Читать книгу City Girl en die swart hings - Marga Jonker - Страница 6

3

Оглавление

Weskus-cowboys

“Haai daar!”

“Hallo, hallo!”

“Is jy Nicola?”

“Nicole.”

“Hallo, Nicole, ek is Liesie,” sê die vriendelike meisie op die bont perd. “Dis my broers, Leon en Louis.”

Sy ry met haar perd tot teen die stoep en die pinto rek sy nek om nuuskierig aan Nicole se hand te ruik. Sy kan sommer sien dit is ’n rustige perd wat van mense hou – dalk ’n boerperd, maar sy is nie seker nie. Al hou sy nie van die cowboy-rystyl nie, kan sy nie help om al drie die perde te bewonder nie. Die twee grotes moet boerperde wees.

Die ouens wat afklim, is ’n tweeling, en hulle perde lyk ook identies. Nicole staar na die lang, benerige lywe. Sy kan nie glo daar is nog tweelinge wat glo hulle moet eenders aantrek nie. Freaky, hulle het nog moeite gedoen om vir hulle twee eenderse perde ook te kry.

Sy kan Chané se stem hoor: “Nie middelstroom nie, nie naby populêr nie. Ignoreer, ignoreer!” Chané sou hierdie twee ouens nie eens gegroet het nie en gemaak het of sy dwarsdeur hulle kyk.

Die twee haal hulle breërandhoede af en stap by die stoeptrappies op om haar te groet. Hulle los hulle perde net so sonder om hulle iewers vas te haak. Die twee bruin perde spits hulle ore en hou die twee broers dop wat haar hand plegtig kom skud.

“Louis,” sê die eerste een met ’n vriendelike glimlag.

“Leon,” sê die tweede een ernstig en gee haar ’n ferm handdruk.

Liesie swaai van haar perd af en kom ook nader om Nicole se hand te skud.

Whatever. Sy skud hulle hande asof sy dit elke dag doen. Liesie het ’n mooi glimlag. Sy is ook lank, maar nie so skraal en benerig soos haar broers nie. Dit lyk of sy die oudste kan wees.

“Ek hoor jy is ons niggie,” sê een van die tweeling.

“Julle niggie?”

Genade. Liesie, Leon en Louis, die vrolike Weskus-cowboys. Dit kan nie wees dat sy hulle niggie is nie.

“Niggie? Hoe kan ek julle niggie wees?”

“Nee, Louis het dit verkeerd. Jy is ons agterkleinniggie,” verduidelik Liesie.

“Hoe werk dit, kry mens so iets?”

“Ons oupa en jou oorlede ouma was niggie en neef,” sê Louis of Leon.

“Jou ma en ons pa is kleinniggie en kleinneef,” sê die ander een.

“So ons is jou agterkleinniggie en agterkleinneefs, dalk nog aangetroude agterkleinniggie en agterkleinneefs,” verduidelik Liesie.

“Dit beteken maar net ons is ver-verlangs familie van mekaar,” sê Louis of Leon. Dit klink nie asof hy baie waarde heg aan dié familieband nie.

“Ek hoor jy kan so goed perdry?” sê-vra Liesie.

“Jy lyk nie aangetrek vir perdry nie, en Hanz het vir jou sy beste merrie gegee,” sê een van die tweeling.

Hier kom dit nou, dink Nicole. Die perd met die drie bene waaroor Ouma Grace so gespot het. Sy voel nie juis lus vir ’n vreemde perd nie, maar as die perd soos een van dié drie cowboys se perde lyk, sal hy seker nie te sleg wees nie.

“Luister, ons is genooi vir ontbyt by Hanz. Jou ma het ons gestuur om jou te kom haal. Het jy jou ryklere gebring? Of gaan jy sommer só ry?” vra die ander een van die tweeling.

“Ek het, ja, as julle vir my ’n perd het? Ek ry net nie Westerse styl nie.”

“Jou ma het so gesê. Moenie bekommerd wees nie, Hanz het vir jou een van sy volbloedmerries in die stal gelos,” sê Liesie.

“Ek weet nie wie Hanz is nie en ook nie waar die perd of die stal is nie.”

“Ons sal solank vir jou gaan opsaal. Kry jy jou ryklere, dan wys ons jou,” sê Liesie.

Nicole hardloop terug na die kamer met die hemelbed waar sy geslaap het. In hulle ryskool is daar altyd baie snedige grappies oor perderuiters wat volgens die Amerikaanse of Westerse rystyl ry, maar die drie perde wat hier aangekom het, lyk goed opgelei en mooi versorg. Die agterkleinniggie lyk gaaf, maar die tweeling freak haar uit. Hulle is te lank en te skraal en veral die een is te flippen nors! Chané sou nooit toegelaat het dat sy saam met húlle op ’n uitrit gaan nie.

Dit is ook maar goed Monique en Chané is nie hier nie. En sy het nie ’n keuse nie, sy kan nie hierdie drie ignoreer nie. Nie net is hulle familie nie, maar ook die enigste lewende siele in die onmiddellike omgewing.

Sy trek haar swart rybroek by die Guess-T-hemp aan en prop haar voete driftig in haar rystewels.

Sy sal maar net haar vertelling van haar vakansie kort hou, sonder om te veel foto’s te neem. Haar pa en Claire se troue kan haar hoof-bloginskrywing op Populars’ corner wees. Hierdie vakansie moet sy net probeer oorleef; sy hoef nie ’n vrolike SMELL-bydrae vir Chané te lewer nie.

Nicole besef skielik hoe honger sy is toe sy uitstap om die cowboy-ruiters te soek, haar rypet onder haar arm. Sy het ’n moulose rybaadjie by haar langmou-T-hemp aangetrek. Die onderbaadjie is soos ’n fotograaf s’n met baie sakkies sodat sy haar selfoon kan saamdra. Sy trek die voordeur toe en wonder vir ’n oomblik of sy ’n alarm moet stel of die deur moet sluit.

Liesie kom aangestap met ’n swart merrie, opgesaal met ’n Wintec-springsaal. Hiérdie merrie het beslis nie drie bene soos Ouma Grace gevrees het nie. Sy is supermooi, blink en glad geborsel. Die merrie lig haar kop en kyk intelligent en vreesloos na Nicole. Nicole is sprakeloos. Sy het nie vir een oomblik gedink die perd wat vir haar gereël is, sal só lyk nie.

“Nicole, ontmoet vir Raven Girl,” sê Liesie. “Raven en my merrie, Fudge, is baie goeie vriende, so ons kan eers langs mekaar stap tot jy haar gewoond is.”

Die tweeling galop reeds vooruit op hulle bruin perde, teen die duine op.

City Girl en die swart hings

Подняться наверх