Читать книгу Die engele staar - Marie Reyneke - Страница 5
1
ОглавлениеDie blou-en-wit Boeing van Air Zambia land stamperig op die aanloopbaan. Stowwerige, yl boompies skuif na agter verby.
Dan is dit nou dit, dink Nina Joubert. Sy is hier. Geen omdraaikans meer nie. Haar dubbele lewe het begin.
Sy trek haar skouers agteroor – die ingeprente gewoonte sedert haar paradedae – en stap uit die vliegtuig. Saam met die ander passasiers loop sy oor ’n teerstrook na die aankomssaal. Die lughawegebou is netjies en lyk nuut opgeknap, met baldadige rooi bougainvilleas en rose by die ingang.
Die bougainvilleas by Ron se huis blom nog nie… Die winter in die Vrystaat is te koud.
Ron! Sy het haarself belowe sy sal hom totaal uit haar gedagtes ban as sy eers hier is. En sy is nog skaars op vaste grond en iets laat haar aan hom dink.
Sy gooi haar kop agteroor en kam met haar vingers deur haar hare. Goed dan! Miskien beteken weggaan nie eensklaps vergeet nie.
Maar hier in ’n vreemde omgewing, met ’n nog vreemder opdrag, sal daar nie tyd wees vir tob nie. Hier móét sy eenvoudig vergeet van alles wat agter lê. Waarom anders het sy haar in so ’n vergesogte operasie soos Die Plan laat inpraat?
Sy het tog deeglik geweet waarvoor sy haar inlaat. En sy is nie ’n mens wat terugkyk as sy ’n besluit geneem het nie.
Tog, toe sy in die aankomssaal die nodige dokumente invul, voel sy die sweterigheid van haar hande. Sy hou haar rug regop. Sy was in haar loopbaan al in baie vreemder situasies as hierdie.
Maar toe sy in die ry staan en wag om deur doeane te gaan, kan sy haar gedagtes nie keer nie. Al wat sy eintlik van die plek weet, is wat kaptein Philip Harmse haar daardie aand in die rokerige eetplekkie vertel het. Dit was toe hy Die Plan aan haar voorgelê het.
Aanvanklik het sy natuurlik gedink hy is laf. Sý van alle mense op ’n missie in ’n land waarvan sy tot dusver nog net gelees het! En dit ná haar rekord in die Suid-Afrikaanse polisiediens!
“Juis, Nina,” het Philip haar op sy rustige manier verseker. “Niemand gaan enigiets meer in jou sien as ’n meisietjie wat avontuur in ’n vreemde land soek nie. En noudat dinge tussen jou en Ron… hmm… ook nie uitgewerk het nie…”
“Moenie jy dit ook nog invryf nie.”
“Jy weet ek sê dit nie om jou seer te maak nie. Dis omdat ek wil hê jy moet jou selfbeeld herstel. Besef jy wat dit vir jou sal beteken as jy inligting kan inwin wat hierdie sindikaat kan oopvlek?”
Sy het ’n vreugdelose snorklaggie gegee. “Jy het nog altyd geweet watter aas om te gebruik, kaptein Philip Harmse. Jy weet baie goed niks sal my meer plesier verskaf as om ’n paar grootkoppe by die SAPD op hulle neuse te laat kyk nie. Gee my ’n paar dae tyd. Ek sal dit oorweeg.”
Reeds die volgende dag het sy hom laat weet. Dit was nie moeilik om te besluit nadat sy vir Ron en sy nuwe blondekopmeisie saam in sy rooi sportmodel gesien het nie. Die Vrystaat is nie groot genoeg vir almal van hulle nie.
Op ’n manier sien sy nogal daarna uit om Die Plan aan te pak. Sy voel weer die bekende tinteling in haar wese – die eens bekende opwinding van wanneer hulle voor ’n uitdagende ondersoek gestaan het. Dis net: nou is sy alleen. En sy het nie veel inligting nie.
Al wat sy weet, is dat Gunther Becker, die eienaar van Nyati Lodge, ’n verdagte is in smokkelhandel met bedreigde spesies. En dat hy eenvoudig te glibberig is om vasgetrek te word. Toe kry kaptein Philip Harmse ná ’n oproep van die Zambiese polisie die idee dat sy die ideale persoon is om as informant na Nyati Lodge te stuur.
Sy glimlag wrang. Hy was die enigste persoon in die SAPD wat in haar onskuld bly glo het. En sy gaan hom nie teleurstel nie.
Toe sy deurstap by doeane, begin soek haar oë na ’n lang, blonde man met ’n baard. Gunther Becker het gesê sy sal hom maklik herken, maar daar is niemand wat aan sy beskrywing voldoen nie.
Sy trek haar bagasietrollie uit die pad uit. Waar kan die man wees? Sy e-pos was tog duidelik.
Sy kyk na die kennisgewingbord. Die volgende vlug is van Lusaka af, en dis eers oor drie ure.
Asof van nêrens staan ’n lang swart man skielik voor haar. “Kan ek miskien vir u ’n taxi kry?” vra hy vriendelik op foutlose Engels.
“Nee, nee, dankie!” keer sy vinnig. “Iemand sal my kom haal. Of miskien… as ek net kan bel.”
Dalk was dit nie so ’n goeie idee om selfs haar selfoon agter te laat nie. Maar sy wou seker maak dat niemand haar kan opspoor nie.
“Seker. Het u die nommer? En drieduisend kwacha?” Hy glimlag verskonend. “Dis die koste vir ’n plaaslike oproep.”
“Nee, los maar. Ek het nog nie geld omgeruil nie. Ek sal nog wag. Hulle weet ek kom.”
’n Kwartier later sit sy steeds op die bankie. Waar die duiwel bly die man? As dít is hoe hulle besoekers verwelkom, kan sy verstaan dat hulle kleitrap by die lodge. Daar is mos darem prioriteite!
Sy wik en weeg. Miskien moet sy maar ’n taxi neem. As die vervlakste man nie die ordentlikheid het om haar betyds te kom afhaal nie, kan Nyati daarvoor betaal!
Minder as tien minute later sit sy in ’n stokou, gehawende Toyota Corolla en ys vir elke slaggat wat die bestuurder behendig omseil. Sy het lekker gelag vir Philip se grappie dat as jy in Zambië dink jy sien ’n haas in die pad, moet jy liewer uitswaai, want eintlik is dit ’n donkie se ore wat by ’n slaggat uitsteek. Nou verstaan sy waar die grappie vandaan kom.
Nina roer haar skouers. Probeer daarmee die herinneringe aan die gebeure van die afgelope tyd afskud. Maar die aaklige onsekerheid wat op verwerping volg, begin weer aan haar vreet. Het sy haar nie oorhaastig in hierdie ding begewe nie? Maar watter ander opsies het sy gehad?
Sy is so te sê uitgeskop uit die polisiediens. Haar enigste vooruitsig was ’n saai werk by ’n toeristeoord in Bloemfontein om aan die lewe te bly. En haar en Ron se verhouding het al meer begin lostorring ná die hofsaak.
Om eerlik te wees het sy nie gedink dit sal so maklik wees om die werk by Nyati Lodge te kry nie. Toe sy haar CV na die internetadres gestuur het wat Philip vir haar gegee het, het sy nog gedink sy kry dalk nie die pos nie.
Sy glimlag skeef. Ten minste kon sy “toerismebedryf” in haar e-posaansoek skryf; “gewese speurder” sou nie deug nie. Nie dat dit gelyk het of die Duitse eienaar veel erg aan kwalifikasies of ondervinding het nie. Al wat Gunther Becker wou weet, is hoe gou sy by Nyati Lodge kan begin.
Op die oomblik is sy egter besig om haar behoorlik op te werk oor haar sogenaamde werkgewer wat vergeet het om haar by die lughawe te kom haal. En dit nadat sy haar aankomstyd selfs weer ’n keer per e-pos bevestig het!
Die omgewing van die straat waarmee hulle Livingstone binnery, vertoon beter as wat die dorpie uit die lug gelyk het. Die meeste huise is merkbaar opgeknap, met hoë heinings rondom. Van tuine is daar nie veel sprake nie, maar die rooi grond rondom die huise lyk skoon genoeg, asof dit elke dag gevee word. Net hier en daar skreeu verwaarloosde koloniale huise hul verval uit.
“Kan jy asseblief vir my by ’n bank of ’n wisselkantoor stop?” vra sy die bestuurder. “Ek moet geld omruil.”
“Geen probleem, mevrou,” lag hy wittand. Hy swaai net so effens uit die pad en stop langs die sypaadjie.
Waarvoor stop die man nou? “Wisselkantoor,” probeer sy verduidelik.
Dan sien sy uit die hoek van haar oog ’n hele paar mans op die taxi afpyl.
“Change, madam, change. Good rate!” praat almal deurmekaar en druk hul hande deur die motorruit.
“Nee! Ek wil nie geld op straat omruil nie. Vat my dadelik Nyati toe!” sê Nina, al die gesag van haar polisiedae terug in haar stem.
Genadiglik kry die taxibestuurder die boodskap. Hy wuif die omstanders met ’n handbeweging weg en ry byna die laaste bittereinder uit die pad. Van die agtersitplek af probeer Nina die bestuurder se gesig in die truspieëltjie peil. Maar sy gelaatstrekke is uitdrukkingloos, sy blik verbete op die pad gerig.
Toe hulle die dorp uitry en sy die miswolk van die Victoria-waterval ’n ent vorentoe gewaar, roer die opgewondenheid weer in haar. Sy het die regte ding gedoen. Haar taak hier kan haar tot ses maande besig hou. Genoeg tyd om Ron uit haar gestel te kry. En hopelik om haar naam in ere te herstel.
Ek is nou hier, besluit sy met ’n skouerophaling toe die taxi die teerpad met sy slaggate verruil vir ’n grondpad vol hobbels. Letterlik en figuurlik vasskop is seker maar die enigste antwoord.
Buitendien, haar pa het nie verniet kleintyd al gesê as sy eers haar kop op iets gesit het, kry niemand haar daarvan af nie. In die polisie het haar kollegas haar soms tergend die bulldog genoem. Omdat sy nie maklik laat los het wanneer sy met iets besig was nie.
Sy snork liggies deur haar neus. Dis nou toe dit nog die goeie ou dae was. Vóór die hofsaak wat alles verander het.
Uiteindelik hou die taxi in ’n stofwolk voor die hekke van die vakansieoord stil. Onder ’n yslike opgestopte buffelkop teen die hekpaal staan die naam op ’n stuk plat hout: Nyati. Nina glimlag. Buffel. Geen twyfel oor wat die naam beteken nie.
Die hekwag, met ’n gebreide blou wolmus op sy kop, kom orent van sy deurgesitte stoel. Hy salueer oordrewe en laat hulle deur. Toe hulle op die parkeerplek tot stilstand kom, herken sy die grasdakgeboue wat sy vanuit die lug gesien het. Dis egter te bosryk om die rivier te sien.
Die taxibestuurder laai haar bagasie uit. Vanuit die hoofgebou kom ’n portier aangedraf om die tasse by hom te neem.
“Ek is Nina Joubert,” verduidelik sy. “Ek kom hier werk. Kan julle dalk die taxi betaal totdat ek geld kon omruil?”
Die man met die kaalgeskeerde kop glimlag vriendelik. Hy vryf nadenkend oor sy ken, asof die antwoord daar moet lê.
“Ek sal die barman vra,” beduie hy en stap weg in die rigting vanwaar hy gekom het.
“Of wag,” roep sy agterna, “is meneer Becker hier?”
Die portier kom in sy spore tot stilstand. Die lig van begrip daal skielik in sy oë.
“Lughawe toe,” beduie hy met ’n wye glimlag. “Om madam te gaan haal.”
Langs Nina trap die taxibestuurder ongemaklik rond. Sy besef hy wag vir sy geld. Sy pluk ’n spul randnote uit haar handsak.
“Hoeveel?” vra sy. “As jy dit self by die straatwisselaars moet gaan omruil?”
“Thirty US Dollar,” beduie hy sonder om sy blik van die geld in haar hand weg te neem.
“Dertig dollar. Dis mos onmoontlik!”
Haar stem gaan verlore in die gedreun van ’n voertuig wat in ’n stofwolk langs hulle tot stilstand kom. Die yslike blonde man wat uitklim, lyk befoeterd.
“Juffrou Joubert? Het ons dan nie afgespreek dat ek u by die lughawe kry nie?” vra hy op perfekte Afrikaans.
Nina is só onkant gevang dat sy skoon vergeet om voor te gee dat sy nie geweet het hy praat Afrikaans nie. Maar sy pluk haar bymekaar.
“Dis reg,” antwoord sy gelykmatig. “U was nie by die lughawe nie. Ek het gewag, en later maar ’n taxi geneem.”
Gunther Becker plant sy bene wyd. Dit laat sy massiewe gestalte nog groter lyk. As die trek om sy mondhoeke veronderstel is om ’n glimlag te wees, registreer dit nie in sy ysige blou oë nie.
“Juffrou! Om te wag is een van die dinge wat jy baie vinnig in Afrika moet leer. Ek kon doodeenvoudig nie vroeër by die lughawe wees nie.”
“Jammer,” sê sy en probeer lighartig klink. “Ek dink ek het alreeds ’n paar dinge geleer. As ek nou net by my chalet kan uitkom. U kan maar sê wanneer ons moet gesels.”
Die blonde kop beduie in die rigting van die taxibestuurder. “Die man wag vir sy geld!”
Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Die onbeskofte arrogansie! En sy moet saam met hóm werk?
Sy haal diep asem en hou die geld waarmee sy nog steeds in haar hande staan na die taxibestuurder uit. Sy sien hoe hy huiwer. Dis die Duitser wat die geld uit haar hande neem, sestig rand aftel en dit vir die bestuurder aanbied.
Hy skud sy kop toe hy die res vir Nina teruggee. “Moenie dat hulle jou inloop nie. Dis hulle nasionale sport.”
Hy vat haar tasse sonder seremonie. “Kom, ek neem jou na jou woonkwartiere.” Hy kyk op sy horlosie. “Ek sal hier in die kantoor wees as jy klaar is.”
Sy stryk woordeloos agter hom aan deur die los sand en byt op haar tande. Sy het darem ’n bietjie meer vriendelikheid verwag. Die man is so… so…
Sy kry nie die regte woord nie, en loop swyend al agter hom aan met die rooigrond-voetpaadjie wat tussen die bome deur kronkel. Eers toe hy haar bagasie neersit, besef sy die langwerpige geboutjie met die klein venstertjies en die ietwat verslete grasdak is blykbaar hulle bestemming.
“Nou nie heeltemal dieselfde as dié van die gaste nie,” praat hy met sy rug na haar terwyl hy oopsluit, “maar hier behoort alles te wees wat jy nodig het.”
Hy staan weg sodat sy voor hom na binne kan stap. Haar oë moet eers gewoond raak aan die effense skemer in die vertrek voordat sy dinge kan onderskei.
Hy wag nie vir haar kommentaar nie. “Sien jou dan later.”
Toe stap hy uit en trek die deur agter hom toe.
Sy sak op die enkelbed met die bruin kombers wat blykbaar as deken dien neer. Stadig laat sy haar blik deur die vertrek gly.
Gaan hierdie haar blyplek wees? Hierdie beknopte vertrekkie wat na veld ruik! Met die grasdak wat uitrafel en die rooi gepoleerde sementvloer! Met die lae badkamertjie sonder binnedeur, wat blykbaar inderhaas aangebou is, en waar die klein wasbakkie, toilet en onpraktiese stort sommer net planloos ingedruk is!
Nina haal diep asem. Ontspan net, sê sy vir haarself. Al is dit nie wat jy verwag het nie. Miskien… miskien kan jy vra dat jy oorgeskuif word na een van die toeristechalets. Dalk as jy eers Gunther se vrou ontmoet het, kan jy haar probeer oorreed om verskuif te word.
Gunther se vrou! Hoe gaan sý deur alles geraak word?
Maar Nina skud die gedagte van haar af. Sy was darem lank genoeg in die speurdiens om te weet jy raak nie emosioneel betrokke by afhanklikes nie. ’n Klein suggie ontsnap nogtans uit haar keel toe sy opstaan en buk om haar tasse oop te knip.
Sy kyk in die vertrek rond. Daar is ’n stewige houthangkas en -laaikas met ’n outydse staanspieël daarop. Sy kyk na haarself in die spieël. Daar het ’n paar haarslierte losgekom uit die knip waarmee sy haar lang, rooibruin hare agter haar kop vasgemaak het, en daar is spore van min slaap onder haar groen oë.
Sy haal haar skouers op en gaan spoel haar gesig onder die koue kraan af. Toe maak sy haar hare uit die knip los, borsel dit ’n paar keer met lang hale deur, en maak dit dan in ’n poniestert hoog op haar kop vas. Hoekom sal sy vir die Duitser moeite doen met haar voorkoms? Sy was in elk geval nog nooit iemand wat veel van grimering gehou het nie. Miskien omdat sy met ’n vlekkelose vel geseën is.
Maar toe sy voor die spieël ’n titseltjie blosser op haar hoë wangbene aansit, is sy ydel genoeg om dankbaar te wees vir haar natuurlike bates: haar lang wimpers met die effense opwaartse kurwe, haar groot, amandelvormige groen oë en haar goed gedefinieerde liplyn. ’n Byna kleurlose lipstiffie is al wat sy nog nodig het. Die wit bloes en denimlangbroek wat goed genoeg was vir die reis, moet maar die ding verder doen.
Sy laat gly haar vingers ingedagte oor die spieël se raam en kan nie help om die glimmende donker hout met die wit vlekke daarin te bewonder nie. Seker mukwa, die mees gesogte hout uit hierdie land. Sy streel oor die uitgekerfde patroon aan die bo- en onderkant van die spieël, en meteens voel sy beter.
As Ron nou hier was, sou hy haar weer geterg het. “Die vreeslose polisievrou wat emosieloos ’n moordtoneel ondersoek, maar wat huilend by ’n dooie voëltjie kan sit. Vir wie ’n veldblommetjie meer beteken as ’n ruiker blomme uit die winkel.”
Maar hy het nie altyd geterg nie. Al meer het hy begin beklemtoon: “Jy sal moet onthou dat in my posisie, en in die kringe waarin ek beweeg, moet die beeld wat mense uitdra perfek wees.”
Sy besef nou duideliker as ooit dat haar onopgesmuktheid hom ook moes gepla het.
Sy gooi haar kop uitdagend agteroor. Ja, Ron Visagie, ek het ’n bietjie laat uitgevind dat jy ’n vrou soek soos een van jou vintage-karre: blink gepoleer en vreeslik uniek. Vereistes waaraan ek natuurlik nog minder voldoen het ná die hofsaak! Hoe opwindend kon ’n uitgeskopte speurder, wat maar ’n nederige pos by ’n toeristeoord moes vat net om ’n werk te hê, nou as verloofde wees? In elk geval vir meneer Ron Visagie!
En nou moet ek ’n arrogante blonde reus trotseer – erger nog, ek moet hom probeer vastrek. En my nuwe blyplek is skaars meer as ’n arbeidershuis. Maar as ek die dag terugkom in Suid-Afrika, sal meer mense as Ron Visagie kennis geneem het van Nina Joubert.
Sy trek die deur agter haar toe en kry koers na waar Gunther beduie het die kantoor is.