Читать книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine - Страница 5

2

Оглавление

’n Maatjie vir ’n praatjie?

Zoë het al baiekeer in haar lewe gewens dat tyd kon stilstaan. ’n Paar keer as jong meisie kort voor die lente wanneer sy en haar ouma fanaties besig was om vir hulle nuwe rokke te maak met die ou Singer-naaimasjien. Ouma San het haar altyd toegelaat om self te stik en dit was vir Zoë ’n groot eer, want sy weet hoe heilig haar ouma oor haar naaimasjien was. As sy nou daaraan dink, was die kere wat sy en Boom in die parkie naby die huis gaan sit het ook van daai stilstaanoomblikke. Boom was mal oor die park en het gewoonlik so vinnig oor die gras gehardloop soos wat sy kort beentjies hom kon dra. Dit was nogal snaaks. Boom was gelukkig en sy … content. Toe het sy nog nie geworry oor haar werk en haar lewe nie.

Vanaand voel dit asof Zoë uiteindelik vir Vader Tyd met ’n paar swaar ysterboeie aan die enkels gevang het. Trust haar om dit reg te kry net wanneer sy juis nié wil hê tyd moet stilstaan nie. Minute voel soos ure terwyl sy na die dik rooi syfers van die digitale wekker op die bedkassie staar. En elkeen van hierdie minute is gevul met gedagtes oor ene Donatello. Hoe lyk hy? Veral as hy glimlag. Hoe soen hy? Belangriker nog, waarom hou hy haar uit die slaap?

Vroegoggend is sy moeg van wakker lê en stap na die enigste badkamer in hul tweeslaapkamer-huisie om water te drink. Dit is nou eers 03:30.

Sou Jan-Hendrik dan al terug wees? Die rooi onderbroek hang aan sy kamerdeur se handvatsel. Dit is hul manier van kommunikeer: hy het ’n gas vanaand en sy moet uit die kamer bly. Sy’t hom nie eens hoor inkom nie! Sal sy ooit die dag vergeet toe sy op Jan-Hendrik en haar huisdokter ingeloop het?! Dáárdie image is iets wat sy eerder volkome wil vergeet, maar dit verklaar goed hoekom sy eensklaps ’n blywende vrees vir operasiemaskers ontwikkel het.

Sy draai die kraan in die badkamer oop en spat yskoue water oor haar gesig. Komaan, Zoë! Jy ken hom skaars! Dit is hoeka nie die eerste keer dat sy met ’n man oor die internet chat nie. Vir wat het hierdie een so ’n houvas op haar? Dit is maar net die hele “alleen op Kersfees”-ding. Donatello het bloot ’n gaping gevul op ’n bitter eensame aand. Hierdie ou is too good to be true en dit behoort haar met gevaarligte te oortuig dat hy waarskynlik getroud is of as ’n psycho gaan uitdraai. Sy ken mos haar geluk met manne. Sy weier dat dié ou hierdie toorkrag oor haar het! Sy gaan haarself nou dwing om terug te klim in die bed en die slaap te kry wat sy nooit deur die res van die jaar kan inhaal nie.

Zoë stap ingedagte terug in die rigting van haar kamer. Sy skrik haar simpel toe ’n hengse slag vanuit Jan-Hendrik se kamer kom. Dit klink behoorlik asof iemand van die bed afgeval het! Twee stemme giggel. O heiland. Zoë wikkel self nou maar gou weer na haar kamer toe en druk die deur sag agter haar toe.

Sy plak haarself vies op die rekenaarstoel neer en wiel van die een kant van die vertrek na die ander. Kyk, die feit dat Jan-Hendrik se sekslewe so floreer laat haar nou nie juis veel beter voel oor haar eie situasie nie. Vir ’n groot aanhanger van Karma verstaan sy net nie hoekom sy op sewe en twintig nog deur die lewe soos ’n verlore herfsblaar in die middel van die somer moet waai nie. Sy staar na haar bed, die bed waarin sy nou weer alleen moet gaan klim, en draai haar weer vies na die rekenaar toe. Miskien is Donatello ook wakker. Miskien kan hy ook nie slaap nie. Het hy dalk dieselfde gevoel as sy? Voel hy ook sy is anders?

Haar vingers voel lomp en sy moet behoorlik drie keer die webwerf intik voordat Internet Explorer dit laai. Tot haar verbasing is daar hierdie tyd van die oggend ’n hele vier en twintig swerwende siele in die chat room. Die name is alfabeties en almal is mans. Dit is nou haar luck. Sy kliek met die muis in die scroll bar en beweeg deur die lys van name af. Sy kan nie glo met watter name sommige van die mans opkom nie. Dié een maak byvoorbeeld geen geheim van sy inches nie. Dan sien sy Donatello op die lysie. Hy’s hier! Hy is wraggies hier. Wat is die kans daarvan? Zoë mik om sy naam te dubbelkliek, maar word oorval met venstertjies wat een vir een teen die skerm oopskiet. Deksels! Sy was bang hiervoor. Omdat sy die enigste vrou is, wil die klomp simpel mans nou almal net met haar gesels. Dit vat haar ’n goeie twee minute om al die boodskappe toe te maak en om uiteindelik weer by Donatello se naam uit te kom. Sy dubbelkliek.

Volksie: Nou toe. Stalk jy my?

Donatello: Nee. O, ek sien jou nou eers. Ek het gou kom kyk of ek ’n boodskap het.

Volksie: Jy’s ’n terrible liar.

Donatello: Ek weet. :-)

Volksie: SMG!

Donatello: SMG?

Volksie: Skeur my g*t. Afrikaanse version van LOL.

Donatello: Hm, ek sien.

Volksie: O ja, Merry Christmas, BTW (by the way).

Donatello: Dieselfde vir jou, Volksie! :-)

Volksie: Kan jy ook nie slaap nie?

Donatello: Nee, ek bly rondrol. Baie goed waaraan ek dink.

Volksie: Dink jy darem aan my? :-P

Donatello: Miskien.

Volksie: Wel, ek het nou nie so ’n grand impression gemaak met my dooie hond en als nie, so ek verstaan heeltemal as jy dink ek’s weird.

Donatello: Ek dink nie jy is nie. Jy’s werklikwaar komies.

Volksie: Luister, jy. Ek vang nie hoë Afrikaans in die daglig nie, hoe dink jy gaan ek cope met jou 3:45 in die oggend? LMAO.

Dontello: LMAO?

Volksie: Laughing my arse off. Afrikaans is LMGA. Jy chat nie baie nie, nè?

Donatello: Nee, nie regtig nie. Ek’s te besig by die werk.

Volksie: Let me guess. Met sulke suiwer Afrikaans is jy seker in ’n ghrênt posisie. Wag, laat ek raai!

Donatello: Ek wag in spanning.

Volksie: ’n Dokter? ;-)

Donatello: Nee. Probeer weer.

Volksie: ’n Nuusleser. Jip. Jy lees nuus. Nee, wag … nou dink ek jy lyk soos Riaan Cruywagen en dis nie kosher nie. : O

Donatello: Ha-ha. Laaste kans.

Volksie: ’n Gynie! Ek wéét jy’s ’n gynie! Myne praat nes jy!

Donatello: Ek’s nie ’n ginekoloog nie, nee. ;-)

Volksie: Crap! Het so gehoop jy’s een, want myne is so pathetic. Jy sal nie raai wat hy nou die dag vir my sê nie. Dit daar oop en bloot wanneer ’n mens nou professionalism sou verwag!

Donatello: Volksie, ek dink nie ek ken jou genoeg om te wil weet nie.

Volksie: True. True. Skies daaroor. Anyway, as jy ’n goeie gynie raakloop, laat weet my.

Donatello: Ek dink nie ek hoef al ooit met een te gewerk het nie, maar ek sal dit in gedagte hou.

Volksie: Sorry, man. Ek trap altyd oor die tou.

Donatello: Jy bedoel jy trap altyd oor die lyn?

Volksie: Wat’s die diffs? :-/

Donatello: “Oor die tou trap” beteken jy’s swanger.

Volksie: SMG! Sien jy nou wat gebeur as ek try ghrênt Afrikaans praat! En nee, ek’s nie preggies nie. *blush*

Dontello: Geen probleem. ;-)

Volksie: Luister jou pervert! Ek worry nie of jy ’n árk kan bou met jou 14-incher nie! Jy’s lekker grootbek, maar ek dink jy’s probably een van daai ouens wat nie eens Takalani Sesame kan kyk sonder om te erupt nie! Los my uit of ek raak met ’n snoeiskêr ontslae van daai ding wat jou pla!

Donatello: Ekskuus??

Volksie: O vrek! Sorry. Wrong window. Wag, ek cut en paste gou eers. *still blushing*

Zoë kan voel hoe sy bloos tot teen haar ruggraat af. Hoe gaan staan en verneder sy haar nie nou voor hierdie ordentlike man nie! Sy plak die boodskap in die pervert se venstertjie, druk Enter en blok hom sommer dadelik daarna.

Volksie: Jong, ek’s vrek jammer oor daai oepsie. Bleddie man dryf my aand ná aand teen die mure uit!

Donatello: Alles in die haak. Ek dink ek het die skuldige in die aanlynlysie gewaar.

Volksie: Jy’s so funny!! Wag, nou weet ek. Jy’t jouself verraai met “skuldige”. Jy’s ’n suit! ’n Lawyer of iets! *pats herself on the back*

Donatello: Ek’s ’n advokaat, maar jou raaiskote was in elk geval al op.

Volksie: Good to know. So wat’s my kanse om ’n restraining order teen “14-duim-paal” te kry?

Donatello: Nie so goed nie, want dis aanlyn.

Volksie: Ag, wat. Ek kan hom handle. Dis so cool. Jy’s die eerste lawyer met wie ek ooit chat. :-)

Donatello: Ek is ’n advokaat.

Volksie: Dis mos maar dieselfde ding, is dit nie?

Donatello: Wel …

Volksie: Toemaar. Jy kan later verduidelik. Information overload! Het jy toe enige Krismis-prezzies gekry?

Donatello: Nog nie, maar sal seker die een of ander tyd iets van my ouers in die Kaap af kry.

Volksie: Het jy boeties of sussies?

Donatello: Nee, dis net ek.

Volksie: Ditto hier! Ag, ek love Krismis. Ek’t so ’n nice scarf van daai plek met Joost se vrou se naam gekry.

Donatello: Amor Vittone?

Volksie: Ja. Ja. Daai Louis Vittone-plek of iets. Die ding is daar gekoop.

Donatello: Louis Vuitton?

Volksie: Potaaato. Potahto. Jy moet my maar verskoon. My motto is: brands are bland. Sal nooit die goed vir myself koop nie. :-(

Donatello: So wie’t dit vir jou gekoop?

Volksie: Jy’s so ’n mán, weet jy. :-P

Donatello: Ek verstaan nie. Dit was ’n doodgewone vraag.

Volksie: Ja. Whatever. O, voor ek vergeet. Ek het jou gaan wiki ná ons laaste chat.

Donatello: Ek glo nie ek is enigsins op Wikipedia nie. En jy weet dan nie wat my naam is nie.

Volksie: Donatello, man! Die artist!!

Donatello: Ek sien. En wat dink jy van hom?

Volksie: Too many historical facts if you ask me, maar hy’t cool goed gedoen. Dink natuurlik hy was so skeef soos ’n tuinslak.

Donatello: Sedert wanneer is tuinslakke “skeef”?

Volksie: Oh my stars! Kyk jy nie NatGeo nie?! Slakke het mos wedding furniture van albei kante af. Crazy if you ask me! Anyhoo, die dominant slak bespring die slapgat slak en dan moet die ander een ingee en ’n wyfie word. Sick stuff, man! : O

Donatello: Ek kan onthou ons het so iets op skool geleer noudat jy dit noem.

Volksie: Dis nog niks! Swem jy?

Donatello: Ja, hoekom?

Volksie: In die see?

Donatello: Ja, hoekom vra jy?

Volksie: In daai selfde program praat hulle oor walvisse. Trust me on this one. Jy sal nooit weer in die see klim as jy weet wat ’n wálvis daarin doen nie. : O

Donatello: Ek dink ek weet waarheen jy gaan met hierdie storie. Kan ons die onderwerp verander?

Volksie: Blykbaar maak 360 gallon dit nie eens na die wyfie toe nie! Geen benul hoeveel liter dít is nie! Eeuw!!! *faints*

Volksie: O, sorry, ek sien nou eers jy wil die topic verander.

Donatello: Waarom dink jy Donatello was skeef?

Volksie: Hallooo! Hy’t net mans gesculpture en gepaint. Nie ’n enkele vrou wat ek kon raak-wiki nie. En as jy permanently gaan kap en beitel aan male genitals, sal jy mos ook fence jump. Die man was obviously obsessed met Daniël en daai ouens.

Donatello: Dawid. Ek weet nie of ek met jou saamstem nie. In elk geval, weet jy hy was een van die eerste kunstenaars wat ’n vrystaande bronsbeeld in die Renaissance gemaak het?

Volksie: Nope. Nie geweet nie. Weet jy dat ’n rot langer sonder water kan bly as ’n kameel?

Donatello: Ek het dit nie geweet nie. Maar wat het dit met Donatello te doen?

Volksie: Boggherol, maar ek dog ons entertain mekaar met useless facts. Ha-ha. :-P

Donatello: Goed. As jy dit wil speel. Het jy geweet die meeste kunstenaars is linkshandig?

Volksie: Never! Het jy geweet vlermuise draai altyd links as hulle by ’n grot uitvlieg?

Donatello: Wie’t jou dit vertel?

Volksie: NatGeo, natuurlik! Wie’t jou vertel kunstenaars is almal links? :-P

Donatello: Jy is werklikwaar enig in jou soort.

Volksie: I hate to burst your bubble. Ek’s eintlik geclone in die late 70s. Daar’s ’n hele klomp van my daar buite. Nou die dag teen een in Woolies vasgeloop. You’ve been warned!

Donatello: Jy’t altyd ’n antwoord op alles, reg?

Volksie: You bet ya!

Donatello: Waar bly jy in elk geval?

Volksie: Ek sien jy wíl my stalk! Ha-ha. Jong, naby Roodepoort. Jy?

Donatello: Ek ook. Dis ’n verrassing.

Volksie: Wee’ jy. Nou’s hier weer ’n boggher wat wil weet of ek sy ma se trourok sal dra.

Donatello: Ekskuus?

Volksie: Hier op die kanaal, jong. Blykbaar een van die dude se fetishes. Trourokke! Hier’s soveel weirdos in die plek! Ek het nou die dag een gehad wat wou hê ek moet hom spank terwyl hy mý hoëhakskoene en pantyhose aanhet.

Donatello: Is jy ernstig?

Volksie: Ja-nee, my vriend. Dis ’n siek, siek wêreld waarin ons leef!

Donatello: Nou, blok jy die ouens of wat?

Volksie: Asof dit uit die mode gaan. Ek dink ek sal Matchmate se Blokker van die Jaar-award kry as ek so aangaan. Jy’s só lucky om ’n man te wees.

Donatello: Hoekom sê jy so?

Volksie: Want daar’s waarskynlik meer normale chicks hier rond as die perverts met wie ek moet praat.

Donatello: Daar is maar ’n paar snaakse meisies ook, hoor!

Volksie: O, exciting!! Jy moet vertel! *rubbing hands together*

Donatello: Jy sal my nie glo as ek jou vertel nie.

Volksie: Komaan! Ek’t jou vertel van die man in my pantyhose! Try me!!

Donatello: Goed dan. My eerste afspraak was skaars drie maande gelede. Haar skermnaam was Daisy90210. Ná ’n paar weke se aanlyn-gesels het ons albei besluit dis tyd om mekaar te ontmoet en te kyk hoe dinge uitwerk.

Volksie: Soos ons nou maar almal doen, ja. Go on! Go on!

Donatello: Jy sien. ’n Probleem van die aanlyn-kuiers is dat mense nie altyd hul mees onlangse foto’s gebruik nie – en soms met goeie rede.

Volksie: I smell disaster!

Donatello: Presies. So, Daisy90210 was toe maklik 30 kilogram swaarder as op die oorspronklike foto wat sy vir my gestuur het. Ek vind toe eers later uit dat dit haar matriekafskeidfoto was.

Volksie: SMG! En toe drop jy haar so vinnig soos ’n bungee cord?

Donatello: Nee, glo my. Ek’s nie so oppervlakkig nie. My ma het my grootgemaak met goeie maniere en ek kon selfs verby die “nuwe” Daisy sien, maar die Winnie the Pooh-pleister op haar voorkop was net vir my die laaste strooi.

Volksie: Nee!!! :-D

Donatello: Ja. Dis ’n prentjie wat ongelukkig vir ewig in my brein ingeëts is.

Volksie: Maar hoekom die pleister?

Donatello: Daisy, kennelik van Pretoria, se verskoning was: “My mô het my gewôrsku ek moenie aan blinde puisies druk nie. Nou sit ek met dié karbonkel op ons eerste date.”

Volksie: LOL!!! LOL!!! ROFL!!!

Zoë lag so dat sy amper van haar stoel affoeter. Sy probeer haar in toom hou voordat Jan-Hendrik by die deur inbars. Hy kan partykeer lekker nors wees wanneer hy wakker skrik. Sy vee die trane uit haar oë en tik verder:

Volksie: En tóé drop jy haar soos ’n bungee cord?!

Donatello: Wel, uit beginsel reageer ek nie op Call me-boodskappe nie. Veral nie op twintig of meer ’n dag nie. En daarom het dinge maar doodgeloop.

Volksie: Jong, jy’s soos ’n Prozac. Ek voel stukke beter as gister dié tyd.

Donatello: Dis mos maar kuberruimte. Mens kan hier jouself wees en ’n bietjie wegbreek van die werklikheid.

Volksie: Of voorgee dat jy iets is wat jy glad nie is nie.

Donatello: Wel, ek doen nie. Gee jy voor?

Volksie: Miskien. ;-)

Donatello: Hm … nee, ek dink nie so nie. Ek het ’n goeie gevoel oor jou.

Volksie: Feeling is mutual. :-D

Donatello: Die son kom al amper op. Gaan ons weer probeer slaap?

Volksie: Klink na ’n goeie idee. Ek kan amper nie my oge oophou nie.

Donatello: Ek sien jy’t nie ’n foto van jouself gelaai nie.

Volksie: Hoor wie praat. Ek sien ook maar net jou vraagteken. Kom ons maak ’n deal. As ons nog ’n paar keer so lekker kuier, dan stuur ons foto’s vir mekaar.

Donatello: Klink na ’n puik idee.

Volksie: En as ons mekaar ooit ontmoet, belowe ek ek sal nie ’n Pooh-pleister aanhê nie.

Donatello: Ek’t so gehoop jy sou sê “wanneer” in plaas van “as”.

Volksie: Nou goed dan. Wanneer. Dankie vir die chat, D.

Donatello: Ditto.

Zoë kliek die skermpie af en glimlag. Donatello was nou net die tonic wat sy nodig gehad het om deur die volgende paar dae te kom. Dit is nes hy gesê het: mens is baie brawer in hierdie kletskamers as in die regte lewe. Sy weet voor haar siel sy sal waarskynlik nie die helfte van die gesprekke voer as sy die man van aangesig tot aangesig moet aanskou nie. Maar as sy hier voorgee om so ’n sterk persoonlikheid te hê, gee hy nie ook maar voor nie? Wie is Donatello regtig? Sy kry die gevoel dat hy anders kan wees as die gewone ou. Maar kan mens regtig jou instink vertrou oor skerms, sleutelborde en digitale kabels? Diep in haar binneste hoop sy van harte so.

Donatello en Volksie

Подняться наверх