Читать книгу Geheime liefde - Malene Breytenbach - Страница 3

1

Оглавление

Diana het pas by haar kantoordeur aangekom toe sy die telefoon binne hoor lui. Sy sluit vinnig oop, sit haar boekesak neer en gryp die gehoorbuis.

“Diana, jong, jy sal nie glo wat nou gebeur het nie.”

Die bibliotekaresse se stem is nie vanoggend temerig soos gewoonlik nie, maar skril van opgewondenheid. Sy groet nie eens nie. Begin sommer praat.

“Hallo, Anna. Wat het gebeur?”

“Ek het nóg ’n boek gevind oor daardie skrywer AA Sutherland. Dit was by die ou Victoria Kollege-goed wat ons hier in die kluis bêre. Maar dié een is anders.”

Diana se hand verstyf om die gehoorbuis. “Waarom is dit anders?”

“Dit lyk na ’n joernaal, in Sutherland se eie handskrif.”

Diana se asem slaan byna weg. “Jy bedoel … ’n dagboek? Ek het gedink al sy persoonlike goed en manuskripte is in Edinburg se universiteitsbiblioteek.”

“Is dit nie wonderlik nie? Om te dink dat ék die een is wat dit ontdek het.”

“Jy’s ’n ster, Anna. Ek kom dadelik kyk.”

“Ek moet jou waarsku, daar’s ’n probleem.”

“Ag nee. Wat?”

“Jy mag dalk skrik as jy dit sien, dis baie oud en verweer. Maar ja, kom kyk liewer self.”

Diana se asem jaag behoorlik. Gelukkig gee sy eers oor ’n uur haar eerste lesing en is sy nie heeltemal onvoorbereid nie, al wou sy die werk nog ’n slag oorgegaan het. Soos blits gryp sy haar sak, sluit haar kantoordeur en haas haar by die gang af na die trappe. Vandag voel dit eindeloos ver van die vyfde vloer na die grondvloer. Sy spring die trappe twee-twee af, verby mense wat verstom toekyk, hardloop omtrent by die ingang van die Letteregebou uit en oor Ryneveldstraat na die middel van die kampus.

Is hierdie dalk die verlore stuk van die Sutherland-legkaart? Sy het al soveel stof oor hom gekry maar iets ontbreek nog. Iets wat baie belangrik sal wees en meer lig sal werp op sy verblyf hier op Stellenbosch. Iets wat sy moet vind om die gapings in haar proefskrif oor Sutherland te vul, sodat sy haar PhD in Engelse letterkunde kan behaal. Sy is omtrent paniekerig haastig. As Beryl Makin háár proefskrif eerste afgehandel kry, verloor sy wat Diana is waarskynlik die wedloop om ’n permanente pos wat vereis dat die kandidaat ’n doktorsgraad moet hê. Hulle moet sowaar ook onder dieselfde promotor werk, en sy kan raai dat Terry Swales vir Beryl gaan voortrek.

Diana móét eenvoudig daardie pos kry. Haar finansiële situasie is tans so benard dat sy die hoër salaris dringend benodig. Beryl is ambisieus, maar haar familie is ryk en sy is nie finansieel in die knyp nie, te oordeel aan die nuwe Honda wat sy ry en haar tuinhuis in die gesogte Oewerpark langs die Eersterivier. Dit kom al van hulle eerste jaar af, dié wedywering. Maar hulle is mos darem nie meer voorgraadse studentjies nie! Kan Beryl nie vir haar wat Diana is ’n slag iets gun nie? O nee, Beryl wil haar nie net probeer uitstof op akademiese gebied nie, maar ook wat mans betref. Kyk nou net vir haar en Terry Swales … Beryl is nie popmooi nie, maar daar is iets baie sexy omtrent haar. Blykbaar vind die meeste mans haar fassinerend. Sy toor met die manstudente vir wie sy klasgee. Diana verkies om hulle op ’n vriendelike en professionele afstand te hou, anders vat hulle dalk kanse met haar.

Diana breek nie haar spoed by die skuinste wat na die ondergrondse JS Gericke-biblioteek se ingang afloop nie. Haastig vleg sy deur die klompie studente wat op- en afloop. Hoeveel ure het sy nie al in dié plek deurgebring nie? Al haat sy die gevoel van geslotenheid wat dit haar altyd gee. Dit was wel ruimtebesparend om die biblioteek onder die kampus se sogenaamde Rooiplein te bou, maar vir haar voel dit of ’n mens hier sowaar ’n kerker vol gevangenes betree.

Sy gebruik haar personeelkaart om by die toegangsbeheerhekkie in te gaan. Die onnatuurlike atmosfeer wat deur die buisligte vanaf die ingangsportaal tot by die Africana-afdeling en die Sentrum vir Spesiale Versamelings geskep word, laat haar altyd voel dat sy geblikte lug inasem.

Die verkeer deur die toegangsbeheer, verby die toonbanke, na die rekenaars en die lessenaars waar mense sit en studeer, is swaar dog gedemp. Hier en daar lag en gesels studente en personeel, maar hulle doen dit suutjies. By Spesiale Versamelings pyl sy reguit op die lessenaar van die ouderwetse, maer en bebrilde Anna Theron af, wat opkyk toe Diana half uitasem voor haar gaan staan.

“Jy’s vinnig hier.”

“Sjoe, ek het gehardloop. Kon nie gou genoeg maak nie.”

Anna staan op en kom agter haar lessenaar uit. Vlugtig registreer Diana die plat skoene, die romp wat onderkant die knieë eindig.

“Kom ek gaan wys jou. Ek het dit ontdek in een van daardie ou kassies waar die Victoria Kollege-boeke gehou is. Dit was heel agter in ’n hoekie. Ek wou die kas skuif, want dit was in die pad, toe hoor ek iets los rammel daarin.”

“Dis ’n wonderwerk. Hoekom sê jy ek sal skrik om dit te sien?”

Anna Theron loop vooruit. “Jy moet net sien hoe sleg dit lyk.”

Diana volg haar met beklemming. Elke keer as sy hier kom, verwonder sy haar aan die historiese foto’s, aan die kopie van die getekende Unilateral Declaration of Independence van ou Rhodesië en die waardevolle skilderye deur beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Irma Stern, wat met helder gele, rooie en bloue kleur aan die andersins vaal skemerte van dié stil enklave gee. Vandag sien sy dit skaars raak.

Anna Theron sluit die deur van ’n agterste vertrek knarsend oop. Diana word soos dikwels voorheen oorweldig deur die muwwerige reuk van ou leer en papier in die rakke vol antieke hardebandpublikasies. Die bibliotekaresse gaan na die enorme grys veiligheidsdeur van ’n kluis, sluit dit ook oop en trek aan ’n groot staalhandvatsel. Die deur sug op geoliede skarniere oop. Sy skakel ’n lig aan wat grys bokse, kunsvoorwerpe en nog antieke boeke uit die donker rakke te voorskyn bring.

“Ons hou die kosbaarste goed hier, of dié wat gerestoureer moet word.”

Diana stamp haar voet met ’n dowwe slag teen ’n kas. Ons Spreekuur Archieven staan in goue letters daarop geverf.

Anna beduie daarna. “Dis in dié ding dat ek die boek ontdek het. Ek weet nie hoe niemand dit al voor my gevind het nie. Elke departement in die ou Victoria Kollege het een van hierdie kaste gehad. Dit het gedien as hulle biblioteke voordat die CL Marais-biblioteek gebou is. Deesdae hou ons die ou goed in die suurvrye lêers in die kompaktus, anders vergaan die papier. Ek het die joernaal voorlopig in een van ons bewaarbokse gesit, want dit sal gerestoureer moet word.”

Anna trek ’n boks uit ’n rak en dra dit na ’n klein houttafeltjie langs ’n outydse stoel met ’n hoë rugleuning en dun pootjies. Sy blaas oor die boks sodat ’n bietjie stof opdwarrel wat Diana se neus laat kriewel, maak ’n gespe los en lig die deksel. Diana ruik ou leer, muf en vermolmde papier. Sy bewe skoon, so gretig is sy om die inhoud te sien. Anna staan terug en laat haar kyk. Die dun boek het ’n omslag van maroen leer en die woorde AA Sutherland, Journal is in vae goue letters daarop gedruk. Dit lyk erg verslete, die hoeke weggevreet en die rug stukkend. Haar hande jeuk om daaraan te vat, maar sy weet sy mag nie. Die bibliotekaresse lig dit uiters versigtig uit en maak die voorblad met haar vingerpunte oop.

Diana voel asof haar bloed verys. Die papier binne die omslag is so bros dat dele van bladsye lyk of dit uit brokkies geel perkament bestaan. Alles is verkleur van die ouderdom, bruin gevlek, melaats. Op die leesbare dele is fyn, krullerige, outydse skrif in ink wat bruin en dof geword het.

“Sien jy?” sug Anna. “Dis in ’n vreeslike toestand.”

“Hoe op aarde gaan ek dit lees?” vra Diana en raak liggies met een voorvinger aan die kurkdroë, verweerde papier. Sy voel sy kan in trane uitbars.

Anna se brillense blink in die lig. “Toemaar, ons het mos vir meneer Klaas Erdeman. Ken jy hom?”

“Nee, wie’s hy?”

“Hy’s ons restoureerder uit Nederland. Ons is baie gelukkig om hom te hê, daar is min van sy soort in Suid-Afrika. Hy het al baie van ons boeke en prente gered en as daar iemand is wat hierdie gemors weer leesbaar kan maak, is dit hy. Maar as ek dit so kyk, gaan dit nie sommer tjop-tjop gedoen kan word nie. Hoe gou het jy dit nodig?”

Diana kan omtrent haar hande wring. “Gou. Dadelik. Daar is leemtes in my navorsing. Sutherland het ’n klomp liefdesgedigte geskryf vir ’n vrou wat hy vermoedelik hier ontmoet het. Sy is soos die dark lady of the sonnets in Shakespeare se werk. Daar is ’n duidelike onderskeid te bespeur tussen haar en die vrou met wie hy in Skotland getrou het. Hopelik het hy in dié joernaal van haar geskryf.”

Die punt van Anna se lang voorvinger met die knobbelrige litte gaan na haar ken. “Ag, is dit nie romanties nie?”

“Kan ek die joernaal asseblief eers bekyk voordat ons dit aan die restoureerder oorgee?”

Anna huiwer, maar knik dan. “Sit solank hier en kyk daarna. Maar wees tog asseblief versigtig. Jy sien hoe stukkend dit is. Ek gaan gou met ons direkteur hieroor praat.”

Diana gaan sit op die stoel en kyk gretig na die titelplaat waarop staan: Alexander Armstrong Sutherland, MA (Edin.). Versigtig skei sy die eerste bladsy van die tweede. Skrik toe ’n frummeltjie van die bros papier losbreek. Sy maak uit: February 1st 1909. Today is my first day as Assistant in Classics and English at Victoria College, Cape Colony, Africa.

Hoe het die historiese klein Stellenbosch van sy tyd gelyk? Sy sien in haar verbeelding ’n sonnige dorpie tussen berge, met witgekalkte geboue, stofstrate, ruiters, perdekarre en vroue in lang rokke. Heel anders as Sutherland se plek van herkoms: reuse, eeue oue, besoedelde Edinburg met sy imposante kasteel wat onverbiddelik van bo teen die berg afkyk op die mensemassa wat die alewige koue reënweer moet trotseer. Wat nou die Ou Hoofgebou op die Universiteit van Stellenbosch se kampus is, sou toe nog die splinternuwe Victoria Kollege gewees het. Daar rondom sou die kampus wat vandag toegebou van die hoë strukture is, nog meesal onbebou en vol woonhuise gewees het.

Versigtig blaai sy. Dan snak sy skielik na haar asem.

Shall I compare thee to a summer’s day?

Thou art more lovely and more temperate.

Shakespeare se woorde is nie verniet hier nie. Dit besing ’n vrou.

Sy is te bang om verder te blaai en nog skade aan te rig. Haar hande huiwer oor die joernaal. Stemme by die deur laat haar skuldig omkyk. Professor Julius Bastiaanse, die lang, grys en vernaamlykende direkteur van die biblioteek, is by Anna Theron.

“Môre, juffrou Malan. Ek hoor Anna het iets wonderliks ontdek.”

“Ja, professor, dis ’n kosbare ou joernaal, maar ongelukkig is dit flenters.”

“Anna sê my jy dink dit bevat inligting wat noodsaaklik is vir jou proefskrif?”

“Ja, ek het reeds iets gesien wat ek in my proefskrif kan gebruik, professor.”

Hy klik met sy tong terwyl hy die joernaal beskou. “Allamagtig. Ek dink dit sal selfs vir meneer Erdeman ’n uitdaging wees om hierdie verflenterde publikasie te red. Maar ons sal hom vra, en dan kyk ons.”

“Dankie, professor. Ek sal meneer Erdeman natuurlik soveel moontlik help.”

Hy frons, met sy hand oor sy mond, asof iets hom byval. “Weet jy, daar is ’n vermaarde biograaf van Oxford wat ook oor dié skrywer werk, wat onlangs by ons inligting gesoek het. Ek sal hom van dié vonds moet vertel. Hy gaan dit natuurlik wil sien.”

Skok trek in ’n ysige vlaag deur Diana. Gaan daar nou iemand kom inmeng met haar groot vonds? ’n Nuuskierige vreemdeling wat ook ’n kleim kom afpen?

“Ek is nou jammer as dit lastig sal wees,” sê professor Bastiaanse simpatiek. “Maar ons kan tog nie weier dat dié man ook insae kry nie.”

“Nee, seker nie.” Sy wil skree van frustrasie. “Wie is dié biograaf?”

“Professor Alexander Erskine. Hy is ’n wêreldkundige en ons het ’n hele aantal van sy boeke en artikels op ons stelsel.”

Verstom kyk sy na professor Bastiaanse. “O … ek weet van hom.” Natuurlik, enigeen wat met Engelse letterkunde werk, weet van Alexander Erskine. “Ek … almal … moet hom gedurig naslaan. Sy biografie oor die digter Yeats is die beste waarvan ek weet.”

Dié gerespekteerde, wêreldbekende akademikus wat deur almal aangehaal word en wie se boeke wyd en syd voorgeskryf word, gaan soos ’n dwarrelwind toeslaan en verwag dat sy, wat net ’n PhD-student is, vir hom moet agteruitstaan.

Nadenkend ry Diana laatmiddag met die Helshoogtepad op en laat die dorp met sy swaar middagverkeer agter. Simonsberg kan ’n mens op ’n sonskyndag soos vandag vrolik verwelkom, soos ’n koketterige vrou. Anders as in die nag, wanneer dit pikswart en monsteragtig opdoem met net hier en daar ligte wat flonker van plekke waar mense tuis is. Vandag wuif die bome en die fynbos. Die herinnering van haar ouers se noodlottige ongeluk op die ou Helshoogtepad, net onderkant die nuwe een waarop sy elke dag kampus toe en terug moet ry, reik sy ou tentakels na haar toe uit. Hulle motor het by die afgrond in die bos in neergestort. Albei is op slag dood.

Sy moes ná die tyd hoor dat haar geliefde pa onder die invloed bestuur het en vir ’n aankomende motor se skerp ligte uitgeswaai het. Dit het haar lank geneem om daarmee vrede te maak. As sy nou terugkyk, weet sy dat die gewig wat sy van graad tien af begin optel het, as gevolg van haar gemoedstoestand was. Kos was ’n troos. Sy was lusteloos en wou nie meer aan sport deelneem nie. Dis eers op universiteit dat sy haar pa vir dié een onbesonne daad vergewe het en weer beter na haar gesondheid begin omsien het. Hy was immers ’n wonderlike pa.

Op die kruin van die pas draai sy uit na Hoogeland bo teen die hang. Deesdae ry sy ’n gerieflike ent op ’n plaaspad wat die buurman, Marcus Thompson, tot by sy groot hek laat plavei het sodat verkeer na sy wynkelder nie in die stof hoef te ry nie. Van daar af ry sy maar weer op ’n stofpad tot by Hoogeland se ingang. Hulle kan nie bekostig om hulle stuk pad te plavei nie.

Diana maak die outomatiese plaashek met die afstandbeheerder oop en kyk hoe die veiligheidstralies rammelend oopskuif. Sy word begroet deur die reuse-eike wat lang skaduwees oor die pad gooi, die roostuin met sy spatsels kleur. Vandag hol daar weer ’n eekhoring voor haar motor verby teen een van die knoesterige ou stamme op. Hy vries eers en betrag haar met ondersoekende kraalogies. Sy moet altyd versigtig wees om nie een raak te ry nie. Sy het nog altyd gewonder of die diertjies individuele mense herken. Hulle is ewe veel boorlinge van Hoogeland as sy, die familie, die troeteldiere en die Adamse.

Sy parkeer by haar motorhuis en stap rustig tot by die hekkie en die geplaveide paadjie. Bokant die breë trappe staan die voordeur oop. In die groot goueraamspieël in die portaal loop ’n lang, skraal meisie met donker hare, geklee in ’n styfpassende swart langbroek en wit linnehemp, haar tegemoet. Dié spieël is bevolk met baie mense, dink Diana. Hulle beelde word in sy hart bewaar. Haar ma en pa is ook daar. Ewig jonk en sterk, hy met sy donker hare, diepbruin oë en breë skouers waarop sy dikwels as kleuter gery het; sy met haar fynbesnede gesig, slanke lyf en welige donkerbruin hare.

“Hier is ek, my darling,” hoor sy ouma Jeanne se stem uit die sitkamer roep.

Churchill, haar ouma se bejaarde en vet Engelse bulhond, verskyn met ’n onwillige blaf in die deur. Kwyl loop verby sy tong en woeste tande. Diana vryf eers die geplooide kop en word waarderend natgelek. Daarna gaan soengroet sy haar ouma, wat met ’n Agatha Christie-boek in ’n leunstoel sit, leesbril laag op haar neus.

“En toe? Hoe was jou dag?” vra haar ouma, en kyk bo-oor haar ronde brillense na haar kleindogter.

“Ek het ’n wonderlike ding oorgekom, Ouma. Een van die bibliotekaresses het in ’n ou kas ’n joernaal ontdek wat Sutherland hier in Suid-Afrika gehou het. Al sy ander joernale is mos in Edinburg.”

Haar ouma se oë word groot. “Ek kan dink dat jy opgewonde is. Kon jy dit lees?”

Diana sug, plof in ’n stoel neer en plaas haar skootrekenaar langs haar op die vloer.

“Net ’n bietjie daarvan. Daar is ongelukkig ’n probleem. Dis so oud dat dit vreeslik verweer is. Amper onleesbaar. Meneer Erdeman, die bib se restoureerder, moet dit eers heelmaak voordat ek dit kan bestudeer. Ek smag nou na kafeïen. Het Ouma lus vir koffie?”

“Nee dankie, my ding. Ek het pas tee gehad.”

Die heerlike geur van gebraaide hoender en uie laat Diana se mond water toe sy kombuis toe stap. Bettina Adams staan voor die oond met haar rug na die deur en sing luidkeels: “Soos ’n hert in dorre streke …”

Diana gaan staan langs haar en die woorde sterf skielik weg.

“Heit, hoe laat jy my nou skrik. Jy kan mos nie ’n oumens so bekruip nie.”

Diana lag. “Ek bekruip jou nie, Bettina. Dis oor jy so hard sing dat jy niks hoor nie.” Bettina het waarlik ’n tweede ma geword nadat Diana se eie ma verongeluk het.

“Wil jy koffie hê? Ek het vanoggend vars beskuit gebak.”

“Ja, ek smag na koffie, en beskuit sal lekker wees, dankie. Gaan jy aan met jou dinge, ek sal self vir my maak.”

Sy hou haar besig met die perkoleerder en die goue beskuite wat heerlik ruik.

“Die mense kom druiwe oes en ek hoor weer daai Marcus Thompson is agter onse plaas aan.”

Diana frons. “Ja, hy wil lankal ons grond hê, maar om Hoogeland te verkoop is nie vir my ’n opsie nie.”

Sy en haar ouma kan of wil nou wel nie boer sedert haar pa se dood nie, maar dis hoekom hulle ’n deel van die grond aan Marcus Thompson verhuur sodat hy druiwe kan kweek en sy werkers dit kan oes. Só bly hulle darem verseker van ’n inkomste terwyl die plaas steeds aan haar, as enigste erfgenaam, behoort.

Sy staan met haar koffie en doop die beskuit. Hap. Sluk. “Baie lekker, Bettina.”

Bettina glimlag en vee haar hande aan haar voorskoot af. Sweet blink op haar bolip. Sy bring ure in hierdie kombuis met sy Aga en ander stowe deur, altyd aan die bak en kook. Wat sal Diana en haar ouma tog sonder Bettina Adams as kok en huishoudster, skoonmaker en bakker doen? Om nie eens te praat van haar man Willem wat die tuin en gronde so mooi versorg nie.

“Hoe gaan dit met Shaun en Denzil by die skool?” vra sy uit oor Bettina en Willem se seuns. Diana en haar ouma het ooreengekom dat hulle altyd sal seker maak die seuns se skoolfonds by Paul Roos Gimnasium is betaal, al gaan dit hoe swaar.

“Shaun werk hard. Hy weet matriek is nie speletjies nie. Hy doen baie goed in Afrikaans, dis net die wiskunde wat bietjie sukkel.”

“Wil hy nog volgende jaar onderwys gaan studeer?”

Bettina tel ’n aartappel uit ’n bak met water op en begin tydsaam skil. “Ja, hy sê dis sy droom om eendag by Paul Roos skool te hou, sodat hy ander kinders soos hy kan aanmoedig.”

“Dis mooi!” Diana is trots op die seun, maar bekommernis roer in haar. Hulle het ook belowe om Shaun se studies te help betaal. Universiteite is duur. Sy sal by Stellenbosch se afdeling vir beurse en lenings vir hom iets moet probeer reël. Elke bietjie sal help.

Bettina beduie met die messie. “Ja, ek sê mos nog altyd vir die seuns: Daar’s ’n toekoms vir jou as jy net wil leer.”

Diana knik. “En hoe gaan dit met Denzil?”

Bettina klik haar tong. “Hy moet meer werk en minder met die vriende rondhang. Denzil moet nou ernstig word oor sy skoolwerk. Daar’s net twee jaar voor hy ook in matriek is. Maar dit gaan darem nie te sleg nie.”

Lang krulle aartappelskil val onder Bettina se messie weg. “Hoe was jou dag, my duifie?”

“Opwindend, dankie.” Sy vertel haar van die vonds in die biblioteek.

“Haai, nou moet julle alles eers aanmekaarplak voor julle die geheimenisse kan lees?” Haar donker wenkbroue skiet boontoe.

“Ongelukkig, ja. Maar soos hulle sê: Voor in die wapad het nou ’n lig begin brand.”

Tog kan Diana haarself nie keer om te wonder wat die biograaf van Oxford beplan nie. Hy is soos ’n vae bedreiging in die agtergrond. Soos ’n spinnekop wat besig is om sy web te spin en hierheen wil kom om vlieë te vang.

Geheime liefde

Подняться наверх