Читать книгу Geheime liefde - Malene Breytenbach - Страница 5
3
ОглавлениеTerwyl sy vir Alex Erskine wag, wil Diana amper weer begin naels byt soos in haar kinderdae. In haar maag is die vlindergevoel wat sy altyd gekry het voordat sy ’n resies gehardloop het of ’n musiekeksamen moes speel. Haar hartklop is nie normaal nie. As daar nou ooit ’n man was wat moeilikheid is, is dit dié Erskine. Toe daardie turkoois oë haar die eerste keer skroei, het sy die vreemdste rukking in haar hart gekry. Hy is nie iemand wat ’n mens ontmoet en dan sommer uit jou kop verban nie. Nee, hy gaan ’n blywende indruk laat. Jy kan hom nie maklik vergeet nie.
Sy wens sy kan vlug. Sy is so op haar senuwees dat ’n motor wat skielik met ’n gebrul in die straat verbyry haar laat wip van die skrik.
Uiteindelik kom hy uit die middedorp se rigting aangestap. Lang bene wat groot treë gee. Sy dik hare flits goud en koper in die sonlig. Hy sal waarskynlik nooit kaalkop word nie, daardie welige hare sal net vergrys. Sy draai haar kop weg sodat hy nie moet sien sy hou hom dop nie. Toe hy by haar kom, let sy weer op dat hy ’n entjie langer as sy is. Dit is ongewoon, want sy is self redelik lank.
“Dankie dat jy vir my tyd inruim, juffrou Malan,” sê hy hoflik.
“Dis my plesier, professor,” jok sy. Diana kan nie help om te dink dit is mooi as sy Skotse erre soos sagte dromgeruis klink nie.
Hy loop agter haar op die sypaadjie om studente te laat verbykom, oor Crozierstraat en tot by die Ou Hoofgebou wat opmerklik wit en skoon in die middagson staan.
“Tipiese negentiende eeuse argitektuur.” Hy kyk op na die klassieke fasade, leeus en pediment, haal ’n kamera uit ’n drasak en neem ’n aantal foto’s.
Diana wag geduldig. Hou hom gefassineer dop. Die kamera is ’n professionele een; sy herken die maak. Sy het self ook ’n soortgelyke een. Sou hy, nes sy, ’n belangstelling in fotografie hê? “Dit is nou ons Fakulteit Regsgeleerdheid,” vertel sy hom. “Die argitek was ’n Duitser, Carl Otto Hager. Hy het kerke ook ontwerp, en een van hulle is ons Moederkerk in die middedorp.”
“Ek sal na die kerk ook moet gaan kyk.”
Alex Erskine beduie met ’n swaai van sy hand dat Diana voor hom kan uitstap tot in die binneplein. Hulle staan in die middel daarvan en sy beduie na die rye klaskamers op die eerste verdieping. “Professor Sutherland moes daar iewers klasgegee het. In die ou dae het mense wat Latyn geneem het hulle name en spreuke op die banke uitgekrap.”
Om hulle beweeg moderne laggende en geselsende studente. Oë draai na hom. Meisies kyk veral met belangstelling. Alex Erskine is so anders. So nie van hier nie. Hy voel natuurlik superieur as hy na die nederige Suid-Afrikaanse universiteit kyk. Sy sien hom met lang treë, in ’n fladderende toga, deur die binneplein van sy Oxford-kollege loop, tuis in die groen grasbedekte vierkante tussen die goue sandsteengeboue met hulle Gotiese torinkies en versiersels. Daar waar alles eeue oud is en tradisies nooit uitsterf nie. Sy was al in Oxford, maar meesal het sy dit in flieks gesien. ’n Towerwêreld met sogenaamde dreaming spires.
Alex vryf oor sy ken. “Soos Goldsmith hou ek van ou dinge: ‘old friends, old times, old manners, old books, old wines’.”
“Daar is seker genoeg daarvan in Oxford.”
Hy reageer nie op haar opmerking nie, maar loop deur die binneplein en bekyk alles, oë geskreef. Een hand is bo sy voorkop om die sonlig uit sy oë te hou. Hy is seker groter as die gemiddelde Skot. Rank behoorlik hemelwaarts. Sy dink aan die woorde van ’n lied: “die son slaan vuur uit die sweetvoshare”.
Hy is nogal swygsaam. Vra haar nie heeltyd uit nie. Blykbaar is hy een van daardie mense wat nie oor nietighede babbel net om praatjies te maak nie. Dalk dink hy nie sy is interessant of belangrik genoeg om mee te gesels nie.
“Ek sal dit weer môre op my eie kom bekyk,” sê hy, en begin uitstap.
Sy volg hom onder die groot eikebome deur na die CL Marais-gebou. Dit is al byna vieruur en die skaduwees onder die groot bome word diep en koel. Sy bibber liggies. “Dit is in dié ou gebou wat ons oorspronklike biblioteek was,” sê sy.
Hy gaan staan in die hek en kyk op na die gebou se geweltjie, pediment en torinkies. “Quaint.” Hy draai om en begin weer na die Ou Hoofgebou se ingang terugloop en sy moet haar treë rek om by te hou.
“Ek weet jy is haastig om Sutherland se ‘ander vrou’ in sy joernaal te vind, juffrou Malan, maar ek stel in veel meer belang. Ek wil oor al die klein en groot aspekte van sy lewe hier lees. Ek wil alles sien wat hy gesien het. Ek wil weet wat hy hier gedoen het, hoe hy Stellenbosch en die politiek van die tyd beleef het. Dit was ’n oorgangstyd en die Afrikaners het nog van die Boereoorlog probeer herstel. Dit was ook die tyd toe die kolonies verenig het om ’n Unie van Suid-Afrika te vorm. Ek wil weet wat Sutherland van alles gedink het.”
Hy dink ’n rukkie na. “Soos wat die digter Yeats, oor wie jy skynbaar ook klasgee, die Ierse politieke kwessies beleef het. Vir Yeats was Maud Gonne die ‘beautiful unattainable’. Ek glo ook, nee eintlik wéét ek, dat Sutherland so ’n vrou hier gevind het. Ek is net so gretig soos jy om uit te vind wie sy was.”
Diana kyk verbaas na hom. Hy klink darem tegemoetkomend. Miskien hoef sy nie regtig so bang vir hom te wees nie. Dalk kan hulle mekaar help en nie net hinder nie. Maar sy sal eers moet sien watter tipe mens hy werklik is. Tot dusver het hy haar nog net nietig en vies laat voel.
Hy kyk rond en weer af na haar. “Dit word laat. Kan jy my môreoggend die joernaal gaan wys? Vroeg? Of is jou oggend te besig?”
“My eerste lesing is eers om negeuur. Ons kan agtuur gaan.”
“Goed, dankie. Ek kry jou weer by die ingang na die Letteregebou.”
“Goed, tot môre dan.” Sy loop vinnig weg. Haar hart klop rukkerig.
Liewe hemel, haar ewewig is geheel en al versteur. In die verlede het slegs Terry dit reggekry.
Sy kyk nie om nie.
Alex kyk hoe Diana van hom af wegstap, die straat af. Sy oupagrootjie moes op dieselfde sypaadjie geloop het en ’n meisie gesien het wat hom laat voel asof hy nie genoeg suurstof inasem nie. Hy het in die dorp ’n aantal van dié Suid-Afrikaanse meisies opgelet: gesond, gesoen deur die son, met blinkskoon hare en mooi lywe. Vroue van gemengde afkoms is dikwels baie mooi. Juffrou Malan se mengsel van Hugenoot, Hollands en wat ook alles in so ’n Suid-Afrikaanse meisie se bloed is, het haar ’n uitsonderlike voorkoms gegee. Nie ’n konvensionele skoonheid nie. Nie soos Dresden-porselein nie, maar wat sy ma wholesome sou noem. Fynbesnede dog sterk gelaatstrekke. Goeie beenstruktuur, grasieuse manier van beweeg. Sy het seker in haar jeug ballet of een of ander vorm van dans gedoen, want haar rug hou sy regop.
Alex klik deur die foto’s op sy kamera. Hy het seker gemaak dat hy vir Diana op ’n paar inkry. Die geboue is fassinerend. Hier het sy oupagrootjie in sy toga, met sy andersheid, sy Britsheid, homself probeer tuismaak. Nie van plan om te lank hier te bly nie. Dit was maar net ’n sport op die begin van sy leer na vernaamheid en roem. Hy moes gedink het dit is ’n klein dammetjie, hier in die Kolonie.
Hy het waarskynlik nie gereken dat ’n Suid-Afrikaanse vrou sy voete onder hom sou uitslaan nie.
Môre gaan Alex uiteindelik die vermiste joernaal te siene kry. Dit het vele reëlings en delegering van verantwoordelikhede geverg vir hom om dié bewyse van wat sy oupagrootjie alles hier kom aanvang het, te sien. Sy ma en veral sy konserwatiewe ouma vrees natuurlik die openbaring van ’n skande, maar as hy ’n eerlike biograaf gaan wees, moet hy tog die waarheid skryf. Hy kan nie vir Sutherland witkalk net omdat hy sy oupagrootjie is nie.
Dié oggend het Alex Erskine ’n beige hemp, bruin koordferweelbroek en brogues aan en hy dra ’n skootrekenaarsak. Mense kyk na hom terwyl hulle loop. Dit is sy grootte en sy houding van selfvertroue wat die oog vang. Diana voel onsigbaar langs hom.
Hy het wat ’n mens gravitas noem. Erns, waardigheid, gewigtigheid. Hy laat selfs iemand soos Terry Swales, wat almal dink is aantreklik, vervaal.
Terwyl hulle oor die straat stap, kyk hy om hom rond. “Dis ’n mooi kampus, hier tussen die berge. Die berge skep ’n gevoel van koestering, van veiligheid, wat natuurlik net ’n waan is. Ek het gehoor hier is baie geweld in julle samelewing.”
“Ongelukkig, ja. Ons het ’n hoë misdaadsyfer.”
Hulle loop in stilte. Naderhand is sy ongemaklik. Sy weet nie eintlik waaroor om met hom te praat nie, want sy wil nie babbel of onkundig klink nie. Oor die misdaadsyfer wil sy sowaar ook nie praat nie.
“’n Ondergrondse biblioteek is redelik uniek,” sê hy toe hulle daar aankom en by die skuinsvlak na die ingang afloop. “Mens gaan na die onderwêreld, oor die Styx in Hades in.”
“Ek voel ook nogal so as ek in die dieptes afdaal. Sal ons eers na professor Bastiaanse toe gaan?”
“Nee wat, ek het reeds ’n lang gesprek met hom gehad. Kom ons gaan reguit na die joernaal toe.”
“Kom ek stel jou eers voor aan die bibliotekaresse wat dit ontdek het.”
“O ja, ek sal haar graag wil ontmoet.”
Anna Theron kyk hom met groot oë en openlike bewondering aan toe Diana hom by Spesiale Versamelings inbring.
“Deur die joernaal te ontdek het jy ’n onskatbaar waardevolle bydrae tot die studie van Sutherland se oeuvre gemaak,” sê hy sjarmant. “Ons gaan almal baat by dié nuwe inligting.”
Anna is blykbaar so oorstelp deur die man dat sy hom babbelend die hele verhaal van die vonds in die fynste besonderhede vertel. Hy luister hoflik en geduldig. Daarna stap sy ywerig saam na Klaas Erdeman se laboratorium om Alex kwansuis aan die restoureerder voor te stel, asof Diana dit nie kan doen nie.
“Die arme Diana het so groot geskrik toe sy die toestand van die joernaal sien, maar ek het geweet ons restoureerder kan dit red,” babbel sy.
Klaas Erdeman lyk net so beïndruk soos Anna Theron toe hy Alex Erskine ontmoet.
Hy kyk hulle met sy fletsblou oë bokant brilrame aan. Sy krans wit hare laat Diana aan ’n middeljarige Einstein dink. Hy kom steunend orent, een hand op sy rug. “Wil u weet hoe die proses werk, professor Erskine?”
“Ja asseblief, as u nie omgee om te verduidelik nie.”
“Wel, hierdie papier is bros; dit is oud en in ’n swak toestand. Die sellulosevesels is meesal vernietig. Ek moes die papier uit die omslag haal. Die bladsye het dermate gedisintegreer dat hulle soos ’n legkaart aanmekaargesit moet word.”
Hy beduie met sy hande. “Sodra ek een bladsy aanmekaar het, plaas ek dit op ’n vakuumtafel. Ek blaas osoonstoom daaroor, want dit is baie droog. Ek sit die stukkies papier aanmekaar met nylon wat ek met ’n spesiale soort strykyster stryk. Dan spuit ek die papier met magnesiumkarbonaat, wat voorkom dat dit weer bros word. Dit bly so vir een dag.
“Daarna lê ek dit op nylon tissue en plaas ’n ander tissue bo-op, soos ’n toebroodjie. Dan gaan dit na die lamineringsmasjien, wat verhit word tot 110 grade Celsius, en dit word deur twee staalrollers gestoot om saamgepers te word.”
“Dit klink of dit baie geduld verg.”
“O, ja. Vir seker. En daar is seker ’n honderd bladsye om te red.”
Toe Alex Erskine uiteindelik die reeds gelamineerde bladsye te siene kry, bekyk hy dit asof hy van ander mense se teenwoordigheid vergeet.
“Professor Erskine, ek moet ongelukkig weer gaan,” trek Diana sy aandag.
Hy draai om. Vir ’n oomblik lyk dit asof hy eers weer sy oë op haar in fokus moet kry. “Natuurlik. Dankie dat jy my hierheen gebring het.”
Diana bid net dat hy nie voor haar die identiteit van die ander vrou in Sutherland se werk gaan ontdek nie.
Diana is nou so begeester dat sy die volgende oggend weer na die biblioteek wil gaan, al is dit Saterdag. Sy is nie besonder honger nie, maar sy skink melk oor haar pap, strooi suiker en proe daaraan. Buiten mieliepap is daar roosterbrood en Bettina se tuisgemaakte vrugtekonfyt en kaas. Vandag eet sy nie die broodjie nie, maar sy drink twee koppies vars geperkoleerde koffie. Sluk gou sodat sy kan loop.
Dit is ’n sonnige oggend. Die bome op kampus begin verkleur, blare dwarrel grond toe en alles ruik vars. Klaas Erdeman sal nie in die biblioteek wees nie. Sy sal die sleutel van die laboratorium by die hooftoonbank kry. Sê nou net Alex Erskine besluit om ook te kom werk? Die moontlikheid laat haar rugspiere styftrek.
Die sleutel is by die toonbank. Sy kry dit en loop af na onder. Die lab is verlate en spookagtig. “Oor die Styx na die onderwêreld” het hy dit genoem.
Sy is stoksielalleen. Minstens gaan sy ongestoord werk, vertel sy haarself. Sy kyk na die gelamineerde bladsye op die tafel. Dié wat herstel is, is netjies langs mekaar gerangskik. Daar is verbasend baie. Alex Erskine moes intussen aan die legkaart help bou het. Wat het hy alles gesien wat sy nog nie gesien het nie? Sy begin verwoed lees, skootrekenaar langs haar oop sodat sy aantekeninge kan maak.
Sy sit voor flenters papier wat sy teen mekaar pas, en vind iets wat haar polsslag laat versnel en haar asem laat jaag.
winsome lass, winner of my heart,
among her peers, pert straw boater on the lovely hair.
so attracted to one another
filings drawn to a magnet.
walking between classes, her head with its thick, shiny black tresses held high, her lovely profile turned away, but then she spots me too. Our eyes meet
Was never a face so pleased my mind; I did but see her passing by
O, watter wonderlike vonds! Hierdie stuk is nog nie gelamineer nie. Alex Erskine kon dit nog nie gesien het nie. Watter juweel in die hooimied van kollegenuus. Gretig soek sy verder. Sutherland vertel hoe vernaam hy gevoel het om as personeellid sy pluiskeil en manelpak te dra. Hy maak melding van ’n groot funksie, van die patriotiese inhoud van die toesprake, die heerlike verversings.
Sy kry ’n gewaarwording dat sy nie alleen is nie. Haar vel reageer met rillings. Verskrik kyk sy om. Verstar. Alex Erskine staan naby haar.
“O, ek het nie gehoor jy kom nader nie.”
“Jammer as ek jou laat skrik het. Ek het gedink dis jy wat hier is toe ek die sleutel gaan soek en hoor dis geneem. Hoe gaan dit hier?”
“Goed, dankie,” sê Diana styf, maar haar gesig brand. Hy kom staan so naby dat haar vel kriewel. So naby dat sy sy manlike geur ruik.
“Gee jy om as ek ook kom help? Is ek nie in jou pad nie?”
Sy kan tog nie vir hom sê om weg te gaan sodat sy in vrede kan werk nie. “Nee, kom help gerus.”
Hy trek ’n stoel nader en sit langs haar. Groot hande met lang vingers beweeg oor die stukke van die joernaal. Aan een vinger is die goue seëlring met die wapen op. Sy wonder daaroor, maar wil nie vra nie.
“Jy sal in hierdie stuk belangstel,” sê sy. ”Dit gaan oor sy reis na Transvaal.” Hy leun nader om te lees, sodat sy voel asof hy binne haar aura is. Toe hy sy hand uitstrek om die stukkie nader te sleep, raak sy vingers aan hare. Dit stuur ’n skok deur haar lyf. Sy hou asem op. Dit is ’n lang stuk. Sy mond beweeg nou en dan, asof hy amper hardop wil lees.
Dit is ’n mooi gevormde mond met mondhoeke wat effens lig. En tog sien sy hom nie baie glimlag nie.
Occupied my December recess with a trip to the Transvaal, which I have been keen and curious to see. I simply must experience the Boer Jerusalem for myself.
Travelling first-class, long distances over the Karoo.
the desert where our troops marched, parched by thirst, pursuing the Boers. Small sidings, villages. Not as attractive as those in Cape Colony. A mainly dry land.
More and more black people as we go north.
not seen in Scotland. Apparently different tribes, speaking different languages. Lingua franca more often Dutch, rather than English.
found accommodation at Victoria Hotel opposite the station. Pretoria will become the administrative capital
colonies united to become the Union of South Africa.
Church Square, Raadsaal (council chamber) of the old South African Republic (Transvaal)
house where President Paul Kruger lived until his exile in 1900
simple, unprepossessing place for a president’s residence.
Melrose House (named after Melrose Abbey in Scotland) built by a Mr Heys, a prosperous businessman, in the time of Kruger
house was requisitioned for Lords Roberts and Kitchener. The peace treaty of Vereeniging was signed by British and Boer representatives in the dining room in 1902.
bitter about the outcome of the war, after the long struggle and apparently many thousands of deaths in the British concentration camps.
visit Johannesburg where the gold mines are the cause of so much strife,
Mine dumps and dirt.
Hy draai na haar en glimlag. “Dit is alles vir my bruikbaar. Dankie dat jy dit aan my uitgewys het. Ek sal elke woord hiervan moet aanteken. Hoe vorder jy? Jy het nog nie die vrou geïdentifiseer nie, het jy?”
“Nee, ek weet nie wie sy is nie, maar ek het dié gekry.” Sy wys hom wat sy aanmekaargeflans het. “Sy was ’n meisie met swart hare wat by die kollege klasgeloop het.”
“Aha, ’n mooi brunet wat slim genoeg was om ná skool verder te studeer. Dit was tog skaars in daardie dae, was dit nie?”
“Ja, dit was nogal skaars. Vroue moes trou en kinders kry en huishou. Dankie tog ek bestaan in die een-en-twintigste eeu.”
Hy grinnik. Pen haar vas met sy oë, sodat dit voel asof iets in haar onderlyf fladder. Gelukkig draai hy weg na die stukke op die tafel. Het hy gesien dat sy soos ’n vervlakste muis voor hom gesit en bewe het? En tog kry sy die verspotte begeerte dat dié slang om haar moet krul.
Get a grip, Diana, vermaan sy haarself.
Diana begin ook weer lees, maar eintlik kan sy nie langs hom ontspan nie. Hy gee haar die bewerasie. Sy is gans te bewus van sy teenwoordigheid.
“Kyk wat het ek gekry,” sê hy, en wys vir haar wat hy aanmekaargesit het.
Sy buk vorentoe om te lees. Sy kop is naby hare.
a compartment with a young Dutchman, Theunis Viljoen, of Huguenot stock,
rebel in the Boer War and remained in the Transvaal until he considered it safe to return to his home in Paarl where his people have a farm in Drakenstein.
a girl waiting for him, he says, and he intends to waste no time to marry her.
die-hard race.
Will bend but not break, rabid about regaining their supposed freedom. Completely anti-British. I explained to him that I am a Scot, not an Englishman
told me with glee about the massacre of the Highland Brigade, especially the Black Watch, at Magersfontein.
otherwise quite a genial young fellow.
that I was interested in a young lady in Stellenbosch but that I did not think she would have me, as I was British, and she Dutch.
her family will not want a British son-in-law so soon after the Boer War, he warned
“Nes ons gedink het, sy was heeltemal onvanpas,” sê Alex Erskine. “Sy liefde was ’n blote versotheid op ’n meisie wat besonder mooi was, waarskynlik ongekunsteld en vars. En wat hy goed geweet het nie van sy klas was of by sy soort lewe of familie sou inpas nie.”
“Ek dink sy was uit net so ’n goeie klas soos hy,” protesteer Diana. “Wat hulle geskei het was nie dat sy agterlik was nie, maar hulle nasionaliteit. Natuurlik het die pas afgelope oorlog ’n wig tussen hulle ingedryf.”
“Verlies en verlange is ’n wonderlike inspirasie vir kunstenaars,” hoor sy hom sê, maar ignoreer hom. Vervlakste snob.
Die hele oggend werk hulle sy aan sy. Hy praat nie en sy praat nie. Sy wil gaan maar ook nie. Naderhand besef sy dis amper etenstyd en haar ouma verwag haar. “Verskoon my, ek moet nou huis toe gaan.”
Hy kyk op. Fokus eers die blaasvlamoë. “Totsiens, juffrou Malan. Ek sal nog ’n ruk hier wees. Moet ek die sleutel terugbesorg by die toonbank?”
“Ja, asseblief. Totsiens, professor.”
Sedert hy op Stellenbosch aangekom het, is dit asof sy heeltyd op die uitkyk is vir hom. Sy kan hom net nie uit haar gedagtes verban nie. Hy gaan seker die naweek alleen wees. Miskien sal iemand soos professor Bastiaanse of Terry hulle oor hom ontferm. Of Beryl.
Sy fladder behoorlik uit, soos ’n voël waarvoor die koudeur oopgelos is.