Читать книгу Locum vir liefde - Malene Breytenbach - Страница 5
Оглавление3
Toe Laura die volgende oggend by ontbyt aankom, is die Iere nie daar nie. Sy is al halfpad met haar ontbyt toe Kyle opdaag en oorkant haar inskuif.
“Jammer ek is laat, en verskoon asseblief die ander twee. Eudoxia het vanoggend ’n taamlik hewige asma-aanval gekry,” sê hy.
“Ag nee! Is dit nou onder beheer?”
“Ja, dankie. Dis ook maar goed ek het saamgekom.”
Laura voel skuldig bly dat hy ’n slag sonder sy verliefde verloofde met haar kan gesels. Hy eet vinnig en praat tussendeur. “Spanning veroorsaak aanvalle, maar sy behoort nie nou enige stres te hê nie. Maar mens weet nooit wanneer sy ’n aanval gaan kry nie.”
“Hoe behandel jy haar?”
“Sy het altyd bronchodilatore by haar. Ek het ook al laedosis-inhalasiesteroïede voorgeskryf. Sy kry glad nie daaglikse aanvalle nie, dit raak darem nou gespasieer.”
“Die aanvalle maak haar seker vreeslik benoud.”
“Ja, haar asemnood is vreeslik. Sy was bang om sonder my op dié reis te kom en mevrou St John wou dit al so lankal doen. Ek was verplig om saam te kom, maar ek moet erken dat Rusland my ook nog altyd gefassineer het. Die probleem is net, ek is rusteloos, ek wil baie meer rondloop. Eudoxia voel nie altyd lus nie en haar ma is nogal gemaksugtig. Sy ry liewer iewers heen. Die oplossing was om op ’n boottoer te kom sodat die twee aan boord kan bly as hulle nie wil gaan rondloop nie. Ek gaan maar op my eie uit.”
Laura keer haarself net betyds om te sê: Jy kan altyd saam met my en Laetitia kom. Dit sal darem te vrypostig en gretig klink.
“Skryf jy vir Eudoxia salbutamol voor?” vra sy om die gespreksonderwerp veiliger te hou.
“Ja, dis beter as die ou adrenergiese agoniste, ek wil nie haar hart oorstimuleer nie.”
Dit is vir Laura so lekker om met Kyle te sit en praat dat sy skoon geesdriftig raak. “Dis vir my so interessant dat asma die eerste keer in antieke Egipte geïdentifiseer is toe mense, seker die priesters en die mense wat lyke moes balsem, wierook ingeasem het. Vyftig, sestig jaar gelede het Westerse mense nog gedink dis psigosomaties.”
Kyle glimlag skeef. “Daar is mense wat nou nog so dink. Al die mense wat daaraan moes sterf omdat daar geglo is ’n mens kan chloroformlinimente aan die bors smeer en dan is die probleem opgelos.”
Hy breek sy soet broodjie en steek ’n stuk in sy mond. Laura kyk vasgenael hoe hy kou, hoe hy sy mond netjies met die servet afvee. Om te dink dat dit so mooi kan wees wanneer iemand eet . . .
“Ons vertrek vandag, ek sien uit,” sê hy dan. “Daar is sulke interessante plekke op ons roete. Al die pragtige kerke, die Russe weet darem maar van kerke bou. Weet jy van die manskore wat by al die kerke sing om die toeriste te vermaak?”
“Ek het gehoor, ja. Die basstemme is mos veral so tradisioneel in Rusland. Ek reken dit gaan soos engelekore klink, en ek is juis lief vir koorsang.”
“Ja, om ons sondige siele te verhef,” sê Kyle met ’n vonkel in sy turkoois oë.
“Dit sal van ons beter mense maak,” grap sy terug.
Hy drink sy koffie vinnig klaar, maar sy talm nog. Sy geniet sy geselskap soveel dat sy skaars aan eet en drink dink.
“Verskoon my, asseblief,” sê hy tot haar spyt en staan op. “Ek moet gaan hoor hoe dit met Eudoxia gaan. Ek het ontbyt na hul kajuit laat stuur, maar ek twyfel of sy juis kon eet.”
“Dis darem sleg as sy aan die begin van die toer al ’n aanval kry,” sê Laura, en hoop sy klink simpatiek.
“Sy het seker te veel opwinding gehad. Sien jou later, Laura.”
“Sterkte, Kyle.”
Dit is die eerste keer dat sy hom op sy naam noem, dink sy. Sy wil hom amper agternakyk, maar hou haar in en drink oënskynlik rustig haar koffie.
Ná ontbyt loop sy ’n draai op die dek en sien dokter Andrei Asparov aankom. Sy groet en dink hy gaan net verbyloop, maar hy vertoef langs haar.
“Hoe vind jy die toer tot dusver?” vra hy. Hy staan baie naby aan haar, nogal heel eie.
“Moskou was beslis ’n belewenis. Die Rooiplein is net nogal kleiner as wat ek gedink het. Mens sien mos altyd op TV hoe militêre parades daar plaasvind, en dan lyk dit enorm. Maar ai, die Kremlin en die kerke, die kunsskatte van die tsaars, dis asemrowend.”
Hy grinnik. “Ja, dit is. Maar die toeriste dink seker nooit daaraan dat daar etlike teregstellings op die Rooiplein plaasgevind het nie. Daar het baie bloed geloop.”
Laura ril effens. Onder al die glorie van Rusland loop ’n donker rivier van pyn en ellende, dink sy die soveelste keer op hierdie reis. Dis asof almal haar daaraan wil herinner.
“Ek sien uit na St. Petersburg,” sê sy net om iets te sê, want die man talm steeds.
“Ja, dis spektakulêr. Sekerlik een van die mooiste stede in die wêreld. Die Venesië van die noorde,” sê hy trots.
Sy wil net groet en loop toe hy vra: “Wil jy nie saam met my kom koffie drink nie?”
Sy is dadelik nóg lugtiger vir die man. “Dankie, maar ek het pas twee koppies in en ek moet my vriendin gaan ontmoet,” jok sy.
“Dis jammer. ’n Ander keer, dan. Ek sal jou ’n paar Russiese woorde en uitdrukkings leer, as jy wil, asseblief en dankie – dis ‘spasiba’.”
Sy glimlag effens stram. “Die toerleier het ons op die bus sulke goed geleer, toe ons na die Kremlin gery het. Totsiens eers.”
Sy loop weg en probeer dit kalm doen. Sy moenie lyk asof sy vlug nie. Die man lyk nogal asof hy van homself ’n oorlas kan maak as sy dit sou toelaat.
Sy bring ’n halfuur in haar kajuit deur met haar toerboekie. Maar sy kan nie eintlik daarop konsentreer nie. Haar kop is te vol van Kyle Barrymore: hoe hy praat, met sy baie effense Ierse aksent, sy pragtige Engels. Hoe sy gesigsuitdrukkings lyk. Hoe sy oë dromerig raak of stip kyk. Hoe sy mooi hande werk. Vanoggend het hy ’n liggroen hemp met ’n Polo-embleempie gedra en sy oë het byna na groen geneig.
Jy raak nou skoon van lotjie getik, sê sy streng vir haarself. Sy moet vir Laetitia gaan soek en iets saam met haar doen. Sý sal haar aandag heeltemal van Kyle af weglei.
* * *
Laura kry nie gou weer kans om alleen met Kyle te gesels nie. Aan tafel is al drie die Iere telkens daar – Eudoxia het gou herstel. Tussenin kuier Laura met Laetitia en gesels met ander mense. Hulle weet teen dié tyd almal dat sy ’n geneesheer is en kom na haar met kwaaltjies en vrae. Hulle kom vra selfs medisyne, wat haar eintlik ’n bietjie irriteer. Sy stuur hulle na dokter Andrei Asparov, maar diagnoseer wel klein goedjies.
Aan tafel vertel sy laggend vir Kyle daarvan. “As mense weet jy is ’n dokter, kan jy maar vergeet van uitgelos te word. Pla hulle jou ook?”
“So hier en daar.”
“Hulle pla hom gans te veel,” kla Eudoxia. “Veral die vroumense. Mens sou sweer hier is nie ’n Russiese dokter aan boord nie.”
Laura glimlag vir haar. “Ag, ek dink mense soek ook maar net troos, of ’n onderwerp waaroor hulle met ’n mens kan gesels.”
“Ja, almal se ipekonders kom altyd na vore op so ’n reis,” sê mevrou St John. “Kyle, jy sal maar net moet streng wees en hulle na die Russiese dokter verwys.”
“Ek gee nie om om hier en daar bietjie raad te gee nie,” verweer hy. “Gee jý om, Laura?”
“Ag, nee wat. Dis nie só steurend nie. Ek het in elk geval nie medikasie om uit te deel nie.”
“Ons het ’n hele tassie vol,” sê Eudoxia. “Dit lyk vir my asof die mense dink hulle kan kom bedel.”
“Ag nee,” sê Kyle. “Net mevrou Symington het vir pynpille kom vra, en daarvan het ons genoeg. Ek het haar gesê volgende keer moet sy na dokter Asparov gaan. Sy kan die Russiese medikasie vertrou, en ek is seker hy is goed gekwalifiseer.”
“Sy het net ’n verskoning gesoek om met jou te kom praat en toe is jy nog so vriendelik met haar,” verwyt Eudoxia hom. “Nou gaan sy aanhoudend lastig wees.”
Laura merk vlietende irritasie oor Kyle se gesig, maar dit verdwyn byna onmiddellik weer. Hy trek net sy skouers op. Dié meisie is glad nie seker van hom nie, dink Laura. Sy is jaloers op alle ander vroue. Sy wat Laura is, sal versigtig moet wees, anders kan dinge onaangenaam raak.
Sy wonder of die onlangse asma-aanval nie juis deur
Eudoxia se ontsteltenis oor haar verloofde se aanloklikheid veroorsaak is nie. Sê nou net sy gee voor, met die doel om hom besorgd te maak en sy aandag in beslag te neem? Maar hy sal dit tog seker agterkom? ’n Dokter sal hom tog nie so maklik laat manipuleer nie, verseker sy haarself.
* * *
Dit neem ’n hele ruk voordat hulle by die plek kom waar hulle die eerste keer aan wal sal gaan. Laura en Laetitia staan op die dek en kyk hoe kerke met blou koepels naderkom.
“Oeglitsj is dié plek se naam,” sê Laura. “Die kerke is glo fabelagtig.”
“Dis soos iets uit ’n Duisend-en-een-nagte,” sug Laetitia. “Ek voel of ek in ’n droom loop.”
Laura kyk of sy die Iere iewers sien, maar hulle is nie tussen die ander gretige toeriste nie. Die skip meer vas en hulle gaan aan wal. Daar is kraampies waar koeldrank, amberjuweliersware, matryoshka-poppe en poskaarte verkoop word. Die smouse is ywerig.
“Hiér is nou mooi amberhalssnoere,” merk Laetitia op. Sy gaan staan by een van die kraampies en bekyk die ware, kibbel dan luidkeels met ’n man wat baie swak Engels praat. Sy koop naderhand ’n halssnoer en tel die roebels af. “Ek het hom lekker afgestry,” sê sy tevrede. “Net die helfte gegee van wat hy wou gehad het. Gaan jy iets koop?”
“Ek glo nie. Ek wil by die kerk kom. Ek wil die ikone sien en na die mannekoor gaan luister.” Sy begin aanbeweeg met Laetitia op haar hakke. Nêrens gewaar Laura die Iere nie. Stel hulle dan nie in hierdie pragtige historiese plek belang nie?
Die mannekoor lyk soos priesters in hul swart klere. Laura luister in vervoering na die melodieuse, swewende sang in die manjifieke katedraal vol ikone. Hierdie toneel sal sy vir altyd onthou. Albert sou dit só geniet het, dring die treurige gedagte egter weer deur haar plesier.
Nee, sy wil nie hê haar gees moet nou vertroebel raak nie. Sy moenie elke keer treurig wens dat Albert iets kon meegemaak het nie, sy moet dit net geniet.
Eers toe hulle na die skip terugstap, sien sy vir Kyle by die kerk uitkom. Waar was hy dan? Hy is tog opvallend en sy het heeltyd na hom gesit en soek. Sy wonder of hy haar dalk vermy. En waar is die ander twee? Dit lyk asof hy alleen hierheen gekom het. Twee vroue van die toergroep loop egter weerskante van hom en Laura kan sien dat hy bedagsaam ’n gesprek met hulle voer.
Sy wil stadiger stap sodat hy haar en Laetitia kan inhaal, maar besluit daarteen. As hy haar wil vermy, gaan dit tog net vir hom ’n verleentheid wees. Sy gaan haar nie aan hom opdring nie. Inteendeel, sy gaan haar daarvan weerhou om met hom te praat.
“Daar is die handsome dokter,” sê Laetitia. “Sal ons hom roep?”
“Nee! Hy is besig.” Laura loop vinniger en Laetitia moet uithaal om by te hou.
* * *
Die aand aan tafel kan sy en Kyle gesels oor hoe verruklik Oeglisj se kerk was en hoe mooi die koor gesing het.
“Ek het saam met dokter Asparov na die dorp en kerke gaan kyk, hy was ’n wonderlike gids,” sê mevrou St John tot Laura se verbasing. “Eudoxia het op die skip gebly, sy was ’n bietjie olik.”
“Jy het ’n lekker vlooimark gemis,” sê Laura met ’n glimlag vir die meisie.
Eudoxia trek ’n gesig. “Ag, oral is dieselfde ou vlooimarkgoed. Ek sal by die volgende plek kyk of daar iets is wat ek wil hê. Ek soek nie goedkoop soeweniers nie, dit maak net mens se bagasie vol.”
“Daar was ’n koor in die kerk wat absoluut hemels gesing het,” probeer Laura verder geselsies maak.
“Ag, mens sal sulke kore ook by elke kerk van hier tot in
St. Petersburg hoor,” sê Eudoxia en pruil. Sy kyk na Kyle. “Nè, liefste, mens sal mos?”
“Seker,” sê hy kil. Hy kyk nie na haar nie.
Laura let dit op. Dié meisie is bedorwe en wil net die beste hê. Sy sit haar nie juis uit om ordentlik en aangenaam te wees nie. Waarin stel sy dan belang, behalwe duur inkopies en haar verloofde? Hoe is dit dat iemand soos Kyle op só iemand verliefraak, met haar wil trou? Iemand met sulke beperkte belangstellings . . . Trou hy dalk vir haar geld? Of dalk trou mense uit ryk families maar so met mekaar, waar die Iere vandaan kom?
Laura raak al hoe meer teleurgesteld in hom. Sy behandel hom korrek, nie te vriendelik nie en flankeer beslis geensins met hom nie. Die ander vroue maak wel vir hom ogies, mens kan nie anders as om dit op te let nie. Sy wonder . . . As hy wil, kan hy lekker stout wees op dié skip. Hy kan tog nie régtig veel van Eudoxia hou nie.
* * *
Laura luister hoe die gids se stem draal waar hulle op die kaai van die dorpie Kostroma staan. Sy het Kyle en sy toekomstige skoonma van ver af gesien, besig om haastig vooruit te loop dorp se kant toe. Eudoxia is weer nie by hulle nie.
Almal loop op na die dorp se kremlin en ’n standbeeld van Lenin. Tot Laura se verbasing kom Kyle na haar aangestap terwyl sy die standbeeld staan en bekyk.
“Dis een van die laastes van Lenin wat nog staan,” merk hy op.
“Ja, ek hoor so,” sê sy kalm, maar al wat sy sien, is sy blink hare in die son, sy oopnekhemp, die sterk keel, die sak oor sy fors skouers, en haar hart wil nie normaal klop nie.
Laetitia beweeg nader aan hom. “Waar is jou meisie?” vra sy pront.
“Op die skip.”
“Gaan sy dan nooit afklim om na goed te kyk nie?” Die afkeer is duidelik in Laetitia stem.
“Sy sal seker, maar sy dink Kostroma is te vervalle om mooi te wees. Dit maak haar glo morbied om soveel armoede te sien.”
In Ierland sien sy tog ook armoede, of lewe sy so beskermd dat sy dit nooit raaksien nie, wonder Laura.
“Maar ons gaan tog hierna na die Ipatiev-klooster en dis van groot historiese belang. Dis sekerlik baie mooi ook,” sê sy.
Kyle haal sy skouers op, lyk vaagweg geïrriteerd. “Kerke en kloosters staan haar nie juis aan nie.”
“Waarom het sy dan op die toer gekom?” wil Laetitia weet. “Kerke en kloosters maak seker die helfte van Rusland se besienswaardighede uit.”
“Sy het gekom om haar ma se onthalwe. Haar ma wou Rusland al lankal besoek om haar familie na te vors.”
En Eudoxia het haar verbeel op so ’n toer gaan jy haar heeltyd oppas, dink Laura. Hy dans dan tóg nie heeltyd na sy verloofde se pype nie, dink sy, gretig om beter van hom te dink.
Tot haar heimlike tevredenheid loop Kyle en mevrou
St John saam met haar en Laetitia na die bus en kom sit by hulle. Later stap hulle weer saam by die klooster met sy eeue oue wit mure en goue uiekoepels. Binne sing nog ’n mannekoor. Kyle bly pal langs Laura terwyl hulle luister, en hy koop daarna ’n CD.
“Wag vir my,” sê hy by die kasregistertjie. “Moenie wegloop nie.”
Sy wag en sien dat Laetitia en mevrou St John diep in gesprek vooruit loop.
“Jý kan hierdie geskiedenis en die skoonheid minstens waardeer,” sê hy skielik langs haar. Sy kyk op na hom, in sy stroewe gesig. Sy probeer wegsteek dat sy bly is oor die kompliment en glimlag net liggies.
Hulle gaan staan buite die klooster onder ’n reuseberkeboom. Laura kyk kastig in die rigting van die monnikke se blyplek en die kerk, maar eintlik is sy hiperbewus van die man langs haar.
“Gelukkig het die Sowjets en kommuniste dié plek nie gesloop nie,” sê hy wrang. “Ag, ek is hier só bewus van al die tragiese verliese. Ek het nie gedink dit sal my so raak nie. Dis seker my Ierse agtergrond. Daar is die geskiedenis ook een van verlies en onderdrukking, en die mense bly ewig kwaad oor die onreg wat hulle aangedoen is.”
“Almal van ons se vaderlande het onregte om oor skaam te wees,” sê Laura.
Sy wip van die skrik toe hy meteens sy hand op haar skouer sit.
“Ja, onreg is maar universeel. Ek wil net my skamele bydrae lewer om mense se ellendes te verlig.”
Sy kyk op na hom. Hy kyk in die verte en vat sy hand weg van haar skouer. Hierdie man kon so maklik ’n oppervlakkige playboy gewees het, dink sy. Hy is so uitsonderlik mooi dat dit eintlik werklik vreemd is. En arm is hy beslis nie. Tog het hy ’n mooi lewensuitkyk en diepte.
“Ek voel ook so,” sê sy.
Hy kyk af en glimlag so mooi dat haar hart ruk. Sy kyk weg, probeer versteek hoe dit haar affekteer. Dit is die hoeveelste keer dat hy so vir haar glimlag. So . . . amper teer.
Hy kry haar seker jammer omdat haar man so onlangs oorlede is. Die oplettende en simpatieke dokter sien die leed in haar oë raak. Ja, dis wat dit is.