Читать книгу In jou hande - Malene Breytenbach - Страница 3

1

Оглавление

“Pas op, Michelle! Daardie vragmotor gaan in ons vasry!”

Sandra se gil ontsenu Michelle, wat verblind word deur die groot voertuig se helder ligte. Sy ruk aan die stuurwiel om hulle uit die gevaar te probeer kry.

Te laat besef sy dat dit na die afgrond se kant is.

Die vragmotor se getoet, die geskree van remme en die gille van haar vriendin weerklink in haar ore. Toe is daar die oorverdowende slag van die botsing en ’n geskuur van metaal teen metaal. Die motor tol, slinger, spring soos ’n lewende ding wat sy nie kan beheer nie en duik oor die lae keermuurtjie in die afgrond af. Ten spyte van die veiligheidsgordel ruk sy heen en weer, maak haarself seer.

Sy hoor haarself gil, en haar kop stamp só hard teen die stuurwiel dat pyn soos weerligstrale deur haar skiet.

Toe sy uiteindelik bykom, voel alles om haar opgefrommel. Dis stikdonker.

Liewe hemel, ons is die afgrond in. Ons het ’n ongeluk gehad, dink sy paniekerig. Iets warms kielie teen haar gesig af en sy besef dis bloed. Haar hele gesig is verskriklik seer. Sy wil na Sandra roep, maar sy kan nie. Iets vreesliks is verkeerd met haar mond, met haar hele gesig.

Sy wil voel waar haar vriendin is, maar haar hande sit iewers vas. Sy draai haar kop versigtig om te kyk. Langs haar lê Sandra se liggaam skuins – en vreeslik stil. Daar klink nie ’n geluid van haar kant op nie, nie eens ’n kreun nie.

Michelle sukkel haar een hand los, maar kan die ander een nie loskry nie. Pyn brand deur haar arm en hele lyf. Hemel, sy sit vas, soos ’n insek onder ’n skoen. Sê nou die motor slaan aan die brand? dink sy paniekerig. Sy moet Sandra hier uitkry. Hulp kry.

Alles aan haar pyn. Waar is die vragmotor wat hulle van die pad gestamp het? Dis donker en doodstil.

Meteens is daar ’n woeste gekraak en die motor kom in beweging. Sy wil gil, maar sy kan net kreun. Daar is ’n oomblik van intense foltering, en toe vervaag alles.

“Hierdie een is vasgepen. Ons sal hulle moet uitsny.”

Die stem bereik haar benewelde brein, maar in haar gefolterde toestand kan sy net luister.

“Hou vas! Keer dat dit vorentoe rol!”

Iemand ruk aan die motor se verwronge kajuit en dit maak haar pyn net erger. Sy wil skree hulle moet ophou, maar sy kan nie.

Harde bevele klink op. Dit voel of dit van ver weg kom, maar daar is mense om haar, hulle vat aan haar. Hulle lig die verskriklike gewig van haar af.

Sy swymel weer die genadige duisternis in.

“Die pasiënt was in ’n ernstige motorongeluk,” dring ’n manstem vaagweg tot Michelle deur. “Sy is in ’n skoktoestand wat ons stabiliseer met ’n intraveneuse lyn en vog vir trauma. Sy is hemodinamies onstabiel en kardiovaskulêr onstabiel. Veelvuldige beserings en frakture. Gesigtrauma. Mandibulêre fraktuur, maar gestabiliseer. Buis in lugweë weens erge swelsel. Kneusings in gesig met geswolle lippe, maar asemhaling nie belemmer nie. Harsingskudding word vermoed. Hemotome in beide oë, handfraktuur, skaafmerke aan ledemate. Enkelfrakture.”

Michelle hoor dit deur ’n waas, maar sy is verbind soos ’n mummie, sy kan nie roer nie. Sy word weer deur donkerte weggevoer. Donker en lig volg op mekaar.

Dan is daar beweging en helder ligte bokant haar. Sy word by ’n operasiesaal ingestoot. Sy is in die hande van die engele.

“Toemaar, ounooi, ons sal jou weer aanmekaarwerk,” troos die manstem en deur skrefiesoë sien sy blou oë bokant ’n operasiemasker na haar kyk.

Daar is nóg gesigte. Sy voel die naald prik, en die narkose neem haar bewussyn weg.

Michelle herwin haar bewussyn. Dit voel asof sy uit ’n donker poel na die lig geswem het. Terselfdertyd voel dit asof haar gesig ’n opgeblaasde ballon is, en sy kan nie haar mond oopmaak nie. Sy kan glad nie praat nie.

Haar nek is in ’n stut en sy sien net gedeeltelik. Haar een hand is onsigbaar onder verbande en sy voel spalke. Albei haar enkels is in gips. Daar is ’n naald in haar een hand – sy kry skynbaar aarvoeding. Oral is sy seer, maar op sommige plekke erger as ander.

Sy lê in ’n mooi klein privaatkamer met spierwit gordyne. Sy veronderstel dat sy haar in Kaapstad se Medi-Clinic bevind.

Sy kan skaars haar kop draai of mooi sien; haar oë voel toegeswel. Al wat sy kan doen, is kreun.

Binne haar beperkte gesigsveld verskyn haar ma se bekommerde, bleek gesig, en toe haar stiefpa s’n.

“Sy het bygekom,” hoor sy haar ma sê, maar haar stem is skor, asof sy gehuil het. “Michelle, my liewe kind, ons het gedink ons verloor jou. Dank die Here jy lewe nog, maar jy is ernstig beseer. Jy lê al vier dae so.”

Haar ma buig oor en soen haar wang en Michelle sien trane in haar oë. Haar gesofistikeerde en elegante ma wat altyd so beheers is, is nou erg emosioneel.

“Wragtig, jy is van kop tot tone verrinneweer, Michelle,” kom haar stiefpa se stem en hy verskyn ook in haar gesigsveld. “Ons het ons byna doodgeskrik.”

Haar ma streel oor haar gesonde hand.

“Ons het Lynn laat weet van die ongeluk en sy sê jy moenie jou bekommer oor die praktyk nie, sy sal ’n locum kry. Sy sal kom kuier so gou soos sy kan. Jou regterhand is in elk geval so beseer dat jy dit lank nie sal kan gebruik nie.”

Waar is Sandra? Hoe gaan dit met haar? wil Michelle uitroep, maar sy kan nie. Dit gee haar die verskriklikste gevoel van frustrasie en wanhoop.

“A, ons meisie is terug in die land van die lewendes,” sê ’n vrolike dog simpatieke vrouestem. “Dat so ’n mooi meisie nou so seer moes kry, shame.”

Michelle loer deur skrefiesoë en sien wit. ’n Jong verpleegster.

“O, hier is dokter Hefer nou,” sê die verpleegster.

“Goeiemiddag, hoe gaan dit?” hoor Michelle ’n diep stem wat vaagweg bekend klink. Waar het sy dié stem al gehoor?

Die mense praat om haar, maar haar verstand wil nie mooi werk nie. Sy probeer konsentreer, maar dis asof sy haar gedagtes nie kan vaspen nie.

’n Gesig met blou oë verskyn bo haar. “Ounooi, jy kry darem weer lewe,” hoor sy die diep stem. “Jy het harsingskudding opgedoen weens die trauma aan jou kop, maar nie so erg dat dit breinskade kon veroorsaak nie. Ons het jou goed getoets.”

Sy kyk op na die gesig – ’n hoekige, sterk gesig onder swart hare. Die kombinasie van die blou oë en donker hare is treffend. Vaagweg registreer dit by haar dat die man besonder aantreklik is. Baard skyn blou op sy ken.

“Sy was so lank bewusteloos, dokter,” sê haar ma.

“Ja, mevrou De Villiers, ons moes haar verdoof hou, anders sou die pyn ondraaglik word. Daarby moes ons die swelsel van die getraumatiseerde brein kans gee om te sak.”

“Hoe lank gaan daardie drade haar kake toehou?” vra haar stiefpa. “Ons wil mos hê sy moet ons vertel presies wat die nag van die ongeluk gebeur het.”

So, dís wat dit is, dink Michelle. Haar kakebeen is seker gebreek en hulle het dit bedraad om dit te heg. Is haar gesig geskend? Dit voel so. Haar voorkop is verbind. Sy ervaar die verskriklikste vrees en frustrasie, en sy kan net smekend in die blou oë van die dokter kyk, wat haar stip dophou.

“Jy sal regkom, ounooi. Moenie so benoud lyk nie.” Hy glimlag nie, maar kyk simpatiek na haar. “Ons sus jou maar weer aan die slaap. Totsiens dan voorlopig, ek moet ongelukkig nou gaan voorberei vir ’n operasie.”

Die gesig met die blou oë verdwyn.

“Watter wonderlike dokter,” sê haar ma. “Ons is baie gelukkig dat hy nog in Suid-Afrika is.”

Michelle maak haar oë toe en dryf weg.

Sy voel werklik asof sy uit die dode teruggekeer het toe sy weer haar bewussyn herwin. Sy weet sy is in die kliniek en dié slag kan sy darem beter sien, aangesien haar oë nie meer so hewig geswel is nie.

Sy draai haar oë om rond te kyk, want die nekstut keer dat sy haar kop draai. Daar is verskeie ruikers in die kamer. Om haar is apparate en drups. Sy kry steeds aarvoeding. Sy is vol pypies en verbande, soos ’n karakter in ’n fliek wat deur ruimtewesens of vir verstandbeheer herbedraad word, of in ’n bioniese wese omskep word.

Die gevoel van algehele hulpeloosheid is skrikwekkend. Sê nou sy is erg geskend?

’n Mooi, donker verpleegster kom in, met blinkbruin oë en ’n aangename, simpatieke gesig.

“Hallo daar, amper was jy ’n mummie,” skerts sy. “Moenie skrik oor jy so verbind is nie, jy is maar net oral beseer. Jy gaan nie kan praat nie, want jou kakebeen is gebreek, maar ons voer jou voggies. Daar is ook ’n lelike sny aan jou voorkop, jy moes vyf steke kry. Mens, jy het ons darem aan die hardloop gehad! Die beste chirurg in die Kaap, seker in die land, het jou geopereer – dokter Douw Hefer. Jou arme ou regterhandjie het darem lelik seergekry. Jou twee enkels is ook gebreek. Waar jy kon kneus, het jy. Maar toemaar, waar daar lewe is, is daar hoop, sê ek altyd.”

My regterhand is vergruis en in gips, dink Michelle ontsteld. Met my hande moet ek ander mense help om heel te word, en nou is my sterk regterhand beseer. Was dit maar die linkerhand, was dit effens beter! Trane brand in haar oë.

Die verpleegster werskaf om haar, kyk na haar kaart, verstel goed, sit ’n nuwe drup op. ’n Hulpverpleegster in groen klere kom in.

“Is ons meisie darem wakker?” vra sy.

“Dit lyk so. Net die ou ogies kan praat. Foei tog, die swelsel om jou oë het darem heelwat gesak. En dit is sulke mooi donkerbruin oë, met sulke lang wimpers. Ag nee, die oë is dan vol trane.”

Die hulpverpleegster vee Michelle se oë en slape saggies met ’n snesie af en klik haar tong. “Moenie huil nie, skat. Jy kan dit nie self maklik afdroog nie. Kyk hoe loop dit af in jou hare in. Jinne, dis sulke mooi hare, amper swart en seker pragtig blink as dit skoongewas is. Dik en krullerig, ek wens myne was so mooi. Ek sal dié mooi hare nog lekker vir jou kom was as die besering aan jou gesig ’n bietjie geheel het.”

Michelle is bewus daarvan dat haar lang hare los is, maar die verband om haar voorkop sit styf soos ’n sweetband. Haar kopvel voel taai en vuil.

“Jou ouers het gesê ons moet hulle laat weet as jy weer bykom,” sê die verpleegster. “Hulle is so bekommerd oor jou. Jou ma het lank by jou gewaak, maar jy het geslaap soos ’n klip. So word jy gesond, slaap is baie helend. Die ou brein rus en die swelsels sak. Ek sal dokter Hefer ook laat weet dat hy weer ’n draai kan maak. Hy is reeds besig met sy rondtes.”

Die twee verpleegsters gaan uit en Michelle knip hard en snuif om die trane weg te kry. Sy wil weet hoe sy lyk, maar aan die ander kant is sy ook bang om haar gesig te sien.

Hoe lank gaan ek hier soos ’n gevangene moet lê? wonder sy. Haar ma moet haar asseblief net vertel hoe dit met Sandra gaan. Sy moet net so erg seergekry het.

“Hier is ons pasiënt weer wakker, soos dokter kan sien,” hoor sy die verpleegster sê.

Die lang, donker man in ’n wit jas kom in en staan langs haar bed.

“Hallo, ounooi. Laat ek my dié slag behoorlik voorstel: ek is dokter Douw Hefer.” Hy kyk haar ernstig aan. “Ek is ’n ortopediese chirurg wat ook in handfrakture spesialiseer. Jou regterhand het baie seergekry.”

Sy ernstige gesig laat haar skrik, want dit lyk asof hy dink die prognose is nie goed nie. Dié slag is die helderblou oë bloedbelope, met donker kringe daaronder. Die swart baard maak ’n skaduwee op sy kakebeen en bolip.

Michelle is verbaas en geroer. Die man lyk moeg, en asof hy swaar dra aan iets. Hy het seker ’n lang operasie agter die rug, dink sy. Weer val dit haar op hoe manlik en aantreklik hy is, maar op ’n onkonvensionele manier. Sy kakebeen is te hoekig en sy wenkbroue te swaar. Sy mond is streng dog mooi.

Michelle kan net haar oë knip in antwoord op sy bekendstelling.

“Jy is Michelle Judson, verneem ek. Dat jy lewend uit die wrak gekom het wat nou daar in Bainskloof lê, is eenvoudig ’n wonderwerk.”

Hy begin vir haar verduidelik wat sy alles oorgekom het, en sy wonder of enigiets aan haar nog heel kan wees. Laaste kom hy by haar hande.

“Ek moes opereer aan jou hand, wat ingesluit het die gebreekte bene, die bloedvate en die senings. Met die moderne chirurgie kan ons weer die funksie en voorkoms herstel, selfs as die besering so ernstig was. Jy sal dalk nóg operasies moet ondergaan. Moet jou nie onnodig bekommer nie, want ek sal my bes doen. Ek verduidelik vir jou die basiese sonder om te tegnies te raak: Die menslike hand het sewe-en-twintig bene, en daar is verskeie artikulasies. Die bewegings van die hand word deur weefsels, naamlik spiere en senings, bewerkstellig. Daar is intrinsieke en ekstrinsieke spiergroepe. Ek het geheg en penne ingesit. Om volledige herstel te verseker, sal ek jou vir rehabilitasie verwys na ’n baie goeie fisioterapeut. Die chirurgie is slegs die basis van die herstel. Die handoefeninge, masserings, hitteterapie, elektriese senuweestimulering ensovoorts sal die fisio doen.”

Ek weet van al dié dinge, wil sy vir hom sê, maar sy kan nie. Sy kan net kyk in sy blou oë wat so moeg lyk. Hy bly naby haar staan en kyk stip na haar, sy hande in die sakke van sy jas. Sy wonder wat hy dink. Hy het ’n vreemde effek op haar, asof sy nou aan hom verbind is, want hy is haar hoop op herstel. Haar toekoms hang van hom af.

Hoeveel vrae wil ek nie vra nie, maar ek kan nie, dink sy gefrustreerd. Hy weet eintlik niks van my nie. En ek weet niks van hom nie.

Haar ma se gesig verskyn skielik. “O, dokter is weer hier. Ek kom kyk net hoe gaan dit met my kind.”

“Sy is darem gestabiliseer, en aangesien sy jonk en gesond is, behoort sy taamlik gou aan te sterk. Maar sy gaan u nog baie nodig kry, mevrou.”

Hy het so ’n diep, besorgde stem. Gerusstellend, dink Michelle. Dis vir haar lekker om daarna te luister.

Haar ma kom buk oor haar. “Ag tog, my liewe kind …”

Sy snuif en kyk na die dokter. “Sy is my enigste kind. En sy is nogal ’n arbeidsterapeut wat ander mense help wat sulke dinge oorgekom het soos wat sy nou oorgekom het. Haar pa het verongeluk en dit het haar destyds so getraumatiseer, en nou kom sy amper dieselfde ding oor. Ag, sy het maar twee jaar gelede begin praktiseer, saam met ’n fisioterapeut. Sy moet haar hande mos baie gebruik, en sy is regs. Moes dit nou juis haar regterhand wees wat so erg beseer is?”

Michelle sien die verbasing op die dokter se gesig. Hy frons en sy kry ’n bang gevoel. Glo hy werklik dat sy volkome kan herstel?

“Dit maak my des te meer vasbeslote om haar te help, mevrou. Ons sal sorg dat daardie hand regkom.”

“Die besering aan haar voorkop … hoe ernstig is dit?”

“Die wond is diep en as die steke uitkom, sal daar dalk ’n letsel wees, maar dit kan met plastiese chirurgie reggemaak word.”

Ek ís dus geskend, dink Michelle. Darem nie so erg dat sy ’n monster gaan wees nie. Sy moet seker dankbaar wees.

“Ek sien u weer, mevrou,” sê hy. Toe kyk hy na Michelle. “Moenie so bang lyk nie, ounooi. Alles sal regkom.”

Sy is so dankbaar oor die trooswoorde dat haar hart swel. Dís nou vir jou ’n dokter met empatie en ’n goeie bedside manner, dink sy toe hy groet en uitstap.

Sy kyk na haar ma en hoop sy sien die dringende vraag in haar oë. Dit lyk asof haar ma dadelik verstaan.

“Sandra is in ’n koma, my liefling. Ons wou jou nie vroeër met die nuus ontstel nie. Ons bid vir haar ook.”

Michelle weet nie of sy verlig durf wees nie. Sou Sandra gestabiliseer wees? Hoe lank is sy al in die koma?

Haar ma vertel egter nie verder nie, vee net oor haar oë met ’n sakdoekie.

“Nicci kom jou môre sien, sê sy,” vertel haar ma. “Sy kom bly weer tydelik in die Kaap om modelwerk te doen, dis advertensies vir een of twee maatskappye. Vandag het sy twee shoots en sy is te besig. Sy stuur groete.”

Groete, dink Michelle, asof dit heel normaal is dat ek hier stukkend lê.

Haar stiefsuster, ryk Basie de Villiers se mooi en bedorwe dogter, is twee jaar jonger as sy. Nicci het drama gestudeer en doen nou vryskut model- en filmwerk. Hoewel hulle twee oppervlakkig oor die weg kom, is daar onderliggende spanning sedert hul ouers drie jaar gelede getrou het.

“Jak het ook groot geskrik,” sê haar ma. “Hy wou van Gauteng afvlieg om jou te kom sien, maar ons het gesê hy moet eerder ’n bietjie later kom, want jy kan nie praat nie en jy is meesal onder verdowing. Hoe julle nou tot trou sal kom, weet ek nie. Dit sal lank neem voordat jy gesond is.”

Michelle sug uit haar hart. Trou is die laaste ding waaraan sy nou wil dink. Haar vriend het onlangs ’n praktyk in Pretoria geopen, maar sy wil nie graag uit die Kaap weggaan nie. Afgesien daarvan is daar die moontlikheid dat sy geskend is of gestremdhede van die ongeluk kan oorhou. Sal Jak haar nog wil hê?

Michelle word wakker van stemme en die eerste mens wat sy sien, is dokter Douw Hefer. Hy lyk nie vandag so moeg soos die vorige keer nie, dink sy deur die slaap.

“Hallo, ounooi,” groet hy. “Ek hoop jy voel darem elke dag ’n bietjie beter.”

Michelle knip haar oë om ja te kenne te gee.

“As ek jou vrae vra, moenie jou kop skud nie. Knip een keer vir ja en twee keer vir nee.”

Michelle knip een keer.

“Ons verstaan mekaar.” ’n Effense glimlaggie speel om sy mond.

Vandag is hy skoongeskeer en daar wys nie stoppelbaard onder die soel vel nie, merk sy op. Hy is kraakvars netjies in sy wit jas en ligblou hemp, met ’n wynrooi das. Die hemp laat sy oë nóg blouer vertoon. Sy bekyk elke detail terwyl hy haar ondersoek.

“Ons het jou lank aan die slaap gehou en het jou getoets met ’n elektro-enkefalograaf – ’n EEG – om breinskade en harsingskudding te bepaal. Ek wil jou verseker dat die skade beperk is, ten spyte van jou harde kopstamp en whiplash. Ons moes jou neurologiese toestand ook bepaal. Jy verstaan al die mediese verwysings, want jy is ’n arbeidsterapeut, nè?”

Michelle knip een keer.

“Jy weet dat jy veelvuldige beenfrakture het en dat jy taamlik lank in die hospitaal sal moet bly?”

Sy knip weer.

Hy streel liggies oor die verband om haar kop. “Jy het ’n geweldige stamp teen die kop gehad, jou voorkop teen die stuurwiel. Vandaar die besering. Gelukkig het jou skedel nie gekraak nie.” Hy glimlag vir haar. “Harde kop, nè? Dié slag was hardkoppigheid ’n voordeel.”

Sy smag daarna om op sy geskerts te reageer, maar sy kan nie.

Iemand kom meteens die kamer binne en steek dan vas. Nicci, sien Michelle, pragtig uitgevat in ’n linnesomerrokkie, haar bruingebrande skouers kaal en haar lang blonde hare los. Gesig perfek gegrimeer, soos altyd.

“Haai, ekskuus! Ek weet dis buite besoekure, maar ek moet oor ’n uur vir ’n shoot in die Waterfront wees, toe kom ek maar liewer vandag vroeg.” Sy kom buk oor Michelle, wat duur parfuum ruik.

“Haai, ou ding, kyk hoe lyk jy! Jou kakebeen is vasgemaak en jy is oral in verbande en gips. Jy moet blerrie seergekry het. Kyk net hoe vreeslik lyk jou gesig!”

Sy draai na die dokter, wat haar met ’n frons aanstaar, en glimlag guitig. “Ekskuus, dokter, ek onderbreek jou. Gaan eers aan, ek sal soet hier op die stoel sit en wag.”

Sy wip weg en gaan sit, een lang bruin been oor die ander gekruis, en kyk glimlaggend na hulle.

“Ek kom weer laat vanmiddag,” sê hy. Dit klink asof hy die onderbreking afkeur.

Nicci wip op. “Ag, ek is ook so ontydig. Ek wil gou na Sandra ook gaan kyk, maar shame, sy is mos nog in ’n koma.”

Michelle verbeel haar sy sien hom baie subtiel sy kop skud, en ’n verskriklike agterdog vul haar. Daar is iets wat hy nie wil hê sy moet weet nie.

Toe hy uitloop, kom Nicci weer nader.

“Hoe op aarde het jy dit reggekry om daar by Bainskloofpas af te ry? Jou motor het gerol tot onder. Gelukkig het ’n motor verbygekom, anders het julle heelnag, of dalk vir ewig, daar gelê. Waarom het jy in elk geval in die nag gery? ’n Mens ry mos nie in die donker oor ’n bergpas nie. Jy sal mý nie betrap dat ek so iets doen nie.”

Verwyte? dink Michelle wrokkig. En sy kan nie verduidelik dat dit Sandra was wat vroegoggend terug moes wees en dat hulle op haar aandrang vieruur opgestaan het om betyds in Kaapstad te wees nie.

“Sjoe, dis darem vir jou ’n dishy dokter daardie,” grinnik Nicci. “Ek wens amper ék het ’n ongeluk gemaak, net om onder sy hande te beland. Daardie oë! Jy kan daarin verdrink. So blou soos die somerhemel.” Sy rol haar oë. “Die klomp verpleegsters vrek seker oor hom. Hy is glo een van die bestes, het hulle Paps verseker. Ek sal moet sorg dat ek die man weer sien.”

Michelle voel te verpletter om haar werklik te vervies, maar sy is nogtans geïrriteerd met haar stiefsuster, wat mans najaag en deur hulle nagejaag word. Nicci flankeer selfs met Jak net wanneer sy kan. Dokter Hefer het natuurlik gesien hoe sexy sy is. Michelle wonder of hy in die soort strik sal trap wat Nicci vir mans stel. Selfs getroude mans is nie veilig by haar nie.

“Jy gaan vir ewig hier lê,” sê Nicci. “Eers oor ’n maand sal jy weer kan praat. Wanneer jy weer gaan loop, weet nugter. Jy sal lank nie kan gaan draf nie. Ek hoor jou hand is vergruis, maar blykbaar kan Dokter Dishy enigiets regmaak. Wel, een voordeel van die hele affêre is dat jy nie kan eet nie. Jy kry net vloeistof en aarvoeding. Jy kan lag-lag so tien kilo’s afskud, dan lyk jy weer soos in matriek.” Sy giggel. “Of soos ek, wat gedurig op dieet is.”

Michelle wens net Nicci wil gaan en haar alleen laat, maar al wat sy kan doen, is om na haar stiefsuster te staar.

Die mooi en simpatieke suster kom in en kyk Nicci met geligte wenkbroue aan. “O, môre. Is u familie van juffrou Judson?”

“O ja. Sy is my stiefsuster. Toemaar, ek is weer op pad. Ek moes darem kom gesig wys en kyk hoe dit met arme ou Michelle gaan. Sê my, waar is daardie dokter Hefer nou? Ek wil met hom praat.”

Die suster se wenkbroue lig hoër. “Hy is teen dié tyd seker terug by sy spreekkamer. Hy opereer nie vandag nie.”

“O, dis jammer. Ag nou ja, anderdag sien ek hom weer.”

Sy wuif vir Michelle. “Tatta, word gou gesond hoor. Ek moet vlieg.”

Sy gryp haar sak en verdwyn.

“O, so dis jou stiefsuster?” sê-vra die suster. “Sy is werklik ’n besonder mooi meisie. Terloops, ek is Erna Etsebeth en ek weet jy is Michelle Judson. Jy lê hier so hulpeloos, maar ek het ’n plan gekry. Jou linkerhand is darem nie gebreek nie. Sal ek vir jou ’n notaboekie en pen bring? Dan kan jy met ons kommunikeer, al is dit skeef en krom?”

Michelle knip vinnig haar oë, diep dankbaar vir die suster se vindingrykheid.

“Goed dan. As ek weer kom, bring ek dit.”

Sy ondersoek Michelle. “Jy is gelukkig jonk en gesond. Jy sal regkom, wees net geduldig. Hier het nog ruikers aangekom; ek stuur hulle in. Blomme beur mens mos op.”

Michelle brand om te weet wat met Sandra aangaan, en of Sandra se ma van Stellenbosch af gekom het om by haar te wees. Indien wel, waarom het sy nog nie by haar, Michelle, ’n draai gemaak nie? Sou sy haar verwyt oor sy die bestuurder van die motor was? Of is Sandra só erg beseer dat sy net heeltyd by haar waak?

Dit voel vir Michelle asof haar geestelike kwellinge veel erger as die fisieke beserings is. Sy sien en hoor drogbeelde en skrikwekkende klanke sodra sy aan die slaap raak. Die ongeluk speel oor en oor in haar gedagtes af, soos ’n fliek wat vasgehaak het.

Sy herleef ook haar pa se ongeluk, en die hartseer daarvan kom terug en wil haar by tye oorweldig.

In jou hande

Подняться наверх