Читать книгу Hertog van die Pampas - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

Terwyl haar ouers gesels en hubare jong mans bespreek, kyk Miranda by die venster van die koets uit. In die verte is die hoë siërra agter die uitgestrekte estancia waarheen hulle op pad is, en voor hulle lê die Rio Santa Cruz, die rivier tussen die twee estancias, waar hulle ’n brug moet oorsteek wat Alejandro se vader nog gebou het.

Die son is nog nie onder nie en die landskap spreek soos altyd tot haar. Sy het dié bodem met haar hele wese lief. So lief soos vir Alejandro, wat deel is daarvan soos die sneeu op die hoogste pieke van die siërra, die kolkende water van die rivier wat uit die berge vloei, die vlaktes met duisende stuks vee wat daarop wei, die pragtige herehuise, die kleurryke mense en gehuggies. Háár land, en sýne.

Die koets rammel oor die houtbrug en soos altyd kyk Miranda met bewondering na die estancia San Felipe de Oragon. Die casco bestaan uit die herehuis, kapel en buitegeboue, geleë in ’n indrukwekkende park met palmbome en ’n aangeplante woud nie ver anderkant die rivier nie. Dis die mooiste casco wat sy ken. Hulle eie casco is soortgelyk, maar minder opulent.

Die estancia San Felipe de Oragon het ’n uitkyk-toring, die mirador, en die geboue is om ’n reuse binnehof gerangskik, waarin ’n groot fontein in ’n dam borrel en die indruk van koelheid skep as die hitte van die somer hulle tref. Danksy die fortifikasies lyk dit veilig, soos ’n kasteel.

Sy het haar nog altyd verwonder aan die vloere met Florentynse teëls, die soliede klippilare, die vensters met gegote ystertraliewerk en ornamentele deure, die dik mure en hoë plafonne met swaar houtbalke. Kunstige stukadoorswerk is oral te sien. Die meubels is swaar en pragtig met baie goud- en silwerafwerking, die muurbehangsels en ornamente is die keurigste wat sy nog gesien het, en alles in die huis is ingevoer uit Spanje. Swaarde van Toledo en die harnas van ’n voorvader is teen die muur in die groot voorkamer aangebring, en daar is skilderye van die vername aristokratiese familie in deftige Spaanse kostuums.

Sy sug. Dit was nog altyd lekker om hierheen te kom – die Semillano de Oragon-familie se gasvryheid is legendaries. Die vooruitsig om Alejandro hier te sien, het egter alle ander plesiere oortref. Gewoonlik as sy op dié werf inry, is haar hart bulderend van opgewondenheid en weet sy daar is ’n blos op haar wange en haar oë blink. Hierdie keer is daar egter net die seer in haar, die intense teleurstelling, en ’n wrewel wat die weersiens vertroebel.

Die werf is vol rytuie en die personeel van die estancia versorg die ry- en karperde. Miranda is bewus van deftig geklede gaste wat arriveer, die vroue in lang, wye rokke, met kamme in en mantillas oor hulle hare en waaiers in hulle hande – waaiers waarmee ’n vrou duidelike boodskappe kan stuur, veral as haar oë bo-oor kyk en die res van haar gesig verberg is.

Vandag traak Miranda nie wie die ander gaste is nie, sy wil net vir Alejandro en daardie vrou aan wie hy verloof moet raak, sien. By die trappe na die ingang gaan haar ouers vooruit en sy en Raúl volg. Dit voel asof alle oë op hulle is, maar sy konsentreer op die mense wat hulle inwag.

Dolores, Alejandro se laatlamsuster wat fraai lyk in pienk, is soos gewoonlik bly om haar te sien. “Welkom, Miranda,” groet sy en omhels haar. “Jy lyk absoluut verruklik,” fluister sy.

“Dankie.”

Kan hulle nie die ongelukkigheid op haar gesig sien nie, of het haar streng opvoeding dit regtig moontlik gemaak om alle emosie weg te steek? Binne-in haar kolk dit.

Doña Natalia – in swart tafsy met baie kant, want sy rou steeds ná haar man se dood – groet vriendelik. “Julle is soos altyd welkom.”

Toe is Alejandro daar, onberispelik, asemrowend in ’n swart pak met onderbaadjie, spierwit hemp met kant by die kraag en polse, sy blinkswart hare netjies in sy nek vasgemaak. Sy gesig is vir Miranda soos ’n lig wat te helder is om direk na te kyk; sy berispe tevergeefs haar verraderlike, trommelende hart.

Sy moet net kalm bly, kop omhoog, rug styf, net effens glimlag. Alejandro moenie agterkom dat haar hand bewe as hy dit soos gebruiklik soen nie. Gee my krag, bid sy, en toe is sy voor hom.

“Miranda … soos altyd betowerend,” mymer hy en sy moet in daardie diep, donker oë tussen die swart wimpers kyk. Wat is in hulle dieptes? Tog nie spyt of jammerte nie.

Sy oë terg en spot nie soos so dikwels in die verlede nie. Hy lyk uitdrukkingloos, sy blik eintlik versluier, want hy het hom nie aan haar verbind nie, en nou behoort hy aan ’n ander vrou. Hy moet hom stigtelik gedra.

Toe hy haar hand neem en sy lippe dit liggies aanraak, voel dit asof haar vel skroei. Die hitte trek deur haar hele wese om haar week te laat. Waarom is sy tog so swak as sy by hom is? Dit maak haar sommer kwaad dat hy so ’n effek op haar kan hê. Ja, dis ’n emosie om aan vas te hou: woede. Dit sal haar rug styf maak.

Haar stem laat haar gelukkig nie in die steek nie. “Don Alejandro, dis altyd ’n plesier om hier te kom en julle weer te sien.”

Hy hou nog steeds haar hand vas, besef sy vervaard en wonder of sy dit moet wegtrek. Waar is die verloofde, die markiesin van wat ook al? Sy kan nie eens die naam onthou nie.

Hy los eindelik haar hand en sy moet aanbeweeg. Sy voel hoe Raúl haar elmboog neem asof hy haar wil steun en sy kyk vlugtig dankbaar na hom.

Die son het gesak en die gaste is die huis vol. Orals word lampe en kerse aangesteek. Miranda voel asof sy in ’n droom wandel. In ’n pragtige omgewing, maar iewers in die skaduwees skuil die nagmerriegevoel van verlies en pyn.

Almal het verversings geniet en nou staan hulle en wag vir die aankondiging wat die doel van die aand se viering is. Miranda is bitterlik nuuskierig om te sien hoe die markiesin lyk, al is dit soos wag vir ’n slang om die paradys binne te seil.

Uiteindelik is die spanning verby: ’n jong vrou kom by die breë trap af. Alejandro gaan gee haar sy hand en lei haar na onder, waar sy moeder en suster staan. ’n Vreemde jong man sluit by hulle aan. Die geraas van mense wat praat en gis, bedaar totdat ’n doodse stilte gedaal het.

Miranda staar na die meisie, wat sy ’n jaar of twee ouer as syself skat. Al wat sy teenoor haar voel, is wrewel. Die markiesin is baie mooi, al is sy amper te delikaat en broos. Sy is uitsonderlik deftig aangetrek en haar kantversierde tabberd en juwele stel al die ander vroue s’n in die skadu. Haar vel is spierwit asof sy nooit in die son kom nie, en haar hare is donker met ’n effense rooi skynsel. Hovaardige swart oë kyk na die nuuskierige mense en haar volmaakte rooi mond glimlag skaars.

Sy dink seker ons mense is nie van die onbesproke kwaliteit wat sy in Spanje ken nie, dink Miranda ergerlik. ’n Pragtige vrou, maar soos ’n nagblom wat nie hier in ons Argentynse grond aard nie. Sy pas eenvoudig glad nie hier of by Alejandro nie. Hoe kon hy, wat in die buitelug leef en byna op ’n perd se rug gebore is, eens dink dat dié vrou die regte een vir hom is?

Doña Natalia lyk so selfvoldaan toe sy in die rondte na die gaste kyk dat Miranda op haar tande kners. Maar dit tref haar soos ’n hou in die maag toe die markiesin na Alejandro draai: haar gesigsuitdrukking verander van bykans minagtende trots en arrogansie na iets wat soos aanbidding lyk.

Dan het hy reeds haar voete onder haar uitgeslaan, dink Miranda wrokkig. Die markiesin kan haar geluk seker nie glo om ’n man te kry wat so manlik en aantreklik is en terselfdertyd so ryk nie.

Sy kreun innerlik terwyl sy haar gesig uitdrukkingloos probeer hou. Hoe gaan sy die hele bal deurworstel? Die lang ure deurstaan terwyl Alejandro en daardie vrou voor haar oë aan mekaar raak en in mekaar se oë kyk? Gewoonlik oorval die dansmaats haar en vanaand sal seker geen uitsondering wees nie, maar sy sal heeltyd pynlik bewus wees van daardie twee.

Sy is in ’n dwaal van ellende toe Alejandro-hulle nader kom om die markiesin voor te stel. Doña Natalia loop trots voor met die houding van die matriarg.

“Doña Mercedes, ek stel u voor aan ons naaste bure, die familie Almas de la Montara: Don Ramon, Doña Maria Luísa, Don Raúl en Doña Miranda. Vriende, ek stel julle met die grootste genoeë voor aan die Marquésa Mercedes Rontillana de la Barquete van Spanje.”

Mercedes maak kil en teruggetrokke met almal kennis. Toe sy by Miranda kom, kyk sy haar uit die hoogte aan, bykans vyandig, en knik bloot haar kop.

“Dié heer is die markiesin se broer, die Marqués Fernando Rontillana de la Barquete,” stel Doña Natalia die skraal man voor.

Miranda moet sy ligte soen op haar hand verduur. Hy het ’n yl klein baardjie en snor, en is oordrewe hoflik. Sy swart oë takseer haar openlik vrypostig, sodat sy ril. Hoe durf hy hom aanmatig om so na haar te kyk, die arrogante vent? Hoe kan sy van twee sulke mense hou? Hulle is afstootlik.

Haar ouers hou haar soos valke dop, besef sy. Hulle wil seker maak dat sy haar só gedra dat niemand kan raai sy is ontsteld nie.

Diskreet kyk sy na Alejandro. Lyk hy verlief op dié brose vrou? Hy kom sjarmant en hoflik voor, maar waar is die skittering in sy oë en die subtiele lyftaal wat wys dat hy tot die markiesin aangetrokke is, dat hy haar begeer? Hy lyk amper te groot en manlik langs haar. Sy sou beter gepas het by ’n kragtelose, ingeteelde adellike man van haar broer se tipe. As Alejandro nie op haar verlief kan raak nie, hoe kon hy hom laat oortuig het om met haar te trou?

Miranda is so siek van verydeling dat sy een van die laastes is wat agterkom dat daar ’n rumoer by die voordeur is. Sy sien net dat Alejandro die markiesin se hand van sy arm afhaal en haastig na die ingang gaan. Toe Miranda omkyk, staan daar twee van hulle eie gaucho’s by Alejandro se hoofbediende. Haar vader en Raúl baan dadelik hulle weg deur die mense.

“Daar het iets by ons estancia gebeur,” sê Doña Maria Luísa ontsteld. Hulle wag gespanne totdat Raúl hulle kom vertel.

“Die banditti, Pablo Ramirez se bende, val ons casco aan. Ek en Vader, Alejandro en van die ander mans gaan nou met versterkings daarheen. Ons moet hulle verdryf voordat hulle groot skade aanrig. Die vuilgoed het ons natuurlik dopgehou en net gewag dat ons vertrek voor hulle aangeval het.”

Miranda hoor haar moeder se uitroep van skok en sien dat sy wankel, en haar gevoel van dwaling wyk onmiddellik. Dolores kom nader gehaas en help Miranda om Doña Maria Luísa op ’n stoel te laat sit.

“Ek het geweet daardie Ramirez gaan ons nog aanval,” prewel Doña Maria Luísa. “Dit was net ’n kwessie van tyd.”

“Dolores, ek wil ook teruggaan na ons huis,” sê Miranda dringend. “My merrie het gevul en ek is bang hulle steel my perde. Kan ek asseblief ’n perd by julle leen?”

Dolores kyk haar geskok aan. “Nee, Miranda, jy kan nie gaan nie! Dis gans te gevaarlik. Dis manswerk om die banditti te verdryf. Alejandro sal my afslag as ek vir jou ’n perd leen om agterna te jaag.”

Miranda stamp haar voet van frustrasie. “Ek gaan nie hier bly nie, al moet ek ’n perd steel!”

Sy ruk haar mantilla af en gooi dit saam met haar waaier op ’n stoel neer. Toe gryp sy haar lang rok in albei hande vas, lig die soom sodat sy dit nie moet vastrap nie en hardloop uit, net betyds om te sien hoe die mans in hulle aandklere saam met ’n klein leër gaucho’s in die rigting van die brug jaag, Alejandro se swart hings heel voor.

Daar is genoeg chaos op die werf sodat sy hopelik ongesiens na die stalle kan hardloop. Haar hare tuimel los en haar asem jaag brandend in haar keel.

“Gou, saal vir my ’n perd op!” roep sy vir die verskrikte staljong.

“Señorita, ek kan dit nie doen nie,” protesteer hy geskok en kyk na die pragtige rooi syrok wat om haar uitklok.

Sy vlieg by hom verby, sien ’n perd in ’n stal en ruk die staldeur oop. Die hings trap senuagtig rond, maar sy paai hom, lig haar rok en kry dit reg om op sy rug te klouter.

Die staljong skree en ’n ander een kom by, maar sy druk met die perd by hulle verby na buite. ’n Harde skop in die hings se lies laat hom vorentoe skiet en sy galop oor die werf, verby die perdekarre, na die brug. Agter haar hoor sy mense skree, maar sy klou aan die perd se maanhare en stuur hom agter die verdwynende ruiters aan.

Van jongs af is sy gewoond om wilde perde te ry en te tem en sy het al dikwels bloots gery, maar nog nooit met ’n aandrok wat om haar wapper nie. As sy nou afval, val sy haar te pletter. Die wind suis deur haar hare en sy lê laag op die perd se nek. Opwinding bruis deur haar en verdoof die vrees, en sy skeer oor die veld.

Hoe nader sy aan die casco kom, hoe duideliker word die lawaai van ’n klein oorloggie – skote, krete, die gerunnik van perde. Sy moet stal toe, na haar vulletjie en merrie, maar hoe gaan sy deurkom? Sy ry stadiger, want die perd blaas en sy wil nie holderstebolder tussen die aanvallende banditti beland nie. Eers moet sy die omgewing bespied, maar haar hart wil by haar keel uitspring soos dit wild klop.

Meteens hoor sy die gejil van mans en sy sien perde word ’n ent van haar af aangejaag. Die banditti hét hulle perde kom steel, dink sy met magtelose woede. Nou vlug hulle met hulle buit.

Die skietery het opgehou en sy ry in die rigting van die casco. Mense en diere maal rond en sy kan nie sien waar haar vader, broer of Alejandro is nie.

“Wat maak jy hier?” skree iemand, en toe sy omkyk, staan Alejandro daar met ’n woedende gesig, sweep in die een hand, sy bene uitmekaar geplant. “Is jy mal om sommerso agterna te jaag? Jy kon raak geskiet gewees het.”

“Ek het my perde kom red!” roep sy terug. Sy gly van die hings af, haar hare los om haar skouers, en besef dat sy soos ’n wilde vrou moet lyk.

Alejandro kom nader en sy vingers klem staalhard om haar boarm. “Jy ry toe nog waaragtig bloots. Hoe kan jy so roekeloos wees?”

Sy ruk om los te kom en sy greep verslap. “Hoeveel perde het hulle gesteel?” hyg sy.

“Hulle is met die helfte van julle perde weg, en ’n aantal mans is gewond. Een van my gaucho’s is dood.”

“Waar is my vader en Raúl?”

Sy gesig lyk of dit uit graniet gebeitel is, so stroef is dit. “Kom ons gaan soek hulle.”

Mans is orals met lanterns, besig om die skade te bepaal. Miranda sien hulle hoof-gaucho en roep hom.

“Ricardo, waar is Don Ramon?”

Hy lyk hoogs ontsteld en sy kry ’n nare voorgevoel.

“Ai, Doña Miranda, hy het daardie boewe bestorm en hulle het hom geskiet. U broer ook.”

Sy kyk onbegrypend na hom. Stadig dring die verskriklike tyding tot haar deur.

“Moenie … moenie vir my sê hulle is dood nie?”

“O nee, hulle is net gewond, maar u vader is baie swaar gewond. Ons het hulle na die huis se voorkamer geneem.”

Trane van skok laat haar oë brand. Sy voel hoe Alejandro se arm om haar skouers gaan en sy leun dankbaar teen hom aan.

“Kom, ek neem jou na hulle.”

Toe hulle by die voorkamer inkom, sien sy dat haar vader en broer albei op banke neergelê is. Carmen kniel by haar vader en Ana is besig om Raúl se gesig af te vee.

Miranda is geskok om te sien dat haar vader se hele bolyf vol bloed is. Sy hardloop vorentoe en gryp sy hand.

“H … hulle het my in die … lyf ge … geskiet …” prewel hy en in die lamplig is sy gesig vertrek van pyn. “Miranda … jy moet sterk wees … patróna wees … jou moeder kan nie. As Raúl nie oorleef nie … laat die priester kom … laaste sakrament …”

“O genade,” prewel sy en kyk deur haar trane na Alejandro. “Hy klink of hy sterwend is.”

Alejandro lyk so somber dat sy weet hy dink ook so. “Ek sal die vinnigste ruiter stuur vir die priester,” fluister hy en gaan uit.

Vervaard vlieg sy om. “Raúl …” Sy haas haar na waar hy lê.

“Hy is deur die bobeen en arm geskiet, Doña Miranda,” verduidelik Ana, wat die bloed met lappe probeer stelp.

“Raúl,” roep Miranda. “Raúl!”

Hy maak sy oë oop en kreun van pyn. Dit lyk asof hy nie op haar kan fokus nie.

Sy begin bevele gee vir verbande, warm water en sponse, en hardloop van die een na die ander. Heeltyd is sy bewus daarvan dat Alejandro help, dat hy daar is, en sy is goddank bly.

Toe die dag breek, is sy uitgeput en paniekerig, want dit lyk asof Don Ramon skaars asemhaal. Bebloede lappe en rooi water word gedurig uitgedra en skones ingebring. Sy het die wonde verpleeg en verbind, maar die bloed bly syfer deur. Alejandro het gehelp om die koeël uit Raúl se bobeen te haal en nou lyk haar broer asof hy koors ontwikkel.

“Die priester en Doña Maria Luísa is hier,” hoor sy Alejandro se stem.

Sy kyk om van waar sy by haar vader kniel en hoor haar moeder gil. Agter haar is ’n man in swart – Vader José. Alejandro se sterk hande lig haar op sodat haar moeder en die priester by haar vader kan kom.

“Dis tyd vir die laaste sakrament,” sê die priester. “Don Ramon is gereed om te gaan. Julle kan niks meer vir hom doen nie.”

Die priester se voordrag weerklink deur die vertrek, wat skielik doodstil is behalwe vir Doña Maria Luísa se sagte gesnik. Die priester seën haar vader, wat net kan prewel. Miranda voel lam en verward. Sy was lief vir haar vader, al was hy so streng. Dit raak haar diep toe hy sy laaste asem uitblaas.

Nadat Don Ramon weggeneem is om uitgelê te word, bepaal Miranda haar aandag by Raúl. Sy gaan kniel langs hom en streel sy wang. Hierdie broer van haar het sy só lief. Elke kreun wat hy gee, sny deur haar murg en sy bid dat hy net nie ook moet doodgaan nie.

“Ons moet Raúl na my estancia neem, waar hy behoorlik versorg kan word en waar dit tans veiliger is as hier,” hoor sy ’n rukkie later Alejandro se stem agter haar. “Ek het ’n perdekar laat inspan. Jy en jou moeder moet ook voorlopig by ons bly.”

Miranda staan moeisaam op en sy sterk hand stut haar.

“Wat van my vader?”

“Ons sal jou vader oormôre kom begrawe.”

“Neem vir Raúl. Ek en my moeder bly hier tot die begrafnis verby is. Ons moet baie dinge reël. Ons moet ook kerse brand en by my vader waak.”

Die gewoonte wat hulle het om hulle doodskiste in gereedheid te hou, voel skielik vir haar reg, al het sy altyd daarmee gespot.

“Goed, dit is die konvensie, selfs in hierdie gevaarlike tye,” stem Alejandro in. “Maar dan stuur ek bykomende wagte om julle op te pas.”

Miranda is dankbaar om uiteindelik veilig in Alejandro se huis te wees. Die afgelope paar dae het soos ’n nagmerrie verbygegaan.

Sy en haar moeder het by haar vader se lyk gewaak. Al die regte rites is gevolg. Hulle gaucho’s het ’n erewag gevorm en gehelp om die kis te dra na die klein begraafplaas by die sipresse, waar die graffies van die twee babaseuntjies wat tussen haar en Raúl gebore is hulle vader ingewag het.

Met die bedreiging van Ramirez so naby, kon hulle nie wyd en syd boodskappers uitstuur om die ander vooraanstaande families te laat weet dat een van die groot estancia-patróns dood is nie. Dié wat vir die verlowingsbal gekom het, is meesal huis toe. Net ’n klein aantal het dit gewaag om die begrafnis by te woon.

Die ses dooie banditti is in ’n massagraf begrawe en die priester het vir hulle ook gebid. Die gewondes is deur hulle makkers weggevoer en sy was dankbaar dat sy nie verplig was om dié gespuis ook te verpleeg nie.

Die pragtige tuine om hulle casco is verniel deur die banditti, en dis vol perde- en mensespore. Sy sal dit laat opknap sodra die ergste krisis met Raúl verby is, dink Miranda weeïg. Haar vader was so trots op sy tuine en sy perde.

“As Ramirez-hulle begin het om op groot skaal perde te steel, beplan hulle een of ander offensief,” het Alejandro haar gewaarsku. “Ons moet julle estancia eers beveilig voordat julle kan terugkeer.”

Hy was so adamant dat sy en haar moeder na sy huis saamkom dat sy nie kon teëpraat nie. Nou sit sy hier by haar broer in die kamer wat Alejandro aan hom toegewys het, geklee in ’n swart tabberd. Sy en Dolores maak beurte om by die koorsige Raúl te waak.

Tot Miranda se verbasing is haar moeder, wat altyd so sterk en doelgerig gelyk het, skoon verpletter ná haar vader se dood. Al wat sy kan doen, is op ’n bondel sit en treur. Sy wil nie eens afgaan eetsaal toe nie en die kos wat vir haar gebring word, raak sy skaars aan.

Miranda besef dat sy die sterk een sal moet wees – sy kan nie ook in ’n stoel gaan sit en rou nie. Die woorde wat haar vader vir haar geprewel het net voor sy dood, verstaan sy nou. Hy wou hê sy moet die leisels oorneem, want hy het geweet sy is sterk en haar moeder nie.

Wat sy ook nou besef, is dat Dolores veel meer vir Raúl omgee as wat sy, Miranda, ooit vermoed het, want sy verpleeg hom met die toewyding van liefde en angs.

Hertog van die Pampas

Подняться наверх