Читать книгу Locum vir liefde - Malene Breytenbach - Страница 4

Оглавление

2

Laura is uitgeput van die reis, die tekort aan behoorlike slaap en die opgewondenheid om uiteindelik in Rusland, wat haar verbeelding so aangryp, aan te kom. Sy besluit om vroeg te gaan inkruip. Dit word egter nie donker nie, is sy gewaarsku. Hierdie is die somertyd van die sogenaamde white nights, soos in die film waarin die beroemde balletdanser Baryshnikov gespeel het. Sy het die film gesien toe sy nog op skool was.

Op die kaai dwaal mense rond en ander loop op die dekke en rondkyk toe Laura ná ete na buite gaan. Dit kon netsowel die middel van die dag gewees het.

Dit is nie juis stil in haar kajuit nie, vind sy minute later, en die skip wieg saggies in die water. Laura trek die gordyne voor haar patryspoort toe, drink ’n slaappil en kry haarself so vinnig moontlik in die smal kajuitbed. Sy het afgeskaal van ’n dubbelkajuit na ’n enkelkajuit, nie bloot om die koste te verlaag nie, maar omdat ’n tweede, leë bed haar te veel aan Albert sou laat dink het. Ten spyte van die lig buite en die onrustigheid van die groot skip, raak sy feitlik dadelik aan die slaap.

* * *

Toe sy wakker word, sien sy bly dat sy nege ure lank geslaap het. Dis ’n rekord vir iemand wat gewoonlik met net ses tot sewe uur klaarkom. ’n Ruk lank lê sy en word eers behoorlik wakker, luister na die geluide rondom haar. Sy dink aan die vele lewens op dié skip, waarvan sy nou een uitmaak. Dan onthou sy wat sy gedroom het.

Kyle Barrymore was in die droom, nie Albert nie. Dit laat haar skuldig voel. Maar Kyle het haar vermy in die droom. Wanneer sy met hom wou praat, het hy weggedraai. Sy het verwerp gevoel.

Hy behoort aan ’n ander vrou, Laura, berispe sy haar nou in haar kajuitbedjie. Buitendien stel hy nie in haar belang nie. En sy stel nie in hom belang nie. Haar hart is nog te seer oor Albert.

Sy staan op, gaan stort en trek skoon ontspanningsdrag aan. Haar gunsteling blou langmouhemp, wat haar nog altyd gevlei het, pas mooi by haar jeans, wat ietwat los sit – sy’t gewig verloor sedert Albert se dood. Sy maak haar hare losserig vas en grimeer haar gesig liggies. Nou’s sy reg om die skip te gaan verken voor ontbyt.

Die skip is luuks genoeg, maar nie so uitsonderlik soos die reuseskepe van rederye soos die Princess Lines waarop sy al in Westerse waters gevaar het nie, dink Laura terwyl sy rondkyk. Sy en Albert het twee seereise op sulke skepe onderneem. Sy loop van heel voor tot agter op die dek en kyk na die geboue van Moskou. Die bemanning wat sy teëkom groet byna almal in Russies. Dit voel vreemd om niemand te ken nie, geeneen van die mense wat sy op die dek en kaai sien rondwandel nie.

Daar is ’n aantal duur boetieks op die skip, net voordat ’n mens die eetkamer bereik, en Laura kyk ingedagte na die amberjuweliersware. ’n Vrou van haar eie ouderdom, wat sy in die toergroep raakgesien het omdat sy altyd so kunstig lyk, met baie klingelende silwerarmbande, reusagtige silweroorringe en los kaftans, kom staan langs haar.

“Haai. Ek sien jy is ook only the lonely,” sê die vrou. “Ek het opgelet daar is nog ’n vrou van Stellenbosch op die toerlys, dis mos jy, nè? Ek is Laetitia Roux, ek’s kunsdosent by die universiteit. Ek het gedink as ek nie nóú op dié trippie kom nie, sal ek dit nooit in my lewe doen nie. Ek is geskei, sien, en niks kinders nie. Jou beurt.”

Laura glimlag. Sy hou sommer dadelik van dié vriendelike vrou. “Ek’s Laura Jansen, ek was tot nou ’n GP op Stellenbosch. My man en vennoot, Albert Bekker, is onlangs dood. Ek het die praktyk verkoop en nou doen ek eers dié reis, wat hy nog bespreek het. En ek beplan nog aan my toekoms.”

Laetitia kyk haar ondersoekend en simpatiek aan. “Haai, shame. Ek weet van ’n Bekker en Jansen-praktyk, maar ek is dokter Niemand se pasiënt. Jy lyk te jonk en mooi om ’n huisdokter te wees. Of jy dra jou jare besonder goed.”

Laura lag. “Nee, ek is al dertig.”

“Ek is dan vyf jaar ouer as jy. Ons is nog bloedjonk, man, ons moet vorentoe kyk en geniet wat te geniete is. My naam is nie verniet Laetitia nie. Dit beteken ‘vreugde’. Ons moet sorg dat jy bietjie vir jou verlies getroos word.”

“Dankie. Dis lekker om jou te ontmoet.”

“Ag nee, dié ou amberjuweeltjies is pateties,” hoor Laura agter haar, en kyk om. Daar staan die twee St John-vroue. Mevrou St John hou ’n stringetjie aan een vinger in die lug, sit dit minagtend neer.

“Ons sal seker ordentliker goed in Moskou of St. Petersburg kan kry,” sê Eudoxia.

“Maar ek het reeds soveel amber wat ek nog van die Baltikovs geërf het. Jy gaan dit tog by my erf,” sê haar ma afwysend.

“Ag, Ma s’n is so outyds. Ek wil nuwe ontwerpe hê. En ek wil dit nou dra, nie eendag nadat Ma dood is nie.”

Laura kyk of sy vir Kyle Barrymore iewers sien. Hy is nêrens en sy voel verspot teleurgesteld.

“Mense met hoë standaarde,” sê Laetitia saggies en kyk onderlangs na die twee St Johns.

“Dis my tafelmaats.”

“Ja, maar jy sit ook by die mooiste man op die skip,” sê Laetitia. “Almal is jaloers op jou! Ek kan nie onthou dat ek al ooit so ’n hunk gesien het nie. Die Iere is oor die algemeen nie vir my mooi mense nie, maar hy’s ’n advertensie vir daai land. Turkoois oë en gitswart hare, sjoe! Hy kan doen met ’n tan, maar in Ierland is dít seker nogal ’n uitdaging. Daar reën dit mos elke dag.”

“Hy is die jong mejuffrou St John se verloofde,” lig Laura haar in.

Laetitia sug swaar. “Ag, mans van sy kaliber is mos altyd spoken for, of gay. Watter verlies. Maar kom ons gaan eet, my maag skree al. Dié Russe wil glo hê ons moet stiptelik kom eet. Hulle is maar redelik geregimenteer en dink ons Westerlinge is almal ryk slapgatte. Hulle kon die ontbyt gerus vroeër gemaak het, maar hulle dink seker ons wil almal laat slaap.”

Laura lag lekker. Laetitia vrolik sommer die dag op. Hulle gaan nog goeie vriende raak.

Laura groet ma en dogter vriendelik toe sy aan tafel gaan sit en hulle groet uit die hoogte terug. “Waar is dokter Barry­more vanoggend?” vra sy.

“Hy kom seker nou-nou,” sê Eudoxia kil.

“Ons het aan sy deur geklop, maar hy het nie geantwoord nie,” sê die ma. “Hy het seker op die kaai gaan stap. Hy wou gisteraand loop tot aan die punt, na die gebou met die rooi ster, maar ons was te moeg. O, hier is hy nou. Môre, Kyle.”

“Môre, ek moes nou omtrent draf om betyds te wees,” sê hy en gaan sit. “Ek het nogal ver gaan stap.”

Laura probeer om hom nie aan te gaap nie. Hy lyk so gesond, sy wange blosend, sy hare deurmekaar gewaai. Hy glimlag met volmaakte tande na haar en sy oë is so mooi dat sy daarna wil staar en staar. So ’n uitsonderlike kleur het sy nog nooit aan enige mens gesien nie. Hy dra boonop ook blou.

Eudoxia, in haar stywe rooi-en-blou toppie en jeans, lyk vanoggend besonder sexy, dink Laura meewarig. Dié meisie is die soort wat ander vroue oud, vaal en onraaksienbaar laat voel. Laura weet sy is self nie lelik nie, maar ’n opvallende skoonheid is sy ook nie. En sy is al dertig en ’n weduwee. Sy voel oud. Sy rou ook eintlik nog, en dit wys. Mense vertel haar sy het treurige oë. Teen Eudoxia voel sy behoorlik afgetakel.

Die kos is nie die tipiese Engelse spek-en-eier-ontbyt nie, maar soet koekies en slaai. Sy geniet dit alles en sien dat Kyle ook lekker aan die kos weglê. Eudoxia peusel net. Sy pas natuurlik daardie mooi klein lyfie op, dink Laura. Sy voel soos ’n reus teen Eudoxia, al is sy darem ook slank. Kyle toring bo sy verloofde uit. Snaaks dat besonder lang mans dikwels vir klein vroutjies val.

Laura is heeltyd hiperbewus van elke beweging wat Kyle maak, elke sluk, hoe hy sy skouers beweeg, hoe sy mooi doktershande met alles werk. Hy straal behoorlik iets uit wat haar omvou, iets waarin sy maklik vasgevang kan raak. Dit is amper te moeilik om so naby hom aan tafel te sit en hom so goed te kan sien. Om sy stem te hoor en in sy merkwaardige oë te kyk. Dit is slegs met groot wilskrag dat sy haar koel en kalm kan voordoen.

Nog nooit het ’n man dié oorweldigende effek op haar gehad nie. Nie eens Albert nie, en sy was baie lief vir hom. Dit gaan vir heelwat ongemak sorg, juis nou wanneer sy nie sterk is nie . . .

“Gaan jy vanoggend saam op die toer na die Kremlin?” vra Kyle skielik, en kyk in Laura se oë sodat sy blitsig moet wegkyk. Sy antwoord egter vinnig:

“O ja, dit wil ek vir niks ter wêreld mis nie.”

“Daar waar die onheilighede van die kommunisme uitgebroei het,” sê mevrou St John kil.

“Waar eeue se onheilighede, ook onder die tsaars, uitgebroei het,” korrigeer Kyle en neem ’n sluk koffie. “Die Kremlin is die hart van Rusland. Daar was reeds so ’n geskiedenis van onderdrukking, en toe kom die bose Stalin ook nog ná die tsaars by. En toe die lang jare van kommunisme en die Koue Oorlog. Ons kan baie bly wees dat dinge totaal verander het sodat ons hier kan kom toer.”

“Tsaar Pieter die Grote het St. Petersburg mos in moerasse laat bou,” merk Laura op. “Die werkers is vreeslik onderdruk, maar kyk net die paleise wat hulle kon bou, natuurlik wel met die hulp van Italiaanse argitekte.”

“Het jy die Russiese geskiedenis opgeswot?” vra Eudoxia ietwat smalend.

“Ek lees altyd op oor lande se geografie en geskiedenis voordat ek daarheen reis. Baie op die internet. Ek en my oorlede man het alles moontlik oor Rusland gelees, dis so ’n fassinerende land.”

“En toe kan hy dit nie kom sien nie,” sê mevrou St John simpatiek. “Arme man.”

“Nee, maar hy sou nie wou hê ek moet dit mis nie.”

“Ek kom my familiegeskiedenis hier opvolg,” sê die ouer vrou. “Hulle het paleise in Moskou en St. Petersburg gehad, en ’n landgoed in die Kaukasus. Ek wou hê Eudoxia moet sien watter luisterryke agtergrond ons het. Sy kan werklik trots wees op haar Russiese herkoms. Aan haar vader se kant het die mans hulleself opgewerk – self-made men. Kyle kom uit ’n aristokratiese agtergrond . . .”

“Ag nee . . .” begin hy, maar sy praat voort.

“Kyle se vader, Gerald Barrymore, was die kleinseun van Lord James Barrymore, Graaf van Mornagh. Die graaf en Lady Margaret is dood in die Titanic-ramp. Kyle het grootgeword op die praglandgoed Mornagh. Sy ouer broer is nou in beheer daarvan en hy het die titel geërf.”

“Toe word hierdie jonger seun maar ’n geneesheer,” sê Kyle. “Genoeg van familie-agtergronde. Ons verveel dokter Jansen – Laura – met ons praatjies. Ons bus vertrek oor ’n uur.”

Laura staan eintlik traag op. Hier het sy nou weens mevrou St John se spogtery meer van Kyle Barrymore te wete gekom. Hy kom uit die hoëlui, dis duidelik. Sy wêreld is ver van hare verwyder. Hy dink sekerlik dat sy baie gewoon is.

Sy draai na mevrou St John terwyl hulle die eetsaal verlaat. “Kan mevrou die cyrilliese skrif lees en Russies praat?” vra sy.

“O nee, ons het dit verleer. Ongelukkig. Dis vir my net so vreemd soos dit vir jou is. My voorsate het verengels. Ons behoort ook nie meer aan die Ortodokse Kerk nie.”

* * *

Op die bus sit Laura en Laetitia saam en die drie Iere ver van hulle af. Die bus hou op ’n parkeerterrein by die Kremlin stil. Die toerleier Tatiana en ’n manlike toergids het deurgaans vir hulle oor die geskiedenis vertel, en nou klim almal uit en loop gretig agter die twee aan. Laura kyk verruk om haar na die groot groepe toeriste, en op na die torings en rooi mure van die Kremlin.

“Dit lyk soos iets uit ’n feeverhaal! Dit is eintlik Oosters, kyk daardie kerke met die goue koepels. Mens kan skaars glo dat hier sulke tirannie uitgebroei het, as jy so na al die skoonheid kyk.”

Laetitia is woes besig om foto’s te neem terwyl Laura praat. Straatsmouse sak op hul toergroep toe met poskaarte, boeke, militêre pette en medaljes uit die kommunistiese era.

“Ek het nie roebels nie,” sê Laura vir ’n besonder knaende smous.

“Euro of dollar, ek gee goeie prys,” dring hy op geradbraakte Engels aan en beur ’n ent agter hulle aan.

“Ag, nou goed dan, enigiets om van dié lastige vlieg ontslae te raak,” kla Laetitia eindelik en koop ’n fotoboek oor Moskou.

Laura probeer diskreet kyk wat van Kyle-hulle geword het. Sy sien sy kop bo die ander uitsteek, maar dis taamlik ver weg. Sy en Laetitia sal hulle nie maklik inhaal nie. Al geniet sy dit vreeslik om alles te bekyk, is sy vreemd afgehaal.

Hulle word na katedrale met wonderlike ikone en uivormige koepels van goud-en-blou geneem. Hulle sien ’n reusekanon en ’n reuseklok wat vir Tsaar Pieter die Grote gemaak is. Maar eers heelwat later, by die Wapenmuseum, sien Laura weer die Iere van naderby. Kyle kyk na fabelagtige juwele in ’n vertoonkas en Eudoxia hou sy arm vas, vly haar kop daarteen aan.

Toe Laura langs Kyle gaan staan, kyk hy na haar. “Sien jy die diamant in die septer?” vra hy. “Hertog Orlov, een van Katharina die Grote se minnaars, het dit vir haar gegee. ”

“Was hy lief vir haar, of wou hy net haar guns wen?”

Kyle lag. “Seker albei. Het jy na die Fabergé-eiers gekyk?”

“Nog nie.”

“Gaan kyk, jy sal verstom wees.”

Hy beweeg weg met Eudoxia. Laura probeer om hulle nie agterna te staar nie en Laetitia kom staan by haar.

“Mans soos daai bring net hartseer,” sê sy. “Mens moet hulle liewer vermy.”

Wat sien Laetitia in hom raak? wonder Laura ongemaklik. Kastig lighartig sê sy: “Ek stem. Dis net moeilik as mens verplig word om elke dag saam met so een aan tafel te sit.”

Maar Laura moet haarself streng berispe dat sy nie haar dag en die heerlike toer moet laat bederf deur simpele versugtinge nie.

* * *

Ná die oggend op die Rooiplein, ’n besoek aan die verstommend kleurryke Heilige Basileus-katedraal met sy vele koepels, inkopies by die GUM-afdelingswinkel en ’n rit deur Moskou, keer hulle na die skip terug.

Laura en Laetitia het saam gestap, met ander mense van die toergroep gesels en saam koffie gaan drink, maar die Iere het ná die besoek aan die Kremlin hul eie gang gegaan. Hulle het ook nie soos die ander met die bus na die skip teruggekeer nie. Laura het hulle natuurlik gemis.

Toe sy die middag terug in haar kajuit is en uitkyk na die kaai, sien sy hulle in ’n taxi aankom. Die vroue het verskeie pakkies by hulle. Blykbaar het hulle behoorlik inkopies gaan doen. Sy sit en kyk tot hulle aan boord gekom het.

Om wie te beïndruk? vra haar gewete terwyl sy haar hare was en stileer en nuwe grimering aanwend voor aandete. Sy vertel haarself maar dat sy bloot nie by die deftige Iere wil afsteek nie.

Toe sy later by hulle aan tafel sit, sien sy dat mevrou St John haar bestudeer. ’n Mens se voorkoms is natuurlik vir die vrou uiters belangrik. Hulle is almal uitgevat, spesiaal geklee vir die aand, want ná ete is daar ’n uitvoering van Russiese musiek in die groot saal, en byna al die toerlede sal dit bywoon.

“Het julle vandag amberjuweliersware gekoop?” vra Laura.

“Ja, hoe weet jy?” Eudoxia se stem is kil en sy kyk Laura op en af.

“Ek het net gehoor julle praat daaroor toe julle na die amber in die skeepsboetiek gekyk het.”

“Ons moes nogal soek vir goeie goed, maar ons het dit uiteindelik gekry,” sê Eudoxia. Sy kyk liefdevol na Kyle. “Jy was so geduldig, my lief. Jy het niks gekla nie en oral saamgegaan.”

“Ek het my lewe lief,” grap hy, met ’n knipoog vir Laura.

“Amber was nog altyd vir die Russe ’n besonder kosbare edelsteen,” begin mevrou St John op haar vername manier vertel. “Dit is eintlik net ’n fossielhars wat versteen het. Die bome waarvan dit kom, het egter al uitgesterf, daarom dat dit so kosbaar is, en die beste amber het boonop antieke insekte of plantmateriaal in. Daar is mos ’n hele amberkamer in die Katharina-paleis. Dit is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Duitsers verwoes, maar weer net soos voorheen herbou, fabelagtig.”

“Ek kan nie wag om dit te sien nie,” sê Laura beleefd. Sy bied daarna aan om dié aand vir die wyn te betaal, maar Kyle wil van niks weet nie: “Terwyl ek die man aan tafel is, sal ék die drank borg.”

Hulle eet en gesels lekker. Laura kom agter dat die statusbewuste mevrou St John ’n spottende sin vir humor het en sy lag saam oor die staaltjies wat die ouer vrou vertel. Sy is baie oplettend en soms nogal katterig, sien alles raak wat ander doen en vind oral ’n bron van vermaak.

“My voorsaat, Grigori Baltikov, was een van Katharina die Grote se nie-amptelike minnaars,” vertel sy. “Hy het net af en toe ’n kans gekry as een van die amptelike minnaars nie beskikbaar was nie. Hy het so by die agterdeur ingekom, maar Katharina het enigeen wat haar bed gedeel het, ruim vergoed.”

“Moeder se voorsate het ook maar skandalig gelewe,” terg Eudoxia. “En nou is ons so stigtelik.”

“Katharina die Grote was nie ’n mak vrou nie. Pieter die Grote kon ook maar barbaars wees,” merk Kyle op. “Hy het nie juis waarde aan gewone mense se lewens geheg nie. Duisende het hulle doodgewerk om St. Petersburg te bou, soos julle weet. Hy het sy bojars – die adelstand – gedwing om hul baarde af te skeer en Westerse klere te dra, terwyl hulle Bisantyns, Slawies, Asiërs was, heeltemal Oosters in hul denke. Hy was genadeloos met sy hervormings en enigiemand wat nie met hom saamgestem het nie, het hy vernietig. Stalin was net so erg. Hy het hierdie waterweë met derduisende gevangenes se arbeid laat bou en hulle het soos vlieë gesterf. Dit pla my dat ons dit nou kom geniet en dat mense nie weet watter koste in lewens dit geverg het om dit alles tot stand te bring nie.”

“Ek weet van dié dinge,” sê Laura stil. “Ons kan darem in ons harte aan hulle hulde bring.”

Meteens is daar ’n demper op die geselskap geplaas. Mevrou St John sug. “Ag, hoor nou hoe praat dié dokters. Bloeiende harte. Maar dis alles waar. Ek is so sentimenteel oor my Russiese voorsate, maar dit is waar dat hulle die gewone mense onderdruk het en tot in die negentiende eeu nog slawe gehad het. Die Russiese geskiedenis is deurspek met lyding en wreedheid, al is die oorblyfsels van tsaristiese Rusland so manjifiek.”

“Ag, mens moenie soveel geskiedenis lees nie,” sê Eudoxia smalend. “Dit krap jou tog net om.”

Hulle gaan ’n tydjie later saam na die saal vir die konsert. Die musikante is twee jong mans, een met ’n trekklavier en een met ’n balalaika. Laura sien Laetitia by die saal inkom en wink haar nader.

“Kom sit by ons,” nooi sy.

Laura sien hoe Laetitia se blik op Kyle talm toe sy almal bekend stel. Laetitia kan skaars haar bewondering wegsteek, maar Laura besluit om aandagtig na die verhoog te kyk. Die twee musikante speel en sing Russiese volksliedere. Een man is ’n tenoor en die ander een ’n bariton en hul stemme is vir Laura soos soet, warm heuning. So mooi, ’n mens kan dit amper proe.

Die pragtige musiek maak haar eensklaps treurig. Sy wens Albert kon hier gewees het om dit saam met haar te waardeer.

“O, dis so mooi,” sê Laetitia in haar oor. “Hartroerend, ek sê jou.”

Laura knik. Sy sien uit die hoek van haar oog hoe Eudoxia met haar blonde kop teen Kyle se skouer aanleun. Hoe haar hand deur syne omvou word. Aan sy ander kant sit haar ma in vervoering. Hulle lyk al drie so gelukkig en tevrede.

Ná die uitvoering fluister Laetitia aan haar: “Julle klomp was vrolik aan tafel vanaand. Ek het net heeltyd gehoor hoe julle lag. Wie was die grapjas?”

“Glo dit of nie, maar mevrou St John het allerlei staaltjies.”

Locum vir liefde

Подняться наверх