Читать книгу Soos honde van die hemel - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 5

Twee

Оглавление

Brief uit Suid-Afrika – April 1993

Die noordewind het die hele nag stormagtig gewaai sodat ek ruste­loos geslaap het. Maar dit het nie tot reën gekom nie. Vroegmôre, voor die son uit was, was ek helder wakker sodat ek opgestaan het. Dit het stil geword buite, maar die rusteloosheid van die nag se wind was nog in my. Ek het gedink ek wil hawe toe ry en swart-en-wit foto’s neem van die ou geboue op die Waterfront as die son opkom. Eint­lik het ek nie geweet wat ek wou doen nie, maar ek kon nie in die woon­stel bly nie.

Dit was net ná ses toe ek buite kom, en skerp koud. Die winter was onmiskenbaar in die lug. Ek kon die nat blare in die voortjies ruik. Terwyl ek deur die skemer stad ry om na die vroeë koerant te soek, was dit moeilik om te glo dat dié strate dae tevore tydens die demonstrasie-mars ná Chris Hani se sluipmoord ’n slagveld was.

Nou in die heel vroeë môre was alles verraderlik vreedsaam – Adderleystraat en die St. George-wandelhal waar die woede oopgebars het. Vreemd ontroerend was dit in die dag wat net begin breek. Ek het dit half verleë genoem teenoor die koerantverkoper wat styf van die koue sy voete staan en stamp het. Die stad is mooi as die son net so opkom.

Hy het onbewoë gelag: “Kannie self soe sê nie, meneer, hy lyk vi my ma elke môre enerster. Kyk hoe lê die villis en die pampiere van vinnag se storm dan.”

“Maar daar is tog ook iets moois,” het ek hardnekkig probeer.

“As meneer soe sê.”

Toe ek met die koerant wegstap, het hy agter my aan gesê: “Meneer is sieker nie van hieso nie.”

“Hoekom sê jy so?” het ek omgedraai en gevra, en gewonder of hy dit aan my aksent gehoor het.

Hy het verleë gelyk asof hy nie daarop gereken het dat ek hom sou hoor nie. “Nie, ek dag ma as meneer die gemorste Woensdag hieso ge­sien het, sil meneer noeit wee dink dit lyk mooi hie nie.”

“Wat dink jy nou gaan hier in die land gebeur?” het ek op die inge­wing van die oomblik gevra.

Hy het sy oë vinnig laat sak. “Ek sillie kin sê nie, meneer.”

“Maar jy is tog séker bly oor die nuwe Suid-Afrika wat kom?”

Hy het teen die koerante geskop en nie opgekyk nie. “Nie as hy sóé gat lyk nie,” het hy gedemp gesê.

Ek het skielik my entoesiasme om foto’s op die Waterfront te gaan neem, verloor, meteens net verlang na die vertroudheid van my kamer en ’n koppie koffie. Toe ek die koerant op die sitplek langs my in die motor neergooi, het my oog ’n paar reëls op die voorblad ge­vang:

SIX DIE IN ZULULAND VIOLENCE

FARMER DIES AFTER HOME IS PETROL-BOMBED

HUNT AFTER HIGHWAY KILLINGS

PLETT WOMAN, 82, STRANGLED

CHURCHGOING COUPLE SHOT

Die son was op toe ek terugry en die lug wonderbaarlik helder. Soos ek die Kaapse herfs uit my kinderdae kon onthou. Teen die muur voor die universiteit het die Virginiese klimop al rooi geword. Toe ek deur Nuweland ry, het die bruin-en-rooi blare geluidloos uit die bome oor die pad gestuif.

In die middag staan Ruud stram voor die rekenaar op en bel Anne. “Wat maak jy?” vra hy toe hy haar stem hoor.

“Skoolwerk.”

“Wat?”

“Ek sien die matrieks se opstelle na. Besonder opwindend. Wat doen jy?”

“Werk aan my rubrieke vir Holland.”

“Jou ‘Briewe uit Suid-Afrika’?”

“Juis.”

“Ek het vanmôre voor skool gebel, maar Pieter het gesê jy het baie vroeg uitgegaan.”

“Ja. Ek was erg geïnspireerd om foto’s – swart-en-wit, nogal – van dag­breek op die Waterfront te gaan maak. Ek dag vir ’n volgende rubriek, jy weet. Maar my ywer het halfpad verdamp.”

“Hoe’t dit dan gebeur?”

Hy vertel haar van sy gesprek met die koerantverkoper. “Absoluut niks wat jy hier wil skrywe, kan meer los staan van die geweldsituasie nie, Anne.”

“Uiteraard.”

“Annie?”

“Hmmmm?”

“Wil jy vir my kos maak vanaand?”

Sy lag. “Ek wil vir jou kos maak as jy vir my slaai wil saam­bring.”

“Ek wil,” en ná ’n oomblik: “Dinner, bed en breakfast?”

“Ek sal moet kyk of daar ’n kamer oop is …”

Vroeg in Maart, twee maande ná hy by Pieter ingetrek het, het Ruud op ’n oggend by Anne opgedaag.

Toe sy vir hom die deur oopmaak, sien hy dat sy pas gestort het, want haar hare is slierterig nat en haar T-hemp klou klam aan haar borste. Sy het ’n sakkerige kortbroek aan en hy kan sien hoe goed­gevormd haar bene nog is.

“Ek is net besig om bietjie brekfis te maak.” Sy klink selfbewus. “Het jy al geëet?”

“Ek sal saam met jou koffie drink.”

Hy gaan op een van die kroegstoeltjies oorkant haar sit en sy begin ongevraagd vir hom ook roosterbrood maak.

“Hoe gaan dit in jou nuwe verblyf?”

“Heel goed. Dis ’n heerlike kamer …”

“Hoe vind jy Pieter?”

“Gasvry, vriendelik. Ek sien nie te veel van hom nie.”

“Ek dink hy werk hom half dood. Al die jong manne wil maar vaste grond onder hulle voete inwerk voor die brander van die Nuwe Suid-Afrika met regstellende aksie en al oor hulle slaan.”

“So lei ek af.”

“Hy is in elke geval nooit danig spraaksaam nie. Veral nie ná hy uit Angola teruggekom het nie.”

“Miskien is hy nie so in sy skik daarmee dat jy my so maklik in jou lewe toegelaat het nie.”

Sy kyk vinnig op. “Maklik?”

Hy trek sy skouers op. “Seuns is bekend daarvoor dat hulle nie graag hulle ma’s met enige man deel nie.”

“Ek glo nie. Hy het nie met my ander vriende probleme nie.” Sy hou haar oë op die koffie wat sy aan ’t maak is. Hy sien hoe klein haar hande is. Die stomp geknipte naeltjies.

“Is julle twee ná aan mekaar?” vra hy.

Sy reageer nie dadelik nie. Asof sy haar antwoord oorweeg. Toe sy eindelik opkyk, het haar oë donkerder geword.

“Miskien is ek té na aan hom. Miskien is ek so alles vir hom dat hy nie ’n ander vrou in sy lewe nodig het nie …”

Dié intensiteit betrap hom onkant. “Hoekom sê jy so?”

Sy skud die warrige hare uit haar gesig weg, sug. “Ek weet nie al­tyd hoe ek teenoor hom moet optree nie. In ’n sekere sin was hy vir my alles. Vir ’n lang tyd gewees. Kind, man, pa, vriend, vertroueling …” Sy beduie onbeholpe met haar hande. “En toe hy uit Angola terug­kom, was hy verander.”

“Hoe verander?”

Sy beweeg haar kop ’n tyd lank heen en weer. “Ek kan dit nie heel­temal sê nie. Asof hy te veel… bagasie met hom saamdra. Waarvan hy nooit wil hê dat ek iets moet weet nie. Ek wil hom help en hy keer my elke keer weg.” Haar oë het langsamerhand vol trane geword. “Ek het hom só lief en ek weet nie wie ek vir hom moet wees nie.”

Die emosie beklem Ruud; hy wil daaruit wegkom.

Hy vra: “Hoe lank het jy nog vakansie?”

Sy haal diep asem en draai haar gesig van hom weg voor sy hom antwoord. “Ons begin oor veertien dae. ’n Week voor die staatskole, want ons het ’n langer wintervakansie. Privaat skool.”

“Ek vind party van die Steiner se idees nogal weird. Wat doen ’n Afrikaner soos jy in ’n Waldorfskool?”

Sy haal die brood uit die rooster en stoot dit saam met die botter oor die toonbank na hom toe. “Lang storie.”

“Moet wees.”

’n Ruk lank sit hulle krakend aan die roosterbrood en eet. Alexander, wat in die sonkol langs haar stoel gelê het, stoot homself later sugtend orent, loop om die toonbank heen en kom langs Ruud se stoel neerplof.

Toe Anne oorleun om nog brood in die rooster te druk, ruik Ruud seep en kruie in haar klere. Haar borste, onverwags vol vir haar klein lyf, val teen die sagte materiaal van haar hemp.

Sonder waarskuwing voel hy die vuur in sy lendene oplaai. Hy verset hom onmiddellik daarteen, kyk doelbewus anderpad. Deur die raam waar hy die eerste aand die Kersboom gesien het en waar een­maal oompie Willy se bed gestaan het en syne. Die vlam begin langs sy bobene en knieë loop. Toe hy die koppie wat sy so pas by hom neergesit het na sy mond bring, hoor hy tot sy ontsetting sy tande teen die porselein kletter.

“Roedie? Kom, Roedietjie, djy’s mossie bang nie.”

“Toer,” roep hy saggies. “Toer, wees versigtig met my.”

“Ruud, in godsnaam, jy is vyf en dertig!” Maar sy stem is vertederd.

“Nogtans.”

Sy kyk op. “Ek was vroeër by ’n staatsk … ool.” Iets moet in sy oë gewys het, want sy val meteens oor haar woorde.

Haar hande fladder oor haar bord soos opgeskrikte voëls. “Ek het vergeet daar’s nog vars tamaties in die yskas. Uit die tuin,” sê sy ge­jaag en leun agteroor om die yskasdeur oop te maak.

Toe gly die hoë eetbankie onder haar uit, hy hoor die pote oor die vloer kras, en sy val. Hy is by haar voordat sy self kan regop kom. Agter hulle tjank die hond paniekerig.

Hy weet seker dat hy haar daar en dan kan neem, want sy het bitter min klere aan en hy is bo-oor haar. En haar oë skitter met die­selfde begeerte wat in hom woed. Haar mond is sag en half oop sodat hy haar soen. Sy hou styf aan sy hemp vas en hy voel tussen hulle saamgedrukte liggame na sy geslag. Dit is hard in sy hand.

’n Paar oomblikke kyk hulle verleë na mekaar. Toe sê sy son­der veel oortuiging: “Miskien moet ons mekaar net eers beter leer ken …”

Hulle kom saam regop, stryk stigtelik verleë hulle klere reg. Toe laat sy meteens haar kop teen sy skouer sak en sy sê vinnig, angstig: “Moenie weggaan nie.”

Hy slaan sy arms styf om haar. “Nee.”

Oor haar kop kyk hy na sy ou kamer en sien hoe die kleurryke rûe van baie boeke en tydskrifte en die geel krisante die lig van die oggendson vang. Somers het Oumie die huis altyd dig gehou teen die hitte. Donker koelte, het sy gesê. Nou is alles lig.

“Ruud?” Sy raak teen sy gesig.

Hy kyk af in haar smal gesig met die wilde hare daaromheen.

“Ek sou daardie eerste aand wat jy gekom het al met jou kon liefde maak as dit net op die liggaamlike af gegaan het …”

Sy mond versag. “Sou jy?”

Sy knik. “Miskien moet ons wag tot daar méér tussen ons is …”

Sy oë ontwyk hare en hy trek versigtig lang slierte uit haar hare en draai hulle om sy voorvinger.

“Wat is meer?” vra hy later.

“Miskien sal ons weet.”

Hy soen haar baie keer. “Ek hoop so,” sê hy tussendeur.

Toe hy teen vyfuur by haar kom, lê die laaste mildheid van die April­dag nog net-net in die sonkolle op die patio. Sy rek haarself behaag­lik en stoot die stapel skoolboeke met haar voet uit die pad, haal haar leesbril af. Hy trek haar op en hulle omhels mekaar lank en intiem. In die maand wat verbygegaan het, het daar inderdaad “meer” tussen hulle gekom, maar van die liefdesdaad het hy bly wegskram, al het hulle dikwels dubbelsinnig daarna verwys.

“Kos is al in die prutpot aan die gang,” sê sy. “Sal ons solank ’n wyntjie drink?”

“Lekker.”

“Ek dink ons moet binnetoe, Ruud, sodra die son begin skuins­trek, raak dit yskoud hier.”

“Ek sit nog so ’n rukkie.”

“Oukei, dan gaan haal ek die wyn.”

Hy neem haar hand toe sy by hom verbyloop en trek haar weer na hom toe. “Dis rustig hier by jou.”

“Dink jy maar,” sê sy en soen hom op sy voorkop.

“Mammie, ek vat vir Roedie met my same, nè. Ek gat smokes koep.”

“Ma dis al donke al, Willy …” Sy sit met stopwerk onder die flou elektriese peertjie wat uit die blou emaljeskerm van die dak af hang. Die lig weerkaats in haar staalraambrilletjie se vaal glasies toe sy opkyk.

“Wat maak dit nou yt, Mammie? Hy loep mos met my same.”

“Die kind lykie die donkete nie, boetie Willy,” sê Janey bedeesd sonder om van haar skoolwerk af op te kyk.

“Lossit vi my, Djaney!”

“Djy moet kyk agte die kind, Willy, ek willie moeilikgeite met sy pa same hettie, vistaan djy vi my?”

“Watse moeilikgeite? Hy’s mos syf by my.”

Roedie sit doodstil langs Cilla op die houtbankie. Rex lê met sy kop op sy voorpote en kyk reguit na hom met sy geelbruin Labrador-oë. Hy wil langs die hond gaan lê en sy kop onder sy sagte maag indruk.

“Kom, djy,” sê oompie Willy vir hom en vat aan sy skouer.

“Kan Rex saamloop?” Hy druk sy hande styf onder sy boude in op die bankie en kyk nie op na sy oom nie.

“Vir wat?” vra oompie Willy. “Los hom hiesô, hy fight net mettie anne honne saam.”

Oumie sê niks, maar Roedie sien hoe haar mond plooi. Sy trek die sokkie styf oor die kalbassie en hou dit teen die lig op.

Roedie gaan traag van Cilla se warmte weg en trek sy vingers in die verbygaan oor Rex se kop. Dié gaan regop sit en sy stert tok af­wagtend op die vloer.

“Lê, Rex!” sê Cilla gedemp.

Toe hulle buite kom, ruik hy nog die reën wat heelmiddag sag geval het. Dit damp uit die nat dennenaalde waaroor hulle loop. Oompie Willy hou sy hand so styf vas dat sy vingers doodgaan, maar hy praat nie. Sy oom fluit sag tussen sy tande soos hy stap en Roedie kry weer die siek soet reuk wat hy altyd saambring kamer toe as hy saans inkom.

In die winkeltjie is dit bedompig. Die lug hang swaar van die ge­brande visolie en ou knoffel. Oompie Willy koop vir hom ’n toffie, maar dis nie van die soort waarvan hy hou nie. Hy kou dit onwillig terwyl hulle terugloop.

“Ons staan eers ’n tydjie hier lat ek kin rook,” sê sy oom toe hulle in die parkie onder die kissing pines deurloop. Hy rook nie in ouma Dais se huis nie.

Sy oom trek hom meteens aan sy trui se kraag nader en Roedie voel hoe skrik teen sy ruggraat afjaag in sy lam bene in. Hy ken die man nie regtig nie. Hy is nooit bedags by die huis nie en saans slaap Roedie al as hy inkom. Dan word hy net half wakker. Maar selfs in sy halfwakkerte voel hy hoe oompie Willy lank na hom staan en kyk. Dan klou hy Beer verskriklik styf teen hom vas. Party aande sit sy oom vir hom ’n lekker voor sy bed neer. Maar hy gee dit altyd vir Janey.

Nou kyk hy versigtig op in die gesig wat verlig word elke keer as oompie Willy aan sy sigaret trek. Dit lyk asof die oë diep in die kop weggesak het. Die neus gooi ’n skaduwee oor die mond, of daar net ’n holte is. Hy dink aan die bobbejaankopbeen wat Janey vir hom in haar skoolboek gewys het.

Skielik kry hy verskriklik koud. Hy wil na Oumie toe hardloop en op haar warm skoot gaan klim. Hy voel die trane in sy oë brand. Miskien kom sy ma hierdie keer nie weer terug nie.

Hy skrik hewig toe hy oompie Willy se hand op sy rug voel. “Roedie?” sê hy. “Ou Roedietjie.” Sy hand loop langs Roedie se ruggraat af en vat oor sy boude. Roedie se lyf tril.

Aan die hemel bokant die dennebome hang ’n groot wit maan. Hy sit daar soos Misses Punt se Persian in die Kissing Pines se takke. Anderkant die bome kan hy die flou liggies van Avonstraat se huisies herken. Skielik skiet oompie Willy sy sigaretstompie met ’n boog deur die lug en kom hurk voor hom. Roedie hou op asemhaal. In die maanlig kan hy die man se oë sien skitter. Hy kan nie wegkyk nie.

Oompie Willy kom weer regop en kyk vlugtig om hom heen. Toe trek hy Roedie met ’n ruwe beweging teen sy harde lyf aan. ’n Verblindende skrik ruk Roedie, hy gryp beangs na vashouplek. Sy maagspiere span asof hy gaan skreeu, maar geen geluid kom uit hom uit nie. Hy voel hoe sy oom se growwe baadjie teen sy gesig skuur en ruik die bedwelmende soet rook daarin. Verlam bly hy in die omknelling staan.

Oompie Willy se hand grawe in sy klere, dwing by sy broekie se rek in. Hy hyg soos Rex as hy in die lande met die perde gehardloop het. Roedie se hart klop so vinnig dat hy aan die versmoor raak. Bitter vog kom in sy keel op. Hy wil skree, maar die man se klere is oor sy gesig en in sy mond. Hy begin wanhopig spartel, maar dit laat die gehyg net erger word.

Die bloed dreun in sy ore, maar hy hoor tog die stemme wat tus­sen die bome deur kom. Hoë vrouestemme wat praat en lag. Voet­stappe wat oor die dennenaalde kraak.

Oompie Willy word plotseling stokstyf stil. Sy hand voel na Roedie se mond, klem daaroor. Roedie spook en byt verwilderd sodat hy sy oom saggies hoor vloek. Maar die hand bly stewig oor sy mond. Toe hy dit uiteindelik wegneem, het Roedie haas nie meer asem oor nie. Dit het weer stil geword tussen die bome. Nog hewiger angs prik in Roedie se koue kopvel en in sy vingerpunte.

Maar dis verby. Sy oom trek eers sy eie klere reg en toe Roedie s’n. Daarna vat hy hom stewig onder die ken en lig sy gesig na hom op. Hy sê niks, maar Roedie sien weer sy oë in die wit lig skitter.

Toe hulle terugstap, begin Roedie huil. Eers probeer hy dit inhou, maar dit word steeds heftiger totdat sy hele lyf daarvan skok.

“Stil, djy!” sis sy oom net een keer en sy vingers knyp pynlik in Roedie se skouerknop sodat hy verskrik ophou. “Djy is nie ’n bybie nie.” Maar dan sit hy sy arm om sy skouer en hulle stap aan huis toe. Dit laat Roedie warmer voel. Hy hoor hom weer deur sy tande fluit.

Wanneer Roedie by sy bed kom, lê daar ’n blou Wilsontoffie op die kussing. Die régte toffie. Hy laat dit deur die venster buite in die malvas val. Toe kry hy trane in sy oë oor hy dit ook wou gehad het.

“Hier het altyd rooi malvas voor die venster gegroei,” sê hy vir Anne sodra sy weer op die patio uitkom.

“Is dit? Miskien moet ek dit ook probeer, dit behoort mooi te lyk, alles is so wit hier. Ek het al soveel dinge probeer, maar niks wil lekker groei nie.” Sy praat te veel omdat sy geskrik het vir die trek om sy mond.

Alexander wat vinnig onder Anne se voete uit padgegee het toe sy met die glase uitgekom het, kom langs Ruud se stoel staan, en lê sy kop op sy voorarm. Ruud draai sy arm om en vat die hond saggies onder sy keelvel vas. “Ek gaan nou in, Rex, dit word te koud hier,” sê hy.

Anne kyk verbaas na hom. “Hoekom noem jy hom Rex?”

Hy frons. “Wat?”

“Jy het vir Alexander ‘Rex’ gesê.”

“Het ek? Sorry.” Hy kyk na Anne. “Kan ons ingaan, ek kry koud hier.”

“Natuurlik. Ek het netnou al gedink dis te koud. Kom.”

In die voordeur skakel sy die verwarmer aan en hy gaan koulik diep in een van die groot stoele neersak. Sy bring sy wyn en kom digby hom op die rusbank sit.

Nadat hy ’n paar teugies gedrink het en weer kleur in sy gesig het, sê sy: “Jy het nog eintlik só min gepraat oor jou lewe in dié huis …”

“Ek onthou net dinge waaroor ek fotoartikels kan maak. Golden memories,” sê hy lughartig.

Sy laat haar nie mislei nie. “As jy so dikwels hier by jou grootouers gebly het as ’n klein seuntjie, moet jy tog ook sekere dinge kan ont­hou.”

“Daar is dinge wat ek kan onthou. Party is minder goed.”

“Ons het almal ons minder goeie herinneringe,” sê sy terwyl sy oor­loop na die boekrak om die kerse aan te steek teen die toenemen­de skemerte.

“Jy ook?”

Sy kom op die armleuning van sy stoel sit. “Ek ook.”

Hy slaan sy arm om haar skouer. “My ouma en oupa was eintlik die enigste sekerheid wat ek toe gehad het. Miskien die enigste wat ek óóit gehad. Hulle was altyd dieselfde.”

“Dan moet dit vir jou goed wees om weer hier in die huis te kom ná al die jare, al is alles so anders.”

“Ja,” sê hy en hy sug. “Ja …”

Toe hy nie voortgaan nie, vra sy: “Weet jy dalk wat mens hierdie hoë dennebome van Dieprivier noem?”

“Kissing pines.”

Sy kyk verbaas op. “Regtig? Niemand kon nog ooit regtig sê nie. Iemand het gereken stone pines.”

“Nee, kissing pines, dit weet ek vir seker. Dit lyk mos of hulle vooroor buig na mekaar toe om te soen. Ouma Dais het altyd gesê as die norewind in die kissing pines praat, kom die reent binne die uur.”

Sy leun haar kop vertederd teen sy skouer en tog weerhou sy haar daarvan om hom dieper in te vra. Eerder vra sy: “Kan jy nog onthou hoe dit in die dertigs en veertigs hier rond gelyk het?”

Hy hou ingedagte sy wynglas teen die lig van die kerse.

“Constantia was een groot boerdery-area. Ontsettend vrugbare grond. Hope vrugte, vye, druiwe. Hier was van die beste hanepoot in die land. Suikersoet. En perde! Jy kan jou nie voorstel nie. Weet jy, die besigheidsentrum hier agter,” hy beduie, “Constantia Village, waar Pick ’n Pay is? Dit was alles perdestalle. Mister Jardien se perde was dit.”

“Perde?” vra sy geïnteresseerd.

“Daar het nog perdekarretjies voor die winkels gestaan soos in die Wild West-films. Toe ons begin vyftig hier weg is, was dit ’n paradys hier.”

“Die moskee hier agter in Myburghstraat was seker toe ook al hier.”

“Ja, ja, ja! Hier was ’n vooruitstrewende Moslemgemeenskap. My ouma-hulle was Kristene, maar al haar familie was Moslems en baie van hulle vriende ook. Van my héél kleintyd onthou ek die imam wat saans net ná sononder sy gebede van die minaret af geroep het. En met Ramadaan was dit altyd ’n hele gedoente met al die mense wat moes vas, en dan die feesvierings as die maan weer gesien kan word. Ouma Dais se hart was baie daarin, sy het volop Moslembloed in haar are gehad. Maar Oupa was ’n Kristen van Genadendal se Broederkerk en so het sy dit ook geword.”

“Jy onthou dit goed.”

“Miskien moet ek dit eenkeer die onderwerp van ‘’n Brief uit Suid-Afrika’ maak.”

“Dit behoort interessant vir die mense in Nederland te wees. Hulle ken mos Moslems.”

“Ja …” sê hy ingedagte.

Ná ’n rukkie vra sy: “Watter taal het die mense toe hier gepraat?”

“Ons het áltyd Afrikaans gepraat, ons was almal Afrikaans. Mos­lems, die lot.”

“Ja …” sug sy. “As mens die Apartheidswiel kon terugdraai, hè.”

Hy strengel haar vingers tussen syne. “Ek is spyt dat ek byna heel­temal kontak met my grootouers verloor het toe ons Holland toe is.”

In die tyd wat hulle mekaar ken kon hy hom nog nie so ver kry om haar te vertel hoekom dit die geval was nie. Hy het dit net meer as een maal genoem. “Ek het natuurlik in die Nederlandse koerante baie gelees van wat hier gebeur het, maar oor Dieprivier se mense het jy niks gehoor nie. Distrik Ses het veel publisiteit gekry. Maar my lewe was in elk geval op daardie tyd, in my twintigs en dertigs, met soveel ander … dinge verwikkel dat ek nie baie aandag daaraan gegee het nie.” Hy leun oor om hulle glasies weer uit die bottel Stein vol te maak.

Anne neem haar glas by hom. “Baie keer vra ek myself ook af hoekom het ék in al daardie jare nie ’n veel groter hel ge-raise oor wat hier aan die gang was nie. Maar in ’n sekere sin was mens so versuf deur die aanslae van jou eie persoonlike lewe, kinders grootmaak, vriendskappe kweek, ernstige probleme met jou huwelik, dat jy net nie nog energie daarvoor oorgehad het nie. Nie dat dit ’n wonderse verskoning is nie. Daar was net sóveel ander issues ook …”

“Ek hoor wat jy sê. Ek was daardie tyd nie so erg betrokke by die joernalistiek nie. Ek was toe meer in die drugscene in Nederland geïnteresseerd, het in dié kringe gewerk. Maar soos jy sê, mens was so met jou eie lewensomstandighede gemoeid dat daar nie veel tyd vir iets anders oorgebly het nie. Op dié manier was ek nie regtig so op die hoogte van wat hier aangegaan het as wat ek behoort te gewees het nie. Later het ek wel heelwat gaan oplees, maar toe was dit net kopkennis. Ek het ook nie die informasie van die Nederlandse pers erg vertrou nie. Jy moes dit altyd met ’n knyp sout vat. Eintlik was ek ook die bliksem in vir die spul daaroor, want die Apartheidsaak het vir baie ’n ‘cause’ geword oor hulle nie bereid was om hand uit te steek en iets by die huis te doen nie. Ek het gevoel hulle skree saam en hulle weet nie rêrig waaroor dit gaan nie.”

Anne knik. “Ek het myself wel as ’n liberaal beskou, bietjie plak­kate geswaai en matig opruiende vergaderings bygewoon en ’n thrill gekry deur onwettiglik sosiaal met gekleurdes om te gaan. Maar werk­lik gedóén, het ek nie veel nie. Ek skaam my daaroor. Veral nou dat so baie dinge na vore kom waarvan ons eintlik behoort te geweet het. Iets aan behoort te gedoen het.”

“Maar jy skyn tog meer te weet van wat hier aangaan as baie ander met wie ek gepraat het in die tyd dat ek hier is.”

“Jaaa, dis maar van ek hier kom woon het en met meneer Osman daar oorkant die moskee begin gesels het dat ek meer direk met die onreg te doen gekry het. Nie dat hy ’n verbitterde man is nie. In­teendeel. Maar hy kon my eerstehands vertel.”

“Wanneer is die gebied eintlik wit verklaar?”

“In 1958, lank voor Distrik Ses dus, maar daar was natuurlik voor die tyd lankal ernstige waarskuwingsgeluide.” Sy reken op haar vin­gers. “In 1950 het die rasseklassifikasie plaasgevind, in 1952 is mense van kleur van die algemene kieserslys gehaal. In 1958 het Dieprivier sogenaamd wit geword. Die cottages is tussen 1958 en 1965 onteien, maar die mense het altyd nog ’n bietjie grasie gekry tot hulle ander huisvesting gehad het. As dit reg is wat ek uit die aktekantoor kon agterkom, het jou oupa, of wie ook al van die familie in daardie stadium die huis gehad het, dit bly behou tot 1969.” Sy lê haar hand oor sy knie. “Jy moet met meneer Osman gaan gesels, Ruud, dis nie onmoontlik dat hy jou mense geken het nie.”

“Ek sal nog.”

“Volgens hom het die mense tussen 1960 en 1965 byna sonder uit­sondering padgegee, want hier het niks meer vir hulle oorgebly nie. Die huise was onteien, besigheid was down the drain. Want as jy nie wit was nie, kon jy nie weer ’n handelspermit hier kry nie. Al die florerende klein sakies moes toemaak. Die paradys wat jy in 1950 agter­gelaat het, is uitgeroei.”

“Vir die Kleurlinge in elk geval.”

Sy knik. “Vir die Kleurlinge, ja. Want die wit ontwikkelaars het baie, baie geld uit hierdie huisies gemaak, kan ek jou voorsweer.”

“Waarheen is die mense eintlik almal? Cape Flats toe, town­ships?”

Sy knik. “Hoofsaaklik. Die meeste mense hier is volgens meneer Osman Hanoverpark of Manenberg of Lavender Hill toe. Jy kan ge­rus gaan kyk hoe lyk Hanoverpark, vandag nog! Kan jy jou voor­stel hoe hy tóé gelyk het? Vergelyk dit bietjie met wat jy van hier kan onthou. Dan kan mens jou in ’n mate voorstel hoe dit vir die mense moes wees wat daarheen verskuif is.”

“Hoe is die mense verskuif? In groepe wat bymekaar gewoon het.”

Sy maak haar glasie leeg en skud haar kop. “Nee. Dit was een van die tragedies. Altyd opgebreek en op verskillende plekke neergesit. As jy nie geld gehad het nie, het jy ook nie ’n keuse gehad waarheen jy gaan nie. Sommige mense het nog nooit tevore in hul lewens huur betaal nie. Duisende mense wat veral hier by Mushgrave Road rond gewoon het waar die huisies geslagte lank aan hulle en hulle families behoort het. Hulle het dikwels drie of vier gesinne in een huis gewoon of in shacks daar­agter. Nie in haglike omstandighede nie, eerder ’n soort community living. En hier word hulle nou in die aaklige beton matchbox flatjies oor die townships uitgestrooi. Vrót gebou, trekkerig, nat, in die sand – mense wat in Constantia hulle eie tuine gehad het. Losgeruk van familie en omgewing waar hulle grootgeword het, geen vervoer na hulle werk toe nie.”

“Here,” sê hy saggies.

“Ek wil jou nie ontstel nie, Ruud …”

“Nee.” Hy vryf haar vingers weer tussen syne. “Ek het tog gekom om dit uit te vind. In die maande wat verby is, het ek nooit genoeg moed gehad om jou of enigiemand anders régtig uit te vra nie. Ek het my liewer besig gehou met my stomme briewe uit Suid-Afrika. Of met spekulasie oor die kanse van die Nuwe Suid-Afrika. As mens oud word, word jy moeg vir ellende …”

“Jy’s nie oud nie,” val sy hom in die rede.

“Oud genoeg. Vertel nog.”

“Ek het met ’n Rooms-Katolieke priester in Manenberg gaan praat. Father Steward. Hy het vir my gesê baie van die ouer mense is eenvoudig aan gebroke harte dood. Volgens hom het skole, kerke, besig­hede, alles daaronder gely. Dis eenvoudig met die grond gelyk gemaak sonder om in ag te neem wat dit emosioneel aan die mense ge­doen het. Hulle moes toesien hoe die cottages waarin hulle dekades lank gewoon het, pragtig gerestoureer en aan blankes verkoop word. Teen fenomenale pryse. Kan jy dink hoeveel verbittering dit teweeg­gebring het?”

Hy skud sy kop, sê niks en sy gaan voort.

“In die townships was die nuwe prefab-skole almal Afrikaans-medium, hoewel Afrikaans toe lankal nie meer uitsluitlik die taal van die mense was nie. En met die onderdrukker-konnotasie ook nog daar­aan. Stel jou voor! Die treinspoor tussen Dieprivier-blank en Dieprivier-nie-blank is byvoorbeeld toegespan met hoë draad sodat ’n mens net met die enkele brug aan die ander kant kan kom. Mense moes kilometers stap om van hul werk by hulle huise te kom. Hulle kon nie sommer meer oor die spoor loop soos vroeër nie.”

“Maar hoe is dit tog moontlik dat die mense nie in opstand gekom het nie? Hulle was tog nie morone nie!”

“Ek weet nie. Ek dink hulle was so geskok en so oorrompel dat dit alles plaasgevind het voor hulle geweet het wat hulle getref het. Vol­gens meneer Osman was hier voorheen altyd respek en harmo­nie tus­sen wit en bruin. Mense het goed klaargekom. Miskien kon die bruines eenvoudig nie gló dat dit deur die wittes aan hulle gedoen word nie.”

“Baie van nóú se geweld is sekerlik so gegenereer,” sê hy en klink moeg.

“Father Steward reken dit was baie moeilik vir die ouers om die standaarde waarmee húlle grootgeword het, op te hou. Daar was die skollie-element in die townships en die verset oor die gedwonge Afrikaans op die skole. Baie kinders het sommer ophou skool toe gaan en in bendes rondgeswerf en hulle op die ou end aan misdaad oor­gegee. Drank en dagga was maklik bekombaar.”

“Vreemd dat die moskee bly staan het.”

“Volgens die wette van Islam mag ’n moskee nooit ontheilig word nie; dis so ’n streng beletsel dat selfs die Apartheidswette dit eer­biedig het. Oorkant my skool in Spaanschematrivierweg is ook nog ’n Moslembegraafplaas en bietjie hoër op in die straat ’n moskee. Al twee is nog in volle gebruik.”

“Vreemd dat Apartheid daarvoor gebuig het.”

Sy knik. “Die Roomse en Anglikaanse biskoppe het ook nooit Apart­heid in hul kerke toegelaat nie. Hulle het ’n groot aanhang onder die bruin mense.”

“Hoe is die mense uitbetaal toe die huise onteien is? Darem be­hoorlik?”

Sy trek haar skouers op. “Ek glo nie, maar ek onthou meneer Osman het gesê dat mens nie kon sê jy was verneuk nie, want hulle is uitbetaal wat die huise in daardie stadium werd was. Maar ek twyfel of dit altyd die geval was. Ek weet in Distrik Ses het verskriklik baie suurlemoensap deurgeloop met die groot ontwikkelaars en die ou mense wat geen benul gehad het wat hulle eiendomme regtig werd was nie.”

Hy skud sy kop. Alexander het opgestaan en weer teen sy knieë kom sit. Hy lê sy hand afgetrokke op die hond se kop.

“Rexie,” hoor Anne hom weer sê.

Hy slaap die aand in die kamer waar hy al meer as een maal oor­gebly het. Maar in die nag word Anne wakker van iemand by haar in die kamer.

Toe sy met ’n kreet regop kom, sê hy dadelik: “Dis ek, Annie.”

Hy kom by haar op die bed sit en sy slaan haar arms om hom. “Wat is dit?” vra sy teen sy gesig.

“Gee jy om as ek by jou kom lê?”

“Kom,” sê sy en slaan die duvet oop, “jy is yskoud.”

“Ek het so ’n verskriklike droom gehad,” sê hy terwyl hulle in­mekaar­gestrengel lê en hy geleidelik warmer word.

“Wat het jy gedroom?”

Maar hy sê: “Ek kan nie onthou nie.”

Hy raak voor haar weer aan die slaap.

Soos honde van die hemel

Подняться наверх