Читать книгу Isabella - Mariel le Roux - Страница 5

1975 1

Оглавление

“Godverlaat. Dan is dit hoe dit lyk,” fluister ek toe ek die voordeur van die mynhuis oopmaak. Ek fluit saggies en ril effens in die koel briesie wat oor die oopte tussen die ry huise en die myn deur teen my vaswaai. ’n Oopte wat my onkant vang. Ek het eers kombuis toe geloop nadat ek versigtig uit die bed geskuif het waar my bruidegom nog in droomland was. Dit het begin lig word buite. Deur die kombuisvenster kon ek in die skemer die effens verflenterde takke van bome in die buurman se tuin sien. Toe het ek die voordeur kom oopsluit.

Gideon lag saggies toe hy agter my kom staan, styf teen my. Ek het hom nie hoor nader kom nie. Hy vou sy arms om my lyf en druk sy ken in my nek. Ek is amper net so lank soos hy. Sy stem is vrolik toe hy beloftes van ’n aftreehuis by die see en ’n spoedige wittebrood maak. Ek luister in stilte, knik ’n paar keer want ek kan aan niks dink om te sê nie. Hy soen my op my hare, hou my styf vas.

Ons staan ’n ruk so in die voordeur, kyk saam die troosteloosheid in. Teen mekaar se lywe, pasgetroud, maar wêrelde van mekaar verwyder in ons gedagtes.

“Dis ’n mooi wêreld dié,” sê Gideon ná ’n paar minute en hy wys in die rigting van ’n blouswart hoop gruis. “Sien jy daardie koppie daar links? Dis by daardie koppie waar dit begin het, waar die aarde se geheim uitgelek het. Daardie koppie het die prospekteerders gelok met die eerste belofte van die rykdom van mangaan diep in die aardkors.” Gideon kyk met ander oë as ek na die wêreld om ons. “En sommer net hier anderkant is die veld glo besaai van die hematiet. Ons moet gaan kyk.”

“Hematiet?” My stem verraai die onstuimigheid in my. Die ruimte om my krimp.

“Bloedsteen. Dis sy naam hier. ’n Pragtige rooi klip. As die steen gesmelt word, kom yster daarin los. Ek kom teken jou lyf vol goggas met die eerste stuk wat ek in die hande kry. ’n Groot vet sprinkaan is boaan my lys.” Hy lag sag in my nek en hou my stywer vas toe ek gril en liggies vroetel om los te kom. “Hematiet is die inkleurkryt van weleer. Dis die klip waarmee rotstekeninge gemaak is en waarmee mense se lywe versier is. Ek teken mooi, jy sal …” Sy sin bly in die lug hang toe ek my uit sy omhelsing draai.

Ek staan effens weg. Instinktief. Ek kan Gideon se oë op my voel, maar ek kyk ver oor die vlakte. Skuldig. Ek wil dadelik probeer vergoed. “Ja, dankie, professor, jou lesing slaan my asem weg,” sê ek. Gideon staan stil, bly stil. “Maar ek glo die skoonheid van hierdie verlate lap aarde lê diep onder in die myn,” probeer ek weer. Toe draai ek om, kyk vir hom, glimlag, kyk weer veld toe toe ek die diep frons oor sy voorkop sien. “Seker in die belofte van rykdom vir dié wat hul hande daarop kan lê.” My senuagtige laggie klink dun in die oggendlug. “Hier voor my is net verlatenheid.”

“Sien jou nou,” sê Gideon toe hy die huis in loop.

Net ’n paar minute later is hy weer agter my in die gang. “Ek gaan bietjie litte losmaak. Kom saam, dan kyk ons van die hoek af wie is eerste by die huis,” nooi hy. Hy is weer sy joviale self, aangetrek in ’n ou universiteitsrugbytrui, ’n oefenbroek en drafskoene.

“Nie vandag nie,” antwoord ek. “Dalk môre, of oormôre, dalk eendag in die toekoms.” Ek doen my bes om te glimlag. “Dis nou as hulle plek gehou het vir my in die rugbyspan. Ek het ’n goeie rede nodig om fiks te word.”

Gideon soen my op my voorkop toe hy by my verby skuur. “Ek sal by die eerste oefening vra. Ek vermoed daar sal ’n hele paar manne wees wat jou graag sal wil tackle.” Hy glimlag stram en trek die hekkie agter hom toe, lig sy hand in ’n groet. “Ek kan dalk bietjie draai langs die pad. Die lang leeglê in die vakansie het my laat verroes.” Hy kies koers straataf in die rigting van die granietkoppie.

Ek sug en leun teen die kosyn, skud my kop, ontevrede met myself. My gedagtes flits rond tussen die gebeure van die afgelope tyd. Ons het maar net maande gelede eers van mekaar bewus geword.

* * *

Ek het op ’n bankie langs die Eersterivier gesit toe ’n groot roesbruin sprinkaan met ’n dowwe plof op my anatomieboek land. Toe ek vervaard opspring, het die boek op die gras geval. Die sprinkaan het ’n oomblik in die lug gefladder voor dit desperaat op my romp geland het. Ek het met albei my hande na die stomme insek geslaan totdat dit grond toe gevlieg het. Toe ek buk om my boek op te tel het twee kaal voete langs my hande tot stilstand gekom. Ek het weer geskrik en agteruit getrap, my balans verloor en op my sitvlak op die gras beland, reg voor die bankie.

Die volgende oomblik het ’n jong man kruisbeen, met ’n breë glimlag op sy gesig, voor my gesit. So naby aan my dat ons knieë aan mekaar geraak het. Ek het agtertoe probeer skuif, maar die bankie was in die pad.

“Ek vra om verskoning dat my lelike tone jou voete so onder jou uitgeslaan het. Ek hoop jy het nie seergekry nie.”

Voorbarige vent, het ek gedink, maar my wange het ’n ander storie vertel. Bloedrooi en stom het ek kop onderstebo bly sit.

“Dié juffrou is nie ’n plaasjapie nie, nè? Dié dat ’n sprinkaan haar so groot kan laat skrik.” Hy het speels gelag.

Toe ek opkyk, was dit in sy ligbruin oë. Sy mond het oopgegaan en weer toe. Sy lippe het beweeg, maar geen geluid het hom ontsnap nie. Dit het my ongemaklik gemaak en ek het weggekyk.

Hy het die boek langs my opgetel. “Die juffrou is ’n eerstejaar en gaan ’n nurse word, sê dié boek vir my.”

“Miskien,” het ek geantwoord.

“Jy klink nie oortuig van jou saak nie,” het hy gesê en die boek op die bankie neergesit. Hy het opgestaan en sy hande na my uitgesteek.

Ek het my hande in syne gesit en hy het my opgetrek. Ek was baie na aan sy lyf.

“Dankie,” het ek verleë gesê.

“Glo my, ons twyfel maar almal een of ander tyd aan ons keuses. Mag ek ’n oomblik by jou sit?” Sy stem die ene selfvertroue.

Ek het geknik. Ons het al twee afgesak tot ons langs mekaar op die voorpunt in die middel van die bankie gesit het. Hy het nie dadelik gepraat nie, my net in die oë gekyk. Intens. Die stilte het my kriewelrig gemaak. Ek moes iets sê.

“Waar is die sprinkaan?” Dit het met moeite uitgekom. Ek het my kop weggedraai, kamstig heen en weer langs my in die gras na die sprinkaan begin soek en terselfdertyd so ongemerk moontlik weggeskuif van die lyf langs my.

“Gevlug, juffrou, na waar daar veiligheid is,” het die man gesê en geglimlag. Toe het hy sy hand plegtig na my uitgesteek. “My naam is Gideon Malherbe.” Ek het geamuseerd na sy hand gekyk. “Ons doen dit nog op hierdie manier waar ek vandaan kom,” het hy verduidelik.

“Ek is Isabella Dickson.” Ek het sy hand geneem, sy groet beantwoord.

“Nog ’n Kakie wat op die Bos wil kom slim word. Jy weet seker hier is al ’n hele garnisoen van julle. Ons sal ons voorlaaiers moet olie.”

“O,” het ek gestamel, “maar net die helfte van my genepoel is Brits …” Ek wou verder verduidelik, maar het stilgebly toe Gideon op sy horlosie kyk en vinnig van die bankie af opstaan.

Hy het sy toksak van die gras af opgetel en dit oor sy skouer geswaai.“Kan ons asseblief vanaand oor ’n koppie koffie die Boom van die Lewe se genealogiese takke verder invul?” het hy gevra. “Ek kan nie laat wees vir my rugbyoefening nie. Dok Craven is vandag self daar om ons deur te kyk, het ek gehoor. Ek moet my bes gaan doen.”

Ek het geknik.

“Waar bly jy?” het hy gevra.

Ek het na die koshuis agter my gewys.

“Tot later dan,” het hy gesê en haastig weggedraf.

Gideon was al ’n hele ent weg toe hy onverwags omkyk en sy hand in ’n groet lig. My hand het in die lug geskiet. ’n Refleks. Ek kon die gloed voel opstyg in my nek en my gesig. Vuurwarm.

“Hoekom voel jy skuldig asof jy op heterdaad betrap is, Isabella Dickson?” het ek gemompel en my vingers ’n paar keer deur my hare getrek. “Moenie simpel wees nie, jy sien hom waarskynlik nooit weer nie.”

Ek was verkeerd. Ons het daarna in ’n warrelwind begin leef. Vrolik en verlief. Ek het my vertoning probeer regruk, my bes gedoen om die grense om my uit te skuif en ek het goed gevorder met tye, maar ek kon die jakkalsies nie almal afgeskud kry nie.

Op Stellenbosch het Gideon my geterg toe hy agterkom ek voel onseker, ongemaklik in sy omhelsings. “Ek is nie gewoond aan ’n lyf so naby my nie,” het ek probeer skerts. “Van my voorvaders kom uit ’n afsydige nasie.” Maar dit was nie skerts nie. Ek ken nie soveel lyflike nabyheid nie. In die Dickson-huis het ons nie aan mekaar geraak nie. Net ’n piksoentjie op die wang en dan ook net met baie spesiale geleenthede.

“Ek sal jou mak maak, meisiekind, jy sal nog verslaaf raak aan my,” het Gideon daar onder die akkerbome van die studentedorp geantwoord.

Ons het albei gelag, hy uitbundig, ek onseker. En ek hét later gewoond geraak aan hom, sy aandag die meeste van die tyd geniet. Net soms het die ruimte om my te klein gekrimp.

“Jy begin uit jou voorvaders se dop kruip,” het hy kort voor ons troue gesê.

Maar ek het geweet dit was nie waar nie. Ek het geweet dis ek wat net baie hard probeer het. Toneelspel. Maar dan moet jou vertoning uitmuntend wees, het die gryskopvrou gesê.

* * *

Toe ek later die oggend met ’n vars beker koffie in my hande weer by ons mynhuis se voordeur uitstap, is die son op. Gideon is nog nie terug nie en ek neem stelling in op die stoepmuurtjie. Dis die eerste keer wat ek die omgewing in volle sonlig sien. Geelbruin grasse staan kniehoogte in lui klosse versprei oor die rooi aarde aan die oorkant van die straat. Donker kolle, wat soos growwe gruis lyk, is sigbaar nader aan die koppie, maar dis die verwaarlosing wat my indrukke oorheers. Ek sien baie drade wat plek-plek platgetrap is en paaltjies wat skeef hang in die gras. Op die horison flits die metaal van ’n skag in die eerste strale van die oggendson. Die lug skyn grysblou deur yl wit vlieswolke wat in die rigting van die son dryf. ’n Bakkie ry in die straat verby en die windjie wat dit veroorsaak, stoot die grasse lusteloos in ’n rooi stofwolk rond.

Dit was al donker toe ons gisteraand voor die huis stilgehou het. Gideon het in die dae voor ons troue myn toe gebel. Die bestuurder het die adres van die huis oor die foon gegee, beduie hoe ons moes ry om daar te kom en gesê by watter buurman die sleutel sou wees. Nog voor Gideon die draadhekkie se knip by die buurman se huis kon afdruk, het ’n groot hond sy teenwoordigheid luidkeels aangekondig.

Uit die huis het ’n manstem gekom. “Loop lê, Wagter!” Die stoeplig is aangeskakel en die deurknop het gedraai. Nog stoepligte in die straat het aangeflits en ’n paar voordeure het oopgegaan.

“Goeienaand, ek is Gideon Malherbe,” het ek Gideon se stem gehoor. “Jammer dat ek so laat pla.”

“Nee, jy is welkom,” het die vreemde stem gesê. Dit was doodstil buite en ek kon hom in die motor hoor. “Ek is Sarel Verwey, aangenaam. Hier is die sleutel. Die bure hier in die straat het die nodigste in die huis gesit om julle vir ’n dag of twee deur te sien. Kom sê as julle iets kortkom.” Hy het in die rigting van die motor gekyk, maar nie nader gekom nie. “Onthou, hier is ons soos een groot familie. Altyd reg om mekaar te help. Ons maak môre behoorlik kennis. Julle moet pootuit wees.” Die buurman het agter sy hekkie bly staan.

Gideon het eers die voordeur van die huis wat aan ons toegesê is, gaan oopsluit en die stoeplig aangeskakel. Van die bure het intussen op hul stoepe en in hul tuine verskyn. Ek kon net figure uitmaak in die skemerskynsel van die buiteligte en het doodstil in die motor bly sit. Gideon het sy hand gelig toe hy amper by die motor was, in ’n groet straatop en straataf. Ek het van die bure se arms ook sien lig. Hy het vir my die motor se deur kom oopmaak en toe ek my voete stadig grond toe laat sak, het hy my in sy arms opgetel en tot die paar toeskouers se vermaak sy bruid oor die drumpel gedra. Ek het my verbeel ek hoor iewers ’n bietjie applous, maar ek was nie seker nie. Dalk was dit net my hart wat so in my ore gehamer het. Ek het my oë toegemaak en dit binne-in die huis vir die eerste keer weer oopgemaak. Dit was ewe warm buite en binne die huis. Drukkend en bedompig.

Die hitte, die vreemdheid van die huis, die geleende bed en die lyf langs my het my dié nag, soos die vorige, ure lank laat wakker lê.

Ek staan later weer in die voordeur met my leë koffiebeker in my hand. Ek weet nie of ek binne of buite wil wees nie. Die son se vroegoggendstrale het die wêreld verder oopgevlek. Dis al weer bedompig warm. Alles lyk vaalrooi, die huis se mure, die tuinpaadjie, die gruis in die straat, die gras en die bossies aan die oorkant. Die kaal stuk grond tussen die stoep en die hekkie lyk of dit toegegooi is met rooi poeier.

Selfs die hond van die buurman by wie Gideon die sleutel gisteraand gaan haal het, die hond wat my nou nuuskierig deur die draad staan en aankyk, se hare skyn rooierig. Ek is nie seker van die hond se herkoms nie, maar daar moet gene van massiewe voorsate in hom wees. Hy staan besonder hoog op sy bene.

Die paar huise boontoe en ondertoe in die straat lyk amper eenders, met heinings van ogiesdraad tussen die erwe en ook aan die straat se kant. Die wêreld lê oop.

Ons mynhuis is op die grens van die dorpie langs die stuk veld wat die myn van die huise skei. Oorkant die straat word ’n lap aarde skoongemaak. Twee groot kruiptrekkers staan daar waar die aarde al omgedolwe is. Naak en rooi lê die sooie grond. ’n Paar mossies is ywerig aan die werk om dalk nog ’n wurmpie of twee raak te skrop. Miskien gaan daar nog huise gebou word, maar op die oomblik het ek ’n onbelemmerde uitsig oor die ongerepte barheid van die natuur.

Die son se strale is een-een sigbaar deur die wasigheid van rooi stof. Stof wat eers lyk of dit stil in die lug bly hang, maar dan tog in fyn slierte stadig afsak aarde toe. Deursigtig, en ook nie. ’n Bietjie geheimsinnig, soos ’n sluier.

Die voordeur van ons mynhuis maak oop in ’n lang gang. Dis ’n verbeeldinglose huis. Uit die gang lei deure na al die vertrekke. Met die instap by die voordeur vanaf die stoep is drie deure aan elke kant van die gang sigbaar. Aan die kant van die bure wat ons nog nie ontmoet het nie, is die voorhuis, die hoofslaapkamer en die badkamer. Aan Sarel se kant lei deure na twee kleiner slaapkamers en die kombuis.

Die vertrekke is ruim met genoeg vensters wat ons ’n onbelemmerde uitsig op ons bure se huise en hul doen en late bied. Ons kan ons voorstoep, die straat en die onbekende bure se werf deur die hoekvenster van die voorhuis dophou. Twee kleinerige vensters in die kombuis bied uitsig op ons agterplaas en Sarel se voorstoep en sy werf. Die slaapkamers se vensters vul die res van die prentjie in. Hier is geen geheime nie. Ek verstaan die “een groot familie”-uitspraak van Sarel die vorige aand en ek wonder of ek daaraan gewoond sal kan raak. Die Dickson-huis is omring deur bome, bosse en struike en die houthortjies voor die meeste van die vensters word selde oopgemaak. Ek het pal weggekruip in ’n skemer stilte in my ouerhuis.

’n Paar sementtreetjies by die agterdeur uit gee toegang tot ons motorhuis en ons agterplaas. Die takke van ’n groot ou peperboom op die werf agter ons s’n hang oor in ons agterplaas en is die enigste groen in sig. Onder die takke is ’n sementbankie aan ons kant van die ogiesdraad. Die werf om ons huis is dor en kaal.

* * *

Ek het die voordeur en agterdeur van ons huis oopgelaat in die laatmiddag van ons eerste dag op die myn, in die hoop dat die drukkende hitte uit die huis sou wyk. Gideon was weg na die administrasiekantoor om met die bestuurder te gaan kennis maak.

Dis die geskree van die tuinhekkie wat my voordeur toe lok.

Die vrou is reeds op die stoep toe ek by die deur aankom. “Dagsê,” sê sy joviaal, “ek hoor hulle noem jou Bella.” Sy druk ’n mandjie met twee bakke daarin in my hande. Die inhoud van die bakke is bedek met foelie. “My naam is Bes. Bes de Beer. Gedink ek kom sê net gou welkom. Ons bly in die huis anderkant Sarel.” Sy beduie met ’n fris arm in die rigting van die buurman waar Gideon gisteraand die sleutel gaan haal het.

“Hallo,” begin ek, en staan eenkant toe sodat sy by die deur kan inkom, maar sy skud haar kop en bly staan stewig geplant op die stoep.

“Hier is vir julle ’n soppertjie.” Sy wys na die twee bakke in die mandjie. “Ek het gedink dis bietjie gou vir jou om al reg te wees om kos te kook. En die mens moet eet.” Sy lag hartlik. Haar wange en boarms skud gemoedelik. “Ek onthou nog goed hoe ek gesukkel het om Dewald se maag vol te hou net ná ons troue. Tussen die hormone en die rugby deur was hy altyd honger.”

“Dankie, Bes, jy’s reg. Ons moet nog by die winkels uitkom.”

“So van rugby gepraat,” stoom my nuwe buurvrou voort, “ons hoor Gideon het eerste span op universiteit gespeel. Die manne hier reken hy kan dit dalk nog ver bring eendag.” Sy sug diep. “Hier sal jy nog agterkom, ou sussie, dis eers rugby, dan werk en heel laaste is dit jy.” Sy trek haar skouers op en draai om, stap na ons hekkie toe. “Sien jou weer, ek kry môre die mandjie en die bakke by jou,” sê sy oor haar skouer.

“Nogmaals dankie vir die kos, Bes, dis vriendelik van jou.” Ek sit die mandjie op die stoepmuurtjie neer en stap agter haar aan tot op die sypaadjie.

“Dis reg so,” sê sy toe sy weer haar hand in ’n groet lig en straataf in die rigting van haar huis begin stap.

Ek kyk die vrou met die wye bloubont rok agterna en wonder of Dewald se hormone suksesvol was. Ek kan nie besluit of Bes swanger of net hopeloos oorgewig is nie.

In die kombuis maak ek die bakke oop. Varktjops, gebraaide aartappels, soetwortels en goudbruin patats kyk vir my uit die vierkantige bak. In die klein bakkie is ’n gebakte poeding. ’n Goudgeel bottersousie wieg heen en weer saam met die uitgeryste, bruingebakte knobbels in die bakkie toe ek dit uit die mandjie haal. Bes is waarskynlik nie swanger nie, Bes eet dalk net baie lekker.

* * *

Toe die son ’n rukkie later begin sak en Gideon terug is van die myn se kantore, is daar ’n ligte kloppie aan die voordeur. Hy maak oop. “Hallo, oom Sarel,” hoor ek hom sê.

“Naandsê buurman bly jy buite Wagter.” Alles in een asem. Dis die stem van die man in die huis langsaan waar Gideon die vorige aand die sleutel gaan afhaal het. “Ek kom net kennis maak met die nooientjie, sal julle nie lank besig hou nie. Ons het oponthoud by die myn gehad vanmiddag. Groot moeilikheid met ’n stuk masjinerie wat nou al lank dreig om te breek en toe vanmiddag besluit hoesit, vandag is die dag. Dié dat ek nou eers hier aankom.”

“Oom is nie laat nie, kom ons stap deur kombuis toe. Dis mos nou maar eenmaal die beste kuierplek.”

“Naand, Bella,” sê Sarel toe ek by hulle in die kombuis aansluit. “Ek het jou naam by Bes gehoor.” Hy steek sy hand na my uit. “Bly te kenne,” sê hy toe ek sy hand neem. Hy kyk my in die oë. “Mintag, maar in daardie twee blou poele kan ’n man maklik versuip!” Hy pluk-pluk aan die onderkant van sy broek se voorste naat. Knak sy knieë effens na buite. “Jy sal die manne hier mos winduit slaan.”

“Haar naam –” begin Gideon, maar ek val hom in die rede.

“Aangename kennis. Ek is bly ek ontmoet nou ook die baas van die buurhuis, maar ek het darem al met jou hond kennis gemaak. Ons het mekaar vandag ’n paar keer by die draad gekry. Is hy kwaai?”

“Is maar soos sy baas, Bella,” antwoord hy. “As ek eers jou pel is, bly ek jou pel, maar as jy my gatkant blink vryf, nou ja, dan lol dit maar.” Sarel vee oor sy waterige grys ogies en sy dag oue baard. Hy is ’n kort mannetjie, skraal, en sy bles is amper deur sy kuif. Net ’n paar weerbarstige hare staan regop bokant sy voorkop. “Skei tog uit met die oom-sêery. Dis myle, nie jare nie, wat ek dra. Hier op hierdie verlate stuk aarde bak ons velle gaar in die somerson en as dit kom winter word, vries ons almal in plooie in.”

“Kan ek vir jou koffie skink?”

“Nee, dankie, nooientjie, bang vir roes.” Sarel loer met skrefiesoë onderlangs in my rigting. Hy knipoog vir my toe hy my oog vang. Ek kyk dadelik weg. Ontsenu. “Ek gaan ’n draai by die klub maak. Dis maar waar ons alleenmanne saans ons tyd verwyl,” sê hy toe hy opstaan. “Jy kan saamkom as jy wil, buurman,” nooi hy. Hy kyk eers vir Gideon en daarna vir my. Toe trek hy weer aan die broek se naat en knak sy knieë. “Maar met so ’n mooi ding in jou skarewee het jy sekerlik beter dinge om te doen as om met die manne te sit en redekawel. Of wat praat ek alles.” Sy skor laggie stap saam met hom gangaf en by die voordeur uit. “Nooientjie, jy bly nou hier tussen twee ou bachelors. Ek verwelkom jou ook sommer namens Giep Hanekom aan julle ander kant. Ou Giepie is maar van die stillerige soort. My vrou het pad gevat strate toe en ou Giep s’n hemel toe.”

Ons stap agter hom aan tot op die stoep.

By die hekkie draai Sarel om. “Kom sê my as hy stout is, nooientjie, gehoor jy vir my?” Hy grinnik toe hy so in die wegstap weer sy broek se naat beetkry.

“Ek verstaan dié buurman het ’n geilgeit oor hom wat nooit loop lê nie; jy sal die deure gesluit moet hou.” Gideon lag saggies, sit sy hand om my middel en trek my teen hom aan. “Hier loop stories vinnig. Ek het nog ’n paar om jou te vertel, maar nou is ek skreeuend honger. Kom, my Bellatjie, kom ons gaan eet die fris buurvrou se soppertjie sodat ons heelnag kan rondrol van sooibrand.”

* * *

Vroegoggend op die tweede dag van ons mynbestaan is Gideon weer gereed om te gaan draf. “Ons ry dorp toe, winkels toe sodra ek terugkom, belowe ek jou,” sê hy toe ek hom herinner aan ons beloofde inkopietog. “Dis net so ’n halfuur se ry, dan is ons daar. Ek sal nie lank draai nie. En vanmiddag moet jy saam met my na die kantore toe gaan sodat ek my mynbakkie huis toe kan bring. Die motor gaan by die huis wees terwyl ek werk, vir jou om te gebruik.”

Toe hy weg is, stap ek doelloos deur die vertrekke, maar die huis druk my vas. Ek gaan by die agterdeur uit en Wagter draf saam met my anderkant die grensdraad toe ek straat toe mik. Blaf nie. ’n Huishulp hang wasgoed op Sarel se wasgoeddraad.

“Môre, kleinnooi Bella,” groet sy luidkeels.

Sy is al ingelig oor my naam. My mynnaam. “Goeiemôre.” Ek fluister amper, oorbewus van die stil oopte van die Noord-Kaapse vlaktes om my.

Die vrou kom na my toe aangestap. “Kleinnooi kan net sê as ek kan help,” bied sy oor die draad aan. “Ek werk meeste van die tyd net al om die ander dag by hierdie huis, van Maandag tot Saterdag.” Sy beduie met haar kop in die rigting van Sarel se voordeur. “Net partykeer kom ek ekstra in as my baas my spesiaal nodig het. Ek kan die kleinnooi op enige van die ander dae kom uithelp. Miskien net so bietjie kom optidy of so.”

“Baie dankie –” Ek weet nie hoe om haar aan te spreek nie en kyk haar vraend aan.

“Rachel, kleinnooi,” sê die vrou, “my naam is Rachel.”

“Dankie, Rachel, ek sal kom vra as dit nodig raak.”

Die buurman se werf is net so kaal soos ons s’n. Die enigste groenigheid wat ek kan sien is ’n verwaarloosde lappie gras tussen sy wasgoeddraad en die grensdraad tussen ons erwe.

Rachel sien hoe my oë oor die werf dwaal. “Die grassie hier hou ek groen vir ou Wagter. Dis sy pisgrassie.” Sy beduie na die verwaarloosde grasperkie. “Hy moet darem iewers kan broek losmaak. Maar my baas is nie eintlik een vir tuinmaak nie.”

“Ek sal nogal daarvan hou om in die grond te vroetel, maar is hier genoeg water?” wonder ek.

“Hier is oorgenoeg water, kleinnooi, maar meeste van die myn se mense worry nie eintlik met tuine nie.” Rachel frons. “Is seker maar so as die huis nie jou eie is nie. Wie werk dan nou sy vingers nerfaf op ’n ander man se werf as jy nie betaal word daarvoor nie.”

“Ek sien jou weer, Rachel. Dis nog lekker koel. Ek het lus vir ’n stappie. Ek groet eers.”

Rachel knik en draai terug na haar wasgoed toe. “Laat ek die nat goed in die son kry,” sê sy terwyl sy aanstap. “Die dag staan nie stil nie, en dié spannetjie wil ek sommer vanmiddag nog stryk en weghang.” Ek voel ongemaklik met die onderdanigheid. Die Dicksons het nooit huishulpe gehad nie.

Toe ek by die motorhek uit is, kies ek koers in die rigting van die straat waar die myn se winkel, die garage en die poskantoor is. Gideon het my die vorige aand daarheen beduie. “Hulle voorsien in al die onmiddellike behoeftes van die mense hier, glo my,” het hy gesê. “Hier op die myn is ongelukkig nie ’n slaghuis nie en een van die eerste goed wat ons sal moet aankoop, is ’n vrieskas, want ons sal ons tjoppies in groot maat moet koop,” het hy vrolik verduidelik. “’n Man moet darem ’n brandoffertjie kan bring so nou en dan.”

Ek wens ek kan al in Gideon se entoesiasme deel. Dit is my nuwe lewe, sê my kop kort-kort. Myne en Gideon s’n. Ek weet ek is die een wat sal moet aanpas. Die myn en sy mense gaan nie by my aanpas nie.

Wagter hou steeds langs my agter die draad toe ek voor Sarel se huis verby stap. Die poeierrooi stof lê hier ook van die hekkie tot by die treetjies van die stoep. Twee leë sementpotte staan weerskante van die treetjies en ’n smal strook gruis tot by die hekkie dien as tuinpaadjie. Twee halfdooie kameeldoringbome, een net anderkant die ogiesdraad en een op die sypaadjie, ontsier die vooraansig van die huis. Dooie takke hang tot op die grond. Dis ’n breë rooigrondsypaadjie waarop ek stap. Voor Sarel se motorhek is twee stroke gruis tot in die straat, maar die gruis is al goed uitgetrap deur motorbande se baie in- en uitry. Verwaarlosing.

Voor Bes en Dewald se huis lyk dit nie veel beter nie. ’n Wit plastiekstoel lê onderstebo naby die hekkie en twee fietsies staan teen die muurtjie aan die voorkant van die stoep. Oral op die mure is rooi handjies. Kinderstemme kom vanuit die huis na my toe aan.

By die huis op die hoek steek ek vas. Die netjiese tuin is in skerp kontras met die werf anderkant die ogiesdraad aan die De Beers se kant. Weerskante van die tuinhekkie pryk ’n jong palmboom en die vierkantige groen grasperk voor die stoep is netjies en kort gesny. Rooi malvas staan in volle blom in potte voor die huis. Ek merk die vrou op die stoep eers op toe sy in haar stoel beweeg. Sy staan op en sit ’n koffiebeker op die muurtjie neer. Toe kom sy na die hekkie toe aangestap.

“Môre, môre,” sê sy terwyl sy nader kom. “Ek is Mieta Bosman.” Sy steek haar hand oor die hekkie uit. “Welkom hier in ons straat. Bes sê my hulle noem jou Bella.” Sy vat my hand stewig in hare vas. “Ek nooi jou anderdag vir tee as julle eers ingeburger is.”

“Dankie, ek kom graag. Dit sal lekker wees.” Ek wys in die rigting van die Bosman-werf. “Julle tuin is pragtig, veral die twee palms hier by die hekkie. Ek hoop by ons kan dit ook eendag so lyk.”

“Dis Jan se bybie,” sê Mieta. “Hy kan net asemhaal as sy hande vuil is.” Sy wys na die twee palmbome. “Dié het hy hier geplant ná ons tweeling gebore is. Hulle het ongelukkig nie oorleef nie. Te vroeg gebore.” Ek weet nie wat om te sê nie. Mieta staan terug. Sy knik. “Ek groet eers, ek wil jou nie ophou nie. Geniet jou oggendwandeling. Dis die beste tyd van die dag om buite te wees.” ’n Soliede vrou, vermoed ek. Een wat die lewe in die oë kyk.

Ek stap om die hoek en ’n entjie op in die volgende straat tot by die winkel waar ek ’n tydskrif koop. Buite kan ek die naderende hitte voel en besluit om terug te stap huis toe. Ek kies die straat agter ons huis en stap om die blok. Waarom, weet ek nie, maar ek is verlig toe ek nie mense buite sien nie. Ek kyk nie veel rond nie en stap vinnig. Toe ek weer in ons straat is, sien ek dat die huis op die onderste hoek leeg staan. Daar is nie gordyne of blindings voor die vensters nie en die onkruid en gras staan hoog in die erf. Ek stap verby. Die huis tussen ons en die leë huis se vensters is toe. Die gordyne is diggetrek en dit is duidelik dat ook hier niemand op die oomblik tuis is nie. Die wewenaar moet op skof wees.

Ek maak ons tuinhekkie oop om sommer by die voordeur in te gaan, want ek sien Rachel langsaan op Sarel se stoep waar rooi walms stof voor haar besem opstyg. Ek wil nie weer geselsies aanknoop nie, maar lig my hand in ’n groet toe die tuinhekkie skree en sy opkyk. Die volgende oomblik trap ek amper op die slang. Dis die effense beweging by my voete wat my laat afkyk. Die dik, korterige slang seil lui tussen my voete en die draad uit straat se kant toe. Die merk in die stof waar die reptiel opgekrul was, is duidelik sigbaar tussen die laaste twee sementblokke van ons tuinpaadjie. Ek spring eenkant toe, gee ’n paar treë agteruit en struikel oor my eie voete tot ek op my sitvlak in die straat beland, maar ek maak nie ’n geluid nie. Die tydskrif val langs my in die stof.

Rachel sien die petalje en kom aangehardloop, besem in die hand. Sy is net betyds om die slang in die gras skuins oorkant die straat te sien verdwyn. “Wyk, Satan, wyk!” skree sy. Toe laat sy die besem val en maak ’n kruis met haar voorarms voor haar bolyf. Sy gee ’n paar lang, afgemete treë in die rigting van die gras.

Ek trek my teen die heining op.

Toe Rachel omdraai, kom staan sy reg voor my. “Hier is baie van hulle, kleinnooi, veral in die knietjiesgras daar oorkant die straat. Mens sien hulle moeilik roer as die windjie die grassies so rondstoot.” Rachel tel haar besem en my tydskrif op en kyk met ’n ernstige gesig vir my wat steeds aan die heining vasklou.

My mond gaan oop en toe sonder dat ek ’n geluid kan uitkry terwyl ek stip na die sleepsel in die stof van die straat staan en kyk. Ek draai my kop stadig, volg die lang merk van die hekkie tot by die plek waar die slang verdwyn het.

“Die kleinnooi skrik stil, nè? Maar die skrik lê wit in kleinnooi se kyk. Dis ’n baie ongesonde ding. Al die skrik slaan binnetoe. Ek gaan ’n bietjie suikerwater aanmaak.”

“Toemaar, Rachel, ek is weer reg.” Sag en hees kom dit oor my lippe.

“Dit voel altemit so, maar dit sal wys wees om bietjie skrikmedisyne in te kry.” Sy stap in die rigting van die voordeur wat ek vroeër net toegetrek het om die hitte buite te hou. Rachel maak die deur oop en stap voor my uit tot in die kombuis waar sy die besem in die hoek langs die agterdeur staanmaak en die stof van my tydskrif teen haar voorskoot afvee voor sy dit op die kombuistafel neersit. Die oggend se skottelgoed is nog in die droograk en Rachel neem ’n koffiekoppie, skink die koppie halfvol met drinkwater uit die beker langs die geleende yskas. Sy gooi twee hoogvol lepels suiker uit die suikerpotjie op die tafel by die water en roer dit vinnig. “Kom drink, my nooientjie, dis goed vir die gestel.”

Ek neem ’n sluk, gril vir die soet, stroperige water en sit die koppie op die tafel neer.

“Voel die kleinnooi nou beter?”

“Ja, dankie, ek is doodreg.” Ek trek ’n stoel onder die tafel uit en gaan sit. “Hoe lank dink jy lê dié meneer al voor ons voordeur? Gideon en ek is albei by die agterdeur uit vanoggend. Ek was al op die stoep, maar nie een van ons was tot by die tuinhekkie nie.”

“Hier loop ons maar ligvoet in die somer. Daar oorkant die straat in die grasse wemel dit van Satan en sy trawante. Dis die gewerskaf van die trekkers wat die slange verskrik en dan kry ons hulle hier duskant.” Rachel begin aanstap deur toe, maar steek weer vas, draai om na my toe. “Net laas week was daar ’n yslike groot geelslang in ons jaart.” Sy wys met haar twee uitgestrekte arms die lengte van die slang. “En voorverlede week het baas Herman hier agter ’n boomslang doodgemaak. Die baas het gesê die slang was baie lank. Het hom glo netjies om ’n tak van die peperboom gekrul soos ’n grasgroen Krismisstreamer.” Sy kyk nog ’n slag vir my. “Dan loop ek nou eers. Ek sien die kleinnooi se wange is nou weer mooi pienk.” Toe knik sy haar kop tevrede en stap by die agterdeur uit, besem weer in die hand.

* * *

Die middag nadat die nuwe meubels wat ons op die dorp gaan koop het, party op huurkoop en die ander met ons spaargeld, afgelaai en die geleende stukke met die hulp van ’n paar werkers weer aan die eienaars terugbesorg is, neem ek Bes se mandjie en kosbakke terug na haar huis. ’n Pakkie lekkers vir die kinders in die leë bakke is my dankieoffer. Sy nooi my vir tee, maar ek wil nie kuier nie.

“Rachel sê my jy het jou vuurdoop met ’n slang reeds gehad. Jy moet versigtig wees. Dis die werkery oorkant die straat wat die goed uit die grond laat vlug. Amper elke dag hoor mens van slange op mense se werwe. Maar op die lang duur kan ons seker verwag om bure oorkant die straat te kry. Die aantal steenhuise bly te min en die asbeshuise dieper in die dorp word ontruim. Van die inwoners daar het begin siek word. Wat hulle plan ook al is, dis ’n helse stofgemors. Hierdie rooi stof sif in alles in. Jy sal dit tussen jou Bybel se bladsye kry.”

“En tog staan die huis op die hoek leeg.”

Bes lag lekker. “Sit ’n oomblik hier op die stoep,” nooi sy. “My twee manne is in die bad maar Soes, my hulp, is by hulle.”

Ons gaan sit op die bankie langs mekaar.

Bes wys in die rigting van die leë huis. “Dis die spookhuis. Niemand bly lank daar nie. Daar loop glo snags ’n ou dame in die huis rond wat koppies van die rak af gooi en krane oopdraai en behoorlik amok maak. Die laaste mense wat daar gebly het, bly nou reg agter jou. Hulle is die Du Toits. Malie en Herman. Het jy hulle al ontmoet?”

“Nog nie, maar ons sal mekaar seker binnekort raakloop. Ek hoor soms ’n hele paar kinderstemme uit daardie rigting kom.”

“Malie en Herman het twee stelle tweelinge, almal seuns, net minder as twee jaar uitmekaar en onmoontlik om mee huis te hou. Een van die oudste twee, hulle is nou seker omtrent vyf, kry bietjie swaar. Jy sal sien. Ek het daardie tyd toe hulle gebore is in die kraamsaal van ons dorpshospitaal gewerk, maar was nie aan diens tydens die bevalling nie. Dinge het dié nag skeefgeloop met die verlossing van die tweede baba, met tragiese gevolge.” Bes sug en vee oor haar oë. “Dit was niemand in besonder se skuld nie. Die naelstring was ’n paar keer om sy nekkie.” Sy kyk ’n oomblik ver oor die vlakte. “In elk geval, die eerste stel babas was net ’n bietjie meer as ’n jaar oud toe hulle op die hoek in die spookhuis ingetrek het. Toe Malie kort daarna uitvind sy is weer swanger, het die spook die skuld gekry.” Bes lag dat die bankie onder ons skud. “Sy sê toe Herman kon nooit weer snags sy lê kry as die spook haar trieks begin uithaal het nie. Dan lê hy ledig in die kooi langs haar.” Bes glimlag. “Die spookstorie wil dit hê dat die ou dame nie kan rus nie omdat haar skoonseun haar die ewigheid ingehelp het met haar kopkussing een nag nadat sy hom vroeër die aand met haar kierie bygekom het.”

“Rowwe manne dan, party van die myners hier rond, nè,” skerts ek.

“Dit kan jy weer sê. Hier is ’n hele paar van hulle op die myn. Jy sal hulle wel raakloop en nog baie van hulle hoor. Net laas jaar het twee van hulle, twee swaers nogal, stry gekry langs die kroegtoonbank by die klub. Hulle het laataand politiek gesels. Toe vererg een van die twee hom so dat hy by die deur uitstorm en huis toe loop. Net om ’n paar minute later weer by dieselfde deur in te kom, pistool in die hand. Hy het die swaer wat agtergebly het, net daar op sy kroegstoeltjie in die bors geskiet. Die slagoffer was gelukkig. Die skut was al aangeklam en het nie goed gemik nie. Gelukkig nie. Die koeël het skuins teen die man se borsbeen vasgeslaan, sy hart gemis maar een van sy longe getref. Hy het by die dood omgedraai, sê ek jou. Kan jy jou die familietwis voorstel? Een suster se man is geboard, want hy kan nie meer in die myn afgaan met sy flenterlonge nie, en die ander suster se man sit in die tjoekie.”

“Ek moet nog ’n paar dinge by die huis gaan doen,” sê ek en staan op.

“Jy sal algaande die mense hier om jou leer ken. Ou Sarel het ’n oog vir ’n rok.” Bes kom staan voor my, haar groot donker oë vrolik. Sy is ’n mooi vrou met ’n dik bos bruin hare wat los tot op haar skouers hang. “Maar sy groot troos bring hy aan die grasweduwees van manne wat opgeroep word vir militêre diens. Dis sy bydrae tot die veiligheid van die landsgrense, het hy vir dominee gesê toe Christa, sy vrou, by die leraar gaan kla het oor sy rondlopery saans. Nie lank daarna nie het sy haar goedjies gevat en ons het haar nog nie weer gesien nie. Jy sal sy bakkie rond en bont in die strate sien staan wanneer hy nie op skof is nie. En naweke as die rugbyspan weg is vir wedstryde gaan verneem hy kort-kort by van die rugbyweduwees waar hy van hulp kan wees. Ek dink dis eensaamheid wat hom so rusteloos maak. Sy vrou was nou nie eintlik wat ek geselskap sou noem vir hom nie. Seepglad is ons buurman vir die kuiers geskeer as hy op sy togte vertrek en ruikend van die aftershave, maar skadeloos.”

“Ek groet eers,” sê ek oor my skouer toe ek aanstap tuinhekkie toe. “Gideon het die weermagloting vrygespring, maar ek sal beslis by die rugbyweduwee-liga moet aansluit.”

Dis nog vroegmiddag en Gideon het gesê hy kom eers laat huis toe, want hy ry ná uitvaltyd saam met van die ander manne na die ystermyn naby Postmasburg. Daar is ’n belangrike rugbyvergadering beplan vir die aand. Die sonbesies skree hul woede uit in die peperboom toe ek die agterdeur agter my toetrek ’n rukkie nadat ek van Bes af gekom het.

Toe ek die motorhek toemaak, kyk ek waar ek trap. Ek sien geen slange en geen sleepsels nie, maar ek bly oorversigtig toe ek straataf koers kry, verby die Bosmans om die hoek stap en om die volgende hoek tot in die straat agter ons huis. Ek voel minder vreemd, kyk meer rond as die vorige keer toe ek daar was. Die straat lyk op die oog af verlate, maar ek hoor kinderstemme. Dit kom van die werf reg agter ons.

Voor dié huis gaan ek staan. Twee seuntjies speel in die rooigrond naby die heining. Ek skat hulle so vyf jaar oud. Amper groot genoeg om in die skool te wees, vermoed ek. Die oudste van die twee stelle tweelinge dus. Maar hulle is nie identies nie, ook nie ewe lank nie. Hulle is feitlik teen die ogiesdraad waar ’n paar houtstompies opmekaar gestapel is. Die korter een van die twee hou ’n klein katjie in sy hande vas. Sy mond hang oop en sy ken blink nat van die spoeg. Dit moet die enetjie wees wat bietjie swaarkry, volgens Bes. ’n Groot agterstand staan op sy gesiggie geskryf. In sy hande wriemel die katjie vergeefs om los te kom. Die langer een van die twee het ’n donker bottel in een hand en in die ander hand knyp hy iets vas. Voor hy dit agter sy rug kan wegsteek, sien ek die geel etiket op die dosie. Vuurhoutjies. Hy trap ongemaklik rond. Toe hy sien ek kyk na die bottel, sit hy dit op die grond neer en gaan sit plat op sy sitvlak sodat dit agter hom versteek is. Hy druk die vuurhoutjiedosie tussen sy bene in. Ek ruik onraad, iets is nie reg nie.

“Hallo, julle twee manne, wat maak julle?”

“Niks nie, tannie,” sê die een voor die bottel vinnig. Hy laat sy kop sak.

Die ander een kyk my oopmond en met ’n skewe koppie aan.

“Wat is in die bottel?” Ek kry nie antwoord nie. “Is julle mamma hier?”

“Ga briewe haal,” sê die een met die katjie. Hy praat effens sleeptong. Die dier se naels is vas in sy hempie en die katlyfie krul en spartel.

“Nou wie kyk nou na julle?”

“Regina. Sy is in die huis,” antwoord die een voor die bottel.

“Wat is julle name?”

“My naam is Kobus …” Hy kom nie verder nie, want die kat in sy boetie se hande maak skielik ’n onaardse geluid.

“Jy moet die katjie laat los,” sê ek, “jy maak hom seer.”

“Nee,” sê die kind. Skuim spat by sy mondhoek uit. “Hy sa wêhol.”

“Laat hom maar bietjie hardloop. Dis mos lekker vir katte om te hardloop.”

“Hy moetie wêhol nie.”

“Hoekom nie?”

“Oor ons hom ga orf … orf … orfder.”

“Hou jou bek, Johan!” skree Kobus. “Hy lieg, tannie.” Toe vlieg hy op en die vuurhoutjiedosie val op die grond. Die bottel val om en rol tot teen die stapel hout. Kobus klap sy broer ’n taai hou met die plathand teen sy kop. “Jou simpel vark!”

Die kat kom los en vlieg soos ’n pyl uit ’n boog om die hoek van die huis.

Johan begin huil. ’n Ongemaklike, dierlike geluid kom by sy mond uit. Sy gesig vertrek.

Kobus is net ’n oomblik van stryk. “Hy lieg, ons wou niks doen nie, tannie.”

“Wat gaan hier aan?” vra ’n harde vrouestem agter my.

Ek skrik, want ek het haar nie hoor nader kom nie. Die vrou knik in my rigting en maak die hekkie oop, stap in. “Ek vra weer. Wat gaan hier aan?” Sy stap tot voor Kobus. “Hoekom huil Johan?”

“Johan maak die katjie seer,” sê Kobus. “Toe raas daai tannie met hom.” Hy wys na my.

“Issie,” snik Johan. “Ons ga die katjie orfder.”

“Hy lieg, hy lieg, hy lieg!” skree Kobus. “Hy sal nog hel toe gaan.”

“Bly dadelik stil, al twee van julle,” sê die seuns se ma.

Ek is verbaas toe die kinders gehoorsaam.

“Gaan binnetoe, ek kom nou.”

Kobus stap voor, skop so ver hy loop met sy kaal voete rooi stof op, Johan slenter beteuterd agterna. Op daardie oomblik word die sifdeur van binne af oopgestoot. ’n Huishulp verskyn met ’n seuntjie op elke heup. Hulle is jonger as die twee wat voor in die tuin gespeel het.

“Dankie, grote genade tog, die mies is trug. Die twee kleintjies wil nie slaap nie, en daai twee wil nie in die huis bly nie,” kla sy.

“Vat die kinders kombuis toe, Regina.” Die vrou verdwyn in die huis in met al vier die seuntjies.

Die deur klap hard toe net toe ’n voertuig in die straat verby ry. Die bestuurder toet liggies en ek draai om. Rooi stof waai in my rigting. Dis Sarel met Wagter langs hom op die passasiersitplek van sy bakkie. Ek lig my hand en groet.

Toe die ryding verby is en ek weer omdraai, staan die vrou voor my. “Ekskuus,” sê sy. “Ek is jammer ek was so onbeskof, maar hier is altyd moeilikheid as dié twee alleen gelaat word. My naam is Malie en jy is seker Bella, ons nuwe buurvrou hier agter.”

“Hallo. Ja, dis reg. Aangename kennis.”

“Dis goed jy het betyds op die brandstapel afgekom. Dis gisteraand se Bybelstorie wat hom nou amper hier op ons werf afgespeel het.” Malie staan ’n oomblik diep ingedagte. “Dis al wat dit kan wees,” sê sy stadig en druk haar hande teen die kante van haar wange vas. Posstukke steek by die bokant van die lapsak wat sy oor een skouer het uit. “Herman het vir hulle die storie van Abraham wat vir Isak moes gaan offer gelees.” Haar oë is vol trane. Sy vee dit met die agterkant van haar hand weg. “Baie dankie, jy het ’n tragedie voorkom. Die arme kat.” Sy sug. “Dis Kobus wat altyd die voortou neem. Hy is gefrustreerd omdat hy noodwendig van die oggend tot die aand in Johan se geselskap moet wees. Nog net hierdie jaar, dan kan hy skool toe gaan.” Sy skud haar kop stadig heen en weer en vryf oor haar oë. “Nie veel wat ek daaraan kan doen nie. Johan het by geboorte breinskade opgedoen en die ander twee is nog te klein om hul ouboet se speletjies baas te raak.”

“Toemaar, die katjie sou waarskynlik nie regtig in die vuur beland het nie. Daardie naeltjies is vlymskerp.”

“Dis nou natuurlik as die bottel petrol nie voor die tyd groot skade gemaak het nie,” antwoord Malie. Sy tel die dosie vuurhoutjies op waar Kobus dit in sy haas om sy broer stil te maak, laat val het en steek dit in haar rok se sak. “En hiervoor,” sy wys na haar sak, “gaan iemand nou in die pad gesteek word. Dis deel van haar rookgoed en nie die eerste keer dat dit rondlê nie. Hoe hulle die petrol in die hande gekry het, sal ek nou-nou uitvind, maar dis waarskynlik ook Regina se skuld. Sy het seker die stoorkamer se sleutel in die deur gelos toe sy iets daar gaan uithaal het. En glo my, dis nie die eerste keer nie. Herman en ek moes al ’n paar keer oor haar nalatigheid praat.”

“Gaan jy regkom sonder hulp as jy haar laat gaan?” Ek kyk in die rigting van die voordeur. Die geraas uit die huis is oorverdowend.

“Hier is baie mense wat werk soek. Ek sal môre al weer iemand hê. Ek nooi jou volgende keer in. Nou gaan dit nie mooi lyk daar binne nie.” Toe sy in die rigting van die hekkie mik, bied ek aan om dit toe te maak.

“Dan sê ek totsiens en nogmaals dankie.” Malie draai om, tel die petrolbottel in die verbygaan op en stap doelgerig in die rigting van die sifdeur.

Ek kyk haar agterna. Dit kan nie maklik wees om ’n seuntjie met soveel opgekropte woede groot te maak nie.

Die Du Toits se huis en werf lyk erg verwaarloos. Die hele voorstoepie is toegemaak met sif. Bokant die treetjies is die sif in die deurraam plek-plek los. Ek kan die gate uit die straat sien. Dis seker losgeskop. Ek sukkel om die hekkie se draadlus behoorlik oor die stutpaal te kry. Dis ’n ou huis. Die peperboom waaronder die kinders in die voortuin gespeel het, het nog een skewe tak wat tekens van lewe toon. ’n Swerm bye moes lank gelede nes gemaak het in die hol stam. Die bye is verdryf, maar stukke van die nes het agtergebly. Van die dooie takke sleep patrone op die grond uit soos dit willoos wieg in die luggie. ’n Tweede peperboom is sigbaar agter op die grens van die erf, feitlik teen die ogiesdraad tussen die Du Toits en ons. Dis die boom waaronder die sementbankie aan ons kant van die draad staan. Dié boom toon meer tekens van lewe. ’n Paar flentergetrapte aalwyne oorleef agter die draad langs die voorhekkie. Voor die Du Toits se sifdeur is sementblokke windskeef op die grond neergesit vir ’n soort buitestoepie. Nog ’n paar van dieselfde blokke lê op die grond in die rigting van die tuinhekkie. Die oorblyfsels van ’n tuinpaadjie vermoed ek. Die ogiesdraadheining tussen die erf en die straat hang pap tussen skeefgetrekte ysterpaaltjies.

Toe ek die hekkie toe het, hoor ek Malie se skerp stem bo die geraas van die kinders in die huis. Ek maak my haastig uit die voete.

Sarel se bakkie staan voor sy hek en hy en Wagter is buite op die sypaadjie toe ek by die huis aankom. Die hond hardloop my tegemoet, spring uitbundig teen my op en land met sy twee groot voorpote reg voor my bors. Ek steier onder sy gewig, maar herwin gelukkig my balans en stoot die massiewe gedierte weg. Hy sak stadig af en laat twee rooi strepe op my wit bloes agter. Reg voor my bors.

“Wagter, gedra jou!” skree Sarel. Hy kom haastig nader. “Jammer, nooientjie, hy is onopvoedbaar. Een van die nalatenskappe van my eks. Ek mag nooit aan die hond gevat het nie, hy was baas op die erf, top dog naas haar, van dag een af. En nou is dit te laat. Ek kry niks met hom reg nie.”

“Toemaar, ek sal oorleef. Gelukkig was dit net ’n blye weersiens.”

“Kyk hoe bemors is jou klere nou.” Die buurman se oë is vasgenael op my boesem. Hy stap tot voor my en lig ’n hand in die rigting van die rooi spore. Met sy ander hand trek hy aan sy broek se naat en sy knieë knak terselfdertyd. “Kom laat ek jou bietjie afstof.” Ek retireer so vinnig dat ek amper weer my balans verloor soos ek oor my eie voete struikel. Die ogiesdraad stuit my val.

“Nee, toemaar, dankie, ek sal ’n skoon bloes gaan aantrek,” sê ek benoud. Ek maak die hekkie oop, gee een tree tot anderkant die draad en trek die hekkie blitsvinnig in dieselfde beweging agter my toe. “Totsiens,” sê ek oor my skouer. Toe draai ek om en gee ’n paar lang spronge tot op die stoep.

* * *

Dae later stap ek tot by die laning kameeldoringbome skuins oorkant die spookhuis op die grens van die myndorp. Die wind stoot die lomp takke lusteloos heen en weer. ’n Swerm bosduiwe vlieg verskrik uit die boomtoppe op toe ’n paar kinders lawaaierig agter die bome verby hardloop in die rigting van die veld. Dis nog skoolvakansie. Ek kry my sit op ’n stomp. Die voëls sirkel hoog bo die bome vir ’n paar minute voor die massa fladderende vlerke weer koers kry terug na die toppe.

’n Rooi stof het vroeg die oggend al opgestyg uit die aarde en hang oor alles. Die natuur is in pas met my effense swaarmoedigheid.

Van Gideon se seerkry in sy kindweestyd het ek in die afgelope week eers gehoor. Hy wou dit vir my wegsteek, my nooit vertel nie, het hy gebieg. Dís wat my ontstel. Ons ken mekaar glad nie. Ons loop al twee met geheime rond.

Dit was laat in die nanag toe hy skielik uit die bed spring en op sy knieë op die vloer neersak. “Maak hom dood!” het hy twee keer geskree en toe was daar ’n minuut of twee stilte. Hy was wawyd wakker uit sy droom toe hy saggies in die bed terugklim, oor my buk en in die helder maanlig sien my oë is oop.

Hy trek die gordyne elke aand oop voor hy gaan slaap. “Bang vir die donker,” het hy die eerste aand in die hotel in die Kaap gesê en toe effens senuagtig gelag. Bietjie vreemd, het dit vir my gevoel, maar ek het nie kapsie gemaak nie.

“Ek is jammer dat ek jou wakker gemaak het,” het hy hees uitgekry, “ek het ’n slegte droom gehad.”

“Wie moet doodgemaak word?” het ek gevra.

“My pa.”

Ek kon Gideon net-net hoor. Skok of angs, ek weet self nie wat nie, het my laat opstaan. Ek was vasgekeer.

“Dis tyd vir koffie,” het ek gesê. Hy het ná ’n paar minute by my in die kombuis aangesluit en toe ons weerskante van ons nuwe tafel sit, het hy my vertel.

“Ek het die houe getel wanneer my pa my ma geslaan het.” Gideon se stem was sag, skor.

My skouers het agteroor geruk. “Jy, jy …” My woorde wou nie in gelid kom nie.

“Ja, jy hoor reg,” het Gideon gesê. “My pa het my ma geslaan.” Gideon het voor hom op die tafel gekyk. Ná ’n paar tellings het hy opgekyk, my in die oë gekyk. “En Francois Malherbe het stadig, rus-rus geslaan. Een … twee …” het hy hardop en afgemete getel. “So vyf of ses houe gewoonlik, maar soms moes ek verby tien tel.” Hy het weer ’n paar oomblikke stilgebly. “Ek wou jou hierdie dinge nooit vertel het nie, Isabella, maar die nagmerrie het nou my geheim verklap. Dié droom het ek jare laas gehad, maar miskien is dit goed dat jy weet. Vir jou eie beskerming.”

Ek het nie verstaan nie, ook nie gevra nie.

Hy het peinsend na sy hande op die tafelblad gekyk, sy vingers het om die beurt die groefies van die grein van die hout gevolg. Stadig heen en weer.

“Een spesifieke pak slae onthou ek baie goed. Ek was ses jaar oud en moes ’n paar weke later skool toe gaan. Dit was ’n versoek van my ma wat my pa dié aand net ná huisgodsdiens woedend die skemernag ingestuur het. Ons, my ma en ek, het albei geweet wat sou volg toe my pa heelwat later die agterdeur hardhandig toeklap. Francois Malherbe was lank buite. Sy toorn het onder die volmaan in die sterrehemel kans gekry om te groei, om handuit te ruk.” Gideon het ingedagte sy lepel opgetel en sy koffie ’n tweede keer om en om geroer.

“Ek het my altyd probeer onsigbaar maak onder ’n kombers wanneer ek geluister het hoe my ma afgeransel word, selfs al was dit in die middel van die somer en al het die dag se hitte nog doodstil in ons ou huis gelê. Dan het ek swetend saam met haar geworstel. Wanneer die eerste hou geval het, het ek die kombers hoog opgepluk oor my neus, oor my oë, maar my ore moes ek oophou. Ek wou nie regtig hoor nie, maar dit was of ek my ma nie alleen aan haar lot kon oorlaat nie. Daarom het ek geluister en my mond partykeer so hard met my vuiste toegedruk dat my tande my lippe aan die binnekant stukkend gesny het. Ek kon die bloed proe.” Gideon het opgestaan en voor die kombuisvenster gaan staan. Die dag het begin breek.

“Dié aand toe die houe weer aanhou en aanhou val, was dit die eerste keer wat ek gebid het dat die Heer my pa moes doodmaak. Toe die houe net daarna ophou, was ek oortuig my gebed is verhoor. Ek het die kombers van my gesig afgetrek en gewag dat my ma my moes kom sê my pa was dood.” Gideon het diep gesug. “Maar helaas, hy was nie dood nie, hy het gesnork nog voor my ma in my kamerdeur verskyn het. Ek het geweet sy sou kom. Sy het altyd ná haar pak slae kom kyk of ek nie wakker geword het nie. Net ’n klein rukkie later het ek haar gehoor. Die vloerplanke in die gang het liggies gekraak toe sy op haar pantoffels nader skuifel. Ek kon in die maanlig deur my oopgetrekte gordyne sien sy loop mank, met een hand agter haar rug. Toe sy naby my bed was, het ek my oë toegemaak, gemaak of ek slaap, want ek het skuldig gevoel. Ek moes haar gaan help het. Sy het tot teen my bed gekom. Ek het die seep aan haar lyf geruik toe sy oor my buk. Ná ’n minuut of twee het sy omgedraai en ek kon haar hoor wegstap. Toe het ek weer my oë oopgemaak. Sy het teen die kosyn van die kamerdeur geleun en effens gesteun. Haar blonde krulhare het spierwit in die maanlig geskyn. Soos ’n wit krans om haar kop, het dit vir my gelyk. Ek het geweet haar oë sou vol trane wees.”

Gideon het opgekyk, ’n oomblik geaarsel en opgestaan. Toe het hy voor my kom staan, my uit my stoel opgetrek en teen hom vasgedruk. “Blonde krulhare en blou oë. Nou weet jy waarmee jy my uitgeboul het daardie eerste middag langs die Eersterivier.”

Ek het nie geweet wat om te sê nie.

“Ek wou altyd met my ma trou toe ek klein was,” het hy voortgegaan. “Toe kry ek dit reg.” Hy het my ’n oomblik nog stywer vasgehou. “Net ’n grappie,” het hy gesug toe hy my laat los.

Ons het weer weerskante van die tafel gaan sit.

Ek het eerste gepraat. “Hoekom is jy bang vir die donker?”

“Ek kan dit nie verduidelik nie. As dit stikdonker om my is, word ek benoud, angstig. Ek kan nie asemhaal nie. Ons ou plaashuis se houtvloere het baie gekraak, veral snags wanneer dit begin afkoel het. My verbeelding het gewoonlik op loop gesit. Veral met donkermaan. En dan het die donker se spook, die Nagman het ek hom genoem, my uit die bed gedryf tot op die matjie voor my ma se bed. Baie nagte. Die Nagman het my ’n hele paar middernagtelike vuishoue van my pa op die lyf gehaal voordat my ma my gordyne saans oopgetrek het. Dit het gehelp. Maar ek hou nog steeds nie van die donker nie. Ek moet ten minste my hande kan sien.”

“En onder in die myn?”

“Die Nagman sal nie daar oorleef nie. Dis nie stikdonker daar onder in die myn soos met donkermaan op die plaas nie, ons het ons ligte altyd byderhand.” Gideon het geglimlag en sy stoel agteruit geskuif om op te staan.

Ek was nog nie klaar nie. “Wat was jou Ma se versoek daardie aand? Vertel my die hele storie.” Ek het ’n tweede koppie koffie vir ons ingeskink.

“Dinge het aan die etenstafel al skeefgeloop dié aand,” het Gideon ná ’n sluk warm koffie begin. “My ma het voorgestel dat hulle dit oorweeg om ’n kind aan te neem, ’n maatjie vir my, het sy gevra. ‘’n Optelkind? Is dít wat jy wil hê?’ het my pa oor die tafel gesis. Hy was onmiddellik woedend. Onredelik woedend. My ma se ken was dadelik op haar bors. Soos altyd wanneer sy geweet het sy het ’n fout gemaak. Amper asof sy ineengekrimp het voor die res van die tirade wat sy geweet het uit haar man se mond sou volg.” Gideon het rondgeskuif op sy stoel. “Ek onthou my pa se woede feitlik woordeliks en dis waar my nagmerrie altyd begin. By daardie aand aan ons etenstafel.” Hy het weer ’n sluk koffie geneem en toe die koppie eenkant toe geskuif, sy hande voor hom op die tafel gevou.

“ ‘Het jy nou heeltemal mal geword?’ het my pa gesis nadat hy eers my ma en toe vir my ’n paar oomblikke aangegluur het. ‘Watse onheiligheid wil jy in ons lewe insleep?’ Toe het my pa stilgebly, maar ek het geweet hy was nog lank nie klaar nie. Ek het gesidder voor sy vurige oë en groot lyf wat so oor die tafel oor my en my ma getroon het.” Gideon het sy oë gevryf, weer en weer hard gevryf.

Hy wou sy trane wegsteek, het ek geweet. Ek het die koppies in die wasbak gaan sit en die kraan oopgedraai om water te tap. Toe ek omdraai, het hy na my stoel beduie. Ek het weer gaan sit.

“Ek wonder of hy nog elke aand ná ete met sy breë skouers styf en regop agter die oop Bybel voor hom op die tafel stelling inneem soos daardie tyd,” het Gideon afgetrokke begin. “Ek wonder of hy nog ’n krippie vir die Woord van die Heer maak met sy voorarms teen die kante van die Bybel en die vingers van sy twee hande wat aan die bokant van die bladsye aan mekaar raak. Duim teen duim, pinkie teen pinkie. Middelvingers wat ritmies teen mekaar tik soos hy afgemete die waarskuwings, die oordeel van die Vader teen sondaars vir ons voorgelees het. My oë was deurentyd vasgenael op sy vingers wat met mekaar speel daar waar die fyn goue beslag om die boek se bladsye soms in die lig geflits het. My grootste vrees, my pa se hande, sy vuiste.”

Gideon het sy hande bymekaar gebring, duim teen duim, pinkie teen pinkie. Sy middelvingers het vinnig en ongeduldig, hard teen mekaar getrommel. “Hy het vir ons voorgelees in sy ouderlingstem, sy voorsitterstem. Vernaam. Lang stukke, die woorde afgemete deur getuite lippe. Soms het die vaak my oorval en kon ek my oë nie oophou nie. Dan is ek teen my kop wakker geklits deur my pa. Middelvinger teen duim. Soos wanneer mens ’n lastige insek van jou vel afskiet.” Daar was weer ’n rukkie stilte en Gideon het met sy vingers teen sy slape gevryf. Ek het steeds nie ’n enkele woord gesê nie, net stil gesit en luister.

“My pa het daardie aand, ná ’n paar ongemaklike oomblikke van stilte na my ma se versoek, halforent uit sy stoel gekom, maar weer stadig teruggesak en sy asem diep ingetrek, sy borskas ferm uitgestoot. Toe het hy ontplof in ’n diep, driftige sug en het hy met sy regtervuis op die tafel gestamp. Ek onthou die Bybel het effens gewip. ‘Nooit, sê ek jou, nooit sal ek dit toelaat nie.’ Francois Malherbe het sy kop ’n oomblik dramaties op sy bors laat sak. Toe het hy sy nek weer regop getrek en met flitsende oë na Ma gekyk. ‘Skandebloed, anderman se weggooikind, dis wat jy vra ek in my huis moet inbring. Moet my nooit weer hiermee versondig nie!’ Hy het die Psalmboek opgetel, dit oopgemaak, maar dadelik weer toegeklap en langs die Bybel neergesit en opgestaan. Ek sien nog hoe hy buk en met sy vuiste weerskante van die boeke op die tafelblad druk.

“Toe my pa weer praat, het hy gefluister. ‘Ek en jy het darem deur die genade van Bo ’n soort van erfgenaam vir die familiegrond in die wêreld gebring,’ het hy gesê en met sy oë en sy kop in my rigting beduie. Hy het gesê ek het darem nog ’n kans om ’n man te word as my ma my vir hom sou los om te brei vir die harde bestaan van die plaas. Hy het sy vuiste teen mekaar gedruk, haar beskuldig dat sy my oppiep. Toe het hy haar aangesê om vir my ’n pop te loop koop in die dorp en vir my ’n rok aan te trek. Ek hoor nog sy stem toe hy smalend klaarmaak: ‘Kamstig bang vir ’n Nagman. Net sissies is bang vir die donker.’ My pa het daarna sy stoel agteruit gestamp en gangaf kombuis se kant toe geloop. Die sifdeur het met ’n knal agter hom toegeklap. Ons kon hoor hoe hy sy pyp teen sy stewel op die agterstoep uitkap. Daarna het hy in die nag verdwyn.”

Gideon het my in die oë gekyk. “Dis my storie, Isabella.” Hy het opgestaan en tot in die gang gestap, weer omgedraai. “Die oggend ná haar pak slae het my pa my ma aan ontbyttafel aangesê om saans in die spaarkamer te gaan slaap. Hy het oor sy bord na my ma se kant toe geleun en gesê sy kan die besluit self aan die bediendes verduidelik. ‘Sê vir hulle ek snork te veel of dink ’n ander verskoning uit.’

“My ma het haar kop geskud, hom nie geantwoord nie. Haar weiering het my pa nog kwater gemaak. ‘Truida, luister vir my. Maak soos ek sê, glo my, ek wil jou nie meer in my bed hê nie,’ het hy gesis. Hy het verder oorgeleun tot hy haar in die oë kon kyk. ‘Jy doen dit net nie meer vir my nie,’ het hy tussen sy tande deur gefluister.

“Ek het nie verstaan nie, nie gevra nie, maar sy woorde het in my kop bly steek. Tot ek groot genoeg was om te verstaan. Wat ek nooit verstaan het nie, is dat sy nie uit sy bed padgegee het toe sy die kans gehad het nie.” Gideon het weer op sy stoel gaan sit, sy kop in sy hande vasgehou.

Ek moes iets sê. “My ma en pa het maar altyd in twee kamers geslaap.” My bekentenis het afgewater geklink. “Altans, vandat ek kan onthou. Ek was oortuig dis hoe dit behoort te wees. Queenie het soms by my pa in die bed geklim om hom te troos …” My stem was weg.

Gideon en ek het mekaar woordeloos vir ’n paar tellings aangestaar.

“Jy bedoel hy en Queenie …”

“Nee, nee, ek weet nie.” Ek het gevoel hoe die bloed in my gesig opstoot.

“En jy?” Gideon het onthuts na my gekyk. “Moes jy hom ook troos?”

Ek het my kop wild geskud. “Nee, dit sou Queenie nooit toelaat nie,” het ek stotterend uitgekry.

Gideon het sy kop stadig laat sak, niks gesê nie. Ek moes hom oortuig, het ek gevoel. “Ek weet in elk geval nie hoe sy hom getroos het nie. Sy het die deur agter haar gesluit as sy binne was.” Ek dink dit was verwarring wat ek in my man se oë gesien het, maar dit kon ook afsku wees.

“Is dit ongemaklik vir jou om by my in die bed te slaap?”

Ek het op my stoel rondgeskuif. “Nee, nee, natuurlik nie.”

“Ek is my pa se ewebeeld, weet jy?” Gideon het die gesprek in ’n ander rigting gestuur. “Ligbruin hare, ligbruin oë, ons is ewe lank en elke keer as ek in die spieël kyk, bid ek dat ek nie ook van binne soos hy sal word nie, dat dit net by die uiterlike sal bly.” Hy het met sy vuiste teen sy oë gedruk. “Weet jy wat was my pa se aanhoudende vermaning aan my? ‘Eer jou vader en jou moeder.’ En ek het probeer. As eer en stilbly dieselfde is, dan het ek dit reggekry. Vir my ma se onthalwe. Dis met boekevat dat ek hom die meeste gehaat het. Ek het vanoggend in my droom weer my pa se stem gehoor: ‘Grote God, almagtige Vader, ons kniel hier voor U in need’rige aanbidding …’ ”

Gideon het diep gesug. “Dreunsang. Pleitstem. Skynheilige vark. Francois Malherbe, my pa.” Toe het hy haastig opgestaan en kamer toe gestap. Minute later was hy in sy drafklere weer in die kombuis. “Sien jou later,” het hy gesê. Hy het my op my voorkop gesoen en in die donker by die kombuisdeur uitgedraf.

Daardie hele dag het my kop bly maal om die man wat dae gelede my skoonpa geword het. Die man wat ek nog nooit gesien het nie, met wie ek nog nie ’n woord gepraat het nie. Toe ons teen skemeraand op ons voorstoep sit, het ek gevra waarom Gideon se pa nie na ons troue toe gekom het nie.

“Ek het plaas toe gery en my pa gaan nooi, dit weet jy.” Hy het vir my gekyk.

“Ja,” het ek gesê, “en jy het my gesê dat hy nie kom nie, maar jy het nie ’n rede gegee nie.”

“My pa het net duskant ’n beroerte gaan draai toe ek hom sê dat ek nie plaas toe kom nie. En toe ek byvoeg dat ek trouplanne het, het die wal gebreek. Sy gesig was rooi van woede en sy hande het onbedaarlik begin bewe. As ek kleiner was, sou sy vuiste die praatwerk daar en dan gedoen het. My pa, die driemalige bruidegom, het daarna in onheilige ontkenning teruggedeins toe ek hom na ons troue nooi. Jy moet onthou my ma is dood toe ek sestien was, net meer as ses jaar gelede, en intussen was my pa al weer bruidegom en weer wewenaar.

“Sy tweede vrou het haar motor ’n maand ná hul troue in haar drif by die plaas se indraaipad omgegooi en haar nek op die klippe langs die pad gebreek toe sy by die deur uitgeval het. Die plaaswerkers het ’n argument tussen my pa en sy vrou in die motorhuis aangehoor kort voordat sy in ’n stofwolk op die werf weggetrek het. Dit het Grieta, my ma se huishulp van al die jare, my vertel. En daarna het my pa al weer tyd gehad om nommer drie nader te hark. Ek beskou hom as ’n veteraan as dit by huwelike kom.”

Gideon het sy asem stadig uitgeblaas, diep ingetrek en in ’n vername stem gesê: “ ‘En wie is die meisiekind wat jou gevang het?’ wou my pa weet.” Hy het ’n oomblik gewag en weer in sy eie stem aangegaan. “Ek vertel hom toe jou naam is Isabella Dickson en jou pa is Haroldt, jou ma is Emily en jou suster heet Queenie en dat julle in die Kaap bly. Toe word ek bietjie aspris en ek sê hom jou pa is ’n Britse immigrant. Ek kon die versoeking nie weerstaan nie, want my pa baklei nog die Anglo-Boereoorlog ná al die jare.” Gideon het stilletjies gelag.

“Dan het jy moeilikheid gesoek.”

“Laat ek jou sê, dit het die sout behoorlik ingevryf. My pa het ontplof. Hy het onmiddellik op sy preekstoel geklim. ‘Die Heer was vir ons goed toe hy jou oorle moeder so vroeg van ons weggeneem het,’ het hy getier. ‘Sy is hierdie hoogverraad gespaar.’ ”

Gideon het sy stoel tot teen myne getrek, my hand gevat en dit teen sy lippe gedruk. Ons het saam ’n paar minute lank die vertes ingetuur. Toe het hy sag verder gepraat. “Hy kan my nou wel nie meer met sy vuiste bykom nie, maar my stoel het my daardie dag, soos in my kleintyd, begin brand daar by die eetkamertafel. Ek het jou nie saamgevat nie, want ek het ’n uitbarsting verwag. Maar die tirade het met veel erger drif as waarop ek voorbereid was, gekom. Jy kan hom later eendag ontmoet as dit moet.”

“En sy vrou? Waar was sy?”

“Ek wou nie eintlik die aand bederf met my pa se dinge nie,” het Gideon gesê.

“Nee, vertel my, dan is dit nie net ek wat in sak en as in ’n hoekie moet gaan sit as dit by my familie kom nie,” het ek geantwoord.

“Stiefma nommer twee was waarskynlik weer iewers in Europa. Sy was nie op die plaas nie. Die lady is maar altyd iewers in die wêreld besig om die volgende rasegte volbloedhings vir haar perdetelery daar op die plaas met my pa se geld aan te skaf. Dis al wat hulle deel, dink ek, my pa se beursie. Sy het haar eie vleuel in die nuut opgeknapte plaashuis betrek nadat sy haar sin met die aanbouings gekry het.” Gideon het ’n paar oomblikke stilgebly. “Kom ons los my pa en sy trofee op die plaas. Ek praat nie graag oor hulle nie.”

Ons het in stilte langs mekaar op die stoep gesit en kyk na die sonsondergang totdat dit nag geword het. Dié aand het ons al twee lank in somber stilte wakker gelê.

Die wind wat intussen sterker geword het, waai die rooi stof in bollings in die straat af.

* * *

“Môre, kleinnooi Bella.” Dis Rachel wat ’n paar weke later die agterdeur oopstoot ná ’n ligte kloppie.

“Môre, Rachel.” Ek staan effens verbaas op van die kombuistafel, nog nie gewoond aan ’n aanloop by die deure nie. By die Dicksons se huis het besoekers selde opgedaag en beslis nie sonder afspraak nie. Ek wil die oggend gebruik om besluite te neem oor studierigtings. Gideon is minute gelede weg myn toe. Voor my op die tafel lê dokumente wat ek van Unisa bestel het.

“Ek soek ’n vywertjie, kleinnooi. Ek soek ’n paar oop skouertjies as kleinnooi te spaar het, seblief.”

“Daar is ’n hele paar in die voorste kamer se kas. Jy kan dit maar gaan uithaal. Die vorige mense het dit hier gelos.”

“Ek bring dit môre weer terug, kleinnooi,” sê Rachel toe sy weer in die kombuis is. “Oubaas Giepie het gevra ek moet die ounooi se rokke bietjie lug. Ek moet die huis ook bietjie ytturn, het die oubaas gevra, maar bowenal moet ek die ounooi se rokkies uithang sodat die ergste motgifruike bietjie lug kan kry. Maar die ounooi se goete hang tot drie dik oor die skouertjies. Dit sal g’n niks help om so ’n pakkasie in die wind te hang nie. Net die buitenste lap sal lug. Dis elke keer ’n halfdag se gesukkel om die rokke een-een op die draad uit te hang. Hierdie paar ekstra skouertjies sal baie help,” verduidelik Rachel langdradig.

Ek staan eers stil vir die vrou voor my en kyk. “Maar oom Giepie se vrou is dan dood, Rachel.”

“Is so, kleinnooi, maar die oubaas se begerentheid is nog nie heeltemal opgeklaar en afgesterwe nie.”

“Nou verstaan ek glad nie. Hoe bedoel jy?”

“Hy reken hy kan dalk nog ’n nuwe vroutjie op die lyf loop en dan is ounooi Sankie se goedjies nog alles daar vir die nuwe vrou om mee aan te gaan. Die oubaas reken dit sal ’n groot skade wees om sulke dienlike klere weg te maak.” Rachel glimlag breed. “En die ounooi had mooi goedjies, maar sy was baie dun, die oubaas sal moet soek vir die regte lyf om daarin te pas. Die oubaas en die ounooi was baie erg oor mekaar,” sê Rachel. “Maar mens bly mos maar mens en mansmense kan mos nie alleen nie. Die oubaas soek ’n sorg. Dis maar altyd sleg as die seëning van ’n nageslag nie oor ’n huis neergedaal het nie.” Rachel staan diep ingedagte voor my.

“Ja, Rachel, dit is seker maar so. Ek wil die hangers nie weer hê nie, ek het nie nut daarvoor nie.”

“Dankie, kleinnooi, dan los ek sommer die ounooi se rokke daarop wanneer ek dit terughang.”

Sowat ’n uur later steek Bes haar kop by die voordeur in. In haar hand is ’n bord vol kolwyntjies. “Vir jul koffie vanmiddag.”

“Dankie, dis nou ’n lekker bederf. Dit gaan heerlik wees.”

“Ek sien Rachel is hier langsaan by oom Giepie besig. Ant Sankie se klere hang die drade vol. Sy het jou seker gesê dat sy die klere elke nou en dan moet lug, want die ou glo die volgende vrou wag dalk net om die draai. So jammer jy het nie vir ant Sankie geken nie.” Bes wys in die rigting van die huis langsaan, na daar waar die wewenaar bly. “Sy was glad nie oud toe sy dood is nie, hoor. Beroerte gehad toe sy maar so in die tweede helfte van vyftig was, maar toe kry sy ’n tweede toeval ’n jaar ná die eerste een. Dit was die einde.”

“Ek weet van die rokke wat moet lug, want Rachel het kom hangers vra. Hoe lank gelede is die buurman se vrou dood?”

“Seker nou so twee jaar. Oom Giepie tree oor ’n klompie maande af wanneer hy drie en sestig word. Dis aftreeouderdom hier by die myn. Hy praat van op die dorp gaan bly. Seker by sy ongetroude suster. Sy is ook al in die jare, maar sy het hul ouers se huis daar geërf en ek dink sy sal bly wees vir geselskap hier op haar oudag.”

“Hy lyk baie ouer,” antwoord ek. “Ek en hy het nog net by die hekkie vir mekaar gewaai toe ons albei ons melk gaan inhaal het.”

“Die elemente werk mens se gal hier, Bella. Dis ’n harde wêreld. Vir ons almal. Al die stof, die son en die genadelose ryp in die winter maak ons almal oud voor ons tyd.” Bes sug. “Ek het jou eintlik net kom sê die myn stuur Vrydag weer die bus Kimberley toe vir shopping as jy lus voel om saam te gaan. Ons vroue word op die einde van elke maand so getreat. Besluit maar, dis darem nog ’n paar dae.”

“Dankie, ek sal kom sê. Ek gaan gou die kolwyntjies in ’n koekhouer pak, dan kan jy sommer jou bord kry.”

Bes stap agter my aan kombuis toe.

“Wat op aarde gaan hier aan?” vra sy toe sy na die dokumente wat ek vroeër op die tafel uitgepak het, kyk.

“Ek het nog ’n leergogga. Nou kyk ek die kursusse deur.”

“Good luck. Die aand nadat ek my lampie by Florence Nightingale se vlammetjie op die verhoog van Bellville se stadsaal aangesteek en die gelofte afgelê het, het Dewald my by die saal se deur ingewag. ‘Ek gee jou ’n jaar vir die kraamkursus wat jy so graag wil doen,’ het hy gesê, ‘dan trou ons.’ Hy het my nooit gevra nie,” grinnik Bes toe sy omdraai om huis toe te gaan. “En ná die kinders was daar nooit weer sprake van werk nie. Om van leer nie eens te praat nie.”

Ek stap saam buite toe. Van voor uit die straat sien ons vir Rachel onder Giepie Hanekom se wasgoeddraad langs die huis waar sy met die tuinslang die rokke natspuit.

“Wat maak sy?” vra ek verbaas.

“Dis hoe dit elke keer gedoen word, die crimplenerokke word nou gestort en dan moet die windjie die lap droogwaai voor die klere geduldig vir ’n nuwe bruid in ant Sankie se kas gaan wag.” Bes trek haar skouers op, skud haar kop. “Die helfte is jou nog nie vertel nie.”

Isabella

Подняться наверх