Читать книгу Donatello en Volksie - Marion Erskine - Страница 7

4

Оглавление

Klein duimpie

Die pad na Hartbeespoortdam is lank en besig. Hoewel die dokter vir Hettie Basson aangeraai het om lang ritte in haar laaste trimester te vermy, steur sy haar nie daaraan nie. Sy gaan nou glad nie alleen in haar reusehuis sit en wag vir die baba om eendag te kom nie. Hettie is een van Zoë se nuwe jogakliënte wat op aanbeveling van ’n ander vriendin by Zoë se deur kom aanklop het vir hulp tydens haar swangerskap. Sy werk nie en soms dink Zoë sy doen die joga bloot omdat sy eensaam is.

Soos afgespreek, sit Zoë langs Hettie in haar splinternuwe Pathfinder. Hulle is op pad Hartbeespoortdam toe. Hettie wou niks daarvan hoor dat Zoë op Tweede Kersdag alleen by die huis bly nie. Zoë het tot laatnag by Taryn gekuier en wonder bo wonder nie ’n oomblik weer oor haar studio óf Donatello gedink nie. Sy het vroeg wakker geword, haar joga gedoen en nou voel sy nogal opgewonde oor die dag saam met Hettie.

“Nee, jong,” lag Hettie, “toe hy sy broek begin losmaak, worry ek seriously, maar die volgende oomblik draai hy om, pluk sy onderbroek af en daar staan my naam in sierskrif op sy linkerboud geskryf!”

Zoë ruk soos sy lag. Dit is die eerste keer dat Hettie haar van hierdie boyfriend uit haar universiteitsdae vertel.

“’n Regte tattoo?” roep Zoë geskok uit.

“So genuine soos wat hulle kom, girl!” sê Hettie en gaan aan met haar storie. “Hier staan Dewald met sy een oop butt cheek in my gesig in die middel van ’n posh restaurant en raai wat is in sy hand?”

“Ek’s te bang om te vra.”

“’n Ring, Zoë! ’n Donnerse trouring!”

Zoë kan nie meer asem kry nie en die trane rol uit haar oë. “En toe sê jy ja?”

“Natuurlik nie!” sê Hettie half in die gesig gevat. “Hy was eerstejaar. Ek was derdejaar. Hy’t net hierdie crush op my gehad en niemand weet waarom nie!”

“En toe sê jy nee?” vra Zoë en kan nie help om te wonder oor die tattoo wat vir ewig ingepen is in die arme man se agterwêreld nie.

“Of course, maar moenie worry nie,” vertel Hettie verder, “sy hart was nie té lank gebreek nie. Ses maande later is hy met ’n ander girl getroud! Sy was nét so weird soos hy!”

“Maar wat dan van – ”

“Die tattoo?”

Zoë glimlag breed. “Jy lees my gedagtes, Hettie.”

Hettie bars uit van die lag. “O vrekkit, nee! Ek het gedog ek sal nooit weer sy gat sien nie, maar eendag terwyl ek en drie pelle koffie drink, kom staan hy weer netjies voor my, deel ewe pronkend die nuus mee dat hy nou getroud is en laat net daar en dan sy broek wéér sak. In die middel van die spul mense!”

Zoë se mond val letterlik oop. “En?”

“En daar staan nou oor twee butt cheeks gesierskrif: Ek Hettie iemand anders as jou lief nie, Christel! Sy hele gat vol!”

As Zoë nie twintig minute gelede by die Caltex-badkamer ingeloer het nie, was dit nou te laat. Sy lag so dat sy letterlik opgekrul op die sitplek lê.

“Turn left at the next exit,” kondig Hettie se Garmin aan in ’n aksent wat Zoë amper nie kan uitmaak nie.

“Don’t even ask,” rol Hettie haar oë. “Bleddie ding het vasgehaak op ’n Skotse aksent en ek het weer die manual weggemoer!”

Sy draai links en oomblikke later lê die Hartbeespoortdam voor hulle.

’n Paar uur later staan Zoë in Hettie se reuseswembad en kyk na al die aktiwiteite op die dam onder haar. Die vorige keer wat sy hier was, was daar net ’n paar mense wat gewaterski het. Dit was ook ’n goeie vyftien jaar gelede. Zoë kyk terug na die indrukwekkende huis waarin hulle vanaand bly. Hettie het dit ook uit haar skeisaak gebuit en sy maak seker sy gebruik álles wat sy uit die onderhandelings kon kry. Zoë dink skielik aan Donatello. Sy’t hom nie eens laat weet dat sy saam met Hettie Harties toe kom nie. A nee a, hoor sy haarself redeneer, vir wat moet jy jou doen en late aan ’n man verduidelik? Sy wonder darem of hy ook aan haar dink.

Zoë gewaar eers Hettie se hoogswanger lyf en toe die kenmerkende rooi hare toe sy nader gestap kom. Sy dra ’n groen kostuum met ’n slangvelmotief en met haar magie lyk sy behoorlik soos ’n slang wat pas ’n volstruiseier ingesluk het. Dit is waarskynlik wat die buuromie ook dink terwyl hy haar oor die kort wit heining aangaap.

“Ja,” sê Hettie bot na sy kant toe, “my baby kom binnekort, wanneer kom joune?”

Die ou oom gooi haar ’n vuil kyk en stap vererg die huis in.

“En daai noem mens nie ’n Speedo nie,” skree Hettie agterna voordat sy die water instap. “Daai is ’n Speedon’t!”

Zoë skud net haar kop. Hettie Basson is nie iemand wat jy as vyand wil hê nie.

“Het iemand al vir jou gesê jy’s highly entertaining?” vra Zoë.

“All the time!” lag Hettie en gaan lê op haar rug in die water. “Thanks dat jy saam met my gekom het!”

“Dankie dat jy my genooi het,” bedank Zoë haar vriendelik. “Dis so mooi hier.”

“Wel, dis nie so lekker as jy dit alleen moet doen nie,” sug Hettie.

“Wat van jou ma-hulle?” vra Zoë.

Hettie dryf nader aan Zoë. “Nee wat. Ek is alleen in hierdie pregnancy, girl. My ma-hulle wil niks met my te doen hê nie.”

“Hoekom?” vra Zoë versigtig. Sy is steeds bang sy krap in Hettie se slaai.

“Hulle sê ek kan nie ’n baby alleen grootmaak nie. Te onverantwoordelik en al daai stuff.”

“Dis sommer bog,” lug Zoë haar mening. “Ek dink jy gaan ’n great ma wees!”

Hettie glimlag. “Dan is dit net ek en jy in hierdie wêreld wat so voel, maar genoeg van my dramatic life. Hoe gaan dit met jou?”

“Dit gaan goed,” lag Zoë en kyk weg. Wragtiewaar. Moet sy al weer oor haarself praat?

“Jy praat nie baie oor jou love life nie,” sê Hettie en loer oor haar boepie in Zoë se rigting. “Is daar iemand?”

“Nie regtig op die oomblik nie.”

“Hoekom nie?”

“Wag vir die regte een, I guess,” herhaal Zoë haar ou verskoning teenoor die hoeveelste mens. “Ek’s nie soos baie ander girls nie. Spring nie uit een verhouding in ’n ander een in nie. Daar was actually nog net een long-term lover.”

Hettie kom dadelik regop en al haar aandag is gefokus op Zoë. “Één?”

“Ja,” glimlag Zoë, “nogal ’n Hell’s Angel.”

“O, ek het geweet jy’s een van daai girls wat vir die bad boys ingaan!” kondig Hettie trots aan.

Zoë lag verleë. “Jy weet, Hettie, ek het ook altyd so gedink, maar miskien was ek verkeerd. Bad boys is cool en als, maar hulle sukkel maar om jou soos ’n regte girl te behandel.”

“Jy bedoel die blomme en stuff?” vra Hettie aandagtig.

“Nee, die manier hoe hulle aan jou vat. Hoe hulle met jou praat. Al daai dinge.”

“Wel,” lug Hettie haar mening, “hulle kan dalk losers wees op daai gebied, maar sulke bad boys kan die res van die nerds ’n ding of twee leer van witwarm sssex!”

“Jy dink?” glip dit uit en Zoë kyk dadelik weer weg.

“O,” begin Hettie, “ek wéét sommer hier is ’n lekker storie! Jy sal moet vertel!”

“Ag, dit maak nie saak – ”

“Zoë!” waarsku Hettie en krul haar lip asof sy gaan begin snik. “Vertrou jy my nie genoeg om jou lewe met my te share nie?”

“Ag, oukei dan!” sê Zoë en lag. “Hou nou maar op. Ek haat guilt trips!”

“My Shrek pussycat face works like a charm. Every time!” spog Hettie.

“Dis ’n lang storie,” probeer Zoë haar van stryk bring.

“Honey, ons is by Harties. You don’t see me going anywhere anytime soon!”

“Oukei, Dirk was my eerste.”

“Jou eerste boyfriend?”

Zoë haal diep asem. “Wel, my eerste in baie opsigte.”

“Jy jok!” sê Hettie geskok.

“Wil jy hoor of nie?” dreig Zoë. Hoekom reageer almal deesdae so flippen geskok? Dit is mos nie asof sy só oud is nie!

“Sorry,” maak Hettie hewiglik verskoning. “Jou eerste spyker. Gaan aan.”

“Hettie!”

“Sorry again!”

“Ek was vyf en twintig. Dit was 5 Mei 2005, die dag van die vywe. Dit was ook die dag toe ek die eerste keer deur die polisie opgelaai is omdat ek saam met ’n paar aktiviste die ingang van ’n McDonald’s versper het.”

Hettie se oë rek.

“Die oorlog in Irak het swaar op my hart gerus en ek moet self erken ek sou waarskynlik nie in die tronk beland het as ek nie met daai reusekartonmissiel op my rug op my Vespa gespring het en probeer wegjaag het van die polisie nie. Maar, mens leer tog uit jou foute.”

“Totally!” stem Hettie met ’n proes-lag saam.

“Terwyl ek toe mos by die polisiestasie die laaste papiere teken, hoor ek hoe ’n man hier langs my ’n verklaring aflê. Ek het onmiddellik van sy voorkoms, en veral sy hardegat houding, gehou.”

“Was hy hot?”

Zoë knik. “Hy was ’n lang, sterkgeboude man met ’n bokbaard en oorring in sy linkeroor. Hy het ’n bandana en ’n swart leerbaadjie gedra en sy prominente haakneus het die prentjie mooi afgerond.”

Hettie tel haar hande uit die water en waai haarself koud. “Totally my type! Go on!”

“Ek was gefassineer. Sy naam was – is seker nog steeds, die duiwel sorg vir sy trawante – Dirk Dreyer en hy’t blykbaar aspris heen en weer met sy Harley-Davidson oor sy bure se grasperk gejaag. En dit was nie sommer só ’n grasperk nie, dit het glo al op Keith Kirsten se TV-tuinbouprogram en in die Garden & Home verskyn.”

“O, ek like hom sommer nóg meer!”

“Dirk het gemeen dat die bure hom aanhoudend geteister het omdat hy sy motorfiets soggens te hard aan die gang skop. Die polisieman aan diens het foto’s van die bure se verwoeste grasperk voor hom neergegooi. ‘Shit,’ het Dirk ontsteld gesê terwyl hy die volkleurfoto voor hom dopgehou het, ‘ek’t ’n spot gemis!’ ”

“Tien uit tien, Dirk!” lag Hettie. “En toe gryp jy hom net daar en dan?”

“Nee, Hettie!” keer Zoë. “Nog nie. Ek het uitgebars van die lag, maar wou my kop tussen my bene wegsteek toe die man omkyk. Die koeël was deur die kerk. Dit was soort van love at first sight.”

“En toe gryp hy jou?” vis Hettie opgewonde uit.

“Nee, nog nie! ’n Uur later het ons in ’n Hell’s Angels’ bar gesit en stry oor wie die grootste boete daardie dag gekry het.”

“En daarna …” begin Hettie.

“Ja, Hettie, toe gryp ons mekaar!”

“En?! Komaan, Zoë, vertel! Dis nog altyd ’n fantasy van my.”

“Wel, dit was … orraait,” sê Zoë verleë.

“Orraait?!” snak Hettie na asem. “Orraait?! ’n Uitgegroeide bul van ’n man met muscles waar die meeste ouens net van kan begeer en jy vind dit orrááit?!”

Zoë loer na die watervlak en sug. “Jy weet wie’s Jan-Hendrik?”

“Jou gay huismaat?” vra Hettie verward. “Nog nie ontmoet nie, maar wat het hy met die prys van Easter eggs te doen?”

“Wel, hy het meer ondervinding van dié soort ding gehad en ek het hom eendag om raad gevra. Dirk wás after all my eerste kêrel en ek wou seker maak dat ek nie net neuroties was nie.”

“O donner,” sê Hettie bekommerd. “Ek ruik ’n rot!”

Zoë skets die inhoud van die onthullende gesprek daardie einste aand. ’n Stukkie dialoog wat sy nooit sal vergeet nie. Vir Hettie voel dit asof sy na ’n greep uit ’n fliek sit en kyk – ’n toneel waarin Jan-Hendrik en Zoë die hoofkarakters is.

“Ek wil jou iets vra,” sê Zoë skugter.

“Wat skort?” vra Jan-Hendrik ernstig en gaan sit beskermend langs haar.

“Dis presies wat dit is: iets skort,” antwoord Zoë.

“Laat ek raai, die mushroom het nie genoeg bemesting gehad nie.”

Zoë lag, maar het geen benul waarvan Jan-Hendrik praat nie.

“Die skilpad was te skaam?” probeer Jan-Hendrik weer.

“Jan-Hendrik, ek verstaan nie – ”

“Goeie magtig, Jellietot,” sug Jan-Hendrik moedeloos. “Is sy meneer die size van ’n gebruikte uitveër?”

“Wel,” begin Zoë, “wat’s normaal? Jy weet mos.”

“O nee, magtig, gooi my met ’n syfer!” Jan-Hendrik is die ene afwagting.

“Vyf, ses sentimeter?”

“Jy meen inches?” help hy gou reg.

“Nee, sentimeter!” Zoë is op die daad vies.

“My liewe mens, dis ’n total disaster! Jou arme ding! Is jy seker jy meet reg?”

Zoë twyfel ’n oomblik en frons. “Hm … dalk sewe. Nee, kan nie meer as ses wees nie.”

“En Jan-Hendrik se woorde daardie aand was genoeg om my te laat besef dat daar ander, groter visse in die see is!”

Hettie lag so dat Zoë dink sy gaan nóú verdrink.

Zoë voel skoon verleë. “Kom ons gaan uit. Ek kry nou koud.”

“Oukei! Oukei,” praat Hettie tussen haar histerie deur. “Ek ook. Ek’s seker as ons mans was, het ons nou soos Dirk gelyk!”

“Sies vir jou!”

Hulle stap na die handdoeke en draai dit styf om hulle.

“Kom ons gaan stort en eet. Ek’s bleddie honger,” maan Hettie.

“Goeie idee,” glimlag Zoë.

“Maar ek wil alles verder van Dirk hoor!” lag Hettie weer van voor af.

’n Ruk later sit die twee in die bekende Squires on the Dam. Hettie smul heerlik aan haar steak. Zoë geniet haar kraakvars slaai en kan nie glo hoe honger sy is nie. Soos belowe, is die gesprek terug by haar en Dirk.

Hettie sluk ’n groot stuk steak af en glimlag half ongelowig. “So jý, Zoë, wat vir die hele wêreld ’n plekkie in jou hart het, los toe nou vir Dirk oor sy mushroompie?”

Zoë sit dadelik haar vinger op haar mond en wys vir Hettie om sagter te praat. “Nee, Hettie. Heng, so shallow is ek darem ook nie.”

“Nou vertel my dan,” gaan Hettie voort. “Just so you know, ek’s nou heeltemal afgeskrik van sulke mans en gaan van nou af dink almal van hulle lyk so!”

“Ons het probeer,” verduidelik Zoë. “Amper twee jaar lank. Maar dinge het net meer en meer uitmekaar begin val. Hy het my soos sy eie trofee behandel as sy pelle by was en heel beledigend en af en toe selfs gewelddadig geraak as hy begin drink het.”

“Het hy jou ooit – ” vra Hettie grootoog.

“O, hy moes probeer het om my te slaan,” val Zoë haar vererg in die rede. “Ek sou die bietjie wat hy gehad het met ’n stomp mes afgesaag het!”

“Mooi so!” lag Hettie. “That’s my girl!”

“Ek dink ek het eenvoudig te hard probeer wees wat ek gedink het hy wou hê. Hy’t ook altyd sy neus opgetrek vir my joga. Dit ‘airy-fairy’ genoem en gesê ek was mal om van my eie studio te droom.”

Dirk is al so lank uit haar lewe, maar sy argumente het nog steeds ’n uitwerking op haar.

Hettie roep die kelner nader vir nog ’n lemoensap. “So, hoe breek mens op met ’n Hell’s Angel?”

Zoë speel ’n oomblik met die groen servet op haar skoot en lyk behoorlik skuldig. “Ek het die oudste cliché in die boek gebruik.”

“Die ‘It’s me not you’-een?” vra Hettie.

“Einste!” Zoë skaam haar van voor af. “Ek het vir hom gesê dit werk nie, maar toe vra hy of my vibrator stukkend is.”

“Die vark!” roep Hettie kwaai en besef dan die hele restaurant staar na hulle. Sy loer dadelik weer vir haar steak en vervolg dan sagter: “Ek hoop jy’t hom goed in sy moer gestuur!”

Zoë knik. “Ek het hom mooi vertel wat ek van hom dink. En dit was die laaste sien van meneer.”

Hettie swaai haar steakmes gevaarlik in die lug. “Mans! Ek sê vir jou, hulle is almal bliksems!”

Donatello en Volksie

Подняться наверх