasteelagtige woning.
Deesdae probeer ander vryers naarstig om haar die hof te maak, maar sy gooi wal vir ’n vale. Haar vader raak nou al kwaad oor haar steeksheid. Alejandro is die enigste man wat sy wil hê. Hy is nie slegs ’n groot landheer nie, maar dapper, intelligent en ’n leiersfiguur – ’n man wat Spanje toe gestuur is om onder meer die swaardkuns by ’n meester in Madrid te leer. Vir haar is daar eenvoudig geen ander man wat by Alejandro kan kers vashou nie.
Sy sug toe sy na sy familiewapen kyk. Hier lê die groot probleem by sy keuse van ’n lewensmaat: hy is ’n afstammeling van die hoogste Spaanse adel, ’n grande. Sy vader, Don Orlando, was ’n Spaanse edelman wat nog in die tyd van Koningin Isabella II, oftewel Doña Isabel II por la Gracia de Dios, Reina de las Españas, in opstand gekom het teen die korrupte regime en na Argentinië uitgewyk het. Die meeste mense het ’n heilige ontsag vir Don Orlando gehad, maar hy het ongetwyfeld ’n sagte plekkie vir Miranda gehad, wie se afkoms ongelukkig uit die laer adel is. Dit het haar laat hoop dat hy haar nie sou afkeur as potensiële bruid vir Alejandro nie, maar nou is hy dood.
Die Condesa, Doña Natalia, is ’n perd van ’n ander kleur.
“Daardie vrou, wat steeds vasklou aan die waardes en klassestelsel van die ou Spanje onder ’n monarg, is verbete dat haar kinders met die hoogste Spaanse aristokrasie sal trou,” het Miranda se moeder, Doña Maria Luísa, al dikwels gesê. “Al is ons familie soos Alejandro s’n Limpieza de sangre, oftewel ou Christene van suiwer Spaanse bloed, is jou vader en ek plaaslik gebore crillo’s wie se ouers in Spanje gebore is, terwyl sy ouers Peninsulares is, gebore in Spanje. Dít, en hulle rykdom, plaas die Semillano de Oragon-familie heel bo aan die rangleer van Spaans-Argentynse families.”
Tevergeefs het Miranda haar moeder daarop gewys dat Alejandro ook ’n crillo is. Haar moeder het volgehou dat sy ouers volgens hulle tradisie vir hom ’n vrou sal soek – dis nie genoeg om ryk en hardwerkend te wees en ook ’n groot estancia te besit nie. Vir Alejandro-hulle is adellike bloed en die familie se eer die belangrikste oorwegings as dit by ’n huwelik kom.
Haar vader, Don Ramon, het onomwonde gesê: “Miranda, ek weet almal wil daardie jong man as bruidegom kry en ek weet jy het van jongs af ’n spesiale gevoel vir hom, maar jou trots moet jou daarvan weerhou om dit vir hom te wys. Hy is jou nie beskore nie.”
Ten spyte van al dié waarskuwings, of dalk juis as gevolg daarvan, is sy egter vasbeslote om hom te kry. Sy hoor altyd dat sy ’n wil van haar eie het, dat sy koppig en passievol is as sy in iets glo, en sy weet dis waar.
Deesdae hoor sy ook dat sy mooi geword het. Op die ouderdom van sewentien is dit lekker en streel dit die ego, maar ydelheid is iets waarteen Carmen Gonzalez, haar duenna of “tweede moeder”, haar altyd waarsku.
“Trots moet jy wees, en waardig, maar nie arrogant nie. Loop regop, kop omhoog, maar besef dat voorkoms nie al is wat tel nie. Inbors, karakter en medemenslikheid is veel belangriker.”
Miranda moet dikwels die kritiek aanhoor dat sy te wild is, dat dit nie vroulik is om perd te ry soos sy nie, dikwels met mansklere aan. Dis verkieslik dat ’n jong vrou wat ’n goeie huwelik wil doen, sysaal of in ’n koets moet ry, nie met lang hare wat loskom en in die wind stroom nie. Sy steur haar nie daaraan nie, want tuisbly en borduur is nie vir haar nie. Sy wil die wind in haar gesig en hare voel, die stuwing van haar bloed as ’n volbloedperd onder haar galop. Sy wil met perde werk – sy stel intens belang in die telery en bloedlyne, en haar vader het van die beste perde in Argentinië. Sy diere word slegs deur die stoet van die estancia San Felipe de Oragon geëwenaar of oortref.
Haar sogenaamde wildheid is natuurlik nog iets wat die Condesa, Alejandro se moeder, nie goedkeur nie.
“Wat is die geleentheid by Alejandro-hulle?”
Raúl se vraag laat Miranda uit haar mymering opskrik. Hy sit met ’n sjerrieglas in die hand in een van die groot leerstoele langs die vuurherd.
“Dis nie ’n verjaardag nie, so waarom die bal? Wil hulle iets anders vier?”
Miranda, wat by die familiewapen vasgehaak het, lees die kaartjie verder. Nee, dis nie waar nie! Dit kan eenvoudig nie wees nie!
Dit voel asof iemand haar wind uitgeslaan het. Sy snak na asem en voel hoe haar lyf lam word. “Dit … hulle … Alejandro raak verloof,” kry sy dit uit deur lippe wat dood voel.
Die kaartjie val uit haar willose vingers en Raúl kom tel dit op. Vaagweg is sy bewus daarvan dat hy haar besorg aankyk. Sy klem die stoel se armleunings vas en voel asof sy wil flou word. Vir ’n wyle draai die vertrek, voordat sy haar reggeruk kry.
Raúl sit sy hand op haar skouer. “Moet ek vir jou sjerrie bring? Jy is doodsbleek.”
“Nee … nee, dankie.”
Hy staan tru en kyk haar simpatiek aan.
“Dis soos ek voorspel het,” hoor Miranda haar moeder se streng stem asof van ver na haar aankom. “Alejandro moet trou met ’n vrou uit die hoogste Spaanse adelstand. ’n Verfynde vrou wat nie soos ’n wildewragtig perdry oor die pampas nie.”
Miranda voel asof ’n mes in haar hart gedraai word. Sy is nie goed genoeg vir hom nie. Hoe dwaas was sy nie om haarself van die teendeel te probeer oortuig nie.
“Is dit ’n gereëlde huwelik?” prewel sy. “Ons weet nie van ’n vrou wat hy liefhet nie …”
“Dis ’n praktiese ding – om met ’n ryk vrou uit ’n belangrike familie na aan die Spaanse koningshuis te trou, al is die monargie korrup en treurig,” merk haar vader sardonies op.
“Ek trou liewers vir liefde,” sê Raúl driftig.
Doña Maria Luísa tik met haar waaier op haar stoel se armleuning. “Ek wonder net of ’n vrou vars uit Europa gelukkig sal wees hier, al is haar man so ryk soos Alejandro. Maar natuurlik moet ’n vrou gaan waar haar man gaan en haar aanpas by sy wense.”
Miranda kry die ou gevoel van opstandigheid en magteloosheid. Waarom moet huwelike gereël word? Waarom moet vroue altyd aan mans ondergeskik wees? En die ergste van alles: waarom kom liefde altyd tweede?
Sy twyfel nie dat die vrou vir Alejandro lief sal word nie, want as sy hom nie reeds ken nie, sal hy haar maklik verower, soos hy met almal maak. Dalk sal sy nie omgee om om sy onthalwe hier aan te pas nie al is dit ver van Spanje, op ’n afgeleë estancia in die skadu van die hoë berge, die Siërra del Rey, waar die banditti van die gevreesde Pablo Ramirez gedurig vanuit hulle skuilplekke op die campo of in die berg die estancias bedreig. Sy ken moontlik nie sulke wildheid en gevare nie, maar is seker bereid om dit te trotseer.
Bitterheid borrel in Miranda se keel op en sy sluk hard. Hoe kon haar jare lange hoop met een felle slag só verydel word?
Raúl kyk haar met begrip en deernis aan. Hy weet hoe lief sy vir Alejandro is. Hy is ouer as sy en begin nou oordrewe beskermend raak, want hy verbeel hom elke man wat haar sien, wil haar teen haar sin syne maak.
“Wie is die vrou aan wie Alejandro verloof raak?” vra sy uiteindelik toe sy haar stem terugkry, maar dis steeds bewerig.
“Die Marquésa Mercedes Rontillana de la Barquete, uit een van die voorste adellike families in Spanje,” sê haar vader fronsend. “As jy nie kans sien om na die bal te gaan en jou gevoelens te verberg nie, bly eerder tuis. Anders is dit vir ons almal ’n verleentheid.”
Trane brand agter Miranda se ooglede, maar sy knipper dit weg en lig haar ken. Haar hart breek, maar sy sal nie toelaat dat enigeen daarvan bewus word nie. Haar ouers het nog nooit simpatie met swakheid gehad nie en was nog altyd baie streng. As haar vader geraas het, het haar moeder hom nagepraat.
“Nee, ek sal dit bywoon en ek verseker julle ek sal my waardig gedra en nie ’n gek van myself maak nie,” sê sy beslis, maar haar onderlip bewe en sy moet dit vasbyt sodat hulle dit nie moet agterkom nie.
Haar vader knik. “Jy kan enige ander man in Argentinië kry; hulle val my skoon lastig met versoeke om jou die hof te maak. Ek sê lankal vir jou om nie jou hart aan Alejandro te verbind nie. Ons het nog altyd geweet dis futiel om te hoop dat hy met jou sou trou.”
Miranda voel diep gekrenk en verneder. Sy sluk aan die seer knop in haar keel en sê niks. Sy moet liewer vanaand stilbly, want sy vertrou nie haar stem nie. Dit sal bewe of deurslaan en sy is grootgemaak om altyd ’n goeie front voor te hou. Trots is tog so belangrik. Trots en eergevoel, en die respek van ander.
Aan tafel praat sy nie, maar sy sien dat Carmen haar simpatiek dophou.
Ná ete gaan sy na haar duenna se kamer en klop. Carmen se sagte stem nooi haar in.
“Ek het geweet jy sal na my toe kom, my duifie,” sê sy liefdevol van waar sy in ’n leunstoel sit en borduur.
Miranda gaan sak langs haar op die vloer neer en lê haar kop op Carmen se skoot. “Ek is só ongelukkig. Dit voel asof my hart in stukkies gespat het. Dis verskriklik om met die feit gekonfronteer te word dat Alejandro tradisie volg en met ’n marquésa uit Spanje gaan trou. Ek het so gehoop dit sal nie regtig gebeur nie.”
Die ouer vrou streel oor haar hare. “Ja, ek kan dit verstaan. Die man wat ek wou gehad het, het ook met ’n ander vrou getrou. Daarna het ek nooit vir iemand anders kans gesien nie.”
“Hoe gaan ek dit verduur, Carmen? Hoe het jy?”
Haar trane drup op Carmen se romp en sy probeer haar oë met haar hande afvee.
“Dis eers vreeslik seer, maar naderhand word die seer dun, soos iets wat jy lank uitrek. Tyd heel dit nie heeltemal nie, maar grotendeels.”
“Dit voel vir my asof ek sy moeder nooit sal vergewe nie. Hoe kan hy toelaat dat sy hom verplig om te trou as hy ’n volwasse man is, en boonop die patrón van daardie groot estancia?”
Carmen sug. “Ai, my duifie, dis hulle tradisie. Mense trou al eeue lank met die persoon wat vir hulle gereël is. Sulke huwelike hou glo beter, want dis op die sterk fondament van besittings en aansien gebou, en nie op liefde wat kan uitbrand nie. Hulle onderhandel seker al baie lank, want dis iets wat tyd vat.”
Dis natuurlik die rede waarom hy nou eers verloof raak, dink Miranda weemoedig. Al die tyd wat sy gehoop het sy staan ’n kans, was hulle besig om vir hom ’n vrou te soek. Hoe ironies.
Eers ná ’n lang tyd keer sy na haar kamer terug, dankbaar dat Carmen minstens altyd daar is vir haar. En dat sy haar jongmeisiedrome verstaan, al is haar ouers so hardvogtig daaroor.
Ana, Miranda se camerista, staan terug en kyk na haar meesteres.
“U lyk absoluut verruklik, Doña Miranda. Hierdie rooi sytabberd laat u glansende hare en romerige vel tot hulle reg kom. Met die swart kantmantilla oor die kam in u hare is u afgerond.”
Miranda kyk na haarself in die spieël en sien ’n lang, slanke meisie, haar gesig doodsbleek, met ’n klein middeltjie waaronder die romp van die rooi rok wyd uitklok. Aan haar ore is goue oorringe en om haar nek ’n goue halssnoer. Sy is eintlik verbaas dat haar camerista se pogings om haar mooi te maak so geslaag was, want in haar is dit stukkend. Ana is ’n vaardige haarkapper en haar blinkswart hare is pragtig opgekam, met een lok wat oor haar skouer hang. Die ironie is dat sy nog nooit beter gelyk het nie.
Sy maak haar waaier oop en kyk oor die rand daarvan na die paar treurige groen oë wat uit die spieël terugstaar. Vanaand moet sy net nie wys dat haar hart gebreek is nie. Diep in haar is daar nie net hartseer nie, maar ook ’n gloeiende woede en wrok dat sy so gering geag word dat Alejandro vir hom ’n vrou uit Spanje moes kry. Sy houding teenoor haar was nog altyd so sjarmant dat sy haar begin verbeel het dat sy die uitverkorene sal wees. Baie van die groot grondeienaars se kinders trou met bure en dit versterk hulle onderling. Dis veral belangrik weens die konstante bedreiging van die bandito Pablo Ramirez, met sy stryd teen die rykes en die regering van president Ignacio Branco wat hulle steun.
Alejandro is klaar so ryk en magtig. Hy het nie werklik nodig om bondgenote te soek nie, maar ook nie om ’n ryk vrou uit Spanje te kry nie. Die treurige oë is meteens gevaarlik blink en woedend. Sy draai weg van die spieël.
“Dankie, Ana. Jy het jou bes gedoen.”
“Vanaand draai die mans soos bye om u,” glimlag Ana. “Een van die dae is daar nog ’n verlowing in ons geweste.”
Dit sal die dag wees, dink Miranda opstandig, maar sy dwing ’n glimlag na haar lippe.
Sy gaan na die groot sitkamer, waar haar ouers vir haar wag. Hulle ry in die koets, met ’n groot geleide lyfwagte, want deesdae weet mens nie of die banditti jou voorlê nie. Dit maak dit opwindend maar ook senutergend om die veiligheid van jou eie estancia te verlaat.
Raúl ry te perd, en Miranda wens sy kon eerder ook te perd gegaan het as in die stamperige koets op die stofpad, met haar ouers wat haar dophou asof hulle bang is sy gaan haar nie na behore gedra nie.
“Don José de la Guardia sal seker by die bal wees. Hy het my gevra of hy jou die hof kan maak,” kondig haar vader meteens aan. “Hy is ’n uitstekende keuse. Hulle estancia is ryk, en hy is ook die oudste seun.”
“Ag nee!” protesteer sy.
Dié jong man uit ’n vooraanstaande familie en nie onaansienlik nie sal haar ouers natuurlik geval, maar teen Alejandro is hy vir haar nietig. Sy moet hoop verloor, maar sy kan nie …
“Dis nou tyd dat jy ophou protesteer oor elke man wat ek aan jou voorstel,” blaf haar vader. “As jy nie uit die room kies nie, sluit jy naderhand ’n misplaaste huwelik. Almal wat jy weier, sal vir hulle ander bruide kry.”
“Dalk sit jy nog op die rak,” merk haar moeder suur op.
“Nee, dit kan ek nie voorsien nie,” wys haar vader sy vrou tereg. “Daar is te veel belangstelling, want Miranda het ’n mooi meisie geword en ons is ver-moënde mense. Ek wil net nie hê sy moet in die kloue van ’n derderangse fortuinsoeker beland nie.”
Miranda bly doodstil sit. Hulle moenie dink hulle kan haar dwing nie. Al blyk haar ouers se huwelik ’n suksesvolle gereëlde huwelik te wees, sal sy nie in dieselfde strik trap nie. Om te beland in die bed van ’n man vir wie jy niks voel nie, waar jy jouself soos ’n lam ter slagting moet oorgee, is haar idee van hel.