Читать книгу My ouma in kaneel - Margaret Bakkes - Страница 6

Hoofstuk drie

Оглавление

Die eerste warm, gelukkige gevoel het lank in Magriet se binneste bly vassit. En omdat dit haar binneste so vol gesit het, was daar min plek oor vir huil en hartseer. Sy het soms na haar ouma en na die plaas verlang, maar die verlange het nooit lank gehou nie. Daar was te veel lekker dinge op Montrose. Byna elke dag was daar ’n ander lekker ding.

Daar was mevrou Macmurray en haar seun, Bimbo, wat byna elke naweek van die stad af gekom het om in hulle kothuis agter die groot huis te bly. Mevrou Macmurray het altyd vir haar lekkers gebring, en Bimbo het haar leer donkiery. Daar was die katte en die speelplekke oral op die plaas; onder in die tuin, agter die huis in die dennebos, in haar groot speelkamer as dit die dag slegte weer is en soms in die kombuis waar haar ma werk.

Een van die eerste lekker dinge wat gebeur het, was Magriet se verjaardag, kort nadat hulle ingetrek het. Haar pa het met die plaasmotor stad toe gery en teruggekom met ’n vrag presente. Sy het gesien dat haar ma ontevrede was.

“Ons kan dit nie bekostig nie.”

“Maar vrou, dis die eerste keer dat ek ’n bietjie geld het om vir ons ou dogtertjie ordentlike verjaardagpresente te koop.”

“Dis oorbodig. Ek het geld nodig vir die baba se klere.”

“Dié kry ons volgende maand. Daar is mos nog tyd. Kom ons geniet nou Grietjie se verjaardag terwyl sy nog al enetjie is.”

Daar was wonderlike presente. Die mooiste van alles was ’n poptafeltjie met geskilderde patroontjies in rooi en goud en swart. Haar pa het beduie dat dit in Rusland gemaak is, ’n land ver oor die see, waar dit in die winter wit was van die sneeu en baie koud. Daar was boeke ook, die eerste van baie wat Magriet se pa nog deur haar lewe vir haar sou koop. Tien Kaalkopmannetjies was vir haar die mooiste, en haar ma moes elke aand vir haar daaruit lees: van tien kaalkopmannetjies wat ’n huis bou op Vergelege. Die sware tafel val op Dafel, toe bly daar maar net nege. En so aan tot daar nie meer een kaalkopmannetjie oor was nie. ’n Ander present was ’n swart kat van karton, vol toffies. Die dag ná haar verjaardag het sy in die dennebos agter die huis al die toffies opgeëet en toe die kat self ook begin eet, tot sy so naar en siek was dat sy die huis beswaarlik gehaal het. Haar ma het baie geraas en haar beveel om haar vinger in haar keel te druk. Daarna moes sy kasterolie sluk en bed toe gaan.

Van al die presente was die wonderlikste egter die nuwe baaikostuum. Haar ou baaikostuum was vir haar ’n verskriklike verleentheid, want dit was sonder bostuk, met net twee bandjies oor die skouers wat die broekie bo gehou het, sodat sy die hele tyd met haar arms oor haar bors geloop het. Die nefies het altyd met haar baaikostuum gespot.

Haar pa het nie vir haar die baaikostuum saam met die ander presente gegee nie. “Luister, Magriet, daar is nog een present. Maar dié moet jy self loop haal. Onder die groot klip in die dennebos het die maankoningin vir jou iets weggesteek. As dit weer volmaan is, moet jy die aand alleen gaan en dit gaan haal. As jy bang is, sal die maankoningin dit self weer gaan haal en vir ’n ander dogtertjie gee.”

“Ek is nie bang nie, Pa. Wanneer is dit weer volmaan?”

“Oormôre, dink ek.”

“Dan sal ek gaan.”

“Jy is verspot, my man. Die kind is mos nog klein.”

“Sy moet nou al leer om vrees te bowe te kom. Veral as iets belangriks op die spel is.”

Haar pa en haar ma het in die verligte kombuisdeur bly staan toe sy die aand alleen die bos in loop. Die maan het helder deur die lang, donker bome geskyn en êrens, hoog in ’n boom, het ’n uil bly roep. Magriet se rug was hol en haar wange was yskoud, maar sy het bly loop, deur die donker bome heen, met die suising van die nagwind soms harder as die uil se roep. By die groot klip, wat in die donker nog groter gelyk het en vreemd, het sy gebuk en met haar hande begin soek. Sy het die pakkie raak gevat en soos blits omgespring. Die takke het haar vasgegryp en die klippe het haar voete gesteek, maar sy het niks gevoel nie. Sy het net een doel gehad, om uit die donker weg te kom tot in die helder lig by haar pa en ma waar dit veilig was. Sy het haar in haar ma se wagtende arms gewerp.

Haar pa het gelag. “My dapper dogter. Jy het jou present verdien. Maak oop dat ons kyk.”

Sy het haar asem teruggekry en die bruin papier losgewoel. In haar hande was ’n regte, egte swembroek. Sy kon haar oë nie glo nie. Dit sou nooit weer nodig wees om daardie simpel broek te dra nie. Dit sou nooit weer nodig wees om haar arms oor haar bors te vou nie. Daarby was die swembroek ’n maankoningin-swembroek: dit was net so goudgeel soos die maanstrale wat deur die donker dennebome geval het toe sy netnou in die bos was. Sy het haar arms om haar pa se nek geslaan en hom styf vasgehou, en haar ma het kakao gemaak en hulle het saam in die warm geel lig van die kombuis gesit, en binne-in haar was dit lig en warm soos geel maanlig en soos die geel baaikostuum.

Haar oom en haar tannie en die nefies het baie kom kuier en dit was deel van die lekker van Montrose. Haar pa en ma het baie meer gelag, veral as haar oom en tannie kom kuier. Sy het selfs later van haar nefies begin hou. As hulle op die plaas was, is daar piekniek gehou en geswem en donkiegery. Die swem was ook nou baie lekkerder met die nuwe geel swembroek.

Op ’n dag het daar ’n pakkie van haar ouma af gekom. Dit was ’n wonderlike pakkie, en toe haar ma dit oopmaak, het die verlange na haar ouma vir die eerste keer in ’n lang ruk aan Magriet se hart kom pluk. Want die pakkie het nes haar ouma geruik: heel bo-in, met die stammetjies in watte en in blinkpapier toegewoel, was ’n bossie narsings en viooltjies. En daaronder was goue kondensmelklekkers en bruin soetkoekies met blink suikerkorrels bo-op. In ’n kleiner dosie onderin was ses vet, blink koeksisters. Vir Magriet, het op die pakkie gestaan.

“Ma, ek wil vir Ouma hê.”

“Maar Ouma is mos nie nou hier nie, Magriet.”

“Maar ek verlang na Ouma. Verlang Ma dan nie ook na Ouma nie, hè, Ma?”

Magriet se ma het nie dadelik geantwoord nie. “Ek kan verstaan dat jy na haar verlang, Grietjie. Jou ouma is baie lief vir jou.”

“Ek wil na my ouma toe gaan.” Sy kon die trane nie meer keer nie. En dit was meer as die skielike verlang wat haar laat huil het. Daar was iets in haar ma se gesig en in haar ma se stem wat haar ongelukkig gemaak het. En sy het nie geweet wat nie.

Op Montrose is Magriet se sussie gebore. Op ’n aand het sy en haar pa en haar ma met die motor stad toe gery. Haar pa het haar net by haar tannie afgelaai en dadelik met haar ma verder gery. Sy kon dit nie verstaan nie en die huil het sommer net onder haar oë kom sit. Maar die nefies het vir haar drop gegee en haar tannie het beduie dat haar pa en haar ma Moedersbond toe is. Hulle was van plan om vir haar ’n boetie of ’n sussie daar te gaan haal. Môre of oormôre sou sy self die baba kon gaan sien. Sy moet net soet wees. Later het sy gehoor dat haar sussie in die nag gebore is en dat haar pa sommer weer plaas toe is, want hy moes vroeg by die melkery wees.

En die volgende middag het haar tannie haar mooi aangetrek in ’n blou rokkie met ’n blou strik in haar hare en hulle het met Pinestraat op gestap en gestap en gestap tot haar beentjies wou afbreek, en uiteindelik was hulle by die Moedersbond. Haar ma het kiertsregop in ’n bed gesit en haar wat Magriet is styf vasgehou en later het sy ’n klein babatjie deur ’n glasruit gesien en hulle het vir haar gesê dis haar nuwe sussie. Sy het gedink dat dit ’n baie lelike sussie is, rooi en gekreukel en met ’n dikke bos donkerrooi hare. Sy het nie geweet of sy baie van die sussie gaan hou nie, maar sy het maar niks gesê van die lelikgeit en dat sy dalk nie van die sussie gaan hou nie, want sy wou nie haar ma se hart seermaak nie. En dit het gelyk asof haar ma baie bly is oor die sussie. Die aand het haar tannie haar vertel dat die sussie se naam Christi is.

Nadat Christi en sy en haar ma en pa weer by die huis was, het sy nogal lief geword vir die babatjie en sy kon nie verstaan waarom haar ma op ’n dag so kwaad was toe sy Christi se mondjie vol koek gestop het nie. Niemand anders het daaraan gedink om vir Christi ook koek te gee nie. En haar ma het gesê sy kon die kind dood laat verstik het. Sy sou mos nie haar eie sussie dood laat verstik het nie. Haar ma was net so kwaad die dag toe sy aan die waentjie gehang het en dit omgetrek het sodat Christi uitgeval en verskriklik geskree het. Sy wat Magriet is, het so geskrik dat sy Christi net daar laat lê het en onder in die tuin gaan wegkruip het. Haar ma het gesê sy sal nog die kind verongeluk, en daarna was Magriet nie meer so lief vir die sussie nie. Veral nie as haar ma en haar pa so aangaan oor die sussie nie, asof sy al baba in die wêreld is.

Op ’n dag het haar oom in die middel van die week op die plaas aangekom met ’n brief vir haar pa, en haar ma en pa was daardie dag net so bly as wat hulle was toe haar pa die werk op die melkplaas gekry het. Haar oom het beduie, maar sy wat Magriet was, het nie veel verstaan nie. Van staatsdiens en sekuriteit en lande en proefplaas en plotte het sy niks verstaan nie, maar wel van die feit dat hulle sou wegtrek van mevrou Macmurray se plaas. Sy wou sommer hartseer word. Sy het verseker geweet dat sy die katte en die donkie en Bimbo en mevrou Macmurray nooit weer sal sien as hulle eers weggetrek het nie. Nes sy haar ouma ook nog nooit weer gesien het van die aand dat hulle op die trein geklim het nie.

Kareepoort-Oos was die nuwe plek se naam en dit was ook naby Pretoria, maar na ’n ander kant toe uit. Dit was gelukkig nog naby genoeg aan die stad dat haar oom en tannie en die nefies kon kom kuier. En daar was ook ’n ander lekker op Kareepoort-Oos: vir die eerste keer het Magriet ’n maatjie gehad. Haar naam was Ella Stemmet en haar pa was een van die pagters wat op die hoewes by Kareepoort-Oos gebly en tabak geplant het. Haar ma het gesê sy kan met Ella speel, want Ella se mense was beskaaf. Sy het haar dae omgespeel met Ella, al was Ella ’n regte klikbek wat met alles na haar ma toe gehol het. Ella het soos ’n maer vark geskree die dag toe sy, Magriet, haar per ongeluk van die wa afgestamp het. Ella het huis toe gehol om by haar ma te gaan klik en sy, Magriet, het onder háár ma se kombuistafel gaan wegkruip. Hulle het haar egter maklik daar gekry en sy moes vir Ella en haar ma om verskoning vra. Daarna wou sy vir ’n ruk lank glad nie met Ella speel nie.

Eintlik moes Magriet begin skoolgaan op Kareepoort-Oos, maar die skool was ver van hulle huis af, byna twee myl ver, op Sonop. Haar pa het vir haar ’n fietsie gekoop en haar ma het haar leer ry, maar haar ma was te bang om haar alleen met die fietsie skool toe te laat ry. Toe het haar ma die huishulp by die baba laat sit en agter Magriet se fiets aangehardloop tot by die skool. Want hulle het nie toe ’n motor gehad nie. Smiddae het haar ma haar weer ingewag en die ent huis toe gehardloop. Maar haar ma was gou flou.

“So kan dit nie aanhou nie. Die goewerment sal voorsiening moet maak vir die kind se skool. Intussen gaan ek haar self leer.”

“Hou maar ’n rukkie uit, ek dink Lande sal my gou verplaas, dan sal daar seker beter reëlings met skoolvervoer wees,” het haar pa getroos.

Dit het Magriet gepas. Sy het baie makliker by haar ma leer somme maak en lees as in die skool, en elke keer as haar pa stad toe gaan met die trein van Wolhuterskop-stasie af, het hy vir haar leesboeke saam teruggebring. Soms het haar nefies in die vakansie kom kuier en dan het hulle van hulle boeke saamgebring. Hulle was dikwels vir haar vies omdat sy liewer gelees het as om met hulle te speel. Op ’n dag het haar oudste nefie, Charl, so by haar geneul om saam met hom fiets te ry dat sy teen wil en dank moes ophou lees aan Koning Eenoog. Sy het sommer weer teruggedink aan die blouboude-tergery en sy het geweet sy moet hom nog eendag terugkry. Hy het haar aanmekaar geboelie en geterg, en sy was nou moeg daarvoor.

By die tweede kanaal wou hy omdraai. “Ek het ’n nood, Magriet.”

“Nee, jy wou mos ry. Ons draai nie nou om nie. Ons ry nou tot by Wolhuterskop. Ek het ’n pennie. Ons kan twee stukke drop by die winkel koop.”

“Ek móét omdraai, Magriet. Ek kan nie meer hou nie.”

“Nee!” Sy was meteens woedend. “Jy wou mos ry, nou sal jy ry.” Sy het haar fiets gelos en hom met alle mag van syne afgestamp. Hy was te verstom om hom te verset toe sy bo-op hom gaan sit.

“Magriet, los my, daar gaan fout kom!”

“Jy wil mos. Jy wil mos. Wie is jou blouboude?”

Sy het tot haar sinne gekom toe sy sien hy begin huil. Toe het sy geskrik, soos die dag toe sy haar sussie uit die waentjie laat val het en soos die dag toe sy Ella van die wa afgestamp het. Sy het hom gelos. Sy het geweet dat sy moles gemaak het. Sy het op haar fiets gespring en vinnig teruggery huis toe. Sy het een maal omgekyk. Charl was huilend besig om sy fiets te stoot. Dit was vir haar duidelik dat die slag gelewer was.

Haar ma het haar veel later agter die hoenderhok opgespoor. Haar blou oë was perserig van kwaadgeit.

“Jy is ’n gemene dogtertjie, Magriet. Om iemand so te verneder. Daarby moes ek die skade opruim. Ek klop nie dikwels nie, maar vandag kry jy streepsuiker. En daarna gaan vra jy jou nefie om verskoning.”

Haar ma het haar twee harde houe met die rugkant van die borsel gegee. Dit was seer, maar sy het nie gehuil nie. Hy wou mos, hy wou mos. Sy het nou beter gevoel oor die blouboude en sy het ook nie so sleg gevoel dat sy ’n gemene dogtertjie was nie. Haar ma hét haar mos nou geslaan. Sy sou nog vir haar ma vra wat “verneder” beteken.

Kort voor hulle weg is van Kareepoort-Oos het haar ouma en oupa vir hulle met die trein kom kuier. Haar pa het hulle op Wolhuterskop-stasie ontmoet en met meneer Sher van die winkel se motor huis toe gebring. Toe haar ouma voor die deur uit die motor klim, het Magriet soos ’n werwelwind op haar afgestorm. Sy het haar arms om die groot lyf in die swart rok geslaan en in haar neus was die bekende geur van Tokalon en laventel en Stella-olie.

“Magriet, Ouma se kind, jy is dan al yslik groot. Ouma ken jou byna nie.”

“Ek het nou ’n sussie by, Ouma, en ek kan al lees en skryf, al is ek nie in die skool nie.”

Vir Magriet was die dae van haar ouma se kuier wonderdae. Sy het haar ouma alles vertel en alles gewys. Hulle het langs die kanale gestap en af na die tabakskure. Sy het haar gewys waar Ella bly en hulle het saam geskrik vir die rooi hoenderhaan wat ’n mens so onverwags kon bestorm. Haar ouma het saam met haar huis-huis gespeel met die nuwe pop wat sy vir haar saamgebring het. En die dag toe haar ouma en oupa weer moes vertrek, het Magriet haar totaal verwese gehuil.

Haar ma het getroos. “Toe maar, Magriet, een van die dae is ons terug in Kaapland, dan is ons weer nader aan Ouma en Oupa.”

Deur haar trane het Magriet opgemerk dat haar ma self glad nie so ingenome lyk met die vooruitsig nie. Later, toe sy tot bedaring gekom het en die trein uit sig verdwyn het, het Magriet gevra: “Sal Ma ook bly wees as ons weer naby Ouma bly?”

Haar ma het lank na haar gekyk. “Hierdie tyd in die Transvaal was ’n goeie tyd, Magriet. Maar nou ja, Döhné is ook nie so naby die plaas nie.”

Op Döhné moes Magriet weer begin skoolgaan. Haar pa het nou weer ’n motor gehad, maar hy kon haar nie heen en weer neem skool toe nie. Want die skool was ver, op Stutterheim. Hy het vir die goewerneur geskryf en dié het ’n kapkar en ’n perd gekoop waarmee ’n werker haar elke dag skool toe moes neem. Vir haar ma was dit elke liewe dag ’n grote bekommernis. Sy het bitterlik by haar pa gekla. “Dit kan nie so aangaan nie. Fielies ruik elke oggend na drank as hy Magriet hier kom oplaai. Ek het nie rus of duurte voor sy smiddae veilig terug is nie. Jy sal moet vra vir ’n verplasing, na waar daar ander mense met kinders is en waar daar ordentlike voorsiening is.”

Op ’n dag het haar pa kom sê dat hy ’n verplasing na Grootfontein naby Middelburg gekry het. Magriet was bly. Sy het nooit lekker op Döhné gebly nie. Daar was nie eens een ou maatjie om mee te speel nie. En sy was bang as Fielies die perd so piets om die skerp draai naby die dorp, sodat die kar byna omslaan. Haar ma was ook bly.

“Ek neem haar nou dadelik uit die skool uit. Die goewerment kan maar die kapkar en die perd en vir Fielies maan toe stuur vir al wat ek omgee. Ek het elke dag my kind se lewe gewaag. In Middelburg kan sy maar oorbegin. Sy sal nie sukkel nie. Sy lees reeds beter as die meeste kinders van haar jare.”

“Ons sal ook meer van Ma-hulle sien as ons in Middelburg is. Die treine loop makliker.”

Haar ma het weggekyk en sy het glad nie bly gelyk nie. Vir Magriet was hierdie nuus van haar pa die kroon op die lekker van die weggaan.

My ouma in kaneel

Подняться наверх