Читать книгу Van sorg na liefde - Malene Breytenbach - Страница 3
1
ОглавлениеMia lees vir die hoeveelste keer deur haar e-posse. Uiteindelik is daar ’n reaksie! Sy is so opgewonde, haar hart wil by haar keel uitspring.
Sy lees die e-pos nog ’n keer om seker te wees sy maak nie ’n fout nie. Nee, sy het reg verstaan: Daar is ’n pos vir haar as versorger op die eiland Jersey.
Dankie tog! Sy wou net begin moedeloos raak omdat die agentskappe by wie sy aansoek gedoen het om versorgingswerk in die Verenigde Koninkryk nie ’n aanvaarbare betrekking vir haar kon vind nie. Sy skuif die e-pos na haar lêer “Sorg”, raap haar selfoon op en skakel René se nommer.
“Raai wat? Die agentskap het uiteindelik vir my ’n geskikte pos!”
“Halleluja! Jou frustrasievlakke het die afgelope tyd darem baie gestyg. Jammer dat ek dit nou so reguit vir jou moet sê. Waar is die pos?” kom dit van haar vriendin.
“Die eiland Jersey. Is dit nie ongelooflik nie? Dis een van die plekke wat ek nog altyd wou gesien het. Gelukkig het ek nie die eerste die beste pos aanvaar nie, anders het ek dalk hierdie geleentheid misgeloop.”
“Jersey? Waar in die wêreld is dít?”
Mia lag. “Ek moet seker besef nie almal weet waar en wat dit is nie. Ek het die eerste keer daarvan te wete gekom toe ek Gerald Durrell se wonderlike boek, My Family and Other Animals, met die skoolkinders behandel het en toe agtergekom het dat hy daar gewoon en ’n dieretuin begin het. Jersey is die grootste van die Kanaaleilande. Dis eintlik nader aan die Normandiese kus van Frankryk as aan die kus van Engeland. Wat nogal fassinerend van die plek is, is dat hulle ’n eie regering het wat direk onder die monarg van die VK val. Weet jy, hulle het hul eie wette en dié is nog Normandies.”
“Moenie vir my sê jy sal daar moet Frans praat nie,” sê René besorg. “Jy gaan sukkel, hoor.”
“Moenie jou bekommer nie, hulle praat Frans en Engels en ek het darem Frans op skool gehad. Dit sal nie heeltemal vreemd wees nie. Gelukkig is die vrou wat ek gaan versorg Engels.”
“Waarom het sy versorging nodig? As dit iemand met dementia is …”
“Wag, ek kyk gou …” Sy lees vlugtig weer die werkaanbod.
“Dis blykbaar niks ernstigs nie. Die vrou is maar sestig jaar oud en blykbaar ’n ryk weduwee. Sy is glo beseer in ’n motorongeluk en sedertdien in ’n rolstoel. My pligte sal wees om haar geselskap te hou, uit te neem, haar fisiek te versorg en rond te ry.”
Met die hand wat nie die selfoon vashou nie, klik Mia haar e-posse toe en sit haar skootrekenaar langs haar op die sitkamerbank neer.
“Oukei, dit klink darem nie te erg nie,” sê René. “As jy haar moet uitneem, kan jy dalk selfs ’n paar toeriste-aantreklikhede te siene kry.”
“Ek hoop so! Jersey lok glo derduisende toeriste. Dit word nogal die Monaco van die Verenigde Koninkryk genoem. Klink goed, nè?”
Mia staan op en loop met die foon teen haar oor slaapkamer toe. Laat sy sommer dadelik gaan kyk watter klere sy sal kan saamneem. Gelukkig vereis haar werknemer nie dat sy ’n uniform dra nie. “My werk sal natuurlik altyd eerste kom. Gelukkig is die vrou se huis reg langs die kus, buite die hoofstad, Saint Helier, so selfs al bly ons heeltyd by die huis, is ek seker die uitsig sal pragtig wees.”
“Klink spoggerig.”
“Ek veronderstel dit is. Jy weet, Jersey is ’n belastingtoevlugsoord en heelwat rykes en beroemdes het plekke daar.” Mia maak haar kasdeur oop en skuif die hangers met uitrustings rond.
“Sjoe, dalk kan jy sommer vir jou ’n ryk man vastrek terwyl jy daar is.”
Mia frons. “Dit is die laaste ding wat ek wil doen,” sê sy effens geïrriteer. Sy het dan juis uit haar onderwyspos bedank en werk as ’n versorger gesoek om weg te kom en te vergeet van die liefdesteleurstelling wat sy hier gehad het. Op die oomblik wil sy niks met mans te doen hê nie. Sy wil ’n heel ander lewe in ’n nuwe plek hê, uit die moeras van ontnugtering kom en ophou swelg in selfbejammering. Sy moet weer met die lewe aangaan soos dit voor Reghardt was. Hy beweeg aan na ’n ander vrou, die een met wie hy haar verneuk het, en sy beweeg aan na nuwe weivelde.
“Jammer … ek het nie bedoel … Jy is buitendien die laaste persoon wat agter ’n man sal aandraf vir sy geld. Ek weet dit mos. Wanneer vertrek jy?”
Mia skud haar irritasie af. René bedoel dit goed. “So gou moontlik. Ek sal na Londen en van daar af na Jersey vlieg.”
“Wat gebeur dan met jou dorpshuis terwyl jy weg is?”
“Ek gaan dit verhuur. Mense soek mos alewig blyplek op Stellenbosch en myne is boonop gemeubileer. Solank dit nie studente is nie, want hulle gaan te woes tekere, maar miskien is daar oorsese besoekers wat ’n ruk lank hier wil kom bly. Ek twyfel of ek langer as drie maande daar op Jersey sal werk.”
“Die werk klink regtig wonderlik en ek kan hoor jy is in die wolke. Ons moet dit vier! Ek kom dadelik oor met ’n bottel vonkel. Sien jou nou-nou.”
Mia lui af. Nou gaan sy eers haar ouers en daarna ’n verhuringsagent bel. Sy sal dadelik aan die werk moet spring as sy gereed wil wees om Jersey toe te vertrek. Dit voel sowaar soos ’n droom …
Mia kyk by die vliegtuig se venster uit na die land waarheen hulle daal. Sy sien ’n lappieswerk van lowergroen velde en digte bosse, met hier en daar geboue tussenin, geheel en al omring deur lang wit strande en blou see. Sy is so opgewonde soos ’n kind wat vir die eerste keer ’n seevakansie meemaak. Nie dat sy met vakansie gaan nie. Sy sal seker hard moet werk, maar om net hier te wees, is ’n droom wat bewaarheid word.
Die vliegtuig land by die lughawe van Jersey buite die hoofstad, Saint Helier, en die passasiers klim in ’n vrolike stroom uit. Mia adem vars lug in met die reuk van die see. Die meeste ander passasiers is toeriste, geklee in helder kleure, tekkies of sandale en hulle kwetter soos ’n swerm voëls. Sy voel verslons van die lang vlug. Haar groen hemp en denim is gekreukel en haar hare kort ’n was. Sy smag na ’n stort.
Toe sy uiteindelik met haar tas deur doeane is, kyk sy in die aankomsaal rond of iemand dalk êrens met ’n kennisgewing staan waarop haar naam is. Volgens die laaste e-pos wat sy ontvang het, gaan iemand haar kom haal. Sy sien niks van die aard nie en gaan sit op ’n stoel en wag. Die mense wat saam met haar in die vliegtuig was, is naderhand almal weg. Die lughawe is ’n miernes en vreemdelinge stroom by haar verby. In die e-pos was daar darem ook ’n telefoonnommer om te skakel indien niemand opdaag nie. Sy skakel haar foon aan wat tydens die vlug af moes wees. Daar is geen boodskappe nie. As daar oor tien minute nog niemand opgedaag het nie, sal sy maar die nommer skakel. Sy raak nou regtig ’n bietjie vies. Haar vliegtuig was nie vroeg of laat nie en haar nuwe werknemer het al die besonderhede van die vlug gekry.
Ná nog ’n paar minute verbygetik het, staan sy op en loop op en af. Sy gaan staan voor ’n bord met die woorde: Seyiz les beinv’nus à Jèrri. Welcome in Jersey. Die eerste deel is seker nie in Frans nie, maar Jèrriais, die dialek van Jersey, veronderstel sy.
Sy draai weer om en kyk na die mense. ’n Lang man kom vinnig aangestap. Hy dra ’n donkerblou pak, wit hemp en das. Hoe nader hy kom, hoe meer verstom is sy. Hy is donker van haar, met ’n soel vel, breedgeskouer dog lenig. Sy skat hom in sy dertigs. Mense gee vir hom pad. Sy kan nie help om na hom te staar nie, want sy het sowaar nog nooit so ’n aantreklike man in lewende lywe gesien nie. Dis tog sekerlik nie die mens wat haar moet kom haal nie? Sy kyk rond of sy nie die een of ander beeldskone vrou sien wat hy binnekort gaan omhels nie, maar daar is nie so iemand nie.
Hy kom staan voor haar. Sy kyk verras op in donker oë in ’n hoekige gesig met donker baardskadu onder ’n skoongeskeerde vel. Tussen die swart wenkbroue keep ’n frons. “Miss Mia de Villiers?” vra hy. Hy spreek dit uit op die Franse manier.
“Yes, that’s me.” Sy is skoon verbouereerd.
“Jammer ek is laat, maar ek moes eers ’n vergadering klaarmaak voordat ek jou kon kom haal,” sê hy in Engels. “Ek is Jean de Lisle, jou werknemer, Sarah de Lisle, se seun.”
“O, aa- … aangename kennis.” Van dié seun is sy niks vertel nie, en hy is oorweldigend. Sy wens meteens dat sy nie ná twee vlugte so gehawend gelyk het nie. Sy steek sleg by dié man met sy onberispelike voorkoms af.
Sy steek haar hand uit en hy vat dit ferm in ’n groot, warm hand vas. Hy glimlag en sy vergaap haar aan sy mooi wit tande. “Ek is bly jy kon op kort kennisgewing kom. My ma moet versorg en rondgery word. Ek is te besig om dit te doen, want ek is die eienaar van ’n makelaarsonderneming in Saint Helier.” Sy glimlag verdwyn. “Kom ons gaan,” sê hy saaklik. “Ek is haastig. Ek het nie baie tyd om rond te loop nie.”
Hy begin haar bagasiewaentjie stoot en loop so vinnig dat sy behoorlik moet draf om by te hou. Dat sy hom verontrief, het hy nou duidelik gewys. Sy voel half skuldig, half vies.
Hulle vleg deur die mense en buitekant uit, na die onderdakparkering. Hy praat nie met haar nie, loop net baie vinnig. Hy gaan staan by ’n groot silwer motor wat vir haar na ’n staatsmotor lyk. Sowaar, nogal ’n Bentley. Hy maak die kattebak oop en laai haar groot tas in.
“Ek moes jou met my ma se motor kom haal, want ek het veronderstel jy gaan ’n groot tas hê. Dit sou nie in my motor se kattebak gepas het nie.”
“O, wat ry jy dan?”
“’n Ferrari.” Hy klink asof hy blaf.
Sy kry dit darem reg om haar verbasing weg te steek. Die mense klink selfs ryker as wat sy en René geraai het. Jean lyk nie te vriendelik nie. Sy veronderstel hy sien neer op ’n jong vrou wat so beskeie is dat sy bereid is om ’n versorger te wees. Hy is aantreklik, ryk, seker gesog onder vroue, en dit het hom arrogant gemaak. Haar blik val op sy hande toe hy die bagasiebak toeklap. Hy dra nie ’n ring nie, kom die gedagte onwillekeurig by haar op. Die vroue staan seker tou om hom te vang en hy kan lekker tussen hulle rondspring. Tipies.
“Ons chauffeur het afgetree, nou ry ons self.”
Chauffeur? dink Mia. Nou toe nou.
Hy maak vir haar die voorste passasiersdeur oop en laat haar inklim. Sy verwonder haar aan die hout- en beige leerafwerking. Die motor is werklik luuks binne. Sy het nog nooit in so iets gery nie. Dit ruik selfs lekker.
Hy klim in, skakel die motor aan en ry. Die enjin spin soos ’n kat. Sy kyk diskreet na hom. Vasberade ken, reguit neus, blink swart hare. Sy klere is so netjies, so duidelik duur, dit lyk asof hy in ’n uiters gesofistikeerde sakeomgewing werk. Sy maak inbreuk op sy waardevolle tyd, het hy tog te kenne gegee.
Sy soek in haar gedagtes rond na iets om vir hom te sê. “So, jy besit ’n makelaarsfirma? Jersey is mos een van die voorste finansiële sektore. Ek weet heelwat van jul geskiedenis, onder meer dat dít die manier is waarop julle die ekonomie sedert die Duitsers se besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog reggeruk het.”
Hy kyk vlugtig na haar. “Ja, finansies het Jersey se vernaamste bedryf geword. Baie mense kom hierheen om die belasting in die VK en Europa te ontduik. Ons het nie verkoopsbelasting nie en die grootste banke het takke hier. Mense belê groot geld hier. Daarom noem hulle ons ’n belastingparadys.”
Hulle ry deur dorpsgebiede wat haar aan die Engelse platteland herinner. Hy is glad nie spraaksaam nie. Sy sien oral nuwe motors en dit lyk welvarend. Naderhand is hulle op ’n pad wat tussen bome en groen heinings aan weerskante deur vleg. Hy ry stadig, want oral is daar kennisgewings dat die spoedgrens slegs veertig myl per uur is.
“Hoe ry ’n mens met ’n Ferrari as julle so stadig moet ry?” spot sy. Waarom het hy ’n duur sportmotor? Seker net vir vertoon en om sy beeld te poets.
Hy kyk hovaardig na haar. “Stadig, maar darem gerieflik.”
Na ’n stilte vra hy: “Waarom doen iemand soos jy versorging? Jy is mos gekwalifiseer om onderwys te gee. My ma het jou CV vir my gewys. Ek weet jy is ses-en-twintig jaar oud, ongetroud en het Engels en geskiedenis vir hoërskoolleerders gegee. Maar jy het nie gemeld waarom jy uit jou werk bedank het en nou versorging wil doen nie.”
Sy kon tog nie sê dit is weens ’n liefdesteleurstelling dat sy wou wegkom nie. Sy gaan dit ook nie nou aan hierdie man erken nie. “Ek het moeg geword vir dieselfde roetine en wou oorsee werk. Versorging het vir my na ’n goeie opsie geklink.”
Hy maak ’n geluid deur sy neus wat na “gmf” klink.
Sy vererg haar heimlik. “Versorging is iets wat baie mense deesdae doen,” sê sy kil. “Ek voel nie soos Jane Eyre nie.”
Hy lag. Dit is ’n mooi diep klank, maar sy hou nie daarvan dat dit op haar gemik is nie.
“Weet jy waarvan ek praat?” Haar wange begin vlamvat.
“Jy praat van Charlotte Brontë se boek Jane Eyre waar die goewernante vir die lord gaan werk het. Ek kan sien jy is ’n regte onderwyseres.”
“En dit beteken koekerig en beterweterig?”
Hy grinnik in haar rigting. “Moenie dat ons sommer van die begin af kwaaivriende raak nie. Ek is bly jy kom my ma versorg.”
Mia kyk liewer by die venster uit na Jersey as om met dié arrogante vent te gesels. Hy ontsenu haar nogal, maar sy gaan dit nie vir hom wys nie. Hy is gans te sexy. Natuurlik weet hy dit.
Hulle bereik ’n groot gietysterhek tusen hoë mure met die naam Bellevue daarop. Hy draai in, druk ’n afstandbeheertoestel se knoppie, en die hek skuif oop. Hy ry in en Mia staar met verwondering na die reuse-herehuis. Dit is spierwit, het twee verdiepings en ’n grys leiklipdak en word omring deur groen grasperke, blombeddings vol kleur en hoë bome.
Hy ry tot voor die huis, waar ’n rooi Ferrari geparkeer staan. Hy hou stil en hulle klim uit. ’n Man van in die vyftig, in donker klere wat soos ’n uniform lyk, kom uit.
“Barnes, neem asseblief die versorger se bagasie in,” beveel Jean de Lisle. “En neem haar na my ma.”
Hy draai na Mia. “Ek moet ongelukkig dadelik gaan. Tot siens, mejuffrou De Villiers.”
Hy loop na die sportmotor, klim in en ry met ’n gedreun van die enjin weg. Mia kyk die motor agterna. Sowaar, die man en sy motor is indrukwekkend, maar sy dink nie hy en sy sal veel met mekaar te doen kry nie. Hy beskou haar as ver benede hom. As ’n tipiese wysneus-onnie, onbelangrik en uit ’n verre Afrikaland.
Jean ry fronsend terug na Saint Helier. Hy is heeltemal onkant betrap deur die versorger. Aangenaam én onaangenaam verras. Sy is veel mooier as wat hy verwag het. Hy het gedink so iemand is sterk gebou, vaal en gedienstig. Sy tree mos eintlik as verpleegster ook op.
Hy kon sy oë nie glo toe hy sien dat die meisie wat vir hom staan en wag lank en slank is nie, met hare wat nie rooi of blond is nie, maar iets tussenin. Fyn sproete op haar neus en byna geen grimering nie. Beslis geen onderlaag nie, maar met ’n vleklose vel. En oë so groen soos dié van ’n kat, met lang wimpers. Yskoue, amper vyandige oë. Natuurlik het sy lank gestaan en wag en sy was seker kwaad.
So ’n meisie kan net ’n fortuinsoeker wees. Sy moet tog weet sy is mooi en begeerlik. Die rede waarom sy haar werk verlaat het, klink nie vir hom oortuigend nie. Haar onderwyssalaris was seker power en toe skat sy as sy na ’n plek soos Jersey kom, gaan sy ’n ryk man losslaan.
Elke keer wanneer hy huis toe gaan, sal sy daar wees met haar kritiese katoë. Sy daag hom regtig uit. Hy het reeds lus gekry om haar te tart en te sien hoe daardie oë gaan reageer. Magtig, hy hou hom mos nie gewoonlik met sulke speletjies op nie. Mia de Villiers maak hom eintlik nuuskieriger as wat hy behoort te wees.
Daar is immers ’n beeldskone en briljante vrou in sy lewe wat sy aandag die afgelope paar weke gevange hou. Verlede naweek, toe hy haar die eerste keer vir die naweek na Bellevue geneem het, was pret, sy is die tipe vrou wat weet hoe om die lekker dinge in die lewe met oorgawe te geniet.
Hy is gewoond daaraan dat vroue op hom jag maak. Hy sal hom beslis nie laat vang deur ’n versorger wat voorgee dat sy heel onselfsugtig bejaardes wil help terwyl sy kyk wat sy in ’n omgewing vol welvaart kan losslaan nie.
Sodra sy ma se been en arm herstel het, moet daardie klein fortuinsoeker onmiddellik weer huis toe gaan.