Читать книгу Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar - Страница 3

1

Оглавление

Hier is ek nou! Brugstraat nommer een, ek’s terug!

Die buitemure wit geverf, maar sy weet binne lê spatsels seerkry soos ’n opgehewe maseluitslag. Pa se huis … Antjie se fort teen bangmaak-drake, ongevoelige spot, seerkry …

Waar was jy, Ma? Jy was veronderstel om my te beskerm. Het jy nie geweet wanneer jy ’n mens breek, is die skade onherstelbaar nie? Die letsel verdof en raak onopsigtelik, maar dis steeds daar. Niemand sien dit sommer raak nie, tensy jy dit uitwys. Kan daar uit die gebreekte dan weer ’n volmaakte lewe kom?

Ma, onthou jy nog die liefde van ’n ma vir haar kind, ’n vrou vir haar man? Jy’t alles hier gelos, ook vir my en Pa. En dit vir wat … of wie? Dalk om ’n droom na te jaag? Of was te veel liefde van die verkeerde man dalk die rede – ’n versmorende liefde? Daardie gevoel ken ek ook, Ma. Om iemand so intens te bemin, ja, daardie paadjie het ek ook geloop. Maar daardie pad is ’n lang alleenpad, Ma, sonder ’n einde in sig. Henk praat van rou oor gister en klaarkry daarmee. Die lewe is daar om geleef te word, te bemin! Is dít hoe jy gevoel het? Het jy so ’n lewe bo Brugstraat nommer een gekies? Onthou jy nog vir Pa … en vir my, Ma?

Anika Summers druk haar sonbril terug oor haar skouerlengte donker hare. In die weste stap die son uit op sy ou paadjie. Die huis met sy bruin luike is nog nes sy dit onthou. Behalwe tóé het die luike altyd verwelkomend oop gestaan. Sy is terug in die Paarl! Maar hoe anders het sy haar nie hierdie dag, haar huistoekomdag, voorgestel nie.

Ja, sy sou eendag terugkom! Daaroor het sy nooit enige twyfel gehad nie, terug na die mense vir wie sy lief is, waar sy hoort. Maar voor daardie dag sou aanbreek, moes die foute van die verlede eers reggestel word. Eers wanneer sy haar …

Anika skud haar kop liggies en die wind kam deur haar blink hare. Staak dit, berispe sy haarself. Sy is nou hier ter wille van haar pa, om geen ander rede nie. Hy het haar nodig, al het hy die afgelope ses jaar nie op een van haar maandelikse briewe gereageer nie.

Twee dae gelede het Abram de Villiers, haar pa se buurman, haar uit die bloute geskakel met die tyding van haar pa se siekte. Volgens Abram is hy opgeneem in die hospitaal – ’n beroerteaanval. Dis ’n siektetoestand wat sy goed ken. Die bloedvloei na die brein word onderbreek en dit ontneem die breinweefsel van suurstof. En bykans binne minute begin die breinselle een vir een doodgaan.

Die minute tik verby terwyl sy net daar langs haar motor staan en na die huis kyk. Gedagtes jaag deur haar, onthouwoorde, goue oomblikke wat sy in hierdie huis beleef het. Maar ook seerkry soos sambokhale oor ’n ontblote rug. Dis juis die seerkry-herinneringe wat nou weer helder in haar gedagtes is en wat sy ook vrees. Dieselfde vrees wat haar ses jaar gelede die bruin voordeur agter haar laat toetrek het.

Geleidelik word sy bewus van kinderstemme. Sy kyk rond en sien drie seuntjies laer af in die straat op die sypaadjie speel. Hulle geniet duidelik waarmee hulle besig is, want kort-kort klink ’n skaterlaggie op.

Anika moet teen die motor leun vir ondersteuning. Die toneeltjie voor haar raak uit fokus en word vervang met nog ’n onthouprentjie. Van twee ander seuntjies en ’n dogtertjie met opgerolde broekspype en kaal voetjies wat agter hulle houtseilskippie aan trippel.

Skielik is daar ’n derde seun by – ouer as die ander. Sy harde, spottende woorde vee die dogtertjie se lag weg. Sy vat senuagtig aan haar rooi kopdoek wat versnipperde bruin haartjies wegsteek.

“Antjie Somers! Antjie Somers,” koggel hy en kom voor Antjie staan.

“Maak of jy hom nie hoor nie, Antjie,” pleit een van die blondekopseuntjies dringend. Hy vat haar handjie in syne en probeer haar agter hom intrek.

“Kyk, sy dra ’n rooi kopdoek,” treiter die ouer seun genadeloos en gryp na haar kopdoek. Ruk dit met ’n vinnige beweging af en smyt dit in die stroompie afloopwater. Hy lag spottend oor die bruin haartjies wat soos ystervarkpenne regop staan. Die blondekopseuntjie tel die kopdoek op, droog dit onhandig uit en druk dit in Antjie se handjies. Hy druk haar uit die pad sodat hy tussen haar en die ouer seun staan.

“Gee pad, Stefaans, of ek bliksem jou!”

“Pasop, Nelis, Antjie Somers gaan jou vang.” Hy vou amper dubbeld soos hy kraai van die lag.

“Hou jou bek van Antjie af, sy’t jou niks gemaak nie!”

“Waar’s jou ma, Antjie? My ma sê as Piet Summers háár man was, sou sy ook weggeloop het. Hy’s ’n regte dronkgat!” Hy spoeg op die grond en vee sy mond met sy mou skoon.

“Verdomp, Stefaans, ek sê jou …!” stotter Nelis de Villiers kwaad.

“Wat het jy vir jouself te sê, Antjie Somers?” hou Stefaans aan met tart. “Of het die kat jou tong gesteel? Waar’s jou sisrok en jou groot sak, jou lang mes? Antjie Somers gaan jou vang, Nelis!” skree hy en ontwyk die houe laggend toe Nelis op hom afstorm.

Anika vee oor haar gesig om van die onthounewels ontslae te raak. Voel dan verbaas die nattigheid teen haar voorkop en bolip. “Nee!” prewel sy hees. Onder geen omstandighede sal sy weer lewe gee aan die gebeure van jare gelede nie. Dis verby – punt!

Doelgerig stap sy om die motor, maak die bagasiebak oop en lig haar tas daaruit.

Haar hande rus ’n paar oomblikke op die swartgeverfde voorhekkie. Ses jaar is verby sedert sy dit daardie oggend ná Nelis se troue agter haar toegetrek het. Die wit koevert met haar afskeidswoorde aan haar pa het sy op sy bedkassie neergesit. Hy het nog op die vloer langs die bed gelê, maar sy het hom nie soos dikwels tevore terug bed toe gehelp nie. Met ’n onverklaarbare gevoel van afsydigheid het sy net die brief teen die lampie staangemaak, en toe omgedraai en weggestap.

Sy lui die fietsklokkie by die voorhekkie en ’n glimlag vou om haar mooi, vol mond. Sommer vir die snaaksigheid het haar pa dit eendag hier vasgesweis. Hy het lekker gelag toe sy op haar toontjies gestaan het om dit te lui.

“Brugstraat, ek is terug!” prewel sy weer. Sy ruik die reën in die lug en kyk op na Paarlberg, waaroor ’n wit kombers stadig toevou.

Op die ou wegsteekplek onder die blombak langs die trappie kry sy die voordeursleutel. Die muwwe reuk van ’n huis wat in die winter toestaan, hang swaar in die lug toe sy die voordeur oopdruk. Nou enige oomblik verwag sy om haar pa se stem te hoor vra: “Anika, is dit jy?”

Piet Summers het haar altyd Anika genoem – sy oorlede ma se naam. En die res van die buurt het haar Antjie genoem. Antjie van Piet Summers die plumber …

Haar ma se verwerping, die spot van bemoeisieke mense wat ander se leed en skaamte uitbuit om hulle eie donker geheime weg te steek … Dit het sy alles hier beleef. Ook die liefde van ’n man wat haar ten spyte van sy tekortkominge opreg liefgehad het – ’n man met ’n sagte hart vir ’n weggooikind. Maar sy liefde vir haar het leuens verdoesel en die dag toe die waarheid uitkom, kon sy dit nie hanteer nie. Sy het gevlug … en nou vlug sy al vir ses jaar, sonder ’n einde in sig.

Haar oorweldigende liefde vir die man vir wie sy net ’n maatjie was, was egter haar ondergang. In ’n oomblik van dwaasheid het sy toegegee aan haar gevoel vir hom; gegryp en gepluk van die verbode vrug wat haar nie aangebied was nie. En vandag betaal sy steeds vir daardie een nag van dwaasheid.

Toe sy daardie middag laat by die huis kom ná werk, het Nelis haar op die agterstoep se trappie sit en inwag. Hy het dadelik nadergekom om vir haar te sê hoe jammer hy is dat sy op so ’n wrede manier van hom en Bertha moes uitvind. Hy wou haar self van die troue vertel – Bertha het nie die reg gehad nie.

Anika het stilgebly. Wat hy nie geweet het nie, was dat Bertha hom net beskou het as die wenprys in die kompetisie tussen haar en Anika. Al van skooldae af het Bertha op alle gebiede met Anika gewedywer. Nelis was die enigste keer wat sy gewen het, want Anika het haar op skool- en sportgebied telkemale geklop. Maar die een prys wat vir Anika regtig saak gemaak het … met daardie prys het Bertha weggestap.

Hy het haar aan die skouers gevat. “Ek en Bertha wil jou baie graag by ons troue hê. Jy’s my maatjie – dis belangrik vir my dat veral jý daar is.”

Sy het weggerem, en hy het haar met mening probeer terughou. In die proses het sy gestruikel en teen sy bors beland. Só naby aan hom, sy kon die manlike geur van sy lyf ruik.

“Vir wat?” het sy geskree en losgeruk. “Om Bertha se hand vas te hou, of is dit dalk joune?” Haar stem het hard en lelik geklink.

Hy het hom vererg. “Dis nie soos jy dink nie. Ek het gehoop jy is saam met my bly, maar dis duidelik nie die geval nie.”

Toe het hy omgedraai en weggestap sonder om te groet.

Vir haar straf moes sy deur die trouseremonie sit, met haar pa as metgesel langs haar. Deur die hele seremonie het sy haar traak-my-nieagtig voorgedoen, te trots om hulle te laat agterkom hoe diep seergemaak sy was. In die agterste ry van die kerk moes sy sit en toekyk hoe die ander vrou hom toe-eien, sy liefde en trou opeis.

Maar dit was nie die einde nie. ’n Hart kan breek en nogmaals breek, sou sy daardie selfde nag nog uitvind.

Sy sukkel die skuiframe oop en trek die klam, koue aandlug diep in haar longe in. Reuke kenmerkend van hierdie tyd van die jaar en tipies van die Bolandse winter. Winter is ’n tyd van heimwee, vir terugdink en verlang, maar dis ook ’n tyd van afskeid neem. Is dít hoekom die noodlot haar hierheen teruggedwing het – om te kom afskeid neem? Maar waarvan of van wie?

Reën begin neerstuif; die miswolk het Paarlberg nou heeltemal toegevou. Anika kruis haar arms koulik voor haar bors. Sy is hier om vir Piet Summers te sê sy vergewe hom, en ook om ’n nuwe begin saam met hom te maak. Henk Zimmerman het belowe om haar te help; hy is ’n psigiater, hy het baie kontakte. Iewers moet iemand iets weet. Al wat sy vra, is net ’n leidraad, ’n brokkie hoop.

Sy is drie-en-dertig jaar oud, ’n normale vrou wat smag na liefde en vervulling. Henk kan daardie man vir haar wees …

In hul vele gesprekke het sy woorde teen haar vasgeslaan: “Dis beter om te onthou en dit dan te verwerk. Ontkenning bring geen groei, geen genesing nie.”

Dan het sy hom uitgelag, want wat weet hy van die pyn, die haat in haar binneste? ’n Hart het net plek vir een emosie: dis óf haat óf liefde! Haar hart dra swaar aan die haat en veragting vir die vrou wat soveel ellende oor haar gebring het.

“Die lewe is ’n ketting van verlies. Ons sal ons onskuld verloor, en dan ons ouers en ons werk en ons vriende en ons hoop. En ons sal ons hare verloor, ons tande en gesondheid en dan ons lewe,” het hy haar met woorde gepeper. “So vat elke dag vas met beide hande en lééf dit, maak liefde, bemin.”

Sy het met woedende teenantwoorde en -vrae op sy lewensfilosofie gereageer. Wat weet hy tog, dis alles net boekekennis. Hy leef nie haar lewe nie!

Sy skrik uit haar bepeinsing op toe die voordeurklokkie skril deur die aandstilte sny.

Sy herken hulle die oomblik toe die voordeur oopswaai: Abram en Lidia de Villiers – haar pa se naaste bure en Nelis se ouers. Die fletsblou oë van die gryskopvrou is vol vrae, merk Anika dadelik op. Met miskien ook ’n tikkie verwyt daarin?

Lidia tree vorentoe en hou haar hande spontaan na Anika uit. “Dierbare Antjie … Jy’s terug! Net nou die dag nog het ek vir Nelis gesê jy sal terugkom, sodra jy dit uitgesorteer het wat jou hier weggeneem het. Brugstraat nommer een was en is jou tuiste.” Sy draai na die lang man agter haar. “Het ek dit nie gesê nie, Abram?”

Hy knik instemmend.

“Naand, tannie, oom. Kom binne, uit die reën uit.”

Hulle merk die enkele tas wat teen die muur in die portaal staan.

Anika wring haar hande saam. “Wil julle sit?”

Abram skud sy kop. “Nee, dankie. Ons was die hele dag op Nouveau by Nelis, nou is daar nog heelwat aandwerkies om af te handel.”

Lidia knik instemmend. “Maar toe ons die motor met die vreemde registrasienommer voor Piet se deur sien staan en die oop luike … Ons het sommer net geweet die Antjie-kind is terug. Ai, my kind, ons is so dankbaar jy’s vanaand hier in die Paarl, waar jy hoort.”

Sy druk Anika teen haar vas, wat die aanraking net vir ’n kort oomblik verduur, sodat die ouer vrou verplig is om haar te laat gaan.

“Was jy al daar by die hospitaal?” vra Abram.

Anika skud haar kop. “Nee, oom, ek het ook maar kort gelede hier gearriveer. Dankie vir die oproep oor my pa …”

Hy beduie met sy hand. “Dis die minste wat ek kon doen.”

“Waar het oom my telefoonnommer gekry?” vra sy versigtig, agterdogtig.

“By jou pa,” is al wat hy sê.

Deurentyd hou Abram haar dop. Sy het ouer geword, sien hy, met skadu’s onder haar oë. Maar ouer duidelik nie net in jare nie. Daar is lyne om haar mond en oë – tekens van swaarkry. Ten spyte daarvan is sy steeds een van die mooiste vroue wat hy ken. Haar ma se ewebeeld. Haar ontwykende oë en hande wat bly vroetel, verontrus hom egter. Wat sou skeefgeloop het in haar lewe?

Baie nagte wanneer slaap hom ontwyk, dink hy aan sy kinders. Soos enige ander ouer bekommer hy hom oor sy twee seuns. Veral sy oudste seun se doen en late lê swaar op sy hart, maar Nelis gaan stil sy gang, sonder om ooit te praat oor dit wat in sy gedagtes is. Gerhard, daarenteen, is ’n man wat sê wat hy voel, ongeag of hy jou in die proses dalk in die gesig vat.

Maar aan Anika hier voor hom dink hy ook soms. Nelis se maatjie … Sy was soos ’n eie kind in hulle huis. En toe trou Nelis met Bertha Beukman en alles spat uitmekaar. Die Paarl se godin om wie alle jong manne gedraai het. Hy het sy seun probeer waarsku, maar Nelis was verlief tot oor sy ore. En Abram en Lidia kon sien hoe die lig in die oë van Piet Summers se dogter verflou. Hy het met Nelis gepraat en probeer raad gee, maar dié het net gelag en sy gang gegaan.

Soos die dae in maande en jare oorgespoel het, het Nelis in ’n teruggetrokke man verander. Hy het hom hart en siel in sy en Gerhard se boerdery gewerp en al stiller geword. Die kere wat hy Abram-hulle wel besoek, praat hy net oor sy wynmakery, waaroor hy amper fanaties entoesiasties is.

Toe die nuus van Anika se verdwyning rugbaar geword het, het Abram met Piet kom praat. Hy wou weet of hulle met iets kon help, en of Piet darem geweet het waar sy kind is. Sy buurman het egter net by die venster uitgekyk, asof hy onbewus was van enigiemand anders se teenwoordigheid.

Teenoor Nelis het Piet egter ’n totale gedaanteverwisseling ondergaan. Hy het selfs so ver gegaan om Nelis sy huis te belet. Die vreemdste is dat Piet ná daardie konfrontasie handomkeer verander het – nooit weer ’n druppel drank oor sy lippe geneem nie.

Abram het die klein Anika van harte bejammer oor haar pa se drinkery. Toe sy groot genoeg was, moes sy haar pa gaan soek as hy nie huis toe kom nie. Hom menige kere daar by die Gordyntjies-hotel tussen die ander drinkers gaan uithaal. Nie een keer wou sy van Nelis se aanbod om haar pa te gaan soek gebruik maak nie. Piet Summers was háár verantwoordelikheid, háár verleentheid.

“Waar was jy al die jare, Antjie?” vra Lidia met verwyt hoorbaar in haar stem. “Nie eens vir Nelis het jy laat weet waar jy jou bevind nie.”

Anika se wange word warm van die woede in haar binneste. “Waarom sou ek vir Nelis skryf of hom bel? Hy is getroud; ek skuld hom niks! Niks!”

Lidia lyk geskok. “Maar …”

Abram lê sy hand op haar arm. “Nie nou nie, my vrou,” waarsku hy vermanend. “Kom, dis al laat.”

Sy knik geredelik. “Natuurlik,” sê sy dadelik en haak by hom in. “Sodra jy ingeburger is, kom oor vir ’n kuiertjie. Ons het baie geselsies om in te haal,” nooi sy vriendelik.

Anika knik net, groet dan. Sy kyk hulle agterna soos hulle wegstap die donkerte in, tot sy hulle nie meer kan sien nie.

Dan eers maak sy die voordeur agter haar toe en sak daarteen af tot sy op die vloer sit. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd gee sy toe aan die trane wat in haar opstu. Sy wend geen poging aan om die storm in haar te stil nie.

Onthou jy nog die liefde?

Подняться наверх