Читать книгу Soos honde van die hemel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 4

Een

Оглавление

Ruud klim uit sy motor en kyk om hom heen. Aan die onderent van Avonstraat hang ’n groot wit maan laag teen die ooste. ’n Kat wat skigtig agter ’n boom uit te voorskyn kom, kyk hom oomblikke lank bewegingloos aan. Sy oë glim in die flou straatlig. Maar toe Ruud buk en hom wil aanraak, skiet hy geruisloos in die donker weg.

Toe eers word Ruud bewus van geluide om hom. Die deur­dring­ende stem van ’n televisie-nuusleser agter toegetrekte gordyne, op­was­geluide deur ’n oop kombuisvenster, ’n vrou wat iemand dreigend aanspreek …

“Lossit nou vi my, Cilla, djy moet maak lat djy byrie wêk kom!” Oumie se stem is skril.

“Mammie … ie … ie!”

“Nikse ge-mammie nie, weg is djy!”

Die voordeur klap so hard dat Roedie die hoenders in die agter­plaas onrustig hoor krys.

“Blerrie astrant!” mompel ouma Dais toe sy na sy en oompie Willy se kamer toe aankom.

Hy maak of hy slaap toe Oumie inkom, maar hy mislei haar nie. “Roedie, djy moet opkom, my boytjie, annerster ry Mister Boddington siekelik sonner djou skool toe vimôre!”

Aan haar vingers wat teen sy gesig raak, ruik hy die knoffel wat sy gesny het.

Ruud bly staan en kyk na waar lig uit die smal venster by nom­mer 12 oor die tuintjie na die stoep toe streep. Hy ruik die jare se digte bank verrotte dennenaalde wat teen die draadheining van die parkie lê. Hy knyp sy oë vinnig toe asof iets verblindends hom te binne skiet en vee met sy hand oor sy mond.

Toe Oumie oor hom leun, slaan hy sy arms so angstig om haar nek dat sy byna haar ewewig verloor en op hom val. Hy voel hoe sy skrik. Haar deinende bors is sag soos ’n kussing teen sy gesig. Sy het nog haar nagruik. Dit wil hom laat huil.

Maar toe hy aan haar bly vasklou, sê sy half driftig: “Djy moet nou groot djongetjie raak, Roedie, djou mammie sillit nie laaik is sy trugkom en djy gedraag djou soes ’n bybietjie nie! Djy’s mos oekal darem siewe djaar al! Kom nou!” Maar sy wieg hom in haar arms, hou sy kop teen haar skouer vas.

“Ek wil nie in dié kamer slaap nie, Oumie,” sê hy skaars hoorbaar teen haar nek.

“In vir wat nie?”

“Ek’s bang hieso.” Hy sê dit, indien moontlik, nog sagter.

Sy druk hom van haar weg. “En vi wat sil jy bang wies hieso, Roedie! Hie slaap djou oempie Willy oek nog iedere nag by djou! En tewyl ons anne oek almal hieso is! Ek en Oupie en Mavis en Cilla en Djaney! Agge nie, kom nou, vi wat sil djy nogal voor bang wies, hè? Djy was nog noeit hieso bang nie!”

Sonder om sy oë oop te maak, sê hy: “Ek wil weer by Oumie en Oupie kom slaap.”

Sy word radeloos, voel hy aan die manier waarop sy hom skud. “Maar, Roedie! Ag nie, kom nou, djy’s vispot nou. Djou pappie sillit nie laaik lat djy deerentyd by ons slaap nie! Staan nou op vir Oumie, toe, djy gat laat wies vi skool! Kom nou, my bybietjie, ons praat vinaand weer, gehoor?”

Toe sy die beddegoed van hom wegtrek, voel hy die lug koud op sy nat klere. Hy krimp voor die skrik in haar gesig.

“Roedie! Hoe het djy dan nou in djou kooi in gepie?” Hy voel hoe sy gesig vertrek om te huil en sy vat vinnig aan sy skouer. “Toemar, dis maar niks die ou iene keertjie nie. Mar as djy in die nag closet toe moet gan, dan kin djy mos net vi djou oempie roep! Hy sil mossie mindtie, my boytjie, hy lê dan hieso vlak langes djou in sy kooi in! Of Oumie kin vi djou ’n piepotjie ok hie sit, nè!”

Terwyl hy sy pap in die kombuis eet, hoor hy haar buite in die agterplasie waar sy die uitgespoelde beddegoed tussen die vye­bome uithang. Sy praat met Oupie: “Daar’s moeilikgeit met die kind, Saulus! ’n Kind van sy oudedom pie nie somme viniet in sy kooi innie!”

“Dis oorlat sy ma weg is.”

“Moenie ridiculous wiesie, Saulus! Sy ma is al wie weet hoelank weg, in nóú doet hy dit! Djy moet vi my hoor, dis anne moeilikgeit!”

“Soes wat, Dais?”

“Hoe sil ekkit miskien wiet, Saulus! As ek gewiet het, het ek da siekelik iets an gedoen! Kin djy wiet!” Sy klap die nat laken venynig uit voor sy dit oor die draad gooi.

Nou stap Ruud oor die straat tot by die huis. Hy kan sien dis nie meer dieselfde vensters van vroeër nie, al het die restoureerder dit klaarblyklik pynlik korrek probeer nadoen. Maar dit het hy die vorige kere al gemerk. Sedert hy ’n week gelede in die land aangekom het, het hy al drie of vier keer hier verbygery.

Eers toe gewaar hy beweging agter die glas. Hy tree verskrik in die betreklike donkerte van die straat terug en sien dit is ’n vrou wat besig is om ’n Kersboom te versier.

Daar op die juiste plek waar oompie Willy se bed vroeër gestaan het. Langs syne. Hy byt magteloos in sy kieste toe hy die trane in sy oë voel skiet.

“Gekke jongen, wat kan jij tog overal over stotteren! Op jouw leeftijd!”

Hy kan Michaela se gesig in die donker teater nie goed onderskei nie, maar hy voel aan sy speel met hom.

“Ben altijd so ontzettend vertedert door muziek …” fluister hy ver­leë terug.

“Door álles!” sê sy en dié keer hoor hy geïrriteerdheid in haar stem en hy klem haar hand vaster.

In die eerste jare van sy lewe het hy en sy ouers altyd sonder uit­sondering hierheen gekom met Kerse. Sy grootouers was Kriste­like mense. Sy Hollandse pa wou nie Kristelik wees nie, maar sy skoonfamilie se manier van doen met die feestyd het hom tog aan­gestaan. Miskien het dit op ’n manier sy verlange na sy eie mense in Holland effens getroos. Hoe ook al, Kersnag as almal al wou rus hê, het hy die“Wilhelmus” hoogdronk op die agterstoepie sit en sing.

Ruud dink aan die klein kersies in blikblakertjies wat hy met Oumie se bystand aan die dennetakke mog vasknyp. En die twee wondermooi glasvoëltjies met hulle kleurryke sterte van regte vere. Maar dié het sy self versigtig vasgesit. Hoog bokant bereik van sy handjies.

Oukersaande het hy op Oumie se skoot aan die slaap geraak lank voor die Kersverhaal uitgelees was. Haar sagte borste en maag was ge­rus­stellender teen hom as sy ma se stywe jong lyf. Dan het hy net half wakker geword as die straatsangers middernag Kersliedere wee­moedig by akkordeon voor die deur sing en Oumie uitgaan om vir hulle gemmerbier en koek te gee.

“Lat die kind nou mar by ons in die kooi in lê, Shireen, die man is byte kennis weer!”

Ruud tree behoedsaam vorentoe om na die vrou agter die ruit te kyk. Dis ’n natuurlike boom waarmee sy te make het. Eintlik maar ’n tak, ylerig en effe vooroorleunend sodat sy sigbaar moeite het om die versierings aan die slap punte gehang te kry.

Anders was die sterk jong boompies wat Oupie altyd by Mister Punt gaan kap het en waarna die hele huis geruik het. Gemeng met die geur van kerswas en sterk gekruide kos en baie mense.

Die vrou is klein van gestalte met ’n digte bos bruin hare wat haar gesig van die straat af onsigbaar vir hom maak. Sy werk met ver­bete konsentrasie en dis nie die gewone klaterstringe en balle wat sy hang nie. Hy sien geïnteresseerd dit lyk na handgemaakte lap- en houtitems. Balsahout moet dit wees, want dit is duidelik byna gewig­loos. En vreemd ingewikkelde sterre hang sy op, skynbaar uit strooi­halms geknoop. Op die lae vensterbank lê ’n dennekrans. Twee van die dik wit adventkerse brand. Die vlamme flikker teen die ruit.

Hy hoor ’n motor in die straat aankom, en gee haastig voor die venster pad. Wonder angstig of iemand gesien het hy staan so lank daar na die vrou en kyk. Dan gaan hy sonder meer na die voordeur. Daar hang ’n Kerskrans, kunstig van lap en dennetakke inmekaar gevleg, van dié wat hy uit Europa ken. Wanneer hy die koperklopper twee keer op die deur laat val, begin ’n hond binne amegtig blaf.

Die deur was vroeër ook groen. Soveel lae oormekaar geverf dat hy soms klein repies afgetrek het om lekker daaraan te snuif. Net soos hy die stopverf uit die vensterrame losgewerk het as niemand kyk nie. En dan weke lank in sy broeksakke loop en knie het.

Dan het die fyn pootjies soms teen sy lieste begin oploop.

Die deur word byna onmiddellik oopgemaak. Daar is nie die ver­sperring van ’n ysterhek of ’n veiligheidsketting nie. Net soos daar voor die vensters ook geen tralies is nie. Die vrou wat hy deur die venster gesien het, tuur bysiende uit die verligte vertrek na die don­ker buite. Soos een wat “Ja?” wil vra, maar dit in dié geval nie uit­spreek nie. Langs haar verskyn die kop van ’n ou hond wat hy hoor blaf het, afwagtend, grys om die bek van ouderdom, die oë dof. Die vrou hou hom aan sy nek teë.

“Goeienaand?” sê sy toe Ruud hom nie dadelik aanmeld nie. “Kan ek help?”

“Ek is jammer om u so laat te pla, goeienaand …” Hy is onseker oor hoe hy die rede vir sy koms moet verduidelik.

Daar kom ’n mate van wantroue in haar gesig en haar hand vat die hond se nek effens vaster. “Ja?”

“My grootouers het baie lank gelede hier gewoon en ek het ge­wonder …” Hy begryp terselfdertyd dat dit soos ’n voorbedagte verhaal in dié tye van geweld moet klink.

Tog is dit asof sy dit aanvaar, want haar mond verslap en sy glimlag effe. Maar sy maak nie die deur wyer oop nie. “U wou die huis gesien het?”

“Dis veel gevra, ek weet, van iemand wat u van geen kant ken nie.”

Sy huiwer net ’n oomblik. “Ek wou eintlik nog altyd graag iets van die plek se vroeë geskiedenis weet …”

“Ek kan môre in die daglig terugkom.”

Maar sy maak meteens die deur heeltemal oop. “Nee, kom tog asse­blief in. Verskoon dat ek …” sy wuif verduidelikend met haar hand, “ons leef bietjie in moeilike dae.”

“Ek is jammer,” sê hy verleë. “Ek moes eers gebel het, maar ek weet nie hoe u heet nie …”

“Nee, nee, kom in.”

Hy val byna oor die ou hond toe hy langs haar om binnekom.

Eers nadat hy gaan sit het, kan hy na die vertrek kyk. Só vreemd is dit dat hy sy asem hoorbaar intrek.

Sy sien die ontreddering op sy gesig vir verbasing aan en lag. “On­herkenbaar seker.”

Hy sluk. “Ja, dit as bepaald heel anders vroeër. Maar dit was na­tuurlik meer as veertig jaar gelede.”

“Veertig,” herhaal sy vol ontsag.

Hy knik.

Sy het nie gaan sit nie en kyk hom effens ongemaklik aan. “Kan ek iets bring om te drink?”

Hy kom meteens tot homself, staan op en hou sy hand na haar uit. “Verskoon my! Ek is Ruud van der Meijde.”

“Anne,” sê sy en neem sy hand. “Jy is Nederlands?”

“Is die aksent so herkenbaar?”

“Ek is bevrees ja. Maar jy praat Afrikaans?”

“Ek is hier gebore. Sestien jaar oud geword. My ma was ’n Kleur­ling hier van die Kaap.”

Sy vryf haar hande ingenome. “Dan word dit interessant.”

“Hoeso?”

“Omdat ek waarskynlik só meer van die huis se storie te hore kom. Almal weet tog dat hier altyd mense van kleur gewoon het.”

Hy hoor die mense-van-kleur en grimlag.

Sy sien dit en vra met groter vrymoedigheid: “Koffie?”

“Graag.”

Hy kyk haar agterna toe sy in die oop kombuis verdwyn. Sy het verslete jeans en ’n groot T-hemp aan. Op ’n stoel langs ’n lamp lê ’n omgedopte boek met ’n bril daarop.

Dan is dit asof hy genoeg moed het om werklik die vertrek te be­kyk.

Net die vuurmaakplek is nog waar dit altyd was, al is dit nie meer dieselfde kaggel nie. Dis nogtans een vertroude herinnering in die groot vervreemding. Bietjie chaoties lyk dit eintlik met die eerste oogopslag. Maar ’n soort gerusstellende chaos. Dis vir hom asof daar in elke hoek van die langwerpige vertrek met ’n nuwe tema begin is wat nooit heeltemal uitgewerk word nie. Tog voel hy ’n sekere ver­troosting in die plek aan.

Hy kyk na die venster aan die oostekant waar hy en oompie Willy geslaap het. Die muur word geheel en al deur rakke vol boeke van alle groottes en tipes in beslag geneem. Alleen in die middel word die rye rakke deur ’n langwerpige spieël verbreek. Daar voor brand ’n bos kerse langs ’n koperbak met hortensies.

In die hoek staan die boom wat sy besig was om te versier en die mandjie met die ou hond.

“Saulus, sil djy die djongetjie nou in die kooi in loep sit, ek kry hom môre weerie oppie!”

“Ons is ampe yt mettie vihaaltjie, Dais. Gie kaans.”

Hy woel hom digter teen Oupie se growwe baadjie aan en ruik daarin die terpentyn waarmee hy die verfkwaste skoongemaak het. Hy dink aan Wolf en Jakkals waarvan Oupie vertel het, nie aan sy bedjie langs oompie Willy s’n nie.

Uit die kombuisie waar sy staan en wag dat die koffie deurdrup, kyk Anne na die onbekende man wat sy sommer in haar woonkamer laat kom sit het. Sy sien die wisseling van emosies oor sy gesig gaan en voel ’n geneentheid vir hom in haar opkom.

Dis sy mond wat haar die meeste opval. Byna te sag, te vol vir ’n man.

Jonk is hy lank nie meer nie. Ouer selfs as wat sy aanvanklik ge­dink het. Tog is daar iets jeugdigs aan hom. Aan die manier waarop hy gretig soos ’n kind om hom kyk. Sy vingers wat hy teen sy lippe druk. Die warrige krulhare wat grys én blond is. Maar veral aan sy mond.

Hy kyk meteens op in haar oë. “Baie interessante vertrek.”

Sy glimlag. “Dis vriendelik gestel.”

“Hoe lank bly jy hier?”

“Byna sewe jaar.”

“Het jy dit alles so laat verbreek?”

Sy skud haar kop en haal die koffiepot uit die masjien. “Nee, dit het die oorspronklike restoureerders gedoen. Ek het net die muur tussen die kombuis en die woonkamer laat uitbreek dat dit ruimer voel. En die arch in die gang gesit.” Sy beduie.

Hy staan op om te kyk. “Netjies gedoen.” Hy kom oor die toonbank leun en bekyk die room en bruinpienk van haar knus kombuisie kop­knikkend.

“Dankie, maar ek is maar amateur, ’n restoureerder proper sal seker stuipe kry as hy moet sien wat ek hier binne gedoen het.” Sy byt op haar vinger wat sy teen die kant van die koffiepot gebrand het. “Kan ek vir jou koffiemelk ingooi?”

“Ek het nie geweet dat daar koffiemelk in dié land te kry was nie …?”

“Nee, ek noem dit maar so ter wille van jou afkoms. Dis gewoon ingedampte melk.”

“Gooi maar in. Nie veel nie.”

“’n Wolkie?”

“Ja, ’n wolkie. Wat weet jy van koffiemelk en ’n wolkie? Ken jy vir Nederland?”

“Jaar lank daar ge-au-pair. Maar dit was in die gryse verlede.”

Hulle neem elkeen hul koppie en gaan sit. Die behaaglike geur van gemaalde koffie hang sterk in die lug.

Sy sien hy dra ’n tipies Europese verkreukelde katoenbaadjie en groot plooierige broek en insteekskoene. Toe hy opkyk, sien sy hoe erg blou sy oë is.

“Is jy ’n seeman?” vra sy.

Hy kyk verbaas oor sy koppie op. “Nee, goeie hemel, hoekom dan?”

“Oor jy so bruin is en sulke blou oë het.”

Hy snuif bietjie sarkasties. “Daarvoor had ek tog ’n vrou van kleur ter ma en ’n blonde Hollander ter pa.”

“Mammie kinnie sê lat die kindtjie Coloured issie!”

“Bepaal djou by djou eie dinge, Cilla!”

“Is Oumie Coloured?” vra hy en kyk vir haar oor die rand van sy bekertjie melk.

“Oumie is Coloured, my boytjie.”

“Wat is Coloured, Oumie?”

“Hotnot,” sê Cilla en hardloop by die agterdeur uit, want Oumie het klaar die vadoek opgetel om na haar te klap.

Hulle drink hulle koffie ’n paar oomblikke in stilte.

“Wat doen jy dan as jy nie vaar nie?” vra sy lig, bang dat daar ver­leentheid in die gesprek kan kom.

“Ek doen hoofsaaklik fotoartikels vir tydskrifte. Vryskutwerk dees­dae. Ek is amptelik op pensioen wat Nederland betref.”

“Wat ek hier in jou grootouers se huis gemaak het, val seker swaar op die oog van ’n fotograaf? Dis so sonder komposisie …” Sy klink ietwat op die verdediging.

“Nee,” sê hy. “Nee, om die waarheid te sê, ek vind dit hier ’n ge­sellige atmosfeer.”

Haar gesig verkleur effens. “Maar dit moet so hééltemal anders wees as toe jy hier gewoon het.”

“Dit is. Maar ek voel nie ontuis hier nie.”

Hulle oë ontmoet vlugtig en sy vou haar hande om haar koppie en bring dit na haar mond. “Is dit die eerste keer dat jy weer terugkom in Suid-Afrika?”

“Ja,” sê hy, “en nou lyk dit my so ’n geskiedkundige tyd.”

“Soveel sinlose geweld,” sê sy en ril.

“Ja … En ek het seker ook maar nóú juis teruggekom, soos an­der mense ook, om te kom vrede maak met ’n stuk van my eie ge­skiedenis.”

Sy knik. “Sommige gaan en sommige kom.” Sy kyk reguit na hom.

Hy voel byna die vrymoedigheid om te sê sy het mooi oë, maar hy vind tog dat dit onvanpas sou wees.

Die groot mandjie kraak terwyl die ou hond moeisaam daarin omdraai. Hy tjank effens.

Sy kyk om na die hond. “Hy is baie oud, en hy is blind.”

“Hoe oud?”

“Veertien jaar. Dis al twee jaar dat hy blind is. ’n Motor het hom hier voor die huis gestamp.”

“Ek dink dat ’n mens baie lief moet wees vir diere om ’n ou, blinde hond aan te hou …?”

Sy glimlag en laat die koppie op die piering in haar skoot sak. “Ek is baie geheg aan hom, ons kom ’n ver pad saam.”

Teen die muur tik ’n mooi ou slagklok afgemete. Elke kwartier meet hy die hol klanke van die Westminster-klokkespel plegtig af.

“Bly jy heeltemal alleen hier?”

“Net ek en Alexander.” Sy wys na die hond.

Toe die hond sy naam hoor, lig hy sy kop. Sy fluit saggies en hy verstaan dit, staan styf op uit sy mandjie en kom na haar toe. Hy lê sy groot kop in haar skoot en sy vryf sag aan sy ore.

Ruud hou hulle dop. “Is jy nie bang om alleen te bly in hierdie tye nie? Hy sou jou nie veel kan beskerm nie?”

“Nee, ek is nie bang nie. En ek het ’n seun nie so ver hiervandaan nie. As die nood hoog word, bel ek hom.”

“Wat doen jy, Anne?”

“Ek is ’n onderwyseres.”

“Afrikaans?” raai hy.

Sy knik. “Wou jy graag die huis sien?”

“As dit moontlik is.”

“Natuurlik. En as jy dan vir my kan vertel hoe dit vroeër was …”

Hy staan op. “Hierdie was twee vertrekke, met ’n nou gangetjie van die voordeur af tussenin.” Hy beduie. “Hierdie een was groter, my ma se jonger susters het hier geslaap. Daar waar jou Kersboom staan, het ek geslaap …”

Sy soek in sy gesig na die oorsprong van die klank in sy stem, maar sy oë ontwyk hare.

“Dit klop,” sê sy. “Volgens die ou planne was dit twee vertrekke. Die vorige eienaar het die middelste muur laat uitbreek.”

“Daar waar jou kombuis is, was wat ons die dining room genoem het.” Hy frons. “Maar dit was tog heelwat groter, want my grootouers se slaapvertrek was daaruit afgeskort …”

“Saulus, die kinnes hoor vi djou …!”

“Dis reg.” Sy wag tot hy weer na haar kyk voor sy verder praat. “Die vertrek is in twee verdeel. Ek gebruik die agterste deel vir ’n stu­deerkamer. Kom kyk.”

Hulle stap in die gangetjie af en sy skakel die lig vir hom aan. Daar is ’n intieme rommelrigheid van skrifte, teksboeke, potlode en penne, geraamde familiefoto’s en plante.

“Ja, hier het hulle geslaap, maar hier was ’n venster op die agter­tuintjie. Die huis het hier opgehou.”

“Jy’s reg. Die agterste twee slaapvertrekke is ook deur die ontwikke­laars aangebou. Hulle het die gang laat deurbreek. Mens kan hier binne doen wat jy wil, solank die fasade onaangeraak bly.” Sy stoot die deure van die twee vertrekke vir hom oop, maar sy skakel nie die ligte aan nie. Deur die vensters val die maanlig oor die beddens.

Hulle draai terug in die gang. “Wat het van die kombuisie ge­word?” vra hy.

“Hier.” Sy maak die raampiesdeur op ’n patio oop.

“Dis reg,” sê hy langsaam.

“Mammie wil oek noeit niks glo van boetie Willy nie.”

“Boetie Willy is djou groet broe, Djaney, sy doenings en latings het niks met djou te make nie. Djy moet respekte vi hom oepenba.’

“Mar, Mammie …!”

“Nikse ge-mar-mammie nie.”

“Lossit dan.”

Hy sit langs Oumie op die rusbankie en ryg die blink draadjies versigtig uit die kussing se fraiings sonder dat sy dit sien en lê hulle langs mekaar op sy knieë neer.

Hy draai na haar toe. “Dankie dat jy my laat sien het. Sommerso ’n wildvreemde deur jou huis geneem het.”

Sy merk sweetdruppeltjies op sy bolip en moet haarself daarvan weerhou om aan sy arm te raak. “Kom, daar is nog ’n bietjie koffie.”

“Dankie.”

Toe hulle weer met hul koppies sit, vra sy: “Vertel my hoe dit gekom het dat jy hier by jou grootouers gebly het.”

“Dis laat,” sê hy onoortuigend, “en jy was nog jou boom aan ’t versier.”

“Maak nie saak nie. Môre is nog ’n dag.”

“Ek het nie permanent hier gewoon nie, maar wel heel dikwels wanneer my ouers in die buiteland was. My pa was in die diploma­tieke diens. By die konsulaat hier. Hulle was maar vier personeel­lede in daardie tyd. Hy was hier tussen 1931 en 1944. Toe het hy die diens verlaat en vir Shell gaan werk wat hom dikwels oorsee gestuur het. My ma het altyd saamgegaan en dan het ek hier gebly. Dikwels maande lank. Ná die Nasionale Party aan bewind gekom het en met die Apartheid-storie begin het, het hy nie kans gesien vir die lewe hier met ’n Kleurlingvrou en ’n basterkind nie. Ons is Nederland toe.”

“Dit kan mens verstaan.”

“My grootouers was eintlik nader aan my as my ouers.”

“Dan moet die huis vir jou groot betekenis hê.”

“Ja …”

“Dit was so ’n hartseer storie toe die cottages hier in Dieprivier onteien is toe die gebied blank verklaar is. Daar was ook witmense wat daaroor bitter was, hoor! Het jou grootouers toe nog hier gebly?”

“Ek het daardie tyd byna geen kontak meer met hulle gehad nie, maar ek glo nie, want hulle sou te oud gewees het. Dis een van die redes hoekom ek teruggekom het – om dié dinge te probeer uitvind.”

“Ja, as mens ouer word, wil jy tog weer van jou wortels weet.” Sy roer ’n rukkie ingedagte in haar koffie. “Toe ons hier gekoop het in ’86, wou ek verskriklik graag meer van die huis se agtergrond uit­vind, maar dit was bykans onmoontlik. Maar jy kan seker meer van jou familie te wete kom?”

Hy aarsel. “Ek het nog nie probeer uitvind wat van die oorblyf­sels van die familie geword het nie. Dis … nog te gou. Ons het byna veertig jaar lank nie met mekaar kontak gehad nie.”

Sy knik asof sy verstaan. “Soms moet mens jouself eers vind.”

“Ek dink so. Vandat ek ’n week gelede aangekom het, het ek alles wat ek kon, gedoen om informasie oor die huis te kry. Maar niks. Daar is boeke vol oor Distrik Ses en die Wynberg Chelsea-cottages, maar stilte oor Dieprivier.”

“Dis eintlik onbegryplik. Ek was by die argief en die stadsbeplan­ner en die akteskantoor, maar verskriklik veel kon ek nie opdiep nie.”

“Maar dan tog skynbaar meer as ek?” vra hy gretig.

“Ek het wel uitgevind dat die cottages deur ene Melt Myburgh gebou is. Op die oorspronklike spesifikasievorm, of wat jy dit ook al wil noem, is die datum 1901. Daar kan jy nog die ry blokkies aan­gedui ‘cottages’ en die heel kleiner blokkies aangedui ‘closets’ sien.”

“Het jy ’n fotokopie daarvan?”

Sy knik. “Wil jy dit sien?”

“Graag!”

“Ek gaan dit in die studeerkamer soek.”

Sy kom spoedig terug en sprei die twee groot gekopieerde blaaie voor hom oop. Op hulle knieë bekyk hulle dit saam.

Hulle lees ook deur die lang spesifikasievorm getiteld: “Specifi­cations of work to be done and material to be used in the erection of cottages at Diep River for Melt Myburgh.”

“Stel jou voor,” sê hy ingedagte. “Kon jy niks uitvind oor die name van eienaars nie?”

“Nee. Al wat ek kon agterkom, is dat dit in die besit van een eie­naar was tussen 1906 en 1970.” Sy lê ’n dokument voor hom op die mat neer. “Hier.” Sy wys met haar vinger.

“Dit kon niemand anders as my oupa gewees het nie. Kyk, my ma sou vanjaar vier en tagtig gewees het. Wat beteken dat sy van 1909 was. Sy het ook ’n broer gehad … wat twee jaar jonger as sy was. Dit bring ons by 1907. As kind het ek honderd maal gehoor dat die kinders almal in dié huis gebore is. Dus kan dit nie anders wees as dat hy dit in 1906 gekoop het nie.”

“Dit moet wees.” Sy kyk na sy ingenome gesig. “Jy kan vir jou ’n foto­kopie hiervan maak as jy wil.”

“Gee jy nie om nie?”

“Waarom op aarde sou ek?”

“Graag dan.”

“Kyk jy dit nou maar eers tydsaam deur, hier is nog ’n paar artikels oor Dieprivier in die vroeë dae.”

Hy gaan ingenome daarmee onder die lamp sit en haal ’n bril uit sy binnesak.

“Kan ek vir jou ’n borreltjie bring?” vra sy.

Hy kyk na haar oor sy bril. “Dis darem nie nodig dat ek soveel misbruik maak nie.”

“Wat drink jy? Bietjie brandwyn, whiskey?”

“Whiskey sal lekker wees. Dankie, hoor. Dis alles erg vriendelik van jou.”

Wanneer sy met die drankies en ’n paar blokkies kaas terugkom, sê hy: “As jy nie omgee nie, sal ek graag ’n paar fotokopieë hiervan ook wil maak.”

“Plesier.”

Hy kyk meteens ondersoekend na haar. “Waar werk jy eintlik? Ons praat die hele aand nog net oor my.”

“Ek werk by ’n Rudolph Steiner-skool. Ek weet nie of jy weet …”

“Ja! Vrije School in Nederland. Interessant. Maar jy lyk nie soos ’n egte Waldorfskool-onderwyseres nie.”

Sy lag, neem die draadraambril op en druk dit oor haar neus en vat haar hare agter haar kop bymekaar. “Jy meen so?”

Hy moet ook lag. “Ja, miskien. Maar ek mis jou vormlose rok en jou leersandale.”

“Dié is in my kas,” stel sy hom gerus. “Bly jy hier in die stad?”

Hy knik. “Maar ek soek ’n woonstelletjie of ’n kamer, want ek kan nie dáár lekker met ’n woordverwerker oor die weg kom nie.”

Sy dink ’n oomblik na. Toe sê sy: “My seun se woonstelmaat is on­langs vir ses maande oorsee. As jy wil, kan ek hom vra …”

Sy mond gaan effens oop. “Bedoel jy dit?”

“Jazeker.”

“Dis ’n Hollandse uitdrukking,” sê hy ingedagte.

“Ja.”

“Hy het ’n kamer in sy woonstel wat hy tydelik wil verhuur?”

Sy knik. “Nie ’n wonderlike kamer nie, kleinerig en koud. Maar darem ’n plek tot jy iets beters kan kry.”

Hy kyk haar ’n rukkie aan. “Jy ken my van geen kant af nie.”

Haar wange word effens warm. “Mens ken maar selde ’n voor­nemende huurder van ’n kant af.”

“Dis waar. Sal jy my sy telefoonnommer gee?”

“Miskien moet ek self met hom praat.”

“Soos jy wil.”

“Hoe kom dit eintlik dat jy Afrikaans nog so goed praat?”

“Ek het dit altyd bly lees. Tydskrifte, romans, alles wat ek in die hande kon kry. En ek het ’n vriend in Nederland, jare al, wat Afrikaans is. Hy het in die sestigs vir asiel gekom en nie weer teruggegaan nie.”

Die klok slaan sy sestiennote-deuntjie en daarna tien dreunen­de slae en Ruud staan op. “Jy was baie vriendelik,” sê hy, “maar nou sal ek jou nie langer ophou nie.”

Sy skud haar kop. “Jy het my nie opgehou nie.”

Hy neem die bondel dokumente bymekaar. Die ou hond roer in sy mandjie. Nou kyk Ruud na die Kersboom. Hy sit die papiere weer op die bank neer.

“Ek sal jou graag eers help om die boom klaar te maak.”

Sy kyk verwonderd na hom. “Dis nie nodig nie.”

“Ek weet. Maar ek sou tog graag wou. Ek weet nie wanneer ek dit laas gedoen het nie.”

Sy staan ook op. Alexander kom dronkerig in sy mandjie orent en kyk blind in die rigting van haar stem. “As jy wil, is jy welkom,” sê sy.

Soos honde van die hemel

Подняться наверх