Читать книгу My ouma in kaneel - Margaret Bakkes - Страница 4
Hoofstuk een
ОглавлениеMagriet was elf jaar oud toe hulle terug is plaas toe. Maar eintlik begin Magriet se storie lank voor die terugkeer plaas toe. Magriet se storie begin saam met Magriet se onthou. En Magriet se onthou loop terug na die oggend toe hulle gehoor het dat hulle van die plaas af moet weggaan. Voor dit was dit nie van onthou dat Magriet dinge geweet het nie, maar van wat haar ma altyd vertel het.
Soos van die groot wit huis in die groot dorp by die see. Dis waar Magriet se ma grootgeword het. Vir Magriet was daar niks mooiers as haar ma se stories oor die lewe in die groot wit huis wat sommer klipgooi van die strand af was nie. Want haar ma was een van tien kinders en hulle was ’n gelukkige gesin, sodat daar altyd baie stories was om te vertel. Hulle pa, Magriet se oupa, was nou wel ’n streng en ’n kwaai man, wie se woord wet was, maar hy het goed vir sy kinders gesorg en hulle het groot respek vir hom gehad, het Magriet se ma altyd vertel. Magriet kon ure lank na haar ma luister as sy eers begin vertel.
“My ma was ’n sagte mens, Magrietjie, en ons kinders was baie lief vir haar. Weet jy, ek verlang nog steeds na haar. Dis tog jammer dat jy haar nooit geken het nie. Jy was nog baie klein toe sy dood is. En ná haar dood het die lewe in die wit huis ook maar sommer so vertoiing.”
Vir Magriet was die feit dat sy haar ander ouma nie geken het nie, nie rede tot hartseer nie. Want haar kleintyd was volkome gevul deur die ouma wat bly leef het, haar pa se ma. Ouma-van-die-plaas.
Magriet se ma was ’n dorpsmens en dit was nie vir haar maklik om ná haar troue op die plaas te kom bly nie. “Dit was so stil en alleen ná wat ek op die groot dorp by die see gewoond was, Magriet. Ek was gewoond aan mense en konserte en winkels. En aan ons groot gesin en aan die baie pret.”
“Nou maar hoekom het Mamma dan plaas toe gekom?”
“Maar my hene, Magriet, omdat ek met Pa getrou het.”
“Maar hoekom het Ma en Pa getrou as Ma nie op ’n plaas wou kom bly nie?”
Dan het haar ma nie dadelik geantwoord nie, maar so ver gekyk, met haar oë so half nou getrek, en in ’n anderste stem geantwoord: “Ek het met Pa getrou omdat ek met hom wou trou, Magriet. Omdat ek vir hom lief was.”
“Vertel my van Ma se troue,” wou Magriet oor en oor hoor.
“Die mense het lank gepraat oor dié troue, Magriet. Hulle het gesê dat so ’n mooi bruid en bruidegom selde op die dorp gesien is. Jy sien mos, jou pa is nou nog ’n mooi man, al verrinneweer hy homself so op die plaas. My rok was lank en van die mooiste gladde materiaal, soos pêrels. Ek wou nie ’n driekwartrok hê soos my suster Cora nie. Sy is kort voor my getroud en sy wou in die mode wees met haar driekwartrok vol krale en haar wit kouse en satynskoene. Nie dat sy nie ook mooi gelyk het nie. Dis mos op haar troue dat ek vir Pa ontmoet het. Hy was die strooijonker en ek die strooimeisie. My suster Cora was met Pa se neef getroud.”
Magriet het al geweet: as haar ma by dié deel van die storie kom, het haar mooi blou oë vol trane geword, want dan het sy onthou van haar suster Cora wat dood is toe haar babatjie gebore is. En van die babatjie wat ook dood is. En van tannie Cora se man wat nou nog oor haar treur. Magriet wou nie so graag dié deel van die storie hoor nie. Dit het haar te hartseer gemaak.
“Vertel van hoe Ma op Ma se eie troue gesing het.”
“Ag, kind, jy het dit mos al gehoor. Ek moes mos altyd vir mense sing, van my kleintyd af. En sowaar, op my troue kon dit nie hoër of laer nie. Ek moes vir die mense sing. En ek was bly én hartseer terwyl ek gesing het. Bly omdat ek met jou pa getrou het en hartseer omdat ek van my ma moes weggaan. My susters was teen dié tyd almal uit die huis. Dit was vir my ma swaar.”
En dan het Magriet gedink dat sy maar liewer nie eendag wil trou nie. Sy wil tog nie van haar ma weggaan nie. Want sy is verskriklik lief vir haar ma, verskriklik.
“En daarna, Ma?”
“Daarna het ons met Pa se Fordmotor vertrek na ’n hotel in die Katberg, en daar het ons vir ’n week lank wittebrood gehou. Ek was baie gelukkig daar in die Katberg.”
“En toe het Ma plaas toe gekom?”
“Ja, toe het ons plaas toe gegaan. Op die plaas was die splinternuwe huis klaar gebou, en die klavier en meubels wat Oupa en Ouma vir ons as trougeskenk gegee het, was reeds daar. Ouma en Oupa Plaas het toe dorp toe getrek en Pa het die boerdery oorgeneem. En ek moes leer om boervrou te word.”
“Wat moes Mamma alles doen?”
“Ek moes leer karring en bak en skaap slag. Ek moes van hoenders leer en van eende en van varke. Ek moes selfs leer kos kook. Want in ons huis het my ma ’n huishoudster gehad. Sy kon nie met tien kinders alleen regkom nie. Van huiswerk het ek dus nie veel geweet nie. Maar Pa het my met groot geduld geleer. En Ouma Plaas ook, as hulle soms naweke kom kuier het. Want Ouma Plaas was nie baie gelukkig op die dorp nie. Sy het verlang na die plaas. Dié dat hulle kort ná jou geboorte teruggetrek het plaas toe.”
“En wat nog?”
“O ja, ek het leer perdry ook. Pa het vir my ’n pragtige vosperd gegee. ’n Merrie en haar naam was Weerlig.”
“Was Ma lief vir haar?”
“Verskriklik. Sy was my maat. En op ’n dag het ek besluit om op die dorp te begin sangles gee. Ek sou twee keer per week met Weerlig inry. Só goed het ek leer perdry. Ek was so tuis op Weerlig se rug soos op ’n stoel. En gelukkig. Ek was op my gelukkigste as ek teen die sandbult uitry dorp toe, met die veld en die doringbome groen om my en die wind teen my lyf en die perd se gang gelyk op ’n galop. Maar die mense het baie geskinder. En Ouma Plaas was nie tevrede nie. Later het die mense ophou skinder, want dit was vir hulle lekker om sanglesse te neem, en almal het kom kyk na die konserte wat ons gehou het.”
“Watse konserte het Mamma gehou?”
“Met my sangleerlinge. Ons het gesing en klavier gespeel en daar was kore en eenkeer het ons selfs ’n gedeeltetjie uit ’n opera, Il Trovatore, opgevoer. Dit was vir die mense verskriklik mooi, want so iets het hulle nog nooit gesien nie, en dit was ’n lekker hartseer deel, sodat die vrouens almal gehuil het. Die mense het lank oor dié konsert gepraat.”
“En Pa?”
“Ag, Pa het soms met die verhoog gehelp. Pa is mos nie eintlik erg oor musiek nie.”
“Hy hou darem daarvan as Ma vir hom sing.”
“Die een wat die meeste van my singery gehou het, was Oupa Plaas. Hy wou altyd dat ek vir hom sing.”
“Was Mamma lief vir Oupa Plaas?”
“Ja, my kind. Hy was, soos my eie mamma, ’n sagte mens. Dis tog snaaks dat mense met teenoorgestelde geaardhede dikwels met mekaar trou.”
“En was Ouma Plaas ’n teenoorgestelde geaardheid?”
“Ja, en Pappa ook.”
Maar Magriet het nie mooi geweet wat ’n teenoorgestelde geaardheid is nie. Nie toe nie.
“Maar hoekom het Mamma-hulle toe dorp toe getrek?”
“Omdat Ouma nie op die dorp wou bly nie. Sy het verlang na die plaas en wou terug. Die ou huis was teen dié tyd verwaarloos en sy sou in die nuwe huis moes bly. En twee vroue onder een dak stryk nie.”
“Maar ek en Mamma is dan twee vrouens onder een dak. En ons stryk.”
Magriet het nie aldag verstaan hoe grootmense se koppe werk nie. Sy kon op daardie tydstip aan niks lekkerders dink as om saam met Ouma Plaas onder een dak te bly nie. Want die kere dat hulle by Ouma Plaas gekuier het ná hulle weggetrek het, was van die wonderlikste tye in Magriet se lewe. Ouma Plaas het saam met haar in die sandsloot gaan stap en vir haar gewys waar die weglêhenne hulle neste wegsteek. Hulle het saam die babakalkoentjies gevang en in die hok gesit. Saans het sy vir Oupa uit die dubbelbed geboer en knus op die bulsak agter Ouma se groot rug ingevroetel. Dan het Ouma haar rumatiek met Stella-olie gevryf en Tokalonroom aan haar gesig gesmeer voor sy die kers doodgeblaas het, sodat Stella-olie en Tokalon en kerspit een reuk in die pikswart donkerte geword het. En as die wind in die nag opkom en aan die vensterrame pluk, was sy nooit bang nie. Selfs nie as die jakkals begin huil en die steenuil op die dak dood êrens verkondig, was sy bang nie. Agter Ouma se rug sou selfs die dood haar nie kry nie.
Magriet het graag van haar geboorte gehoor. Oor en oor moes haar ma vertel. Magriet is te vroeg gebore. Haar ma was op die dorp om die Sondag in die kerk te sing. Hulle het oorgeslaap in die dorpshuis. En dié Maandagmôre, voor hulle sou terugry plaas toe, het Ouma Plaas die dokter laat kom. Dit was ook nie verniet nie.
“Magrietjie, jy het maar ’n swaar begin gehad. Jy was so klein en ellendig dat hulle jou onder ’n kombers toegemaak het en laat lê het. Dit was jou oupa wat jou daar loop uithaal het en met jou gewoel en gewerskaf het en gesweer het dat jy sou bly leef. Nog ’n rede waarom ek vir hom so lief was. Hy het altyd vertel dat jy die lelikste mensie was wat hy ooit sy oë op gesit het. Maar taai, dié was jy. Kyk nou hoe lyk jy vandag. Jou ma se pragtige ding. Toe jy niks wou eet nie, het Ouma Plaas vir jou meelbol in die oond gebak. Dit het jou toe uiteindelik deurgetrek. Seker daarom dat jy van al haar kleinkinders naaste aan haar hart is.”
“En Ouma sê dat ek met die helm gebore is, Ma. Wat is met die helm gebore, Ma?”
“Met ’n velletjie oor jou gesiggie, Magriet. Maar daaraan steur ons ons nie. Dis oumensstories.”
“Maar Ouma sê dat mense wat met die helm gebore is, kan sien, Ma. Maar almal kan mos sien, Ma, behalwe die blindes. Wat bedoel Ouma, Ma?”
“Niks nie, my kind, eintlik niks nie.”
“Maar toe Mamma vir my gehad het, was Ma seker nie meer so alleen op die plaas nie.”
“Nee, my liefie, toe was ek nie meer so alleen op die plaas nie,” en haar ma se stem het snaakserig geklink, so asof sy nie heeltemal seker is van wat sy sê nie. Magriet kon nie anders nie, sy het aanhou uitvra.
“Was dit dan nooit vir Mamma lekker op die plaas nie?”
“Magrietjie, met jou geboorte was dit depressie en dit was in daardie tyd vir niemand lekker op die plase nie. Almal het swaar gekry.”
“Wat is depressie?”
“Dis as jy niks geld het nie omdat niemand iets vir jou produkte wil betaal nie.”
“En het Ma en Pa ook niks geld gehad nie?”
“Al die boere het gesukkel. Ma en Pa ook. As ons eiers en botter en vleis dorp toe neem, het die winkels vir ons negosie gegee daarvoor, nie geld nie. Ek het soms nie geld gehad om ’n seël te koop om vir my ma ’n brief te pos nie. Maar eet kon ons darem altyd. Ons het groente geplant en ons eie koring laat maal en ons eie skape geslag. Ons het botter gemaak en daar was volop melk en mielies vir ons werksmense, en ek het baie hoenders gehad. Daar was genoeg om by die winkel te verkwansel vir tee en suiker en koffie en lampolie en af en toe ’n lappie goed. My ma het vir my doeke en babakleertjies vir jou gestuur. Baie mense het in daardie tyd bankrot gespeel.”
“Wat is bankrot speel, Ma?”
“Dis as jy niks meer geld oorhet nie, sodat jy geld moet leen en skuld maak. As jy dan nie daardie geld kan terugbetaal as die mense daarvoor vra nie, kom vat hulle al jou goed en verkoop dit om hulle geld terug te kry.”
“Het hulle met Pa ook so gemaak?”
“Darem nie. My pa het ons gehelp, en toe het Ouma Plaas en Oupa Plaas teruggetrek plaas toe en ons het in die dorp gaan bly, en ek het sanglesse gegee vir mense wat salarisse gekry het en Pa het by die afdelingsraad gewerk.”
“En wat van Weerlig, Mamma?”
“Sy het vir my op die plaas gewag, Magriet, en soms het ek nog op haar gery. Ouma het jou dikwels op die dorp kom haal, en dan het jy op die plaas gekuier tot ons jou weer kom kry het. Dan was ek byna net so bly om Weerlig weer te sien as wat ek was om jou weer terug te kry. Maar op ’n dag het ek vir Weerlig verkoop. Ouma wou haar hê om die spaaider te trek, en ek het die geld baie nodig gehad.”
“Ek sou nooit so iets gedoen het nie!”
“Soms kan ’n mens nie anders nie.”
“Maar ’n mens verkoop nie iets waarvoor jy so lief is nie.”
“Magrietjie, daardie dag wat die brief gekom het om te sê dat Pa die werk in die Transvaal gekry het, was ek so dankbaar dat ek bereid was om vir Weerlig te verkoop sodat ons treinkaartjies Transvaal toe kon koop.”
En net daar het Magrietjie se onthou begin. Dit was nie nodig om haar ma te vra van daardie dag toe die brief uit die Transvaal gekom het nie. Sy het by Ouma Plaas gekuier en hulle het in die brekfiskamer by die groot tafel gesit toe Pa en Ma van die dorp af kom. Pa het ingekom met ’n brief in sy hand en sy oë het geblink in sy bruin gesig. En Ma het gelag en haar oë was net so blou soos die maagdeblommetjies wat teen die klippe in die kloof voor die huis gegroei het.
“Ek het die werk gekry, Pa. Ek kan aan die end van die maand daar begin as bestuurder van ’n melkplaas naby Pretoria. Daar is ’n gemeubileerde huis waarin ons kan bly, en die salaris sal ons deurhelp.”
“Dis nie maklik om jou kinders so ver te sien gaan as jy begin oud word nie.” Ouma Plaas se stem was somber.
“Ons moet dankbaar wees, vrou. Dis bittere tye en op hierdie plaas is daar nie meer ’n leeftog vir twee gesinne nie.”
En Magriet was bly en sy was hartseer. Sy was bly omdat haar ma en haar pa bly was. Maar sy was hartseer omdat sy van haar ouma moes weggaan. Ver, het haar ouma gesê. Na die verre Transvaal. Dit het vir Magrietjie geklink na ’n ander land en sy het gewonder of sy ooit weer haar ouma sou sien.