Читать книгу In my drome - Malene Breytenbach - Страница 4

2

Оглавление

Stella, haar vriendin Leonie, hulle ouers, en die ouers van Stella se neef Jaco Swift, sit amper heel voor in die Coetzenburg Sentrum op Stellenbosch. Vandag word grade in die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe toegeken.

Leonie se broer, Tiaan, en Stella se neef Jaco verwerf die MMed in anestesiologie. Arend Barnard kry natuurlik vandag dieselfde graad. Hy het glo al vroeg in sy studiejare geweet hy wil eendag narkotiseur word.

Jaco en Tiaan het soms van hom gepraat. Skynbaar was hy die briljantste student van hulle almal.

Stella kon hom nooit vergeet nie, want hy was haar eerste liefde, hoewel onbeantwoord. Sy is nogal nuuskierig om te sien hoe hy nou lyk.

Mense stroom by die deure in en al is hier lugreëling, is die Desemberhitte soos ’n sauna.

Stella het ’n wit rok en stiletto’s aan en haar hare is opgekam sodat dit uit haar nek is, maar sy kry nogtans warm. Die arme mense wat met togas behang is, kook seker.

Leonie vee haar gesig met ’n snesie af. “Sjoe, vandag is dit diep in die dertig grade. Dit was net so warm daardie dag toe ons graad gekry het. Ek het nog gedink ek beërwe die hemel toe ek hier by dié verhoog opstap. Dokter Rademeyer, uiteindelik, nadat ek meer as een keer gedink het aan opskop, veral toe ons ons eerste kadawers moes oopsny. Al het ek daai dag halfpad gesmelt onder die dik toga, was dit een van die beste dae in my lewe. Min het ek geweet watter swaarkry in ons huisdokterjaar en tydens die twee jaar gemeenskapsdiens alles wag.”

Stella glimlag wrang. Ja, die pad wás lank en swaar. Sy moes gemeenskapsdiens doen in ’n hospitaal op Saldanha en kon nie wag dat die tyd verbygaan nie. Nou is sy en Leonie saam in ’n praktyk op Stellenbosch. Nie een van hulle het kans gesien om verder te spesialiseer nie.

Leonie se pa, ’n gegoede Swartlandse boer, het ook bygedra om hulle gevestig te kry in ’n gebou in Dorpstraat en hy het vir Leonie ’n dorpshuis in Kleingeluk gekoop.

Stella se pa het aangedring dat sy in die kothuis op die Swift-landgoed moet woon. “Dit staan tog net leeg en dan woon jy boonop gratis.”

“Dis net tydelik,” het Stella vir haar pa gesê. Sy is op die uitkyk vir ’n bekostigbare huis waar sy kan woon en waarheen hulle die praktyk later kan verskuif, het sy hom verseker.

Hy het aangebied om vir haar ’n huis in Mostertsdrift te koop, maar sy het geweier. Hy het reeds duur vir haar studie, verblyf in ’n woonstel naby die Tygerberg-kampus, ’n nuwe motor elke twee jaar en die praktyk betaal.

“Dis tyd dat ek op my eie bene staan, Pappa,” het sy hom vertel. “Ek is mos nou ’n professionele vrou.”

Hy was nogal vreemd aangedaan oor haar selfstandigheid. Haar broer, Janus, sal dit beslis nooit oorweeg om weg te trek uit die weelde wat hulle pa verskaf nie. Hy en sy vrou, Chanelle, en hulle bedorwe dogtertjie, Leanne, woon in ’n ander huis naby aan en byna so groot soos die hoofhuis.

Stella onderdruk ’n sug.

Oppervlakkig beskou, is hulle so bevoorreg, maar eintlik het sy ’n groot probleem. Sy bid net dat sy dit op een of ander manier kan oorkom.

Leonie se broer Tiaan het gereeld ver gery om vir Stella op Saldanha te kuier. Hy was meer verlief as sy en het haar heeltyd vertel dat hy wil spesialiseer en met haar trou nadat hy die kwalifikasie verwerf het en in ’n praktyk werk.

Sy het gelag of dit weggepraat, want al is sy lief vir hom, voel dit nie soos die regte soort liefde nie. Daar is te veel vriendskap en te min passie aan haar kant.

Nou is hy ’n spesialis en gaan hy binnekort seker sy huweliksaansoek herhaal. Wat gaan sy dan doen? Sy wil sy hart nie graag breek en summier weier nie. Maar sal sy ooit gelukkig wees, terwyl sy heeltyd voel iets haper in so ’n huwelik?

Sy kyk rond en merk op dat Arend se ouers, sy broer, Thys, en suster, Tessa, twee rye agter hulle sit. Tessa was in haar klas op skool en sy wuif vir haar. Langs Tessa sit ’n mooi donker meisie met kort hare. Wie sou sy wees?

Sê nou net dis Arend se meisie? Of erger, sy vrou?

Sy wil nie staar nie en draai weg. Watter soort vrou het uiteindelik daardie ambisieuse en moeilike kalant se hart verower?

Hoe trots moet die klomp Barnards nie wees nie. Hulle is almal mooi aangetrek, soos die Swifts en Rademeyers. Háár ma en pa is soos gewoonlik erg opgetof en dis nie eens hulle seun wat vandag graad kry nie, dis die seun van haar pa se broer.

“If you have it, flaunt it,” sê Janus altyd. Hy en Chanelle sou seker blink vertoon het, maar hulle het nie na die plegtigheid gekom nie.

Stella is die dokter in die familie wanneer kwaaltjies opduik, en tog moet sy Janus se snedigheid dikwels verduur. Hy is geneig om haar spottend “dokter Swift” te noem. Daar is tye wat sy hom kap en tye wat sy op haar tande kners om die vrede te bewaar. Sowaar, as hy nie haar broer was nie, sou sy niks met hom te doen wou gehad het nie. Hy het dit van kleins af vir haar moeilik gemaak om vir hom lief te wees. Sy voel skuldig hieroor, maar dit is ongelukkig hoe sake staan.

“Ons dink óns het ’n lang pad geloop, maar Tiaan, Jaco en Arend se pad was veel langer,” sê sy nou vir Leonie.

Inderdaad. Die drie mans het vyf jaar van MBChB, een jaar huisdokterdiens, twee van gemeenskapdiens, ’n jaar of meer van werk as dokter, toe vier jaar as kliniese assistent om die MMed te verwerf om in anestesiologie te spesialiseer agter die rug. Dit het dertien tot veertien jaar geduur om tot by dié punt te kom en intussen het daar baie water in die see geloop.

Stella probeer Tiaan se verliefdheid bestuur. Sonder veel sukses. Die probleem is, sy kry hom jammer en boonop is hy Leonie se broer.

Sy behoort goed te voel oor hoe alles uitgewerk het. Sy is ’n algemene praktisyn, ’n goeie man wil haar hê en daar is geen teenspoed nie. Waarom voel sy dan iewers ’n vae gemis?

Boonop kry sy deesdae ’n soort voorgevoel dat die voorspoed dalk nie veel langer kan hou nie.

Nee, sy is net verspot. Verbeel haar dinge.

Al is sy dankbaar vir die voordele en voorspoed waarmee sy nog altyd geseën is, kan sy regtig sê sy is gelukkig?

Die studente van al die gesondheidswetenskappe kom in ’n lang stroom in en neem hulle sitplekke in totdat die saal vol is.

“Daar is ons manne.” Leonie wys met haar vinger, lag en wuif.

Stella wuif ook glimlaggend.

Tiaan en Jaco wuif terug.

Die volgende oomblik slaan Stella se asem iewers in haar keel vas. Langs Tiaan is Arend Barnard, wat nie eens in hulle rigting kyk nie.

Liewe hemel, maar die man is aantreklik. Op skool was hy al sag op die oog, maar kyk hoe lyk hy nou. Lank, regop, die toonbeeld van manlikheid. Sy donker hare is kort om sy goed gevormde kop gesny, maar nie te kort nie.

Sy loer oor haar skouer na die Barnards.

Hulle kyk ook almal in daardie rigting. Arend draai sy kop en kyk na sy mense. Glimlag.

Stella sien dat die mooi, donker meisie vir hom wuif. Die emosie wat haar summier vul, voel baie na aan jaloesie.

Jy is wragtig vandag verspot, Stella, raas sy met haarself.

Die musiek en die mense raak stil. Die akademiese prosessie kom by die sydeure ingeloop, rektor en dekane en die belangrikste bestuurders van die universiteit, die registrateur, die visedekane, die professore, in ’n verskeidenheid togas.

Hulle klim by die verhoog op.

Na ’n tou studente wat eindeloos oor die verhoog beweeg het, gekeil, gelukgewens en met bande behang is, kom die MMed-studente uiteindelik aan die beurt. In die gradeplegtigheidsgids staan Arend se naam heel eerste as die een wat met onderskeiding geslaag het.

Summa cum laude, het Tiaan nog gespot. Arend was ook die MBChB-student wat die kanseliersmedalje ontvang het as beste student.

Hy loop eerste op.

Stella hou asem op. Sy verbeel haar sy hoor ’n kollektiewe sug om haar opgaan.

“Jeez, maar hy’s ’n hunk, nè?” sê Leonie. “So blerrie mooi en dan nog so blerrie slim ook. Voor in die ry gestaan toe alles uitgedeel is.”

“Nogal,” probeer Stella lakoniek klink.

Die mooi meisie wat by die Barnards was, staan byna langs haar in die gang en neem woes foto’s, nie met ’n selfoon nie, maar met ’n kamera. Stella wens sy kon ’n foto van Arend neem, maar hoe sal dit nou lyk?

Toe Tiaan en Jaco die een na die ander aan die beurt kom, neem sy en Leonie en die ander almal foto’s.

Leonie en haar ma het trane in hulle oë toe Tiaan voor die registrateur staan en die band om sy skouers gehang word.

“Vandag is ek donners trots op my boetie,” sê Leonie en vee ’n traan af.

Hulle staan buite op die groot grasperk waar die mense mekaar omhels en gelukwens en foto’s neem.

Stella soen eers vir Jaco en toe vir Tiaan, wat besitlik met sy arm om haar skouers kom staan.

Leonie kom pomp hom in die maag met haar vinger. “Jy weet net nie hoe trots ek is dat jy my boetie is nie.”

Hy lag: “Ek kan dit sien, sussie.”

Hy lyk so gelukkig, dink Stella. Hy verbeel hom hy het nie slegs die graad verwerf nie, maar ook vir haar. Een of ander tyd moet sy hom ontnugter en sy vrees dit.

Naby hulle is die klomp Barnards en die vreemde mooi meisie. Almal val Arend om die hals en wens hom geluk. Die meisie bly trots aan sy sy.

“Ek wil darem ook my ou skoolmaat gaan gelukwens,” sê Stella.

Tiaan los haar nie, maar loop saam na die Barnards.

Arend draai hom na hulle, en die glimlag verdwyn van sy gesig af.

“Onthou jy my?” vra sy.

Hy glimlag weer, maar dit is effe spottend. “O, ja. Ek onthou jou, Stella Swift.”

Sy beweeg onder Tiaan se besitlike arm uit en bied vir Arend haar hand aan. “Veels geluk. Blykbaar is jy die grootste presteerder van die kursus.”

“Ek is maar ’n werkesel, van jongs af,” spot hy. “Dis die groot chip op my skouer wat my so aanjaag.”

Sy voel haar wange warm word. Dit is Janus wat altyd so gespot het oor die enorme chip op Arend se skouer. Hy het dit seker gehoor of dit op een of ander manier te wete gekom.

“Nee wat, dis net intelligensie en ambisie wat jou jaag,” sê sy. “’n Mens moet die gawes gebruik wat jy ontvang het.”

Hy lag. “Kan ek jou voorstel aan Annemie Terblanche? Dokter Annemie Terblanche, moet ek seker sê. Annemie, dis dokter Stella Swift, wat eentyd saam met my op skool was. Sy was in graad agt toe ek in matriek was. Haar broer was in my klas.”

Die meisie se mooi donker oë lyk nogal waaksaam. “Bly te kenne, Stella.”

“Bly te kenne, Annemie.”

Arend se suster, Tessa, is meteens langs Stella. “Ja, ou Stellatjie was weer in mý klas. Die mooiste en slimste meisie in die skool.”

Stella is so verleë dat haar wange brand. “Ag nee …”

“En die rykste, maar ons het dit nie teen haar gehou nie,” grap Tessa. “Sy was plat op die aarde en altyd vreeslik nice.”

Arend kyk af na Stella, sy gesig onleesbaar. “Verskoon ons, asseblief. Ons gaan op ’n wynplaas eet.”

“Ek drink sommer ’n hele bottel vonkel uit,” lag Tessa. “Of miskien sal ek dit op my boet uitspuit soos die renjaers maak wanneer hulle wen.”

“Moet dit nie waag nie,” raas hy kastig, maar hy omarm haar en soen haar op die wang.

Stella hou hulle dop en wens sy het so ’n verhouding met haar broer gehad. Janus sal haar eerder spot as soen. Eintlik het hy haar wreed geterg en nogal afgeknou. Haar ouers het hom nooit werklik gestraf nie, want hy is mos hulle blue-eyed boy.

Tot vandag toe kan sy nie anders as om hulle kwalik te neem nie.

“Geniet dit,” sê sy met ’n gedwonge glimlag.

“Waar gaan julle vier?” vra Tessa.

“Ag, by die huis. Mamma het met mening voorberei.”

“Het Janus nie gekom nie?” Tessa kyk rond asof sy dink hy gaan enige oomblik verskyn.

“Nee, hy is by die werk.”

Hulle groet, en Tiaan vat Stella se hand. Lei haar weg na waar die ander vir hulle wag.

Stella se ma het spesiale moeite gedoen, nie net vir hulle klomp nie. Verskeie vriende is ook genooi. Spyseniers het ’n spogete berei en bedien vooraf die versnaperinge en drankies. In die groot eetkamer en op die breë agterstoep is daar blomme en pragtige eetgerei. Franse sjampanje en ander drank van alle moontlike soorte.

“Dit lyk amper soos ’n onthaal na ’n troue,” skerts Leonie toe hulle inloop.

Stella is amper verleë oor die oordaad, al besef sy dat haar ma altyd alles in styl wil doen. Haar onthale is legendaries, en haar man kla nooit oor die onkoste nie.

Stella, Tiaan, Leonie en Jaco staan op die stoep met sjampanjeglase. Tiaan se glimlag strek van oor tot oor en hy kyk Stella soos ’n verliefde skoolseun aan. “Jy lyk wragtig mooi vandag. Kan ons nie sommer wegloop nie?”

Sy glimlag, maar is ongemaklik. “Nie sommer nie.”

Leonie draai haar kop en lyk of sy luister. “Wat hoor ek?”

“Moenie vir iemand vertel nie,” sê Tiaan.

“Nee, ek bedoel, wat brul so?”

“Dit klink soos ’n helikopter wat in julle voortuin land,” sê Jaco. “Maar ek het dit nie sien aankom nie. Sal ons gaan kyk wat dit is?”

Die gebrul word harder soos hulle deur die huis vorentoe loop. Ander mense volg ook.

Toe hulle by die voordeur uitloop, snak Stella na asem.

Daar staan ’n rooi Ferrari, skitterblink en duidelik splinternuut.

“Wie is dit?” vra Jaco verstom.

“Dit kan net Janus wees,” spot Leonie. “Lyk my hy wil al weer aandag trek.” Sy kon hom nog nooit verdra nie en maak geen geheim daarvan nie.

Die lae, blink motor se deure vlerk oop. Janus klim uit. Chanelle klim ook uit, in ’n wit chiffonrok wat haar amper soos ’n bruid laat lyk, met los blonde hare en juwele wat aan ore, polse en hals skitter.

Stella kyk hulle geskok aan. Wat besiel hulle om so hier aan te kom? En van wanneer af ry Janus met so ’n flashy motor?

“Haai, kyk ons nuwe vuurwa,” roep Janus met ’n grinnik. Sy pak kom van Armani en sy hare is in die nuutste styl geskeer, lank bo en baie kort aan die onderkant.

“Bling,” sê Jaco minagtend.

Tiaan sê niks. Frons net, asof hy dink dis verspot.

Stella kry erg skaam.

Haar pa het langs hulle kom staan. “Magtag,” is al wat hy sê. Hy lyk geskok en onaangenaam verras.

Sy vermoed haar broer troos homself. Wys hy het geld, al het hy nie soos sy neef Jaco gepresteer nie.

“Hogging the limelight,” sê Leonie sarkasties.

Stella voel ongelukkig ook so.

Janus kom met ’n grinnik na hulle aangeloop. Steek sy hand uit, eers na Jaco en toe na Tiaan. “Geluk, manne.”

Albei sê hoflik dankie, maar nie een is juis oorvriendelik nie.

Leonie draai om en loop terug na die deur. Hulle volg.

Stella huiwer eers toe sy sien haar pa loop na Janus. Hulle praat sag, maar sy hoor een of twee woorde.

“… besiel … Ferrari … bekostig …?”

Sy draai om en loop liewers weg.

Janus se uitspattigheid en spandabelrigheid gaan hom nog inhaal. Sy kan sien haar pa is glad nie gediend met dié nuwe aankoop nie.

Hulle eet en drink, lewer toesprake en drink heildronke. Dit is veronderstel om ’n heuglike en feestelike geleentheid te wees, maar Stella se pa lyk vir haar omgekrap. Sy hartlikheid kom vir haar gedwonge voor. Hy is altyd die onberispelike gasheer, maar sy kan sien hy geniet nie die viering nie.

Waarom moes haar broer alles kom bederf het? Hy drink ook te veel, lag te hard en vertel te veel grappies.

Dit is veronderstel om Tiaan en Jaco se groot dag te wees. Dit lyk wel of hulle dit geniet, maar hier hang ’n wolk oor die skynbare plesierigheid.

Stella staan langs Tiaan en kyk op na die berg agter die landgoed. Die hange is groen. Ondertoe is die tuine ook groen en geil. Alles is so mooi hier en word so goed versorg. Dit lyk asof niks ooit verkeerd kan gaan nie en of daar nooit tekorte in die Swifts se lewe kan wees nie.

Janus kan tog seker daardie Ferrari bekostig?

Waarom lyk hulle pa, wat Janus nog altyd bederf het en niks ontsê het nie, dan vandag so omgekrap?

Skaam hy hom ook dat sy seun die ander jong mans se triomf, waarvoor hulle lank en hard gestudeer en gewerk het, probeer oorskadu?

In my drome

Подняться наверх