Читать книгу Soos honde van die hemel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Drie

Оглавление

Terwyl Ruud die kaggel pak, lees Anne die voorbladberigte voor uit die koerant wat kort tevore met ’n sagte plofgeluid teen die voordeur geval het.

“Cameraman’s killing sparks call for safety of newsmen. Police­man, two motorists die in highway shooting. Two East London women killed on farm. Train torched at Wynberg station.” Sy ril. “Horrible!”

“Waarom koop jy altyd die Argus?”

“Omdat Die Burger my ’n leeftyd lank gebrainwash het.”

Hy grimlag en vee sy hande wat swart geword het van die hout­skool aan ’n ou koerant af. “Wat laat jou dink die Argus brainwash jou nie ook nie?”

“Mens hoop maar.”

“Dié keer sal die hoop jou beslis beskaam.”

Dis die eerste aand dat hulle in die kaggel vuurmaak. Die nag se wind het reën gebring. Dit suis deur die denne oorkant die straat en pik teen die ruite. Hulle het die rusbank tot voor die vuur gesleep. Alexander snork sag in sy mandjie. Af en toe poep hy geluidloos. Dan trek Anne ’n vuurhoutjie.

Die vloer om hulle lê besaai met koerante en tydskrifte. Ruud se werkery is lankal nie meer tot die woonstel beperk nie. Groot dele van die middag en aand werk hy ook hier. Daar lê ook ’n dik pak swart-en-wit foto’s wat hy tydens Hani se begrafnis geneem het.

“Is dit nie tyd vir nuus nie?” Hy wag nie vir haar om te antwoord nie en leun oor die kant van die rusbank om die radio aan te skakel. Dit kras so dat dit onmoontlik is om te hoor en hy stel onhandig die kontrole wat hy nie kan sien nie. Totdat die omroeper se stem deur die vertrek bulder.

“Three men, including a police reservist, were killed and then two motorists who apparently tried …”

Anne leun oor hom en druk die skakelaar sonder meer af. Toe hoor hulle die reën wat nou harder val en die geklap van die vlamme wat hoog in die nat stompe opskiet.

“Ek kan dit nie meer aanhoor nie.”

“Sorry,” sê hy.

“Maak nie saak nie.”

Sy sit langs hom, met haar voete op die rusbank, arms om haar op­getrekte knieë. Hy kan nie haar gesig tussen haar hare sien nie.

“Ek word mal in hierdie land.” Sy laat haar kop op haar knieë sak.

Hy vat oor haar springerige hare. “Jy leef al soveel langer as ek daar­mee saam.”

Sy draai haar gesig na hom toe. “Ek word nou uiteindelik daar­van bang.”

Hy sit sy arm om haar skouers en trek haar teen hom aan. ’n Tyd lank sit hulle in die vlamme en kyk.

Later sê hy: “Ek het vandag weer ’n slag my pos gaan haal.”

“En?”

“Vrij Nederland wil dat ek vir hulle ’n artikel oor wit vrees doen.”

“Wit vrees?”

Hy hoor die ergerlikheid in haar stem en trek haar kop teen sy skouer aan. “Dit is wat hulle gevra het.”

“Wat laat hulle dink dat die kleur van vrees hier wit is?”

“Ek weet nie.” Hy stryk oor haar hare om haar te kalmeer. “Sal jy my help?”

“Hoe sal ék jou kan help?” Sy kyk nie na hom nie.

“Deur jou kan ek by die Afrikaners uitkom.”

Sy blaas deur haar neus. “Die Afrikaners is nie al wat bang is nie. Inteendeel.”

“Ek weet. Maar vir die buiteland, vir die Hollanders veral, is húlle reaksie nuuswaardig, selfs sensasioneel. Perpetreerders van Apart­heid … weet jy?”

Sy roer haar skouers gefrustreerd. “Ek dag dat die nugtere Neder­landers nie op sensasie bejag is nie.”

“’n Groot persentasie mense is sensasiebelustig. Miskien wel álle mense.”

“Ja …” Sy skud haar hare weg. “Wat wou jy doen?”

Hy strek sy bene na die vuur toe. “Ek weet nie presies nie. Ek het gedink ons kan gaan gesels met ’n paar mense wat jy ken. Of ’n paar kort uitvluggies maak, dalk as jy weer skoolvakansie het. Of so iets. Dit sal lekker wees as jy by is.”

Sy ontdooi geleidelik. “Ons kan kyk wat ons kan doen, ja.”

Hy kyk na haar. “Annie, hoekom ontstel jy jou so oor die Afri­kaners?”

“Wat laat jou dink ek ontstel my oor die Afrikaners?”

“Ek kan dit mos sien.”

“Oor ek ’n Afrikaner is,” sê sy en haar wange word rooi. “Ek wil dit nie wees nie, maar ek ís dit!”

“Is jy seker jy wil dit nie wees nie?”

Sy druk haar handpalms teen haar wange en kyk in die vuur. Ná ’n lang ruk skud sy haar kop. “Miskien is ek nie seker nie.”

“Sien jy kans om met hulle te gaan gesels?”

Sy knik ’n paar maal. “Miskien leer ek myself beter ken so.”

“Ek het gedink aan die Noord-Kaap …” sê hy later.

Sy draai haar kop vinnig in sy rigting.

“Hoekom?”

“Ek dag dat dit ’n interessante streek is, die mense is dalk meer konserwatief … as hier, maar nie so verstar soos in die hoog-noorde nie …”

Sy sit ’n rukkie ingedagte ’n haarsliert om haar voorvinger en draai. “My pa se mense het oorspronklik van die Noord-Kaap gekom, mis­kien is daar nog ’n shrine of wat ook wat ek kan gaan opsoek.”

“Jy het nog nooit oor jou mense gepraat nie …”

Sy druk sy vingers. “En jy?”

Hy skud sy kop. “Het jy ’n goeie verhouding met jou ouers ge­had?”

Sy sit weer ’n ruk lank in die vuur en kyk voor sy sê: “Ek het my pa liefgehad.”

Die studeerkamerdeur staan effens oop. Maria het dit seker nie op knip getrek toe sy elfuur sy tee geneem het nie. Anne-Jeanne loop tot agter sy stoel sonder dat hy haar hoor inkom. Sy huiwer, want hy is so besig, maar nou raak sy tog versigtig aan sy skouer.

“Pappie.”

Sy voel sy spiere onder haar vingers beweeg. Hy draai nie om nie, sug, skroef sy vulpen toe en lê dit op die boek waarin hy sy preek uitskrywe.

“Wat is dit, sussie?”

Ek het ’n naam! skree sy geluidloos.

Sy sê: “Ek het vandag 8 uit 10 gekry vir my opstel ‘Suid-Afrika, my vaderland’.” ’.”

“Dis mooi, sussie.”

Sy hou die boek na hom uit, maar hy sien dit nie. Die boek waarin Meneer ’n goue ster langs die 8 uit 10 geplak het en “uitstekend” by­geskryf het.

“Hoeveel het jy vir jou wiskundetoets gekry?”

Hoe het hy nou daarvan onthou?

“18 uit 60.” Sy probeer dit sag sê, maar dis asof die studeerkamer wat na boeke en roulynolie ruik, daarvan weerklink.

“18 uit 60!” Hy swaai sy draaistoel so vinnig om dat sy verskrik agteruit trap.

Onthou wie jy is, skree sy weer woordeloos, die dorp se domi­nee!

Hy moes iets op haar gesig gesien het, want sy stemtoon pas nie by sy oë nie. “Sussie, hoe dink jy om eendag universiteit toe te gaan, jy wat ’n mediese dokter wil word!”

Ek wil nie ’n mediese dokter word nie, ek wil by ’n veearts gaan werk, en saans wil ek stories skrywe. Sy sê dit met haar onhoorbare stem, want dit sal hom seer maak as hy dit moet weet.

Sy laat hang haar kop en antwoord hom nie.

Hy sug weer lank. “Ek sal met meneer Snyman reël dat jy Saterdae ekstra klasse kry.”

Sy maak die opstelboek ongemerk agter haar rug toe. Maar hy het al weer omgedraai en sy vulpen oopgeskroef.

“Moenie weer te laat uitstel om vir Sondag se katkisasietoets voor te berei nie, ek wil nie weer van die katkisasiemeester hoor dat my dogter nie die name van die stamme van Israel geken het nie.”

Anne sit en torring die wolrafels van die kussingoortreksel uit en hy sien hoe die vuurlig oor haar gesig flikker, hoe sy haar woorde versigtig saamstel.

“Waarom dink jy ek wil jou onder kruisverhoor neem as ek, ná ons mekaar vier maande ken, maar net meer wil weet van wat jy tus­sen 1952 en nou gedoen het?”

Hy neem haar hand in syne asof hy sy antwoord wil versag. “Wil jy nie?”

Sy haal diep asem. “Nee. Ek dink dat ons mekaar op meer as een ge­bied goed genoeg leer ken het om met jou daaroor te sou wil praat. Sien jy dít as ’n ondervraging?”

Hy glimlag skeef en hou sy oë op die vuur gerig. “Op ’n manier, ja.”

Sy swaai haar voete van die bank af om op te staan. “Laat dit dan.”

Hy trek haar terug by hom. “Ek het dit nie só bedoel nie, Annie.”

Sy glimlag gedwonge, beseerd. “As jy jou wil afskerm, het ek vrede daarmee. Ek het nie ’n plan om met jou oor dinge te praat waaroor jy nie wil praat nie.” Sy wil haar van hom losmaak om op te staan.

Maar hy laat haar nie gaan nie. “Ruud het altyd moeite om oor hom­self te praat.”

Sy kyk na hom en haar mond versag. “Ja,” sê sy, “maar …”

“Wat?” Hy kyk steeds weg, maar hy vrywe haar vingers tussen syne.

Sy is lank stil voor sy sê: “Ru … jy is nie ál mens vir wie dit moeilik is om oor homself te praat nie, maar jy moenie mense verwond wat nader aan jou kom as hulle vir jou omgee nie.”

Hy sê niks en ná ’n rukkie gaan sy voort: “Ek weet nie wat ons ver­houding vir jou is nie, maar ek kan nie van enige verhouding deel wees as ek nie oop met die ander kan wees nie.”

Die vlamme klap tussen hulle en die hond snork afgemete. “Sê jy dit oor jy nie kan begryp waarom ons nog nie liefde gemaak het nie?”

“Miskien.”

“Pla dit jou?”

Hulle kyk nie na mekaar nie, maar hulle vingers bly styf inmekaar gestrengel. “Ek dink so,” sê sy byna heeltemal onhoorbaar.

“Ek dag dat jy die eerste keer nie wou nie.”

Sy skud haar kop.

Ná ’n ruk sê sy: “Ek het die gevoel dat jy dink as ons liefde gemaak het, het jy jou blootgestel, té oop gestel …”

Hy lag effens terwyl hy praat asof hy die swaar emosie in sy woor­de wil ontlaai. “Ruud was sy lewe lank bang om oorgeneem te word.”

Sy draai haar kop om sy gesig te sien. “Waarvoor is jy régtig bang?”

Hy antwoord haar nie. Maar toe sy langs hom beweeg, mompel hy half onhoorbaar: “Jy gaan tog nie van Ruud af weg nie.”

Sy glimlag, ontroerd. “Nee,” sê sy en soen hom teen sy wang, “ek gaan net koffie haal.”

“Wanneer weet mens dat jy iemand kan vertrou?” vra hy terwyl hulle koffie drink.

Sy roer haar koffie ingedagte voor sy sê: “Wanneer jy kans sien vir penetrasie.”

“Penetrasie?”

Sy kyk verbaas na die vreemde trek om sy mond. “Ek bedoel wan­neer jy voel dat jy jou vrywillig vir iemand kan oopstel. Wanneer jy kans sien om wat jy dink en vrees en droom met die ander te deel. Wanneer jy kans begin sien vir die pyn van commitment. Wan­neer jy nie meer bang is om jou binneste te laat sien nie. Dié soort pene­trasie bedoel ek.”

“Rudolf Steiner het jou goed geleer verwoord.”

Haar gesig verkleur en dit neem ’n rukkie voor sy hom kan ant­woord. “Hy het, ja, en dit was goed. Hy het my ook geleer dat mens vir jouself kan waag om te dink. Heel anders as wat die Afrikaanse skole jou leer.”

“Hoe leer hulle jou dan?”

“Jy moet dink soos ander voor jou jou geleer het om te dink.”

Dis ’n rukkie stil voordat hy sê: “As ’n mens jou sou oopstel soos jy via Steiner propageer, is jy uitgelewer aan die ander.”

“Is dit nie wat ’n verhouding is nie?”

Hy antwoord haar nie, maar hy laat sy kop ’n paar oomblikke teen haar skouer rus voor hy sy koffie verder drink.

’n Brief uit Suid-Afrika – Mei 1993

Watter skrikwekkende April was dit nie in die ry angsaanjaende maan­de wat mekaar hier steeds bloediger opvolg! En hoe bedrieglik in teen­stelling daarmee die skoonheid van die herfsgeworde stad rond­om my. Die lug is helderder as in enige ander jaargety. As ek soggens deur my ven­ster kyk, lê die berg swartblou voor die skoon najaarswolke. Hoor ek die voëls in die hoë bome, ruik ek die eendagmooi wat pers aan die heg trompetter, vlam die kleure van die wingerde.

Op 24 April sterf Oliver Tambo, algemene voorsitter van die ANC. Een week ná Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party. Veertien dae ná die sluipmoord op Chris Hani, die Kommunis. Op die neënde dag is Tambo se begrafnis. Maar dis asof selfs die oproerigstes nie meer entoesiasme oor het vir rumoer nie. In Johannesburg ver­loop die teraardebestelling, want so waardig soos dié woord was dit ook, sonder insidente.

Witmense, angstiger nog ná die geweld wat Hani se begrafnis ont­keten het, bekyk verwonderd die statige gebeurtenis wat lewend oor die televisie gebeeldsend word – soos van nog geen ander swart man in die geskiedenis van die land nie. Ontdaan dat swart emosie so digby hul eie kan staan. Skares wat op die dakke van geboue sit of die stowwe­rige strate belyn, juig wild as die doodkis onder die nou bekende geel, groen en swart vlag van die ANC verbykom.

Daar is gloeiende huldebetuigings, veral van buitelandse regerings. Nelson Mandela, openlik bewoë, verwys na Tambo as sy broer. “Soos jy ons geleer het, my broer, sal ons vrede bring in hierdie gefolterde land. Soos jy ons voorgegaan het, sal ons vryheid bring vir die onderdruktes en bevryding vir die onderdrukkers. Soos jy gevra het, sal ons die opsie van ’n vreedsame oplossing vir ons probleme steeds verdedig …”

In Khayelitsha lei Winnie Mandela vuis in die lug die militante jeug in stampende dreunsang. “Kill the farmer! Kill the boer!”

Laataand kyk ek na ’n televisieonderhoud met ’n wyse man. Credo Mutwa.

“And your message to APLA, sir?” Ek merk dat die jong onder­houd­voerder effens sweterig in sy hare is. Ons lewe in vermoeiende dae.

Die wyse man sug diep. Tog kom daar ’n glinstering in die oë agter die dik brilglase. “You say you love this land, my brothers? How do you make love to a woman if you have a porcupine quill in your penis …?”

In die Verre Noorde sê Wit Wolf Barend Strydom dat die Austra­liese televisienetwerk hom verkeerd geïnterpreteer het. Hulle het hom aangehaal as sou hy gesê het dat hy weer swartes sou doodskiet as hy die kans kry. Inteendeel. Hy is toegewy aan vreedsame onder­han­delinge wat moet lei tot ’n politieke oplossing wat sal toesien dat die Boererepublieke weer herstel word …

In Pretoria vra ’n sigbaar vermoeide F.W. de Klerk namens die regering verskoning vir die Apartheidsjare.

In Oos-Londen se High Gate Hotel bars vier gemaskerde manne met AK47’s Saterdagaand kwart voor tien die kroeg binne waar manne vreedsaam ’n laataand-biertjie drink, skiet vyf mense koelbloedig dood en verwond sewe ander ernstig.

Ek het Johannesburg toe gevlieg om Tambo se begrafnis by te woon. Van die foto’s wat ek daar geneem het, het ek drie kom vergroot. Drie swart-en-wit foto’s. Ek het dit vir ’n vriendin gegee, ’n Afrikaanse vrou. Sy het dit op haar kaggelrak geplaas en vir baie aande ’n kers daarlangs laat brand.

Een is van die massa roubeklaers, ry op ry. Baie van hulle met plak­kate waarop die waardige gelaat van die ontslape leier verskyn. Een daarvan weliswaar onderstebo. Jong gesigte, ou gesigte, mans, vroue, kinders; met musse en hoedjies, kopdoeke en brille. Eendragtig by­mekaar. ’n Vreemd roerende eendragtigheid wat nie beangstigend in­werk nie.

Die ander foto is van Nelson Mandela. Hande seënend omhoog voor ’n bos mikrofone, vaderlik laggend, teen die onskerp agtergrond van der­duisende juigende volgelinge. ’n Ou man met witgeworde hare, on­berispelike snyerspak, rooi angelier in die knoopsgat. Die aggressor wat sewe en twintig jaar ter wille van die veiligheid van die dierbare land in ’n hok gehou is. “Ons sal vryheid bring vir die onderdruktes en be­vryding vir die onderdrukkers.”

Dié woorde bly my om die een of ander rede by.

Die derde foto is van ’n swart pa met ’n klein seuntjie aan die hand. Die man volg die grootse verrigtinge sigbaar aangedaan, wolmus eer­biedig op die bors gedruk. Die kind se oë is op sy pa, mondjie vraend oop. Op sy T-hemp ’n lewensgrootte afbeelding van Tambo.

In die Boland word die jaar ongekweld soos in 1937 vir Van Wyk Louw weer ryp in goue akkerblare. En die witter lug word daglank deur­spoel deur die nuwe wind en klare son. In die Kaap val die blare steeds stilweg in die rookvaal bosse van Tokai.

God, wat ’n land!

Sy sit met skoolwerk in haar studeerkamer toe Pieter laatmiddag by haar aankom. Sy herken die geluid van sy motor en gaan na die woon­kamer toe hy homself by die voordeur inlaat.

Hy sien daar so bleek en vermoeid uit dat sy skrik, maar sy keer dit versigtig uit haar stem weg.

“Haai,” sê sy en soen hom, “jy’s yskoud. Kom drink eers bietjie kof­fie.”

“Ek het nie tyd nie. Daar’s ’n moerse klomp werk wat ek van die kantoor af huis toe gebring het. Ek soek net my wasgoed, daar’s nie meer ’n skoon hemp in my kas nie.”

“Ag nee, kom sit eers ’n bietjie, man. Ek was in elk geval op pad om koffie te gaan maak,” jok sy.

“Moenie lieg nie, Ma’tjie,” sê hy moeg. Maar hy kom saam met haar kombuis toe en gaan op een van die toonbankstoeltjies sit, voete om die sporte. Soos toe hy kind was en van die skool af gekom het.

Terwyl sy water in die koffiemasjien afmeet, kyk sy hoe hy sy bril afhaal en oor sy oë vee. Hy gaap en ril koulik.

“Hoekom het jy nie ’n trui aan nie?” vra sy.

“Oor ek nie koud kry nie.”

“Het jy vanmiddag geëet?”

“Ek het nie tyd gehad nie. Daar was ’n verslag wat ek moes klaar­maak.”

“Pieter, jou gesondheid gaan dit nie hou nie, hoor vir my.”

“Ek hoor vir jou. Wat kry ek, koffie of ’n preek?”

Sy sug. “Hoe gaan dit by die werk?”

“Rof.”

Sy gee sy koffie vir hom aan. “Vertel my.”

Hy roer in sy koppie en kyk nie na haar nie. “Dis moeilik om vir iemand te verduidelik wat geen idee het waaroor dit gaan nie.”

Sy bly seergemaak stil en hy kyk op. “Ek het net nie genoeg ener­gie om dit uit te lê nie. Die mense skree vir huise, die kontrakteurs druk jou vir spesifikasies, die ingenieurs bel op vir besonderhede, die minister se sekretaris wil statistieke hê, maar van bo af kom nie één donnerse antwoord nie.”

“Hoekom nie?” vra sy verontwaardig.

“Oor niemand weet hoe dit ná die verkiesing gaan lyk nie. Almal panic.”

Dis ’n oomblik so stil in die kombuis dat hulle die yskas se inge­wande hoor rommel.

“En jy?” vra sy sag.

“Ek gee nie meer ’n donner om nie.”

Toe hy haar by die voordeur groet, mandjie strykgoed in die han­de, buk hy meteens oor en soen haar.

“Sorry,” sê hy.

Sy glimlag bietjie moeilik. “Oukei. Pas jou op.” Sy vat sy maer lyf styf teen haar vas en hy laat haar dit toe.

Wanneer Ruud en Anne vroeg in Mei een middag met die ou hond gaan stap, ruik die bos al na winter. Daar is eekhorings tussen die dennebome. Hulle skiet rasendsnel oor die naaldbedekte grond en op in die hoë bome. Daar sit hulle kordaat voor hul yl waaiersterte en breek hulle danepitte oop. Selfs die rumatiekerige Alexander word deur hulle tot aksie aangespoor. Hy draf met sy neus snuiwend op hul spoor en blaf dan histeries teen die boomstamme op. Asof hy hulle kan sien.

Die vreedsaamheid tussen die lang bome met hul dun skadu’s en die sonstrepe oor die naalde, maak die land se ellende onwerklik vaag en ver. Ruud en Anne loop ingehaak, stadig al langs die watersloot waar af en toe ’n padda wegplons.

Hy sê meteens: “Annie, dit pla my dat dit ek is wat die verhouding tussen ons so ongedefinieerd laat bly.”

Sy vryf haar wang teen sy skouer. “Maak jou nou nie weer ongerus nie,” veins sy. “Vyf maande is tog nie so ’n lang tyd vir mense van ons ouderdom nie.”

“Ons ouderdom?” Hy lag. “Jy is tien jaar jonger as ek.”

“Nege jaar.”

Hy loop ’n ruk lank stil langs haar voor hy weer praat. “In die laaste jare dink ek dikwels dat elke relasie wat ek ooit gehad het, geteken is deur die feit dat my ouers so vroeg van my af weggegaan het.”

“Jy bedoel die kere wat jy by jou ouma gebly het?”

“Ja … Maar ook as hulle by my was, het hulle my agtergelaat. My pa was nooit regtig in ’n kind geïnteresseerd nie en my ma was so jonk en ongevormd toe hy met haar getroud is, dat haar hele bestaan net om hom gewentel het. Sy het nie geweet om vrou én ma te wees nie, dink ek. Sy was daar om hom te plesier, vir ander was daar nie tyd voor nie. Dit was nie haar skuld nie. Hy was vir sy tyd ’n ontwikkel­de man, berese en belese. Sy het uit ’n eenvoudige huis gekom. Net skool klaargemaak en ’n jaar op tegniese kollege. Toe het sy as junior tikster by die ambassade gaan werk. Voor die jaar uit was, is sy met hom getroud oor sy swanger met my was. Vir hom was sy daar om in Nederland aan sy verkrampte vriende te gaan afwys.” Hy skud sy kop stadig. “Sy bruin Kaapse kind-vrou, pragtige Maleier-meisie uit die wilde Afrika teenoor hulle vaal, mollige Hollandse vroutjies vas­gevang in die weë van die eeue. Teken van sy groot bevrydheid. Waar moes sy nog tyd kry om te leer ma wees ook?”

Sy luister verwonderd. “En jou ouma …?”

Hy trek sy skouers op. “Ná my pa uit die diplomatieke diens is, was die kanse vir Nederland toe gaan nie meer so volop nie en hy het my ma minder saamgeneem. Toe het ek my grootouers nie meer so dikwels gesien nie. Dit was my eerste tien jaar wat ek soos ’n kind in die huis by my ouma was. Daarna was ek meer by my ouers, maar die patroon om my pa alleen in alles eerste te sien, was al so vasgelê by my ma dat sy toe nie meer kon verander nie. Vir my was die beste tye as hy in die buiteland was en ek alleen met haar. Dan was sy vir my ’n ma.”

“Was daar nooit ander kinders nie?”

Hy skud sy kop. “Hy wou nie. Nou, agterna, is ek doodseker daar­van dat daar meer as een aborsie moes gewees het. Hy het uit die eerste swangerskap geleer om toe te slaan voor iemand anders daar­van geweet het. Herinneringe van Ouma en die susters se geskokte gesprekke het baie later eers sin by my gemaak.”

“Toe is julle Nederland toe?” vra sy naderhand toe hy lank inge­dagte langs haar bly loop.

Hy knik. “Dit het hom daar nie baie lank geneem om hom uit ons lewens te werk nie. Nederland het in die vroeë vyftigs nie bepaald sy deure oopgemaak vir gekleurdes soos my ma nie. Hulle was moeg van die Indiese meisies wat ná die oorlog uit die kolonies aange­kom het. Al mense wat ons regtig aanvaar het, was sy broer en dié se vrolike vrou vir wie almal eners was.”

“Het jou ma met haar bevriend geraak?”

“Nie eintlik nie. Sy was so gewoond om net aan hóm aandag te gee dat sy nie veel geweet het van vriendskappe smee nie. Maar dit het haar nie gehelp nie, want in Nederland wou hy nog minder ver­antwoordelikheid vir ’n vrou en kind uit ’n vreemde kultuur aan­vaar. En my grootouers was nie daar om toe te sien nie. Maar terug Suid-Afrika toe wou hy haar ook nie laat gaan nie. Hy wou haar daar hou omdat hy seksueel verslaaf aan haar was, glo ek nou.”

Hy bly stil, maar ná ’n rukkie sê hy: “Dit was nie ’n volle jaar voor sy selfmoord gepleeg het nie. Oordosis pille.”

“Ag nee!”

Hulle het gaan staan en hy trek haar na hom toe, sit albei sy hande op haar skouers sodat sy na hom opkyk. “Annie, ’n relasie met my het weinig kans op sukses. As daar iemand by my binnekom, dink ek al: jy gaan tóg weer weg.”

Sy sluk. “Dis tog nie nodig nie.”

Hy bly so by haar staan. “Ek leef voortdurend in die angs om ver­laat te word. Ek het dit vir myself opgelos deur eenvoudig geen erns­tige relasies meer aan te gaan nie … Ek is te oud, Annie.”

Sy raak teen sy gesig, skud haar kop. “Nee.”

“Ek het geen hoop meer vir ’n verhouding nie. Dit lei altyd maar weer tot teleurstelling. Ek het doodbang geword vir emosie.”

“Ons het almal op ons ouderdom mislukte verhoudings agter ons, Ru …”

Dis asof hy haar nie hoor nie. “Dit het later vir my duidelik ge­word dat elkeen van die mislukkings ’n soort reproduksie was van my ouers wat my verlaat het. Eers het ek nog hoop gehad dat dit met die tyd beter sal word. Maar hoe ouer ek word, hoe erger word dit. Dis asof ek uiteindelik altyd die mense kwytraak …”

“Miskien het dit ’n obsessie by jou geword, miskien het jy met die jare indirek self die oorsaak daarvan geword …”

Hy trek haar kop teen sy skouer aan. “Ek weet dat ek self die oor­saak geword het, maar ek kan daar niks aan doen nie. Dis asof ek sonder dat ek wil … vernietig as dit te naby my kom. Asof ek steeds dié wat die digste by my kom, wil straf …” Hy kyk ’n rukkie oor haar kop tussen die bome se skraal stamme deur na waar twee mense te perd verbygaan.

“Miskien oor my ma doodgegaan het toe ek in die vreemde land haar so nodig gehad het en daar niemand anders was nie. Oor my pa nooit vir my ’n pa wou wees nie? Soms kom ek – nóú nog – iemand teë van wie ek dink: sou hy my pa wil wees? Dit sal moeilik wees vir jou om te begryp.”

“Miskien nie,” sê sy gedemp, en toe: “Leef jou pa nog?”

Hy skud sy kop. “Hy is twee en twintig jaar al dood.”

“Het jy later jare nooit weer met hom kontak gehad nie?”

“Dink daaraan dat hy drie en veertig was toe ek gebore is. Ek het hom wel in 1967 weer ontmoet, maar toe was hy ’n ou man en daar was niks meer wat ons vir mekaar te sê gehad het nie.”

Sy sien sy kwetsbaarheid, die kind nog, in sy oë, waar alleen maar die donker vlekke daaronder sy jare verraai. “Ek is jammer,” sê sy.

“Ek het uit ondervinding geleer om nooit weer ’n nuwe relasie aan te gaan nie. Ek kan dit nie hanteer nie.”

“Jy kan nie só oud word nie, Ru.”

“Ek is klaar oud.”

“Nee, jy is nie.”

Hy hoor dat sy vir hom sê: ek sal dit vir jou anders maak. Ek sal jou liefhê en nie weggaan nie.

Hy glimlag droef. “Jy sal seerkry, Annie.”

Sy skud haar kop. “Nee.”

“Ek wil nie nóg op my gewete neem nie …”

“Jy sal nie hoef nie.”

Hy laat sy kop teen hare sak. “Annie …”

“Jy sal nie hoef nie, Ruud.”

Hy sluit sy arms om haar. Rondom hulle stuif blare van die bome af grond toe. Alexander kom teen hulle bene staan, sy blinde oë na die bome gerig.

Toe hulle laatmiddag by die huis in Avonstraat terugkom, kruip die koue uit die nat grond teen hulle bene op sodat Annie ril en die voor­deur haastig oopsluit. Op dieselfde oomblik begin die telefoon lui asof dit op haar tuiskoms gewag het.

Ruud kom met die hond in en vryf sy hande koulik. Hy skrik toe hy die klank in Anne se stem by die telefoon in die studeerkamer hoor en bly in die middel van die voorkamer staan.

“Ek was die hele middag uit …” hoor hy haar sê. En toe gespanne: “Wanneer?” En ná nog ’n paar oomblikke: “Ek kom …!” Hy kan haar ruk­kerige asemhaling hoor. Daar’s ’n lang stilte voor sy sê: “O … Maar laat my asseblief onmiddellik weet …! Ja, ja. Natuurlik.” En toe sag. “Baie dankie, kaptein.”

Sy staan bleek geskrik met die gehoorstuk nog in haar hand toe hy in die studeerkamer kom.

“Wat is dit?”

“Pieter …” sê sy, “Pieter …” Toe begin sy huil sodat hy niks meer kan uitmaak wat sy sê nie.

Angs het hom verlammend oorval, maar hy bly bewustelik kalm ter wille van haar. Hy slaan sy arms om haar. “Wat het gebeur?”

“Pieter …” probeer sy weer en toe met groot inspanning: “Hulle hou Pieter aan.”

“Wie? Waar?”

Sy haal diep asem. “In Khayelitsha waar die Administrasie se huise gebou gaan word …” Sy beduie met haar hande.

Hy skud sy kop onbegrypend. “Wat maak hy dan daar?”

Sy haal diep asem. “Hy het vanoggend saam met die ingenieur uit­gegaan na die stuk grond waar die KPA die huise gebou wil hê.”

“Wie hou hulle aan?”

“Blykbaar het ’n klomp mense die opslaankantoortjie van die kon­trakteurs omsingel toe hulle ingegaan het om na die planne te kyk …”

“Ag nee!”

“Hulle het die KPA se motor waarmee Pieter gery het, aan die brand gesteek.” Haar stem kom rukkerig.

Hy trek haar teen hom aan. “Wat wil hulle hê?”

“Ek weet nie. Seker allerhande onmoontlike dinge. Huise dadelik. Ek weet nie!”

“Met wie het jy gepraat?”

“’n Kaptein …” Sy skud haar kop. “Ek kan nie sy naam onthou nie. Hy sê die polisie se onderhandelingspan is daar.”

“Wanneer het dit gebeur?”

“Ek weet nie! Dit gaan al úre aan, hulle het ons heelmiddag ge­soek. Die kaptein sê …” Toe begin sy weer huil sodat sy nie verder kan praat nie. Hy voel hoe verskriklik bewe sy.

Sy eie bene is so lam dat hy met haar teen die lessenaar aanleun. Hy sien die jong man se gesig toe hy vanmôre by sy kamer ingeloer het om hom te groet voor hy werk toe is. Die lewendige donker oë agter die skilpaddopraam-Lennon-brilletjie, die skraal jong lyf reeds ge­pantser teen die aanslae van die dag. “Sien jou, Ruud!” het hy ge­roep.

Nou sit hy in ’n houthokkie vasgekeer tussen berserkte mense ter­wyl sy motor buite uitgebrand staan. Daar kom trane na sy oë toe hy skielik die vooroorgeboë jong nek onthou met die donker hare wat laag daarin krul.

“My lief …” sê hy en hou haar teen hom vas, magteloos.

“Ek het hom byna in Angola verloor,” sy klink paniekerig, “ek kan nie nog ’n keer …”

“Die polisie is daar …” probeer hy futloos.

“Wat kan die polisie doen? Die mense is buite hulself!”

“Wil jy dat ons daarnatoe gaan?”

“Die kaptein het gesê ons moenie. Ons kan niks doen nie, dis te gevaarlik.”

Ruud dink aan sy kamera wat in sy motor lê, aan die foto’s wat in so ’n situasie geneem kan word, maar hy onderdruk dit.

“Kom, ek gaan jou eers iets gee om te drink. Mens kan nie dink as jy so ontsteld is nie en jy kan niemand help ook nie. Het jy die kap­tein se telefoonnommer?”

Sy skud haar kop verwese. “Ek het nie daaraan gedink om hom te vra nie.” Maar alreeds begin sy kalmer optrede haar tot bedaring bring.

“As hy nie binnekort terugbel nie, sal ons dit wel in die hande kry. Eerste moet ons nou tot ons sinne kom.”

Terwyl hulle die brandewyn sit en drink wat Ruud geskink het, lui die telefoon weer. Anne skrik so dat sy die helfte van die vloeistof oor haar langbroek uitstort.

“Ek sal antwoord,” sê Ruud dadelik.

Anne bly willoos sit. Hy kom spoedig terug om te sê dat die offisier met haar self wil praat. Dit blyk dat daar geen verdere nuus is nie, maar dat as sy sou wou, sy na die polisienoodpos buite Khayelitsha kon kom om nader te wees. Die aanbod aanvaar sy dankbaar en binne ’n halfuur is hulle op pad. Dit het donker geword en die middag se warmte het plek gemaak vir ’n ysige wind.

Terwyl hulle ry, begin daar ’n motreëntjie uitsak en die wind jaag vaal vlae oor die N2. Dis so donker dat die motors se ligte aange­skakel is. Langs die pad is die ry op ry plakkershutte beswaarlik nog sig­baar. Digby die lughawe sien hulle die groot bedrywigheid langs die pad. Polisievoertuie, verkeersvoertuie, skarrelende mense word deur die reën sigbaar. Alles skyn te sentreer rondom ’n nat bruin leër­tent half tussen die portjackson-bosse verskans. Eenkant staan ’n Casspir en ’n ambulans.

“Hoekom is daar ’n ambulans?” vra Anne angstig.

“Dis maar net ’n noodmaatreël, hulle doen dit altyd,” sê Ruud en probeer sy eie paniek wegsteek. ’n Polisieoffisier kom hulle by die mo­tor ontmoet en bring hulle na die beperkte beskutting van die be­noude tent. Sy hoor nie werklik wat hy sê nie.

Dit het harder begin reën. Die wind ruk aan die tentseile. Pers­verslaggewers verdring mekaar, maar Ruud is duidelik bekend met hulle maniere en hou hulle weg van haar. Pieter se onmiddellike hoof by die KPA kom sê ’n paar niksseggende woorde en sy knik, al het sy hom nie gehoor nie. Sy merk dat sy gesig ’n pasteiagtige kleur het en sy bewerige vingers geel gerook is.

Pieter, dink sy, o God, Pieter!

Maar sy sê niks. Sy trek haar jas se kraag hoog om haar gesig op en probeer uitmaak wat die polisieradio’s van tyd tot tyd kraak, maar daar is te veel geraas om iets uit te maak. Iemand bring vir haar ’n stoel, maar sy dink nie daaraan om te gaan sit nie.

Sy onthou Pieter se moeë gesig toe hy gistermiddag sy wasgoed by haar kom haal het. Hoe hy sy bril afgehaal en oor sy oë gevryf het. Haar lyf kramp ineen.

Sorry, Ma’tjie.

Die trane loop oor haar gesig en sy vee dit met haar vingers weg.

O God, moenie dat hulle hom doodmaak nie. Sy begin so bewe dat sy op haar tande moet byt.

Aan die ander kant van die tent sit die swanger vroutjie van die ingenieur saam met haar ouers. Haar verskrikte oë probeer uit elke be­weging om haar sin maak. Soms hou sy haar maag krampagtig vas. Haar pa sweet in die koue en staan angsvallig by die tentopening en rook.

Buite dreun die verkeer onafgebroke langs die nat N2 verby. Blou flitse van die polisievoertuie weerkaats teen die nag wat deur die oop tentflap sigbaar is. Af en toe skreeu vliegtuie wat op die lughawe langs­aan kom land of opstyg bo hulle deur die donker. ’n Helikopter flap-flap verby.

’n Vrou in polisieuniform kom met bekertjies sop en toebroodjies na Anne-hulle toe. Ruud eet, maar Anne sien nie daarvoor kans nie.

“Wat gaan aan? Waarom hoor ons niks nie?” vra sy vir die jong vrou met die glansende hare. “Dit word al nag.”

“Ek weet nie, mevrou, ek weet eerlik nie. Maar u moenie bang wees nie, die mense daar weet wat hulle doen.”

My kind, dink sy, dis my kind wat hulle daar vaskeer. Hulle gaan hom doodmaak. Paniek wil haar versmoor. Here, asseblief, Here!

“Wil jy nie sit nie, Annie? Asseblief. Só gaan jy dit nie hou nie.”

Sy sak op die stoel neer en druk haar gesig in sy baadjie.

“Hulle gaan hom doodmaak, Ruud,” fluister sy. “As dit nag word, gaan hulle hulle doodmaak.”

Hy hurk by haar. “Nee,” hy skud sy kop, “moenie dit sê nie.” Sy sien met afgryse die angs in sy gesig.

’n Offisier raak aan haar arm en sy ruk van skrik.

“Mevrou, ons het nou net gehoor ’n beampte van die administrasie is toegelaat om hom by die polisie se onderhandelingspan te voeg.”

“Wat kan hy die mense belowe?” vra sy. “Wat wil hulle in elk geval hê?”

Hy vee senuagtig oor sy snor. “Vyftig huise wat vannag nog betrek kan word.”

“Kry hulle dit?”

Die man huiwer.

“Nie?” vra Anne.

“Mevrou, dis baie moeilik om sulke beloftes te maak. Dit skep on­middellik presedente. Al wat hulle kan belowe, is om onmiddellik aan­dag aan die situasie te gee. Miskien om die mense tydelik elders te huisves.”

“Bloody hopeless,” sê ’n maer koerantman in ’n vuil reënjas wat staan en luister het aan ’n kollega, “they’re so drunk and worked up by now, who’s going to listen to that kind of shit?”

“En my kind?” vra Anne vir die offisier. “Is sy lewe niks werd nie?”

“Natuurlik, mevrou. Ons doen alles in ons vermoë. Hierdie onder­handelingspan is die beste in die land.”

“Waarom neem dit so lank?”

Hy trek sy skouers op. “Dit neem ongelukkig tyd.”

“Annie?”

Sy kyk op na Ruud wat oor haar buk.

“Moet jy nie sy pa laat weet nie?”

“Sy pa is in die Transvaal,” sê sy moeg, “dit sal nie help om hom op hol te jaag nie.”

“Hy kan dit oor die agtuur-televisienuus hoor. Die verslaggewer daar sê hulle het toestemming gekry om die name van die twee mans bekend te maak. Gee vir my sy telefoonnommer. Ek sal met die polisie reël om hom te laat weet.”

Sy soek dit moeisaam in ’n sakboekie op, gee dit vir hom, trek haar jaskraag hoër op en sluit haar oë teen die mense om haar. Toe Ruud terugkom, het sy al weer daarvan vergeet en sy vra nie of hy reg­gekom het nie.

Sy probeer haar Pieter se jong manslyf voorstel, sy oë, sy hande. Wat sou hy al die lang, lang ure doen? Sou hy daaroor dink dat hulle hom gaan doodmaak?

Hoe sou hulle hom doodmaak as hulle dit doen?

Dié gedagte is so verskriklik dat sy regop kom en na haar asem hyg.

“Ek wil na hom toe gaan,” sê sy half histeries vir Ruud.

Hy druk haar teen hom vas, wieg haar in sy arms. “Jy kan nie, my lief, jy kan nie.”

Die wind het reg noord gedraai en die reën kletter teen die seil. Hulle kan die motors se bande oor die teer hoor fluit.

Meteens is daar ’n intenser gekras van radio’s, stemme wat be­vele roep, voertuie wat met slepende bande buite wegtrek. Die skrik­wekkende geloei van sirenes.

“Wat is dit!” Anne se geskree klink bo die gedruis uit.

“Ek weet nie!”

Daar is ’n frenetiese uittog van verslaggewers en fotograwe. Sy gryp ’n verbyganger aan die arm. “What’s going on?”

“They threw a torch at the bungalow where the men are,” roep hy oor sy skouer. “It caught fire.”

“My God!” roep sy in die chaos. “Ruud!”

Hy gryp haar vas. “Wag!” keer hy, “wag, Annie. Daar’s hordes polisie­manne daar.”

“Maar hulle is vasgekeer binne. Ek wil na hom toe gaan, Ruud!”

’n Ouer polisieman kom na hulle toe. “Wag, mevrou,” sê hy, “bly net kalm. Hierdie manne ken dié soort van ding. Ek belowe jou, dis nie die eerste keer dat hulle hiermee te doen het nie.”

Anne verkrummel in Ruud se arms. “Hy is al wat ek het,” huil sy. Hy hoor haar desperaat pleit. “Here God, asseblief, moenie laat hulle hom doodmaak nie. Moenie dat hy verbrand nie.”

’n Ambulans gil buite verby, nog een. Toe ’n brandweerwa. Anne het stil geword en weer gaan sit. Haar hande is inmekaar gevuis, haar oë toegeknyp. Sy bid onophoudelik, kan Ruud sien. Hy hurk magte­loos by haar.

Deel van hom verlang heftig om met sy kamera op die toneel te wees. Hy sien in sy gedagtes gesigte in die lig van die vlamme. Dof­weg kan hy ’n geskree uit die township hoor. Honde wat skel blaf. Alles gedemp deur die geluid van die reën.

Toe staan daar meteens ’n jong man in kamoefleerdrag in die deur, sonder sy pet, sy gesig blink van die reën.

“Mevrou Krige …” Hy kyk verblind deur die skerp lig die tent in.

“Hier.”

Anne het regop gekom en dadelik val dit Ruud opnuut op hoe klein sy is, haar smal gesig tussen die digte hare. Haar doodsbang oë.

“U seun is veilig. Ons het hom uitgekry. Hulle sal hom nou hierna­toe bring.”

Oomblikke lank is net haar hygende asemhaling hoorbaar asof alles rondom stil geword het.

“Dankie,” fluister sy. “Baie, baie dankie dat jy vir my kom sê het.”

Ruud slaan sy arm om haar en vou haar verwronge gesig in sy baadjie toe, Maar hy hoor haar steeds onophoudelik fluister: “Dan­kie, God, Here, Jesus, dankie.”

Toe hulle Pieter ’n halfuur later eindelik bring, is sy kalm. Hy sien daar haglik uit. Geskok en bewerig, rooi oë, roetbesmeer, bloed­streep onder sy neus, sonder sy bril en sy skoene, stink van rook. Toe hy sy ma sien, word sy donker oë vol trane. Die flits van ’n pers­kamera ont­plof spierwit oor hulle toe hy haar omhels en haar vingers in sy maer rug gryp. Hy kyk oor haar kop na Ruud wat met arms styf oor sy bors gevou teen die muur aanleun en glimlag verwese.

“Hulle het Geoff ook betyds uitgekry,” sê hy.

Sy ma bly hom vashou sodat hy naderhand haar arms versigtig moet losmaak. “Ek is oukei, Ma’tjie,” sê hy sag.

“Het daar mense seergekry?” vra sy.

“Daar is ’n swart polisieman in die hut dood. Een van dié wat ons help uitkom het.” Hy vee oor sy oë. “En ek het gehoor een van die ander polisiemanne is ook gesteek.”

Die verslaggewers kom almal weer op ‘n streep terug, die tele­visie­span maak eindelose opnames, die kameras flits onversadig. Dit word middernag voor hulle kan huis toe gaan.

Dié nag slaap hulle al drie in die huisie in Avonstraat.

Soos honde van die hemel

Подняться наверх