Читать книгу Laduma vir die liefde - Maretha Maartens - Страница 4

2

Оглавление

Paula voel asof sy haar kop moet skud om seker te maak wat die werklikheid is. Nou staan Hans hier in sy kakieklere voor haar ma. Nou verduidelik hy asof daar nie drie jaar tussen toe en nou lê nie.

“So help ek my ma toe gisteraand in Marta se plek toebroodjies maak, Mevrou, want Marta is na ’n kleinseun se begrafnis. Die skaapbredie is in die oond …”

Sipho? Marta was swart van skok toe hy met die Nuwe Siekte plus TB gediagnoseer is. Sy was verpletter toe hy vir haar gesê het die TB-pille maak hom te siek, hy gaan net muti gebruik.

“… en ek is so honger dat ek ’n bees kan opeet, maar Mevrou ken my ma. Die toebroodjies hoort in ’n spesifieke tydgleuf in haar program. Ek vra waar en hoe laat die toebroodjies afgelaai moet word. Sy sê dis eers vir môremiddag as Engeland teen Duitsland speel, maar dis vandag die Lubbes se daknatmaak, hulle het mos ’n huis in ’n veiligheidskompleks gekoop. So weet ek dus nou min of meer alles van Mevrou-hulle se CLAP-projek.”

Ma is klei in sy hande, sy’s broos ná Pa se dood.

“My ma het my vertel hoe Mevrou die mense leer stoelkussings maak. En hoe Paula self die eerste weeframe aanmekaargetimmer het. Toe ek in my kamer kom, lê verlede week se Thorn Xpress daar en dis van voor tot agter vol berigte oor die CLAP-inisiatief.”

Paula se hart keer in haar om. Dan was Hans gisteraand net anderkant die heining, terug in die kombuis waar elke soplepel, elke spaan en elke spatel in die regte volgorde teen die muur hang. Dan was hy gisteraand pens en pootjies en kakieklere en al terug in die Ordelike Sisteem, die trots en pyn van Faith de Lange se lewe. Hoe smartlik was dit nie vir haar wanneer Hansard, haar man, en Hans-Jakob, haar seun, die Sisteem nie respekteer nie.

Hoe dikwels het Paula haar nie soos ’n viswyf oor die detail van die Sisteem hoor skree nie: “Die gou-e kort-steel-tee-le-pels kom hiér, die gou-e lang-steel-tee-le-pels kom in die vakkie langsaan, hoeveel keer moet ek dit nog vir julle sê? Ek wil nie tussen gou-e lang-steel-tee-le-pels rondkrap as ek gou-e kort-steel-tee-le-pels vir die pie-rings van my Royal Al-bert-stel soek nie!”

Die getier is deur kort stiltes onderbreek, want die twee manne het nie hulle stemme verhef wanneer hulle om genade en vergifnis gepleit het nie. Ná die stiltes het Faith altyd weer gegil: “Julle maak my senuwees klaar! Ek is óp van julle, óp. Ek sal ’n Lanor/Zaaner/Zanot (Paula kon nooit die presiese naam van die kalmeermiddel hoor nie) moet gaan drink.”

Hans se ma het kalmeerpille gedrínk.

Dan was Hans gisternag twintig meter van haar af, weer tuis – en ontuis – in die hoekkamer waarna hy aan die einde van hulle graad 11-jaar getrek het, kort ná die breuk tussen haar en Lalla.

Arme Lalla. Sy was mál oor Hans, té mal. Hulle het agt maande lank uitgegaan, Lalla se eerste liefde en eerste verhouding.

Paula was saam met Lalla opgewonde. Jaloers was sy nie, nie tóé nie. Dit was vanselfsprekend dat Lalla eerste ’n boyfriend sou kry; sy was die een wat almal eerste raakgesien het. Toe hulle nog kleuters was, het die gemeente-omies gehurk om Lalla op ooghoogte in die oë te kon kyk. “En wat is dié pragtige dogtertjie se naam? Lalla? Is dit hoe Pappa en Mamma jou gedoop het? Nie? So, jou regte naam is Laurette? Dis ’n besonderse naam. Beteken dit dan nie iets soos ‘wenner’ nie, Dominee?”

“Dit kan wel wees,” sou Pa gesê het. En verduidelikend aan Paula en Lalla: “Ons moet dit gaan naslaan. Oom Bernie dink aan die lourierkranse wat die wenatlete in die ou tyd gekry het.”

“En wat beteken Paula?” het Lalla eenkeer gevra.

Dít het Pa sommer dadelik geweet. “Klein en nederig,” het hy geglimlag. “Soos ons almal in die Here moet wees.”

Ses maande in die Hans-Lalla-verhouding in begin Hans raad vra by Paula. “Alles raak hond vir my as Lalla so overreact. Ons fight basically oor alles. As ek met enige ander girl praat, sê sy ek cheat op haar. Sy sê ek soek cheap girls, ek kyk heeltyd vir blondes. Wat moet ek doen, Paula? Sy’s jou suster: hoe werk haar kop? Lalla is ’n stunning girl, maar …”

Paula het net een keer lamlendig en oorversigtig met Laurette oor haar besitlikheid gepraat. Ná die inleidende sin het die gevaarligte begin flits. Die agterdog in Lalla se oë het net een boodskap uitgespel: Hou jou neus uit my en Hans se sake.

Hans en Lalla se stormagtige verhouding het nog twee maande lank soos ’n skip aan ’n deurgeskifte ankertou rondgeruk en toe op die rotse geloop.

Hans se afsê-SMS aan Lalla het aangekom terwyl Pa afgetrokke voor hom sit en uitstaar het en Ma besig was om kos in te skep. “Kom ons eet nou eers, Lalla,” het Ma nog gefrons. “Ons kan nie langer toelaat dat julle selfone die hele ete ontwrig nie.”

“Dis Háns, Mamma,” het Lalla teëgestribbel. “Ek sal net lees, ek sal nie terugantwoord nie.”

Sy kon net sowel gesê het: “Dis mý Hans. En julle almal – Pa, Ma en Paula – weet tog ons verhouding is vir altyd.”

In Paula het dit warm en koud geword. Sy het geweet wat kom; Hans het haar die vorige aand per SMS gewaarsku. Dis nie reg teenoor Lalla nie, het hy geskryf. Ek kan nie two-time nie. Dis bad, maar dis dit.

Lalla het die teksboodskap gelees en so wit soos die servet op haar kleinbordjie geword. Ma het die skeplepel neergesit. “Wat is dit? Wat is dit? Lalla?”

Lalla het asof in stadige aksie van haar stoel opgestaan, die bord met driekwart van haar middagmaal daarop soos ’n diskus dwarsoor die eetkamer gegooi en by die vertrek uitgeloop. Die bord het aan flenters gespat en die herderspastei met ’n skilferkorsdop – haar geliefkoosde gereg – het teen die muur ontplof.

Die slag het Pa uit sy ontydige meditasie oor die Woord, die vorige aand se onstuimige kerkraadsvergadering, rekeninge, nuwe evangelisasie-inisiatiewe of wat ook al, geruk. “Nee, magtig, wat is dit nou?”

“Dis my skuld,” het Paula gestamel. Sy het kamer toe gehardloop, maar die deur was van binne gesluit.

“Lalla,” het sy geroep, “maak asseblief vir my oop. Asseblief!”

Sy het verwag om ’n woedende “Nee!” of stilte as antwoord te kry. Maar Lalla het die sleutel in die deurslot gedraai en die deur woordeloos oopgemaak.

“Ek is jammer,” het Paula by voorbaat gepleit.

“Kom in,” het Lalla onheilspellend sag gesê. Agter haar, teen die oorkantste kamermuur, was daar ’n groot watervlek. Die sonneblom wat Hans ’n week tevore vir haar gegee het, het op ’n nat kol tussen glasskerwe op die slaapkamermat gelê. Sy moes die druiwesapfles wat sy as blompot gebruik het, met blom en al teen die muur stukkend gegooi het.

Die ergste was die oop Bybel. Dit het skeef op Paula se bed gelê, ’n handvol bladsye uit Genesis reeds uitgeskeur en opgefrommel.

“Is jy …” Paula het die Bybel gegryp en dit teen haar bors gedruk. Dit was soos om in ’n brandende huis vasgekeer te wees. Alles was in vlamme: die band tussen hulle twee, gesinsverhoudings, vertroue. Sy was in ’n vlammesee en sy het na haar Bybel gegryp.

Lalla het die Bybel uit haar hande probeer ruk. “Dís wat ek van jou en jou godsdiens dink!”

Sy het skielik omgeswaai, die geel blom bespring en dit tot pulp vertrap. Toe draai sy om, uitgewoed.

“Ek wil jou nie naby my hê nie,” het sy toonloos gesê. “Gaan weg. Jy maak my siek.”

Heel eerste het Lalla ’n skoolsak by die oop deur uitgeslinger. Sy het die deur van die klerekas oopgemaak en klere het deur die lug begin vlieg: bra’s en broekies, die toppies en langbroeke wat hulle oor en weer gedra het, hokkiestokke en muurbalrakette.

Lalla het nie gepraat of geskree nie, sy het gespóég. “Ek het julle gesien toe jy en hy op die sypaadjie praat. Snaaks, ek het gewéét, ek ken ’n scheme as ek een sien. Jy met jou holy holy holy gesiggie. Oh, well, dalk kry die adder wat hy verdien.”

Omdat hulle twee se skoolsakke eenders gelyk het, moes Paula die een wat in die gang beland het teen skemeraand vir Lalla terugneem. Háár sak het nog teen die deur van die klerekas gestaan, onaangeraak.

Nóg Pa nóg Ma het regtig geweet hoe om die situasie te hanteer.

“Maak tog vrede, julle twee,” het Pa streng gesê. “Dis wat die Bybel sê. Wát ons ook al omkrap, ons is nie veronderstel om die son oor ons toorn te laat sak nie. Word toornig, maar moenie sondig nie. Moenie vir die duiwel ’n plek gee nie, kinders.”

Paula het daardie dag besef dat ’n kind sy eie pad kan loop. Dat ’n mens die raad van jou vader kan verwerp. Dat elke mens sy eie pad diep in homself loop. Dat sy en Lalla geloop het waar hulle wóú.

“Hulle kan nie vanaand in dieselfde kamer slaap nie, Herbert,” het sy Ma met Pa hoor praat. “Dis twee honde en dieselfde been.”

“Mag ’n derde op die toneel verskyn en met die been weghardloop,” het Pa gesug. “Maar nou ja, as jy dink óns het dit moeilik … Ek wil nie in daardie mannetjie se skoene staan nie.”

“Ek gaan Paula maar vanaand in die gastekamer laat slaap. Netnou verwurg Lalla haar.”

Hulle het gelag, maar daar is lag én lag.

Enigiemand wat Ma daardie aand hoor lag het, sou geweet het: Oor dié lag is daar iets gesprinkel, iets soos asafoetida oor rys, vleis, pampoen en aartappels.

Ma se lag was met radeloosheid besprinkel. Of met sinisme.

“Moenie lag nie. Moenie op daardie manier lag nie,” het Pa sewe-uur die oggend van Werkersdag, die dag van sy dood, vir Ma gesê. “Ek bedóél wat ek sê. Die Kerk is nie ’n verversingspos waar mense een keer per week kan aandoen nie. Dis nie ’n kitskosplek waar dié wat alles het gou ’n geestelike happie kan kom haal nie. Die Kerk in hierdie land het net bestaansreg indien dit die voete, oë, bene en arms van Christus is.”

“Die Kerk in hierdie land mergel my uit,” het Ma gesê.

“Die Kerk doen wát?”

Ma het hom nie geantwoord nie.

Hy het sy stapklere aangehad, want hy en Evangeli Phindani sou op ’n dag lange gebedswandeling deur die Evangeli se landelike gemeentetjie gaan. “Wil jy nie maar saamkom nie, Paula?” het hy in die waskamerdeur gevra. “Dit sal gaaf wees as jy Elias se vrou kan ontmoet. Toegewyde mens. Sy’s ook ’n onderwyseres.”

Sy het haar wasgoed daardie oggend by die pastorie kom was; haar woonstel se krag was af.

“Ek sou graag wou, Pa,” het sy geantwoord. “Maar ek moet waai: die pretstap by Horison begin al nege-uur.”

“My en Elias se stap is lekkerder,” het hy opgewek gesê. “Ons draai naby Thaba Nchu-berg.”

“Die hele liewe dag lank.” Ma was iewers tussen stilstuipe en verbete baklei. “Ek en jy sou gaan huise kyk het, as ek reg onthou.”

“Ek het gesê ons moet dit dalk oorweeg om te gaan huise kyk. Maar dit was voordat Elias my geskakel en –”

“En jy jou vrou se belange weer op die agtergrond geplaas het. Weet jy wat vandag hier gaan gebeur, Herbert? Hier gaan weer ’n aanloop wees. Jy ry weg. Jy en die Evangeli loop op die vlaktes rond. Ek moet al die voordeurklokkies beantwoord; ek moet brood smeer en tee maak vir dronkies en druggies wat lang kanse met ons vat. Gee jy –”

“Ek het jou genooi om saam te stap. Jy hoef nie die hele aarde se laste te dra nie, my dierbare vrou. Die uitnodiging staan. Dit sal vir my so lekker wees as my vrou saam met my oor die wye vlaktes –”

“Jy weet ek wil nie saamstap nie. En jy weet ewe goed ek kan nie alleen gaan huise kyk nie.”

“Dan weet ek regtig nie,” het Pa tam gesê. “Jy wil nie saamstap nie, jy wil nie by die huis met ’n stroom boemelaars opgeskeep wees nie … Ignoreer dan maar die hekklokkie. Of sê net nee.”

“Gee ’n boemelaar of ’n straatkind die pinkie, dan vat hy jou hele hand en driekwart van jou kruideniersware.” Ma het die vadoeklaai driftig toegestamp. “Wat het vanoggend gebeur? Ons het nie brood vir onsself gehad nie.”

“Ons moet meer brood koop,” het Pa ernstig gesê. “Vyf is te min; ons moet vir sewe of agt begroot.”

“Ek wil nie meer gee en uitdeel nie!” het Ma geskree. “Ek wil ’n lewe hê! My eie lewe!”

Pa het wonderbaarlik kalm gebly. “Ek voel dikwels so, Jo. Maar die Here het tog gesê: ‘Gee julle vir hulle iets om te eet.’ ”

As Ma maar stilgebly het. Maar sy het nie. Sy het skielik gelag, ’n dwars lag waarvoor sy hom nooit om verskoning sou kon vra nie.

Paula keer haar gedagtes met moeite weg van dié pynlike herinnering.

“Ek hét gisteraand lig in die tweelingkamer sien brand,” sê Hans. “Maar moenie vir my vra hoekom ek nie die kloutjie by die oor kon bring nie. Dalk is dit oor ek en my ma gestry het. Sy het gesê Paula gaan ’n motorfiets koop, ek het gesê dis onmoontlik, Paula het in haar lewe nog nooit motorfiets gery nie. Toe praat ons oor Lalla wat in Shenzhen sit en …”

Lalla het in die tyd van die groot breuk geglo dat Hans se skuif na die slaapkamer anderkant hulle muur vooraf beplan was. Dat Paula daaragter gesit het. Hoe dan anders?

Eers verneuk Hans haar met haar tweelingsuster. Hulle kom agter dat sy iets vermoed, daarom stuur hy vir haar die simpelste afsê-teksboodskap in menseheugenis: Lalla RN voel ek dis beter om net BFFL te wees. IMS, Hans.

“Best friends for life se verdomde voet!” het Lalla geskree. “I am sorry se gat!” En sy kon bygevoeg het: Mag die bed in jou nuwe slaapkamer, drie meter van die pastorie se tuinmuur af, vol bedluise wees, Hans de Lange.

Paula het toe ’n ewigheid van twee en dertig dae in die sonnige gastekamer gebly. Lalla het op ’n eetstaking gegaan wat Ma se hande laat bewe en haar traankliere geaktiveer het. Appels het Lalla se stapelkos geword, met wortels vir nagereg. Haar skoolrok het ná ’n maand soos ’n sak aan haar gehang, haar polse het knopperig geword.

Die etenstafel was ’n oorlogsone. Elke soort oorlog is aan daardie ronde tafel gevoer: koue oorlog, stilstuipe-oorlog, guerrilla-oorlog, bosoorlog met mortiere wat onverwags afgeskiet word.

“Ek is nie honger nie. Kan julle nie julle dowe ore oopmaak nie? Ek is net nie honger nie!”

“Ek sit nie langs Paula nie.”

“Kyk, Lalla, genoeg is genoeg. Maak vrede met Paula. Paula, vra vir Lalla om verskoning.”

“Hoe kan Pa dit van my verwag? Het Ma die ander meisies met wie Pa uitgegaan het om verskoning gaan vra? Dis gek!”

“Ek stem met Paula saam, Herbert. Lalla het tog –”

“Kyk, Johanna …” (Ma was altyd Johanna wanneer Pa die duiwel in was vir haar), “as ons oor sekere aspekte verskil, is daar ’n tyd en ’n plek om die verskille te bespreek. Daardie tyd en plek is nie aan die etenstafel nie.”

“Sy hoef nie om verskoning te vra nie, dit sal in elk geval vals wees. Ek wil net nie in haar bakkies vaskyk nie.”

“Hou óp om so kinderagtig te wees!” het Pa ontplof. “Magtig! Hoe moet ’n mens die werk van die Here doen as dit só in jou eie huis gaan?”

“Moenie aanmekaar ‘magtig’ sê nie, Herbert!”

“Dan sê ek bliksem!”

Lalla het soos ’n vegbulterriër vasgebyt. “Pa moes die storie van Judas Iskariot meer dikwels vir Paula gelees het.”

Ma het soms net opgestaan, die kos wat op almal se borde behalwe Pa s’n oorgebly het na één bord oorgekrap, die vuil borde opmekaargesmyt en kombuis toe gegaan. Waar sy sonder taal en sonder woorde teen die kombuistoonbank gaan staan en wanhoop het.

“Jo?” sou Pa dan uit die eetkamer roep. “Ons moet nog dank.”

“My hart is nie vol dankbaarheid nie,” het Ma teruggeskree. “Dank jý as jy so dankbaar voel.”

Slegs die lui van die voordeurklokkie of die onaangekondigde instap en vraende kyke van ’n gemeentetannie kon ’n onmiddellike maar kortstondige wapenstilstand bewerkstellig.

Ma het jare later nog steeds na Lalla se dieet as die migraine-en-slukdermspasmatyd van haar lewe verwys.

Eers was dit tien dae van appels en rusies en kos wat teruggaan kombuis toe. Vier, vyf dae ná die aanvang het Lalla Pa aan tafel gekonfronteer: “Pa maak altyd asof dit so major is om veertig dae en veertig nagte lank te vas. Dit is nie. ’n Mens is net drie dae lank honger, dan begin jy fantasties voel. Ek sal my hele lewe lank net appels kan eet.”

Die fase het aangebreek waarin Ma so gereeld soos die rusies kookwater uit die kombuis-urn in ’n koffiebeker gaan tap en gedrink het. Sy het tóé al die pynlike slukdermspasmas gekry – volgens die jong dokter wat haar behandel het ’n simptoom van erge spanning.

Twintig, een en twintig dae. Pa en Ma staan op skei. Om die huwelik te red kondig Pa drastiese maatreëls aan: “Julle twee maak vrede of ek hok julle.”

“I like, I like,” het Lalla kop in die lug gegryns. “Ek wil in elk geval nêrens heen gaan nie. Ek wil niemand sien nie. Dis Paula en die adder wat dit gaan vóél.”

“Hulle is soos Esau en Jakob nadat Jakob die eersgeboorteseën van Isak gekry het,” het Pa teen die einde van die affêre vir Ma gesê. Sy, Paula, was binne hoorafstand, besig om die budjies in hulle hokkie te diens.

“Asof Hansard en Faith de Lange ’n kind kan grootmaak om tot ’n seën te wees,” het Ma suur gesê. “Die een wat laaste lag, mag dalk uiteindelik die lekkerste lag.”

“As ons dit net kon bekostig om die tweeling Stellenbosch toe te stuur …”

“Om nuwe vriende te maak? Jy mors jou asem en jy weet dit.”

“As ons hulle saam by die diep kant kon ingooi, sal hulle gou weer ontdek dat bloed dikker as water is.”

“As ek ’n loopbaan gehad het, sou ons dit kon doen.”

Die óú verwyt. As Ma lank gelede die roeping gehad het om ’n pastorievrou te wees, het sy die roeping verloor.

Kort voor hulle matriekeksamen is daar ’n dokumentêre reeks oor die Tweede Wêreldoorlog uitgesaai. Pa het huisbesoekskuiwe gemaak om dit te kon kyk; nege-uur Woensdagaande was hy voor die TV in die gesinskamer waar die gesin dalk een keer per jaar saamgekuier het.

Pa was gaande oor dié dokkie. Ou mans het voor wanordelike boekrakke of in rolstoele van oorwinnings en nederlae sit en vertel. Een van hulle het net ’n halwe gesig gehad; die ander helfte was ’n saamgetrekte knoets. Skrapnel het die bloedvate en senuwees, weefsel en stukkies been wat daaronder was, uitgeruk. Waar die neus was, het kraakbeen en weefsel gesmelt en soos plastiek in vuur verskrompel. ’n Grys vlies het soos ’n swam op die irislose oog gesit. As daar nog ’n venster na binne, ’n kornea, was, het die oorlogswam dit volledig toegegroei.

Een aand toe Paula deur die gesinskamer geloop het om vir haar ’n kaasbroodjie in die kombuis te gaan maak, was die man met die swam op die oog aan die woord. Hy het vertel hoe hy en sy makkers onder aanvoering van generaal Neil Ritchie landmyne in Noord-Afrika geplant het. Uiteindelik is hulle in die Slag van Gazala verslaan.

“We lost the harbour of Tobruk,” het die ou man met die eenkanttoekyk van ’n blinde wat homself nooit in die spieël sien nie, gesê. “We shouldn’t have. Ritchie just didn’t make the grade: he failed to exercise strong command over the troops.”

“You lost the harbour of Tobruk. You also lost your eyesight,” het die onderhoudvoerder gesê. “When you look back on the war now, what do you think? Was it worth it?”

Paula het net die vraag gehoor, nie die verminkte ou man se antwoord nie. Maar sy sou ook oor oorlog kon praat, sy het nou ook ondervinding daarvan gehad. Die veldslae tussen die mure van die ou pastorie was ongedokumenteerd, maar erger.

Oor en weer het sy en Lalla op mekaar bly skiet. Die naaste beskikbare aanvalswapens is nadergepluk: kleinkalibergewere, snelgewere, handkarabyne, dubbellope. Sy en Lalla het negeponders en mortiere gegooi en op mekaar afgeskiet. Hulle het mekaar se landmyne afgetrap.

Ook Pa en Ma het gereeld teenoor mekaar stelling ingeneem.

Hulle was almal verloorders. Hulle het stukke van mekaar weggeskiet: weefsel, onskuld, respek, rooibloedselle, tweelingbloedselle.

Was één verhouding dit werd? Was Hans de Lange dit werd?

Laduma vir die liefde

Подняться наверх