Читать книгу Hartstog op see - Malene Breytenbach - Страница 5

3

Оглавление

Justine gaan by haar kajuit om voordat sy moet opgaan na sir Geoffrey. Mitzi is daar met skoon handdoeke en seep.

“Haai, werk jy dan hier onder ook?”

Die meisie kyk haar skewekop aan. Toe glimlag sy. “O, jy het my tweelingsuster, Mitzi, ontmoet. Ek is Marina.”

Justine lag. “Jinne, maar julle lyk darem op ’n haar na mekaar. Albei ewe mooi, moet ek sê.”

Marina giggel verleë. “Ons ruil soms uit. Dis pret. Ek sien hoe die superrykes lewe en Mitzi kom sien hoe die bemanning lewe. Niemand kom ’n ding agter nie. Ons doen dit al vier jaar lank.”

“Dis lank. Ek is nuut in die ding en ek is juis nou op pad na een van die superrykes om hom sy insulien te gaan gee.”

“Dit moet sir Geoffrey wees. ’n Regte ou korrelkop. Pasop vir hom. Hy is een van die eienaars van die skeepsredery en as hy hom vir jou vervies, kan hy jou sommer laat afdank. Hy het dit al met ’n kajuitkelner gedoen. Hy wil niemand behalwe Mitzi daar laat skoonmaak nie. Hy weet net nie dat ek soms haar plek inneem nie. Hy kry seker die stuipe as hy moet agterkom hoe ons hom flous.”

“Ek verseker jou, ek laat nie op mý trap nie. Nie eens deur iemand soos hy nie. Hy is siek en ons moet hom verpleeg. Hy is ook van óns goedheid afhanklik.”

Marina grinnik. “Gaan sien hom reg, verpleegster. Die ou blikskottel. Hy het die vorige verpleegster hel gegee en Mitzi sê hy hou ook nie van Sally nie.”

* * *

Justine gaan met ’n mate van huiwering na die vlak van die luukse kajuite. Sy is nou al verskeie kere teen die ou man gewaarsku en staal haar behoorlik vir wat kom. In haar hand het sy ’n medisynetassie met sy medikasie en ’n inligtingstuk oor wat hy mag en nie mag doen, drink of eet nie. Sy gaan hom vandag eers net ondersoek, en indien nodig begin sy môre pille uitdeel.

Sy klop aan sy kajuitdeur en ’n vrou wat deftig geklee is, met blink juwele aan ore, hals en vingers, maak die deur oop. Sy is korter as Justine en maer, met opgedoende blonde hare.

“O, jy is seker die nuwe verpleegster,” sê-vra sy uit die hoogte. Haar koue ligblou oë neem Justine van kop tot tone in. “Jy is vyf minute laat.”

Justine sluk haar verontwaardiging. Nie nou al die fensie mense vies maak nie. “Goeienaand, mevrou. Dit spyt my. Dis ’n hele entjie van onder af en ek is nog splinternuut op die skip. Ek moet nog die roete leer ken.”

“Jou naam?”

“Justine Steyn.”

“Hmmm. Ek is mevrou Gwynneth Parfrey. My man is die Honourable Robert Parfrey, sir Geoffrey se neef.”

“Aangename kennis, mevrou.”

Die vrou steek nie haar hand uit om geskud te word nie, knik net. “Kom binne.”

Justine is opnuut getref deur die weelde van die kajuit, maar haar aandag word getrek deur ’n man in ’n leunstoel met grys hare en snor, en langs hom ’n seun in ’n rolstoel. Op ’n bank sit ’n middeljarige man, seker die seun se pa. Hy kom oorverfynd voor. Ingeteelde aristokrasie wat ondertrou, dink Justine met afkeer.

“Bly te kenne,” sê die man en vat-vat aan sy ylerige snor. Sy hare is lig, met hier en daar grys, sy lyf kort en maer. Sy ligte oë kyk haar onbeskaamd vrypostig aan. “Ek is Robert Parfrey, dit is my neef, sir Geoffrey, jou pasiënt, en dis my seun, Robin, wat sy enkel gebreek het toe hy van ’n perd afgeval het. Ek spring jou voor, want ek weet jy gaan vra wat hom makeer.”

Die seun, sien sy oombliklik, kyk haar met ’n uitdagende, neerbuigende houding aan. Sy hare is sandkleurig en hy het ’n sproetgesig. Hy lyk na ’n regte karnallie. Dennis the Menace.

Dis nie mense met wie sy graag vriende sou wou wees nie, dink Justine. Hulle steek nie weg dat hulle op haar neersien nie. Sy is mos ’n werknemer, ’n ondergeskikte, ’n diensleweraar. Met ’n stywe rug stap sy tot voor sir Geoffrey. Hy kyk fronsend na haar. Digte grys wenkbroue trek saam bo gelerige bruin oë. Bo sy grys weglêsnor is ’n groot haakneus soos die snawel van ’n arend. Sy lyf is maer en rankerig in ’n blink syjapon, en sy bloubeaarde voete is in leerpantoffels. Justine sien daar is monogramme op sy sakke en pantoffels geborduur. Hy lyk beslis nie gesond nie. Hy lyk ook nie vriendelik nie, eerder dikmond.

“Good evening, young lady,” sê hy kil. Kyk haar op en af.

Wat is dit met dié mense? Hulle moet nou net nie alles waarna sy so uitgesien het, vir haar begin bederf nie.

“Kom ons gaan na u slaapkamer, sodat ek u kan ondersoek en inspuit, sir Geoffrey.” Sy kyk om na die ander wat hulle dophou. “Sal julle ons verskoon, asseblief.”

Hy staan nogal flink op en loop vooruit slaapkamer toe. Sy volg en maak die deur agter haar toe.

“Sal u asseblief op daardie stoel sit?” vra sy.

Hy gehoorsaam sonder om iets te sê. Kyk net stip, takserend, na haar.

“Trek asseblief u pantoffels uit sodat ek u voete kan ondersoek.”

“Hoekom? Dis mos die dokter se werk. Jy is net hier om my in te spuit.”

Justine staan en kyk bedaard af na hom. Hy is soos ’n iesegrimmige kind.

“Nee, ek is nie bloot hier om u in te spuit nie, sir Geoffrey. U sal asseblief doen wat ek vra, anders moet u maar afkom na die mediese sentrum en soos die ander passasiers in die wagkamer vir die dokter wag.”

Hy kyk verstom na haar, met sy mond oop. “Maar jy is parmantig!” merk hy bitsig op.

Sy hou haar stem kalm, sodat sy nie aggressief klink nie. “Ek is die een wat weet wat goed is vir u, of wat sleg is, sir Geoffrey.”

Hy draai een punt van sy snor, frons dat sy welige wenkbroue bo sy snawel ontmoet. “Nou maar goed dan.”

Eerste ronde van die geveg gewen, dink Justine. Sy bekyk sy voete. Wit en blou beaar, maar minstens silwerskoon, die naels gepedikuur. Dié is ’n man wat van kop tot tone gepamperlang word.

“Dit lyk nie sleg nie,” sê sy. “Voel u soms ’n prikkeling in u voete?”

“Soms.” Sy oë kyk stip na haar. “My sig gaan agteruit. Ek laat my tande gereeld kontroleer. Ek laat my niere toets. Alles wat die dokter aanbeveel.”

Justine maak die mediese tassie oop en haal die bloeddrukmeter uit. “Ek gaan u bloeddruk toets en ’n bloedmonster neem, sodat ons u cholesterol en trigliseriedvlakke kan nagaan.”

“Vind jy nou die wiel van voor af uit of speel jy net graag dokter, verpleegster?”

Sonder om te antwoord stoot sy sy mou op, draai die bloeddrukmeter om sy boarm, pomp, en lees. “Dis ’n bietjie hoog. Die dokter het aanbeveel dat ek al u metings neem, sir Geoffrey. Ek hoop ek doen my werk deeglik.”

“Hmm. Nou goed dan. Doen wat jy moet. Wat help dit ek protesteer?”

Justine neem sy hand en prik ’n vinger, trek ’n druppel bloed. “Hoekom sou u wil protesteer as almal moeite doen om u te versorg? As ek u was, was ek eerder dankbaar.”

Hy gluur haar aan, sê niks. Sy ignoreer hom en berei die spuitnaald voor.

“Dink jy dit is vir my lekker om siek te wees?” vra hy bars ná die inspuiting.

“Nee, maar u is een van die bevoorregtes wat behoorlike mediese sorg kan bekostig. U moet sien waarmee ek al moes werk in hospitale hier in Kaapstad. Arm, siek mense, met vreeslike kwale, geen mediese versekering nie en bitter min geriewe om hulle mee te help. My pa het altyd gesê mens mag nie kla met die witbrood onder die arm nie.”

Hy kyk haar lank aan met ’n eienaardige uitdrukking op sy gesig. Kry hy sowaar skaam, of lees sy hom verkeerd? Hy is so bevoorreg, so verhewe bo die armes en behoeftiges, hoe sal hy ooit verstaan met watter probleme hulle te kampe het?

Hy verbaas haar egter. “Jy’s reg, verpleegster. Ek behoort dankbaarder te wees. Dankie vir jou deeglikheid. Jou voorganger het net kom spuit en dan weer gegaan. Dis tog nie lekker om met ’n ou knorrige diabeet te werk nie.”

Justine glimlag vir hom. “Sir Geoffrey, ‘lekker’ is nie iets waaraan ons mediese mense dink nie. Ons plig is vir ons ’n voorreg. Ons wil dit doen om ons medemens se lewe te verbeter. Ek het nie ’n verpleegster geword omdat ek mooi uniforms wil dra nie. U moet asseblief nie dink dat ek tandeknersend en teësinnig hierheen kom nie. Al my pasiënte is vir my belangrik. Hul welstand en geluk lê my na aan die hart.”

“Jy klink sowaar opreg.”

Justine frons ligweg vir hom. “Ek ís opreg. Waarom sou ek nie wees nie?”

Vir die eerste keer glimlag hy haar toe. “Kom jy weer môre? Moet tog nie daardie ander ene stuur nie.”

Nou toe nou. Sy steek die breë glimlag weg wat wil deurbreek. “Ja, as u wil. Ek kan dit so reël.”

“Gaan jy saam met ons tee drink? Ek wil net gou verklee. Roep asseblief vir Robert om my te kom help, dis tog waarom hy saamgekom het.”

Justine glimlag en maak haar tassie toe. “Miskien ’n ander dag, dankie, sir Geoffrey, maar ek moet nou gaan. Dis my eerste dag en die hoofverpleegster wil nog sekere dinge met my deurpraat.”

“Goed, miskien môre, dan? Sê vir daardie senior dokter van julle, die ander Suid-Afrikaner, dat ek daarop aandring.”

“O, hoe weet u dat ek ’n Suid-Afrikaner is?”

“Ek kan dit tog aan jou aksent hoor. Maar ek maak dit ook my besigheid om sulke dinge te weet. Ons weet julle opleiding hier is uitstekend.”

“Dankie, ons hoop so.”

In die sitkamer bly die ander drie skielik stil toe sy inkom. Sy kan sweer hulle het oor haar geskinder.

“Meneer Parfrey, sir Geoffrey vra dat u hom asseblief moet gaan help aantrek.”

Die man staan met ’n ergerlike sug op en loop na die slaapkamer. Net saamgebring met die doel om die ou aristokraat met sy geld en invloed by te staan, en hy doen dit onwillig. Voor sir Geoffrey sit hy natuurlik ’n meer gedienstige gesig op.

Sy groet, verlig om te kan gaan. “Ek sal weer môre terug wees.”

Die seun rol met sy rolstoel nader, maar die vrou bly met ’n tydskrif sit, groet skaars. Justine maak die deur oop en tot haar verbasing stoot die seun homself vinnig eerste deur, voor haar uit sodat sy haastig moet terugstaan.

“Wel, en het jy vir sir Geoffrey ’n lekker tyd gegee?” vra hy parmantig.

Justine gaan staan in die gang. Sy het self ’n klein boetie wat baie vermetel kon wees as kind, so sy dink sy weet hoe om dié kêreltjie te hanteer.

“Lekker is nie wat ek ’n inspuiting en bloed trek sou noem nie, Robin. Moet ek dit met jou ook doen sodat jy kan voel hoe dit voel?”

Hy grinnik. “Jy’s mooier as die laaste een, maar nie so sexy nie. Hy sal vir jou ook ’n harde tyd gee.”

“Hy sal nié. Ek doen my werk en hy is my pasiënt. Ek dink regtig nie jy moet oor sir Geoffrey skinder nie. Is julle nie sy gaste nie?”

“My ma en pa sê hy gebruik hulle net want hy is so belangrik, maar hulle doen alles wat hy vra, en hy wil nie ’n verpleegster saambring nie want hy sê hy’s nie só siek nie. Ons is een van die belangrikste families in Brittanje. My pa se ander neef is die Duke of Northumberland. Sy kasteel is Alnwick, waar die Harry Potter-flieks en ’n klomp ander gemaak is.”

“Jy is darem haastig met die uitlê van jou familie se pedigree teenoor iemand wat vir jou ’n vreemdeling is. Maar dankie vir die inligting. Ek moet nou gaan, Robin.”

Sy loop vinnig weg, wonder oor die kind. Waarom vertel hy sommer dadelik vir ’n mens van die familie? Het hy ’n minderwaardigheidsgevoel wat hy met spog probeer besweer? Of is dit hoe sy ouers hom leer? Wys dadelik vir die mense wat vir jou werk dat jy hul meerdere is?

Gaan hulle so onverkwiklik bly reg deur die reis? Sy sal dit net moet leer hanteer, maar dis nie ’n blye vooruitsig nie.

* * *

“Dit lyk of jy die ou lord sal kan hanteer,” skerts dokter Gibson nadat sy verslag gedoen het. “Hy het nog nooit een van die ander verpleegsters vir tee genooi nie. Vir dokter Barnard wel, maar dis die enigste van ons klomp van wie hy regtig hou.”

“Daai kwajong van ’n seun het al jou voorganger aan die agterstewe geknyp,” vertel Sally met smaak. “Ek hoop die klein vabond probeer dit nie met jou nie.”

“Ek sal hom soos my klein boetie hanteer,” sê Justine, hoewel sy nogal twyfel oor die boudknypery. “As hy dit probeer, gaan dit sowaar net een keer wees.”

“Jy moet oppas, daardie mense is baie belangrik,” vermaan Sally.

“Ons is ook, terwyl die ou lord ons nodig het. Ek gaan nie my werk deur een ongedissiplineerde kind laat ontwrig nie.”

Dokter Gibson grinnik. “That’s the spirit.”

Hy keer haar voor toe hulle sake by die kliniek afgehandel is. “Kom ek neem jou vir ete by ’n lekker plek. Waarvoor het jy lus? ’n Pizza? Franse cuisine? ’n Buffet?”

Sy kan skaars weier, al is sy lugtig vir hom. “Wel … ’n pizza sal lekker wees, maar ek wil asseblief vroeg gaan slaap. Ek is nogal moeg ná die eerste dag. Die skip se beweging laat my onvas op my voete voel, dis asof ek heeltyd probeer balanseer.”

“Jy moet jou seebene kry, soos hulle sê. Dit sal gou gebeur. Ek kry jou halfagt by jou kajuit, oukei?”

“Goed, dankie.”

* * *

Justine stort, trek ’n ligte rok en hoë hakke aan. Hier moet ’n mens mos saans mooi aantrek, maar sy hoef darem sekerlik nie oorformeel te wees nie, nie vir pizza nie. Sy grimeer haar oë liggies. Hulle is haar beste bate – groen en groot, met lang wimpers. Sy het nie juis nodig om veel grimering te dra om hulle te beklemtoon nie. Sy borsel haar hare totdat dit glansend oor haar skouers hang, en wag.

Stiptelik om halfagt kom die klop aan haar deur. Dokter Gibson dra ’n donkerblou pak en lyk besonder aantreklik. Maar hy is nie Ruben Barnard nie. Sy sou wat wou gee dat dit eerder die ernstige Suid-Afrikaner moes wees wat haar vanaand vir ete neem.

“Jy lyk opvreetbaar,” sê hy. “Dis baie opvallend dat jy ’n groenoog brunette is, nes Scarlett O’Hara in Gone with the Wind.”

“O, dankie.” Ja-nee, ongetwyfeld ’n geoefende vleier.

“Vanaand is ons op voornaamterme, maar voor ander moet ons maar dokter en verpleegster sê, hoor.”

So ver hulle vorder en hier en daar by passasiers en bemanning verbyloop, sien Justine dat mense staar en selfs omkyk wanneer hulle verbykom. Die vroumense wonder seker wie dié gelukkige vrou is wat dit regkry om met die aantreklike dokter Gibson ’n afspraak te hê. Sy is seker baie mense op die skip weet wie hy is.

Die pizzeria is taamlik vol, maar gelukkig staan mense op van ’n tafel reg in die middel en ’n kelner neem hulle soontoe.

“Volgende keer gaan ons na ’n stiller plek,” sê Steve. “Iets meer intiem, waar mens nie hoef te skree om gehoor te word nie.”

Justine glimlag net stil, dankbaar dat hulle juis nié in ’n intieme plek is nie.

Hy bestel ’n bottel Australiese wyn en hulle kies pizzas. “ ’n Marinara met ’n dun basis, asseblief,” sê sy. “Die kleintjie.” Steve bestel die heel grootste pizza “met alles op”.

“Welkom in ons vrolike geledere,” sê hy toe die wyn geskink is. Hy klink glase met haar en kyk diep in haar oë. “Jy moet na my kyk terwyl ons klink, anders bring dit ongeluk.”

Justine kyk na hom, maar draai haar oë vinnig weg. Sy sien regtig nie kans om gehipnotiseer, verlief of te beïndruk met die man te lyk nie. Mense kyk na hulle. Sy voel vreeslik opsigtelik.

Die aand verloop nietemin goed, want Steve gesels land en sand oor sy ervarings op skeepsvaarte, en oor Australië. Hy praat meer oor homself as wat hy belangstel in háár agtergrond en ervarings. Duidelik is hy selfgesentreerd, maar hy kry dit reg om die sjarme soos ’n kraan oop te draai.

Toe die pizzas opgeëet is, stel hy voor hulle gaan na die casino.

“Ek dobbel nie,” sê sy. “Dis iets waaraan ek glad nie verslaaf wil raak nie en baie mense raak maklik verslaaf. Dit skep ’n soort optimisme wat so erg is soos sjokolade eet. Serotonien word afgeskei as hulle iets wen en hulle wil dit weer en weer ervaar.”

Hy grinnik. “Ek kan sien jy lyk nie na ’n dobbelaar nie, maar ek wil jou darem gaan wys hoe dit daar lyk. Dan kan jy my geluksgodin wees.”

“Nee dankie, ek gaan liewer vanaand vroeg slaap.”

“Ag, moenie ’n pretbederwer wees nie. Kom kyk net. Jy sal dit interessant vind. Jy kan die wedders sielkundig ontleed. Ek dobbel in elk geval nie veel nie en ek beperk die hoeveelheid geld wat ek elke keer neersit baie streng.”

“Ag, nou goed dan.” Sy is tog nuuskierig om die opset te sien. ’n Casino is nie ’n plek waar sy ooit kom nie en sy wil darem nie soos ’n ou suurpruim lyk nie.

Hulle loop verby mense in aanddrag. Mans het tuxedo’s aan en die vroue dra blink juwele en aandrokke. Justine is gefassineer deur die modes en glans. Haar klere is eintlik te informeel vir die casino, dis duidelik.

Die casino is vol en Steve lei haar verby mense wat by roulette-wiele dobbel na ’n tafel waar ’n croupier kaarte uitdeel vir mense wat met hopies speelmunte van verskillende kleure voor hulle sit. Hier en daar groet mense die dokter. Justine sien sommer hier is passasiers met hope geld wat hul sakke brand.

Die croupier is ’n sexy rooikop in ’n swart aandrok met ’n lae hals. Lang, blink oorkrabbers hang van haar ore af. Sy het vinnige, vaardige hande. ’n Man wat ook na ’n personeellid lyk, staan langs haar en hou alles fyn dop. Hy kyk op toe hulle naderkom.

“Naand, dokter, kom jy speel?” vra hy met ’n glimlag. Die ander mense groet ook vir Steve en Justine kry die indruk dat hy gereeld hier kom.

“Nie vanaand nie, dankie. Ek wys net vir ons nuwe verpleegster hoe julle mense van hul geld stroop. Ontmoet Justine Steyn, en dié twee is Shaun Harris en Jenny Simpson.”

Die croupier kyk net vlugtig na hulle en glimlag klein, konsentreer dan weer op die kaarte.

“Aangename kennis,” sê Shaun. “Ons hoop jy kom speel ook soms.”

Justine glimlag. “Ek twyfel, maar dis interessant om dop te hou.”

“Stel haar tog aan mý ook voor,” hoor sy ’n manstem. “Moenie so snoep wees met julle mooi verpleegsters nie, dokter.”

Steve sug teatraal. “Ag ja, dáár is nou vir jou ’n wolf. Justine, dít is ons gesoute ou dobbelaar, Patrick O’Neil. Hierdie skip loop oor van die Ierse chancers. Pasop maar veral vir ou Pat.”

“Is dit nou hoe jy ’n vriend aan jou godin voorstel?” Die man grinnik werklik wolfagtig. Hy vroetel met speelmunte wat hy met sy lang vingers bymekaarmaak en opstapel. Hy het al ’n hele aantal hopies voor hom. Aantreklik op ’n gladdebek, blink manier, dink Justine. Oormatig sonbruin, by die veertig jaar oud, sy aandpak onberispelik en duidelik van die jongste snit en mode. Sy swart hare is teruggejel en sy blinkswart oë lag haar uit.

“Ek is niemand se godin nie,” skerts sy, maar kil, want sy voel aan dat dié man een is wat liefs heeltemal vermy moet word.

“Jy kan myne word? Die betrekking is tans vakant.”

“Nee, dankie, liewer nie.”

Hy trek kastig ’n hartseergesig. “Foiled again!”

Steve neem haar arm. “Kom, ons onderbreek die spel. Die mense moet konsentreer.”

Net toe kom drie mense in en stap reguit na die blackjack-tafel waar hulle staan – sir Geoffrey en die Parfrey-egpaar. Almal is uitgevat. Die hele spul lyk so deftig soos die passasiers in die fliek Titanic net voordat die skip in die ysberg vasgevaar het, dink Justine.

Sir Geoffrey kyk verbaas en nogal afwysend na haar. “Dobbel jy dan ook, verpleegster?”

“Nee, ek is net gou op ’n besigtigingstoer, sir Geoffrey.”

“Jy moet haar nie verlei nie, jou vabond,” raas die ou man kastig met Steve, wat lag.

Justine is baie verbaas dat die ou lord nou so ’n sprankie humor toon. Hy kan dan nie nét suur en veeleisend wees nie.

Sy sien hoe kyk Gwynneth Parfrey haar aan asof sy pas uit die haglikste agterbuurt in ’n paleis aangeland het. Natuurlik is sy nie so deftig geklee soos Gwynneth nie, steek eintlik sleg af by almal in die casino. Dit maak haar vies dat Steve haar hier ingesleep het tussen al die blink en vertonerige mense, hier waar sy nie hoort of wil wees nie, terwyl hy geweet het sy’s te informeel aangetrek.

“Steve, ek wil nou asseblief na my kajuit gaan.”

“Natuurlik. Ek neem jou gou.”

Sy is seker hy gaan terugkom nadat hy haar geneem het, en sy aand omdobbel. Hy is sekerlik nie verniet so eie met die casino se personeel en die ander dobbelaars nie.

Hartstog op see

Подняться наверх