Читать книгу Onthou jy nog die liefde? - Marlee Tesselaar - Страница 5
3
Оглавление“Nelis de Villiers, jou gemors! Jy sit nie weer jou voete in my huis nie!”
“Hoe nou, oom?” vra hy verslae. “Ek het net gekom om van Antjie te hoor. Waar sy is …”
“Gee pad, De Villiers! Gaan in jou swernoot! Jy het my kind hier verdryf. Jý! Ek soek jou soort nie op my werf nie.”
Vir die eerste keer beskou hy die ouer man voor hom regtig. Piet Summers sien daar verwaarloos uit. Dit lyk of hy dae laas geskeer het en sommer in sy klere geslaap het.
Ek was lanklaas hier, besef hy. Doelbewus het hy weggebly, gedink dis die beste vir almal. Maar gister het sy ma iets kwytgeraak van Anika wat darem nou al lank weg is, dis al maande.
“Wat is fout, oom? Waar is Antjie?” dring hy aan om te weet.
In die diep leunstoel langs die deur sit Piet Summers met ’n bottel drank in sy hand. Hy beduie met ’n gebalde vuis na Nelis, wat nog steeds net buitekant die voordeur op die stoepie staan.
“Anika is weg! Hoor jy? Sy’s weg … Almal het my verlaat. Dié bottel is nou my vrou, die een wat my nooit sal verlaat of dreig om my te verlaat nie. Hierdie bottel vat my weg na ’n plek waar my gedagtes en herinneringe nie kan kom nie. Maar ek wil my bottel-vrou nie meer hê nie. Ek wil my kind terughê. Hoor jy? Voetsek uit my huis uit!”
“Ek is nie ’n hond wat oom kan voetsek nie. Oom kan my nie sonder rede beledig en dan weet ek nie eens waaroor dit gaan nie.”
“Jy was nog altyd ’n gladdebek-donner, kon jou uit enige situasie praat. Wel, nie hierdie keer nie. Ek weet van alles! Anika het geskryf – alles vertel!” Die ouer man is spierwit in sy gesig. “Jy het my mooi, pragtige kind misbruik en toe weggegooi …”
Nelis skrik en is self bleek. “Ek weet nie waarvan oom praat nie,” hou hy verdwaas vol.
“Die aand van jou ramparty … sy het eers in die oggendure huis toe gekom. Sy’t my alles vertel – alles!”
Met moeite dwing Nelis die onthou-gedagtes uit sy kop. “Hoe erg is die skade na sy beroerteaanval?”
Anika trek haar skouers op. “Sover ek gisteraand kon sien, is die linkerkant van sy lyf geaffekteer. In die rukkie wat ek daar by hom was, het hy nooit sy linkerhand gebruik of beweeg nie. Maar sy verstand en spraak is op die oog af orraait. Ek wil vandag met sy dokter gesels om die volle prentjie te kry. Ek weet vir ’n feit dat sulke pasiënte gewoonlik goed op terapie reageer.”
Sy trek haar knieë onder haar ken in; hy loop rusteloos op en af in die vertrek. Skielik steek hy vas en draai met ’n glimlag in haar rigting.
“Onthou jy nog vir oom Bennie Matthee?”
Sy wil eers ontkennend haar kop skud, maar dan onthou sy tog. “Praat jy van die ou oom wat Saterdagmiddae by jou pa gekuier het?”
“Die einste!” Hy uiter ’n laggie.
“Ons het gewoonlik agter die stoepmuur weggekruip wanneer hy by jou pa kuier. Lewe hy ooit nog?” vra sy belangstellend.
“Die ou oom is nog hups, sê ek vir jou! Ja, ons het daar weggekruip om te hoor wanneer begin hy nies van Pa se pyprook en dan poep hy ook.”
Sy glimlag spontaan; hy ruk sy asem onhoorbaar in by die aanskoue van haar skoonheid.
“Hoekom praat jy spesifiek nou van hom?” vra sy.
“Ons, ek en Gerhard, het sy seun aangestel as plaasbestuurder. Die mannetjie is hardwerkend en beslis ’n aanwins vir Nouveau.”
Hy kom langs haar op die rusbank sit en sy deins instinktief terug tot teen die leuning. As hy dit agterkom, laat hy dit nie blyk nie. Daar is net ’n effense frons tussen sy ruie wenkbroue.
“Onthou jy nog hoe my pa altyd in die winter sy partytjiepruik opgesit het om sy kaal kop warm te hou? Hy het soms selfs daarmee winkel toe gegaan,” praat Nelis sommer die gedagte wat hom te binne skiet om die gesprek lig te hou.
Anika het egter genoeg daarvan gehad. “Watse onthou-jy-nog-speletjie is dit hierdie? Jy weet ons onthou presies dieselfde gebeure, so hou op om rowe af te krap. Gister is verby!” Sy spring van die rusbank op en gaan met haar arms voor haar bors gekruis by die venster staan. Sy wil nie nou herinner word aan ’n gister wat hulle gedeel het nie. Want hy is die middelpunt van haar verlede, haar hel!
Nelis kom agter haar staan, maar raak haar nie aan nie.
“Is daar dan sere met rowe, Antjie? Ek het dit nie geweet nie. Ons het alles eenders beleef, eenders oor dinge gevoel.”
Sy tol so vinnig op haar hakke om dat haar hare deur die lug swiep. Daar blits woede in haar oë en hy deins effens terug.
“Staak dit, sê ek jou!”
“Is jy nie ’n bietjie te fyngevoelig oor blote opmerkings nie?”
Hy vat haar skouers vas; sy voel die warmte, die grofheid van sy hande deur haar dun nagklere en ril. Met amperse desperaatheid wring sy haar onder sy hande uit.
“Los my! Jy raak nie aan my nie!”
Hy frons vererg. “Jy oorreageer!” sê hy skerp. “Wat’s fout met jou? Natuurlik is gister belangrik, en om dit te probeer ontken of weg te wens is onmoontlik. Wat gister gebeur het, bepaal tog hoe ons optree, die besluite wat ons neem.”
“Ja, ja …” beduie sy met haar hand.
Hy moet nou ophou, anders gaan sy dinge sê waarvoor nie hy óf sy gereed is nie. Nie nou al nie, nie voor sy al die antwoorde op haar vrae het nie. Die selfverwyt wat aan haar vreet omdat sy haar verantwoordelikheid op iemand anders afgeskuif het, sal haar die res van haar lewe soos ’n bloeddorstige dier agtervolg. Dit bly op haar spoor, soms kan sy die warmte van selfverwyt in haar nek voel blaas; ander kere is sy net van sy teenwoordigheid iewers op die agtergrond bewus.
Sy trek haar kamerjas stywer om haar lyf vas. “Ek het nog baie om te doen, Nelis. Asseblief, jy moet my verskoon,” pleit sy amper.
“Natuurlik,” knik hy geredelik.
Sy stap na die voordeur en hou dit vir hom oop. Hy kom tot by haar en vee ’n haarsliert van haar voorkop weg. Sy aanraking brand haar! Sy durf egter nie enige fisieke kontak tussen hulle duld nie. Hy is ’n getroude man, hy behoort aan ’n ander vrou.
“Kom kuier vir my op Nouveau,” nooi hy gretig. “Ons het nog baie om oor te gesels, jare se belewenisse om oor te vertel en in te haal.”
“Het jy van Bertha vergeet – jou vrou?” vra sy skerp.
Omdat sy so daarop hamer, begin dit hom irriteer. “Bertha … Nee, vir geen oomblik het ek van haar vergeet nie. Maar jy hoef my nie aan my vrou te herinner nie. Bertha is my probleem, my gewete.”
Sy verstaan nie die strekking van sy woorde nie, maar vra ook nie uit nie. Van Bertha Beukman-De Villiers wil sy niks hoor nie. As sy nooit weer nodig het om die vrou se naam op haar tong te vorm nie, sal dit haar perfek pas.
“ ’n Mens los nie ’n klomp afgebreekte drade net so nie; jy probeer hulle knoop, sin daaruit maak. Daar is dinge waaroor ons moet gesels, Anika. Kom kuier vir my op Nouveau – jy ken sekerlik nog die pad.”
“Nee!”
Hy raak ongeduldig. “Jy vergeet ek ken jou te goed. Jy konsentreer op hierdie oomblik baie hard om iets vir my weg te steek. Toe, uit daarmee!”
“Jy praat twak! Wat sal ek nou sodanig vir jou probeer wegsteek?”
“Jy vertel vir my leuens, terwyl ek die waarheid wil weet. Kom kuier op Nouveau,” herhaal hy. “En as Bertha dalk die probleem is: moenie bang wees nie, sy het nog nooit op Nouveau gewoon nie. Dis net ek en Gerhard wat daar boer.”
Sy bly net haar kop ontkennend skud. “Nee!”
“Gaan jy my inlaat in jou geheim? Jy skuld my die waarheid, Anika!”
“Geheim? Watter geheim? Jy praat –”
“Snert, ja, ek weet. Genugtig, Anika, jy’s amper te bang om asem te haal.”
Hy vee met sy vinger oor haar kuiltjie, waar haar pols vinnig klop. Instinktief wil sy wegruk, maar sy dwing haar om sy aanraking te verduur. Desperaat probeer sy haarself oortuig Nelis de Villiers se aanraking beteken niks vir haar nie.
“Kom uit na Nouveau en bewys aan my én aan jouself dat niks van die verlede tussen ons staan nie. For old times’ sake!” koggel hy haar.
Sy antwoord nie en hy lag saggies. “Ek wag vir jou op die plaas – enige tyd, maak nie saak wanneer jy kom nie. Ek is maar heeldag daar in die kelder doenig.”
Hy stap uit en net voor hy die trappe afgaan, draai hy terug en sê: “Dis goed jy’s terug, Antjie. Veral ter wille van jou pa, hy het jou nodig … maar ons ook.”
Dan is hy weg. Sy bly staan met haar hand om die deurknop geknel.
Hy was altyd die leier van sy seunsmaats en sy was sy gewillige volgeling. Ter wille van hom het sy maats haar as deel van die speelgroep aanvaar – dis immers hoe Nelis dit wou hê.
Toe Nelis die voorhekkie agter hom toeslaan, is dit asof hy vir die eerste keer weer onthou om asem te haal. Met vinnige asemteue lawe hy sy longe. Dan eers word hy bewus van die winterkoue en ril; hy rek sy treë na sy bakkie en klim in. Met sy hande rustend op die stuurwiel sit hy sonder om sover te kom om die sleutel in die aansitter te draai.
Die beeld van ’n naakte lyf wat teen syne pas, die geur van parfuum in sy neus, donker hare oor sy bors gestrooi … Dis beelde wat hom nou al jare lank treiter, hom mal maak omdat hy nie die oorsprong daarvan ken nie.
Hy het Bertha elke nag in sy arms vasgehou en dan hierdie drome oor sy droomvrou gedroom. Met sy droomvrou was dit ’n fees en het dit gevoel of sy presies in sy arms pas. By Bertha het hy dieselfde passie en intensiteit gesoek wat hy in sy drome by sy droomvrou ervaar het. En telkens was hy teleurgesteld.
Hy voel weer die bruin hare wat tussen sy vingers deurglip, die geur van haar warm lyf … sy droomvrou. Sy hand wat om ’n vol ronding vou; haar tepels onder sy tong is warm en styf. Fyn, warm hande wat om sy boude vou, hom nog nader aan haar beur.
Hierdie nagmerrie het hom sonder ophou bly teister en dan het hy in die middel van die nag langs Bertha opgestaan en buitentoe gevlug. Bertha het altyd benoud geraak wanneer hy haar te styf vashou. Sy het hom uitgekryt as te vurig en te lastig met sy liefkosings. Al wat hy gesoek het, was oortuiging vir homself: Bertha ís die vrou van sy drome.
Maar Bertha was dit beslis nie, besef hy opnuut. Dit was net gerieflik en sussend vir sy gewete om hom dit te probeer wysmaak. Bertha is nie sy droomvrou van wie se lyf hy nie versadig kon word nie. Die uiteinde was: hy het opgehou probeer om Bertha te bevredig en gelukkig te maak.
Bedags het hy op Nouveau gewerk tot hy te moeg was om te dink of te droom. Dikwels het hy sommer daar in die kelder geslaap. En toe hy eendag onverwags huis toe gaan ná ’n week waarin hy Bertha nie gesien het nie, was daar ’n ander man in sy bed, met sy vrou in sy arms. Die musiek wat effens te hard op die agtergrond gespeel het, het sy teenwoordigheid verbloem. Toe het hy net die deur toegetrek en uitgestap, in sy bakkie geklim en die nag ingery.
Lank sit Nelis in sy bakkie en dink. Dan kom hy tot ’n besluit. Hy skakel die bakkie aan en ry terug in die rigting van sy plaas.
Ek sit vandag met my lewe in my hand en vou dit oop soos ’n stadskaart. Voel met bewerige vingers oor strate, pleine en uitweë.
Anika druk die verseboek terug in die boekrak. Opnuut besef sy hoe waar dié woorde van T.T. Cloete is. Dis sinneloos om langer te probeer om die ompad te loop. Hierdie pad waarop sy nou is, moet sy enduit stap, met een doel voor oë. Hulle behoort aan haar … háár vlees en bloed, die kinders van haar lyf.
Sy stap uit op die stoep en gaan sit in die tuin. Genadiglik het die wind wat in die nanag begin waai het, nou effens bedaar. Die lug is egter nog betrokke en dit ruik na reën.
Langs haar op die bankie lê die speelgoedteddiebeertjie wat sy gisteraand in haar slaapkamer se kas ontdek het. Traag draai sy haar kop en kyk daarna. Haar ma het dit nog vir haar gegee, onthou sy. Dit was ’n afskeidsgeskenk vir ’n klein dogtertjie wat nie kon verstaan waarom haar ma haar nie wou saamneem nie.
Sy tel die beertjie op en bekyk dit. Dis al effens gehawend van die baie hanteer.
Onthou jy nog, Ma? Met ’n kreet gooi sy die speelding van haar weg. Wel, ék onthou nog!
Daardie dag het die wind ook so aan die deure en vensters geruk, sonder ophou. Klein Anika was bang, want sy was alleen in die groot huis met sy krakende vloere en dak. Met die nuwe speelding styf in haar arms vasgedruk het sy in haar pa se stoel in die sitkamer gaan sit. Wagtend op haar ouers om huis toe te kom.
Sy skud haar kop ergerlik om van die seerkrygedagtes te probeer ontvlug. Sy vee haar natgeswete hande, ten spyte van die winterkoue, teen haar langbroek droog. Dis asof sy haar pa weer duidelik op die rand van die groot bed sien sit daardie aand. Sy lyf ruk, maar hy maak geen geluid nie. Dan skielik uiter hy ’n noodkreet soos ’n gekweste dier en met ’n kragwoord op sy lippe skeur hy iets tussen sy groot hande stukkend.
Verskrik het sy teruggehardloop na haar slaapkamer. Die donderweer het gedreun en sy het bang met haar kop onder die kussing ingekruip. Sy was maar net vier jaar oud, maar sy het besef sy moet hom nie op daardie oomblik pla nie.
Die volgende oggend het sy glasskerwe in die vullisdrom in sy slaapkamer gesien; op die bedkassie het ’n bottel en ’n glas gestaan. Die papier wat sy hom die vorige aand sien skeur het, was ook daarin. Sy het op haar knieë langs die vullisdrom gaan sit en die papiertjies een vir een uitgehaal.
In haar slaapkamer het sy dit aanmekaargepas tot dit ’n prentjie gevorm het – die laggende gesig van haar ma. Die vrou wat belowe het sy kom haar haal.
Wanneer, Ma? Dis nou al baie jare later en daardie belofte is nog steeds uitstaande!
Sonja Summers, die vrou wat haar pa nooit kon vergeet nie … en sy ook nie. ’n Ma vergeet nooit die kind wat haar liggaam gedra het nie. Net so vergeet die kind ook nooit die ma wat hom of haar in die lewe gebring het nie.
Laatoggend klim Anika in haar motor en ry hospitaal toe. Vandag wil sy met die dokter praat oor die versorging van haar pa. Sy glo nou eenmaal ’n pasiënt sterk vinniger aan by sy eie huis. Alhoewel sy nie vir ’n onbepaalde tyd in die Paarl kan vertoef nie, weet sy sy kan haar pa tuis dieselfde versorging gee as wat hy tans in die hospitaal kry.
Nou is eintlik ’n baie kritieke tyd vir haar. Sy kan nie toelaat dat daar sand waai oor die spoor waarna sy soveel jare gesoek het nie. Die aand wat oom Abram haar geskakel het met die nuus van haar pa se beroerte, het sy net minute gelede eers tuis gekom. Vroeër die aand het sy buite Henk Zimmerman se huis verskuil agter bome in haar motor gesit en wag. Die een of ander tyd, het sy geweet, sou hy haar reguit na die vrou lei na wie sy al ses jaar lank soek.
En hy het haar ook nie teleurgestel nie. Sy het skaars haar wagpos ingeneem, of hy het by die hek van sy huis uitgedraai en sonder om links of regs te kyk by haar verbygery. Met straaltjies sweet wat teen haar wange afloop, het sy hom op ’n veilige afstand gevolg, tot by die hospitaal.
Sy ken die opset van ’n hospitaal en dit was nie moeilik om inligting uit die sekuriteitsbeampte by die ontvangstoonbank te kry nie. Sy het bloot die selfoon in haar hand vir hom gewys en gesê sy is dokter Henk Zimmerman se metgesel. Sy selfoon het gelui terwyl sy buite in die motor vir hom gewag het terwyl hy sy vrou, Petro de Klerk, besoek. Dis ’n dringende boodskap oor ’n pasiënt van hom. Sonder om te huiwer het die ouerige man agter die toonbank op ’n lys gekyk en die saal- en kamernommer vir haar gegee.
Die oomblik toe sy A3 op die deur van die privaat hospitaalkamer lees, wou sy daar instorm en die vrou aan die keel gryp, maar sy het haar bedwing. Sy het in die damesbadkamer geskuil tot die skril gelui van ’n klokkie die einde van besoektyd aangekondig het.
Toe sy Henk in die gang sien afstap, het sy vinnig by die kamer ingeglip. Sy maak die deur versigtig oop en druk dit net so sag agter haar op knip. Toe sy omdraai, herken sy dadelik die vrou wat teen die wit laken lê. Haar gesig is vervalle en uitgeteer, die oë toe en ingesonke in die oogkasse, merk sy sonder enige meegevoel op.
Sy moet haar bedwing om nie aan die gil te gaan en vorentoe te storm nie. Haar hart klop met swaar slae; haar tong kleef aan haar verhemelte vas. Onthou breek in haar oop. Dit was ses jaar gelede wat sy ook in hierdie vrou se gesig gekyk het, met soveel dankbaarheid en vertroue. Nou is die enigste gevoel in haar een van veragting en haat. Petro de Klerk het haar lewe, haar hoop, haar vlees geroof. Al moet sy ook met haar kaal hande die bekentenis uit hierdie vrou wurg, sal sy dit doen.
Die maer vrou wat teen die kussings sitlê, raak bewus van iemand se teenwoordigheid in die kamer. Haar oë gaan oop en oor die kort afstand kyk hulle mekaar net aan. Lees sy iets soos herkenning in die glasige oë? dink Anika. Of verbeel sy haar dit net? Wat as Henk tog reg is dat die vrou se brein só deur kanker aangetas is dat sy haar nie meer sal herken nie?
“Wie is jy? Waar is Henk?”
Sy tas na die noodklokkie, maar dan is Anika langs die bed en ruk die klokkie tot buite haar bereik. Sy buig nader na die vrou se gesig, tot haar gesig amper teen die uitgeteerde gesig gedruk is. Sy sien die uiterlike tekens van chemoterapie: die verdonkering van die te droë vel, die yl hare en tong wat aanhoudend oor die lippe lek.
Haar verpleegstersoog mis niks van die agteruitgang in die lyf van die vrou voor haar nie. Maar vanaand is sy nie daardie mens wat ’n eed afgelê het om te genees en te versorg nie. Vanaand is sy net ’n vrou wat haar wil wreek op die een wat haar te na gekom het, van haar gesteel het.
“Jy onthou my, dokter De Klerk, so staak jou speletjie! Jy kan vir Henk flous, maar nie vir my nie. Want weet jy hoekom?”
Die vrou lê haar net en aankyk, maar daar is ’n duidelike terugdeinsing in haar liggaam. En Anika mis dit nie.
“Weet jy?! Omdat ek jou ken, weet hoe slu en wreed jy is. Jy is ’n slang, Petro de Klerk! Jy is besig om dood te gaan en ek is bly!”
Die vrou teen die kussings praat asemrig: “Ja, die kanker het my finaal ingehaal. Maar jy is ’n verpleegster; jy behoort meegevoel met ’n pasiënt te hê.”
Anika lag skril, lelik. “Meegevoel? Hoe durf jy van alle mense praat van meegevoel vir ’n ander! ’n Duiwel soos jy wat my kinders gesteel het? My klein Sonja, weet ek nou, is by Henk se ouers in Australië. Maar waar is my seun? Ek gaan môre my prokureur sien om Sonja terug te kry in die land. Sy is mý kind, nie joune nie.”
Die vrou beur weg van die kussings. “Nee, ek sal dit nie toelaat nie. Sonja is myne!” Die glasige bruin oë skitter nou met ’n abnormale glans. “Henk sal dit nie toelaat nie, Sonja is ons kind! Sy ken jou nie …” Die maer, vervalle gesig vertrek asof sy wil huil. “Los haar uit!”
“Nee, sy is nie jou óf Henk se kind nie! Sy is mý baba wat jy gesteel het. En ek sal alles in my vermoë doen om dit te bewys.”
“Die dokumente wat jy geteken het …”
“Het jy my onder valse voorwendsels laat teken en ek sal dit ook bewys,” praat sy teen haar beterwete. “Geen hof sal ’n ma en haar kind uitmekaar hou nie. En Henk sal teen jou getuig – hy glo my.”
Petro de Klerk lê haar kalm en aankyk. “Jy is nog steeds die naïewe dwaas wat jy destyds was. Glo alles wat aan jou opgedis word. Luister nou en luister goed: Henk behoort óók aan my!”
“Dis nie waar nie, julle is geskei,” sê-vra Anika effens onseker. “Hy het nie geweet van alles wat jy gedoen het nie.”
“Wel, ís ons geskei? En hoe sal jy vir seker weet my liewe man dra nie kennis van alles nie?”
“Hy het my dit verseker …”
Sy beweeg haar kop teen die kussings en lag geamuseerd. “Hy kan baie oortuigend wees … as hy moet. Vroumense, ek inkluis, sal enigiets vir hom doen. Enigiets!”
“Soos om my Sonja te steel?”
“O, maar dis waar jy verkeerd is. Jy het Sonja aan my verkoop.”
Anika is grysbleek. “Jy is van jou verstand beroof! Ek sal nooit-ooit, hoor jy, my kind verkoop nie! Jy gaan nie hiermee wegkom nie. Noudat ek jou opgespoor het, is dit net ’n kwessie van tyd voor ek my kinders weer by my het.”
“Bly stil! Ek weet niks van jou kinders af nie!”
“Waar is my seun, vroumens? Waar ís hy?”
Petro de Klerk antwoord nie. Sy probeer desperaat om die klokkie in die hande te kry, maar Anika druk dit weer buite haar bereik.
“Jy is ’n wrede monster, Petro de Klerk! Ek sal nie rus voor my kinders uit jou kloue is nie. Ek wil nóú weet waarheen jy my seun gevat het. Vir wie het jy hom gegee? Praat, jou duiwel!”
Die natgeswete kop teen die kussings beweeg ontkennend. “Nee, ek is nie!”
“Wat?”
“Jy noem my ’n monster en ’n duiwel. Ek is net ’n vrou wat liefhet.”
“Jy weet nie wat die woord liefde beteken nie. Wat jy aan my gedoen het, was so wreed, so veragtelik. Jy is mal!”
“Die kanker is besig om my brein aan te tas, ja, maar ek is nie mal nie. Ek weet nie waar jou kind is nie. Jy sal hom nooit kry nie. Nooit nie, hoor jy!”
“Jy móét weet! Jy het hom gesteel. Sê my hy lewe nog! Sê dit! Of het jy hom doodgemaak? O Here, nee …”
“Ek het niemand doodgemaak nie.”
“En my klein Sonja?”
Petro kyk weg. “Ek kon hom nie ’n kind gee nie en hy wou een hê. Sonjatjie lyk soos hy met haar donker haartjies en groen ogies. Dit was so verspot maklik om jou ’n gat in die kop te praat, jou naïewe sot! Jy kon in elk geval nie vir hulle sorg nie. Jy was depressief en wanhopig, jy kon nie ophou sanik oor ’n man wat jou in elk geval nie wou hê nie. Ek het jou kinders eintlik ’n guns bewys om hulle van jou weg te vat. As ek vandag weer so ’n besluit moet neem, doen ek presies dieselfde. Henk is gek na sy meisiekind. Hy sal haar nooit aan jou afstaan nie. Nooit!”
“Nee! Nee! Nee!”
Anika verloor beheer oor haar emosies. Haar hande sluit om die keel van die vrou met die grynslag op haar gesig. Haar vingers sak weg in die droë vel en sy lees die paniek in die glasige oë. En sy druk nog harder.