Читать книгу Laduma vir die liefde - Maretha Maartens - Страница 3
1
ОглавлениеDie sop gis skuimerig en ruik suur. Dis nie eens nodig om daaraan te ruik nie, weet Paula. Die borrels is súúrborrels.
Dis reeds kwart oor een, heeltemal te laat en heeltemal te vroeg. Die vrywilligers is laat en die sokkerkykers te vroeg. Ten spyte van die feit dat die gordyne voor die hoë kerksaalvensters nog toegetrek en die hekke gesluit is, is daar geluide in die skemerdonker anderkant die kombuismuur. ’n Man hoes; ’n baba huil ’n honger huil, maar word gou stil. Miskien druk die ma die kind se mond toe.
Die saal bly donker. Niemand trek die gordyne oop nie. Niemand kom deur kombuis toe nie. Soos wat hulle daar buite kies wanneer hulle gesien wil word, kies hulle hoe laat hulle hier binne gehoor wil word. Hulle het die voordeur nog toe gevind en doodluiters by die sydeur ingekom.
Baie van hulle, weet Paula, sit nou met die rug teen die kerksaalmuur en dut, energieloos van ’n honger wat hulle nie meer voel nie, spiritus- en gomzombies. Sommige lê op die vloer soos wat hulle gereeld op Hoffmanplein of op die sypaadjies in die omgewing van die Klipkerk lê. Hulle weet hulle kan nie weggewens of uitgejaag word nie. Dis koud daar buite, die sokker op die groot televisieskerm begin oor twee uur en die soort kerkmens wat sop en toebroodjies aan die armes voorsien, is dikwels ’n sucker.
Kap-kap, tjop-tjop. Ma kerf verwoed aan die hoop uie op die kombuistoonbank. Volgens haar moet die sous vir wanneer ook al se krummelpap regstaan in die yskas, dis één ding minder om haar oor te bekommer. Wat klaar is, is klaar; môre sorg nie vir homself nie. Nie in ’n gemeente waarvan vyf en sewentig persent van die lidmate ouer as sestig is en die res te besig, te belangrik of te belangeloos vir sopkombuisjoppies nie.
Ma reageer op rou uie soos wat Erika Jooste destyds met haar mangeloperasie op narkose gereageer het. “Veertien is die verkeerde ouderdom vir ’n mangeloperasie,” het Ma nog gesê. “Dit moes gedoen gewees het toe sy drie of vier was. Erika bly maar ’n ongeluksvoël.”
Ongeluksvoël se poot in ’n visblik, dink Paula. En mag Hans de Lange, wat Erika so mooi uit die visblik gehelp het, tot in lengte van dae na visolie ruik.
Ma weet wat uie aan haar doen, maar as daar ’n lang soppoeier-tamatie-en-uiesous vir ’n pot stywepap gekook moet word, wag sy nie tot nog hande opdaag nie. Nee, Ma sal masochisties bly uie kerf tot die dag wanneer die laaste basuin blaas.
Paula sug moedeloos. Véértig liter suur sop. Wat nou? Daar is nie ’n plan B nie.
In die donker weke ná Pa se dood het Ma maar net gedoen wat sy kon. Daar wás beplanningsvergaderings, maar dié komiteelid het ’n huis gaan koop en dáárdie tannie het ’n span osse gaan inbreek. Die notulehouer se rekenaar het ’n virus gehad, en die komiteelid wat sopbene op haar seun se plaas sou gaan haal, se kar is gesteel.
Reël ’n lentetee met ’n TV-sepie-aktrise as gasspreker, en selfs die sestigplussers kry lewe en blougetinte kapsels. Reël ’n maand lange uitreik na spiritusdrinkers, bedelaars en leeglêers, en jy moet ’n werwings- en motiveringsaksie loods om ’n Gideonsbende saamgestel te kry.
Ai tog, ai tog, Mevrou, Dominee se dood was vir ons so ’n groot skok. Maar Mevrou moet weet, ons is hier vir Mevrou. Druk op ons knoppie. Moet ons voortgaan met die sokkeruitreik? Honderd diensbeurte, en ons is so ’n klein gemeente? Sjoe, Mevrou, ou Doom het ’n groot hap afgebyt. Maar so het ons hom geken, ’n idealis. Ek moet net deur my dagboek gaan, ek sal Mevrou laat weet.
Die lewe gaan voort, Mevrou. En ons as Begrafniskomitee hét ’n goeie job van die teeskinkery met Doom se begrafnis gemaak.
Paula het die agenda van die laaste beplanningsvergadering gesien. Ma is nie een vir rekenaars nie en die balpuntpen se ink het gelol. Vir die tweede helfte van die agenda het sy ’n potlood gebruik:
9. Groente, mark & Bainsvlei. Wie het bakkie vir oplaai?
10. Rooster kos/sopmaakbeurte.
11. Reël koeldrankbottel-snysessie. Jeuggroepe?
12. NB NB. Kerksaal linkervoor-stoofplaat herstel, dringend. Plus Electrical Services, Elias Grové sy broer vir gratis herstel vra?
13. Grand Hotel en Roosfontein Gastehuis bedanking. Wie skryf?
14. Sleutels kerksaal probleem, koster nie 3X per dag beskikbaar. Verantwoordelike persoon aanwys.
15. Beroep op gemeente om in te skakel.
16. Jak 2: 15-17 (lees vir vergadering): Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
17. Datum van volgende vergadering.
18. Afsluiting met gebed.
Arme, arme Ma.
Wat hier gebeur, is genade. Wat nié gebeur nie, is soos wat dit maar in die kerk gaan.
“Ma,” sê Paula, “kom ruik hier. Dié sop is suur.”
Daar was al beter oomblikke vir dié soort aankondiging gewees. Jo Rall staan met ’n nat kombuisvadoek teen haar gesig gedruk. Sy het haar bril afgehaal; sy baklei teen die uietrane.
“Nonsens,” stry Jo. “Hoe kan dit suur wees?”
Sy dwing haar oë oop en plak die vadoek gesteurd langs die rol toiletpapier neer wat sy nou al jare lank by elke uieskilgeleentheid byderhand hou en per sessie byna volledig opgebruik. Sy skeur ’n stuk toiletpapier af, snuit haar neus in die lang snesie, sit haar bril op en beruik die sop.
“Waar val jy nou uit, Paula?” frons sy. “Hierdie sop makeer absoluut niks.”
Sy draai om, snuif en snuit weer en reik na die groentemes.
Jou ma stry uit gewoonte of bygelowigheid, het Pa altyd gesê. Of van pure stres.
“Ma,” sê Paula, “Ma is in ontkenning.”
Kap-kap, tjop-tjop.
Jo Rall kyk op, ooraktiewe traankliere opnuut geaktiveer. “Moet dit nie vir my moeilik maak nie, Paula.”
Gee my krag, dink Paula, maar sy hou haar gesig neutraal.
“Ma, ons het nie ’n keuse nie. Ons moet dié sop weggooi. Dit gis. Ons gaan die mense siek maak.”
“In hierdie plek,” ruk Ma haar op, “het ons nog nooit ’n mens met ons kos siek gemaak nie.”
Die kerksaal anderkant die muur raak voller; tradisionele selfbeheersingstegnieke kan wag. Paula tel net tot vyf.
“Ek en Lalla het altyd vir mekaar gesê Pá is dwars en bekonkeld, maar Ma is nou …”
Hulle kyk mekaar verskrik in die oë. Paula weet sy het ’n grens oorgesteek. As jou pa pas begrawe is, is hy ’n heilige. Dan rook hy lankal nie meer ’n skelm sigaretjie en steel hy nie malvapoeding uit die yskas wanneer hy in die voordagure met die begrafnispreek worstel waardeur die naasbestaandes van ’n suinige ou helleveeg stigtelik vertroos moet word nie. Dan sit hy op hierdie oomblik – te oordeel na Ma se verwytende kyk – in regskapenheid in die geselskap van Pelagius II, die Heilige Ursus en ander wat op aarde uitgemunt het in heroïese sedelike deug.
“Dis hotélsop,” stry Jo oplaas. “Sal hulle nou suur sop aan hotelgaste bedien?”
Dis oorskietsop, wil Paula sê. Dit ruik soos siekte. En ek is lankal nie meer ’n kind nie. Ek is verantwoordelik vir die opleiding van drie en vyftig volwasse verstandelik gestremde mense. Ek laat hulle bemarkbare produkte maak; ek bemark hulle produkte. ’n Artikel oor dit wat ek hulle in Horison se werkswinkels laat doen, het in Sarie verskyn.
Gedurende ons week lange winter-expo sorg ek dat ons kliënte sop en pannekoek kry. Dan werk ék ook elke dag met groot potte sop. Goeie sop ruik goed en onbruikbare sop ruik soos hierdie pot voor my.
Sonder Pa is Ma broos en verward. Hy was ’n moeilike man en hy het haar dikwels teen die mure uitgedryf, maar sy het nooit só gelyk nie, so verlate en onseker.
“Boontjies gis mos maklik, Ma,” sê Paula sag. “Daar is dalk net te veel boontjies in dié sop. Het Ma se helpers al die pap gebring? Indien wel, sal ek Ma met die sous help. Dan bedien ons pap en sous in plaas van sop.”
Jo ruik weer aan die sop. Sy sug diep. “Wie, dink jy, sou pap gemaak het? En ons twee kan dit nie nou doen nie, dit gaan die hele program deurmekaargooi. Dis buitendien te laat, ons het te min tyd. As ons stywepap of krummelpap wil maak, het ons ten minste –”
“Nou tóé,” wysig Paula die voorstel, “ons kook nog ’n pot sop. Koolsop is een-twee-drie gaar. Ons het kool, daar is twee sakke aartappels in die spens. Ma het klaar genoeg uie gekerf. Voor die sokker se eindfluitjie blaas, het ons weer sop.”
“Dit sal chaos wees,” kla Jo. “Die kool is nie vir vandag bedoel nie. As ons dit nou vir nuwe sop gebruik, is ons môre op die heilige sabbat in die sop.”
“Weet Ma,” sê Paula, “as ek Ma nie so jammer gekry het nie, het ek nou gesê Ma is snááks.”
“Ek probeer nie snaaks wees nie.”
Byt op jou tande, Paula. Ma se oë is vogtig, maar dis nie uietrane nie.
“Ná die sokker,” sê sy gerusstellend, “klim ek op die telefoon en begin bel vir nog skenkings. Dis sommer twak dat Ma so moet staan en naels kou.”
“Wat laat jou dink dat ek naels kou?”
Blaps. Ek het nie uitmekaargeval nie, Paula. Sien dit tog raak: ek is nog ek. Ek cope. Ek móét cope, want jou pa is nie meer hier nie.
“Môre se reëlings is in plek, om mee te begin,” begin Jo opnoem. “Tannie Faith-hulle maak toebroodjies vir môremiddag, en vir môreaand het ek die Roosfontein Gastehuis gevra om vir ons iets soos marog te kook, sommer spinasie met aartappels en uie.”
“Hoe het Ma dít reggekry?”
“Die De Leeuws het ’n groenteplaas by Bainsvlei; hulle kweek spinasie.”
Paula weet: haar ma voel soos ’n halwe mens, maar van hierdie laaste projek in die gemeente gaan sy ’n sukses maak.
“Ma verdien ’n medalje,” bemoedig sy. “Kom ek maak vir Ma ’n lekker koppie tee. Ontspan!”
Sy skakel die urn gemaak opgewek aan.
“Dis cháos, Paula,” jammer Jo steeds. “As ons nóú sop begin kook, sal ons ekstra aartappels ook moet kry.”
Paula tel die groot suur pot aan sy handvatsels op en dra dit na die toonbank by die agterste kombuisdeur. “Dan kry ons ekstra kool én ekstra aartappels, Ma. Kom ek sê vir Ma: as ons sukkel om dit uit die gemeente te kry, ry ek Fruit & Veg toe en koop dit uit my eie sak. Of ons bel die man van die gastehuis en vra vir meer spinasie. Ek wed Ma: die vensters van die hemel sal oop –”
Iemand draai van buite af die deurknop en die sydeur van die kombuis gaan stadig oop.
“The secret entrance of my youth,” sê ’n opgewekte stem. “The parson’s daughter and I often slipped in through this back door to pinch vetkoek or koeksisters. Okay, you have a quarter of an hour to shop for souvenirs. While you are at it, I’ll enquire within. Maybe, if we’re lucky …”
Kan ’n swaar pot suur sop in die lug hang? Dit kan. En terwyl dit hang, kan dit die parson’s daughter wat dit aan die handvatsels beethet, op een plek vaspen. Sy sou Hans de Lange se stem tussen tienduisend ander raakgehoor het.
Hy staan die deuropening vol.
“Hans!” hoor sy haar ma agter haar sê. “Wat maak jý hier?”
Paula sit die pot met ’n slag op die agterste toonbank neer. Die suur sop spat met die langsaamheid van materie in die tussentoestand tussen vloeistof en vaste stof. Sy kry daarvan op haar trui en hande.
Hy is net so stomgeslaan soos sy.
Sy tas na ’n vadoek, ’n stoflap, enigiets waarmee sy die sopspatsels kan afvee.
Hy staan asof sy skoensole aan die deurdrumpel vasgegom is. “Paula?”
Sy bewerk die blerts sop op haar trui, wáármee weet sy nie.
Ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het … Ek sou weggevlieg het, voor die storm uit, weg … Oh, for the wings, for the wings of a dove …
“Hierso,” sê Hans de Lange. “Vat liewer ’n vadoek.” Hy het ’n vadoek van die droograk afgeruk; hy hou dit na haar uit.
Sy skud haar kop. Nee, dankie.
“En nou, Hans?” hoor sy Ma vra.
Paula kry haar stem terug. “Lós, Ma.”
Agter oordadige verbasing, het Pa altyd gesê, sit daar meestal ’n skema.
Hans de Lange is nie oordadig verbaas nie. Hy is vaal geskrik en verward. En hy stamel.
“My ma het dan … vir my gesê jy’s Port Elizabeth toe om vir jou … ’n syspanmotorfiets te gaan aanskaf, Paula. Ek kon nie glo wat ek hoor –”
“Paula wás van plan om hierdie week te gaan,” val Ma hom in die rede. “Maar daar was nie ’n enkele plek op enige vlug PE toe nie, jy weet self hoe dit met die Sokkerwêreldbeker gaan. Nie dat ek spyt was nie, want ek wou hê Paula moes weer goed dink of sy regtig haar swaarverdiende geld op ’n mótorfiets –”
“Ma,” keer Paula.
“Goed, goed. Jy hoor dat ons nie veronderstel is om op die detail in te gaan nie, Hans,” kwetter Jo. “Maar jy ken ons Ralls. Jy kan jou seker indink watter botsende emosies daar weer onder daardie pastoriedak was.”
Asof hy teruggekeer het uit die ver land, die verlore seun, maar in die veldklere van Afrika, dink Paula vererg.
As Hans woorde uit die ver land saamgebring het, sluk hy hulle weg.
“Ek ry nou maar volgende week met die motor en ’n sleepwaentjie,” sê Paula. Iéts moet sy sê.
“Ek weet nie wat die ergste is nie,” sê Jo. Sy praat te vinnig; haar wange is vlamrooi. “Paula alleen met ’n syspanmotorfiets op die lang pad tussen PE en hier, of Paula wat ’n syspanmotorfiets op ’n sleepwa sleep.”
Hans lyk verwilderd.
“Maar alles het toe uiteindelik ten goede meegewerk,” stoom Jo senuweeagtig voort. “Niemand in die gemeente het verwag dat hier elke dag so baie mense sou kom sokker kyk nie. Dis baie monde om te voed. Ek het nie besef hoe nodig ek Paula se hande het nie.”
“En Paulie hét handige hande,” loop Hans op eiers.
Paulie. Honger en vuur, Paulie, Paulie. Vuur in sy asem, vuur in sy fluistering. Ek wil jou hê, Paulie. Ek en jy, net ek en jy. Ek wil jou hê, kom ons trou en trek in ’n woonstel in. Dit kan maar ’n klein troue wees, almal weet eerstejaars het nie geld nie. Ons hóéf nie baie goed te hê nie. ’n Ketel, ’n toaster, ’n braaipan, ’n bed en twee of drie stoele. Kom ons trou in die Septembervakansie, dan gaan honeymoon ons in my ma-hulle se strandhuis.
Vuur in die woord “honeymoon”, sy asem vinnig, sy oë by voorbaat brandend. Sy ouers se vakansiehuis kon maar in die middel van die Mandela View-blikhuisbuurt op die rand van die stad gestaan het, dit sou ewe goed gewees het. Wie vra vir ’n see? Wie soek ’n strand as jy net vier mure en ’n deurslot nodig het?
Hulle sou die gordyne toetrek, die deur sluit en al die dae van hulle wittebrood net liefde maak, slaap, appels eet, tande borsel en weer liefde maak. Vir hulle wittebrood sou hulle so min nodig hê: ’n boks appels en ’n kissie druiwe, tandeborsels, tandepasta.
“Hoekom verlei jy my so?” het Hans gereeld gevra nadat sy tande geborsel het. “Ek is mal oor jou asem, jy moet altyd dié tandepasta gebruik.”
“Ons moet net nie gou kinders kry nie,” het sy haar één voorwaarde in die tyd van hulle trouplanne aan hom uitgespel. “Ons moet klaarmaak met ons studies, ’n inkomste kry.”
“Ons moet, ja,” het hy saamgestem. Verliefdes stem immers oor die meeste dinge saam.
Ons, dink Paula bitter. Ons was vuur vir mekaar en saambly was nie ’n opsie nie. Ons het in ons eerste jaar op universiteit meer oor trou en gesinsbeplanning as oor die akademie gepraat. Ons sou ’n woonstelletjie huur, sommer ’n eenmansplekkie. Ons sou die Pil gebruik, één bekommernis minder vir my pa-hulle.
Hulle ouers aan weerskante van die pastoriemuur sou die stuipe gekry het as hulle moes weet waaroor Paula en Hans aan die begin van hulle eerste jaar op universiteit gepraat het. Hulle medestudente was besig om joolvlotte te bou; hulle twee was nie náby die vlotte nie.
“Eers net ons twee, net ek en jy, eers graadvang en werk kry. Maar die dag as ek my aanstellingsbrief het, los jy die Pil.”
Sy het geskrik. Iets was anders. Hy was in ’n plek vóór of ná vuur en verbode vrugte. “Hoekom sê jy so?”
“Ag, jy weet tog. Dis jý wat my gespot het oor Billie Boelie.”
“Billie Boelie? Ek het skoon van hom vergeet!”
“Ek het hom in ’n boeliestem laat praat. Hoe oud was ek toe? Seker so vyf of ses. Billie Boelie was dáár as ek hom nodig gehad het: ‘Kan ek iets vir jou doen, Hans?’ … ‘Ja, Billie Boelie, ek wil hê jy moet vir Muff keer as hy teen my opspring’ … ‘Hou jy dan nie van honde nie, Hans?’ … ‘Nee, Billie Boelie, ek hou van katte’ … ‘Hel, Hans, jy moenie dat jou pa dit hoor nie, dan gaan hy sê jy’s ’n dogtertjie in panties’ … ‘Dis hoekom jy vir Muff moet skop as hy teen my wil opspring, Billie Boelie. Asssebbbliefff …’ Jy was aan julle kant van die heining, jy’t afgeluister, toe skree jy skielik: ‘Daar ís nie ’n Billie Boelie nie, whê-whê. En ek is nie bang vir Muff nie, whê-whê. Jy ís ’n dogtertjie in panties!’ Ek het my byna natgepiepie, so min het ek dit verwag. Jy was ook maar lekker gemeen toe jy klein was.”
Sy het stywer teen hom aangenestel, berouvol. “Ek was. Ek was ’n pyn in die nek. Eintlik was dit sad dat jy net vir Billie Boelie gehad het. Oukei, ons kan sommer drie laaities hê, dalk vier. Dan kan ons ’n hond ook aanhou. Viér laaities sal een Muff op sy plek kan hou.”
Hy was steeds in die plek vóór of ná passie. “My laaities sal altyd iemand hê wat goed saam met hulle doen, iemand wat saam met hulle kan weggaan.”
“Weggaan?”
“Boomhuis toe. Garagedak toe. Enige plek op die werf waar hulle húlle ding doen en …”
“En nie alleen is nie?”
Hy het geknik. Was daar ’n bitter trek om sy mondhoeke?
Later, op ’n ander dag, het hy iets laat val, net ’n enkele stukkie van die dowwe legkaart van ’n glanslewe waarin kinders nie hoort nie. “Ek was nog nie in die skool nie, toe vind ek uit dat ’n huis vol weerklanke raak as jy alleen daarin is. Dat eggo’s soos tennisballe is. Ek het baie keer in die gang gestaan en skree, dan spring my stem van die een muur na die ander.”
“Jy was ’n anderster outjie. Ek wonder wat jou ma sou gesê het as jy vir haar sou sê sy moet koes vir die eggo’s, hulle spring soos tennisballe.”
“Jy het nie geluister nie. ’n Huis raak vol eggo’s as ’n kind alléén daarin is. Ek was negentig persent van die tyd alleen in die huis.”
“Maar Marta was tog –”
“Komaan, Paula! As ’n mens nie meer in nappies is nie, hoef niemand meer jou gesig af te vee nie. Dan hoef niemand meer aan jou te raak nie. Marta kon in haar kamer gaan slaap of teen die muur op die sypaadjie met haar vriendinne gaan kuier.”
Dié soort gesprek het Paula ontstig. Sy wrokkigheid was soos ’n krat vol rommel: afbeenspeelgoedperde, gebreekte Lego-blokkies, die hardgeworde reste van gemorskos, ou selfone, duur batteryspeelgoed met pap batterye, verslete drafskoene, verkreukelde toppies, bierblikke en verdagte leë plastieksakkies en koeldrankstrooitjies, skeermeslemmetjies en stukkies bladaluminium.
Daar was véél meer in die rommelkrat as wat enigiemand kon raai.
Pa het haar gewaarsku teen alles wat nog uit die rommelboks kon kom. “Jy ken hom goed, my kind,” het hy eenkeer vir Paula gesê. “Julle het saam grootgeword. Maar Hans kom uit ’n ander soort huis as jy.”
“Jy het darem grootgekom,” het sy Hans tydens daardie gesprek probeer uitlok uit wat ook al in hom gebroei het. “Jou ma is lief vir jou; jy moet hoor hoe sy oor jou spog.”
Hy het sy lip opgetrek, steeks perd in sy eie donkerte. “Dankie dat jy dit vir my sê. Ek sal vir haar sê sy moet iets op Marta Motaung se spaarrekening inbetaal.”
“Have a heart, Hans!”
Hy het haar skielik stywer vasgehou. “Dit sweer ek, Paulie: die dag as ek mý kind in ’n koue gang kry waar hy na eggo’s luister, loop ek voor ’n trein in.”