Читать книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine - Страница 6

3

Оглавление

’n Trojaanse hings en ’n volbloed-merrie

Die laatoggendsonnetjie skyn warm by die slaapkamervenster in. Zoë skrik wakker en sien dit is al ná elf. Sy is nog redelik deur die slaap en mik so met een oog haar pad badkamer toe. Sy sukkel lomp die deur oop en stap in. Zoë skrik haar wawyd wakker toe ’n wildvreemde kaal man hom voor die stort afdroog. Eintlik is afdroog nie reg nie. Want hy het ook verstar. Die amper twee meter lange beeld van ’n man het spiere op plekke waar Zoë nie geweet het plekke bestaan nie en sy langerige swart hare hang repe oor sy potblou oë. ’n Oomblik staar hulle net na mekaar. Toe pluk hy die handdoek so gou moontlik oor die nodigste dele.

“Jammer!” gil Zoë geskok, draai in haar spore om en loop teen die deur vas. Sy gryp die handvatsel verwoed, pluk die deur oop en loop na die kombuis waar Jan-Hendrik met ’n groot smile sit en koffie drink.

“Môre, môre, Jellietot,” groet hy vriendelik. “Jy lyk asof jy ’n spook gesien het!”

“As dit maar net ’n spook was,” sug sy en plant haarself in ’n stoel oorkant Jan-Hendrik. “Kan ons die onderbroekreël vir die badkamerdeur ook laat geld?”

“O crap,” lag Jan-Hendrik terwyl hy vir haar ’n koppie koffie skink. “Jy’t vir Troy ontmoet?”

“In al sy glorie, ja.”

“En wat dink jy?” giggel Jan-Hendrik stout. “Hy’s ’n dish, nè.”

Zoë bloos nog steeds. “Hy’s meer as ’n dish. Hy’t genoeg vir ’n six-course meal.”

Jan-Hendrik skater van die lag, buk oor en soen vir Zoë teen haar voorkop. “Dis hoekom ek so lief is vir jou! Merry Christmas, Jellietot!”

“Jy ook, meneer! Obviously het jy al klaar Kersfees op ’n goeie noot begin.”

Jan-Hendrik se glimlag spreek boekdele. Hy en Zoë is reeds van kleintyd af vriende. Vandat hulle in graad een langs mekaar op die skoolbank beland het, was daar ’n spesiale band tussen hulle – waarskynlik omdat albei effens anders was. Jan-Hendrik het nie juis seunsmaats gehad nie, terwyl Zoë nooit belanggestel het in die goed wat meisies van haar ouderdom wou doen nie. Sy herinner Jan-Hendrik gereeld aan daardie eerste keer wat hy by haar kom speel het. Sy is kombuis toe om vir hulle koeldrank te gaan haal en toe sy terugkom in haar kamer, het Jan-Hendrik elkeen van haar Barbie-poppe in blink aandrokke aangetrek. “Vir die Miss Universe-kompetisie,” het hy ernstig aan haar verduidelik. Zoë was dus glad nie geskok toe Jan-Hendrik op sewentien sy groot geheim aan haar verklap het nie – al was hy ’n aantreklike, fris man en baie gewild onder die meisies.

Troy maak keel skoon en kom skaam die kombuis ingestap.

“Come sit,” nooi Jan-Hendrik en wys na ’n stoel waar sy koppie koffie reeds stomend vir hom wag. “Troy, this is my housemate, Zoë.”

“We’ve met,” sê die vleispaleis skaam en neem sy sitplek sonder om oogkontak met Zoë te maak.

“Nice to meet you, Tril … Troy!” strompel Zoë. Sy vlam van voor af bloedrooi. Jan-Hendrik sukkel om sy lag te hou. “Merry Christmas.”

Troy glimlag vir haar en wens haar ook ’n geseënde Kersdag toe.

“So wat’s jou planne vir die dag, Jellietot?” verbreek Jan-Hendrik uiteindelik die ongemaklike stilte.

“Ek, wel … gaan vanaand by Taryn-hulle eet. Maar verder het ek geen planne vir die dag nie. Ek het gister vergeet om ’n houthouer vir Boom se as te kry.” Zoë sug. Nou sal dit moet wag tot oormôre.

“Boom was her pet,” verduidelik Jan-Hendrik aan Troy wat steeds na sy voete staar. “We loved him as our own child.”

“Oh, yes,” maak die mooi man weer keel skoon, “Jan-Hendrik told me. I’m sorry to hear about that.”

“It’s okay,” sê Zoë. “He died of old age. Had a full life. It could have been much wors … worse!”

Jan-Hendrik ruk soos hy lag, maar maak geen geluid nie.

Zoë voel heeltemal te ongemaklik en spring op. “Kan ek maar stort?”

“Natuurlik,” glimlag Jan-Hendrik. “Onthou om die deur te sluit!”

* * *

Kersaand staan Zoë in die kombuis van uncle John en auntie Patsy Davidson. Taryn is hul enigste dogter en was een van haar heel eerste kliënte toe sy destyds met die joga-ding begin het. Hulle is sedert daardie dae al goeie vriende. Die Davidsons het vir Zoë byna as hul eie aangeneem en na elke verjaardag, troue, doop en selfs begrafnisse word Zoë ook genooi. Uncle John sit rustig in die sitkamer en pyp rook terwyl auntie Patsy heen en weer van die kombuis af na die eetkamer draf om die tafel gedek te kry. Zoë en Taryn is in die kombuis besig om slaai te maak.

“My ma dryf my teen die muur uit,” fluister die vyf en twintigjarige donkerkop toe haar ma om die hoek verdwyn.

“Nou vir wat?” vra Zoë terwyl sy die slaaibak aangee.

“Kleinkinders, jong!” sug Taryn, draai haar lang hare in ’n losserige bolla en maak dit vas met ’n rekkie. “Bloody hell. It’s hot.”

“Dit is nogal,” beaam Zoë, maar sit weer die vorige gesprek voort. “So hulle druk jou om te trou?”

“Dis wat mens kry as jy die alleen-dogter is,” sug Taryn en begin die blaarslaai loswikkel. Zoë was nog altyd mal oor Taryn se Afrikaanse aksent en hoewel sy haar moet reghelp met haar grammatika, is dit soms so snaaks. Dan laat sy dit maar deurglip.

“Ek hoor wat jy sê!” lag Zoë en sny die groenrissie in fyn repies. “Is jy al gereed vir so iets?”

“Oh for heaven’s sake, no! Ek wil my opsies oophou. Heeltemal te lekker visse in die see as om nou met een opgeskip te sit. Ek sê mos: ‘Beproef almal en behou die goeie!’ ”

“So, wat het van Richard geword?” vis Zoë uit. Sy was seker Richard sou die ou wees wat Taryn se hart gaan steel.

“Richard,” begin haar vriendin, “wel, ek hou regtig van Richard, maar ek weet nie. Kom ons sê net hy – ”

“Did you take the turkey out of the oven, dear?” bars auntie Patsy by die deur in.

“Not yet, Mum.”

“Ag, ek moet ook altyd alles doen!” sug die ou tannie en storm na die oond met die handskoene. “Zoë-kind, waar is Jan-Hendrik vanaand?”

“Hy en ’n vriend is uit, auntie Pats,” glimlag Zoë. “Hy stuur groete!”

“Wat ’n oulike seun is hy nie,” sê auntie Patsy en sit die kalkoen op die kombuistafel neer. “Now that’s the kind of man I can see my Taryn with!”

“You see me with a gay man, Mum?” Taryn rol haar oë.

“No, Pebble,” lag haar ma, “not his sexuality, his personality!”

“Whatever,” sug Taryn en skud haar kop toe haar ma weer die vertrek verlaat. “See?!”

“Terug na Richard,” herinner Zoë haar. “Hy’t nogal lank gehou. Sien julle mekaar dan nie meer nie?”

“Dog jy’t die gesprek vergeet.”

“Never in a million years!”

“Okay, okay!” sê Taryn en praat dadelik sagter. “Hy was hot en alles wat ’n vrou kon begeer.”

“Ja?”

“Maar …” Taryn bloos effens terwyl sy die croutons in die slaaibak gooi.

“Ek luister.”

“Zoë, we’ve known each other for a few years now, but there’s something you don’t know about me.”

Zoë trek haar oë asof sy die groen lig gee om die gesprek voort te sit.

“I love sex. L-O-V-E it!” fluister Taryn en loer of haar ma inkom.

“So?” vra Zoë gou.

“Like a lot,” probeer Taryn weer, maar sien geen teken in Zoë se oë dat sy die vaagste benul het waarvan sy praat nie. “Ek dink soms ek is verslaaf aan seks! Kry nie genoeg nie.”

Zoë verstik in haar eie spoeg en vlam sommer bloedrooi om albei se onthalwe.

“Daar het jy dit,” sê Taryn en trek die fetakaas nader. “Richard kon nie altyd met my needs byhou nie.”

“So jy wil vir my sê ouens kan nie by jóú byhou nie?” vra Zoë geskok. Sy’t in haar lewe nog nie van so iets gehoor nie.

“Hey, Zoë,” verdedig Taryn haarself. “Some girls just love embracing their own sexuality. I can do it seven times a day!”

“What can you do seven times, dear?” vra auntie Patsy onverwags agter hulle. Zoë laat glip ’n skril gilletjie, maar Taryn gooi sommer dadelik ’n “Go for a twinkle, Mum” om die situasie te ontlont.

“Oh, goodness me,” lag auntie Patsy en tel die kalkoen weer op. “That’s a Davidson’s family thing, Zoë. Ons klomp kan piepie vir die Olympics!”

“O … regtig?” is al wat Zoë kan uitkry, maar auntie Patsy is al klaar om die hoek met die kalkoen.

“En wat van jou, juffrou?” gooi Taryn die bal na Zoë toe.

“Wat van my?” vra Zoë asof sy nie die afgelope paar minute in die geselskap was nie.

“Jy kan probably vir my ’n thing or two leer van yoga in die bed!” lag Taryn.

Zoë kyk af na die kombuistoonbank en sug. “Nie regtig nie. Ek weet eintlik net die basics.”

“Jy jok!” sê Taryn gemaak geskok.

“Onthou jy vir Dirk?”

“Die Hell’s Angel?”

“Jip. Wel, hy was my eerste,” erken Zoë verleë.

“No!” gil Taryn.

“Hy was,” sê Zoë en verstaan nie hoekom sy voel sy moet haar maagdelikheid verdedig nie. Taryn se oë is groot. “Hoekom vertel jy my dit nou eers?”

Zoë haal haar skouers op.

“Well, I’ve always imagined you with someone like him! Now you just find me a new bad boy.” Taryn glimlag stout.

“Dis die ding,” sê Zoë en byt haar lip vas. “Ek het ook nog altyd gedink ek en die bad boys pas goed saam.”

“Maar?”

“Maar ek weet nie meer so mooi nie. Ek het onlangs iemand ontmoet. En hy’s glad nie so nie.”

“Vertel,” hits Taryn haar aan. “Is hy hot en edible?”

Zoë lag. “Nee. Ja. Ek weet nie. Jy sien, ek het hom nog nooit … in lewende lywe ontmoet nie.”

’n Verwarde uitdrukking skuif oor Taryn se gesig. Of sy ooit weet wat “in lewende lywe” beteken, is ’n ope vraag.

“Op die internet. Ons chat lekker, maar ek ken hom skaars,” beantwoord Zoë die onuitgesproke vraag in haar oë.

“Zoë,” waarsku Taryn grootoog. “You don’t wanna go there.”

“Dis heel onskuldig,” verdedig Zoë, “en ons chat net.”

“Daarso is many psychos op die net …”

“Ek wéét, Taryn! Ek’s nie meer ’n tiener nie!”

“En my grootste probleem met die internet is die lack of pheromones,” verduidelik Taryn net toe haar ma weer instap.

“Dinner is ready,” kondig auntie Patsy aan en haal die botteloopmaker uit die laai. “Ons drink vanaand van daardie lekker Stellenbosse rooiwyn waarvan jy so baie hou, Zoë.”

“Thanks, auntie Pats,” bedank Zoë haar.

“We’re coming, Mum,” sê Taryn gou. “Just finishing up here.”

Auntie Patsy is nog nie eens in die eetkamer nie toe Zoë die gesprek voortsit. “Van watse pheromones praat jy?”

“Honey,” fluister Taryn dadelik, “het jy al in ’n plek ingestap en dan ruik daai manne so lekker dat jy sommer net there and then een wil gryp?”

“Nee,” antwoord Zoë doodeerlik. “So dis ’n aftershave-ding?”

“Nee, Zoë,” sug Taryn en skud haar kop in ongeloof. “Dis die man smell. Body odour! Partykeer sit ek in die movie en ruik hulle. Ek raak dan so lus vir hom en as ek omdraai, is hy nie eens regtig aantreklik nie. Maar dis die pheromones! But sometimes, jy sien iemand hot van ver af, maar hy het nie ’n smell waarvan jy hou nie. Diere is hipersensitief vir dié goed.”

Soms voel Zoë asof sy eerlikwaar van ’n ander planeet af kom wanneer sy met Taryn praat.

“Bokkie, dis human instinct.”

“En dis hoekom die internet nie vir jou werk nie?”

“Exactly! Het jy al dié nuwe man geruik?”

Zoë skud haar kop. “Ek sê dan ek het hom nog nie eens ontmoet nie! Maar ek belowe jou ek laat weet jou sodra sy reuk my omboul.” Sy kan sommer sien hoe sy met ’n eerste afspraak die man besnuif, en giggel saggies.

“Pebble! Zoë!” kom die stem uit die eetkamer. “Die kos word koud!”

“Ons kom!” roep Taryn en tel die slaaibak op. “Al die man’s talk het my sommer nou weer lus!”

Zoë skud net haar kop en lag terwyl sy vir Taryn na die tafel en die Kersmusiek volg.

Nadat uncle John amper drie minute lank gebid het, trek auntie Patsy die borde nader en begin van die kalkoen opskep. Zoë is lief vir dié gawe mense met al hul dinge. Uncle John bid byvoorbeeld altyd vir die minderbevoorregte kinders in Somalië. Nooit vir enige ander kinders van enige ander land nie. Dit is nét Somalië wat blykbaar onder hongersnood gebuk gaan. Sy lag skielik en almal om die tafel kyk vraend na haar.

“Sorry,” maak Zoë verskoning, “I was just thinking about something.”

Auntie Patsy kyk vir haar glas en berispe dadelik vir uncle John: “Now, Pooh-bear, moet ek nou die wyn ook vir die mense inskink?”

Waar auntie Patsy aan al haar byname kom, gaan Zoë se verstand te bowe. En hoe haar gesinslede weet met wie sy praat, is steeds iets wat sy probeer uitpluis sedert sy die eerste keer in die huis ingestap het. Sy is self ook al Pooh-bear genoem.

’n Ruk later sit elkeen met ’n glas wyn en ’n groot bord kos. Zoë kan nie onthou wanneer laas sy ’n ordentlike bord gekookte kos gehad het nie. Sy’s definitief van plan om weer te skep!

“So, jy wil nie saam met ons see toe kom nie, Sunshine?” vra auntie Patsy nadat sy ’n sluk wyn gevat het.

“Ek kan nie, auntie Pats,” glimlag Zoë. “My jogakliënte het my nodig en die werk is maar besig so vroeg ná Nuwejaar. Ek weet mos julle bly altyd nog ’n week in Januarie by die see.”

“Hoekom los jy nie net die werk by daai ou winkeltjie en gaan heeltyds in die joga-ding in nie, my ou blommetjie?” Ook uncle John en Taryn kyk nou aandagtig na Zoë.

“Dis nie so maklik nie,” begin Zoë. “Dis ’n groot commitment, en ek …”

Al drie wag in spanning vir haar om klaar te praat en sy soek die regte woorde. Zoë haat dit om in hierdie posisie te wees. Natuurlik is dit haar grootste droom om haar eie studio te hê. Om heeltyds te doen waaroor sy mal is. Maar daar was nog altyd iets wat haar keer. Om daardie stap van geloof te neem en uit haar gemaksone te tree, is makliker gesê as gedaan. Sy is immers net realisties. Mens kan nie sommer net alles los en agter ’n droom aanhardloop nie. Haar impulsiwiteit het haar al veels te veel kere in die pekel laat beland.

“Anytime when you’re ready,” glimlag Taryn en Zoë besef hulle wag nog vir ’n antwoord.

“Dis net nie maklik nie. Ek het baie dinge om eers uit te sorteer.” Sy probeer oortuigend klink.

“Ek het jou al ’n thousand times gesê dat jy dit moet doen, Zoë.” Taryn praat terwyl sy haar vurk met slaai laai. “Do you think I’ll have this body if it wasn’t for you? You’re good at this!”

“Dankie, Taryn. Maar soms help dit nie net om goed te wees nie.”

“Nee, toemaar,” sug auntie Patsy. “Ek verstaan, my poplap. Jy wil dalk net eers settle en weet daar is ’n man wat kan sorg. Sodra daar stabiliteit in jou lewe is, kan jy so ’n kans vat.”

Zoë is skielik totaal gegooi hierdeur. Is dít hoe sy voel? Wag sy nog altyd net vir ’n man om hierdie stabiliteit te voorsien? Sy’t nog nooit daaraan gedink nie, en dit laat haar weer van voor af wonder. Dit is mos nie hoe sy is nie. Van wanneer af beplan sy haar lewe rondom die idee van ’n man en nie net vir haarself nie?

“How is the love life?” praat uncle John die eerste keer vandat hy gebid het.

“Ag nee, regtig, julle,” vererg Taryn haar. “Nou begin julle met Zoë ook?”

“Dis nie goed om alleen te wees nie, my kind,” steek auntie Patsy dieselfde preek af wat al holrug gery is in die Davidson-huis.

“Mum!” raas Taryn. “Times have changed. Women are more independent now. Ons trou nie meer om dieselfde redes as julle destyds nie.”

“Zoë,” glimlag auntie Patsy en ignoreer haar dogter. “What do you think about relationships? Still keen to meet Mister Right?”

Zoë soek vir die antwoord tussen die ertjies op haar bord en kyk op: “Ek glo aan Mister Right, auntie Patsy, maar nie noodwendig aan Mister Right Now nie. Ek’s nie desperate of iets nie.”

“You see!” ondersteun Taryn haar. “Until death do us part is a long long time, Mum.”

Daar heers ’n ongemaklike stilte om die tafel. Zoë is egter te besig met haar eie selfondersoek om daarna op te let. Wat as sy om die verkeerde redes mal is oor Donatello? Is hy die legkaartstuk wat gaan maak dat haar hele lewe in plek val? Is hy haar Mister Right Now? Hoe kan sy ooit eens so ver dink? Sy het hierdie man nog nie met ’n oog gesien nie. Dit is absurd! En boonop leer sy nou nog van feromone ook vanaand. Wat as hy aantreklik is en sy hom nie aantreklik vind nie? Of as hy nie lekker ruik soos Taryn verduidelik het nie? Hoekom weet sy nie hierdie goed nie? Dirk was Dirk en seks was seks, maar sy was nooit verslaaf daaraan nie. Skort daar iets met haar? Hoekom kon die lewe nie met ’n verdomde manual of iets uitkom nie?!

“Dessert?” onderbreek auntie Patsy haar gedagtegang.

“Dit sal lekker wees,” antwoord sy en Taryn gelyk.

Dit help nie jy dink nou oor hierdie goed nie, raas Zoë met haarself. Geniet liewer die aand, want vannag is daar baie tyd. En soos sy haarself ken, sál sy tot ounag toe lê en tob oor hierdie goed.

Donatello en Volksie

Подняться наверх