Читать книгу Kavod Adonai - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Jerusalem

Donderdag 18 Augustus 2011

Dis net ná halfeen toe Rivkah uit die ambulans klim by MADA (Israelse Rooikruis) se hoofkwartier. Sy vee die natgeswete hare moeg uit haar gesig; dit was ’n vermoeiende oggend en dis swetend warm. Hulle is pas terug van ’n swembad in ’n pretpark, waar hulle ’n driejarige se lewe nie kon red nie. Die kleintjie was minute lank onder water voordat sy ontdek is en die paramedici se desperate pogings kon haar nie bybring nie. Hulle moes haar uiteindelik dood verklaar. Die wanhopige ma se gekerm weerklink steeds in Rivkah se ore.

Dis somerskoolvakansie en haar eie twee is vir drie weke saam met haar ouers by die see in Bat Yam naby Tel Aviv. Sy moes haar met moeite daarvan weerhou om nie te bel en te hoor of hulle veilig is nie. Vreeslike gedagtes van verdrinking jaag deur haar kop. Yhoshi kan so onverskrokke wees in die see. Môre is sy sesde verjaardag, dan werk sy nie en gaan sy ook daarheen. Shabbat en Sondag is sy met verlof. Sy is dankbaar dat Chaim en Hadassah beskikbaar is om na die kinders om te sien noudat Marc vir die eerste keer in ’n skoolvakansie milu’im doen.

Sy en ’n kollega is net besig om die swaar instrumentetas uit die ambulans te laai toe die depot se luidspreker begin skel. Hulle verstyf albei. Dit blyk ’n ernstige skietaanval op ’n openbare bus naby die suidelike hawestad Eilat te wees. Hulle haas hulle binnetoe, waar ander kollegas voor die televisie saambondel. Hoewel sewe passasiers, van wie twee kinders, gewond is, skyn dit nie so ernstig te wees soos verwag kan word nie. ’n Verslaggewer sê skote is uit ’n verbygaande motor op die Egged-bus gevuur. Die terroriste het militêre uniforms aangehad wat volgens die busbestuurder soos Egiptiese weermaguniforms gelyk het.

“Noudat Moebarak nie meer aan bewind is nie, is daar chaos in Egipte.” Nahum skud sy kop. “Die wetteloosheid daar hou niks goeds vir Israel in nie.”

“Al was hy ’n diktator, het Egipte ons minstens dertig jaar met rus gelaat. Ofskoon dit ook maar ’n koue vrede was. Maar …!”

Voordat iemand op Itzik se kommentaar kan reageer, volg nog ’n skokkende berig. ’n Israelse patrollie-eenheid aan die Egiptiese grens het hulle na die toneel van die aanval gehaas en twee versteekte landmyne afgetrap. Ernstige beserings, twee soldate dood.

“Adonai Elohei,” kreun iemand agter Rivkah.

Sy draai om en sien dis haar kollega Chavah, wie se seun in die weermag op die oomblik aan die Egiptiese grens patrolliediens doen. Rivkah druk haar styf vas. Daar is geen trooswoorde wat sy kan bied nie, behalwe dat daar meer as een sulke patrollies is. Sy help die vrou haar besittings bymekaarkry sodat sy dadelik kan huis toe gaan. Maar voordat hulle nog klaar is, lui Chavah se selfoon. Dis die weermag. Rami is ernstig beseer. Rivkah help die hulpeloos huilende vrou in ’n taxi.

Terug voor die TV word die nuus ál skokkender. Dit word duidelik dat die Egged-bus wat aangeval is, soldate wat met verlof is en hul gesinne na Eilat vervoer het. Terselfdertyd word berig dat mortiere oor die Egiptiese grens gevuur word.

“Dan is dit miskien wel Egiptiese soldate wat betrokke is,” sug Nahum weer. “Of hulle kyk eenvoudig anderpad en los die terroriste om hul gang te gaan.”

“Meer waarskynlik, sou ek sê. Dit doen die Libanese en Siriërs tog ook op ons gesamentlike grens,” sê iemand anders. “Ek dink dit was ’n do­de­like fout van Ehud Barak (Israelse minister van verdediging) en die rege­ring om Egiptiese soldate toegang tot die Sinai-skiereiland te verleen.”

“Ek het nie eens daarvan geweet nie.” Itzik klink verontwaardig. “Ek dag onder Camp David mag hulle net klein patrollies daar instuur en dan net met vooraf toestemming van Israel.”

“So was dit ook. Maar die regering het toegestem omdat Hamas en al-Qaeda ná Moebarak se verdwyning openlik daar bedrywig geraak het. Om nie eens van Iran te praat nie. Dit het ’n terroristenes geword.”

Maar dit is nog nie die einde van die dag se ellende nie. Binne minute word verskeie tenkafweerprojektiele, waarskynlik RPG’s (vuurpylaangedrewe granate), afgevuur op ’n weermagbus, wat aan die brand slaan. ’n Privaat voertuig word ook getref en vier mense sterf. Nog ’n burgerlike sterf in sy motor en sy vrou word ernstig gewond, hoor hulle kort daarna.

Die groepie voor die televisie kyk woordeloos toe.

“Daar kom ongetwyfeld vergeldingsaanvalle,” merk iemand later op.

“Marc doen milu’im in die Negev,” prewel Rivkah. “Sal hulle nie dalk nou opgeroep word nie?”

Almal doen hul bes om haar te verseker dis buite die kwessie, maar sy glo hulle nie heeltemal nie. Hy antwoord nie sy selfoon toe sy bel nie, en haar vrees neem toe. Toe sy later klaarmaak, gaan sy nie huis toe nie want sy sien nie kans om daar alleen te wees met haar groeiende vrees nie. Sy bly dus saam met die ander voor die televisie.

Daar word berig ’n spesiale polisie-eenheid het intussen die terroristesel opgespoor wat die eerste bus aangeval het en al drie terroriste is in ’n skietgeveg dood. Twee van die liggame was met plofstof bedraad. Nog vier terroriste is gevang en in die proses doodgeskiet. Die IDF het al die paaie na die suide gesluit en onderneem ’n uitgebreide soektog na nog terroriste en plofstof. Inwoners suid tot by Eilat, Israel se mees suidelike stad and hawe, wag gespanne op die IDF se vergeldingsmaatreëls. En die seker wete dat Hamas gewelddadig daarop sal reageer.

Toe Rivkah se selfoon in haar uniformsak lui, verstyf sy. Maar dis Marc se naam wat op die skermpie flits. Nee, hy is nie by vyandelikhede betrokke nie, verduidelik hy haastig, sy moet haar nie bekommer nie, hy sal vanaand weer bel. Hoewel sy nie seker is dat dit die volle waarheid is nie, is sy meer gerus en besluit sy om huis toe gaan.


Die aand se televisieprogramme verskaf veel meer besonderhede. Rivkah maak vir haar kos en gaan sit voor die televisie. Sy mis Marc en die kinders verskriklik en het dit ’n slag oorweeg om vanaand al Bat Yam toe te gaan, maar sy is doodmoeg ná al die ure wat sy die week oortyd moes werk in die plek van kollegas met skoolgaande kinders wat verlof geneem het.

Eers is eerste minister Binyamin Netanyahu – alombekend as Bibi – aan die woord. Hy lig die nasie in dat diegene wat verantwoordelik was vir die skokkende terreuraanvalle “nie meer leef nie”. Nege Israeli’s het omgekom en dosyne is gewond in die aanvalle deur terroriste wat die Egiptiese Sinai oorgesteek en Israel op die mees suidelike punt ingesypel het. Minstens ses terroriste van die PRC (Populêre weerstandkomitees) is gedood. Onder andere die groep se leier, Kamal Nirab. Hy kondig ook aan dat vliegtuie van die Israelse lugmag op daardie oomblik besig is om PRC-installasies in die suide van Gasa aan te val.

Soos altyd in die demokratiese Joodse staat het elkeen ’n vry sê waar­van onverwyld gebruik gemaak word. Barak, stafhoof lt.genl. Benny Gantz en die hoof van Militêre Intelligensie word verkwalik dat hulle gefaal het om die suide te beskerm. Dit ten spyte van die feit dat hulle geweet het die Egiptiese weermag staan op die punt om ’n volskaalse teenterreuroperasie in Sinai te begin. Dié drie loop kwaai deur omdat daar gereken word hulle moes besef het Palestynse en al-Qaeda-terreur­organisasies sal dié optrede uitbuit. Dat dit Israel kan blootstel aan terreuraanvalle. Die voorbereiding vir so ’n goed beplande reeks aanvalle kon tog nie onopgemerk geskied het nie. Hoe het die aanvallers daarin geslaag om met een van die hoofroetes na Eilat te beweeg sonder om die agterdog van die Israelse weermag of die grenspolisie te wek? Het die minister en die stafhoof geslaap of het hulle nie omgegee nie?

Die emosies loop hoog. Nege mense is immers dood en dosyne ander gewond in veelvuldige terreuraanvalle waarin twee busse, twee privaat voertuie en ’n IDF-patrollie aan die Israeli-Egiptiese grens aangeval is. Hoe kon so iets onverhoeds gebeur in ’n land wat veronderstel is om uiters veiligheidbewus te wees? Waar was die intelligensie?

Laataand verskyn bedroefde familielede en vriende van die twee egpare wat op pad na Eilat in hul motor gesterf het op Ynet. “Ek moes hulpeloos toekyk hoe my broer sterf,” sê ’n getraumatiseerde Danny Gez. Net 50 m het Danny en sy broer Moshe van mekaar geskei toe terroriste Moshe, sy vrou en nog ’n egpaar, twee vriende van hulle, doodgeskiet het. Hy kon niks doen om sy broer en die ander mense in sy motor te help nie.

“Wat gebeur het, is omdat die polisie en die leër misluk het,” sê Danny.

Algaande ontvou die verhaal van twee susters, Flora Gez en Shula Karlinsky, en hul mans, Moshe Gez en Dov Karlinsky, wat vir ’n kort somervakansie op pad Eilat toe was toe hulle aangeval en vermoor is deur die terroristesel wat die gebied geterroriseer het. Die vier vriende het besluit om met Roete 12, pleks van die gewilder HaArava-hoofweg, na Eilat te reis. ’n Paar kilometer noord van die suidelike vakansieoord waar Roete 12 die naaste aan die Egiptiese grens loop, is hulle in ’n missiellokval gelei en afgemaai.

“Die motor is getref en ek het toe die terroriste na die bestuurder se kant sien kom, Dov se kant. Hulle het hom eerste geskiet en toe die ander drie. Dit het voor my oë gebeur, maar ek kon niks doen nie. Hulle het hulle van naby geskiet om seker te maak hulle is dood as hulle dalk die missiel oorleef het.”

Danny Gez het self nouliks aan die dood ontkom. Toe hy sien wat met sy broer en die ander gebeur, het hy sy motor onmiddellik in trurat gegooi en agteruitgejaag totdat hy kon draai. Die terroriste het op die motor geskiet. Die voorkant van die motor sowel as twee bande is raakgeskiet, maar hy het eenvoudig aanhou ry. “Ek het vir die mense in my motor geskree: ‘Hulle skiet op ons, lê plat!’” Dis ’n wonderwerk dat hulle ontkom het.

Familie en vriende van die Gez- en die Karlinsky-egpaar vertel van twee susters wat baie lief was vir mekaar, albei onderwysers, hoog aangeskrewe by hul kollegas, ouers en jong leerders.

“Hulle was toegewyde onderwysers. Dis ’n verskriklike verlies,” vertel een van Flora se kollegas aan Ynet. Albei egpare het in Kfar Saba gewoon, waar hulle die Sondag begrawe is.

Dié vier se motor was die tweede wat dié dag in ’n lokval gelei is. Ynet gesels ook met ’n familielid van Esther en Yosef Levy. Kort voor die Gez-en-Karlinsky-moord is hulle ook aangeval. Die Levy’s was op pad terug van Eilat na Holon met die Mitzpe Ramon-hoofweg. Hulle is voorgekeer deur ’n man in kamoefleerdrag wat onmiddellik op hulle begin vuur het. Yosef het probeer wegjaag, maar die motor het gegly en omgeslaan. Hulle is albei ernstig gewond en hy is daar dood.

“Dis ’n absolute wonder dat sy oorleef het,” vertel haar niggie. “In die hospitaal het sy ons vertel sy het 90 minute lank gemaak asof sy dood is. Sy sê sy het die terroris gesien en gebid dat hy nie moet kom seker maak dat sy wel dood is nie. Toe sy eindelik seker is daar is niemand meer nie, kon sy ons op haar selfoon bel en vertel wat gebeur het.”

Rivkah skakel oor na ’n ander sender, maar daar is weinig anders as nog beeldmateriaal oor die gruwels van die afgelope dag. Kort daarna piep haar selfoon. Dis Marc, wat haar ’n goeie nagrus toewens en ver­seker dat hy veilig is. Sy het egter ’n spesmaas dat hy allesbehalwe op ’n veilige plek is, anders sou hy gebel het.

Toe sy in die eensame bed klim, oorval die trane haar. Sy sien weer die bloubleek gesiggie van die kindjie wat verdrink het, hoor die ma se wanhopige krete. Chavah, wat Adonai Elohei agter haar fluister, Danny Gez se vertrekte mond wat prewel: “Ek kon niks doen nie …” Haar seuntjie wat môre ses word in hierdie verskriklike land. En Marc, waar is Marc? Toe hy vanmiddag met haar gepraat het, was dit so haastig en op die agtergrond kon sy geweervuur hoor. En vanaand het hy net ’n SMS gestuur. Kennelik wil hy nie hê sy moet vra waar hy is nie. Sy trek die duvet, wat nog na hom ruik, teen haar gesig op en huil hartstogtelik.


Die volgende oggend toe Rivkah gereedmaak om die bus Bat Yam toe te haal, is daar ’n onderhoud met Esther Levy uit haar hospitaalbed. Sy herleef die ontsettende anderhalf uur ná die aanval. “Die radio was nog aan nadat die motor gerol het. Ek kon oor die eenuur-nuus hoor van die ander aanvalle. Ek het net aanhou bid dat die terroris moet ophou skiet op ons. Oor die radio kon ek ook die skietgevegte tussen die terroriste en ons soldate hoor. Ek het nie geroer nie. Ek was so bang hy begin weer op ons skiet. Alles was onder bloed. Ek kon Yosef flouweg hoor roggel en toe het hy stil geword. Ek kon sy hemp sien, dit was met bloed deurweek.”

Rivkah skakel die TV vinnig af. Daar’s ’n koue sekerheid in haar dat Marc op die een of ander manier by die vergeldingsoperasie betrokke is. Vanoggend het hy ook nog nie gebel om Yhoshi se verjaardag met haar te deel nie. Dis nie hoe hy is nie. Maar sy weet van beter as om hom te skakel. Sy pak die eenvoudige skootrekenaartjie wat hulle vir Yho­shi gekoop het in haar tas en haas haar deur die nog geslote Arabiese shuk om by die Jaffapoort die ligspoortrein na die terminus te haal en daarvandaan die bus na Bat Yam. Buite is dit vroegoggend al warm, wat nóg ’n snikhete dag beteken. Mense skarrel in die strate om alles vir die Shabbat gereed te kry voordat die winkels sluit.

In die bus is die radio soos gewoonlik aan. Sy hoor Israel sit die vergeldingsaksie voort met ’n lugaanval op Hamas-teikens in Gasa. Volgens Palestynse bronne is daar indirekte skade en burgerlike slagoffers.

Hamas het reageer deur langafstand-Grad-missiele op Israel se suidelike stede af te vuur. Een hiervan het op die terrein van ’n yeshiva in Asdod geval. Tien studente is beseer, twee ernstig. Nog missiele het in die buitewyke van Askelon en Berseba geval, maar daar was tot dusver geen berigte van skade of ongevalle nie.

Sy hoor ook dat die PA (Palestynse gesagsowerheid) Israel vir die vyandelikhede verantwoordelik hou, ten spyte daarvan dat die toenemende geweld begin het met ’n Palestynse terreuraanval op Israeli-burgers. Saeb Erekat, die Palestyne se hoofonderhandelaar, beskuldig Israel daarvan dat die Eilat-terreuraanval as ’n “voorwendsel” gebruik word om wat hy noem “oorlogsmisdade” teen Gasa te pleeg. “Erekat,” sê die weermag se woordvoerder sinies, “beskou nie die Eilat-aan­valle – wat onskuldige, ongewapende burgerlikes geteiken het, baie van hulle op pad na ’n somervakansie – as oorlogsmisdade nie.”

Verskeie moedelose versugtinge gaan in die bus op by die aanhoor van dié nuus, maar niemand lewer kommentaar nie.


Yhoshi en Natani hang ’n rukkie geesdriftig aan haar, maar dis duidelik hulle geniet die tyd by die see baie. Albei het net swembroekies aan en is mooi bruingebrand. Savta Hadassah het ’n regte fees vir die verjaardagseuntjie gereël. Re’uven en Shlomit, wat die vakansiewoonstel langsaan vir die vakansie huur, se tweetjies en nog ’n maatjie wat ook daar met vakansie is, kom later die dag oor vir die geleentheid. Re’uven is egter gister onmiddellik nadat hy van die aanvalle in kennis gestel is, inderhaas terug Jerusalem toe en van daar na die Negev.

Yhoshi is buite homself oor die rekenaar. Dit duur nie lank nie voordat hy presies weet hoe dit werk en hy alles aan Natan en die nefie en niggie vernaam verduidelik.

Toe die kinders se aandag afgetrek is, sê Rivkah: “Ek het ’n baie sterk gevoel dat Marc-hulle ook by die vergeldingsoperasie betrokke is.”

“Het jy met hom gepraat?” vra haar pa.

Sy sug. “Abba, hy het my gistermiddag vlugtig gebel en net gesê hy is nie by die operasie betrokke nie en gisteraand ’n SMS gestuur om te sê hy’s veilig. Maar ek wéét dis nie so nie. Vandag het ek nog nie ’n woord van hom gehoor nie.”

“Wees maar rustig,” sê Chaim, “ons kan tog niks daaraan doen nie.”

Rivkah merk hoe moeg die rabbi daar uitsien. Sy weet dit het daarmee te make dat van sy gemeentelede waarskynlik agtergekom het wat sy standpunt oor die Messias van Israel is. Sy weet ook watter nadraai dit vir hom kan hê.

Ná afloop van die jolige kinderpartytjie word die laaste voorberei­dings vir die Shabbat getref en begin dit rustig raak in die woonstel en in die meeste ander huise in die omgewing. Shlomit het van Re’uven uit die Negev gehoor dat Marc wel betrokke is by die soektog na nog vermeende terroriste en landmyne. Rivkah moenie verwag om vandag van hom te hoor nie. Hy kan nie bel van waar hy is nie. Re’uven self sal waarskynlik nie voor Saterdagaand ná Havdalah weer in Bat Yam terug wees nie. Alles is onder beheer; hulle moenie onnodig bekommerd wees nie.

’n Halfuur voordat die Shabbat-kerse aangesteek word, word selfone, radio’s en TV’s afgeskakel. Dit is die dag van die Ewige, alle ander sake word vir eers opsy geskuif. Die vrede van die Shabbat en al die vertroude gebruike wat daarmee gepaard gaan, bring ook vir Rivkah rus en die wete dat waar Marc ook al is, die Almagtige by hom is. Sy voel die trane in haar oë brand toe Chaim die Shabbat-seën oor die kinders uitspreek. Eers oor die drie seuntjies. Dat hulle sal wees soos Efraim en Menasse. En dan die een dogtertjie, dié van Re’uven en Shlomit. Dat sy sal wees soos Sarah, Rivkah, Leah en Rachel. Haar gedagtes is by die kinders van die vermoorde egpare en die ma van die kindjie wat verdrink het.

Net voordat hulle die volgende aand met Havdalah begin, kry Rivkah ’n SMS van Marc. Hy sal nie die volgende paar dae kan bel nie, maar hy is veilig. Baie liefde en goeie wense vir Yhoshi. Dit ontstel Rivkah opnuut, want sy weet nou vir seker hy is nie by Tze’elim, die militêre basis in die Negev nie, maar is met iets anders besig. Waarmee? En daar is nog drie weke oor voordat hy kan huis toe kom.

“Hoekom gebruik julle reserviste in die operasie?” vra sy kwaad vir Re’uven, wat kort daarna tuis kom, asof hy daarvoor verantwoordelik is.

“Omdat hulle op daardie oomblik in die Negev was. In Tze’elim,” is al wat hy kortaf sê. Hy lyk vaal en moeg ná die baie ure sonder slaap.

“Slicha,” maak sy verskoning. “Ek het van die begin af geweet hy’s iewers betrokke.”

Re’uven glimlag flou. “Was ook nie vir my nodig om te ontplof nie. Maar dit was nie maklik om te sien watter gruwels in so ’n kort tydjie aangerig is nie. Op die eerste bus was daar soldate met hul vroue en kinders. Die Gez’e het drie kinders gehad en die Karlinski’s twee. Almal is nou wees. Nogtans kon dit nie vir Marc maklik gewees het nie; hy was betrokke by die … likwidasie van party van die terroriste wat hulle opgespoor het.”

Rivkah byt op haar tande. Niemand weet beter as sy watter uitwerking so iets op Marc het nie.

“Wat is likwidasie?” vra Yhoshi. Hulle het half vergeet dat die kinders hulle hoor.

“Dis … dit beteken dat hulle doodgemaak is, Yhoshi,” sê sy oom.

“Het Abba hulle doodgemaak?”

“Nee, Abba het dit nie gedoen nie, maar dit was vir hom moeilik om by te wees toe dit gebeur het.”

“Maar dit was mos terroriste.”

Sy grootvader trek hom nader, sit sy arm om hom. “Yhoshi, terroriste is ook mense. Mense wat ’n verkeerde pad geloop het, maar nogtans mense wat die Almagtige van Israel, baruch Hu, geskape het. Hy leer ons om respek te hê vir alles wat lewe. Al word ons soms gedwing om ander se lewe te neem, mag dit nooit iets wees wat ons bly maak nie.”

“Maar, Saba, as hulle mý abba en imma doodgemaak het, sou ek bly gewees het hulle is doodgeskiet.”

Chaim druk hom teen hom vas. “Ek dink HaShem sou jou verstaan het, Yhoshi.”

“Daar is darem ’n bietjie goeie nuus ook, Rivki. Ek het verstaan die reserviste wat by die vergeldingsoperasie betrokke was, kom vroeër huis toe. Hulle het gepraat van einde Augustus.”

“Jy speel!”

“Nee, regtig.

“Yoffi!” Sy klap haar hande opgewonde.

“Máár, jy moet ook weet hulle blý voortaan nog op grenspatrollie. Lang, vermoeiende ure.”

“Wel, toe hy netnou SMS dat hy die volgende paar dae nie sal kan bel nie, het ek geweet hy’s nie by die basis nie.”

“Ons kom ook die 31ste terug,” reken Hadassah haastig tussenin uit. “Dit sal wonderlik vir die kinders wees as hy dan huis toe kom.”

Rivkah knik. “Beslis.”

“Rivkah …” Die toon in haar broer se stem laat haar vinnig na hom kyk.

“Wat?”

“Miskien is dit goed dat jy weet Marc-hulle patrolleer die Gasagrens. Dit is hoekom hy nie kan bel nie.”

Sy knyp haar oë ’n paar oomblikke styf toe. “O, ek was bang daarvoor.”

“Dit is so,” sê haar broer somber.

Hadassah en Shlomit bring vir Re’uven sy aandete, wat hy hongerig verslind. Toe die kinders weer rondom Yhoshi se wonderlike reke­naartjie vergader, vertel hy hulle ’n Grad-missiel uit Gasa het ’n huis in Ofakim getref net voor hy teruggekom het. Die huis het aan die brand geslaan. Skrapnel het ’n baba van vier maande, ’n negejarige seuntjie en ’n man van iets in die twintig ernstig beseer. In elk geval is missiele die ganse Shabbat op Askelon, Asdod en Berseba afgevuur, meer as 45 die afgelope 48 uur. Drie mense is ernstig gewond en ’n hele aantal is met ligte beserings en skok in die Soroka-universiteit se mediese sentrum in Berseba opgeneem. Die IAF (Israelse lugmag) het Vrydagaand verskeie lugaanvalle op die Gasastrook gedoen in reaksie op Donderdag se terreuraanvalle. Minstens een Palestyn is dood. Die spanning styg aan die Gasa- en die Egiptiese grens.

Sy selfoon lui en hy gaan buitentoe om dit te antwoord. Almal binne wag in angstige stilte. Toe hy terugkom, skud hy sy kop vermoeid. “Nog ’n Grad-missiel het ’n motoris op die hoofweg net buite Berseba getref. Noodlottig. Pa van twee met ’n hoogswanger vrou.”

“Elohei Yisra’el Avinu,” prewel Chaim.


Sondagaand is Rivkah weer by die huis in Jerusalem. Op TV is daar nog meer droewige verhale, onder meer skreiende tonele van die begrafnis van Yossi Shushan, wat op die hoofweg na Berseba die slagoffer geword het van die spervuur van honderd Palestynse missiele wat die naweek oor die suide van Israel neergereën het.

Bleek van skok en snikkend is Lilach Shushan langs haar geliefde man se graf te sien. Sy is nege maande swanger en lê op ’n draagbaar uit vrees dat sy sal begin kraam.

Later voer die Israelse dagblad Yedioth Ahronoth, ’n onderhoud met haar, wat ook gebeeldsend word.

“Sy gesin was alles vir hom. Hy was ’n fantastiese pa wat altyd sy kinders se belange voor sy eie gestel het. Hy kon nie wag vir die geboorte van hierdie eerste seun nie. Dit was al waaroor hy gepraat het,” vertel Lilach in trane. “En hierdie … hierdie moordenaars het gemaak dat hy nooit sy seuntjie sal sien nie.” Sy huil snikkend. “Dit kan nie wees nie! Miskien is dit net ’n nare droom en kom Yossi skielik weer by die deur ingeloop.”

Die programleier vertel toe Yossi die lugalarms hoor afgaan, het hy dadelik in sy motor geklim om huis toe te ry sodat hy by sy swanger vrou en getraumatiseerde kinders kon wees.

Wat vir Lilach ’n dag van groot vreugde moes wees – die geboorte van haar derde kind en eerste seun – word nou ’n dag van hewige ontsteltenis.

Maar nie net Lilach het dié dag tragedie en pyn ervaar nie.

Verder noord in Kfar Saba, een van die dorpe in die middel van Israel, woon duisende mense die gesamentlike begrafnis van Moshe en Flora Gez en Dov en Shula Karlinsky by.

Beelde verskyn van die Gez- en die Karlinsky-kinders, wat sukkel om te midde van oorweldigende emosie hul ouers te huldig.


Twee dae voor die einde van Augustus bel Marc onverwags om te sê hy kom nog dieselfde aand huis toe. “Dit kan baie laat word, Rivkah.”

“Marc, is jy oukei?” Sy stem klink so vreemd.

“Ek kom vanaand.”

Dit is byna middernag toe hy van die bus af bel en sê hulle is naby die Sionspoort. Rivkah, wat heelaand ongeduldig vir die oproep wag, is bly die kinders is nog nie daar nie. Sy trek vinnig ’n ligte sweetpak oor haar slaapklere aan en hardloop soos ’n kind die trappe af. Buite is die nag louwarm en aan die hemel hang ’n bleek maan. Sy hardloop al langs die eeue oue pilare van die antieke Cardo, by die bakkery en die klein supermark en die geslote Armeense winkeltjies verby en deur die Sionspoort met sy pokmerke van die Sesdaagse Oorlog. Toe die weermagbus met ’n gesuis van hidrouliese remme op die plein stilhou, is sy daar.

Dié busse doen altyd heel laaste by die Ou Stad aan wanneer hulle soldate aflaai. Net Marc en nog een soldaat is in die bus oor. Hy sukkel om sy swaar rugsak en geweer deur die smal uitgang te kry en gewaar haar in die donker eers toe sy voor hom staan. Toe laat hy die sak en die geweer kletterend op die stene val. Hulle gryp mekaar vas, onbewus van die bus wat wegry en die ander soldaat wat ook uitgeklim het. Dié hou hulle ’n oomblik stil dop voordat hy gebuk onder sy eie vrag deur die poort verdwyn.

“Jy het maer geword,” fluister sy vir hom.

Hy reageer nie daarop nie; hy hou haar net styf vas.

Toe hy haar eindelik laat gaan, skrik sy toe sy in die flou lig van die maan sien hoe versonke sy oë in sy ongeskeerde gesig is. Sy verwilderde, langerige donker hare roer effens in die soel luggie. Sy neem sy gesig tussen haar hande en soen hom. Hy ruik na sweet en doodsvermoeienis.

“Kom, ons gaan huis toe.”

Maar hy hou haar nog vas. “Ek het verskriklik na jou verlang.”

“En ek was so, só bang dat iets met jou sou gebeur.”

“Ek het só na jou verlang.”

“Kom,” sê sy weer.

Dié keer laat hy haar gaan en buk om sy sak op te tel. Maar voordat hy sy geweer kan bykom, het sy dit al opgetel en maklik oor haar skouer gehaak.

“Nee, Rivkah.”

“Dink daaraan dat ek ’n soldaat was voordat jy nog van soldaatwees geweet het,” sê sy lughartig en haak by hom in.

Saam stap hulle die ent terug. Hulle praat nie en om hulle slaap die Ou Stad.

Die helder lig in hul voorkamer bevestig hoekom sy geskrik het. Hy het heelwat gewig verloor en onder sy dowwe oë lê donker skaduwees. Instinktief slaan sy weer haar arms styf om hom en hy laat sy ken op haar hare rus.

Shmu’el, wat hom stormagtig kom verwelkom het, gaan sit onseker eenkant toe hy geen aandag kry nie. Hy kyk hulle vraend met ’n skewe kop aan.

“Ek dink jy moet net eers ’n lekker warm bad neem voordat jy iets eet.”

Hy skud sy kop. “Ek is nie honger nie.”

“Wanneer het jy laas geëet?”

“Vanoggend.”

“Ek gaan water in die bad tap. Trek daai vieslike uniform uit. Dit sal jou al laat beter voel.”

Hy gehoorsaam haar sonder meer. Toe hy sukkel om sy stewels uit te kry, help sy hom sonder dat hy beswaar maak. Ontsteld sien sy hoe vol blare en rou geskawe sy voete is. Die skraal kunstenaarshande het bloederige eelte aan die binnekant. Sy naels is vuil en gebreek. Maar nie een keer sit sy haar skok in woorde om nie. Sy werk met hom soos met een van haar seuntjies.

In die bad was sy sy maer lyf en sy smerige hare totdat die water donkerbruin van die sand is. Hy kom nie agter dat haar oë rooi van ingehoue trane is nie. Sy versorg sy voete en hande versigtig met ontsmettingsmiddel en antiseptiese salf. Die hele tyd praat hulle byna nie, maar daar is ’n verbondenheid tussen hulle wat anderkant woorde lê. Sy vra hom nie waarom hy nooit laat blyk het met watter haglike omstandighede hy te kampe gehad het nie.

Toe hy gebad en skoon slaapklere aan het, bring sy vir hom roosterbrood en sop, en hy eet dit.

Toe sê hy: “Ek wil met jou liefde maak.”

Sy glimlag teer. “Jy’s moeg, my lief. Ons het nog baie tyd daarvoor. Jy moet kom slaap.”

Hy skud sy kop. “Ek droom wanneer ek slaap.”

“Ons gaan sáám slaap, Marc.”

“Ek wil met jou praat.”

“Dis goed, maar ons kan ook praat terwyl ons in die bed is.”

Ten spyte van die warm nag, trek hy die duvet tot onder sy ken. Hy lê met sy kop teen haar skouer en sy stoot haar vingers kalmerend deur sy skoon hare. Hy ruik weer na lewe. Op die wekker voor die bed sien sy dis halftwee. Sy is dankbaar dat sy gereël het om vandag middagskof te werk van twee-uur af omdat sy verwag het Marc gaan laat kom.

“Die man wat die Levy’s aangeval het …”

Sy knik.

“Ek was deel van die afdeling wat hom gejag het.”

Sy vryf sy rug en voel hoe hy ril. “Re’uven het my vertel.”

Hy bly so lank stil dat sy wonder of hy nie aan die slaap geraak het nie. Sy kan nie sy gesig sien nie, want hy lê met sy gesig teen haar skouer.

“Marc …?” vra sy sag.

“Ons het hom vasgekeer,” sê hy toe. “Ek het sy oë gesien. Hulle was net soos myne. Verskriklik bang. Maar hulle het hom geskiet.”

“Hy was tog seker gewapen. As hulle nie geskiet het nie, sou hy.” Sy praat steeds baie sag. “Daar was geen ander uitweg nie, was daar?”

Hy draai op sy rug en kyk na haar. “Hy het ook gedink wat hy doen is reg.”

“Kan dit reg wees om ongewapende burgerlikes in ’n lokval te lei en te skiet?”

“Miskien is dit hoe hy oorlog sien.”

“Kan dit wees dat hy dit verkeerd sien?”

Daar kom ’n sweem van ’n glimlag om sy mond. “Jy praat met my soos ek met Yhoshi praat.”

Sy buk oor en soen hom. “Jy is terug, chamud, dis al wat op die oomblik vir my saak maak.”

Hy raak aan haar gesig. “Wanneer ek slaap, kom daardie oë altyd weer na my terug. Altyd.”

“Jy kon nie te veel geslaap het nie. Wanneer ek na jou kyk, lyk dit my jy het nooit geslaap nie,” probeer sy sy aandag speels aflei.

Hy maak sy oë toe en sy voel hom weer ril. “By Tze’elim het hulle dié van ons wat in 2006 in Libanon was, uitgesoek om die Gasagrens te patrolleer.”

Sy sê niks, maar bly sy rug vryf.

“Dit was asof ek terug was in Libanon. In Magrebeh … Daardie spookdorp wat gelyk het of niemand daar was nie. Tog het jy heeltyd geweet daar is oë wat jou dophou. Skouermissiele wat elke beweging van jou volg. Die dood wat op jou wag.”

Toe hy opkyk, sien Rivkah in sy oë dat hy nie by haar is nie. Pyn groef sy mondhoeke.

“En in Quzah, toe ons die opdrag kry om in die nag in die heuwels stelling in te neem. Die ontruiming van die dooies en die beveiliging van die gewondes …” Hy bly lank stil.

“Daardie nag is soveel verskriklik verminkte mense, dood en halfdood, by my verbygedra … Ek het naderhand niks meer gevoel nie. Dit kon net sowel dooie beeste gewees het wat hulle daar dra …”

“Marc …”

“In die eindelose, eindelose donker ure dat ons daar langs die grens gery en geloop het, was ek soveel keer weer terug by die Litanirivier. Het ek weer David se Black Hawk bo ons sien ontplof. Weer die bloed en die dood geruik van die verbrande oorblyfsels saam met my op die vloer van die helikopter wat my teruggevlieg het Israel toe …”

Rivkah sien die sweet op sy voorkop uitslaan.

“En Udi … Udi, wat in die Cast Lead-operasie in my arms gesterf het.”

Sy buk oor hom. “Marc! Dis nou verby, liefling. Jy is by die huis.”

Stadig kom lig terug in sy oë. “Ja,” sê hy en hou haar boarms met albei sy hande styf vas. So styf dat sy seerkry en sy vingers sag losmaak.

“Jy moet nou slaap.”

“Alles, al die dinge wat in daardie ure na my teruggekom het, al die hel, het ek versigtig soos met houtskool op ’n wit vel in my kop geteken.”

“Chamud, dit sal weer regkom. Alles sal duidelik word wanneer jy weer kan teken en skilder!”

Dis asof hy haar nie hoor nie, maar tog glimlag hy effens. “Weet jy hoe ek dit oorleef het, Rivkah? Daardie eindelose nagure aan die grens? Die angs wat elke geluid gebring het? Die wete dat ons soos die eerste patrollie aangeval kon word. Dat daar landmyne geplant is …”

Sy stem raak weg, maar toe fluister hy weer: “Toe ek daardie laaste nag die stryd wou gewonne gee. Toe ek wou wegkom van hierdie verskriklike land. Wegkom van die vervloeking van Jood-wees. Weet jy hoe het ek oorleef?”

Hy wag nie vir haar om te antwoord nie. “Bo-oor daardie hel op die wit papier het ek jou mond geteken en Yhoshi se oë … en ek het Natani se handjies geteken.”

Toe huil hy. Sy druk sy kop teen haar bors en voel sy warm trane deur haar klere. Maar langsamerhand weet sy dat die stilte in hom terugkom. Eers toe sy seker is, laat sy hom gaan.

In die flou lig van die bedlampie sien sy hy is weer by haar.

“Ek het jou lief,” sê sy, want geen ander woorde kan haar emosies beter beskryf nie.

Marc steek sy arms stadig uit soos een wat swak is en trek haar na hom toe. “Rivki, as ons mekaar verloor, het ons alles verloor.”

So met haar teen hom, raak hy aan die slaap.

Kavod Adonai

Подняться наверх