Читать книгу Geliefde heler - Malene Breytenbach - Страница 7

4

Оглавление

Naomi het nie laat geslaap nie, maar lank aan ’n mooi roman van Michael Ondaatje lê en lees. Sy trek rustig aan: haar baaibroek onder ’n sonrok. Kyk by die venster uit. Ja, daar sit die vier Nederlanders weer. Sy kan hulle seker nie ignoreer nie, en Geert het aangedring dat sy saam met hulle kuier. Dit verg tandekners in hulle geval, al kom sy gewoonlik maklik met mense oor die weg. Sy en hulle sal maar net gewoond moet raak aan mekaar.

Die gedagte om Geert weer te sien, laat onwillekeurig ’n klein rillinkie van opgewondenheid deur haar trek.

Sy gaan kombuis toe en maak vir haar koffie en beskuit. Sy eet en drink klaar voordat sy by hulle aansluit. Haar hart klop onreëlmatig, maar sy hou haar koel en kalm voor die oorweldigende Geert Bouwman. Vandag is almal darem in slenterdrag. Jan-Karel het ’n wit driekwartbroek aan en ’n los wit hemp. Mathilda dra ’n grys langbroek en sagte pers bloes, maar sy is steeds vol juwele. Geert dra ’n baaibroek en sy hemp hang oop. Naomi probeer om nie na die fris borskas bedek met blonde hare te kyk nie. Sy hou haar ongeërg, maar let op hoe sexy Daphne lyk. Sy het ’n ligblou strandjakkie aan en dit lyk nie asof daar veel baaibroek daaronder is nie.

“Môre, goed gerus?” vra Geert. “Vroeg in die bed geklim?”

Is hy nou sarkasties? “Ja, dankie, en julle?”

“Heerlik geslaap, dankie.”

Jan-Karel gryns. “Ek het wel beter geslaap as wat ek verwag het.”

As dié man nie kil of suur is nie, kan hy nogal aantreklik wees. Waarom glimlag hy omtrent nooit? Nee, óf hy trek sy mond óf hy gryns. Sy vind dit moeilik om van hom te hou.

“Het julle al ontbyt gehad?” vra sy.

“Lankal,” sê Geert. “Ons het nie laat geslaap nie.”

Nie soos jy nie, skimp hy seker.

Daar is biere op ’n tafel en Geert bied vir Naomi een aan.

“Dis vir my nog vroeg vir bier,” sê sy. “Maar … goed dan. Dit sal lekker wees, dankie.”

Hy grinnik spottend. “Ek braai vandag. Dwayne het vir ons bykosse gemaak, dus hoef jy nie in die kombuis te gaan werk nie. Die vleis staan alles reg. Ek het vir Dwayne gesê hy kan die dag af vat.”

“Dis goed,” sê sy styf en neem ’n sluk van haar bier. Dwayne sal dit beslis waardeer.

Op die grootste van die twee tafels is daar sout en peper, souse, borde netjies gestapel, plekmatjies, servette en eetgerei neergesit sodat hulle net hulself kan help.

Daphne staan op, vat die sak wat langs haar staan en loop na ’n lêstoel. Sy trek haar ligblou jakkie uit en gooi dit oor ’n stoel. Naomi kan haar oë nie glo nie. Bestaan daar ’n kleiner bikini? Liewe hemel, die onderstuk is bloot ’n deurtrekker. Die bostuk is so klein, die strepies lap bedek net-net Daphne se tepels. Die rondings van haar borste is oop en bloot. Dit laat absoluut niks aan die verbeelding oor nie.

Naomi kan haarself nie daarvan weerhou om gefassineer na die slanke figuur, die perfekte borste wat net groot genoeg is, en die plat maag te kyk nie. Sy sien met ’n rillinkie van walging dat Geert spekulerend na sy vriendin se manjifieke, bykans naakte figuur kyk. Daphne sorg natuurlik dat sy haar verloofde se bloeddruk opjaag. Sy hormone is seker nou besig om te tango.

“Jy moet oppas vir dié son, Daph,” sê hy besorg. “Hier brand ’n mens erg.”

Naomi kyk diskreet na hom. Waarsku hy vir Daphne dat sy te kaal is?

Daphne haal ’n blou-en-geel bottel sonroom uit haar sak. “Kom smeer my dan, lieverd.”

Hy sit sy bier op die tafel neer en loop na haar toe. Hy gaan sit langs haar en spuit van die sonroom op sy hand. “Hierdie room bevat nie ’n behoorlike sonskerm nie. Die sonblokfaktor is te laag. Jy moet minstens ’n faktor vyftig gebruik.”

“Ek wil tan, lieverd, nie die son wegkeer nie.” Sy strek haar uit.

Naomi verbeel haar sy hoor die vrou van genoegdoening spin.

Geert smeer haar kaal rug, haar bene en selfs die boude. Naomi hou dit gehipnotiseer dop. Waarom voel sy so ongemaklik? Oor dit so ’n erotiese vertoning is? Daardie sterk helershande wat so streel oor die vel …

Naomi vat sommer vinnig twee groot slukke van haar bier. Sy wens sy het nie ingestem om saam met die mense te eet nie. Wel, sy sal minstens sien of Geert enigsins vaardig is met braai.

Jan-Karel begin haar uitvra. “Jou vader was Merel se oorlede man se neef, nè?”

“Ja.”

“Waar woon jou moeder en vader?”

“My ma en pa het in Pretoria gewoon, maar na my ma se dood is my pa weer getroud. Hy het afgetree en hy en sy tweede vrou woon nou in Hermanus.”

“Wat was jou vader se professie?” vra Jan-Karel.

“Pappa was ’n algemene praktisyn. Mamma was ’n pottebakker. Sy het nogal bekend geraak.”

“Og, dis goed,” sê Mathilda. “Seg, waar het jy gestudeer?”

“Ek het verpleging aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en eers daar gewerk. Toe ek by die Medihelp in Stellenbosch ’n pos kry, het tant Merel gesê ek kan hier by haar kom inwoon.”

Om so ver moontlik van Charl en sy nuwe liefde af weg te kom, dink sy met ’n steek in haar hart.

“Het jy broers en susters?” vra Mathilda.

“Een broer. Hy het Kanada toe geëmigreer.”

“Mense verlaat dié land, dan wil Geert hierheen kom,” hoor Naomi Daphne klaerig opmerk.

“Chirurge is hier ook nodig,” sê hy. Staan op. Trek sy hemp uit, loop met lang treë na die swembad en duik sierlik in die water.

Naomi kyk hoe hy heen en weer swem. Hy klim uit, nat soos ’n otter. Sy kry ’n krieweling in haar lyf as sy na die gespierde torso en lang, fris bene kyk. Sowaar, hy is ’n merkwaardige verteenwoordiger van sy spesie.

Hy spat Daphne nat en sy gil kastig vreeslik. “Wil jy nie ook afkoel nie?” vra hy vir Naomi.

“Ja, netnou miskien,” antwoord sy vaag. Dit was erg onthutsend om die vorige dag voor hom in ’n baaibroek te verskyn en te sien hoe hy haar bestudeer. Sy was so selfbewus. Ongetwyfeld steek sy af teen Daphne met haar perfekte figuur.

Hy gaan sit in die son, draai sy gesig na bo en maak sy oë toe. Naomi moet haarself dwing om hom nie aan te staar nie. Sy draai liewer weg en gesels met sy ouers.

“Ek is nou droog genoeg,” sê hy naderhand en trek sy hemp aan, maar laat dit oop hang. Hy loop na die braaiplek.

Naomi kan sien die hout is klaar reg gepak. Die rooster staan ook reg. Dwayne het alles behoorlik voorberei. Al wat Geert hoef te doen, is om die vuur aan die brand te steek, die vleis op die rooster te pak en dit te braai. Hopelik sal hy dit nie verkool nie. Sy kyk hoe hy ’n vuurhoutjie trek en die hoop hout aan die brand steek. Gou knetter dit.

“Dit moet mos eers kole maak voordat ek die vleis opsit, nè?” vra hy met ’n spottende grinnik vir Naomi. “Mens braai mos nie in vlamme nie, anders skroei dit.”

“Ja, die hout moet eers kole word.”

Hy loop by die huis in en kom weer uit met ’n bak vleis en ’n vleistang. “Jy moet maar ’n ogie hou sodat hierdie dom Hollander nie die vleis verbrand nie. Ek het lanklaas gebraai.”

“Goed, ek sal toesig hou.”

Daphne het omgedraai en lê nou met haar voorkant na die son. Sy smeer haarself vol sonroom. “Bring vir my nog ’n bier, asjeblief, lieverd,” roep sy.

“Ek is nou hier besig,” sê Geert.

Daphne is blykbaar ’n vrou wat bevele gee en verwag dat almal moet spring, dink Naomi met ’n stekie irritasie.

Sy pa staan op en skink vir haar ’n bier. Geert pak vleis op die rooster, strooi sout oor en sit dit eenkant. Hy kom kry vir hom nog ’n bier en gaan sit, sy lang bene uitgestrek. “Dis mos nou die lewe.”

Geert hou blykbaar liewer vir Daphne as die vuur dop. Deurentyd gesels hy met sy ouers. Naomi hou egter die vuur dop. “Dis nou reg vir braai, die kole is gereed,” sê sy naderhand.

Hy staan op en gaan plaas die rooster oor die vuur. Naomi stap kombuis toe en kry die bakke met koolslaai en aartappelslaai wat Dwayne in die yskas gelos het. Sy bring dit saam met skeplepels op ’n skinkbord uit en sit dit op die tafel neer. Daphne en Mathilda probeer nie eens help nie. Hulle sit net en kyk wat sy en Geert doen. Jan-Karel sal natuurlik nie help nie, hy is seker gewoond om bedien te word. Hy behandel ander mense soos personeel.

Nadat die tjops en sosaties ’n ruk lank op die vuur gesis het, sê Naomi Geert moet die rooster omdraai.

“Og, natuurlik,” lag hy. “Dit braai mos nie net aan die een kant nie.”

Na ’n ruk gaan kyk sy na die vleis. “Jy kan dit nou afhaal, dis gereed. Ek gaan haal gou ’n skoon bak.”

Sy hou die bak vas terwyl Geert die vleis met die knyper afhaal. “Spanwerk, soos in die teater,” sê hy en grinnik vir haar.

Hy is te naby, dink sy en tree verbouereerd terug.

Geert gaan die huis in en kom terug met ’n bottel rooiwyn en glase. “Ons drink seker rooiwyn by rooivleis?” vra hy. “Of verkies julle wit?”

Naomi knik. “Dis reg vir my, dankie.” Sy gaan net een glas wyn drink, vinnig eet en weer loop.

Hy skink vyf glase wyn.

“Julle moet julleself help,” sê sy. “Hier is borde en alles.” Sy gaan wragtig nie vir hulle inskep en aandra nie.

Die drie Bouwmans kry vir hulle kos en gaan sit by die tafel. Daphne kom soos ’n lui kat aangesluip. Sy gaan tog seker nie so aan tafel kom sit nie? dink Naomi, ongemaklik en vies. Die bikini is so klein, Daphne kon netsowel nakend gewees het. Tot haar verbasing gaan haal Geert die jakkie en bied dit vir Daphne aan. Sy kyk onwillig daarna, maar trek dit tog aan. Nie dat dit veel bedek nie.

Naomi sien dat sy nogal rooi gebrand is. Dié melkwit vel is nie bestand teen die felle Desemberson nie. Die room het niks beteken nie, maar dit ruik so sieklik soet dat dit omtrent die heerlike geur van die kos verdryf.

“Die vleis is prima,” sê Mathilda. “Welgedaan, Geert.”

Hy glimlag. “Wel, Naomi het gesorg dat ek dit nie verbrand nie.”

Naomi onderskep ’n giftige blik van Daphne se kant af. Die vrou is gevaarlik jaloers en besitlik. Sy sal moet oppas.

Suzy Wong en Ching Wong verskyn op die stoep en kom belangstellend nader.

“Daardie katte is hier om te bedel,” protesteer Daphne, ’n vurk vol slaai halfpad na haar mond. Sy frons lelik.

“As hulle braaivleis ruik, kom stel hulle ondersoek in,” sê Naomi. “Toemaar, hulle eet nie regtig braaivleis nie. Hulle het spesiale kos. Hulle is eintlik net nuuskierig.”

“Ag, een ou klein stukkie vleis kan nie skade doen nie,” sê Geert.

Tot Naomi se verbasing sny hy vir elke kat ’n stukkie van sy tjop af en voer hulle.

“Jy moet hulle nie aanmoedig nie, lieverd,” berispe Daphne.

Hy kyk na haar met ’n uitdrukking wat Naomi net as kil kan vertolk. “Ek hou van katte, en dié is mooies. Net omdat jý hulle nie kan verdra nie, moet jy nie verwag dat ander mense nie van hulle moet hou nie.”

Daphne stoot haar onderlip uit soos ’n stout kind wat raas gekry het. Hierdie man laat hom nie hiet en gebied nie, dink Naomi goedkeurend. Hy is nie onder dié mooi vrou se duim nie.

Mathilda en Jan-Karel frons albei, maar sê niks.

Geert sny ’n stukkie van die skaaptjoppie af en steek dit in sy mond, maar hy proe dit skaars, so konsentreer hy op Naomi. Die uitdrukking op haar mooi gesig was duidelik een van weersin toe hy die room vir Daphne aangesmeer het. Die weersin het verdiep toe Daphne sonder haar jakkie aan tafel kom sit het.

Hy is half ergerlik oor Naomi se veroordeling. Is sy dan preuts? Tog kan hy dit verstaan. Daphne is trots op haar mooi lyf en glad nie skaam nie. Waar dit hom eens geprikkel het, begin haar ekshibisionisme hom nou afstoot. Daphne behoort darem regtig ’n bietjie kuiser te wees, ook voor sy ouers, al is hulle nie uitermate konserwatief nie.

Kyk hoe netjies eet Naomi. Dis eintlik lekker om haar dop te hou. Sy eet sowaar die beentjie met haar hande af. Hy vind dit nogal eroties. Haar mond blink en sy vee dit met die servet af. Ongelukkig sit sy nou weer met daardie koue gesig wat kort-kort frons, wat hom vertel dat sy nie lus het om saam met hulle te eet nie. As Daphne nie alles kom vertroebel het nie, was sy dalk veel vriendeliker.

Daar kom die twee katte sowaar. Daphne protesteer natuurlik weer dadelik terwyl Naomi verskoning maak en ongemaklik lyk. Hy word sommer moedswillig, nou voer hy die katte. Naomi lyk verbaas. Daphne maak tuitmond wanneer hy haar kortvat. Net omdat hy aan haar verloof is, beteken nie hy gaan toelaat dat sy hom soos ’n kind voorsê en teregwys nie.

Hy draai na Naomi. “Dink jy darem ek toon belofte met die braaiery?”

Naomi kyk op van haar bord kos, haar blink oë die kleur van donkersjokolade. Sy glimlag net effentjies, onwillig. “Ja wat, met genoeg oefening behoort jy heel vaardig te word.”

Terwyl hy eet en gesels, let hy op hoe haar oë na Daphne draai en dan weer wegkyk, asof sy haar afstootlik vind. Daphne gesels en lag kliphard. Sy probeer eintlik te hard om sy aandag op haar gevestig te hou. Wanneer hy met Naomi praat, val sy hom in die rede.

“Lieverd, ek praat met jou.”

Hy kyk gesteurd na Daphne. “Ekskuus?”

“Ek vra nog wyn.”

“O, goed.” Hy skink vir haar. Sy kan gerus asseblief sê, en nie klink asof sy hom bevele gee nie. Rykmanskind wat alles gewoond is. Maar wie is hy om te praat? Hulle pas by mekaar. Sosiaal is hulle suksesvol saam. Sy is tuis in gesofistikeerde geselskap. Mense bewonder haar. Sy kom uit ’n ryk en vooraanstaande huis en word as ’n groot vangs beskou. Haar mense vind hom aanvaarbaar en hy weet sy pa wil hê hy moet met Daphne trou. Hy is al langer saam met haar as saam met enige ander vrou.

Hy het selfs kans gesien om met haar te trou.

Waarom voel hy nou skielik asof sy liefde vervlak soos ’n bak waaruit water stort?

Hulle is almal klaar geëet en Naomi staan op. Sy maak sowaar die borde bymekaar, stapel dit opmekaar en begin wegloop.

Hy vlieg op. “Jy hoef dit nie te doen nie. Dwayne het gesê ons kan dit net so los.”

Sy kyk oor haar skouer. “Ons kan nie met vuil borde voor ons op die tafel sit nie. Buitendien lok dit vlieë. Ek neem dit net kombuis toe. As jy wil, kan jy die slaaibakke bring.”

Sy loop aan. Hy tel twee bakke op en loop agter haar aan. In die kombuis sit hy dit op die tafel neer.

“Dankie,” sê sy, neem die bakke by hom en sit dit in die wasbak.

“Dwayne het gesê hy kom weer vanaand terug.”

Sy kyk na hom met kritiese oë, maar hulle is vir hom tog so mooi. “Goed, maar dis nie te sê ons moet alles net so buite los nie. Sal ek vir ons roomystert skep?”

“Ja, goeie idee.”

Hy kyk hoe sy bakkies uit ’n kas haal. Sy buk en die jakkie wat sy aanhet, skuif teen haar dye op. Sy is eintlik fyn gebou. Tog moet sy sterk genoeg wees om ure te staan by ’n operasie en na pasiënte om te sien. Klein, slanke mense het soms verbasend baie stamina. Sy lyk fiks.

Hy staan nader toe sy die roomystert uit die yskas haal en met ’n spaan in die bakkies skep. Lang, slanke vingers sonder enige ringe aan. Hy kom agter sy beweeg weg as hy naderkom. Dit fassineer hom. Hy tree tru, en sy ontspan. Hy tree nader en sy raak gespanne. Dis soos ’n speletjie.

Sy beweeg weg en haal ’n skinkbord uit ’n kas. Sy plaas die roomysbakkies daarop. “Sal jy dit asseblief uitdra?”

“Sekerlik.”

Hy loop vooruit, bewus dat sy agternakom. Sy het nie in die kombuis met hom gesels nie. Hou haar afstand. Dit daag hom nogal uit as sy so afsydig is.

Naomi deel die roomystert uit. Gaan sit dan en eet hare vinnig. Vinniger as hulle ander.

“Sal julle my asseblief verskoon?” sê sy en vee haar mond met ’n servet af. “Ek en ’n vriendin gaan vanmiddag uit. Sy sal binnekort hier wees.”

Geert kry die vreemde gewaarwording dat die lig nie meer heeltemal so helder skyn as sy weggaan nie.

Geliefde heler

Подняться наверх