Читать книгу Laduma vir die liefde - Maretha Maartens - Страница 5

3

Оглавление

“Dit voel nou byna soos die ou tyd,” sê Ma vir Hans. “Asof daardie tye ooit kan terugkom. Ai, Hans. Julle drie in die twee kamers aan weerskante van die pastorie se tuinmuur, wie sou nou ooit kon dink dat julle paadjies in soveel verskillende rigtings sou loop? Jy weet dat Lalla weer ’n baba het, nè? Dis weer ’n dogtertjie, gelukkig nie ’n koliekkind soos Claire nie.”

“My ma het vir my van Lalla geskryf,” sê hy. “Geluk met die nuwe kleinkind, Mevrou. Ek moet erken: my kop is vol bos, ek leef mos in die bos. Ek moes op die internet gaan kyk waar Shenzhen is. Ek het nie eens geweet daar bestaan so ’n plek nie. ’n Skande. Geniet Lalla dit daar?”

“Nee,” sê Ma.

Hy wag dat sy moet verduidelik. Hy luister asof hy alles wil hoor, maar die meedoënlose aantrekkingskrag tussen hulle twee is presies dieselfde, weet Paula. Dis soos altyd die hele plek vol.

“Ek dink my kind is verskriklik eensaam,” sê Ma. “En bang. Lalla is nie een vir babas nie. Sy is bang hulle gaan dood, sy glo nie in haarself nie. Walter, weer, is in sy element. Ons skype nie baie nie, maar as ek en hy praat, praat hy net iPods, iMacs, iPhones en ander aai’s. Hy sê Shenzhen wemel van die intellektuele. Dis mos asof doktersgrade daar van die bome afgepluk word. Noudat ek daaraan dink: ís daar ooit bome? Arme Lalla, sy’s heeltemal uit haar diepte. Dis ’n vreemde plek, klink dit vir my. Daar is nie juis ’n middelklas nie. Jy het die handearbeiders, dié wat snags slote grawe en kabels lê, en die intellektuele.”

Magneet en magneet, positiewe pool en negatiewe pool. Ek en Hans de Lange is in mekaar se kragveld, dink Paula. Die magnetiese noordpool van ’n kompas wys na die magnetiese suidpool van die aarde. Die kompasnaald kan nooit na die weste of ooste draai nie.

“Lalla,” sê Ma van waar sy buite die kragveld staan, “hoort iewers waar sy saam met ander middelklasma’s kan wees. Doodgewone sout-van-die-aarde-vroue wat partykeer saam koffie drink, hulle probleme met mekaar bespreek en hulle kinders saam laat speel. Lalla kort ander jong ma’s wat haar kan gerusstel. Nou sit sy driekwart van die tyd honderde meters in die lug in ’n glaskas met haar twee en Walter se twee uit sy vorige huwelik. Sy maak haarself dinge wys – dat Emmatjie nie in haar oë of in haar gesig kyk nie, sulke soort dinge, bid jou aan. En dis nou die reënseisoen daar; dit kan nie maklik vir haar wees nie. Lalla was nog nooit op haar beste as dit reën nie.”

Die dag toe sy en Lalla vrede gemaak het, het dit hard gereën, onthou Paula. Die dak het gelek, soos altyd. Daar was plastiekskottels en leë blikke in die gang: rooies, wittes, groenes en gryses.

“Hierdie huis se plafon val nog in,” het Ma radeloos gesê. “Bel die voorsitter van die eiendomskommissie, Herbert. Nooi hom vir koffie en pannekoek. Maar hy moet nóú kom, dan kan ek ’n emmer waarin die water drup voor hom neersit. Dís hoekom ek voel ons moet ons eie huis kry. Hou jou voete onder die tafel van die kerk en jy sit hiérmee.”

Oorlogswonde en verlies van plasma en rooibloedselle ten spyt, bly tweelingbloed dik, ondraaglik dik. Dit was sý, Paula, wat by Lalla gaan pleit het om weer tot die groot, koue tweelingkamer toegelaat te word. Lalla was nie op haar beste nie, maar dalk was genoeg ook vir haar genoeg.

“Oukei,” het Lalla suur gesê. “Maar jy praat nie een woord met my oor Hans nie. Nie ’n wóórd nie. Jy smirk nie as jy en hy op jou selfoon chat nie. Ek wil niks van hom weet en niks van hom hoor nie. Ek weet nie hoekom ek vir jou ja sê nie.”

Lalla het ’n kop langer gelyk toe sy die deur verder ooptrek, ’n optiese illusie. Die kamerlig was aan, want op bewolkte en reëndae was die tweelingkamer ’n grys spelonk. Lalla se oop skoolsak, skoolklere en kleurbaadjie het in ’n bondel op Paula se bed gelê. Die vloer was vol lêers, papiere en skoene.

Posters wat Paula nog nie tevore gesien het nie, het teen die kamermure gepryk: Dié wat nie in evolusie glo nie, het dit die nodigste. Michael Jackson, King of Pop, London – Michael Jackson as Moonwalker in ’n balk wit lig. Háár posters – die Ons Vader-gebed, Dit het Ek vir jou gedoen, wat doen jy vir My en haar handgemaakte Sometimes God calms the storm, sometimes He lets the storm rage and calms his child – was nie meer teen die kamermure nie.

Sy het niks daaroor gesê nie. Tweelingbloed is ondraaglik dik.

Die tweelingkamer was die vertrek met twee uitsigte. Anderkant die diefwering voor die kamervenster het die oninspirerende deel van die werf gelê: ’n fokuslose plaat grondbedekkers, twee lukwartbome waarop die vlermuise saans toegesak het, ’n roesbruin muur waarteen klimplante uit ’n buurerf voel-voel met doringagtige kloutjies afgekruip het. Wanneer daar soms ’n tennisbal uit die agterste buurerf in die swartgroen blaresee buite die venster beland het, móés hulle eenvoudig om die huis stap om dit oor die muur te gaan gooi. Dit het te geel gegloei.

Toe Hans en Lalla begin uitgaan het, het hulle die klandestiene uitsig ontdek. Voorheen het niemand ooit die luikvenstertjie bo Paula se bed oopgemaak nie. Een kyk boontoe en die rede was duidelik: die suidewind het stof en roet teen die suidemuur van die huis gesmyt sodat die ruit smerig vuil aan die buitekant was. Die trapleer in die garage was te kort en alle pogings om die venstertjie van buite af te was het misluk.

Verliefdheid genereer of ontsluit kreatiwiteit. Hulle het ’n stoel en ’n omgekeerde laai op Paula se bed gepak en Lalla het die stoel as wankelrige steierbok vasgehou. Met die laai as steierplank het Paula die vensterwaswerk gedoen.

Deur dié loergat in die suidemuur van hulle kamer kon hulle ’n gedeelte van die buurtuin, die De Langes se swembad, die hoek van die patio, die hoek van die boonste balkon en twee van die vier slaapkamervensters aan die noordekant van die herewoning sien.

Wanneer Lalla tennisballe teen die oefenmuur aan die ander kant van die heining hoor klap het, het sy in kaartmannetjiestyl op Paula se bed gespring.

“Oe, daai bene,” sou sy swymel. “Hy’t sy tennis-shorts aan.” Of: “Hy oefen sonder sy hemp, sy bolyf is kaal …”

“Dan moet jy afkom daar. Dis obseen om kaal ouens af te loer.”

“Wat is obseen?”

“Slymerig.”

“Jy sê dit nie weer nie. Ek is nie slymerig nie. Jy sê dit nóóit weer nie.”

“Oukei, oukei! Loer soveel jy wil!”

Hans het nooit van die loerdery geweet nie, want die lelike vibracrete-heining tussen die twee huise was te hoog en te oorgroei van plumbago en parasitiese rankplante.

Toe, terwyl Paula in ballingskap in die gastekamer was, kry Faith de Lange ’n span bouers om mure uit te breek, twee nuwe vertrekke aan te bou en die mure van haar huis loodgrys te verf. Hans kry ’n lessenaar waarvoor die moderator van die Algemene Sinode sy voortande sou gee. Faith hou toesig terwyl die afleweringsmense die swaar swarthoutlessenaar by die slaapkamer se buitedeur indra. Sy wys vir hulle waar om dit te plaas. Die middag toe Hans van die skool af by die huis kom, tref hy ’n direkteurslessenaar naby die venster in sy nuwe slaapkamer aan.

“Soos ’n … bus,” het hy die lessenaar die volgende dag aan Paula beskryf. “Ek weet nie hoe my ma se kop werk nie. Hoe kan my pelle in so ’n plek kom chill?”

“Sy wil seker maar vir jou die beste gee, oor jy hulle enigste kind is.”

Sy mondhoeke het net-net geroer.

’n Bleeksiel met ’n passie vir boeke was Hans nooit. My aandagafleibare, hiperaktiewe boyfriend, het Paula dikwels in die derde kwartaal van hulle matriekjaar gedink. Dit was nag in Hans se lewe: strafkamp by lamplig.

Nou was dit sý wat op die bed onder die hoë ventilasievenster gespring het, maar net wanneer Lalla nie in die kamer was nie. Met die kamerlig afgeskakel kon sy sy silhoeët soms agter die ligte gordyne in sy helder verligte kamer sien. Met die blad van die groot lessenaar tussen hom en die venster het hy vreemd ingehok gelyk.

Die eerste keer toe Lalla haar op die bed by die luikvenster aangetref het, het hulle albei versteen.

“Ek glo dit nie,” het Lalla gesê. “Wie is jy regtig?”

Dit was ’n vraag oor húlle twee, oor haar en Lalla, oor susterskap.

Paula het soos ’n bang kleuter van die bed afgespring. “Jammer,” het sy gemompel. “Dit was stupid van my.”

Lalla het die kamerlig aangeskakel, ’n blerts wit skuimspoeg op Paula se duvet gespoeg en ook die volgende oggend nie ’n woord met haar gepraat nie.

Lalla het haar daarna wéér uitgevang. Die hemel weet, dit was nie moedswilligheid of vermakerigheid nie. Sy en Hans was ferromagnetiese elemente met ’n muur tussen hulle: yster en nikkel. Of kobalt en gadolinium.

Dié keer het Lalla langs haar op die bed gespring en die venster oopgeruk. Sy het Paula teen die muur onder die venster vasgedruk, haar linkerhand se wys- en middelvinger teen haar lippe gedruk en skril deur die oop luik en oor die heining tussen die twee huise gefluit: Pfffffftttt!

Anderkant die heining, verspot jonk agter die ontsagwekkende lessenaar, het Hans skielik opgekyk. ’n Oomblik het hy reg in Paula se oë gekyk. Haar wange het aan die brand geslaan en daar was ’n suisgeluid in haar ore.

Lalla het haar van die bed afgestamp, maar sy het Lalla aan die arm beetgekry en saam ondertoe geruk. Al vallende het Lalla haar soos ’n kat in die gesig gekrap. Hulle het half op Lalla se bed, half op die gebedsmat tussen die twee enkelbeddens neergestort.

“Nou gaan jy te ver,” het Paula woedend gehyg en Lalla weggestamp. Die bedlampie het van die bedkassie afgetuimel; die gloeilamp het aan skerwe gespat. “Jy … jy vra nog hoekom Hans jou gelos het. Dis oor jy is soos jy is!”

“Hy sal jóú ook los, jou dik seekoei.”

Dié aand het Paula ure lank in haar bed bly rondrol. Wat dínk Hans van haar? Wat het deur sy kop gegaan toe hy besef sy staan hom en afloer? Hoekom stuur hy nie vir haar ’n SMS nie, hoekom swyg hy soos die graf?

Uiteindelik het dit tot haar deurgedring dat hy haar nie gesien het nie. Sý kamerlig was aan, hulle kamerlig was af; hy het vanuit die lig in die donker ingekyk. Hy het Lalla hoor fluit, hy sou ’n paar afleidings kon maak, maar die geluk was aan haar kant. Hy kon haar nie gesien het nie.

Haar wange het ophou brand en sy was minder naar. Maar steeds kon sy nie aan die slaap raak nie. Jou dik seekoei, het Lalla haar genoem. Waar het dié skelwoord vandaan gekom? Lalla moes lank daaraan gewerk het, ure lank in haar gedagtes. Dik seekoei … ’n snydende belediging, in bitterheid met stukke appel tussen die tande verwek en dag ná dag verder gevoed.

Op ’n dag het sy agtergekom dat Lalla selfs anders loop, asof sy ’n besemstok ingesluk het. Die kyk wat Lalla in die tyd van die breuk gehad het, was maar nog altyd daar. Hulle het wel ’n slaapkamer gedeel en steeds skoolwerk by mekaar afgeskryf, maar Hans was die wig tussen hulle.

Paula kon ook die verwydering aan hulle klere sien. Vroeër het hulle mekaar se klere gedra: Lalla se trui by Paula se broek, Paula se stewels by Lalla se romp. Nou het Lalla die klere uit Paula se kas neusoptrekkerig opsy gegooi. “ ’n Mens versúip hierin. Nee wat, ek dra my eie.”

Lalla het gekies om klein en petite te word. Ek is Lalla met die klein lyfie en jy bly ’n seekoei. Oor ’n paar jaar gaan jy soos al Pa se ouer susters lyk: tant Ous, tant Sannie, tant Maria. Hans-Jakob de Lange sal sy fout agterkom. Gee net tyd, hy sal sy fout agterkom.

Was dit toe Hans wat sy fout met haar agtergekom het, wonder Paula, of het sy die ware Hans leer ken?

Hoe sal sy ooit weet?

Hóórt yster en nikkel saam? Wéét ’n mens ooit?

Sy kyk onderlangs na hom soos hy en Ma gesels. Hy het iewers gedurende die afgelope drie jaar ’n smal, opgehewe merk op sy linkerwang bygekry: die nalatenskap van ’n ongeluk in die bos, ’n insident in die newels van Nikstyd.

En sy haarlyn het geskuif. Van die kuif wat hy as tiener so noukeurig gejel het, is daar nou byna niks oor nie.

Hy staan in dieselfde ligbalk wat nog al die jare hierdie tyd van die middag in Juniemaand deur die kerksaal se kombuisvenster val. Hy praat om die beurt met haar en Ma: Hans-Jakob de Lange tussen hang en wurg. Ma is hang: sy wou hom al so dikwels hang. Paula is wurg, want hoe dikwels, lank voor die gruwel, wou sy hom nie al verwurg het nie. Maar nie tot die dood toe nie. Nee, nooit tot die dood toe nie, want daar was ’n tyd toe die liefde alles geglo, alles gehoop en alles verdra het.

“… heeltemal ’n nuwe ding vir my om my ma samies vir ’n evangelisasie-uitreik te sien maak. Sy’t mos maar altyd ’n tjek of iets gegee. Maar oukei, ’n paar lede van die toergroep …”

Hy was dus weer ’n aand lank in die gehate Sisteem, en sý langsaan in die kamer waarin sy en Lalla tog, voor én na die drama van graad 11, elke aand kommerloos aan die slaap geraak het – anders as hy. Die atmosfeer in die pastorie was wêrelde verwyder van dié in die huis langsaan.

Ja, Pa was moeilik, gedrewe, onmoontlik idealisties. Ja, hy het Ma rasend gemaak met sy projekte en uitreike en sienswyses. Ja, Ma was ’n sigeuner, ’n swerwer, ’n trekswael vasgevang in die rol van ’n tradisionele predikantsvrou. Maar die rusies wat hulle gehad het, het uitgewoed. Die vetes was soos veldbrande: kleintjies en grotes en skrikwekkende wegholbrande. Tog het almal van hulle geweet: Elke brand sal verbygaan. Die veld sal swart wees, maar die brand sal op ’n manier geblus word.

Dis hoe dit is as jy kerk toe gaan en Bybel lees en in ’n pastorie grootword, het hulle as klein kinders agtergekom. Jou pa preek baie oor liefde en vergifnis. Hy en Ma fight, dan kry hy nie oor liefde en vergifnis gepreek nie. Dit pla hom, dan maak hy vrede met Ma, dan kan hy weer oor liefde en vergifnis preek.

In die deftige huis oorkant die heining het die gekyf en geskree nie opgehou nie. Hans het tussen eggo’s en brande grootgeword.

Ná haar mastektomie slaap Faith de Lange smiddae agter toegetrekte gordyne en kyf sy minder. Gerugte doen die rondte dat sy haar kort ná die operasie stilletjies groot laat doop het. Sedertdien besoek sy elke Woensdagaand ’n profetes wat haar met spesiaal gemengde olies salf.

Hansard, het Ma gehoor, neem haar tot by die profetes se huurhuis en wag dan buite in die motor. Hy vat glo sy koerant saam, wat hy in die lig van die straatlamp lees. Soos die vroue in Faith se sosiale ekosisteem is hy nie gemaklik met die koers wat Faith ingeslaan het nie. Soms neem hy glo ook iets vir die keel saam, volgens die ooggetuieverslag van ’n paar gemeentelede.

Met Hans in Phalaborwa, Hansard Woensdagaande onder die straatlamp in die motor, die Gideonsbende van die gemeente in ’n taamlik ontoeganklike wêreld van hul eie, en haar vriendinne soos voorheen om die brug- en koffietafels, staan Faith ook maar alleen. Die vroue in haar sosiale ekosisteem het egter dié keer ingestem om toebroodjies en sop te maak.

Die besluit, het Faith vir Ma vertel, was eenparig. Almal, selfs dié van wie jy dit nie sou verwag nie, was ín: Nancy, Ethel, Edith, Ada-Maria Steyn, Ina, al die meisies. Die toebroodjieprojek was soos drinks at Dobbie’s, brug by Nancy, shopping en koffie met kaaskoek, besprekings vir die shows by die Kunstefees. As die doodsengel onverwags toeslaan, raak die lewendes tóg soms ietwat meer bereidwillig om die goeie te doen.

“… en dis vir my lekker om die land vir ’n groep te kan wys wat van die wêreld ’n beter plek wil maak,” vertel Hans. “Wanneer ek hulle aan julle voorstel, sal julle dalk iets beleef van wat ek bedoel. ’n Hele paar lede van dié toergroep is betrokke by opheffingsinisiatiewe in Afrika. Ek moet sê, hulle is mál oor ons land. Alles is vir hulle interessant: spinnekoppe, vlermuise, bome …”

Yster en nikkel, sug Paula innerlik. As alles tussen ons nou reeds drie jaar lank verby is, waarom kan ek my oë nie van hom afhou nie? Waarom wil ek hom uitvra, alles hoor?

Hans de Lange het grootgeword. Hy het toe inderdaad sy eie mens geword. Die seuntjie wat tussen eggo’s en gille grootgeword het, neem nou ander mense met hom saam na die Groot Vyf, die groot vlaktes, die groot kremetartbome en die grootse landskappe van sy land.

“Mevrou weet, mens hoor altyd van die Engelse se stiff upper lip. Ek sien die ander kant. Hulle is hands-on-mense. Party van hulle is betrokke by …”

Miskien is Ma en Pa se gebede vir hom toe verhoor. Gedurende sy tienerjare was dit sekerlik net hulle wat vir hom gebid het, en dan ook omdat hulle ’n direkte belang by sy keuses gehad het. Die Allerhoogste moes die buurseun asseblief tog tem en in bedwang hou.

En as die tweeling hom om die beurt aan ’n neusring of met ’n push-up bra en sakdoekgrootte rompie na die afdraaipaaie sleep, bring die een wat in dié fase met hom uitgaan ook terug na die pad waarop U haar wil hê. Ons bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar, Vader.

Dié gebed is agter geslote deure gebid, nie aan tafel wanneer Pa huisgodsdiens hou en almal sit en voete skuif nie. Toe Paula hulle die eerste keer só hoor bid het, het sy gekook van verontwaardiging. Ma het selfs oor die push-up bra by Pa geklik!

“… die Prendergasts, veral, is regtig geïnteresseerd in julle skills development programme.” Hy draai sy kop, kyk haar skielik in die oë.

Hou my sterk, moenie dat ek ooit weer iets voel nie, bid Paula. Nie vir hóm nie.

“Dis ’n ongewone van,” hoor sy haar eie stem. “Prendergast. Dit laat my aan sneeuganse dink. Aan kraggereedskap. Of selfs aan ’n plek in Finland.”

Hy lyk verbaas. “Hulle sê hulle is familie van ’n bekende Amerikaanse skilder.”

“Jou ma het seker vir jou gesê ons werk vandag heeldag hier?” kom Jo tussenbeide.

“Waar val Mevrou nóú uit? My ma is vroeg vanoggend al weg na daardie groot tuin-ekspo. Ons het mos lank gekuier, ek en sy. Nee, ek was na die Soetdoring-wildreservaat met die groep, toe wou ek hulle Waterfront toe neem vir middagete en ons ry hier verby. Húlle sien die vlooimark en ek sien hoe die straatmense by die syhek van die kerkterrein inkom. Vanselfsprekend sê ek toe vir my busbestuurder hy moet stilhou, dalk kry ons ’n paar lede van die CLAP-span hier.”

“Nou toe nou,” glimlag Jo.

“Ek wou hulle ook sommer die kombuis wys waar ek teekoppies leer was en kastrolle leer skuur het. Dis mos darem die plek waar ek … waar óns grootgeword het.”

Ons het inderdaad op die kerkterrein grootgeword, dink Paula. Ek en jy, Hans de Lange, het ’n stuk van ons onskuld hier verloor: agter die stoorkamer, in die spens, in die kombuis.

Lalla was buite in die donker saam met ’n seun wat Sondagaande kerk toe begin kom het omdat een van die dominee se tweelingdogters eensklaps, nádat sy deur Hans de Lange eenkant toe gegooi is, sowel goed as kwaad geken het. Laataand ná kerk en Jeugaksie het die skerp, denneagtige geur van die reukweerder wat baie van die gemeente se jong bokramme gebruik het aan Lalla se klere gekleef.

Lalla wou vir jou iets sê, Hans. Met haar deurmekaar hare, met ’n Omo-wit of rooi brabandjie wat tot Ma se ontsteltenis oor haar bruingebrande boarm hang, met die denne- en muskusreuke wat aan haar afgevryf het, het sy die boodskap vermakerig aan jou deurgegee: Sy het jou nie meer nodig gehad nie. Sy was geholpe, dankie.

Ons het elke Sondagaand teekoppies in hierdie kombuis gewas. Ma het destyds gesorg dat die gemeente ná die aanddiens saam tee drink, glo om mekaar beter te leer ken. Ná die teedrinkery is ons hierheen ge-tóé-tóé. Ma het die seine wat ons vir mekaar gegee het foutloos gelees. Dié kombuis was die horings van die altaar waar ons hormone ons nie sou kon inhaal nie. Hoe meer teekoppies vir ons, hoe minder angst en voorbodes vir Ma.

Een aand het jy met die kop na die donker spens beduie. Jou oë het soos dié van ’n kat geblink. My ingewande het in my omgeslaan; my ore het begin suis. Ons het twee van die groot vlekvryestaal-teekanne van die spensrak afgestamp toe ons die eerste keer wild lyf teen lyf gevry het.

Ma het onverwags die kombuis binnegestap en gevra: “Wat het geval?” In die halfdonker was jou mond swart van my lipstiffie, en die vuur van jou eerste tongsoen was oral in my mond en my lyf.

“Sommer een van die potte, Mevrou,” het jy gesê.

“Een van die potte? Watter potte?”

Jy het op die vloer gehurk en jou lippe met ’n stoflap uit oom Willie se skoonmakerskissie probeer skoon kry. Ek was nog lam in my knieë en die spensrakke het nog gekantel. In my kop, altans.

Maar ek het aan die giggel geraak, my klere naastenby reggepluk. Ek kon nie ophou giggel nie.

“Hans noem ’n teekan ’n pót, Ma.”

“Kom uit daar,” het Ma sonder omhaal van woorde gesê. “Dadelik. Waar is Laurette?”

“Sy … gesels seker buite, Ma.”

“Sê sy moet inkom saal toe. Onmiddellik.”

Drie jaar lank, Paula Rall, hou jy die man wat spensrakke en plafonne kon laat val uit jou lewe. Jy ban hom uit jou gedagtes. Ná drie jaar pak jy uiteindelik die stukkies van jou hart soos legkaartstukke terug. Sommige stukke is steeds soek, maar eindelik glo jy jy gaan dit máák.

En dan stoot die man vir wie jy jou hart gegee het ’n deur oop. Dan staan hy daar in safariklere, serp in die kleure van die landsvlag om die nek, wit litteken op die wang, sy oë steeds die kleur van bloekomboomblare, sy haarlyn dié van ’n man wat sy jeug agtergelaat het.

“Ek het besef, Mevrou: mens hét ’n plek waar jy grootgeword het.”

Hoeveel onthou hy? Hoeveel van wat hy onthou, stoot hy nou onder ’n laken van gemeensaamheid in?

“Ek het moeite met Hans se verjaardaggeskenk gedoen,” het Ma een jaar vies opgemerk. “My voetsole blase geloop om so ’n veldpet met nek- en oorklappe vir hom in die hande te kry. Maar ek moet dit seker maar gewoond raak: Hans maak van niks ’n ophef nie. Nie eens as hy kry wat hy self gesoek het nie.”

Ruk jou reg, Paula Rall. Dalk is die verlede vir hom net die verlede. Hy is ’n mán; hy het nie drie jaar lank in die bos sit en treur nie. Hans de Lange draf deur meisies. Hulle harte is sy gym; hulle toekomsdrome is sy speelgoed.

En die slegte nuus is: wat hy in Phalaborwa doen, bly in Phalaborwa. Sy ma mag ’n snob en ’n beheervraat wees, maar ’n los tong het sy nie. Die tyd toe Hans se pa padgegee het en vier maande lank nie huis toe gekom het nie, het selfs haar brugvriendinne nie daarvan geweet nie.

“Jou toergeselskap sal nie veel sien nie. Die meeste lede van die uitreikspan verkies om in die agtermiddag te werk,” sê Ma apologeties. “En die mense in die saal is eintlik maar net dié wat gewoonlik dié tyd van die dag op straat is.”

“Dié wat regtig oor die muur is,” knik Hans.

Hy het al Ma se skanse omgegooi. Sy déél met hom, koinonia. “Soos Dominee altyd gesê het, Hans: dié wat sonder werk, sonder dak en sonder besittings is, kan enige tyd van die dag op enige plek wees.”

Hy loop vorentoe en maak sy arms vir haar oop. “Ag, Mevrou,” sê hy, “oor Doom. Ek is so jammer. En dít op die Thaba Nchu-pad. Doom het nog gesê daardie pad is so gevaarlik.”

Jo staan met haar hande in die lug asof dié omhelsing ’n versoeningsdaad was wat gewag het om te gebeur. Sy huil en vee haar neus aan haar boarm en mou af.

“Dit … hulle het mos ’n oorbrug na die lughawe gebou, groot padwerke voor die Wêreldbekersokker. Maar dit was nie die taxibestuurder se skuld nie. Die son en die stof moes vir Dominee verblind het, hy het in die rigting van die ondergaande son gery. Hulle het die laaste paar maande mos tot donker op daardie pad gewerk, niemand het gedink hulle sou dit voor die Wêreldbeker klaarkry nie. My ou man moes beheer oor die motor verloor het. Van die padwerkers het gesê hy het reg van voor op die taxi afgejaag. Hulle het albei probeer uitswaai, maar dit was te laat. Hy en die taxibestuurder is albei op slag dood.”

“Ai, Mevrou …”

Sy bly huil. “Daar is mense beseer, vyf of ses. Die taxibestuurder was die enigste broodwinner: hy het vyf kinders. ’n Motorongeluk is ’n verskriklike ding, Hans. Dis … ses of sewe families sit met die gevolge daarvan.”

Hy vat haar aan die skouers. “Mevrou het altyd vir ons in die Kinderkrans gesê ons is nooit alleen nie.”

“Dis nie soos my ou man dit sou wou hê nie,” sê Jo verwese. “Hy het omgegee vir mense, Hans. Hy het waaragtig omgegee. Dis waarom hy op daardie pad was: omdat hy omgegee het. En toe …”

“Ons weet dit almal. Dis soos Mevrou sê: Dominee het daardie dag van die huis af weggegaan om te gaan goed doen.”

Hy draai om, sluk swaar en sigbaar. “Paulie, ek voel soos ’n hond. Ek wou jou pa se begrafnis bywoon, maar toe sit ek met vier Amerikaners op ’n grotte-ekspedisie. Dis die soort groep wat ’n mens nie op ander kan afpak nie.”

Sy arms gaan ook vir háár oop. Dit gaan immers oor meegevoel, oor haar verlies.

Laat ons nooit weer aan mekaar raak nie, selfs nie in medelye nie, dink Paula. Nie hiér waar alles begin het nie. Nie hiér waar ons so stout en alles so volmaak was nie.

Sy loop nie in sy arms in nie.

“My pa se begrafnis is verby,” sê sy styf. “Dis verlede tyd. Jy’t toeriste gehad om te versorg, jou werk. Ons is daardeur. En jy weet tog dat jy … dat jy nie hier hoef te gewees het nie. Dalk was dit goed dat jy ander verpligtinge gehad het.”

“Paula …” hoor sy Ma paaiend sê.

Hy is bleek; sy het hom ontstel.

Jo kwetter senuweeagtig: Die pastorie staan vol bokse, sy trek Maandag na ’n veiligheidskompleks. Dominee sou dit so wou gehad het. Dit val saam met die uitreik, maar dit kan nie anders nie. Die volgende pastoriepaar moet intrek.

“Ons gaan áán, Hans,” sê sy. “Maar dis nou genoeg van ons. Jou toergeselskap is seker al terug van die stalletjies af.”

Hy glimlag nie regtig nie, merk Paula. By Hans is dinge swart of wit. Daar is nie grys nie.

“Hulle sal nie ’n sekonde voor die tyd terug wees nie, Mevrou. Ek vrees die dag dat hulle met houtkameelperde by die bus begin aankom. En dis nie óf hulle dit gaan doen nie, dis wánneer.”

“Nou ja, as hulle klaar gekoop het …”

“Ek moes eintlik ’n afspraak met Mevrou gemaak het. Ons moes nie net hier ingeval het nie, maar –”

“Ag, jy’s dan amper familie!” sê Ma.

Daar is oomblikke in die lewe, dink Paula, wanneer een mens se emosies op ’n ander mens se gesig gesien kan word. Ma se ondeurdagte woorde hang soos ’n wolk bo ons. En alles wat ék voel – dat ek wil weghardloop, dat ek wil huil, dat niks wat gebeur het ooit moes gebeur het nie – staan in swart en wit, sonder tussenkleur, op Hans se gesig geskryf.

Jo kwetter voort: “Verduidelik tog vir jou toergroep dat die deure eintlik eers teen halfvier amptelik oopmaak. Dat baie van die mense lank voor die tyd hier binne kom sit, dis darem warmer binne. Dié wat op die vloer lê en slaap, het dalk ’n slegte nag buite gehad.”

“Ek verstaan,” sê hy.

“Of hulle het gom gesnuif. Die straatkinders wat gom snuif, lê mos sommer op die sypaadjies en slaap, jy het dit seker al gesien.”

“Ek het. Dis wonderlik dat Mevrou-hulle die kerksaal vir die mense van die straat oopmaak. Gaan Mevrou-hulle ná die Wêreldbeker aan met die projek?”

“Ek trek mos uit die gemeente,” sê Ma. “Maar ek glo …”

Hy het hom reggeruk, sien Paula.

“Ek sal Mevrou as tannie Engel voorstel,” sê hy. “Onthou Mevrou nog, daar was ’n Kinderkranskind wat nie Mevrou se naam kon onthou nie, toe noem sy Mevrou tannie Engel?”

Steeds die skouerbeweging wat Paula soms in ongemaklike sosiale situasies by hom opgemerk het. Hy was te ’n verwarde kind, te alleen om later die kersvlam te word waarom die motte draai.

“Jy’s lekker laf, Hans,” sê Ma. “As ek maar meer van ’n engel was! Net een ding: probeer jou toergeselskap tog van daardie soppot af weghou. Dis ’n skenking, maar Paula probeer my breinspoel dat die sop suur is.”

Sonbesies sing in Paula se kop. Hy staan te naby aan haar. Sy rúik hom; sy is terug waar sy was voordat sy van hom en Erika uitgevind het.

Hy hoor die sonbesies, weet sy. Of dalk sing hulle in sy kop ook. Dit staan op sy gesig geskryf.

Ag, liewe Vader in die hemel, wil U my dan ’n dubbele porsie droefheid laat afwurg? Nee, nie droefheid nie: droefheid is iets wat oumense beleef. Smart, dan. Nee, nie smart nie: smart is gewoon deel van menswees. Maar hierdie ding wat tussen my en Hans gebeur het, was soos ’n dolkwond wat enige oomblik weer kon oopgaan. Die weefsel het nie geheg nie. Dit wat ek vir ’n roof of ’n litteken aangesien het, was toe al die tyd net ’n membraan.

Één sien van hom en al die pyn is terug. Elke senuwee klop en skryn soos die eerste keer. Die wond is rou en wakker. En ’n wakker wond is gevaarliker as smart en dieper as droefheid.

Nee, nee. Ek gaan Hans de Lange nie toelaat om naby dié oop wond te kom nie.

“As Paula sê dis suur, dan is dit suur,” sê hy. “Mevrou ken my ma: sy’s ’n pyn in die nek oor reuke. Maar ek sê nou vir Mevrou: my ma het destyds nog ewe lekker met my en my tekkies saamgeleef, dan kla Paula al dat my skoene stink.”

O, Paulie, sê sy oë.

Laduma vir die liefde

Подняться наверх