Читать книгу In jou hande - Malene Breytenbach - Страница 5

3

Оглавление

“Tra- … la!” hoor Michelle, en haar vennoot Lynn kom in, met ’n sak vol boeke en tydskrifte, en nóg blomme. Haar bruin oë is lewendig soos altyd en haar kort krulle wip.

“Haai, jou arme ou ding! Toegedraai soos ’n geskenkpakkie.” Sy kom soen Michelle tussen die wenkbroue. “Ek het jou dokter raakgeloop. ’n Pragstuk! Hy sal enige mens weer gesond kry.”

Haar vrolikheid is so opbeurend dat Michelle wens sy kan vir haar glimlag.

“Jy moet jou nou net niks bekommer oor die werk nie, hoor! Ek organiseer alles. Word net gesond. Ek het vir jou baie leesstof gebring wat die verpleegsters vir jou kan staanmaak. Kan jy omblaai?”

Michelle knip ja en lig haar gesonde hand.

Lynn se gesig word ernstig. “Foei tog, jou ma het my vertel van Sandra. Dis baie hartseer. Maar jong, in die hemel is ’n Here en Hy het ’n plan met alles. Hy pluk die beste blomme eerste, maar ek glo Sandra gaan regkom. Ek weet jy is baie lief vir haar. Haai, jy kry trane. Jammer, ou maat.”

Sy haal ’n snesie uit en vee Michelle se oë af.

Michelle skryf in haar boekie: Hart baie seer voel skuldig. Nagmerries.

Lynn druk haar hand. “Natuurlik is jy hartseer, maar jy moenie skuldig voel nie. Daardie ellendeling wat julle van die pad af gestamp het en toe weggejaag het, sal nog gevang word. Die wiel draai en elke hond kry sy dag. Hý is die een wat gewetenswroeging moet hê, nie jy nie.”

Sy ondersoek Michelle se verbinde hand. “Ek hoor die dokter haal vanmiddag die gips af om te kyk. Ek wil net vir jou sê dat ék enige rehabilitasie wat nodig mag wees, gaan doen. Ek sal die dokter laat weet voor ek gaan. Laat jy maar net my ou maatjie in my bekwame hande, sal ek vir hom sê. Ek sal haar regkry. Genade, waarom het ek dan ’n fisio geword? Dis so bestem.”

Michelle knip en druk Lynn se hand om haar dank te kenne te gee.

Haar vriendin kuier lank en gesels soos ’n draai-orrel. Michelle voel amper opgebeur, maar toe Lynn vertrek, voel dit asof sy in ’n donker put van depressie wegsink. Iets waarteen sy wil stry, maar nie kan nie.

Michelle is geskok toe dokter Hefer die gips verwyder. Die verkleurde, geswelde, skeeflykende hand wat te voorskyn kom, lyk nie na hare nie. Onwillekeurig kreun sy.

Hy kyk op, vas in haar oë. “Jy moenie skrik nie. Dis nog net die begin. Natuurlik lyk dit nou sleg, want daar het nog nie genoeg genesing plaasgevind nie. Jy gaan weer teater toe en ek gaan weer daaraan werk.”

Nóg ’n operasie, dink sy. Dit klink nie goed nie. Dit lýk nie goed nie.

Die dokter se hande is groot, warm en skoon, met lang vingers. Bruingebrand. Hy werk sagkens en haar hand lê verdwerg in syne. Sy kry die eienaardigste gewaarwording van geborgenheid.

Hy draai haar hand weer met ’n verband toe en gee ’n paar bevele aan die verpleegpersoneel. Toe groet hy en stap uit.

Michelle sien hom eers weer toe sy by die teater ingestoot word. Hy het reeds sy volle operasiemondering aan. Die moue is kort en sy sien gespierde arms. Hy lyk vir haar na ’n chirurg met genoeg stamina om ure lank te opereer. Waarom is sy so bly om hom weer te sien, al beteken die weersiens dat sy regtig gekrok is?

“Moed hou, ounooi,” sê hy, en laat haar aan die narkotiseur oor – ’n waardige grys man wat vriendelik vir haar glimlag.

Toe Michelle weer bykom, is sy terug in haar kamer en haar hand is vars verbind.

As die lewe terugkom, sal dit ontsettend seer wees, dink sy, maar sy is te verward om te besef dat sy pynmiddels sal kry. Oomblikke lank is sy terug in die wrak en verbeel sy haar sy sit vas en sy kan haar hand nie loskry nie.

Nagmerriebeelde, verwronge en erg ontstellend, kom en gaan.

Toe sy weer wakker word, is suster Erna en dokter Douw Hefer by haar. Haar mond voel droog en asof haar kake met sement aan mekaar geheg is.

“Hallo, ounooi,” groet hy. “Ek sien jy voel maar oes. Suster sal vir jou pynstillers sorg. Ek wil net vir jou verduidelik wat ek gedoen het.”

Michelle probeer konsentreer terwyl hy van beentjies en senings en artikulasie praat, maar haar gedagtes is meer by sy gesig en sy oë, wat weer moeg lyk.

“Jy is baie gekwel in jou gees,” sê hy. “Ek verseker jou dat jou vriendin nog lewe en dat sy onder baie goeie sorg is. Ons sal jou binnekort na haar neem.”

Douw Hefer loop in die gang af, so ingedagte dat hy skaars die mense sien wat by hom verbyloop. Michelle Judson se operasie was lank en ingewikkeld, en hy is moeg. Heeltyd sien hy die meisie se gesig voor hom: die troebel oë wat al mooier word soos die swelsels sak, die bleek vel, die kake wat lyk asof hulle toegesweis is. Die ortodontis het darem bevestig dat haar tande nie gebreek het nie. Die blink donker hare teen die wit van die kussing.

Ongetwyfeld was sy baie mooi, dink hy. Nie die popmooi soort soos die wulpse suster nie, maar die mooi-met-karakter-soort. Die soort wat Isobel was.

Michelle Judson is ’n pragtige, gebreekte vaas, soos Isobel. Maar ten minste lewe Michelle darem nog.

Hy kan hom indink hoe aaklig sy voel, en dit wek groot deernis in hom. Moenie te betrokke raak by hierdie pasiënt nie, al herinner sy jou hoe sterk aan dinge uit jou eie verlede, betig hy homself. Jy kry die meisie net ontsettend jammer. Ná Isobel sal geen vrou weer sy hart so totaal kan inneem nie.

Op die ingewing van die oomblik besluit hy om met sy kollega, die neuroloog Peet Human, te gaan praat. Dalk kan hulle reël dat Michelle na Sandra van Heerden gebring word wanneer Peet daar is. Dan kan Peet met Michelle praat. Dit sal vir haar meer gemoedsrus bring.

Hy wat Douw is, gaan ook die sielkundige na haar stuur. Hy het volle vertroue in Annette se vermoëns om suksesvol met die gekweldes van gees te werk.

Michelle kyk na die lang, mooi vrou in ’n grys snyerspakkie, aktetas in die hand, wat na haar bed aangestap kom. Sy is elegant en lyk asof sy so in haar vroeë dertigs kan wees.

“Hallo, juffrou Judson … Michelle, nè? Ek is doktor Annette Reinders. Ek is ’n sielkundige en dokter Hefer het my na jou gestuur. Hy vertel my jy ervaar post-traumatiese stres.”

Michelle knip haar oë.

“Dis maar moeilik terwyl jy nie met my kan praat nie, maar ek skryf ’n kalmeermiddel voor, en ek gaan vir jou verduidelik wat presies met jou aangaan. Sodra jou kakebeen aangegroei het, kan jy na my spreekkamer gebring word – of ek kan hierheen kom, ek sien albei jou enkels is gebreek. Dan kan ons behoorlike terapiesessies hê, mits jy nog dieselfde stressimptome toon.”

Met mooi grysgroen oë kyk sy simpatiek na Michelle, wat sommer dadelik van haar hou.

“Traumasimptome is adaptief, oftewel aanpassend. Ons kry dit om ons daarvan te weerhou om in ’n soortgelyke gevaarlike situasie te beland. Dié simptome verdwyn soms gou – dae of weke ná ’n ontstellende ondervinding. Nie almal wat ’n traumatiese ervaring gehad het, kry post-traumatiese stresstoornis oftewel PTS nie. Maar as die simptome voortduur en niks verbeter nie, het die persoon professionele hulp nodig. PTS veronderstel dat lyers vrees, hulpeloosheid en afgryse ervaar het en dat hulle hul eie of ’n ander mens se besering of dood voorsien het. Daar is drie hoofgroepe simptome by PTS. Die eerste is intrusies soos terugflitse en nagmerries, waartydens die ondervinding herleef word. Die tweede is vermyding, waar die persoon probeer om nie weer aan mense of dinge blootgestel te word wat die intrusiesimptome meebring nie. Derdens is daar hiperopwekking, wat fisiologies manifesteer in verhoogde skrikreaksies en hiperwaaksaamheid. Elke individu interpreteer die stres subjektief. Ons gaan al die moontlikhede aanspreek. Is dit reg so?”

Michelle knip haar oë.

Dokter Hefer kom skielik in. Hy gaan staan en sê glimlaggend: “A, ek sien doktor Annette het met haar sessies begin.”

“Ek vertel haar net van die simptome en dat dit is wat ons sal behandel,” sê Annette Reinders.

Sy kyk met soveel geneentheid na die chirurg dat Michelle verbaas is. Dit wil amper lyk asof hulle nie blote kollegas is nie. Geen wonder hy het dié sielkundige aanbeveel nie, dink sy. Hy dink natuurlik die wêreld van haar.

Michelle skryf: Dankie, ek het terapie nodig. Veral nr 1 pla baie.

Annette Reinders lees dit en wys dit vir die dokter.

“Môre sal ek weer ’n draai maak,” sê sy. “Skryf intussen neer watter gewaarwordings jy kry, dan praat ek daaroor.”

Sy staan op en is byna teen die chirurg. “Kom jy haar ondersoek, Douw?”

“Nee, ek het gehoor jy het gekom, toe kom soek ek jou.”

Hulle groet Michelle. Albei glimlag vir haar, en toe verdwyn hulle.

Michelle is spyt dat die dokter so gou loop. Spyt dat dit vir Annette Reinders is wat hy wou sien en nie vir haar nie.

Jy is verspot, betig sy haarself. Hy is net jou dokter en hy sal net kom as dit om geneeskundige redes is.

Twee dae later is Michelle verras toe die verpleegsters met ’n trollie inkom. “Jy gaan op reis,” grap verpleegster Cynthia.

Michelle kyk hulpeloos na haar. Is dit weer ’n operasie?

Dokter Douw Hefer kom in, groot en indrukwekkend in sy wit jas. Hy kyk haar met sy nou bekende ernstige uitdrukking aan.

“Ounooi, ons neem jou na jou vriendin. Jy sal geen sielerus hê as jy haar nie gesien het nie. Doktor Annette beveel dit ook aan, nadat sy gister verneem het wat jou simptome is.”

Michelle het nie haar boekie en pen byderhand nie, maar sy knip vinnig om dankie te sê. Sy kan nie wag om Sandra te sien nie en sy hét dit onder die sielkundige se aandag gebring. Sy wil beslis nie die waarneming van die gevolge van die ongeluk op haar vriendin vermy nie. Die wrede werklikheid staar sy liewer in die gesig. Daarom wil sy haar vergewis van hoe erg Sandra se beserings is.

Hulle beweeg flink deur die lang gange van die hospitaal en haar hart klop onreëlmatig van spanning oor wat sy gaan sien. Sy is bewus van die dokter wat vinnig langs haar loop en mense in die gang groet. Hoe gaaf is dit nie van hom om gunste vir my te doen nie, dink sy, en haar gemoed loop sommer oor.

Toe is hulle skielik in die kamer waar Sandra lê en Michelle beur om haar te sien. Sy skrik groot, want sy herken die rooi hare, maar die persoon op die bed lê so stil soos ’n lyk. Daar is oral pypies en masjiene aan haar gekoppel, veel erger as wat Michelle self gehad het.

“Stoot haar tot langsaan die ander bed,” hoor sy die dokter sê, “en katrol die koppenent effens op.”

Michelle kan haar oë nie van die doodstil Sandra afhou nie. Dis duidelik dat sy in ’n baie diep koma is en niks registreer wat om haar aangaan nie. Michelle kry trane in haar oë. Sy wil Sandra roep, maar sy kan nie. Sy kan net kyk, na haar vriendin en na Douw Hefer, wat eenkant staan en afgetrokke lyk.

Sy moet hard knip om die traanblindheid weg te kry. Sy het al self met breinbeseerde pasiënte gewerk, maar noudat dit iemand so na aan haar is, kan sy dit nie bloot klinies benader nie. Boonop skroei die wete deur haar dat dit háár skuld is dat die mooi, lewendige Sandra nou soos ’n waspop hier lê.

’n Middeljarige dokter in ’n wit jas kom in, gevolg deur twee verpleegsters.

“Michelle, ontmoet dokter Peet Human, die neuroloog van wie ek jou vertel het,” sê Douw Hefer. “Peet, hierdie is juffrou Michelle Judson, wat ook in die ongeluk was.”

Peet Human kom nader en neem Michelle se linkerhand. “Aangename kennis, juffrou Judson. Ek hoor jy is ’n arbeidsterapeut, en jou vriendin hier is ’n fisioterapeut. Dat mense soos julle, wat ander ná ongeluktrauma moet help, nou self so hulpbehoewend moet wees, is tragies. Maar wat, ons sal julle regkry.”

Michelle knip haar oë ’n paar keer.

Douw Hefer kom staan langs dokter Human. “Peet, ek dink Michelle wil graag hê jy moet haar vertel wat die prognose van jou pasiënt is.”

Die ouer dokter knik. “Ja, ek kan dink dat Michelle baie ontsteld moet wees. Michelle, jy sal verstaan wat ek vir jou verduidelik. Jou vriendin het haar skedel gekraak. Daar was intrakraniale bloeding en ’n hematoma het gevorm, maar ons het die bloed gedreineer. Weens die impak tydens ’n ongeluk beweeg die brein en stamp teen die skedel, soos jy weet. Daar was serebrale kontusie en konkussie, en dan vind ’n tydelike verlies aan funksie plaas weens die trauma. Daar kan gevolge wees as juffrou Van Heerden uit die koma kom – amnesie oftewel geheueverlies, ook post-konkussieprobleme soos depressie en duiseligheid. Wanneer juffrou Van Heerden haar bewussyn gaan herwin, kan ons nie sê nie, maar ek verneem jy was bang sy is breindood. Ek kan jou verseker dat dit beslis nie die geval is nie.”

Michelle knip verskeie kere vir hom. Sy is só dankbaar vir hierdie gerusstelling.

Die dokter gaan voort: “Die herstel is geleidelik, maar ons hoop sy sal haar volle bewussyn terugkry. Mense kom uit ’n koma met ’n kombinasie van fisieke, intellektuele en sielkundige probleme wat spesiale aandag verg. Ek het jou ook getoets. Jou harsingskudding was nie so erg nie, maar ek verneem jy toon van die simptome wat ek pas beskryf het.”

Michelle knip haar oë om te bevestig.

“Herwinning van die bewussyn is nie eensklaps nie. Dit vind vir kort tye plaas, en dan word dié tye langer. Jy het dit self ervaar. Die pasiënt se vermoë om te reageer neem toe. Die goeie nuus is dat die mediese behandeling van juffrou Van Heerden reeds by die ongelukstoneel begin het toe die paramedici haar gestabiliseer het, en sy het dadelik na hierdie hospitaal met neurochirurgiese kapasiteite gekom. Die gevolge moet ek egter uitspel: daar kan persoonlikheidsverandering kom. Jy, as arbeidsterapeut, sal haar kan help met rehabilitasie en kognitiewe terapie om verlore funksies of vaardighede te herwin.”

Hy glimlag gerusstellend vir haar en sy kyk vlugtig na dokter Hefer, wat haar met ’n ernstige uitdrukking op sy gesig beskou.

Alles hang in die weegskaal, dink sy. Sandra se kanse op herstel is vyftig-vyftig.

Wie sê die Sandra wat wakker word – as sy ooit wakker word – sal die ou Sandra wees? Sy is dalk ’n gekweste vreemdeling. Wat ook al, ek sal my bes doen om haar kognitief te rehabiliteer, belowe Michelle haarself vasberade.

Sy wil aan haar vriendin raak, maar sy kan nie bykom nie.

“Hou moed, Michelle,” sê dokter Hefer. “Soos jy kan sien, is sy nie breindood nie, en waar daar lewe is, is daar hoop.”

Hy klink nou soos suster Erna, dink sy.

Sy kyk deur trane na hom, sodat sy beeld opbreek. Watter wonderlike man is hy nie. So meelewend, so onderskragend. Al wat met hom skort, is lewensblyheid – dit weet sy instinktief. Sy wonder waarom. Of neem hy sy pasiënte se ellende te veel ter harte?

“Kom ons neem die pasiënt terug,” sê hy vir die verpleegsters. “Sy kan anderdag weer kom.”

Michelle weet nie of sy beter of erger voel nadat sy Sandra so oënskynlik leweloos gesien het nie. Maar aan die ander kant het dit haar doelgerig gemaak. Dokter Human aanvaar dat sy Sandra sal kan help, en sy gáán.

Toe hulle terug is in haar kamer en sy weer oorgeplaas word na haar bed, is dit asof die dokter haar gedagtes lees.

“Jy is nie werklik gerusgestel nie, of hoe? Jou vriendin se toestand ontstel jou, maar as jy haar nie sien nie, wonder jy heeltyd hoe dit met haar gaan. Sy het nie slegter gelyk as jy toe julle ingebring is nie. Jy het eintlik op die oog af baie meer beseer voorgekom, maar die harsingskudding was kwaaier by haar. Jy het skynbaar teen die stuurwiel geval, maar dit het gekeer dat jy te ver vorentoe val. Die veiligheidsgordels het natuurlik ook gehelp.”

Michelle probeer haar dank deur haar oë projekteer en knip.

Hy sit een groot warm hand oor hare. “Totsiens vir eers, ounooi.”

Toe hy weg is, sug verpleegster Cynthia: “Daar loop nou vir jou ’n man met ’n hart van goud. Maar natuurlik weet hy hoe dit voel as iemand wat jy liefhet so ernstig beseer is.”

Dit laat Michelle wonder wat met die dokter gebeur het. Watter tragedie het hom getref? Sy wil skryf en vra, maar die verpleegsters is te haastig uit by die kamer.

In jou hande

Подняться наверх