Читать книгу My ouma in kaneel - Margaret Bakkes - Страница 5

Hoofstuk twee

Оглавление

Die voorbereiding vir hulle vertrek na die noorde het dadelik begin. Magriet se ma het een aand al haar sangleerlinge na die huis toe genooi, en almal het vir oulaas stukkies gesing en daar was tee en koek. Magriet moes die middag slaap sodat sy kon wakker bly. Haar ma het vir haar ’n nuwe rokkie gemaak vir die aand. Dit was wit, met klein pienk blommetjies op, en om haar lyf was ’n pienk strik, en Magriet het gedink dat sy nog nooit so ’n mooi rok gesien het nie. Sy het die aand soos ’n prinses gevoel, en al haar ma se sangleerlinge het gesê dat sy ’n prentjie is in haar nuwe rokkie met haar rooi krulhaartjies. Die lekkerste het agterna gekom toe haar ma haar toegelaat het om al die presente wat die leerlinge gebring het oop te maak. Daar was sepies en sakdoekies en sent en geborduurde lappies en ’n speldekussing wat soos ’n kat gelyk het, en lekkers in ’n dosie wat haar ma vir haar gegee het.

Later die aand kon sy nie aan die slaap raak nie van dink aan die aand en aan haar rokkie en aan al die presente. En toe het sy haar pa in die kamer langsaan hoor praat. Hy het hard gepraat, asof hy kwaad was. Tussendeur kon sy haar ma se stem ook hoor, baie sagter, asof sy hartseer was. Die stemme het aangehou en aangehou, en later het daar ’n yslike knop in Magriet se maag kom sit en al die lekker van die aand was weg. Sy wou opspring en na hulle kamer toe gaan om te hoor waaroor hulle so aanmekaar praat. Maar toe was dit meteens stil. Sy het haar pa se voetstappe in die gang gehoor en die voordeur wat toeklap. En langsaan het sy haar ma saggies hoor huil. Maar sy was te bang om op te staan en later het sy aan die slaap geraak.

Die volgende oggend het sy verslaap en toe haar ma haar wakker maak, het sy dadelik geweet daar is groot fout. Haar ma se oë was rooi gehuil en haar gesig was opgeswel.

“Jy moet opstaan, Magrietjie. Pappa neem jou plaas toe na Ouma toe. Jy moet ’n paar dae daar bly.” Daar het ’n groot hartseer oor haar ma gekom. “Ander Ouma is vannag aan ’n hartaanval dood. Hulle het vanoggend vroeg deurgebel na die dokter toe en hy het vir ons kom sê. As Pa van die plaas af terugkom, neem hy my weg begrafnis toe.”

Haar pa het agter haar ma die kamer ingekom en hy het haar ma teen hom vasgehou en Magriet het gesien dat haar ma se skouers skud van die huil. Maar sy was nie heeltemal so hartseer nie, want sy was bly dat haar pa nie meer kwaad was nie en dat hy haar ma vasgehou het en vir haar lief was. Sy het vinnig die kleertjies aangetrek wat haar ma reggesit het. Maar toe sy haar ma moes groet, wou sy nie.

“Ek wil saamgaan. Ek wil ook na Ander Ouma se begrafnis toe gaan.”

“Nee, Grietjie. Begrafnisse is nie vir kindertjies nie. Dit sal baie lekkerder wees op die plaas. Ouma het nog laas laat weet dat sy vir jou ’n nuwe lappop gemaak het.”

Sy het onthou en sy het ook onthou van die hanslam wat Oupa vir haar gemerk het en wat sy uit ’n bottel kos gegee het en toe was haar hartseer weg en sy het vir Ma gegroet en saam met Pa in die Fordjie plaas toe gery.

Die trein na die noorde het in die aand van die stasie af vertrek. Pa het die vorige dag die Fordjie aan Tys Beetge van die slaghuis verkoop en Tys het hulle vir oulaas daarmee stasie toe gebring. Magriet het agter op haar ma se skoot gesit, saam met Ouma en Oupa Plaas, en voor het haar pa gesit. Die wagtery op die stasie wou maar nie verbygaan nie en toe die trein eindelik in die verte fluit, het Magriet op en af gespring en haar binneste het gevoel soos die borreltjieskoeldrank wat hulle partykeer in Raftos se kafee gedrink het. Haar ouma het haar styf vasgedruk sodat sy byna nie kon asem kry nie, en haar ouma het gehuil.

“Ouma se kind. Wanneer sien Ouma nou ooit weer haar kind? Ag, Here, hou tog ’n bewarende hand oor hulle daar in die vreemde.”

Sy het probeer huil sodat haar ouma kon sien dat sy ook hartseer voel, maar daar wou nie trane uitkom nie. Sy het net gedink aan die ryery in die trein en eintlik was sy bly toe hulle binne is, met al die pakkies en koffers en rolle komberse om hulle. Maar sy het lank by die venster bly waai terwyl die trein stadig uit die stasie vertrek het. Sy het die dorp se liggies verby die venster sien beweeg en gedink dit lyk soos towerland. En eindelik het die dorp agter hulle gelê, en buite was die veld donker en vreemd en die doringbome het soos spoke teen die effens ligter hemel gestaan. Haar ma het die komberse begin oopvou en haar pa het die treinbanke begin opslaan sodat haar ma vir hulle elk ’n slaapplek kon regmaak.

“Kan ek bo slaap, Ma?”

“Nee, Magriet, netnou val jy in die nag af.”

“Ek sal nie, Mamma, ek belowe. Ek sal versigtig slaap.”

Haar pa het gelag. “Soos ek jou ken, woel jy jouself maklik van daar bo af, al slaap jy hoe versigtig.”

Sy moes tevrede wees met heel onder slaap. Maar sy het lank by die venster bly hurk en na die nag buite gekyk. En toe het sy begin hartseer voel. Sy het begin verlang na haar ouma en na Weerlig en na haar hanslam en sy het gewens dat sy die trein kon laat omdraai. Sy wou nie weggaan nie. Sy wou nie in die verre Transvaal gaan bly nie.

Sy het wakker geword van ’n harde gerammel. Vir ’n rukkie het Magriet nie geweet waar op aarde sy nou is nie. Toe het sy van die treinryery onthou. En van haar hartseer van die vorige aand. Haar pa het van die boonste bank afgeklim en die deur van die koepee oopgemaak. Voor die deur het ’n man met ’n uniform aan gestaan. Sy kon koffie ruik. Hy het ingekom en drie koppies koffie op die afklaptafel neergesit. Toe hy uit is, het Magriet se ma opgestaan en haar pa het die middelbank afgeklap sodat hulle op die onderste een kon sit om koffie te drink. Magriet het na haar ma gekyk en haar maag het gedraai. Haar ma se gesig was opgeswel en haar oë was rooi. Haar ma het al weer in die nag gehuil. En sy het geweet dit was nie omdat hulle moes weggaan nie. Van haar ma van die begrafnis af teruggekom het, was haar ma se oë aanmekaar rooi gehuil. Sy het nooit meer gelag nie, en partykeer het dit vir Magriet gevoel asof haar ma nie eens meer weet dat sy ’n dogtertjie het nie. Sy het eendag vir haar ma gevra of sy nog lief vir haar was.

“Maar natuurlik, Magrietjie. Dis maar net dat ek so hartseer voel omdat ek nie meer ’n mamma het nie.”

“Maar Mamma het mos nog ’n dogtertjie.”

“Ja, my liefie. Ek het nog ’n dogtertjie en ek is baie lief vir haar.” Haar ma het geglimlag en Magriet het gedink aan Jakkals-trou-met-Wolf-se-vrou. Net soos wanneer dit reën en die son skyn, het haar ma gelyk.

Haar ouma het vir hulle kos ingepak. Vir Magriet was dit die heel lekkerste van die treinreis: die koffie wat hulle by die man in die uniform gekoop het en die kos wat haar ouma ingepak het. Daar was koue skaapboud en toebroodjies met appelkooskonfyt op. Daar was koeksisters en kondensmelklekkers en handtertjies. En daar was ’n bottel met aangemaakte lemoenstroop vir die dors. Hulle het heeldag gery en partykeer het haar pa op die stasies afgeklim as die trein stilhou. Magriet het gevoel sy kry die koors van benoudgeit. Sê nou maar die trein ry sonder haar pa verder?

Teen die middag het hulle deur ’n groot plek gery en op ’n verskriklike groot stasie stilgehou. Haar pa het gesê dis Johannesburg. Die volgende stasie was Pretoria. Haar ma het haar gesig en haar hande gewas en haar deurmekaargewaaide hare probeer kam. Toe het haar pa die pakkies en die koffers en die komberse op die bank begin pak. Die trein het stadiger begin ry en uiteindelik in die stasie ingetrek en stilgehou. Haar ma het ver by die venster uitgeleun en skielik het haar arm begin swaai. Magriet het verwonderd na haar gekyk en gesien dat haar gesig weer helder en bly lyk soos voor die begrafnis.

“Daar is hulle,” het sy uitgeroep en Magriet het onthou van haar ma se suster wat in Pretoria bly. Daar was nefies ook, het haar ma vertel, en Magriet het gewonder hoe nefies lyk. Sy het langs haar ma by die venster probeer uitkyk of sy nefies sien. Sy kon niks anders sien as ’n gemaal van mense nie, tot ’n mooi vrou met swart hare haar arms van buite deur die venster om haar ma se skouers geslaan het.

“My sussie!”

Haar ma se skouers het begin skud en Magriet het geweet sy huil weer. Dit kon sy nie verstaan nie. Nog so pas was haar ma se gesig bly en vol lag. Sy kon die mooi vrou se gesig skrams oor haar ma se skouer sien en haar gesig was nie meer so mooi nie, want haar oë was toegeskroef van die huil. Toe het sy onthou dat die mooi vrou seker haar ma se suster is en dat hulle nou al twee huil oor hulle ma wat dood is. En sy, Magriet, wou ook sommer huil. Nie oor haar ander ouma nie, maar oor Ouma Plaas en die klein kalkoentjies en oor die stoeltjie wat Oupa vir haar uit ’n boomstomp gekerf het en wat op die plaas vir haar wag en oor die leë medisyneflessies wat Ouma altyd in ’n doos vir haar gebêre het om mee te speel en oor die nefies wat sy nou glad nie wou sien nie.

Die nefies was nie op die stasie nie, net die tannie en die oom. Hulle het met ’n motor deur die strate gery en Magriet het nog nooit soveel motors en groot huise en baie bome gesien nie. Haar ma en die tannie het aanmekaar gepraat en gelag en partykeer gehuil, en voor in die motor het die oom en haar pa ook gepraat. Net met haar, Magriet, het niemand gepraat nie. Hulle het verby ’n baie groot, lang gebou op ’n bult gery en haar pa het omgedraai en gesê dis die Uniegebou, en toe het hulle met ’n steil straat opgedraai en by ’n tuin met groot bome ingery, tot voor ’n huis wat heeltemal anders gelyk het as hulle huis op die dorp.

Terwyl hulle afklim, het twee seuntjies om die hoek van die huis gestorm. Vlak by die motor het hulle vasgesteek. Sy het geweet dis die nefies. Een was groter as sy en een net so groot. Haar ma en haar tannie het uitgeklim en haar ma het die deur vir haar oopgehou.

“Kom, Magriet.”

Toe sy uitklim, het haar voet aan die treeplank vasgehaak. Haar ma kon nie gou genoeg keer nie en sy het hande-viervoet vorentoe geval. Sy het gevoel hoe haar blou rok oor haar broekie opskuif en haar knieë en handpalms het soos vuur gebrand. Toe sy opkyk, het sy in die nefies se gesigte vasgekyk. Hulle gesigte was opgeswel van die lag. Sy het gevoel hoe die huil haar keel dik maak. Toe het ’n nefie begin proes.

“Ou blouboude,” het hy gekraai. “Ou blouboude!”

“Charl! Hoe durf jy?”

Hy het om die hoek van die huis verdwyn met die klein nefie agter hom aan. Haar ma het haar opgetel, en nou kon sy die huil nie meer keer nie. Dit was soos die braksloot op die plaas wat met reëntyd afkom. Haar ma het probeer troos.

“Toe maar, Magriet, toe maar, liefie. Hy het net gespeel. En my kind is seker baie moeg. Toe maar, Magrietjie.”

Later, toe sy al in die bed was, voor haar ma die lig afgesit het, het die groot nefie in die deur verskyn.

“Ek is jammer, Magriet. Ek sal môre vir jou wys hoe spin my tol.”

Maar voor hy die volgende dag sy tol kon spin, het die oom en tannie hulle met die motor uitgeneem na die plaas waar hulle sou bly. Daar was nie plek in die motor vir die nefies nie, en daaroor was Magriet baie bly. Sy het eintlik gewens sy sien hulle nie gou weer nie. Van nefies het sy nie veel gehou nie, en van die blouboude sou sy nie sommer vergeet nie, al sou hy ook sy tol vir haar gespin het.

Die plaas was nie ver van die stad nie. Voor Magriet nog kon vaak word van die gedreun van die motor, het hulle afgedraai en deur ’n hoë laning bome gery tot voor ’n groot huis met ’n houtstoep rondom. Om die huis was die gras groen en daar was baie bome en bosse. Magriet het uit die motor geklim en doodstil na alles om haar staan en kyk. Sy het gedink as die huil dik word in haar keel, gaan sy sleg hier bly. Maar die huil het weggebly. Sy het ’n voël bokant haar hoor fluit, en van agter ’n bos uit het twee katte aangestap gekom asof hulle die mense wou welkom heet. Dit het vir haar gelyk soos ’n ma-kat en haar kind. Die katte het tot by haar gekom en die ma-kat het haar lyf om Magriet se bene gekrul en haar katmasjientjie aangesit. En Magriet het geweet: dit gaan ’n lekker plek wees dié, met voëls en katte en baie speelplek. Die huis se vensters het geblink en die stoep was koel en wyd.

“Montrose,” het haar ma saggies gesê. “Montrose. Tog ’n mooi naam, al is dit Engels. En ek hou van die huis. Ons gaan gelukkig hier wees, ek weet dit. Eindelik gelukkig.”

“Mevrou Macmurray sal môre uitkom, dan kan julle alles bepraat. Sy sal bly wees dat daar uiteindelik weer iemand in die huis en op die plaas is. Ná haar man se dood kon sy nie lank so alleen bly en die groot melkery behartig nie. Dié dat sy maar met haar seun stad toe getrek het. Eendag, as hy groot is, sal hy dalk oorneem.”

“Dankie dat jy my aanbeveel het, ou swaer. Dis ten minste ’n begin.”

Magriet was bly dat haar ma en haar pa so gelukkig geklink het. Sy het agterna gedrentel toe hulle die huis instap.

“My klavier!” het haar ma skielik uitgeroep. “Hier staan my klavier! Nou is ek werklik tuis.”

Haar pa het gelag. “Ek het gereël dat dit op die stasie gehaal en afgelaai word. Ek weet mos hoe is jy oor jou klavier.”

Haar ma het haar arms om haar pa geslaan en sy het gelag en gehuil, sommerso deurmekaar.

“Baie dankie, baie dankie, my liefste man. Ek sal dit nooit vergeet nie. Dis soos ’n goeie voorteken.”

Sy het voor die klavier gaan sit en die deksel oopgeslaan. Ná sy die rooi klavierlap afgehaal het, het sy haar hande ’n oomblik op die blink wit note laat rus. Toe het sy begin speel en die note was vir Magriet net so mooi soos die voël se fluit buite in die hoë boom. Haar ma het begin sing, eers saggies en toe sterker en harder totdat haar stem die hele vertrek vol gemaak het. Almal het doodstil staan en luister. “Prys den Heer” het Magriet se ma gesing en “O goedheid Gods”. En toe het die klanke vrolik en lig geword en haar ma het “O die liewe Martatjie” en “She’ll be coming down the mountain” gesing en hulle het almal saamgesing en gelag. Magriet sou haar lewe lank na “Prys den Heer” en “O goedheid Gods” en “O die liewe Martatjie” en “She’ll be coming down the mountain” luister met die gelukkige, warm gevoel wat sy die eerste oggend op Montrose in die verre Transvaal in haar binneste gehad het.

My ouma in kaneel

Подняться наверх