Читать книгу Die engele staar - Marie Reyneke - Страница 7

3

Оглавление

Gunther wag reeds in die parkeerarea in ’n oop voertuig met bankies en ’n seildak toe Nina aangedraf kom. Falcon Eye, lees sy op die deur die naam langs ’n yslike tekening van ’n valk.

Sy glimlag onderlangs. As jy dan veronderstel dat ek inligting soos wie Derrick en wat Falcon Eye is self moet agterkom, vorder ek nie te sleg nie, Gunther Becker, dink sy. Dit kan net wees dat dit met die goed wat ek eintlik wil uitvind ook so sal gaan.

“Het jy nie ’n hoed nie?” wil hy weet toe sy langs hom inklim.

“Dis die een ding waaraan ek nie gedink het om in te pak nie,” verduidelik sy verleë. “Ek sal so gou as moontlik iewers een koop.”

Hy vroetel onder sy sitplek en bring ’n verkreukelde laphoedjie te voorskyn. “Sit dit op. Afrika se son speel nie met wit gesigte nie.”

Sy gehoorsaam gedweë, al kan sy haar indink hoe potsierlik die verkreukelde ding haar laat lyk.

“Neem jy dikwels toeriste op safari?” probeer sy ’n geselsie aanknoop terwyl hulle oor die grondpad skommel.

“Nogal.”

Net dit. Asof hy nie lus het vir haar geselskap nie.

Sy sluk. Kommunikasie is duidelik nie een van die Duitser se sterk punte nie. Sy wonder watse tipe gids hy vir ’n groep toeriste sal uitmaak.

Maar sy kom gou agter dat sy hom onderskat het. Skaars het hulle die groepie mense – twee getroude pare, twee enkellopende vroue en ’n gesellige bleskopomie met ’n boepie – opgelaai, toe hy ’n behoorlike metamorfose ondergaan. Hy is die ene sjarme en glimlagte, sodat sy skaars haar oë en ore kan glo.

Sy haal haar skouers op. Wat maak dit saak dat sy die man nie verstaan nie? Sy soort verstaan ’n mens gewoonlik nie.

Om met ’n kronkelpaadjie al teen die Zambezi-rivier op in ’n oop voertuig wild te soek, is meer as waarvoor sy gehoop het vir haar eerste dag. Sy voel die wind teen haar wange en ruik die vreemde kruiegeur van ’n plant wat sy nie ken nie. En sy is byna jammer dat sy nie hier kan wees net met die doel om dit te geniet nie. Soos die gaste, wat in vervoering is oor elke rooibok en vlakvark.

Toe ’n troppie vlakvarke met sterte wat soos klein antennas regop skiet voor die voertuig wegskarrel, verduidelik Gunther: “Dis sodat die kleintjies hulle ouers kan volg as hulle in lang gras moet weghardloop. Kyk, die haarklossie aan die punt van die stert vorm ’n vlaggie.”

Hy hou geduldig stil as iemand ’n foto wil neem, of wanneer ’n dier met een van die vele wildspaadjies wat afkom rivier toe voor hul voertuig verby beweeg. Hulle sit nog en kyk hoe ’n paar kameelperde die hoogste blaartjies van ’n doringboom afstroop, toe Gunther skielik sy hand ophou. “Sjuut!”

Net dit, en almal is die ene aandag.

“Daar,” beduie hy, “links van die wildevy.”

Nina sien die wit tande eerste. Toe die massiewe ore wat flap. Verder na agter is nog beweging.

“Dis ’n hele trop,” fluister sy asemloos. “Is dit veilig so naby met die mense in die oop voertuig?”

Die oomblik toe die woorde uit is, kan sy haar tong afbyt. Sekerlik gaan Herr Gunther nie daarvan hou dat sy oordeel bevraagteken word nie.

“Solank ons stil is en uit hulle pad bly, is ons veilig.”

Sy kan nie agterkom of dit ’n teregwysing is nie. Die toeriste is in elk geval te bang om te praat. Hulle beduie met handgebare wat rukkerig van opwinding is vir mekaar waar om te kyk, en hou hul kameras gereed. Sy twyfel of hulle al besef daar is heelwat meer as net die voorste een.

Toe kom ’n olifantbul ’n paar meter voor hulle uit die bosse. Hy swaai sy massiewe kop heen en weer, draai skuins in hul rigting en flap sy ore dreigend. Agter hom kom nog een, en dan nog een.

Gunther gooi die voertuig in trurat en retireer soos blits. Die gaste is tjoepstil geskrik. Eers toe hulle op ’n veilige afstand tot stilstand kom, stap die ou belhamel doodluiters oor die pad. Toe kan hulle ongesteurd sit en kyk hoe die hele trop olifante met ’n wildspaadjie langs rivier toe tou.

Almal begin deurmekaar giggel en fluister.

“Olifante val nie sommer aan nie,” verduidelik Gunther toe die laaste van die trop oor die pad is en agter die rivier se hoë grondwal verdwyn. “Solank mens in jou voertuig en uit hul pad bly. Dikwels is hul sogenaamde aggressie net ’n vertoning van hul baasskap.”

Hy sit die voertuig in rat en ry stadig verby die plek waar die olifante gestaan het. ’n Mens kan nou skaars glo dat daar pas ’n hele trop van Afrika se bosreuse verbygetrek het, dink Nina.

Sy kan nie help om te wonder of Gunther se verduideliking aan haar of aan die toeriste gerig was nie, maar sy kry nie veel tyd om daaroor te tob nie. Hy hou by ’n plaat ilalapalms stil en klim uit. Hy maak ’n paar van die blinkbruin vrugte wat van die palms afgeval het bymekaar. Terwyl hy verduidelik wat dit is, deel hy dit onder die gaste uit.

“Kyk of julle dit kan stukkend kry,” sê hy en tik op die harde dop van een van die vrugte. “Netnou wys ek vir julle hoe dit lyk as dit eers deur ’n olifant se pens gegaan het.”

Hy gee ook een vir Nina aan. Toe sy dit by hom aanvat, raak hul vingerpunte aan mekaar en ontmoet hul oë. En ja, sowaar, Herr Gunther Becker glimlag vir haar.

Hy haal sy knipmes uit en gee dit vir die omie met die boep aan. “Probeer solank die ding uitmekaarkry sodat julle kan sien hoe ’n harige massa rondom die eintlike pit saamgekoek is.”

Haar werkgewer is duidelik ’n totaal ander mens hier in die wildpark, dink Nina toe hulle verder ry. Dis duidelik dat hy die park goed ken. En met dié dat hy gereeld toeriste hierheen bring, is dit natuurlik baie maklik om ook vir ander doeleindes hierheen te kom.

Haar lyf ruk vorentoe toe Gunther skielik skerp remme aanslaan. Soos ’n prehistoriese kolos is ’n yslike witrenoster ’n ent voor hulle rustig aan die wei op ’n oop stuk vlakteveld.

“Gaan nader,” dring iemand aan, terwyl almal na hul kameras en verkykers gryp.

“Nee, jammer!” Gunther is vasberade. “Dis ou Gumboots. ’n Mens speel nie met hom nie. Sy ma is kleintyd langs hom deur ’n wildstroper doodgeskiet. Vandat hy volwasse is, haal hy sy aggressie uit op enigiets wat lyk of daar mense in kan wees.” Hy gee ’n laggie. “Hier ry heelwat voertuie rond wat die merke van sy gevaarlike horing dra.”

Deur ’n wildstroper doodgeskiet… En hy vertel dit sommer net so.

Die speurder in Nina neem oor. “Is dit ouens soos Douw wat ek netnou by die lodge ontmoet het se taak as ereveldwagter om stropery te probeer beheer?” vra sy sonder om te verklap wat regtig agter haar vraag sit.

Gunther haal sy skouers op. “Douw Jonck is een van daardie tipiese Afrika-karakters. Sy pa was ’n grootwildjagter, nou probeer hy sy lyf hier rondgooi.”

A, dink Nina, aggressie! ’n Tipiese reaksie. Herr Gunther, as jou land se natuurbewaringsmanne reg is in hul vermoede dat jy betrokke is by ’n grootskaalse stropersindikaat, gaan ek jou vastrek. Dit belowe ek jou!

“O! Ek dog net hy is darem nie so ’n snaakserige mannetjie soos daai Jack-ou nie.”

Sy probeer onbetrokke klink, maar sy is oortuig daarvan dat ’n geselsie met Jack dalk ’n paar interessanthede kan oplewer. En hy lyk soos iemand van wie ’n mens maklik kan hou.

“Ag, ou Jack!” sê Gunther. “Hy is maar soos hy is. Drink te veel, soos die meeste van die ouens hier rond, en probeer vreeslik hard rokjagter speel. Maar eintlik is hy so onskadelik soos ’n bul met ’n af horing.”

Nina onderdruk ’n glimlag oor sy woordspeling. “Nou wat werk hy?” vra sy.

“Probeer ’n kwekery aan die gang hou.”

Verbeel sy haar of irriteer haar nuuskierigheid Gunther? Of is hy maar geïrriteerd met almal rondom Nyati Lodge?

Sy vra liewers nie verder uit nie, en die res van die rit verloop gesellig. Gunther is weer die vriendelikheid self. Hy nooi hulle om uit te klim toe hy by ’n platgetrapte bol droë olifantmis in die pad stop.

“Kyk,” beduie hy en krap klein, ronde, neutagtige sade tussen die verteerde stoppels uit. “Dis die deel van die palmsaad wat weer moet ontkiem. In die olifant se pens word die harde dop en die veselrige omhulsel verteer sodat net die neutkern oorbly. As hy dit dan teruggee aan die natuur, is dit kompleet met bemesting en al, honderd persent gereed vir ontkieming.” Hy kyk op na Nina. “Indrukwekkend, nè?”

“Ongelooflik!” Sy kry dit reg om hom vas in die oë te kyk.

“As mense tog net nie alewig wil ingryp waar hulle nie hoort nie,” praat hy asof met homself. “Dan kán die natuur vir homself sorg.”

“Jy bedoel?” lok sy hom uit.

“Dat alles in die natuur deel van ’n groter geheel is. Mense betoog dat die olifante in die park die plantegroei verniel, maar soos met die ilalapalms is hulle deel van ’n veel groter ekosisteem.”

Nina weet nie of sy reg gehoor het nie. Wat die man nou praat, strook nie met die vermoedens oor hom nie. Dat hy al oor die hele Afrika met sy stropery besig was, maar hom deesdae op kleiner, meer eksotiese spesies toespits. Seker omdat die internasionale verbod op ivoorhandel daardie bedryf al moeiliker maak. Sou die man se sensitiwiteit net ’n front wees wat hy voorhou om sy wandade te verbloem?

“Jammer dat mens die stropers nie sover kan kry om dié teorie te glo nie,” troef sy hom.

Hy kyk haar reguit in die oë toe hy sê: “Stropers praat ’n ander taal, juffrou Joubert. Die taal van geld!”

“My naam is Nina. Sulke formaliteit is seker nie nodig as ons voortaan gaan saamwerk nie,” verander sy slim die onderwerp.

“Nee, seker nie,” klap hy weer toe.

Sy besef dat met wat Gunther Becker so pas gesê het, hy niks erken of ontken het nie. Hierdie man, dink sy, gaan net soos die saad van die ilalapalm nie ’n maklike neut wees om te kraak nie!

Sy draai haar kop weg voordat Gunther dalk die trek op haar gesig optel. Dis nog iets wat haar kollegas altyd gesê het: dat as sy vasberade is, is dit asof haar groen oë deur ’n mens kyk. En haar tong sal baie effens oor die linkerkant van haar bolip vee.

Maar skielik weet sy net sy moet terugkyk. Sy betrap Gunther se blik op haar gesig. Soos ’n skuldige skoolseun kyk hy haastig weg.

Byna asof in dieselfde beweging beduie hy doodkalm na ’n alleenloper-buffelbul wat naby die rivierloop staan.

“Alleenloper-bulle kan nogal gevaarlik wees,” gesels hy met niemand in die besonder nie. “’n Mens moet hulle nie onderskat nie.”

Nina haal diep asem. Hoekom sê iets vir haar dit was nie ’n toevallige opmerking nie?

Dan sal ek sorg dat jy mý ook nie onderskat nie, Gunther Becker, besluit sy. Sy keer haar tong wat na haar bolip beweeg net betyds. Maar nie voordat sy gevoel het hoe droog haar lippe is nie.

Dis al laat toe hulle terugkom by Nyati. In die sitkamer is reeds ’n klomp gaste om ’n gesellige kaggelvuur bymekaar.

“Hulle het ons nie op die oomblik nodig nie,” sê Gunther gemoedelik. “Met ou Gogo in die omgewing is hulle meer as versorg. Kom, dan gaan wys ek vir jou die jetty.”

“Wie’s ou Gogo?” wil Nina weet. Sy ril van die aandluggie, wat eensklaps begin byt het. Die dag was so heerlik warm dat sy skaars onthou het dis Juliemaand.

“Gogo is die tradisionele benaming vir ’n ouma. Dis oorspronklik blykbaar uit Zulu afkomstig, gewoonlik ten opsigte van ’n kinderoppasser,” verduidelik hy.

Hy hou sy baadjie, waarmee hy oor sy arm gestaan het, doodluiters na haar uit. “Maar ek het haar hier kom kry in die rol van ’n soort gasvrou, en ek moet sê, sy spaar my baie ure van ledige praatjies maak met die gaste. Sy het nogal ’n unieke manier van gesels.”

Toe sê hy met ’n snorklaggie: “Hang om die baadjie. Jy is blou van die koue.”

Nina huiwer. Hoe sal dit lyk as sy vrou…?

Maar Douw het gesinspeel dat sy vrou weg is. Sy gooi die baadjie oor haar skouers en kry dit reg om kalm met die gesprek voort te gaan.

“Die oorsese mense hou seker daarvan om meer van die plaaslike bevolking te wete te kom. En iets sê vir my jy is nie iemand vir onnodige leë praatjies nie.”

“Jy’s nogal reg.” Toe, na ’n oomblik van stilte: “Miskien kan Gogo jou teenwoordigheid aanvanklik as ’n soort bedreiging sien. Dit sal goed wees om haar maar te laat begaan.”

“Maar natuurlik! Om eerlik te wees is die gedagte om aand ná aand met vreemde mense te moet gesels vir my ook ’n bietjie van ’n verskrikking. By die oord waar ek gewerk het, was ons nie so nou by die gaste betrokke nie.”

“Nou toe. Kom ons gaan.”

Hy stap voor haar uit. Sy volg hom met die nou paadjie langs tussen die bome deur. Op die rivierwal maak die bome oop. Voor hulle vaar bote van alle groottes en vorms op die stil water van die Zambezi.

“Kyk net hoe kom die bote terug,” beduie hy openlik geïrriteerd. “Die toeriste neem alles oor. Hulle kyk hoeveel hulle kan eet en drink en jol, en mis die hele idee van ’n Afrika-ondervinding.”

Die jetty is ’n enkele plankdek wat oor die water strek, met net een boot by die vasmeerplek.

“Dis Ranger, die lodge se jet boat,” verduidelik Gunther. “Dis die enigste plesierboot in die omgewing wat tot teenaan die eilande kan vaar.”

Hy sal dus heel gemaklik op enige eiland in die rivier kan kom, neem die speurder in haar oor. En die eilande en rivieroewer is juis die blyplek en broeiplek van verskeie eksotiese voëls.

“Gaan die boot snags ook na die eilande?” vra sy so normaal moontlik.

“Bote word nie ná sononder sonder ’n permit op die rivier toegelaat nie.”

Verbeel sy haar of is hy weer afsydig? Hierdie man verwar haar. Op die oog af is hy – behalwe vir sy duidelike ongeduld en handomkeer-gemoedstoestande – iemand met ’n sensitiewe gees, die teenpool van ’n roekelose stroper. Hoe versoen ’n mens dit?

Philip het gesê die Zambiese owerhede het moed opgegee om hom te probeer vastrek, want hy is net eenvoudig te glibberig vir hulle manne. Is sy sogenaamde aanvoeling vir die natuur deel van ’n slim spel?

Hulle vermoed natuurlik ook dat van hulle eie manne met hom saamwerk, daarom dat hulle ’n buitestander wou kry. Sy kan nie help om wrang te glimlag nie. Dit was nogal skerp van hulle om dadelik die geleentheid te sien toe dit bekend word dat Gunther op die uitkyk is vir hulp by die lodge.

Sy besluit om dit vir eers daar te laat. Om net vir hierdie een aand haar te verbeel sy is ’n doodgewone mens soos al die ander toeriste. Nie iemand met ’n verskuilde agenda nie. Sy gaan sit op die plankdek en skop haar skoen uit. Voel die water met haar voet.

Hy kom sit langs haar sonder om iets te sê. Onder hulle maak die brandertjies wat deur die bote opgewek is gedempte klotsgeluide teen die wal. Die son is besig om onder te gaan en verf die water met ’n kleurpalet van brons en oker en rooi.

“Dis ongelooflik mooi,” kan sy nie anders as om oor te borrel nie. “Hier behoort ’n mens gelukkig te kan wees.”

“Elke paradys het maar sy slang.”

Sy verbeel haar nie: daardie stem het die klank gedra van iemand wat hartseer ken.

Hy staan skielik op. “Kom ons gaan terug. Amos het seker al ons ete gereed.”

Dis met ’n onverklaarbare weemoed in haar binneste dat sy in stilte saam met hom terugstap. Dit moet seker oor Ron wees. ’n Droommooi sonsondergang is bedoel om romanties ervaar te word. Veral op ’n houtdek langs die Zambezi in Midde-Afrika.

By die lodge wag Gogo hulle vir ete in. Met ’n duidelik ingebore sjarme verwelkom die lang skraal vrou hulle met ’n buiging en vergesel hulle na hul tafel.

Nina verkyk haar aan die ouer vrou se kunstig gedrapeerde gewaad van kleurvolle lappe. Gogo sou ’n mannekyn kon wees, dink sy. Of ’n koningin met daardie oordadige hooftooisel wat sy soos ’n kroon op haar kop dra.

“Gaan jou vrou nie saam met ons eet nie, Gunther?” kan sy die vraag wat nog heeltyd by haar spook nie langer inhou nie.

Sy gesig verander van bleek na rooi en toe na pers. “Wat laat jou dink ek het ’n vrou?”

“Ek… ek het net so aangeneem,” probeer sy nonchalant walgooi.

“Mense wat aannames maak, begaan dikwels foute.”

Hy hou die spyskaart na haar uit. “Wat sal jy eet? Ek kan die fisant met groente aanbeveel.”

“Maar eers moet die madam ons gebraaide capentas vir voorgereg probeer,” praat Gogo langs haar, en Nina kan nie help om te wonder hoeveel van die gesprek sy dalk onderskep het nie. Gunther moet net nie dink hy kan haar voor die personeel verkleineer nie.

Maar Gogo gaan ongesteurd voort: “Amos maak dit baie lekker gaar. In diepvet gebraai, met ’n degie om. Anders as ons mense, wat dit in ’n bredie saam met pap as stapelvoedsel eet.”

“Dankie, Gogo,” knip Gunther haar vinnig maar beslis kort. “Kry maar vir ons albei daarvan. Ek is seker madam Nina sal dit wil proe.”

Toe die vrou wegstap, laat hy sy stem sak. “Sy kan nogal knaend wees as jy toelaat dat sy oorneem.”

“Nee wat, sy pla my nie. Ek hou van iemand met goeie maniere.”

Hy antwoord haar nie dadelik nie. Kry net weer daardie onleesbare uitdrukking agter sy baard.

“Sal ek vir ons wyn bestel?” vra hy dan. “Om jou koms te vier?”

“Ek hoop dit bly iets om te vier…”

Nina wil haar tong afbyt toe sy besef wat sy eintlik sê. Al het sy dit glad nie so bedoel nie.

Gunther sê niks. Eers toe hy hul glase vol skink, gee hy ’n laggie. “As jy maar weet hoe verlig ek is dat hier iemand is om te help met die werk.”

Geleidelik raak hul geselskap gemakliker, al gaan dit hoofsaaklik oor die werk.

Nina komplimenteer hom met die smaaklike kos. “Ek sal nooit elke dag só kan eet nie,” keer sy toe die nagereg van piesanggevulde pannekoek met roomys aangebied word.

“Geniet dit maar wanneer jy kan. Daar sal baie dae kom wanneer daar vir kos eenvoudig net nie tyd is nie.”

Ná die ete is Gunther haastig. “Ek het nog baie om af te handel. Gaan slaap maar vroeg en laai jou batterye. Môre begin jy volstoom werk.”

Maar die eerste nag in Nina se nuwe woonkwartiere verloop bra slapeloos. Behalwe dat sy eers ’n grillerige skurwe gekko uit die vertrek moes help, is dit nogal ’n stryd om die muskiete wat by die gate in haar muskietnet inkruip weer uit te kry.

Eindelik haal sy haar naaldwerkstelletjie uit en sit die gate een vir een en toeryg. Malaria is nou die een ding waarvoor sy nie met die intrapslag al tender nie.

Daar is nie sprake van slaap toe sy eindelik die bruin kombers op die nou ysterbedjie tot teen haar ken optrek nie. Die gebeure van die dag bly soos ’n rolprent voor haar afspeel. Danksy haar jare in die speurdiens, waar een van ’n mens se prioriteite was om te kan fokus, sif sy metodies deur die indrukke van die dag. Maar iets bly haar ontwyk.

Net soos die ware karakter van Gunther Becker met haar wegkruipertjie speel. Die een oomblik die befoeterdheid self, dan skielik heel gaaf en aanvaarbaar. En hy bly wegkruip agter dubbelsinnige antwoorde.

Wel, nie ’n dag later as môre nie vind sy ten minste oor sy vrou uit. Dalk kan Amos ’n bruikbare bondgenoot wees. Of as dit nie anders kan nie, selfs Douw Jonck of Jack Miller. Dié twee lyk albei of hulle maklik sal praat.

Toe ’n lomerigheid haar eindelik oorval, verbeel sy haar sy hoor Falcon Eye van die parkeerplek af wegtrek. Sou dit die Duitser wees? Waarheen gaan hy hierdie tyd van die nag?

Dis dinge wat ek gaan uitvind, en sommer gou ook, belowe sy haarself, voordat die slaap haar inhaal.

Die engele staar

Подняться наверх