Читать книгу In my drome - Malene Breytenbach - Страница 7

5

Оглавление

Stella vlieg orent toe haar selfoon lui. Nog nie opstaantyd nie, merk sy vervaard op. Waarom sou haar ma …?

“Ja, Mamma?” vra sy ongerus.

“Kom tog gou, Stella.” Haar ma se stem is skril van paniek. “Chanelle wil nie wakker word nie … Sy’t pille gedrink … Leanne het ons kom roep …”

“Watse pille, Mamma?” Stella is reeds uit die bed, helder wakker.

“Slaappille, antidepressante … ’n klomp … Sy’s op medikasie en …”

“Ek kom.” Stella bel die ambulans om dadelik te kom en trek gou aan. Gryp haar mediese tas en hardloop.

Janus-hulle se voordeur staan oop.

Haar ma en Leanne huil.

Sy storm by die slaapkamer in. Haar pa buk oor Chanelle wat doodstil en slap daar lê, haar nagrok opgetrek teen haar bobene, haar hare beswete en deurmekaar op die kussing.

Op die vloer lê twee of drie botteljies gesaai. Stella kyk vlugtig na die etikette.

“Staan terug, Pappa, ek sal oorneem. Waar is Janus?”

“Hy’s weg,” sê haar pa. “Leanne sê haar ma en pa het gisteraand vreeslik gestry en toe ry hy. Hy’t nie vannag hier geslaap nie.”

Haar pa het sy werkklere aan, al is dit nog vroeg, maar haar ma en Leanne staan daar in nagklere.

“Pappa, vat die pilhouers, asseblief, sodat ons weet wat om vir die noodpersoneel te sê.”

Sy buk oor Chanelle. Toets haar asemhaling en pols. “Asemhaling en pols flou,” prewel sy. Onmiddellik druk sy Chanelle se neus toe en begin mond-tot-mond-asemhaling doen. Sy moet net hartstilstand voorkom totdat hulle haar skoonsuster by ’n lewensondersteuningstelsel kry.

Tussendeur bid sy kliphard terwyl sy werk.

Vaagweg hoor hulle nou die geloei van ’n sirene. Kort daarna storm twee paramedici die kamer binne.

Stella kom uitasem orent. “Haar toestand is kritiek.”

Hulle laai Chanelle op ’n trollie wat een blitssnel van buite af ingestoot het en haas met haar na die ambulans.

Stella kyk toe terwyl hulle haar aan apparate koppel, en toe wegjaag.

“Ek volg.” Sy gryp die pilhouers uit haar pa se hande.

Toe sy by die ongevalle-eenheid van die Mediclinic aankom, laai hulle reeds vir Chanelle af. Twee dokters wat Stella ken, wag hulle in. Vir die een gee sy die pilhouers. “Sy het dit gedrink.”

Sy volg om te kyk hoe hulle Chanelle aan monitors koppel om haar suurstofvlak, hartklop en bloeddruk te meet. Chanelle kry ook onmiddellik bloed.

“Gee haar minstens twee sakkies om hart- en longversaking te voorkom,” sê die een dokter aan die verpleegster.

Chanelle lewe nog, net-net. Nou moet sy haar in haar kollegas se hande laat.

Uitgemergel loop Stella uit. Sien skaars die aktiwiteit om haar raak. Dalk was sy nét betyds. Dalk sou Chanelle gesterf het as sy nie mond-tot-mond-asemhaling toegepas het nie. Dit was al waaraan sy in daardie kritieke minute kon dink. Watter ramp sal dit nie wees as Chanelle ná al die teenspoed boonop sterf nie.

Waar is die verbrandse Janus? Die oorsaak van alles.

Haar ma het Chanelle se ouers seker laat weet. Hulle sal groot skrik.

En die arme klein Leanne wat alles moes aanskou!

Op daardie oomblik verafsku sy Janus soos nooit tevore nie. Hy het gevlug en sy ontstelde vrou agtergelaat. Pleks hy haar bygestaan het. Probeer vergoed het vir die groot skok wat sy gekry het. Sy is reeds ’n neurotiese geval. Maar nee, hy voel natuurlik te skuldig.

Hoe lief sou hy vir sy Pretoriase minnares wees? Sal hy haar ooit wil prysgee?

Sy gaan staan buite in die vars lug. Bel gou vir Leonie: “Jong, hier het ’n vreeslike ding gebeur. Chanelle het haarself probeer doodmaak. Cover asseblief vir my. Ek vertel jou alles sodra ek by die spreekkamer kom.”

“Liewe genade. Ek maak so. Vat jou tyd.”

Stella lui af, maar staan met haar foon in haar hand. Sy voel asof ’n bus oor haar geloop het.

“Hallo, wat gaan vanoggend hier aan?” vra ’n diep stem.

Vervaard kyk sy om. Arend Barnard, van alle mense, staan daar in ’n blou langbroek en wit hemp en lyk onmoontlik aantreklik. Sy gesig is besorg.

“Chanelle, my skoonsuster, het ’n oordosis geneem … sy is so pas opgeneem,” blaker sy uit. Haar stem knak en sy sluk hard aan die knop in haar keel.

Hy kom staan voor haar en tot haar verbasing sit hy sy hande op haar skouers en druk saggies. “Sy leef darem, nè?” sê-vra hy simpatiek.

“Ja, hopelik.”

Sy diep, donker oë maak haar heeltemal week. “Ek het mond-tot-mond toegepas … die ambulans was besonder gou daar … haar lewe het aan ’n draadjie gehang.”

“Gelukkig was jy daar om te help.”

“Dit gaan ’n bietjie rof met ons deesdae. Jy weet seker?” Sou hy die berigte oor Janus se skelmpie gesien het? Hy het seker. Sy kan amper hoor hoe gons die skinderpraatjies.

“Ja, ek het dit agtergekom.” Sy warm hande gly van haar skouers af. “Ek wens ek kon jou nou neem vir tee vir die skok, maar ek moet ongelukkig draf. Daar lê twee operasies voor.”

“Werk jy nou hier by Mediclinic?”

“My praktyk is hier by Mediclinic en by Vergelegen op Somerset-Wes. Ek en Dries Aucamp is in vennootskap. Ken jy hom?”

“Vaagweg.”

Stella se hart is in haar borskas aan die hamer. Sy aanraking was gans te aangenaam. So ontsteld is sy darem nie dat sy dit nié agterkom nie.

O aarde, sy lyk seker vreeslik sleg! Hare deurmekaar. Sy het so vinnig aangetrek, skaars iets aan haarself gedoen voordat sy vir Chanelle gaan help het.

“Stella!” Sy kyk om.

Chanelle se ma en pa kom aangehardloop. Nie ver agter hulle nie is haar ma en pa en Leanne.

“Hier kom die familie,” sê sy. “Die arme mense het hulle natuurlik morsdood geskrik.”

“Is Janus reeds hier?” vra Arend.

“Nee, hy is weg … iewers …”

“Sterkte, Stella. Alles sal regkom,” sê hy en loop vinnig weg.

“Waar is Chanelle?” roep Chanelle se ma. “Waar is my kind?” Dit lyk asof sy net klere aangegooi het. Dié gewoonlik opgetofte vrou, na wie Chanelle aard, lyk vanoggend verfomfaai.

“Sy is by ongevalle, tannie Cherise. In goeie hande. Kom na die wagkamer.”

Sy lei hulle binnetoe.

Arend loop baie vinnig in die gang af. Hy moet gou sy pasiënt gaan sien en dan gaan voorberei om narkose te gee. Vanoggend was hy juis nogal laat en toe haak hy by Stella vas. Hoe verwese het sy nie gelyk nie! Tog, niks doen afbreuk aan daardie natuurlike skoonheid wat hy al die jare nie anders kan as bewonder nie.

Te ryk en te mooi. Dit het hom antagonisties gemaak. Waarom? Omdat sy nog altyd iets in hom wakker gemaak het wat hy nie wou wakker hê nie? Waaraan hy nie wou toegee nie? Maar enige volbloedman sal fisiek tot haar aangetrokke wees. Hy het gesien hoe die seuns op skool oor haar gewedywer het, maar snaaks genoeg was sy nogal afsydig. Verbasend, maar sy is eintlik ’n introvert.

Soms het hy die indruk gekry sy hou van hom, maar sy het nooit met hom geflankeer nie, en hy was beslis nie van plan om iets met haar aan te knoop nie. In elk geval is sy vier jaar jonger as hy en boonop die afstootlike Janus Swift se suster.

Hy is verbaas dat sy nog nie getroud is nie. Dit het gelyk asof Tiaan Rademeyer die man is wat haar gaan opeis. Beter kan sy nie doen nie. Sou die skandes van die Swifts hom nie dalk nou huiwerig maak om af te haak nie? Sy suster is in vennootskap met Stella, maar sy sou nooit kon voorsien het wat alles gaan gebeur nie. Miskien is die Rademeyers tog lojaal en staan hulle Stella by.

Dat dinge nou op ’n streep verkeerd loop met die Swifts, is geen geheim op Stellenbosch nie. Sy ma sê dis al waaroor mense praat.

“Ek het nog altyd gesê hulle vlieg te hoog en Paul Swift is nie regtig so ryk soos hy voorgee nie,” het sy pa net gister gesê. “En daardie seun van hom is ’n rondloper, ’n niksnuts en ’n pierewaaier.”

Dit het Arend van skool af al geweet. Die ene bek en vertoon, maar geen substansie nie. Heeltemal anders as sy suster.

Dit lyk asof die Swifts se ondernemings op ’n bankrotspul afstuur. Korrupsie en oneerlikheid.

Hy kry vir Stella jammer omdat sy deel van daardie familie is en daarom ook onder ’n wolk wat sy seker nie verdien nie. Die skandes en skades oorval hulle, en nou het Janus se vrou probeer selfdood pleeg oor hy ’n minnares het. Hy het die ander vrou seker onderhou en heelwat geld aan haar bestee!

In die wagkamer neem Stella se pa haar eenkant. “Ek is baie kwaad vir Janus. Ek bel en bel, maar hy antwoord nie sy selfoon nie. Hy moet terugkom en sy vrou bystaan. En sy kind kom troos. Ek het al ’n klomp boodskappe gestuur, maar daarop reageer hy ook nie.”

“Ja, hy behoort terug te kom, maar hy doen nie altyd wat hy behóórt te doen nie.” Sy besef haar stem is vlymskerp, maar sowaar, haar broer het nou baie laag in haar estimasie gedaal. Sy dink nie sy sal hom maklik kan vergewe vir die skade wat hy aanrig nie.

Sy wag by hulle totdat die dokter uitkom en sê Chanelle is buite gevaar. “Ons het haar gestabiliseer en sy word goed opgepas in die intensiewesorg-eenheid.”

Die twee ma’s en Leanne huil van verligting.

Stella sien trane in haar pa se oë ook. “Dis eintlik jý wat haar lewe gered het,” sê hy bewoë vir Stella. “Was dit nie vir jou noodbehandeling nie, sou sy dood gewees het voordat die ambulans aangekom het.”

In my drome

Подняться наверх