Читать книгу Van sorg na liefde - Malene Breytenbach - Страница 5

3

Оглавление

Mia loop deur die huis en bekyk alles. Sy kom by ’n groot binnehof waar die binnenshuise swembad is. In die hoeke is tropiese plante in potte. Sy gaan beslis hier kom swem. Sy loop in ’n gangetjie af en sien deur ’n oop deur dat daar ’n goed ingerigte gim is, met apparate wat al die spiere kan oefen. Hm, hoe sal Jean de Lisle lyk as hy met bultende spiere dié apparate gebruik?

Moenie dat jou verbeelding met jou weghol nie, berispe sy haarself.

Sy sien ’n deur wat blykbaar na buite gaan en loop daardeur, uit in ’n tuin. ’n Man staan op ’n leer en snoei ’n heining. Langs hom hark ’n jong man die afgeknipte stukke bymekaar.

“Hallo,” roep Mia.

Hulle kyk om. Die man wat snoei, klim van die leer af en die jong man kom regop.

“Ek is Mia de Villiers, mevrou De Lisle se versorger,” stel sy haar voor.

Die ouer man is diep bruingebrand en dra ’n oorpak. “Dagsê, ek is Albert, en my assistent is Billy.”

Billy lyk vir Mia niks ouer as sestien nie. “Ek bewonder net die tuin. Julle hou dit baie mooi.”

“Jy moet ook gaan kyk na ons groente- en kruietuin, dis agter die huis,” sê Albert. “En daar is mooi goed in die kweekhuis.”

“Dankie, ek sal graag na alles gaan kyk.”

Sy wuif en loop aan, by ’n bultjie op. Bo gaan staan sy en trek haar asem in. Anderkant ’n lappie bome en ’n stuk wit strand lê die see blouselblou. Sy kan dit van hier af ruik en het nie gedink dit is so naby nie. Sy kyk op haar horlosie. Daar is nog ’n uur voordat sy na mevrou De Lisle moet gaan. Sy loop met die afdraand af na die strand. Op die see is bote wat na vissersbote lyk. Daar is ook seiljagte. Sy het sowaar na ’n paradys gekom. Hopelik een sonder ’n slang!

Op die strand trek Mia haar skoene uit en loop ’n entjie op die wit sand. Dit is heerlik. Die son skyn op haar neer, maar dit is nie te warm nie. Naderhand draai sy om en loop terug na die bultjie en die huis. Sy vee die sand van haar voete af toe sy op groen gras kom en trek weer haar skoene aan. As sy tyd kry, sal sy in die see gaan swem, besluit sy.

Mia help haar nuwe werkgewer van die bed af en weer in die rolstoel.

“Ek lê altyd my hare plat,” sê Sarah de Lisle. “Kan jy dit asseblief weer vir my kam? Is jy goed met hare?”

“Goed genoeg.”

Voor die spieëltafel gaan die rolstoel staan. Mia maak die ouer vrou se hare los, vat die haarborsel wat daar lê en borsel deur haar hare. Daarna maak sy dit weer vas in die Franse rol soos dit voorheen was. Sarah draai haar kop heen en weer.

“Dis goed so,” sê sy tevrede. “Kom ons gaan af na die groot stoep. Ek drink elke aand skemerdrankies soos toe my man nog gelewe het. Daarna gaan eet ons in die klein eetkamer wat net vir die familie bedoel is. Ek is bly jy is hier. Nou hoef ek nie alleen te drink nie.”

Hoeveel drink die vrou en hoeveel verwag sy moet haar versorger drink, wonder Mia ongemaklik.

Sarah gaan met die hyser na onder en Mia druk langs haar in. Hulle beweeg saam deur die huis na ’n terras langs die ingang. Die uitsig met die see in die verte en die skadu’s wat begin lank raak, is pragtig.

Hulle gaan na ’n tafel en het skaars gesit, toe kom Barnes uit met ’n trollie vol drank, glase, ys en bakkies neute. Daar is selfs ’n bottel Franse sjampanje in ’n ysemmer.

“Maak asseblief vir ons die Bollinger oop, Barnes,” sê Sarah. “Ek het vanaand lus om dit te vier dat ek ’n geselskapdame gekry het.”

Hy maak die bottel behendig oop en skink in twee fluitvormige langsteelglase – een vir Sarah en een vir Mia.

“Santé,” sê Sarah toe sy hare aanvat. “Hoe sê julle dit in jou land?”

“Gesondheid. Op mevrou en Jersey en beterskap.” Mia wonder of Sarah de Lisle dit geniet om ’n “eksotiese” versorger te hê.

“Absoluut.” Sarah teug met ’n glimlag en kyk in die verte, na die see.

Mia lig haar glas na haar lippe en die sjampanje gly heerlik koud en borrelend in haar keel af. Om te dink dat sy by ’n plek is waar sy sjampanje saam met haar werkgewer moet geniet! Sy hoor ’n motor se gedreun en wonder met ’n wip van haar hart of dit Jean de Lisle is wat dalk kom kuier.

“Nou toe nou. My seun is hier. Ek sal die geluid van daardie Ferrari enige plek en tyd herken. Snaaks dat hy vanaand kom. Ek verwag hom eers môre, wanneer die naweek aanbreek.”

Mia sit stokstyf van spanning en hoor skaars wat haar werkgewer praat. Jean de Lisle kom by die deur op die terras uit. Hy dra steeds sy elegante pak, maar het sy das afgehaal en sy hemp is oop by die nek.

“Dis ’n verrassing, my lief,” sê sy ma. “Jy kan ook ’n glasie sjampanje saam met ons geniet.”

Mia kan hom skaars direk aankyk, so oorweldigend is hy. Dit voel asof haar hart nie normaal wil klop nie.

Hy buk oor sy ma en soen haar. “Ek het ’n besige dag gehad, maar toe het ek sommer lus om bietjie vir Ma te kom kuier.” Hy skink vir hom sjampanje, gaan sit met ’n sug op ’n stoel, strek sy lang bene uit en teug aan die sjampanje. “A, nou kan ek vir die eerste keer regtig ontspan.”

Hy begin sy ma vertel van nuwe kliënte wat hy gekry het, maar Mia is bewus dat sy blik kort-kort na haar draai. Naderhand vra hy: “En toe? Is jy al tuis, mejuffrou De Villiers?”

“Ja, dankie.” Kastig komkommerkoel sluk sy haar sjampanje. Hy is besig om haar deur te kyk en op te som – en dit maak haar ongemaklik. Wat dink hy as hy so uit die hoogte met haar praat? Dit maak haar wrewelig as iemand so duidelik wys dat sy vir hom minderwaardig is. In haar lewe het so iets nog nooit gebeur nie.

“Ek wonder tog waarom ’n vrou soos jy ’n versorger wil wees,” sê hy.

Sy word stokstyf. Hy laat dit regtig na ’n baie lae posisie klink. Gaan sy ma hom nou vertel dat sy ’n liefdesteleurstelling gehad het en daarom uit Suid-Afrika wou wegvlug?

“Moenie so nuuskierig wees nie, Jean. Sy het seker haar redes,” sê sy ma egter. “Ek is bly dat mejuffrou De Villiers die vakke geskiedenis en Engels op skool gegee het.” Sy draai na Mia. “Jy sal dit darem seker geniet om vir my boeke voor te lees? En nou kan ek vir jou die historiese plekke van Jersey wys. Sal jy dit graag wil sien, mejuffrou De Villiers?”

“Baie graag, dankie.” Dit kan sowaar net lekker wees. Sy word amper soos ’n toeris behandel.

“Kan jy goed bestuur?” vra hy. “Dit was een van ons voorwaardes.”

“Ja, ek kan goed bestuur. Ek bestuur al jare lank. Ek het my motor verkoop net voordat ek gekom het, maar sodra ek terug is in Suid-Afrika, koop ek vir my ’n nuwe een.”

“Met die baie geld wat jy hier maak? Die wisselkoers is mos teen julle, daar in ’n ontwikkelende land met ’n swak ekonomie. Om ponde te verdien sal jou omtrent ryk maak as jy dit omsit in jul powere geldeenheid.”

“Dis een van die redes waarom mense soos ek oorsee gaan werk.” Sy probeer die bitsigheid uit haar stem hou, maar kry dit nie heeltemal reg nie.

“Jean vra of jy goed kan bestuur, want jy sal die Bentley moet bestuur,” sê Sarah.

Mia skrik. Daardie yslike motor? Sy kan nie nou sê sy sien nie kans daarvoor nie.

“Ek het al gesê Ma moet daardie motor verkoop en iets meer prakties kry.”

“Ek verkoop nie jou pa se motor nie. Ek gaan nog lank daarmee ry.”

“’n Ferrari is ook nie wat ek ’n praktiese motor sou noem nie,” laat Mia in ’n onbewaakte oomblik val. Liewe hemel, dit is die sjampanje wat nou praat.

Hy kyk spottend na haar. “Nee, maar ek hoef nie ’n praktiese motor te ry nie.”

Nee, vir jou gaan dit oor vertoon, dink sy. En wat is nou meer vertonerig as ’n peperduur rooi sportmotor? En dit op Jersey waar jy nie vinnig mag ry nie.

Tot haar verligting kom die groot kat met ’n miaau by die stoep opgestap.

“Haai, ou Sylvester, kom hier,” sê Jean. Hy steek sy hand na die pragdier uit en die kat kom nader sodat hy gestreel kan word. “Jy leef darem lekker. Kyk hoe vet is jy.” Hy streel sag oor die kat se pels.

Mia is verbaas. Jean lyk nie na iemand wat vir katte lief sal wees nie. Die egalige hale wat sy vingers oor die kat se rug vee, betower haar. Dis die mooiste hande wat sy nog aan ’n man gesien het.

“Hy het op my bed kom lê,” sê sy.

Jean en sy ma kyk na mekaar. “Hy sal seker na jou kamer gaan, want hy het dit altyd gedoen,” sê Jean. “As jy nie van katte hou nie, kan jy hom wegjaag.”

“Ek is lief vir katte. Ek sal hom nooit wegjaag nie.”

Sy sien Sarah de Lisle se oë blink asof daar ongestorte trane opdam. “Hy het altyd daar gaan lê toe Bienne nog gelewe het.”

Mia glimlag vir haar. “Ag, hy kan seker aanvoel dat ek van katte hou. Katte het mos ’n ekstra sintuig.”

Jean staan op en skink vir hulle almal nog sjampanje. “Is jy gewoond aan drank?”

Wat ’n vreemde ding om te vra! Probeer hy haar nou uitvang? As sy ja sê, kan dit mos klink asof sy te veel drink. “Wel, ek kom van ’n streek waar wyn gemaak word,” sê sy dan maar.

Hy gaan sit weer. “Dis goed, want dan sal jy weet hoe om dit te hanteer. Ek wil nie hê my ma se versorger moet aangeklam raak nie.”

“Ek sal nie aangeklam raak nie,” protesteer sy.

“Ag, Jean, moenie die arme kind terg nie,” sê sy ma. “Dalk skrik jy haar af en dan wil sy weggaan.”

Mia kyk nie na hom nie, glimlag net vir sy ma. “Ek skrik nie sommer nie, mevrou. In elk geval nie vir koue pampoen nie.”

Sarah lag. “Jean, dalk is sy opgewasse vir jou. Jy is te gewoond dat almal gedienstig is en jou nie die harnas in wil jaag nie.”

Hy gryns. “Ons sal sien.” Hy verander die onderwerp en praat met sy ma oor mense wat Mia nie ken nie.

Jy gaan my nie intimideer nie, meneertjie, dink Mia. Dalk is hy nog al die jare bederf en duld geen teenstand nie. Hy hou seker van sy vroue onderdanig, gedienstig en aanbiddend. Hy is die alfaman en vroue is ondergeskik aan hom. Hy sou seker ’n harem aanhou as hy kon.

Barnes kom kondig aan dat die aandete gereed is en hulle gaan in. Die sogenaamde klein eetkamertjie is kleiner as die grote, maar die tafel het sitplek vir ses mense en dit is pragtig ingerig met keurige houtmeubels, ’n buffet en skilderye van seetonele aan die mure. Die tafel is vir drie gedek en die eetgerei en borde is van die mooiste wat Mia nog gesien het. Sowaar, hier word alles in styl gedoen, dink sy.

Jean sit aan die hoof van die tafel en die twee vroue weerskante van hom. Barnes skink eers vir hulle wyn en toe bedien hy en Pierre hulle met consommé en broodjies. Mia kyk hoe netjies Jean sy broodjie breek en hoe hy sy sop skep en eet sonder om te slurp. Sy tafelmaniere is onberispelik. Sy drink stadig aan die wyn, want sy het twee glase sjampanje in en sy moet hom nie die idee gee dat dit na haar kop toe gaan nie – veral nie ná sy vorige opmerking nie.

Hy kyk na haar toe sy sop klaar is. “Waar in Suid-Afrika het jy grootgeword, mejuffrou De Villiers?”

“Op ’n dorp met die naam Stellenbosch. Ek is daar skool en universiteit toe. Daarna het ek skoolgehou by een van die hoërskole.”

“Wat doen jou ouers?”

Dit klink soos ’n ondervraging, maar sy kyk direk en vreesloos terug in die kritiese donker oë. “My pa gee steeds klas by die universiteit en my ma het ook tot onlangs onderwys gegee.”

“Het jy broers en susters?” vra Sarah.

“Ek het ’n suster wat vier jaar ouer as ek is. Sy en haar gesin het na Australië geëmigreer.”

“Daar is ’n geweldige gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika, nie waar nie?” sê Jean. “En baie mense emigreer. Daar is heelparty Suid-Afrikaners wat geld in Jersey kom belê.”

“Ja, daar is ’n groot gaping, maar ons het darem ook ’n stewige middelklas, nie net brandarmes en skatrykes nie,” sê Mia skerp.

Hy kyk haar met skrefiesoë aan. Gelukkig kom Barnes en Pierre in met geurige visdisse. Dit lyk vir Mia soos die produk van ’n voorste restourant. “Dit lyk my jul sjef verdien sy goeie naam,” sê sy.

Sarah glimlag ingenome. “Beslis. Jy sal nog beïndruk word.”

“Dis waarom ek hier kom eet,” spot Jean. “My huishoudster kan nie kos maak op Etienne se vlak nie.”

Bedorwe, dink Mia. Kan nie self kos maak nie. Alles word vir hom gedoen. Sy weet nie of dit maklik sal wees om van hom te hou nie, al styg haar bloeddruk ’n graad of twee elke keer dat sy na sy aantreklike gesig kyk. Hy het die vreemdste effek op haar, asof hy haar toor. Sy voel asof haar balans effens versteur word sodra hy naby is en sy hou nie van die gevoel nie.

Vervolgens kry hulle biefstuk, groente en aartappels wat soos ’n kunswerk op elke bord lyk. Gaan hulle sowaar elke dag so eet?

“Hierdie aartappels is die lekkerste wat ek nog geëet het,” sê sy.

“Dis die Jersey royals,” sê Sarah. “Nêrens gaan jy lekkerder aartappels kry nie.”

Daar is sowaar nog nagereg ook. Klein dog elegante porsies van ’n soet poeding wat versier is met ’n rooi jus en kruisementblaartjies.

“Sal ons koffie in die sitkamer gaan drink?” vra Sarah.

Die sitkamer is ook ’n pragtig gemeubileerde vertrek. Hulle kry sterk koffie in klein koppietjies. Mia dink aan die uitdrukking “in the lap of luxury”. Dis waar sy nou is. Ongelooflik.

Jean drink sy koffie en kondig aan dat hy moet gaan. “Ek sien Ma weer môre. Ek kom vir die naweek.”

Hy staan op en soen haar op die wang wat sy vir hom aanbied. Dan kyk hy na Mia. “Tot siens, mejuffrou De Villiers.”

“Tot siens, meneer De Lisle,” sê sy so kil soos sy kan.

Nadat hy weg is, vergesel sy Sarah de Lisle na haar kamer. Daar help sy haar uittrek en stort. Dit is ’n vreemde ervaring om ’n ander vrou te ontklee en haar met intieme dinge te help, maar Sarah is darem nie moeilik nie en altyd dankbaar. Mia dink sy moet net afskakel en alles onwillekeurig doen, sy sal seker nog gewoond raak aan alles.

“Maak asseblief daardie deur oop,” sê Sarah.

Dit is ’n yslike inloopkas wat rye rokke, jasse, baadjies, rye skoene, laaie met onderklere en nagklere, hoede en laaie met serpe bevat.

Sy beduie waar Mia nagklere moet uithaal. “Die pienke met die beige kant, asseblief.”

Mia vind dit, trek vir Sarah aan en help haar om in die bed te kom.

“Thank you for tucking me in,” sê Sarah. “Jy het dit nog nooit voorheen moes doen nie, nè?”

Mia is verbaas oor haar sensitiwiteit. “Nee, maar ek sal gou gewoond raak.”

“Ek hoop dis nie vir jou te erg nie?”

“Glad nie.” Dit kon veel erger gewees het.

“Dankie, jy moet lekker slaap. Sal jy asseblief sewe-uur in die oggend na my toe kom? Dan help jy om my vir die dag reg te kry. Daarna gaan eet ons ontbyt. Ek hou van ’n vaste roetine. Dis hoe ek grootgeword het en hoe ons huis altyd was toe my man nog hier was.”

“Doodreg, mevrou. Sewe-uur sal ek hier wees.”

Toe sy terugloop na haar kamer wonder Mia of sy van Jean de Lisle met sy mooi dog hovaardige oë gaan droom. Nadat hy uit die vertrek geloop het, het dit gevoel asof die suurstof uitgesuig is. Daar was amper ’n lugleegte. Sy dinamiek vul ’n vertrek.

Dis net jammer dat hy haar ooglopend wantrou. Hy het haar vanaand byna onder kruisverhoor geneem en nogal aanstoot gegee.

Jean kyk na die ligbane wat sy motor voor in die pad gooi. Hy was so nuuskierig oor die versorger dat hy wragtig huis toe gegaan het. Sy ma het hom nie verwag nie en hy kon sien sy was verbaas. Hopelik kon sy nie aflei dat dit die versorger is wat hom gelok het nie.

Mia de Villiers se gedrag teenoor hom het net weer bevestig dat sy uitdagend en parmantig is. Sy klink darem intelligent ook. Wakker oë. Onopgesmuk. ’n Natuurlike skoonheid. Veral as daardie kwaai blos op haar wange uitslaan … Hy grinnik.

Regina is baie anders. Van haar pragtig gestileerde blonde hare tot by haar stiletto’s, lyk sy altyd uiters gesofistikeerd. Sy bloos beslis nie maklik nie.

Waarom vergelyk hy die vroue enigsins? Hy stel tog nie in die versorger belang nie. Sy moet net goed wees vir sy ma, wat baie broos is na haar dubbele verlies en ongeluk. Daarom het hy Mia de Villiers vanaand behoorlik uitgevra. Sy klink darem bevoeg, moet hy toegee …

Maar indien sy nie haar kant bring en sy ma na behore versorg nie, is daar moeilikheid.

Van sorg na liefde

Подняться наверх