Читать книгу City Girl en die swart hings - Marga Jonker - Страница 4
1
Оглавление’n Gekaapte vakansie
“Dis nog so drie uur se ry Elandsbaai toe.” Nicole kyk hoe haar ma by die 4x4 se deur uitklim en hulle kitskospapiere in die drom gooi.
“Dalk moet jy maar met die motorlaaier laai wat jy kan – jou PSP en jou foon. Daar is elektrisiteit by tannie Pollie se huis, maar dit neem altyd ’n tydjie om muurproppe te vind.”
Nicole knik net. “Whatever!” is sy lus om te gil. Hoe moeilik is dit nou om ’n muurprop te vind? Drie uur is nog baie lank; haar ma laat dit klink of hulle sommer al naby is.
Soms voel dit asof haar ma ure lank aan iets probeer dink om vir haar te sê, en dan is dit altyd net feite, soos oor kos – of, soos nou, oor muurproppe.
“Sononder is om vier minute voor sewe.”
“Ons kan op Worcester eet.”
“Hierdie paddatjie is raar; endemies aan die gebied.”
Doktor Elzette Delport is ’n professor by die departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy is ’n natuurbewaringsaktivis met kortgeknipte hare waarin silwergrys strokies al teen haar slape begin wys. Op haar gemaklikste in bruin of groen kakiebroeke en T-hemde wat ekologiese kwessies ondersteun: Red die Renoster of die Bloukop-klipsalmander.
Nicole sug diep en prop haar PSP by die motor se aansteker in. Dit gaan ’n lang, vervelige twee weke wees. Sy het vier nuwe speletjies by haar perdryvriend Barry geleen. Sy het pas die eerste een voltooi, daar is nog drie oor. Sy verstaan dat haar ma ’n internasionaal erkende navorser in mikrobiologie en selbiologie is, maar kan sy nie net in gewone dinge ook belangstel nie?
Sy het nog nie één keer met Nicole oor haar pa en Claire se sprokiestroue gepraat nie. Nicole weet dis nie oor haar ma jaloers is op Claire nie. Sy en haar pa is al jare lank geskei en hulle stry nooit nie. Dit lyk selfs asof hulle goeie vriende is.
Haar ma het effens verveeld gelyk tydens die funksie. Vir Nicole en haar vriendinne was dit ’n okkasie, ’n bruilofsfees! Claire is sewe jaar jonger as haar ma – as haar pa ook. Sy lyk twintig. Claire is soos ’n vriendin vir Nicole en sy was só fantasties om haar en haar beste vriendinne, Chané en Monique, te vra om die strooimeisies te wees.
Haar ouers is geskei toe sy nog klein was. Omdat haar ma baie moes reis vir haar navorsing, het Nicole by haar pa grootgeword, alhoewel haar ma en pa gedeelde toesig oor haar het. Haar pa se ma, haar Ouma Grace, was van haar babadae af vir haar soos ’n ma. Ouma Grace is seker die mees modieuse ouma ooit.
Dit is nie dat Nicole nie lank voor die tyd geweet het van die vakansie saam met haar ma nie. Sy kan net steeds nie glo dat sy haar nie dié keer daaruit kon wikkel nie.
“Jy’s dié keer vas, vriendin, jy sal maar moet gaan mikrobiologie doen die vakansie.” Sy kon aan Chané se stem hoor hoe sy gril. “My ma sê dit gaan nie moontlik wees om jou te probeer saamneem Mauritius toe nie. Die vliegtuigkaartjies en die vakansiepakket is alles vir ’n gesin van vier bespreek, dit kan nie nou verander word nie.” Chané het haar skouers verontskuldigend opgetrek.
“Ek is seker jou ma gaan vir jou jou eie superfantastiese mikroskoop inpak,” het Monique geterg. “Jy sal kan kyk dat daar nie dalk kieme of swamme onder jou naels is nie.”
Nicole is gewoonlik goed daarmee om ’n alternatief vir haar ma se navorsingsvakansies uit te dink, maar haar pa en Claire se troue en hul wittebrood in Italië het dié keer ’n stokkie voor haar planne gesteek. “Dit gaan baie interessant wees,” het haar pa haar probeer opbeur. “Jou ma gaan ’n ander navorser aan die Weskus help met mariene biologie en julle gaan van haar familie daar opsoek.” Haar pa het hard probeer om dit net so opwindend soos ’n Europese vakansie te laat klink.
“Die Weskus? Ouma sê dis net mooi in die blommeseisoen. Ek wil nie ’n interessante vakansie hê nie, ek wil ’n áwesome vakansie hê!”
Haar pa het bekommerd en afgehaal gelyk. Sy het net effens skuldig gevoel. Hy is gewoonlik so maklik oortuigbaar, maar hierdie keer het hy vasberade gelyk.
“Pa, Claire is super en ek is mal oor haar en ek verstaan dat julle alleen wil gaan wittebrood hou, maar kan ek nie maar by Ouma Grace bly nie? Die Weskus is so ver en ek en Shadow gaan al ons klasse vir volgende kwartaal se groot perdespringkompetisies mis.”
“Nee, jy sal dié keer saam met jou ma móét gaan.”
“Kan ek dan nie die vakansie-springkursus saam met Monique bywoon nie? Ek kan mos by húlle bly, dan kan ek en sy elke dag saam ons perde oefen. Pa weet mos perdespring tel van hierdie jaar af as ’n skoolsport. Ons gaan tot ’n perdespring-interskole hou. Sê nou ek haal nie die span nie?”
“Jy is klaar in die perdryspan. Ek het dan al die brief gekry. Jy gooi nou jakkalsdraaie hieroor.”
Haar pa was oortuig dat twee weke nie van haar ’n swak ruiter sou maak nie, en dat Shadow ook nie skielik in ’n treurige springperd sal verander net omdat sy nie elke dag met hom oefen nie.
“Johnny sal self vir Shadow fiks hou,” het hy ferm gesê. Johnny is die hoofafrigter by die Golden Acres-stalle waar sy perdry.
“Maar dit is Má wat so moeilikheid maak. As sy tog net een keer ’n vakansie sal beplan wat in my smaak val, sal ek mos graag wil saamgaan.”
Sy sou dadelik ja gesê het as die vakansie dalk Kaapstad, die kabelkar, ’n Red City Tour, ’n seiljagvaart, etes en inkopies by die Waterfront kon insluit. Sy wonder of haar ma ooit sulke plekke besoek.
Toe kom gooi Ouma Grace ook nog háár stuiwer in die armbeurs. “Sy is reg, Gustav. Elzette nooi Nicci net altyd saam op navorsingsreise na niemandslande en afgeleë ou plekkies.”
Ouma Grace en haar voormalige skoondogter is twee heeltemal uiteenlopende persoonlikhede. Sy maak ook glad nie ’n geheim daarvan dat sy dink haar seun se eksvrou se klerestyl is ’n krisis vir die modewêreld wat deur die modepolisie aangespreek behoort te word nie.
“Ai, Ma, moet asseblief nie dinge nog moeiliker maak nie! Elzette doen moeite vir Nicole, sy het selfs vir haar ’n perd gereël vir die vakansie. Plaas Ma vir Elzette ondersteun.”
“Ja, Pappa, dit klink net baie soos ’n Voortrekkerkamp. Ons gaan op ’n plaas bly en ek kan help met biologiese navorsing – jooe-hoeeee, yay, how nice!”
“Oe, Nicci, jy moet net hoop daardie perd wat jou ma vir jou gereël het, het darem vier bene,” het Ouma Grace gespot. “Die Weskus is ’n wilde, woeste plek, hulle maak hulle kreef daar lewendig gaar.”
“Toe nou, Ma!” het haar pa gesug en met ’n frons voortgegaan: “Die reëlings is klaar getref en ek wil niks verder van julle twee hoor nie. Julle gaan Elzette met respek behandel. Sy is en bly jou ma, Nicci! Sy is my eksvrou en die ma van my enigste kind.”
Hy verstaan nie altyd mooi nie, dink Nicole. Sy ís trots op haar ma, dis net dat Elzette so anders is as haar maats se ma’s. Sy woon in ’n woonstel op die kampus van die universiteit waar sy klasgee – ’n piepklein plekkie met berge boeke en drie rekenaars. Nicole kan nie haar maats daarheen neem nie. Haar pa se huis? Ja, dis ’n ander saak. Die ruim, deftige huis is in ’n mooi kompleks by ’n dam en sy kan enige dag haar maats daarheen nooi. Haar pa en Ouma Grace bedryf saam ’n eiendomsagentskap en een van hulle is altyd daar vir haar.
Nicole word wakker toe haar ma die deur aan die bestuurderskant oopmaak. Sy’t nie eens besef hulle het stilgehou nie. Dit is al donker buite. Hulle staan voor ’n ouwêreldse huisie met ligte wat dof oor die stoep skyn. Potplantjies hang uit die stoepdak, staan die lae stoepmuurtjie vol en gooi skaduwees teen die mure. ’n Groot geel hond met ’n swart gesig staan waaksaam op die stoep. Langs die hond staan ’n maer vroutjie met ’n werkersoorpak en rubberstewels. Sy het ’n wriemelende Jack Russell onder elke arm.
“Ant Pol!” sê haar ma en klim vinnig uit die motor.
“Zetta, jy’s hier!” Die vroutjie laat die twee hondjies uit haar arms spring. Sy gryp vir Elzette met haar dun armpies om die lyf en draai haar in die rondte. Sy lyk vir Nicole nes ’n dwergie uit Sneeuwitjie se storie. ’n Dwergie wat met haar ma in die rondte dans met twee blaffende Jack Russell-hondjies wat in kringe al om hulle hol asof hulle so pas die geheim van alle vreugde ontdek het.
Nicole staar verstom na die huisie. Kan dít wees waar sy die vakansie moet kuier? By ’n tannie skaars langer as ’n dwergie en met ’n gesig soos Liewe Heksie wat in ’n sinkdakhuisie woon? Hoe gaan hierdie plekkie vergelyk met Chané se Mauritius-foto’s! Of met Monique se perdrykursus by Golden Acres, dié perdryklub van Pretoria. Nicole laat sak haar kop in haar hande. Sy is gedoem, hierdie vakansie gaan haar naam ruk.