Читать книгу Geliefde heler - Malene Breytenbach - Страница 5

2

Оглавление

Naomi neem die ouer Bouwmans met die trappe op na die luukse gastesuite met ’n dubbelbed. Faan volg hulle, steunend en kreunend onder die twee enorme tasse wat hy by die trappe moet opkry. Jan-Karel dra ’n skootrekenaar en nog ’n sak. Mathilda Bouwman en Daphne van Meerlevoort dra elkeen ’n smuktassie en ’n groot handsak.

Geert sleep die grootste tas wat Naomi nog gesien het. Sy kan skaars glo die lugdiens laat so ’n groot ding op ’n vliegtuig toe. Maar die mense het natuurlik eerste klas gevlieg en dan is hulle geregtig om meer bagasie saam te neem.

“Dis Daphne se tas,” sê hy toe hy sien Naomi kyk grootoog daarna.

Naomi wys vir Geert sy kamer en sit sy skootrekenaar op die een bed neer. Hy los die groot tas in die gang en gaan kyk by die venster uit.

Daphne gaan staan langs hom. “Og, leuk, hè?” sê sy. “Ons gaan heerlik swem in daardie bad.”

“Ja, dis ook ’n pragtige tuin,” sê hy waarderend.

“Kom ek wys jou jou kamer,” trek Naomi Daphne se aandag.

Daphne trek ’n vies gesig en volg haar. Geert volg met Daphne se enorme tas. Naomi gaan staan in die deur. “Ek hoop jy sal gerieflik bly.”

Daphne staan met ’n vuis op een heup en kyk in. “Dis klein, hè? Poky. Kleiner as Geert se kamer. Dit kyk ook nie op die swembad uit nie. Is dit die beste wat julle kan doen?”

Naomi byt op haar tande.

Geert kyk ook in. “Jy wou op die nippertjie saamkom, Daphne, die mense het jou nie verwag nie, onthou.”

“Hoeveel slaapkamers het dié groot huis dan?” vra Daphne parmantig en gluur Naomi aan.

“Vyf, as mens die woonstel s’n inreken, maar ek woon daar.”

Daphne tel kastig op haar vingers. “Daar is dus vier slaapkamers. Geert se moeder-hulle s’n, Geert s’n, dié enetjie …” Sy beduie minagtend daarna. “En nog een.”

“Dis tant Merel se suite.”

“Is daardie een nie beter as dié een nie? Ek kan mos daar gaan bly.”

Naomi snak omtrent na asem oor dié vermetelheid. “Tant Merel wil nie hê iemand moet in haar suite tuisgaan nie.”

“Og, so?” Die blonde wenkbroue boog en die blou oë is poolys.

“Jy kan bly wees hier is vir jou plek, Daph,” sê Geert. Klink nogal asof hy sy irritasie moet onderdruk.

Noekie kom in die gang aangestap met arms vol skoon beddegoed.

Daphne kyk fronsend na haar. “Maak net gou met die oortrek, hoor.”

Noekie frons net. Naomi vervies haar vir Daphne se houding. Sy kon gerus asseblief gesê het.

“Ek moet my tas inbring en die motor in die garage gaan bêre,” sê Geert. “Ek moet seker ’n afstandbeheertoestel kry?” Hy kyk stip na Naomi.

“Ja, ek sal vir jou een gee wat die hek oopmaak.”

Hy begin met lang treë in die gang af loop en Naomi draf agterna. “Die motorhuise is langs die huis, maar daar’s net twee,” sê sy. “My en tant Merel se motors is daarbinne. Langsaan is ’n motorafdak waar jy jou motor kan intrek.”

Hy gaan staan en kyk na haar. Sy donkerblonde wenkbroue skiet die hoogte in. “Net twee motorhuise?”

“Ek huur die een saam met my woonstel.” En ek gaan dit nie aan jou beskikbaar stel vir jou huurmotor nie, arrogante vent.

Hy haal sy skouers op. “Dan staan die BMW maar onder die motorafdak. Ek hoor hier breek mense alewig by motors in. Dis nie veilig nie, maar dit kan seker nie verhelp word nie.”

“Daar is darem ’n hoë muur om die erf. In elk geval het ons veronderstel julle gee die motor terug aan die huurmaatskappy en ry met tant Merel se Mercedes.”

“Nee, ek het my eie voertuig nodig. My vaderhulle sal in die Mercedes wil rondry terwyl ek werk. Hulle sal tog nie heeltyd net by die huis wil sit nie.”

Hy begin sommer weer aanstryk, by die trappe af, en sy moet weer agternatrippel.

“Ek sal solank vir julle tee gaan bestel. Julle kan dit oor tien minute in die sitkamer drink, terwyl Noekie jou verloofde se kamer regkry.”

“Goed.”

Sy kry die tweede afstandbeheertoestel in die laai van die kas in die portaal en gee dit vir hom.

“Dankie,” sê hy en loop by die voordeur uit.

Sy bly staan in die portaal en hoor die motor se kattebak toeklap. Voordat hy met sy tas kan inkom, loop sy vinnig kombuis toe. “Sjoe, dis veeleisende mense, Dwayne.”

“Noekie sê die dokter het sommer sy verloofde saamgebring. Die vermetelheid. Hulle kon ons darem gewaarsku het, nè? Hulle moet net nie kla oor die cuisine nie.”

“Oor jou kos kan hulle sowaar nie kla nie. Hulle gaan baie lekker eet. Gaan jy aan met wat jy doen. Ek sal vir die mense tee invat. Noekie maak die Daphne-vrou se kamer vir haar reg. Nadat sy die bed oorgetrek het, moet sy nog vir haar stryk ook.”

Sy sien die silwer teeservies staan gereed op die teetrollie, ook die mooi blou-en-wit porseleinkoppies en -bordjies, vurkies en teelepels met fyn blou servetjies. Tant Merel het mos vir haar en Noekie en Dwayne gewaarsku dat net die beste goed genoeg is vir haar broer-hulle.

Naomi stoot die teetrollie na die sitkamer. Die mense ontspan daar op die deftige gestoffeerde stoele en wag om bedien te word. Naomi probeer om nie te frons nie. Hulle moet net nie van haar verwag om hulle heeltyd te bedien nie. Nou het sy nie ’n keuse nie, want arme Noekie word besig gehou en Dwayne berei aandete voor.

Naomi kyk eerste na Mathilda Bouwman. “Hoe neem mevrou die tee? Met melk? Suiker? Eers tee skink, dan melk of andersom?”

“Eers melk, dan tee en suiker, dankie.”

Sy vra hulle een-een en skink vir almal. Gee dit aan. Almal bly sit, asof hulle gewoond is om bedien te word en verwag dat sy dit moet doen.

“Melktert vir almal?” vra sy.

“Nie vir my nie, dis iets wat vet maak,” sê Daphne.

“Ons ander sal almal neem, nè?” sê Geert. “Dis heerlik, dié melktert. Ek het dit graag geëet toe ek in Suid-Afrika gewerk het.”

Tot haar verbasing staan hy vir die eerste keer op en help haar om die bordjies met snye melktert aan te gee. So, hy hét darem maniere, al het hy nie aanvanklik behulpsaam gelyk nie.

Daphne sit met haar lang bene voor haar uitgestrek en haar slanke enkels gekruis. Sy drink haar swart, bitter tee met klein slukkies. Naomi kyk diskreet na die mooi bene en merk op dat hulle besonder wit is.

“Jy drink nie tee saam met ons nie,” sê Geert skielik, asof hy haar teregwys.

“Nee, ek wou julle net tuismaak en weer gaan werk.”

“Werk?” vra hy.

“Ek is besig om te skilder.”

Sy wenkbroue boog. “O, jy is ’n kunstenaar?”

“Dis net ’n stokperdjie.” Sy wei nie uit nie. “Ons sjef, Dwayne September, berei vir julle ’n heerlike aandete voor. Tant Merel het julle dalk vertel dat sy hom deur sjefskool gesit het en nou werk hy vir haar.”

“Ja, ons weet van dié kêrel,” sê Jan-Karel Bouwman. “Sy het my verseker hy kan al die Nederlandse disse maak waarvoor ons lief is. Anders het ons maar liewer in ’n hotel tuisgegaan.”

Hy het ’n soort bitsige, sarkastiese, konfronterende houding as hy praat, wat Naomi dwars in die krop steek. Hy maak kastig nou ’n grappie, maar daar is ’n angel in. Is die seun soos die pa? Dan gaan enige vrou wat vir hom val, les opsê.

“Dwayne is ’n uitstekende sjef,” sê sy kil vir die pa. “Ek glo nie julle gaan enige rede hê om te kla nie.” Sy vermoed egter dié man is hiperkrities. Dwayne is baie gevoelig en as hulle hom opdraand gee, weet sy nie of hy dit gaan verduur nie.

“Ons wil Suid-Afrikaans ook eet,” sê Geert. “Die sjef moet sy spesialiteite maak.”

Is dié mense vreeslik ingestel op fynproewerskos? Dit klink so.

“Ek het vir Merel gesê ek sal die studeerkamer as my kantoor gebruik, want ek moet in verbinding bly met my besigheid,” kondig Jan-Karel vernaam aan.

“Ek sien daar is lekker baie boeke,” sê Mathilda. “Ek lees graag. En die TV-kamer is tog leuk, hè?”

“Gelukkig is daar ’n ordentlike TV,” sê Daphne. “Ek hoop net ons kry Nederlandse kanale.”

“Op DStv sal julle,” sê Naomi. Dié Daphne met haar negatiewe en voorskriftelike houding gaan almal op hulle tande laat kners, vermoed sy.

Tant Merel het ’n week vantevore ’n reuse-platskerm-TV gekry met die oog op haar broer-hulle se besoek. Naomi het die vorige, kleiner een by haar oorgeneem.

“Ek het my vennoot, dokter Lood Smal, genooi om vanaand hier te kom eet om kennis te maak met my familie en verloofde,” sê Geert. “Mits dit jou welgeval, Naomi?”

Is hy nou besonder bedagsaam, of is hy sarkasties omdat hy sien sy raak geïrriteerd? Sy gesigsuitdrukking verraai niks nie.

“Jy hoef nie my toestemming te vra nie. Julle mag nooi wie julle wil. Stel net altyd vir Dwayne in kennis, asseblief. Ek sal hom gaan sê hier kom vanaand ’n ekstra gas. Tydens julle verblyf hier is dit julle huis. Ek hoop julle bly lekker. Tant Merel wil hê julle moet die tyd hier geniet.”

Dié keer is Geert Bouwman se glimlag darem eg. Sy tande is wit en eweredig. Hierdie man, skat sy, kan met mense toor as hy lus het. Sy chirurgvriend, Lood Smal, is ’n man in sy dertigs, soos Geert. Hy is nie so hiperaantreklik soos die Nederlander nie, maar erg gesog onder al wat vrou is by die hospitaal. Kamstig ’n vangs. Beslis nie gay nie. Almal wonder waarom hy nog nie getroud is nie. Geert is ook nog nie getroud nie. Darem al verloof. Is sulke mans te kieskeurig, of geniet hulle maar net die verskeidenheid vroue wat hulle najaag?

Voëls van eenderse vere? Sy is bra versigtig vir Lood Smal en sal vir Geert Bouwman ook versigtig wees.

Sy kyk na die reusediamant aan Daphne van Meerlevoort se vinger. Trou dié soort gesogte dokter uiteindelik, kry hy vir hom ’n trofeevrou, soos dié beeldskone blondine. As die veeleiseinde, onbeskofte Daphne sy keuse van ’n vrou is, en hy verskoon haar gedrag, wel … dit sê veel van hom.

Die vrou op wie Charl verlief geraak het, was genoeg van ’n trofee om hom af te rokkel nadat hy en Naomi reeds troureëlings begin tref het. Met sulke vroue kan of wil Naomi nie kompeteer nie. Sy is soos sy is. Jy kry wat jy sien.

“Eet jy vanaand saam met ons?” vra Geert.

Naomi is onkant gevang. Nooi hy haar of probeer hy net uitvind of sy haar die reg toe-eien om saam met hulle te eet?

“E … nee, ek gaan uit.” Liewer saam met haar eie vriende kuier as met dié lot.

“Jy sou welkom wees,” sê sy ma vriendelik.

Naomi kyk verbaas na haar. “Dankie, maar ek het ’n afspraak.” Sy staan op. “Sal julle my asseblief verskoon?”

Hulle knik en sê ja. Sy kan nie gou genoeg wegkom nie en voel hoe hulle oë in haar rug boor toe sy uitloop. Sy kan Geert Bouwman skaars direk aankyk. Hy het ’n te onthutsende effek op haar. Al kan sy nie help om sy voorkoms te bewonder nie, beleef sy hom as koud en meerderwaardig.

Die appel het nie ver van die boom geval nie.

Geert glimlag onwillekeurig. Dié meisie, wat blykbaar familie is van tant Merel se oorlede man, lyk glad nie ingenome met hulle Bouwmans nie. Hy kan sommer sien sy pa se superieure houding staan haar nie aan nie. Hy vermoed Naomi Roux laat niemand sommer oor haar loop nie. Sy wip haar kort-kort, dan blits haar donker oë en sy byt op haar tande. Dit amuseer hom nogal.

Hy glo nie sy hou enigsins van Daphne nie. Hy het nie verwag dat Daphne, wat aangedring het om saam te kom, so veeleisend sou wees nie. Sy het haarself genooi en nou is sy ’n onverwagte gas, maar sy wil behandel word asof sy in ’n vyfsterhotel tuisgaan. Sy het sommer dadelik die huishoudster gekaap. Daardeur het sy die huishulp en vir Naomi geantagoniseer.

Naomi is mooier as wat hy verwag het. Tant Merel het gesê sy is ’n liewe kind en hulle sal van haar hou. Waarom het hy hom verbeel sy gaan vaal en gedienstig wees? Dit is sy allesbehalwe. Pragtige donkerbruin oë tussen lang, swart wimpers. Dik, donkerbruin hare met ’n effense rooierige skynsel. Haar soel vel is vlekloos. Hy is seker dit sal soos fluweel voel onder ’n man se vingers. Haar figuur is slank en welgevorm, maar sy is korter as Daphne met haar lang, svelte modelfiguur.

Hy kon skaars sy verbasing wegsteek toe Naomi op die stoep verskyn in daardie gekreukelde rokkie wat heelwat van haar mooi, bruingebrande bene wys. Sy was wel onopgesmuk, maar sy lyk gesond, vars en skoon. Ruik na son en blomme. Heilsaam.

Sy het nie juis bly gelyk om hulle te verwelkom nie. Hy het haar beleefdheid as gedwonge ervaar.

Naomi Roux is wel mooi en oënskynlik lewendig van geaardheid, maar Daphne is sy ideaal en sy is besitlik. Hy sien klaar hoe sy dié mooi Suid-Afrikaner skuins kyke gee.

Naomi se kilheid het verdwyn en sy wou lag toe sy die woord “poes” hoor. Daar het die oulikste kuiltjie by haar een mondhoek ingeduik. Wat in Afrikaans ’n vloekwoord is, is die aanvaarde term in sy land.

“Hier in Suid-Afrika gebruik hulle nie die woord ‘poes’ nie, maar ‘kat’,” het hy vir sy mense verduidelik. “Die woord ‘poes’ het ’n ander betekenis.” Hy moes sy lag inhou.

Daphne het omtrent oorreageer, maar haar oë swel op as ’n kat naby haar kom. Pragtige katte, darem. Hy hou nogal van katte en gee nie om dat hulle hier is nie. Solank dit nie vir Daphne op loop jaag nie.

Boonop gaan die wyfie een of ander tyd kleintjies kry. Maar dis Naomi se probleem, nie hulle s’n nie.

“Sjef, die ete was voortreflik,” sê Geert vir die man toe hy die nageregbakkies verwyder. “Ons het heerlik geëet. Nè?” Hy kyk na sy ouers.

“Heerlik, ja,” beaam sy ma.

“Heel goed,” sê sy pa.

Die kos was so goed dat sy foutvinderige pa sowaar met niks kon foutvind nie.

“En jy?” vra Geert vir Daphne.

“O ja, ook heel goed.”

Behalwe dat sy nie juis gesmul het nie. Dit het vir hom gelyk asof sy bloot die kos in haar bord rondstoot. Maar sy is ’n klein eter en haar pragtige lyf getuig daarvan.

“As dit hier so geil gaan, kan julle my gerus weer nooi,” lag Lood.

“Ek is bly julle het dit geniet,” sê die sjef.

Hy is blykbaar “chief cook and bottle washer”, het sy pa nog gespot, dink Geert. Bedien sommer aan tafel ook. Die man het vanaand hard gewerk. Hy moet hom beloon. Dis net hy en die huishoudster, Noekie, wat alles behartig. Daar is darem ’n tuinwerker wat alles buitekant, die swembad inkluis, netjies hou.

Hy kry die indruk dat Noekie, wat glo al lank by tant Merel werk, nie vandag te gelukkig was nie. Omdat sy voor ete Daphne se klere moes stryk toe sy eintlik al wou huis toe gaan? Hy gaan verneem waar die naaste wassery is en van nou af sal hulle al hul klere daar laat was. Die huishoudster het seker te veel werk om dit ook nog te behartig. Hy moet met sy moeder en vader en veral met Daphne praat. Hier kan hulle nie sommer verwag om die dienste van ’n groot personeel te hê wat hulle by die huis as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is ook nie ’n hotel nie.

Sy ma voel aan haar hare. “Ek sal môre na die haarkapper gaan wat Merel aanbeveel het.”

“Ek sal saamgaan,” sê Daphne dadelik.

Geert hoop net die haarkapper is nie vol bespreek op ’n Saterdag nie, anders gaan dit lol. Albei die vroue is baie gesteld op hul voorkoms.

“Kan jy verbeter op hoe jy reeds lyk?” vra Lood vir Daphne.

Sy glimlag gevlei. “Og ja, heelwat,” sê sy guitig.

Lood is nog heelaand baie sjarmant met haar, maar Daphne het dié uitwerking op mans. Hulle dans om haar. Dit is nou maar iets wat hy moet aanvaar. Eintlik vlei dit hom dat sy so deur almal bewonder word, maar sy behoort aan hom.

Hy wou haar gehad het. Hy het Elsje vir haar verlaat. Daphne is die meeste mans se droomvrou.

Geert klim uit die swembad, droog hom af en strek hom met ’n behaaglike sug op die lêstoel uit. Gelukkig kon sy ma en Daphne afsprake by die haarkapper in die dorp kry en sy pa het hulle met tant Merel se Mercedes soontoe geneem.

Hy moet oor ’n uur of so na Lood se spreekkamer gaan. Intussen geniet hy die warmte van die son op sy vel. Die sonskyn is een van die voordele van Suid-Afrika. In Europa is dit nou winter en bitter koud. Hier in die warm suide sal sy wit vel gou genoeg kleur kry.

Dié tyd van die jaar gaan hulle en Daphne gewoonlik na die suide van Frankryk of Spanje. Suid-Afrika sal vir hulle ’n heel nuwe belewenis wees.

Hy hoor iets agter hom en kyk om. Dit is Naomi, in ’n swart baaibroek en kort wit-en-swart jakkie, met ’n veelkleurige strandhanddoek oor haar arm gedrapeer. Hy kom orent.

“Dag.”

Sy lyk asof sy skrik. “Môre, ek het gedink julle is almal uit.”

“Nee, net die ander. Ek moet binnekort spreekkamer toe gaan, maar ek wou net eers afkoel. Ons klomp Kase is nog nie gewoond aan dié hitte nie.”

Sy glimlag vir sy grappie, maar bly staan, asof sy onseker is wat om te doen. Die jakkie is oop voor en die gedeelte van haar lyf wat sigbaar is, is slank met net die regte rondings. Haar bene is goed gevorm en sy is mooi sonbruin. Kyk hoe blink daardie hare. Sy is wragtig ’n lus vir die oog. Dit doen iets aan sy lyf. Nee, hy mag nie so reageer nie, betig hy homself streng.

“Moenie skaam wees nie, jy kan gerus kom swem,” terg hy. “Moenie dat ek jou keer nie.”

Sy bloos sowaar. Vinnig beweeg sy na die ander lêstoel en sit haar handdoek neer. Hy kan sien sy is selfbewus en dit amuseer hom. Hy kan die glimlag nie van sy gesig afhou nie. “Ek gaan die warm somer geniet terwyl ek hier is.”

“Ja, sonnige Suid-Afrika is seker lekker vir oorsese besoekers.”

Sy kyk nie na hom nie, trek net haar jakkie uit. Nou sien hy duidelik die slanke nek, die regop rug. Sy beweeg met die grasie van ’n danser. Dalk het sy op ’n tyd ballet geneem? Sy oë volg haar na die swembad. Sy duik in en swem met lang hale na die oorkant, draai en kom terug. Daphne sal nie sommer in ’n swembad duik nie; haar grimering sal afwas en sy is versigtig vir haar hare.

Naomi klim na ’n paar lengtes uit. Haar hare is vasgeplak teen haar kop en hang in nat slierte teen haar nek. Sy het geen grimering aan nie; haar nat wimpers koek saam. Sy is soos die Nereïde, die seenimfe in die Griekse mitologie.

Moenie verspot wees nie, Geert Bouwman, dink hy. Maar hy kan homself nie help nie. Hy staar na haar en sy word selfbewus. Hy kyk weg, maar loer sydelings na haar. Sy droog haar af, skud haar hare en vryf dit droog. Hy dink sy gaan sit, maar sy tel haar jakkie op en glip dit aan. Nee, sy wil vlug. Hy moet haar keer.

“Gaan jy nie eers sondroog word nie?” vra hy. “Jy sal ’n nat spoor in die huis los.”

Sy huiwer, kyk na hom – onwillig en nogal geirriteerd. So asof sy dink dis haar ruimte dié en hy verjaag haar. ’n Indringer wat dit vir haar kom bederf.

“Ag, goed, ek sal seker eers ’n rukkie in die son kan lê. Ek is vandag en môre af, nou ontspan ek.”

Sy trek weer die jakkie uit, hang dit saam met die handdoek oor ’n stoel en gaan strek haar ook op ’n lêstoel uit.

“Af?” vra hy. “Jy sê skilder is net ’n stokperdjie. Wat is jou nering dan?”

Sy draai haar kop en die groot donkerbruin oë kyk direk na hom. Dit laat sy polsslag effens versnel.

“Ek is ’n verpleegster by die Medihelp. Eintlik ’n teatersuster.”

Hy kyk verbaas na haar. “Teatersuster? Tante Merel het my niks daarvan vertel nie. As ek opereer, gaan ek jou seker daar teëkom?”

“Miskien.”

Sy is sowaar nie wat hy verwag het nie. Dit gaan lekker wees om haar daar te sien wanneer hy opereer. Veral as sy gaan assisteer. Sy maak haar oë toe en lê soos een wat slaap. Stokstyf en doodstil. Dit lyk nie asof sy lus het om te gesels nie. Sy gee hom beslis die koue skouer. Dis ’n vreemde reaksie. Miskien hou sy nie van hom nie. Waarom is sy so afsydig?

Een van die wit katte kom aangeloop. “Kietsie,” roep hy. Die kat is glad nie skaam nie en kom sommer dadelik nader vir aandag. Gelukkig is Daphne nie nou hier nie. Hy streel die dik pels dat die kat spin. “Pragtige kat.” Hy durf nie die ander woord gebruik nie.

Naomi reageer nie; lê net daar met toe oë.

Met ’n sug staan hy op. “Ek moet seker gaan. Terloops, jy kan gerus vanaand saam met ons eet. Mits jy nie ander planne het nie.”

Haar oë gaan oop en sy kyk na hom. “Ek … nee, ek …”

“Ag toe, ons sal jou nie opeet nie,” terg hy.

“Nou goed dan … Ek gaan nie vanaand uit nie.”

Aha. “Kom drink eers saam met ons skemerdrankies, so teen sesuur. En jy kan gerus môre ook saam met ons kuier.”

“Wel … mits ek nie uitgaan nie.”

Sy klink nie geesdriftig oor die uitnodiging nie. Wat is dit met haar? Wou sy dalk môre saam met ’n man uitgaan? Watter man is so gelukkig om haar te kry?

“Tot later dan,” sê hy.

“Tot later, dokter.”

“Ag nee, jy kan my gerus Geert noem.”

’n Klein fronsie keep tussen die mooi gevormde donker wenkbroue. “As jy wil … Geert.”

Hy glimlag en loop. Dit was omtrent nodig om ’n afspraak met haar te maak. Sy sou seker nie andersins vanaand haar gesig gewys het nie. Sy is soos ’n pragtige wilde katjie wat ’n mens moet vang. ’n Katjie wat sommer sal byt, en naels het wat terugtrek en soms uitkom om seer te krap.

Hy draai sy handdoek om sy onderlyf en loop met lang treë die huis in.

Hy sou darem graag nog ’n rukkie na haar wou sit en kyk.

Geliefde heler

Подняться наверх