Читать книгу Van sorg na liefde - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

“Mister Barnes, I’m Mia de Villiers. Pleased to meet you.” Sy steek haar hand na hom uit. Hy kyk eers verbaas daarna, maar neem dit tog.

“Just call me Barnes, Miss,” sê hy. “Ek is die butler. Welkom by Bellevue.”

Sy glimlag vir hom, want hy is so amusant ernstig en waardig. Laat haar dink aan die butler Carson in die televisiereeks Downton Abbey. “Verskoon my, maar waar ek vandaan kom, het ons nie butlers nie.”

Hy glimlag net effentjies. “Volg my, asseblief.”

Hy lei haar in en sy vergaap haar aan die pragtige, luukse huis, die mooi meubels, Oosterse matte op blink teëlvloere, egte skilderye aan die mure. Sy volg hom by ’n trap op. Langs die trap is ’n hyser.

“Dit is vir mevrou De Lisle,” verduidelik hy. “Ná die ongeluk, toe haar een been gebreek is, is dit geïnstalleer.”

Goeiste! Dit is nou wel gerieflik en prakties, maar wie installeer ’n hyser as iemand maar net ’n been gebreek het? dink Mia oorbluf.

By die volgende verdieping is ’n lang gang wat Mia veronderstel na die slaapkamers moet lei, maar die stel trappe gaan nog verder boontoe. Hy lei haar daar op. Daar is slegs twee deure en hy maak een oop. Sy wonder of dit ’n solderkamer vir huispersoneel is, soos in die Britse herehuise. Toe sy ingaan, sien sy egter dat dit ook luuks is, mooi gemeubileer in wit en blou. Daar is pragtige beddegoed op die groot bed, ’n yslike ingeboude hangkas en spieëltafel, ’n tafel en stoele en ’n koffietafel met twee gemakstoele in donkerblou gestoffeer. Daar is selfs ’n televisiestel.

“Dis ’n pragtige kamer,” sê sy waarderend.

“Dit was eentyd mejuffrou Bienne se kamer.”

“Wie is mejuffrou Bienne?”

“Sy was die De Lisle’s se dogter, meneer Jean se jonger suster,” verduidelik hy. “Maar sy is twee jaar gelede oorlede.”

“Dis tragies. Hoe is sy dood?”

“Sy het verdrink, in die see.”

“Foeitog. Dis aaklig.”

Sy kyk by die venster uit. Onder blink ’n swembad soos ’n spieël waarin die hemel weerkaats word. Dit is so groot soos een by ’n hotel en net so skoon. Lêstoele en twee sambrele staan op die kant. Sy wonder of sy die een of ander tyd daarin kan gaan swem.

“Kom ek neem jou na mevrou toe,” sê hy saaklik.

Sy volg hom af na die verdieping met die lang gang. Hulle loop op ’n blou mat wat so dik is dat hul voetstappe gedemp word. Hy gaan klop aan ’n deur. Mia hoor ’n stem en hy maak die deur oop, laat haar eerste binnegaan.

Voor haar sit ’n vrou in ’n rolstoel met een been in gips voor haar uitgestrek en een voorarm in gips wat op die armleuning rus. Sy is klein en slank, met witgrys hare wat deftig opgekam is. In haar fynbesnede gesig is haar oë blou en aan haar een hand skitter diamantringe. Die vrou lyk regtig koninklik. Mia is effens oorbluf, maar steek dit weg toe sy nader beweeg. Die blou oë som haar op van haar hare tot by haar tekkies. Sy wens sy kon eers gestort en iets anders aangetrek het voordat sy by die vrou moes aanmeld.

“Thank you, Barnes. Please ask Annie to send up tea. Miss De Villiers is probably thirsty after her long journey.” Die blou oë draai na Mia. “Kom nader, mejuffrou De Villiers,” gaan sy voort in Engels. “Ek is Sarah de Lisle. Ek is bly jy is nou hier, want ek het jou nodig.”

Sy klink nie hovaardig soos haar seun nie, maar verbasend vriendelik.

“Ek is beïndruk met jul opset, mevrou,” glimlag Mia. “Ek was regtig verras om te sien hoe mooi dit hier op Jersey is.”

“Ja, ons is baie bevoorreg. Kom sit.” Sy beduie met een delikate wit hand na ’n gemakstoel en draai haar rolstoel sodat sy oorkant Mia by die koffietafel sit.

Mia sien dat dit ’n elektriese stoel is waarop knoppies gedruk word sodat dit beweeg sonder dat ’n mens dit hoef te stoot.

“Ek hoop jou reis het goed afgeloop?”

“Ja, dankie.” Mia sê niks oor die feit dat Jean laat was om haar by die lughawe te gaan haal nie.

“Ek is bly. Kom ek vertel jou hoe ons huishouding werk,” sê Sarah de Lisle. “Ons het die gesin Barnes wat vir ons werk. Geoffrey Barnes is ons butler. Sy vrou, Annie, is ons huishoudster. Hul dogter, Rosy, is die algemene diensmeisie en hul seun, Billy, is die ondertuinier. Hy werk onder die hooftuinier, Albert Boyes. Ons Franse sjef is Etienne Delmain. Ons is baie bevoorreg om hom te hê. Hy het in die beste Paryse restourante gewerk. Sy sous-sjef, die ondersjef, is Pierre Simone. Ons het ’n chauffeur ook gehad wat saam met my man grootgeword het, maar my man is oorlede en die chauffeur het daarna afgetree en hy is Engeland toe.”

Mia kyk haar grootoog aan. Dit klink na ’n hele skare personeel.

“Jy lyk verbaas. Wonder jy waarom so baie mense vir een vrou werk? En waarom ek jóú, nóg ’n personeellid, nodig het? Laat ek verduidelik. My man se mense is al eeue lank hier in Jersey. Hulle kom oorspronklik van Normandië af. Hulle het baie grond op dié eiland besit en baie mense het vir hulle gewerk. Die Barnese is al by ons sedert ek en my man getroud is. Na my man se dood het ons die meeste van ons grond verkoop en net sewe hektaar uitgehou, maar die huis is groot en al is ek die enigste een van my familie wat nou nog hier woon, het ek baie personeel nodig om dit te onderhou. Hier is vyf slaapkamers met en suite-badkamers en die onthaalgedeelte is groot genoeg dat my seun sy sakefunksies hier kom hou. Ons personeellede is regtig elkeen baie besig en een van hulle kan nie heeltyd aandag aan my gee terwyl my arm en been in gips is nie. My seun, Jean, het daarop aangedring dat ek voltydse sorg ontvang en daarom is jy hier.”

Mia betrap haarself dat sy haar ore spits toe Jean genoem word. Dan is dit eintlik aan hom te danke dat sy in Jersey is, hoewel Sarah de Lisle die keuse van versorger gemaak het.

“Hy het wel ’n luukse dakwoonstel in Saint Helier wat oor die hawe uitkyk waar sy boot vasgemeer is, maar hy bly dikwels hier by Bellevue,” gaan Sarah de Lisle voort. “My dogter het ook hier gewoon totdat sy … tot sy dood is.”

Sy kug en Mia kry haar jammer. Die seer van haar groot verlies is nog rou in dié mooi vrou. Voordat Mia haar simpatie kan uitspreek, is daar ’n klop aan die deur.

“Binne,” roep Sarah de Lisle en ’n meisie geklee in ’n wit uniform kom by die deur in. Sy dra ’n skinkbord met teegoed.

“Dankie, Rosy,” sê Sarah de Lisle. “Sit die skinkbord hier vir ons op die tafel neer. Mejuffrou De Villiers, dit is Rosy Barnes. Rosy, dít is my nuwe versorger, Mia de Villiers.”

“Pleased to meet you, Miss,” glimlag Rosy vriendelik en sit die skinkbord neer. Sy is ’n fris jong meisie in haar laat tienerjare en lyk sterk.

Mia glimlag vir haar. “Dis lekker om jou te ontmoet, Rosy.”

Nadat sy uit is, vra Sarah de Lisle dat Mia die tee skink. Die teepot is egte silwer, kan sy sien. Die porselein lyk duur. Die suiker is vierkantige klontjies wat met ’n tangetjie van egte silwer opgetel moet word. Daar is fyn toebroodjies, tertjies en ragfyn servette by klein bordjies.

“Skink asseblief vir my eers ’n skeutjie melk, dan tee, geen suiker nie, dankie.”

Mia skink vir haar en gee die koppie aan. Met haar gesonde hand neem Sarah dit en teug liggies.

“Kan ek vir mevrou van die eetgoed gee?” vra Mia.

“Dankie. Sit net eers vir my die tee neer, asseblief.”

Mia bied van die broodjies aan. Sarah neem ’n broodjie en hap fyntjies. “Dit is so moeilik om met een hand oor die weg te kom. Ek voel soms so hulpeloos.”

Mia hou die bord met tertjies na haar toe uit en sy neem een. “Dankie, jy moet darem ook eet en drink. Kry vir jou van dié. Dis heerlik.”

Die tertjie smelt in Mia se mond toe sy dit eet. “Dis baie lekker,” sê sy.

“Sjef Etienne Delmain is voortreflik met alles. Mense probeer hom kort-kort afrokkel, maar ons betaal hom te goed en hy hoef hom nie dood te werk nie. Jy moet net sien wat hy kan regkry as ons mense onthaal. Oor ’n week verjaar my seun, dan onthaal hy vriende en sakekennisse hier. Etienne sal almal weer van voor af beïndruk, dan kry hy aanbiedinge. Gelukkig weet ons dat hy dit sal weier.”

“Hoe oud word jou seun, mevrou?” glip dit uit voordat Mia die woorde kan keer.

Die ligblou oë kyk waaksaam na haar. “Ses-en-dertig, en hy het nog nie vir ons kleinkinders gegee nie, maar sy lewe is nie so ongekompliseerd soos my en sy pa s’n was nie.”

Mia voel effens ongemaklik. Sy het nie gedink sy ma sal hom in soveel besonderhede bespreek nie. Tog is dit interessant.

“Ek het hom gehad toe ek vyf-en-twintig was en die volgende jaar is ons dogter, Bienne, gebore. Jean was al vantevore getroud, maar hy is geskei voordat hulle kinders gehad het en sy vrou is terug Parys toe. Hulle het mekaar by die Sorbonne ontmoet. Hy het in Engeland en Parys gestudeer en hom as ouditeur bekwaam, maar deesdae doen hy beleggings en finansiële raadgewing. Hy het ’n groot maatskappy gestig.”

Sy huwelik het misluk en nou is hy seker ’n ryk pierewaaier met verskeie vroumense op sleeptou, dink Mia terwyl sy haar tee drink. Dan keer sy haar gedagtes. Sy veroordeel nou die man sonder dat sy hom werklik ken – iets wat sy nie gewoonlik doen nie. Hy is darem ’n suksesvolle sakeman ook.

“Ons werknemers bly in kothuise naby die groot huis,” sê Sarah. “Maar ek het gedink jy moet so naby moontlik aan my wees, want jy gaan heeltyd byderhand moet wees.”

“My kamer is lieflik, dankie.”

Sy knik en lyk broos. Sy wys Mia ’n toestel met ’n paar knoppies. “Met die rooie roep ek jou. Dit sal in jou kamer lui. Met die bloue roep ek die kombuispersoneel. Dis baie nuttig. My seun het dit vir my laat installeer ná my ongeluk.”

Terwyl Mia die geurige tee drink en die heerlike eetgoed verslind, hou sy die vrou dop. Verfynd is sy beslis. Sy lyk eintlik lig en breekbaar. Haar stem is goed gemoduleer en haar handbewegings is grasieus. Mia veronderstel dat sy ’n treffende skoonheid in haar jeug was. Dis geen wonder sy het so ’n uitsonderlike seun nie.

“Het mevrou op Jersey grootgeword?” vra sy.

“O, nee. Ek was ’n Cavendish en het in Engeland grootgeword. Ek het my man ontmoet toe hy Oxford toe gekom en ’n vriend hom na ’n naweek se huispartytjie by ons landgoed genooi het. Ons het dadelik op mekaar verlief geraak en is binne ’n jaar getroud. Sy pa was op daardie tydstip die balju van Jersey. Weet jy wat dit is?”

“Iets soos ’n eerste minister?”

“Ja. Wel, sy familie was vir myne aanvaarbaar, toe kon ons trou. Ek was nooit ’n dag spyt nie. Ek mis hom soveel. Hy het in Frankryk verongeluk toe hy daar op ’n sakebesoek was. Ai, die mans tog. Hou van vinnige motors. Gelukkig mag hulle hier op Jersey nie vinniger as veertig myl per uur ry nie, anders wil ek nie dink hoe Jean met sy Ferrari sou gejaag het nie.”

Sy lyk weer hartseer en Mia kry haar jammer.

“Jy is veel mooier as wat ek verwag het,” sê Sarah. “Waarom is jy nog nie getroud nie?”

Dit betrap Mia nogal onkant en sy is verleë. “Daar was iemand, maar ons paaie het geskei. Ons was nie getroud nie, maar verloof.”

Sarah kantel haar kop. “’n Liefdesteleurstelling?”

“Ja.”

“Is dit waarom jy wou wegkom van jou huis af?”

Mia is verbaas oor haar insig. Dit help seker nie sy probeer dit nou wegsteek nie. “Ja.”

“Ons dogter het ook ’n liefdesteleurstelling gehad. Dit was baie pynlik, vir haar en vir ons.” Sy sug en kyk weg. “Ja, baie pynlik. Hy was welgesteld en ons het gedink hy pas by haar, maar hy was die soort man wat nie getrou kon wees nie.”

Mia het nie geweet wat om te verwag nie, maar haar werkgewer maak nogal deernis in haar wakker. Duidelik het sy ook al heelwat verlies en pyn geken, al lyk sy so bevoorreg.

“Hoe is mevrou beseer?”

“Ek het vir my familie in Engeland gaan kuier en self die motor bestuur. Ek was nie meer gewoond om self te bestuur nie, toe maak ek ’n ongeluk.”

“Dis ’n nare ding om oor te kom.”

“Ja, dit is. Veral na my man se dood is ek so bang vir ongelukke. Toe maak ek sowaar self een. Maar ek praat nou te veel. Ek dink jy wil gaan uitpak en jouself verfris. Ons het ’n binnenshuise verhitte swembad waarin ek graag swem, maar ek sal moet wag dat die gips van my been en arm afkom voordat ek dit weer sal kan doen. Jy is welkom om enige tyd te swem, as jy wil.”

“Dankie, dit klink lekker.”

“En jy wil seker die personeel ontmoet. Doen dit gerus. Jy kan net afgaan na die kombuis en jou voorstel. Mettertyd sal jy hulle wel almal leer ken.” Sy kyk na ’n horlosie teen die muur. “Dis nou drie-uur. Gewoonlik slaap ek van twee-uur tot vier- of vyfuur in die middae, maar vandag het ek vir jou gewag. Help my asseblief net om op die bed te kom, dan kan jy gaan. Kom asseblief weer vyfuur na my toe.”

Sy druk die blou knoppie op die toestel. “Rosy kan die teegoed kom haal.”

Sarah bestuur haar rolstoel na die bed. Mia help haar uit en op die bed. Sy is maer en lig. Dankie tog, dink Mia. Sy sou gesukkel het om ’n swaar persoon op te tel, want sy is self skraal en nie gewoond om iemand fisiek te help nie.

“Dankie, mejuffrou De Villiers. Ek gaan nou ’n bietjie dut. Gaan maak jou tuis en leer die plek en mense ken.”

Mia loop uit met ’n goeie gevoel. Sy dink sy sal goed met dié aristokratiese vrou klaarkom.

Maar sy is nie so seker of sy so ’n goeie verhouding met die manjifieke seun sal hê nie. Nie met iemand wat na haar kyk asof sy iets is wat die kat ingedra het nie.

Toe sy by haar kamer kom, is die deur oop. Haar tas staan teen ’n muur en sy sien alles is uitgepak, in die klerekas opgehang en in die laaie opgevou. Wie het dit gedoen? Rosy? Dit voel soos ’n inbreuk op haar privaatheid, maar hulle doen dit seker so hier. Sy wonder of Jean de Lisle ’n valet het, soos die lord in Downton Abbey. Sy gaan kyk na die badkamer, wat luuks is, met ’n bad, stort, groot dubbelwasbak, ’n kas en die mooiste dik blou handdoeke en badmat. Die weelde verstom haar; sy is tog net die versorger. Maar aan die ander kant was dit mos die oorlede dogter se kamer.

Nogal creepy, maar tog waardeer sy dit.

’n Geluid van die bed af laat haar soontoe kyk en sy skrik. Daar lê die pragtigste – en grootste – gemmer-en-wit kat wat sy nog ooit gesien het.

“Hallo, wat doen jy hier?” vra sy hom. “Kom jy jou sommer tuis maak op die bed?”

Sy loop nader en streel oor sy sagte pels. Hy spin en kyk na haar met groot groen oë. “Ek is bly jy het kom kuier.” Sy is regtig dol oor katte. As Reghardt nie so allergies was vir hulle nie, het sy lankal een gekry. Nou is hy uit haar lewe uit, sy is in ’n ander land en kan haar na hartelus oor dié kat ontferm.

Sy stort en was haar hare. Dan trek sy ’n skoon wit bloes en denim aan en voel sommer heelwat beter. Gelukkig het sy gedurende die vlug geslaap. Die kat spring van die bed af en volg haar toe sy uitgaan, maar toe sy onder kom, loop hy stert omhoog by die deur uit na buite. Sy loop deur die groot vertrekke en vergaap haar van voor af aan alles. By die eetkamer se lang tafel kan minstens twaalf mense sit. Sy loop na waar sy stemme hoor en bereik die kombuis. Daar is ’n tafel waar vyf mense sit en tee drink. Hulle kyk op toe sy inkom. Sy herken die butler en Rosy, maar daar is ook ’n middeljarige vrou geklee in ’n donkerblou uniform en twee mans in wit uniforms.

“Hallo, ek is Mia de Villiers, mevrou De Lisle se versorger,” stel sy haar voor.

Die ouer man in wit, met swart hare en snor, staan eerste op. “Hallo, ek is Etienne Delmain, die sjef.” Hy beduie na die jonger man wat ook donker is maar skoongeskeer. “Dis my sous-sjef, Pierre Simone. Ons het ’n sterk vrou met gespierde arms verwag en kyk hoe lyk jy, soos ’n model.”

Hy grinnik en Mia bloos haar gesig warm. So ’n Franse vleier.

“Dis my vrou, Annie, die huishoudster,” sê Barnes.

“Ek is bly om julle almal te ontmoet,” sê Mia.

“Tee?” vra Etienne Delmain, wat haar noukeurig bestudeer.

“Nee dankie, ek het by mevrou De Lisle tee gedrink en ek moet sê, die tertjies was die lekkerste wat ek nog ooit geëet het.”

Etienne glimlag ingenome. “Jy kan enige tyd kom kos of verversings vra, hoor.”

“Dankie. Ek … e … wil ’n bietjie buite verken. Die tuin lyk so mooi. Terloops, die yslike kat wat in my kamer was … die grootste kat wat ek nog gesien het …”

“Dis Sylvester, hy is ’n Maine Coon,” sê die huishoudster. “Hulle is groot katte. Hy was mejuffrou Bienne se kat en hy gaan slaap soms daar in die kamer, al is sy lankal oorlede. Verwilder hom as hy jou pla.”

“O, nee. Ek is baie lief vir katte. Hy kan maar by my kuier.”

Sy kyk na die vriendelike glimlaggende gesigte en voel sommer tuis. Dit lyk na ’n goeie begin. Sover is daar niks wat pla nie. Die mense is almal gaaf en sy gaan besonder luuks bly. Sy het omtrent in die botter geval.

Toe groet sy en loop uit, na die tuin. Daar is net een persoon wat nie heeltemal verwelkomend was nie … Sy wonder wanneer sy weer die manjifieke dog arrogante Jean sal sien.

En hoe hy teenoor haar sal optree …

Van sorg na liefde

Подняться наверх