Читать книгу Isabella - Mariel le Roux - Страница 4

2014 Dis vroegoggend. Die berg lê oop en blou voor my. Die uitgerafelde tafeldoek van gister is afgetrek, weggewaai. Dis nog stil, maar die suidoos sal later opkom. Dan sal die wind die fyn sandkorrels oplig, gister se voetspore in vlae teen vreemde bene vaswaai en die strand skoonvee. Dit ongerep laat.

Оглавление

’n Paar seemeeue hang stil oor die branders, wag op die natuur om gevoed te word. Lusteloos amper in hul geduld.

Die lae duin waarop ek my sit ná ’n ruk kry, het al myne geword hier op Bloubergstrand. Elke keer wat ek gaan stap, kom sit ek hier, wag vir die wind. Dis my verlangplek. My dinkplek. Oor gister, eergister en lank gelede. Veral oor lank gelede. Oor die tyd toe ek my eie pad begin loop het. Oor die dag toe ek uitgestoot is uit die intieme binnekring van ons gesin omdat ek die asynlap op Daddy se voorkop nie kon omruil nie. Dit het my toe gepas, maar dit was nie my keuse nie.

Ek het daardie dag stelling ingeneem in die kil ingang na die Dickson-doolhof, en ek het nooit weer dieper inbeweeg nie.

* * *

Haroldt Dickson was my pa, Emily my ma, en my suster Queenie is drie jaar voor my gebore. My naam is Isabella. Ek het net-net minder as ’n dekade gelede die halfeeumerk verbygesteek.

My pa was ’n gespanne man. ’n Siek man, ’n senulyer, het my ma gesê. “Julle moet geduldig wees met Daddy,” het sy oor en oor vermaan. “Sy moeder had dieselfde krankheid. Julle Daddy loop op ’n hoogspanningsdraad, hy is baie kwesbaar.” Ek dink sy het dit so dikwels gesê om haarself ook te oortuig.

“Ma hoef my nie te herinner nie.” Queenie se bitsige antwoord, gereeld soos klokslag. Van kleintyd af het my suster die leisels in ons huis gehou. Sy het geglo sy is gebore om beheer te neem. En sy het dit met oorgawe gedoen.

Ek was bang vir die stil man. Veral ná die dag met die asynlap.

Daddy, die mal Engelsman met wie die bure gespot het, was die grap van die straat. Hy het geglo hy was ’n buitestander in hierdie land, ewig klouend aan sy Britse burgerskap. Hy was nog ’n jong seun toe sy vader namens sy gesin hul gemaklike bestaan in Engeland gegroet het om na die suidpunt van Afrika te kom en hier te kom doen wat sendelinge doen. My ouma het nooit op die nuwe vasteland wortelgeskiet nie. Sy is huis toe, terug na die toon van Engeland waar haar mense geslagte lank al met affodille boer, terug na ’n lewe van luuksheid, net ’n maand ná my oupa in sy spore dood neergeslaan het. Die Dicksons moes hier eenvoudig lewe, sendelinge het nie baie geld verdien nie. Daddy het met blommegeld uit Engeland studeer, danksy sy moeder se klaagliedere by haar familie. Hy het pas begin werk toe sy pa so onverwags sy aardse bestaan agtergelaat het. My pa se paspoort was sy reddingsboei, dit het hom kop bo – Afrika se onstuimige – water laat hou. So ’n ietsie verhewe. Daarom het hy verwag om met respek behandel te word. Daar het ’n redelike tikkie voorvaderlike arrogansie in hom bly steek.

Die geringste konfrontasie met mens en dier het Daddy, die besonder lang, effens geboë, nors hoof van ons huis, laat kamer toe gaan. “In ’n migraine in,” het my ma gesê. Konfrontasie was daar meer as gereeld.

Geraas. Dit het hom waansinnig gemaak. As die bure se honde bedags blaf, het hy deur die vensters op hulle geskree. En as die honde tot ná donker gewag het om van hulle te laat hoor, was hy gou buite in die straat en het hy die hele buurt wakker geraas. Dan het van die bure hom luidkeels geantwoord met afstootlike aanmerkings. ’n Paar keer is die honde in die straat vergiftig. Die eienaars het klagtes gaan lê, die polisie is ontbied. Die manne in uniform het by ons huis ook kom navraag doen. Niemand kon ooit iets bewys nie, maar verwytende oë het elke keer ná so ’n vrekte-episode lank nog in die rigting van die mal Engelsman se huis gekyk. Dan het daar maar altyd weer nuwe honde in die buurt ingetrek en die geblaf en geskree het van voor af begin.

Daddy was die ontladingsteiken van menige frustrasie so in die donker. ’n Slaansak. “Niemand in die straat het ’n kopdokter nodig nie, weet jy, ou Harry,” het ’n buurman een oggend, ná ’n verwoede geskreeu in die middel van die vorige nag, vir Daddy oor die draad gesê. Die buurman was in sy voortuin, my pa by ons posbus en ek net buite ons hekkie op pad skool toe. “Ons het mos vir jou. Jy help ons ontlaai. Jy is ons terapeut.” Daddy sou reguit van die posbus af kamer toe gaan, het ek geweet. Ek is met ’n rooi gesig skool toe.

Augustusmaand, wanneer die katte snags rondkuier, het my pa die wollerige vryers nag na nag verskree. Dan het die bure ’n gek van hom gemaak. Vroegaand het hulle ’n gemiaau deur hul vensters begin. Ek het gewoonlik in my kamer gaan wegkruip. Nie Queenie nie. Sy het langs hom in die straat gaan staan en die wêreld saam met hom verdoem. Motorfietse het hy te voet straataf agternagesit. Met windmeularms. En die jong ryers het hom getart met ’n gebrul van hul kragtige masjiene op en af in die straat totdat hy die voordeur oopgepluk en uitgestorm het. Hulle het die woeste agtervolging geniet, onder in die straat gaan draai en hom soms van agter af weer ingehaal, gevaarlik naby hom weggeswenk. Net een musieknoot uit ’n buurhuis wat sy ore bereik en klippe het uit sy hand op die musiekhuis se dak gereën. Ná sy uitbarstings is hy kamer toe. Vir dae aaneen.

Daddy was ’n boekhouer. Hy het sy praktyk uit die buitekamer van ons huis bedryf. Sy streng, klein donker ogies het oor ’n swartraambril voor op sy neus vir almal geloer. Sy steil swart hare was altyd geolie, styf en plat agteroorgekam. Hy het suinig geleef, vrekkerig selfs. ’n Paar klein ondernemings in ons omtrek het jare lank hul boekhouding aan Daddy toevertrou. Sy kliënte het lojaal gebly; sy werk was pynlik akkuraat.

My ma was ’n klein vroutjie, vroeg reeds kromgetrek deur jare van ontbering saam met my sieklike pa. Haar eens blonde krulhare het ek op ’n ingekleurde foto van lank gelede, toe sy nog baie jonk was, in haar kamer gesien. Ek onthou net haar grys bolla laag in haar nek. In haar blou oë was haar daaglikse ellende en gewroeg sigbaar. Sy het tog soms in opstand gekom. Gewoonlik laataand as Daddy al dae lank in die bed was. Dan, het ek geweet, sit sy in die groot stoel in sy stil donker kamer, moedeloos en uitgeput ná lang nagte van min slaap. Dit was angs, ’n noodkreet om ’n bietjie vryheid.

Maar dit het ek heelwat later eers besef toe ek ontvlugting gaan soek het in die skadu van die kameeldorings op die myn in die dae toe ek dopgehou moes word.

My ma se uitbarstings het min of meer eenders verloop. “Ek is moeg gesukkel, Haroldt,” sou sy gewoonlik begin. My pa kon Afrikaans goed verstaan hoewel ek hom nooit ’n woord in Ma se taal hoor sê het nie. Harder en harder het haar stem dan deur die huis gedreun, later amper histeries. “Ek moet pal raap en skraap en soebat vir ’n bietjie meer, ’n bietjie luuksheid. Ek verdien beter, ek is nie meer die Dicksons se huishoudster nie. Hoekom kan ons nie van oumissies Dickson se erfgeld …” Hier sou sy gewoonlik stil raak, amper asof sy in die onthou van haar skoonma wou stik. Daddy het nooit geantwoord nie. Hy het gewag dat Queenie vir Ma tot orde kom roep, want teen daardie tyd, het hy geweet, was ons wakker.

En my suster het hom nooit gefaal nie. Ek onthou die ritueel. Ek het genoeg in my donker kamer daarna geluister.

“That’s enough, Ma. Stop upsetting Daddy.” Bitsig. Dit was altyd die trant van haar vermaning.

Ma sou dadelik op haar pantoffels wegslof na die spaarkamer waar sy toe reeds jare gelede haar intrek geneem het. Die ou houtvloere het elke beweging in die huis snags verklap. Daddy se kamerdeurslot sou toeklik. Met Queenie daar binne om vir Daddy te troos. Dit sou vir ’n rukkie stil wees in die huis en daarna kon ek Ma op en af in die gang voor Daddy se toe kamerdeur hoor beweeg. Op en af. Tot Queenie weer in haar eie bed in haar kamer langs myne was.

Hoeveel erfgeld daar was, het net Daddy geweet. Hoe dit belê is, het net Daddy geweet. Wie dit eendag sou gebruik, het ook net Daddy geweet. Sy geheim.

Ons was binne wanneer die son onder was. In die donker, het my pa geglo, loop duiwels rond met onheilige gedagtes in hul broeke en gulpe wat te maklik oopskiet. Hy het geweet waarvan hy praat, want ek het ’n Dickson-geheimpie ontrafel.

Daar was ’n glips. ’n Stapeltjie dokumente het op die eetkamertafel gelê toe ek een oggend voor skool daar gaan sit om my pap te eet. Queenie was by die kombuistafel met haar ontbyt besig en ek was nie lus vir haar nie. ’n Prokureur was die vorige aand by Daddy. Ma het nie die bespreking bygewoon nie en was al in die bed toe die man weg is. Seker daarom dat die dokumente nog op die tafel gelê het. Ek het deur die papiere begin snuffel. My ouers se huweliksertifikaat en my en Queenie se geboortesertifikate was heel bo. Ek het nog met van die papiere in my hande gesit toe Ma in die vertrek inkom. Sy het dit vervaard gegryp, maar sy was te laat. Ek het klaar gesien en ek kon nie help om te vra nie.

“Het Ma ingeslaap toe Ma by die Dicksons kom werk het?” wou ek weet. Sy het haar kop geknik. “Nou waar het Ma geslaap?”

My ma het vir ’n paar tellings op die vloer gekyk en toe gepraat. “Ek het eers in die buitekamer gebly, maar toe Daddy klaar was met sy studie het ek in die spaarkamer ingetrek. Jou pa het ’n kantoor nodig gehad.” Toe het sy die mou van haar trui opgetrek en op haar horlosie gekyk. “Jy moet opskud, jy gaan laat wees,” het sy gesug.

Sy wou net van my ontslae raak, het ek geweet. Daar was hope tyd om by die skool te kom.

Die middag was ek reg met die res van my ondervraging. Kamstig onskuldig, want ek het geweet wat die antwoord is. Ek was net nuuskierig om te hoor hoe my ma die waarheid sou omseil. “Hoekom is Daddy nie saam met sy ma terug Engeland toe nadat sy pa dood is nie?” Daddy het nie teen sy sin gebly nie, dit het ek reeds geweet. Sy ma was skaars weg, toe trou hy met Ma en volgens Queenie se geboortesertifikaat was sy drie maande later in die Dickson-huis.

“Jy moet dit vir hom vra,” het Ma geskerm en uitgestap in die gang. Slim. Sy het geweet ek en Daddy groet skaars. Net by die deur uit het sy omgedraai en weer tot by my gekom. “Dit was nooit maklik vir jou pa om met verandering tred te hou nie,” het sy gesê en my in die oë gekyk. “Hy het verkies om sy lewe hier saam met my voort te sit.” Ons het albei geweet ek weet.

Die binnedeur en die luike voor die venster van Daddy se slaapkamer is gedurende sy aanvalle toe gehou. Net in die een hoek van die kamer het ’n kers gebrand. Bedags en snags. Die kers is agter ’n swart sambreel wat as skerm moes dien, aangesteek sodra die hoofpyn toegeslaan het. Elektriese lig was te skerp vir sy oë, het Daddy gesê. Donkerte het hom vasgedruk en die kers het hom gesus. Dit het hy ook gesê.

Queenie het al vroeg in haar hoërskooldae vir Ma begin help met ons pa se versorging tydens sy aanvalle. Op Daddy se versoek, het Queenie my oor en oor hoogs tevrede ingelig. Sy, ons pa se ewebeeld met haar klein donker ogies en lang swart, reguit hare wat sy in haar nek vasgemaak het, het sy vertroue in haar vertroetel. Afgunstig vertroetel. Dis ek wat Ma se blou oë en eens blonde krulhare gekry het.

Op ’n Vrydagmiddag, net ’n paar weke nadat ek die sertifikate onder oë gehad het, het Ma my in my kamer kom roep. “Daddy se asynlap moet omgeruil word, Isabella. Dis tyd dat jy ook help.”

Ek onthou dat yskoue druppels tussen my blaaie begin afrol het. Dit sou die eerste keer wees wat ek gestuur word met die stink lap. Daddy was toe al twee dae in sy migraine in. Dit was Queenie se gesig wat my die lap laat vat het.

My suster het in die gang verskyn, teen haar kamerdeur se kosyn geleun en my aangegluur. Dit was haar heilige grond waarop ek gevra is om my voete te sit. Drie jaar lank het sy toe al alleenreg gehad. Haar kop het eers in Ma se rigting gedraai, toe in myne. Ek kon die vuur van jaloesie in haar oë sien brand.

Toe vat ek die lap.

In die slaapkamer, nog voor ek my hand op die koperknop kon sit om die kamerdeur agter my toe te trek, het ek naar gevoel. Ek kon die kos in my keel voel opstoot. Ek het my pa – in die vlugtige oomblik van sterker lig voor die deur heeltemal toe was en in die flikkering van die kers – poedelnakend op sy rug op die bed sien lê.

Ma het my voorberei op die naaktheid. “Jy moet weet, as die hoofpyne Daddy vat, word hy so benoud dat hy al sy klere uittrek om verligting te kry,” het Ma my gesê nadat sy die lap in my hand gestop het. “Wees eerbiedig en maak of jy ‘dit’ nie raaksien nie.” Sy het met haar oë in die rigting van haar buik beduie.

Ek het, nadat ek die deur toegetrek het, die paar treë in die rigting van Daddy op sy bed begin aftree. Stadig en sluk-sluk. My oë het eers op die vloer gebly, maar die prentjie van die kaal man het by my gespook en ek moes loer. Ek het gesien hy strek ’n oop hand na my toe uit en maak sy oë toe toe ek amper by die bed was. “Dit” het effens geroer. Die naarheid het gewen toe ek langs die bed kom. Ek het my hand uitgestrek in die rigting van my pa se voorkop, maar die asynlap het op die vloer geval. Toe kots ek ’n boog oor die bed. Meesal oor die voetenent, maar ek het gesien hoe spatsels op sy bene en lyf en op “dit” beland. Hy het gillend orent gekom. Ek het geskrik, omgedraai en uit die kamer gevlug. In my vaart het ek amper teen Queenie net buite die deur gebots.

“Gee pad,” het sy gesis. “Ek het geweet jy sal dit nie regkry nie. Uit is jy. Ek sal Daddy gaan help.” Toe het sy die kamer binnegestorm.

Ek het verstom voor die deur bly staan. “Good riddance,” kon ek haar hoor sê. “Now it’s just you and me, Daddy-love.”

Ma het my in die gang kom haal. Net voor ons die deurslot hoor toeklik het, het ons albei die kloekende soengeluide uit Daddy se mond gehoor.

My ma se kop het opgeruk en haar vuiste het styf inmekaargeklem voor haar bors tot stilstand gekom. Net vir ’n paar tellings. “Kom ek help jou uit jou vuil klere,” het sy gesê. “Dan gaan bad jy.”

Toe ek uit die badkamer kom, van kop tot tone gewas en met skoon klere aan, het ek Ma betrap waar sy met haar oor teen Daddy se kamerdeur staan. Queenie was nog steeds daar binne.

“Ek maak net seker dat Daddy rustig is,” het sy begin verduidelik toe sy omkyk en my sien. “Jy weet tog sy siel is kwesbaar.”

’n Ruk later het Ma en ek in die kombuis gehoor hoe die slot van Daddy se kamerdeur oopgesluit word. Ek het my huiswerk by die kombuistafel sit en doen en Ma het met ’n houtlepel gereed gestaan om ’n pot kokende sop op die stoof te roer toe Queenie haar voete oor die kombuis se drumpel sit.

“Daddy is baie ontsteld,” het my suster gesê toe sy met die bondel vuil linne in haar hande agter my verby stap waskamer toe. Haar wange het gegloei en haar hare was aan die een kant van haar nek los. “Ontsteld en verdrietig, en dit het baie troos gekos om hom tot bedaring te bring. Hy sê jy hoef nooit weer te help nie.” Haar triomf was duidelik toe sy kop omhoog verby my stap.

Ma het haar met skrefiesoë agterna gekyk, niks gesê nie en net getik-tik met die kop van die houtlepel in die palm van haar los hand. Toe vat sy die lepel se steel met albei hande vas en breek dit in twee. Lang, skerp houtsplinters het die lug ingeskiet.

* * *

Die oggend het aangeskuif, baie mense het intussen op die strand aangekom. Dis ’n miernes pa’s en ma’s en kinders om my op die sand.

Die wind het, soos die meeste ander oggende, intussen opgekom. Januarie se suidoos. Nie baie sterk hierdie tyd van die oggend nie, met net genoeg drif om die somerson se hitte te troef. Die vlieërplankryers sal eers later opdaag, wanneer die wind sterker is. Fyn sandkorrels tref my nou en dan teen die kant van my bene hier op my duin. My kop loop ekstra ver draaie met my vandag. Ook na Gideon, na Nicky en ons mynbestaan.

Ek raak aan die brief in die sak van my romp. Die laaste brief uit die groen lêer wat ek ’n week gelede op my bed gekry het, het my onverwagse vastrapplek geword. Ek het nie nodig om dit nie te lees nie. Die inhoud ken ek reeds.

* * *

Dis Gideon wat vroeg met troustories begin het, amper veertig jaar gelede. Ek was negentien, hy twee jaar ouer. Ons was albei universiteitstudente. “Ek maak klaar vanjaar en ek los jou nie hier nie,” het hy ernstig gesê. Dit was tydens ons heel eerste wandeling op hierdie strand. Ons het mekaar toe net ’n paar maande geken.

“Jy is te haastig,” het ek probeer wegskram. “Gee bietjie kans. Waarheen wil jy in elk geval volgende jaar verkas?”

“Ek gaan aanhou karring tot jy instem,” het hy volgehou. “Waarheen ek op pad is, weet ek nog nie, maar dis nie plaas toe nie. Dit het ek jou al gesê. Daar is nie genoeg ruimte vir my en my pa nie.”

“Ons is nog jonk. Ek wil my kursus klaarmaak. Oor net ’n paar jaar kan jy vir my kom hande klap by die gradeplegtigheid.” Ek het my verskonings versigtig aangebied, om hom nie weg te dryf nie. “Ek wil eers geld spaar, linne koop, ons kan gaan reis en daarna wil ek genoeg tyd hê om my troue behoorlik te beplan.” My lys verskonings het vir myself flouerig geklink. Ek wou wag, maar nie ten alle koste nie. Ek wou Gideon nie verloor nie. Elke dag het ek uitgesien na sy geselskap. Ons het baie gelag, ek het bederf gevoel met al die aandag waaraan ek nooit gewoond was nie. Hy was aantreklik, die lang, skraal, gewilde jong man met sy songebleikte kuif en sy ligbruin oë. Almal se vriend.

’n Aanbod van ’n myn in die Noord-Kaap net ’n paar maande later, het alles verander. Gideon was vuur en vlam. Dit was net ná Nuwejaar.

“Daar is ’n pos oop vir ’n ingenieur, Isabella. Die salaris is ruim, ons kan lekker lewe,” het hy gesê voor ek weer met my lys verskonings kon begin. “En hulle het ’n baie suksesvolle rugbyspan,” het hy uitgebrei. “Ek is jonk, my sportloopbaan is op ’n hoogtepunt. Ek kan ingetrek word by die Ammosal-klub wat spelers kry van die myne in die omgewing daar. Dis ’n wonderlike geleentheid. Griekwas se rugbyspan bestaan deesdae bykans net uit Ammosal-manne. Hier onder het ons vir Dok Craven en in die Noord-Kaap het hulle vir Jumbo Harris. Hy swaai die septer daar. Hy is een van die grootbase in die mynomgewing en invloedryk in die rugbywêreld. Dis ’n droom wat vir my waar geword het. En ek sê sommer reguit, ek het groot ideale vir my rugbyloopbaan.”

Hy het hierdie toespraak goed voorberei, het ek geweet toe hy halfuitasem klaarmaak. Ons was weer hier op die sand langs die branders. Dit het toe reeds ’n ruk gelede ons gunstelinguitspanplek oor naweke geword. Dit was vir ons maklik om hier te kom. Gideon het ’n motor gehad, hy was ’n senior met ’n ruim sakgeldtjekkie elke maand. Hy het dit aan my verduidelik toe ek die eerste keer kapsie gemaak het teen onkoste. “My pa betaal my om weg te bly van die plaas af,” het hy gesê. “Sy nuwe vrou is jonk en mooi.” Toe het hy gelag. Te hard, het dit vir my geklink. “Dalk is hy bang ek vry haar af.” Hy het ver oor die wit skuim van die water gekyk, in die rigting van Tafelberg. Die stad se liggies het een-een begin aanknikker. Hy was ’n hele paar minute stil, ek ook.

“Ek moet binne dae sê of ek die aanbod by die myn aanvaar of nie.” Gideon se stem was hees van opgewondenheid. ’n Koel seebries het om ons begin speel en hy het sy arm om my lyf gesit, my onder sy blad ingetrek. “Eendag gaan ek en jy onder Tafelberg langs die waters aftree, maar vir nou vat ek jou eers saam.” Toe hy my nog stywer teen hom vasdruk, kon ek die hitte van sy liggaam voel. Sy entoesiasme het my meegevoer.

“Waar in die Noord-Kaap is die myn?” het ek gevra om bietjie tyd te wen.

“In so ’n soort driehoek noord van Upington en Kimberley,” het Gideon verduidelik. “Dis ’n kans in ’n leeftyd, daar is ’n huis vir ons en jy kan enigiets deur die pos leer as jy wil.” Hy het doodstil voor my kom staan, my gesig tussen sy hande vasgehou en my in die oë gekyk. “Trou met my, Isabella, asseblief. Ons sal saam al die struikelblokke doodvee.” So oorweldigend haalbaar het sy oorreding vir my op daardie oomblik geklink.

Ek was in ’n hoek, het dit my gevoel. ’n Gryskopvrou se woorde in die laaste weke van die tweede semester het in my kop gedreun. “Dis die klein jakkalsies,” het sy daardie dag afgemete begin terwyl sy oor haar bril vir my geloer het. Ek het oorkant haar lessenaar gestaan. “Dis die klein jakkalsies, juffrou Dickson, wat jou in die hakskeen byt, wat jou van die spoor af stamp. En klein jakkalsies word groot.” Sy het haar lywige agterstewe verder na agter op haar sitplek geskuif, haar borste op die lessenaar geanker en in die lêer met my naam op die omslag geblaai. “In ons beroep …” sy het die lêer toegemaak, dit in my rigting oor die lessenaar gestoot en aan die swaar gelaaide epoulette op haar skouers gevat, “in die verpleegberoep is daar ook ’n gevoelsinhoud waarin jy, volgens jou verslae, nie slaag nie. Jou sosiale vaardighede is afgeskeep.” Sy het haar asem diep ingetrek, haar bril van haar neus afgehaal en my in die oë gekyk. “By jou, juffrou, vermoed ek, lê die versperring stewig en diep geanker en is die jakkalse uitgegroei. Dit gaan jou pootjie in jou lewe. Jy kan wel bietjie beheer toepas, maar net as jy kan toneelspeel. En dan moet jou vertoning uitmuntend wees.” Die vrou op die stoel oorkant my het my geroskam. “Jy staan kil teenoor jou medemens. Ek hou jou al ’n ruk dop. Jou skrifte bly feitlik foutloos, maar ek sien nie dat jy deur die skans om jou probeer breek nie. Dit laat jou stom. Jy sal jou vertoning moet opknap.” Toe het sy my met haar hand uit haar kantoor gewuif.

Ontvlugting, het ek daar op die strand gedink. My hart het gewen.

“Ja,” het ek geantwoord. “Ja, Gideon, ek wil graag met jou trou.”

Gideon het nie kom ouers vra nie. “Ek kom jou mense nooi om ons huweliksplegtigheid te kom bywoon,” het hy my vooraf gewaarsku. “Ek gaan hulle nie die kans gee om my uit te gooi nie.” Hy het geskerts, maar ek kon onsekerheid in sy stem hoor.

“Ek is nou seker groot genoeg om my eie besluite te neem. Ek doen dit in elk geval al jare lank.” My bravade was ook maar dun.

Nog voor Gideon klaar verduidelik het van die werk by die myn en die voordele van ’n huis en wat daarmee gepaardgaan, was Daddy in ’n migraine in. Maar ek het dadelik geweet. Dit was nie oor die troue nie. Dit was oor die skande. Ek ken my pa se agterdog. Ek het geweet wat sy eerste gedagte sou wees. Hy sou dink sy jongste dogter het haar vasgeloop in ’n duiwel met onheilige gedagtes in sy broek waarvan die gulp oopgespring het. Hulle het oor die tou getrap, en nou is daar ’n baba op pad. Dit, weet ek, is wat in sy kop aangegaan het en ek het hom nie reggehelp nie.

Ma het geswyg, meer as ’n uur lank by die eetkamertafel bly sit nadat Gideon weg is, haar hande op haar skoot gevou. Dalk het sy ook gewonder, dalk was haar gedagtes by haar lot van lank gelede.

Queenie egter, het ingespring, beheer geneem. Soos gewoonlik en sonder dat daarvoor gevra is. Sy het Daddy in die kamer gaan pamperlang, Ma van die tafel af op gekry en haar verseker dat haar swart rok goed genoeg sou wees vir die troue. Toe het sy my onder hande geneem. “As dit dan nou moet, dan moet dit seker. Ek weet net nie of jy opgewasse gaan wees vir so ’n harde bestaan nie,” het sy gesug. Daarna het sy my haarfyn vertel wat ek moet inpak in my tas om op godverlaat te gaan oorleef. Godverlaat het vir Queenie aan die voet van die bergpasse om die Kaap begin.

Die aanloop tot ons troue net ’n week later was vir my ’n nagmerrie, ’n antiklimaks selfs groter as wat ek verwag het, ’n ontnugtering. Ek het tog gehoop vir ’n bietjie opgewondenheid vir my en Gideon vir ’n gelukkige huweliksdag, maar die oggend van die troue het met dieselfde somberheid as ander oggende in die Dickson-huis aangebreek. My pa was in die bed, in ’n migraine in. My ma en Queenie het die dag soos elke ander dag begin. Met asynlappe, met pap, met roosterbrood en tee en Queenie aan die woord met die voorlees van die berig op die voorblad van die oggendkoerant. Ma het, soos altyd, gebukkend in haar stoel in drukkende stilte geluister. Ek het my koffie in my kamer gaan drink.

Alles in Queenie se lewe is eenkant toe geskuif om Daddy gemaklik te hou. Haar lewe was verweef in die troosteloosheid van sy siekte, maar sy sou dit nooit anders wou hê nie. Sy het in ’n handelsrigting gaan studeer, net soos Daddy, en toe by die skool verder af in ons straat gaan skoolhou. Om naby ons Daddy te wees.

“Glo jy dan regtig nog aan wonderwerke, Isabella Dickson?” het ek vir myself voor die spieël in die badkamer gevra. Ek het gaan bad, my hare gewas en versorg. Daarna het ek in my kamer gewag tot dit tyd was om aan te trek. Die suidoos het die nag al opgekom en buite het blare en takke rondgewaai. Onstuimig. My goed was die vorige aand reeds gepak en ek het die tasse vroegmôre by die voordeur gaan neersit.

Toe dit tyd was, het ek my saamgeflanste trou-uitrusting aangetrek en in die voorhuis gaan wag. Ons het afgespreek dat Gideon my self sou kom oplaai om na die magistraatskantoor te gaan, net ingeval Daddy se versorging dalk tussenbeide sou kom en net ingeval die twee getuies, my ma en Queenie, wat ná lange bepeinsing tog ingestem het om hul handtekeninge op die dokument te kom neerpen, die pligte tuis bo die plegtigheid in die magistraatskantoor sou stel.

Toe die voordeurklokkie lui, was ek vinnig by om oop te maak. My bruidegom was op die stoep met ’n allemintige ruiker is sy arms. Ek het hom na binne gewink. Ma en Queenie het ook die klokkie gehoor en was gou agter my in die klein voorportaal.

“Ons kan nie nou al ry nie.” Ma het, soos altyd, gefluister. “Ons kan nie vir Daddy onnodig lank alleen los nie.”

Queenie het hard gesnork. “Jy is baie vroeg,” het sy laat hoor.

“Kyk maar vir die blomme as julle te veel na jul meisiekind verlang,” het Gideon joviaal vir Ma gesê toe hy voor haar staan. Hy het die blomme na haar toe uitgehou. Ma het haar hand oor haar mond gesit. Ek was seker Gideon het gedink dis bewondering vir die blomme, maar ek het geweet my ma wou hom stilmaak.

“Jy kan nie blomme in hierdie huis inbring nie,” het Queenie gesis terwyl sy by my verby druk en die blomme uit Gideon se arms neem. “Daddy sal hooikoors kry.” Toe stap sy met die ruiker weer by die voordeur uit, af met die treetjies tot op die tuinpaadjie en beur teen die wind op na die hoek van die huis. Die meeste van die blomme het agteroor geknak teen die aanslag van die suidoos. “Ek sal dit later vir die ouetehuis onder in die straat gaan gee,” het sy oor haar skouer gesê voor sy uit sig verdwyn het.

Gideon het haar ’n oomblik oorbluf agterna gekyk, toe na my gedraai en ’n lang wolwefluit gegee.

Ma het gewip soos sy skrik. “Sjuut,” het sy gesê en haar hande in die lug gegooi. “Daddy moet rustig gehou word.”

Ek het my mond toegedruk. Om niks te sê nie en die senuagtige laggeluide wat wou uitborrel, te keer. Gideon was rooi in die gesig, sy kieste opgeblaas.

“Kom wanneer julle klaar is,” het ek gemompel toe ek my stem kon vertrou en my tasse vir Gideon aangegee. “Ons wag voor die magistraatskantoor onder die bome.”

Ons het dit net tot in die motor gemaak voor ons albei uitgebars het van die lag. Ontlading.

“Was ons twee nou net in die sirkus of het ek my dit verbeel?” het Gideon gehyg.

“Eintlik is ek histeries van verleentheid,” het ek gesê en my sakdoek uitgehaal, my trane afgevee. “Ek skaam my morsdood vir my mense.”

“Wag tot ek jou die rillers van my voorvaders vertel,” het Gideon my getroos toe hy wegtrek voor die Dickson-huis. “Maar dis vir anderdag. Vandag bly ons twee net vrolik. Ons trou vandag.” Hy het vir my gekyk, geglimlag. “Vergeet van ons families en hul geite.”

“Dis moeilik vir my,” het ek geantwoord. “Ek is nou nog nie seker of my ma en Queenie gaan opdaag nie.”

“Moenie bekommer nie, twee van my vriende kom ook. Hulle kan ook maar teken.”

Ons het in stilte tot by die magistraatskantoor gery. Gideon het die motor in die skadu onder die bome getrek en die enjin afgeskakel. Toe het hy na my gedraai. “Wat ek eintlik netnou daar in die voorportaal van jou ouerhuis vir jou wou sê, my bruid, is dat jy pragtig lyk.”

“Dankie.” Ek het geknik. My trane was baie naby, my emosies steeds in ’n warboel.

Met die dokumente geteken voor die magistraat, het almal regop gekom en in die paadjies tussen die stoele deur se kant toe gedraai, reg om uit te stap.

Queenie se stem het skielik opgeklink. “Laat, Heer, U see-heen oor hu-hul daal …” Afgemete en skril het haar lied deur die kamer getrek.

Almal het tot stilstand geruk. Die magistraat het kop onderstebo agter die lessenaar bly staan met my en Gideon en die twee getuies reg oorkant hom. My bruidegom se twee vriende het vergeefs hul lag probeer smoor. Gideon se skouers het al hoe hoër gestyg langs my. Ma het hier en daar ’n woord saam met haar oudste geprewel. Toe my lyf lewe kry, het ek skuins gedraai, vir Queenie geknik en my handsak opgetel. Ek het my bruidegom met my elmboog in die sy gepomp en gewys ons kan maar stap. Queenie se lied het ná die eerste versie stadig weggesterf.

Die twee vriende was haastig om terug te gaan werk toe. “Ons drink vanaand ’n dop op julle,” het die een gesê toe hy Gideon se hand skud.

“Of twee of drie,” het die ander een vrolik bygevoeg toe hulle omdraai en wegloop.

Queenie en Ma het saam met ons tot by die motors gestap.

Queenie se motor was langs Gideon s’n onder die bome ingetrek. “Julle hoef nie daar op godverlaat te bly sit nie,” het sy gesê toe sy my groet. “Jou bruidegom het darem ’n redelike kwalifikasie. Julle kan altyd weer hier na die Kaap toe terugkom. Hier is baie werk. En dan kan jy kom klaar leer.” Sy het vir Ma gekyk, haar mou opgetrek en op haar horlosie getik. “Ons moet by Daddy kom.”

Gideon het verontwaardig met skrefieslippe vir Queenie gekyk. Toe het hy Ma, wat die hele tyd nie ’n woord geuiter het nie, se hand geskud en vir Queenie geknik. Die twee bruilofsgetuies het my een na die ander op my wang gesoen. Hulle het in Queenie se motor geklim en gery. Ek het my hand gelig en hulle agterna gekyk tot die motor om ’n draai onder in die straat verdwyn het.

“Kom, vrou,” het Gideon geskerts en vir my die passasiersdeur oopgehou. Hy het galant met sy los hand in die rigting van die sitplek beduie. “Kom, dis tyd om die nes te verlaat. Die seremonie is verby en die seënbede is in skril klanke uitgejubel.”

Ek het probeer glimlag en ingeklim.

Die verskil tussen ongetroud en getroud wees is sewe en ’n half minute, het ek geamuseerd gedink toe Gideon die deur toemaak. Ek het die horlosie teen die muur agter die magistraat dopgehou. Net sewe en ’n half minute.

Die suidoostewind het oor die Kaap getier met ons aankoms by die hotel in die middestad waar ons bespreek het om te oornag voor ons rit na die noorde die volgende dag. Ek en Gideon moes aan mekaar vashou om nie van die sypaadjie afgevee te word saam met al die papiere en vuilgoeddromme wat reeds straataf aan die rol was nie.

Ons het uitbundig gelag toe ons verwaai voor die ontvangstoonbank staan. Vrolik daardie keer.

* * *

Dit was die eerste keer dat ek geweet het daar is terapie in die aanslag van die natuur. Die wind was daardie dag my regmaker. En sedertdien het die wind my kopdokter geword. Dis die wind wat ek elke keer gaan opsoek het op die donker dae ná my kind gebore is. Die wind kon my desperaatheid temper, my help om die twyfel in Gideon se oë mis te kyk wanneer ek rondgewaai is in die rooi stof van die mynwêreld. Bevryding van die skimme om my.

* * *

Gideon het ’n belofte gemaak die eerste oggend toe ons op die myn wakker word. Ons het saam die dag sien breek agter die kameeldorings terwyl ons in ons voordeur gestaan het. Die tweede sonsopkoms ná ons troue.

“Eendag,” het hy gesê, “eendag gaan ek vir jou ’n seehuis bou waar jy elke oggend die hemele se soutlug in jou longe kan trek, mevrou Malherbe.” Sy lyf was teen my rug, sy arms om my middel, sy ken in die holte van my skouer. Naby my. “Eendag gaan ons by die see aftree, in ’n huis met ’n paradystuin. Dit belowe ek jou.” Sy asem was warm in my nek. “En lank voor daardie tyd, met my eerste vakansie, gaan ons wittebrood hou, iewers waar die krappe aan ons tone kan knibbel.”

My ruimte het te klein gekrimp daar op ons voorstoep. Ek wou vlug.

* * *

’n Paar jaar later het ons met ons meisiekind hier op Bloubergstrand gestap.

“Wolkies!” Uitasem, hygend het Nicky dié oggend reg voor ons in die sand vasgesteek. Sy het ons van agter af ingehardloop. “Julle maak wolkies!” Sy het eers na ons voete beduie en daarna vooroor gevou. Haar kop was op haar bors en haar handjies het sy tussen haar knieë ingedruk. Gideon en ek is in ons spore gestuit.

Ek het regop bly staan, verbouereerd na haar skouertjies gekyk wat op en af ruk om van die lughonger ontslae te raak.

Gideon het voor haar gehurk. “Stadig nou,” het hy gesê. “Haal eers asem en dan vertel jy ons hoe ons wolkies maak.”

“Daar is wolkies onder julle voete,” het sy ná ’n minuut of twee uitgekry.

Ons het nie dadelik begryp nie. Sy het ons agter mekaar laat inval. Ons moes ná ’n paar treë plekke ruil sodat ons vir mekaar se voetsole kon kyk. Dit was daar, skaars sigbaar, die vaalwit skynsel van bleek sandkorrels wat lig en val, lig en val met elke tree wat jy gee.

“Jou kop loop wilde draaie met jou, Nicky,” het Gideon gelag. “Dis sandwolkies wat jy sien.”

“Maak ek ook sandwolkies?” Uitbundig, die vraag aan haar pa.

“Natuurlik. Almal maak sandwolkies. Kyk vir die ander mense se voete hier om jou.” Gideon het ons dogter speels opgetel en in die lug gehou.

“Sit my neer,” het sy gekraai. “Ek gaan hardloop, dan maak ek die meeste wolkies van almal!” Nicky was vyf jaar oud.

* * *

Ek maak my oë toe, luister na die wind en die branders. “Ek gaan die meeste wolkies maak!” Nicky se stemmetjie. Helder en duidelik. Uitgelate hardloop sy van my af weg, die branders in. Haar pa op haar hakke tot hulle wegraak in die golwe. Altyd hulle twee naby mekaar, ek op die kantlyn.

Het sy onthou? Kon sy nog haar beentjies voel skop-skop, skop, skop? Desperaat voel skop?

Isabella

Подняться наверх