Читать книгу Die engele staar - Marie Reyneke - Страница 6

2

Оглавление

Op pad na die kantoor verken haar blik oudergewoonte die omgewing. Die hele terrein is boom- en bosryk. Alles natuurlike plantegroei. Daar is nie veel moeite gedoen om tuin te maak nie. Maar die geheel is een van rustige ongereptheid.

Laat ons dan maar die amptelike deel so gou moontlik agter die rug kry, dink Nina terwyl sy aanstap. Laat ek gaan hoor wat van my verwag word.

Links van die kring chalets, omtrent in lyn met haar eie blyplek, staan ’n netjiese grasdakhuis. Nie buitengewoon groot nie, maar tog lyk dit knus, en dit smelt mooi saam met die res van die geboue.

Sy wonder weer oor Gunther se vrou. Dis tog jammer dat sy haar daarvan sal moet weerhou om regtig vriende met die vrou te word. Sy het nog altyd van mense gehou, en dit kan seker maar alleen raak in so ’n vreemde omgewing. Maar sy sal nie familiêr kan word nie, anders kan die uiteinde baie ongemaklik wees.

Die kantoor is nie ver van haar blyplek nie. Die deur staan oop, maar daar is niemand binne nie. Gunther het tog gesê sy moet hom hier kry, dink sy vies. Blykbaar is die man nie te gesteld op afsprake nie.

Sy bekyk die kantoor. Dis goed ingerig met ’n rekenaar, faksmasjien, brandkluis en alles wat jy in ’n normale kantoor sou verwag. Behalwe dat die lessenaar oorloop van papiere en die vloer besaai is met lêers.

Jis, tussen so ’n warboel kan g’n mens mos werk nie. Hier sal moet orde kom! Per slot van rekening is sy aangestel om hier te werk, en dis net eenvoudig in haar aard om dit ordentlik te doen.

Sy wonder hoe hulle die kombuis hanteer as dit hier só lyk. Miskien is Gunther se vrou daar in beheer en weet sy wat sy doen.

Nina brand om ’n bietjie te snuffel, maar sy weet hy kan enige oomblik opdaag. Sy oorweeg om te gaan kyk of hy in die hoofgebou is, maar onthou sy vermaning van vroeër: dat mens in Afrika moet leer om te wag.

Toe sien sy hom. Of liewers, sy hoor hom eerste waar hy armswaaiend by die hoofgebou uitstorm. Langs hom is ’n bedremmelde klein mannetjie wat ’n yslike gasbottel sleepdra.

“Hoeveel keer moet ek nog vir julle sê om gas te bestel voordat die bottel leeg is?” hoor sy hom op Engels uitvaar. “En elke keer gebeur dieselfde ding weer…” Sy arms woer-woer by die beteuterde mannetjie se kop verby. “Minder as ’n uur, dan kom eet die eerste gaste! En julle sit sonder gas!”

Dit lyk of die ontstoke Duitser elke woord saam met sy haastige treë op die grond uitstamp. Nina hou haar lyf skraal in die kantoor totdat die gasbottel op die viertrek gelaai is en die voertuig in ’n stofstreep met die rooi grondpaadjie langs verdwyn.

Toe stap sy vinnig nader. Sy kom gelyktydig met die ontvanger van Gunther se toorn by die hoofgebou aan.

“Probleme?” vra sy so vriendelik moontlik.

Die Zambiër glimlag verleë. “Die musungu is kwaai,” beduie hy kopskuddend. Hy staan opsy sodat sy eerste tussen twee ruwe pale deur onder die grasdak kan instap.

Die L-vormige gebou sonder mure skep ’n aangename gevoel van ruimte, omdat ’n mens dwarsdeur kan kyk tot waar die swembad koel en blou tussen groen grasperke lê. Reg voor haar is ’n keurig gemeubileerde sitkamer met gemaklike leunstoele in beige en bruin. Dieper in is daar ’n knus klein eetkamer met verskeie gedekte tafeltjies.

Die kort been van die L-vorm huisves die ontvangstoonbank – wat op die oomblik onbeman is – en ’n kroeg waarby twee mans op hoë houtstoele sit en bier drink.

“Ek is Nina Joubert, die nuwe assistent,” stel sy haarself voor aan die Zambiër, wat lyk of hy nie seker is wat om met haar te doen nie. “Werk jy in die kombuis?”

Hy glimlag van oor tot oor, sy wit tande skitterblink teen sy donker vel.

“Madam Nina, ons het gehoor jy kom. Sjoe, jy’s nodig! Ek is Amos! Die kok.” Net vir ’n oomblik trek die verleë laggie van netnou weer oor sy gesig. “Die een wat nie agtergekom het dat die gas opraak nie.”

Hy praat goeie Engels, met ’n effense aksent. Nina gryp sy hand dankbaar vas. Oplaas iemand wat haar tuis laat voel en wat ’n sin vir humor het!

“Hallo, Amos! Miskien kan ons iets probeer uitwerk sodat dit nie weer gebeur nie.”

“Kom ek gaan wys jou die kombuis,” sê die klein mannetjie met die wye glimlag. Hy hou die swaaideur tussen die kombuis en die eetkamer oop sodat sy kan instap.

Een blik na die vertrek en Nina weet dat sy nie vir Amos op sy gestalte moet takseer nie. Dis duidelik dat hy kan raak vat. In elk geval as sy moet oordeel aan die skitterblink kombuis met elke ding op sy plek.

“Hier het al baie kos uit hierdie kombuis geloop,” beduie Amos laggend. “Partykeer so tussen die troubles deur, maar op die ou end kry almal geëet. Ek hoop jy gaan die voorrade vir ons bestel. Herr Gunther kom nie altyd by alles uit nie.”

“Nou wat maak julle as die mense moet eet en iets kom kort?”

“Ag,” haal hy sy skouers met ’n beskeie gebaar op. “Daar het al raapblare in plaas van spinasie in die quiche gegaan – en almal het hulle vingers afgeëet. En as die brood op is, bak ons vetkoek of plaatkoekies. Daar is altyd ’n plan.”

Ek en hierdie man sal goed klaarkom, dink Nina. Ek hou van iemand wat sê daar is altyd ’n plan.

Sy besluit om solank die wêreld buite ’n bietjie te verken, sodat sy kan sien wanneer haar werkgewer terugkom en sy vir hom in die kantoor kan gaan wag. Sodat Herr Gunther nie weer ’n oorval kry omdat sy nie is waar hy haar bestel het nie!

“Ek is bly ons het ontmoet, Amos. Ons sal mekaar weer sien,” groet sy voor sy uitstap.

Miskien kan sy tog gou gaan kyk hoe die chalets verskil van haar karige woonkwartiere. Daar kom juis nou twee werkers met beddegoed by nommer 7 uit. Wat seker beteken dat dit op die oomblik leeg is.

Sy is aangenaam verras met wat sy binne die chalet aantref. Die grasdak verskaf ’n koel koepel in die ruim vertrek met die leiklipvloer en los grasmatjies. Dieselfde aardse kleure van die sitkamer word in die kamers herhaal. Daar is maskers en Afrika-kuns teen die mure, geweefde grasblindings voor die vensters, en selfs ’n praktiese leeslamp met ’n gevlegte sisalskerm op die kassie voor die bed.

Die badkamer is ’n verrassing. Die stort is uit ruwe klip gebou en is met plante omsoom; dit vorm blykbaar ’n miniatuurwaterval wanneer die krane oopgedraai word. Die wasbak en toilet is versteek in rowwe houtstompe. Dis beslis vindingryk vir ’n Afrika-atmosfeer sonder die gebruiklike afgesaagde bedrukte stowwe. Definitief ’n blyplek met karakter vir enige toeris wat die gevoel van Afrika wil kry.

’n Dreuning lok haar haastig na buite. Sy is net betyds om te sien hoe Amos haastig draf om die gasbottel wat Gunther besig is om uit die voertuig te laai by hom te neem. Sy sorg dat sy vinnig in die kantoor kom.

Hy kom kort na haar binne. “O, jy’s al hier.”

Wat is sy veronderstel om te antwoord? Ja, ek’s hier, soos jy kan sien?

Maar sy sê niks. Gaan sit net ongenooid op een van die groot rietstoele wat in ’n gesellige hoek skuins voor die lessenaar gerangskik is.

Hy gaan sit by die lessenaar, leun met albei elmboë op die blad voor hom en druk sy vingerpunte teen mekaar. “Wat het jou laat besluit om Zambië toe te kom?” wil hy uit die bloute weet.

Amper vang hy haar onkant. Hy kan tog nie iets vermoed nie? Maar jare se ondervinding om vinnig te dink en nie haar emosies te wys nie sorg vir ’n oortuigende antwoord.

“’n Vakansieoord in Bloemfontein is nie juis die opwindendste plek as werksbevrediging vir ’n mens belangrik is nie.”

“En jy dink dit sal hier opwindend wees?”

“Nee, nie opwindend nie. Hopelik interessant en bevredigend.”

“Hang seker af wat jy bevredigend en interessant noem?”

Sy voel meteens heeltemal in beheer van die situasie. “Meneer Becker, bevredigend sal vir my wees om my werk doeltreffend te doen, en die omgewing sal darem seker interessant wees. En ja, ’n gemaklike werksverhouding sal ’n bonus wees.”

“O! Dan verstaan ons mekaar.” Sy vingerpunte vorm steeds ’n piramide tussen hulle.

“As ek kan weet presies wat van my verwag word, ja.”

Daar is skielik ’n trek van iets wat ’n glimlag kan wees agter sy baard, maar sy oë bly uitdrukkingloos.

“Ek dink ek het dit in die e-pos duidelik gemaak. By Nyati is almal verantwoordelik vir alles. Die kroegman behartig ontvangs, die kelners speel ook portier, en as die kamerbediendes agter raak, spring jy in en trek beddens oor. Ek het al self in die kombuis uitgehelp.”

Sy reageer doelbewus nie, en verplig hom só om voort te gaan.

“Behalwe vir die kantoorwerk, verwag ek dat jy in beheer sal wees van die restourant, wat werkroosters, voorrade en spyskaarte insluit.”

Hy breek die piramide van sy vingers, neem ’n pen van die lessenaar af en speel met ’n irriterende in en uit geklik daarmee. “Toesig oor die chalets en die skoonmakers is ook jou verantwoordelikheid. En wanneer ek nie hier is nie, sal jy besprekings doen en ook die gaste ontvang.”

Sy knik. “Dit behoort in orde te wees. Ek het netnou by een van die chalets ingeloer. Dis werklik pragtig.”

So byna sê sy iets oor Amos se netjiese kombuis, maar sy byt haar woorde terug. Nou is miskien nie die regte tyd om hom aan die kok te herinner nie.

“Net nog iets,” gaan hy voort asof haar pluimpie oor die chalets hom nie raak nie. “Soms sal jy bereid moet wees om gaste by die Vic Falls-lughawe te ontmoet of af te sien.”

“Klink lekker,” flikker haar ou spontaneïteit op. “As ek dit nie mis het nie, ry jy oor die brug by die valle en –”

“En gaan jy heen en terug vier keer deur ’n grenspos. Nogal ietwat van ’n schlep.”

“As ek dan moet kies tussen schlep sonder natuurskoon of schlep met natuurskoon, kies ek laasgenoemde.”

Hierdie keer wil-wil ’n beduidenis van genaakbaarheid sy oë bereik.

“Hang af of jy natuurskoon sal bly raaksien agter ’n vuil grenspos met lastige bobbejane wat die moontlikheid benut om in elke onbewaakte voertuig in te glip op soek na kos. Jy’s ’n idealis, soos almal wat Midde-Afrika toe kom.”

“Nee, jy’s verkeerd! Ek’s ’n realis. Daarom is ek hier.”

Sy liggaam buig terug. Hy los die pen, stut sy elmboë weer op die lessenaar en vou sy vingerpunte inmekaar onder sy ken. “Hoekom hét jy na Midde-Afrika gekom?”

Waarom hou die man aan daarmee? Goed dan, oor ten minste een aspek kan sy ten volle eerlik wees.

“My verloofde het my gelos vir ’n ander vrou. Ek wou kom heel word.”

Haar openhartigheid vang hom blykbaar onkant. Sy vingerpunte gly uitmekaar en hy soek-soek na die pen op die lessenaar. Eers toe hy dit raak vat, kyk hy haar weer in die oë.

“En as hy oor ’n maand of minder besef hy het ’n fout gemaak en jou agternasit, besluit jy jy kan nie sonder hom lewe nie en drop jy my net so!”

“Meneer Becker!” Sy gee nie eens om dat hy die irritasie in haar stem hoor nie. “Ten eerste was dit nie ’n impulsiewe besluit om die werk te aanvaar nie. Ten tweede weet hy nie waar ek is nie, en ten derde kan u met my ’n kontrak opstel wat my vir ’n sekere periode bind – as dit u sal gerusstel.”

Sy weet nie of sy haar verbeel dat die geamuseerde laggie weer agter die blonde baard wegkruip nie.

“Goed dan,” gee hy toe. “Ek som mense gewoonlik gou op. Ons kan mekaar vir ’n maand deurkyk en daarna ’n kontrak vir ’n jaar opstel. Tevrede?”

Sy knik. “Heeltemal redelik, dink ek.”

As haar taak afgehandel is, sal ’n kontrak tog nie meer van belang wees nie.

Gunther kom regop uit sy stoel. “Kom ek gaan wys jou die geboue en stel jou aan die personeel voor.”

Hy staan opsy sodat sy voor hom by die deur kan uitstap.

“Jy praat foutloos Afrikaans?” merk sy oor haar skouer na hom op terwyl hulle aanstap. “Jy’s tog van Duitse afkoms, nie waar nie?” Philip het haar oor en oor daaraan herinner om voor te gee dat sy verbaas is oor sy Afrikaans.

“My ouers was Duits. Ek het jare in Namibië gebly,” antwoord hy kortaf.

Die oomblik toe hulle die hoofgebou binnegaan, laat gly die een man wat Nina netnou by die kroeg sien sit het sy rietskraal figuur van sy stoel af. Hy kom met ’n uitgestrekte hand op hulle afgestap.

“Stel jy ’n man dan nie ook voor aan dié skoonheid nie, ou Gunther? Of wil jy haar heeltemal vir jouself hou?”

Met sy amper seunsagtige stem, veelkleurige oorhanghemp en lang vaal hare wat in ’n poniestert agter sy rug hang, sou mens hom byna vir ’n vrou kon aansien, dink Nina. Maar dan sien sy sy kaal voete. Niks vrouliks daaraan nie – nie met albei die tweede tone wat heeltemal bo-op die middeltoon klim nie.

“Vir Jack Miller moet jy maar ligloop,” glimlag die ander man vriendelik. Hy kom ook nader en steek sy hand uit. “Kan nie ’n rok weerstaan nie. Ontmoet liewers vir my: Douw Jonck.”

Sy glimlag is wyd en vrolik. En hy het die interessantste oë wat Nina nog ooit gesien het: mahoniebruin, met goudgeel spikkels deurspek.

Gunther gee ’n geforseerde laggie. “Dis juffrou Joubert. Sy kom werk by Nyati. Die res van die werkie het Livingstone se jack-of-all-trades reeds namens my gedoen.”

“Livingstone se jack-of-all-trades?” wil Nina laggend weet. Verbeel sy haar of was daar ’n sweempie sarkasme in Gunther se stem?

“Ereveldwagter, toeristegids, karweier, privaat speurder – enigiets wat jy nodig het,” spot Douw gemaklik met homself.

Privaat speurder en wildbewaarder? dink Nina verras. Dit kan die moeite werd wees om dié man beter te leer ken.

Net toe lui die telefoon. Terwyl Gunther dit by die ontvangstoonbank antwoord, is Nina genoodsaak om vir hom te wag. Douw Jonck is steeds nie op sy mond geval nie. Hy knik oordrewe en die geel vlekke in sy oë lag met haar.

“Laat ek jou sommer ook betyds teen hierdie Duitsertjie waarsku, juffrou Joubert,” beduie hy skertsend met oordrewe handgebare. “Jy weet, hulle ouens wat aan ’n vrou gewoond was…”

“Aan ’n vrou gewoond wás? Hoe bedoel jy?”

“O, sorry! Daar trap ek al weer waar ek nie moet nie. Ek dog jy weet.”

“Duidelik nie,” probeer sy korswil. “Dalk kan jy my inlig.”

Die man huiwer. Hy neem ’n sluk bier en loer bo-oor sy glas na waar Gunther met die telefoon besig is.

“Liewers nie,” beduie hy met sy hande en maak ’n snybeweging oor sy keel. “Ek is nog te lief vir die lewe.”

“Ja,” knik Jack Miller met ’n skewe glimlaggie. “En miskien sal ou Gunther nie daarvan hou dat jy haar teen almal behalwe jouself waarsku nie. Ek meen…”

Hy knip sy storie kort toe Gunther die telefoon neersit.

Waarvan praat hulle? wonder Nina. Volgens Philip het Gunther saam met sy vrou uit Namibië hierheen gekom. Sou hulle intussen…? Maar sy kry nie kans vir verder tob nie.

“Ek moet ’n groepie toeriste in Livingstone gaan oplaai vir ’n wildbesigtigingsrit deur Mosi-o-Tunya,” praat Gunther langs haar. “Jy kan saamkom as jy wil. Ons neem dikwels toeriste op wildbesigtigingstoere. Dit kan net wees dat jy dit ook nog eendag sal moet behartig.”

“Mosi-o-Tunya?” vra Nina verras. Dis die einste naam wat telkens onder bespreking was in haar en Philip se beplanning.

“Mosi-o-Tunya Wildpark,” verduidelik hy. “Die plaaslike benaming vir ‘die rook wat donder’, soos hulle die valle noem.”

“Ja,” knik sy. “Ja, ek sal graag wil. Ek het van die wildpark gelees.”

“Nou gaan kry vir jou ’n hoed. Ek gaan haal vir Falcon Eye.”

Hy is al byna by die deur uit toe hy oor sy skouer sê: “Vra vir Derrick om vir ons ’n koelhouer met drinkgoed te pak.”

Sommer net so. Sonder dat sy ’n idee het wie of wat Falcon Eye is, en nog minder waar sy veronderstel is om vir Derrick in die hande te kry.

Sy sien hoe Douw agter sy glas bier grinnik.

“Derrick,” praat hy met die kroegman wat uit die klein vertrekkie agter die toonbank kom, “Herr Gunther het gesê jy moet ’n koelhouer pak vir ’n uitstappie na Mosi-o-Tunya. Jy weet seker wat daarin moet kom.”

Die lang Zambiër agter die toonbank, met sy wit hemp en strikdassie by ’n blinkgestrykte swart pak, kyk hulle al twee vraend aan. Hy vryf onseker agter sy oor. Besef toe blykbaar wie sy is, en verseker haar met ’n handbeweging soos ’n saluut dat hy die koelhouer sal pak en sorg dat dit gelaai word.

“Dankie,” erken Nina sy gebaar met ’n kopknik. Toe aan Douw: “Jy red my lewe. Ek het sowaar nie geweet wie Derrick is nie. Maar ek sal seker nou moet spring.”

“Ag, wat ’n waste! Ek sê julle mos ou Gunther wil haar vir homself hou,” weeklaag Jack Miller oordrewe.

Nina kan nie help om te glimlag nie. Hierdie is beslis twee karakters van wie sy meer te wete sal wil kom. Sy wuif haastig ’n groet en draai om.

Buite drafstap sy vinnig na haar chalet. Al wat op die oomblik belangrik is, is dat sy op pad is na Mosi-o-Tunya. Dié Mosi-o-Tunya Wildpark! En dit nogal saam met Gunther Becker.

Die ratte begin draai. Sy sal haar oë moet oophou.

Die engele staar

Подняться наверх