Читать книгу Kavod Adonai - Marzanne Leroux-Van der Boon - Страница 6

Hoofstuk 4

Оглавление

Jerusalem

September 2011

Die somervakansie is verby en die skole en universiteite weer in volle gang. Aan die einde van sy klasse staan en wag Marc voor die Hebreeuse Universiteit op Mount Scopus vir ’n bus toe sy selfoon lui. Hy herken nie die nommer op die skermpie nie en ook nie die stem wat aan die ander kant sê: “Shalom, shalom, Marc, dis Gadi.”

’n Oomblik het hy ook geen idee wie Gadi kan wees nie. “Shalom …” sê hy onseker.

“Gadi Levin van Parys.”

Marc se gedagtes jaag langer as twaalf jaar terug. “Hemel …” is al wat hy kan uitkry.

“Ja,” lag die een aan die ander kant, “jou verlede het jou ingehaal.”

“Waar op aarde is jy?”

“In Café Rimon.”

“Nooit! Wat maak jy in Jerusalem? Hoe’t jy geweet ek’s hier?”

“Lang storie. Waar’s jy? Kan jy hier kom koffie drink?”

“Ek’s nog hier by die universiteit, wou nou net ’n bus haal stad toe.”

“Kom jy vir koffie?”

Marc aarsel ’n oomblik. Hy sal met Hadassah moet reël om by die kinders te bly totdat Rivkah tuiskom.

“Kom jy?” vra die ander half ongeduldig.

“Ken. Ek reël net gou. Sien jou oor ’n halfuur.”

“Beseder.”

Tien minute later is hy op die bus. Hy dink oor Gadi en die drie jaar dat hy in Parys se Le Marais-distrik ’n kamer in Gadi se ruim woonstel gehuur het. Toe hy ná sy matriekjaar ’n beurs kry om aan die Sor­bonne te gaan studeer, het Simon, die kunstenaar by wie hy is sy laaste skooljaar privaat kunslesse geneem het, vir hom huisvesting gekry by ’n kennis uit sy eie studentedae in Parys. Dit was Gadi.

Marc grinnik effens toe hy daaraan dink dat hy in daardie dae nie die vaagste benul gehad het van wat Jood-wees werklik beteken nie. Die klein bietjie wat hy daarmee in aanraking gekom het, was met Baruch, die Israeli wat saam met Simon ekstra kunslesse op Stellenbosch aangebied het vir studente met uitsonderlike talent. Hy was een van hulle. Baruch was ’n beeldhouer uit Israel wat ’n paar jaar lank in Suid-Afrika gewerk het. Tussen hom en Marc het ’n hegte band ontstaan, byna soos met ’n veel ouer broer, in ’n tyd toe Marc met sy identiteit geworstel het. Baruch het egter kort daarna tragies verongeluk. Marc het agtergebly met ’n dwingende begeerte om Baruch se geboorteland te gaan besoek.

Toe hy by Gadi gebly het, het hy nog nie geweet hý is ook ’n Jood nie. Aan die ander kant het Gadi niks wat Joods is onderhou nie. Net maar half spottend na sy Joodsheid verwys. Hy was toe in die veertig, bogemiddeld artistiek, en ’n onderwyser by een van die skole in die omgewing. Jagter van faam was Gadi – vroue by uitsondering, maar hoofsaaklik mans. Al het Gadi Marc nooit gekompromitteer nie, het dit met verloop van tyd tog tot Marc deurgeskemer dat Gadi se vriende nie net vriende was nie. Marc het hom nie veel daaraan gesteur nie. Sy studies en Parys het elke oomblik van sy menswees in beslag geneem. Van kuns kon Gadi Marc met sy unieke begaafdheid niks leer nie. Hy het wel baie kontakte in die kunswêreld en kon Marc, jonk en naïef soos hy was, aan mense voorstel wat sy talent in nuwe rigtings laat ontwikkel het.

Toe Marc in 1999 aan die einde van die akademiese jaar terug Suid-Afrika toe is, het hy en Gadi aanvanklik nog met mekaar in kontak gebly, maar dit was van korte duur. In 2001 het Marc agtergekom albei sy ouers is van direkte Joodse afkoms en dat hy self dus Joods is. Die soektog na sy wortels het hom Israel toe gebring, na sy familie wat hy nooit eens geweet het bestaan nie. Na Rivkah, en uiteindelik vaste verblyf en Israeli-burgerskap. Onder die druk van die afgelope tien jaar het die gedagte aan Gadi en sy jare in Parys nooit werklik deel van sy gedagtewêreld uitgemaak nie. En nou skielik, ewe skielik, bel Gadi hom uit Jerusalem!

Café Rimon is somervol en hy sien Gadi nie dadelik raak nie. Dis inderdaad hy wat Marc herken, sy hand opsteek waar hy by ’n tafeltjie sit.

“Marc!” roep hy hard bo die geroesemoes in die restaurant.

Marc kyk in die rigting van die uitroep en sien Gadi sit. Behalwe dat sy donker hare stylvol grys geword het, het hy nie veel verander nie. Hy is steeds die skraal, lang, donker, aantreklike man. Die enigste verskil is dat Marc nou duidelik kan sien dat hy ’n Jood is – iets wat nie voorheen so opvallend was nie.

Gadi omhels hom met tipies Joodse gulheid, versterk deur sy Fransheid. Marc gaan sit en Gadi bestel ewe gul koffie en croissants.

“Vertel my hoe jy op my afgekom het.”

“’n Mens hoef nie op jou af te kom nie, Jerusalem weet van jou.”

“Kom nou, Gadi, jy weet dis nie waar nie. Hoe het jy geweet waar om my in die hande te kry?”

“Nu, die afgelope winter met die geweldige sneeu, loop ek op ’n dag hierdie allermooiste jong man in die Rue des Rosiers op die lyf …”

“Nu,” spot Marc hom, “dis niks nuuts nie.”

“Sekerlik nie, maar hierdie een. Beeldskoon!”

“Hy sou my nie geken het nie.”

“Jy dink so! Wel, hy het. Hy was een van jou studente.”

“O! Wie?”

“David Goldblatt.”

“O, ja, David.” Hy grinnik. “Ja, bepaald ’n aansienlike man. Maar hoe kom julle dan toe by my uit?”

“Soos ek gesê het, dit het vreeslik gesneeu en ek sien hierdie pragtige man wat die gladde straat probeer oorsteek in ’n swart jas en stewels met ’n toegewikkelde skildery onder die arm en ’n tas vol geskenke in die hand. Nu, iemand moes hom tog help …”

“Jy kon uiteraard nie anders nie.”

“En ek sien hy’s bepaald Joods, nes ek.”

“O, ja?”

Gadi bloos effens. “Wel, dit het soms sy voordele.”

“En jy vat die verkluimde jonge heer reguit Sacha Finkelsztajn toe.”

“Hoe sou jy dit nou weet?”

“Ek het darem nog nie vergeet dis die plek met die beste Joodse koek in Le Marais nie.”

“Metsuyan!”

“En so leer julle mekaar so goed ken dat jy nou vir hom in Jerusalem kom kuier. Hom Parys toe kom haal miskien? Al is jy dertig jaar ouer as hy.”

Gadi grinnik. “Daar het jy nou die kat aan die stert beet. Die jong man het op trou gestaan en spesiaal in Le Marais vir sy verloofde as trougeskenk ’n afdruk van Picasso se Two Brothers kom koop. Ek het hom in vrede laat trou. Sommige dinge moet ’n mens laat verbygaan, jy weet. Maar alle nonsies op ’n end nou. Ons het daar in Finkelsztajn gesels en hy’t my vertel waar hy kuns studeer het. En by wie.”

“O.”

“Ja, o! Hy kon nie uitgepraat raak oor die ongelooflike talent van dié jong lektor nie. Was hy verbaas om te hoor ek ken hom goed.”

Marc kyk verleë af na sy croissant.

“Ek het nooit geweet jy is ’n Jood nie, Marc. Nog minder dat jy nou in Israel is.”

“Ek het dit self ook nie voor 2001 geweet nie, Gadi. En ons het eintlik kontak met mekaar verloor,” verdedig Marc hom flou.

“Nu, hy het my ook vertel jy kon eers later jou afkoms vasstel, is met ’n Israeli getroud en woon nou hier. By die troue gister het hy selfs jou selfoonnommer vir my gegee wat hy by ’n kollega van jou afgebedel het.”

Marc keer homself om nie weer “o!” te sê nie.

“Máár, Marc, hy het my daardie eerste dag in Finkelsztajn ook iets vertel wat my … sal ek sê, verontrus het. Dit het my laat besluit om die uit­nodiging na die troue te aanvaar en te kom kyk wat van jou geword het.”

Marc kyk vinnig op. “Wat was dit?”

“Dat hierdie talentvolle lektor van hom sy kuns verwaarloos. Nooit ’n uitstalling hou nie, byna nie meer skilder nie, ’n soort Chassid geword het.”

“Dis nie waar nie.”

“Wat is nie waar nie?”

“Dat ek ’n soort Chassid geword het.”

“Nou sê dan maar ’n behoudende Jood. Behoudend. Weerhou dié lewenstyl jou dan daarvan om jou kuns te beoefen soos jy behoort?”

Marc wil hom ’n sarkastiese antwoord gee, maar hy sien Gadi bedoel dit ernstig. Dat hy werklik oor sy welsyn bekommerd is. “Nee,” sê hy, “dat ek … gelowig is, beteken nie ek kan nie skilder nie. My gesin en my werk by die universiteit maak dat ek nie meer soveel tyd vir myself het nie. En ag, die voortdurende bedreiging hier ontneem ’n mens ook jou kreatiwiteit.”

“Dit klink nie na die beste verskonings wat ek al gehoor het nie. Baie groot kunstenaars het ’n vrou en kinders gehad. En wat die bedreigings betref, ek dag dan ’n Jood spog hoe benouder dit rondom jou word, hoe meer jy bedreig word, hoe meer kom jou talente na vore.”

“Hoe’s dit dat jy nou skielik onthou jy’s ’n Jood, Gadi? Ek was nie vroeër van sulke sentimente bewus nie?”

“Kyk, die meeste Judaïese tradisies en affêres is vir my sinloos, selfs belaglik. Jul storie met die Palestyne klink vir my allesbehalwe kosjer. Maar my bloed is Joods. Ek het jare lank daarby probeer verbyleef, maar dis nie heeltemal moontlik nie.”

“Wanneer die ouderdom ’n mens inhaal, begin dié dinge jou hart raak, Gadi.”

“Die ouderdom het my nie ingehaal nie. En wat weet jý in elk geval van die ouderdom? Buitendien, ons praat nou oor jóú, Marc, nie oor my nie. Moet nou nie weer probeer wegskram nie.”

“Slicha. Nee, maar ernstig, jy het miskien gelyk. ’n Goeie vriend van my het my die anderdag eintlik ook daaroor aangespreek. Oor die feit dat ek my kuns verwaarloos.”

“Van wat ek sien en hoor van mense wat jou ken, neem jy jou Jood-wees, veral jou Israeli-wees, so ernstig op dat dit al jou tyd in beslag neem.”

“Dink jy nie dis verstaanbaar as jy in gedagte hou hoe nuut albei vir my is nie?”

“Ná twaalf jaar kan dit nie meer so nuut wees nie. Het dit nie miskien tyd geword dat jy ’n bietjie minder aandag dááraan gee en meer aan jou kuns nie?”

“Ek reken ’n mens kan albei doen.”

“Nie met ewe veel passie nie.”

Marc sug. “Wat stel jy voor, Gadi?”

“Ek het ’n voorstel.”

“O?”

“Ek wil voorstel dat jy met Sukkot ’n paar dae Parys toe kom. Na my toe, Le Marais toe. Montmartre, Seine toe, Louvre toe. Net weer die atmosfeer inasem.”

Marc kyk hom verbaas aan. “Dis gaaf van jou. Maar jy weet tog ons het hier ook uitstekende kunsversamelings.”

“Ja, ek weet. Maar ek dink jy moet ’n slag van alles loskom en net kyk en inneem en dink. Buite die raamwerk van die Judaïsme. Ek dink jy het al vergeet dat daar ’n lewe daar buite is.”

Marc wil dit onmiddellik teëspreek, hom vertel van sy Messiaanse insigte, maar die eerlike erns op die ouer man se gesig laat hom stilbly.

“Dink daaroor.” Gadi wink die kelner nader om die rekening te bring. “Ek vlieg vannag terug Parys toe, maar hier is my telefoonnommer. Dis nog twee weke voor die Sukkot. Laat my weet wat jy besluit. Maar, Marc, dink asseblief ernstig daaroor na. En onthou, die vlugte sal vol wees; dis dan vakansie.”

Marc loop half dronk van verbasing deur die stad terug. Dit kan tog nie blote toeval wees dat eers Dov en nou Gadi met hom oor dieselfde ding praat nie. Weliswaar nie op dieselfde manier en met dieselfde doel voor oë nie. Tog handel dit oor dieselfde ding: meer tyd by jou verfkwas, soos Dov dit gestel het. Dis of die herinnering aan Parys meteens voor hom oopval soos nooit die afgelope jare nie. ’n Byna dwingende verlange om net weer in te neem sonder om aan iemand of iets anders aandag te moet gee.

Hy neem nie die gewone pad huis toe nie. Hy haas hom met Davidstraat deur die shuk sonder dat hy die kleur en verskeidenheid raaksien wat daar uitgestal is en draai links af in Suq Al Khawaja na die Kotel. Op die snikwarm middaguur is daar nie baie mense by die Klaagmuur nie. Hy stap tot voor teen die eeue oue klippe en rus lank met sy voorkop teen die louwarm stene. Uiteindelik druk hy ook met sy handpalms daarteen en toe eers praat hy met die Ewige.

“Adonai,” fluister hy, “hoe sal ek weet of dit U is wat my in ’n rigting wil lei en of dit dalk my eie diep … wilde begeerte is? Praat U deur hierdie twee mense met my of is dit net my ore wat dit so graag wil hoor? In u groot genade en liefde, help my om te weet wat ek moet doen.”

Daar kom ’n mate van gemoedsrus oor hom en hy stap huis toe.

Rivkah is lankal daar toe hy tuiskom.

“Ek verstaan van Imma dat jy ’n ou vriend van vroeër raakgeloop het. Wie is dit?”

Hy gaan sit aan die oorkant die kombuistoonbank, waar sy Yhoshi met skoolwerk help, en neem die glas tee wat sy na hom toe stoot.

“Nie raakgeloop nie. Hy is hier in Jerusalem en hy het my gebel. Dis Gadi, jy weet, by wie ek die drie jaar in Parys gebly het?”

Sy knik. “Ek onthou. Hoe het hy jou opgespoor?”

Hy vertel haar.

“Dit was seker interessant om weer met hom te gesels?”

“Dit was.” Maar hy sê niks van Gadi se voorstel nie.

“Abba!” Natan staan langs die kroegstoeltjie waarop hy by die toonbank sit en trek aan sy mou.

Hy kyk af na sy kleinste wat met sy kladboekie by hom staan.

“Ja, babbelossie?”

“Kyk, ek het nou régtig vir Shishi geteken.”

Marc neem die boekie by hom en kyk na die merkwaardige poging om die gemmerkatjie te teken.

“Dis baie goed, Natani. Hoe het jy dit nou alleen reggekry?” Hy tel die seuntjie op sy skoot.

“Ek het baie maal probeer wat jy my gewys het en toe het ek dit so gemaak.”

“Dis pragtig.”

“Haar kop is te groot,” sê Yhoshi, wat van sy eie werk oorleun om kommentaar te lewer.

“Is nie! Shishi het ’n groot kop.”

“Nie so groot nie.”

“Miskien is hy ’n impressionis,” lag Rivkah.

“Wat is …?”

Marc hou sy hand op. “Wag nou, Yhoshi.”

“Yhosh, Abba!”

“Nou, Yhósh, maak jou eie ding klaar. Ek help net gou vir Natani.”

Hy gaan met Natan by die koffietafel sit en met houtskool help hy die kind om die kop effens kleiner te maak en die agterlyf beter in posisie te kry.

“Kan ek saam met jou op die plein gaan teken, Abba?”

Marc kyk half hulpeloos na Rivkah. Hy het nog baie voorbereidingswerk om vir die volgende dag te doen.

“Ag, gaan maar ’n bietjie saam met hom. Jy was anderdag ook met Yhosh alleen soontoe.”

“Maar ek is ook klaar,” sê Yhosh en maak sy boek toe.

“Nee, wag, yeled, jy is nog nie klaar nie. Laat hulle nou gaan.”

Marc haak sy skildertas oor sy skouer, neem Natan se hand en hulle draf die trap af. Shmu’el kef opgewonde en is kort op hul hakke.

Natan lag van die lekkerte. “Dis mos hoe president Obama ook altyd by sy vliegtuig se trappies afhardloop, nè, Abba?”

“Dis reg, ja.”

Op die plein het dit al begin koeler word. Hulle sien ’n groot groep mense by Dov en Moshe se winkel ingaan.

“Wat maak al die baie mense altyd by die Shorashim, Abba?”

“Moshe vertel hulle van al die wonderlike dinge in die Tanach.”

“Maar hulle is mos nie Jode nie, hulle is mos Christusse.”

“Christene. Hy vertel hulle dinge soos dat Yeshua ’n Jood was.”

“Weet hulle dit dan nie?”

“Wel, hulle dink nie heeltemal so daaroor nie.”

“Maar …”

“Natani, ons twee het mos kom teken, onthou jy?”

“Ek wil kyk hoe jý teken, Abba.”

“Beseder.” Hy haal sy sketsboek en houtskool uit. “Wat sal ek teken?”

“Alles, Abba, jy kan mos álles teken.”

Skuins oorkant hulle sit ’n ou Jood op die muurtjie met ’n bord voor hom waarop staan dat hy alles in ’n brand verloor het. ’n Bedelbekertjie staan by sy voete. Langs hom lê en slaap een van die plein se katte, ’n vet swart-wit ene, netjies opgekrul.

“Hóm, Abba,” fluister Natan en wys met sy vingertjie.

Marc se houtskool vlieg oor die wit blad en in ’n ommesientjie skets hy die ou man. Natani kyk gefassineerd toe.

“Nog kleur ook, Abba.”

Marc haal die pastelle uit sy sak en voeg die kleur by.

Drie klein seuntjies, elk met ’n kleurryke kippah op en met rugsakke amper so groot soos hulself, kom van oorkant die straat aangestap. Marc teken hulle vinnig. Kleur hulle kwistig in. Dit lyk of die kinders uit die blad na hulle aangeloop kom.

“Abba?”

“Hmmm?” vra Marc terwyl hy vinnig die steengeboue wat die plein omring, agter die seuntjies aanbring. Die geboue is besig om die rosige kleur van die laatmiddag aan te neem.

“Kan jy nog die saba en hayeled katan teken?”

Marc kyk vraend na hom. “Watter saba en yeled katan is dit?”

“Abba! Die een wat jy altyd so baie geteken het toe jy Yerushalayim toe gekom het.”

“O, dié,” sê Marc, verwonderd dat die kind onthou het. “Ek het hom lanklaas geteken.”

“Sal jy dit weer vir my teken?”

Mark huiwer ’n oomblik, maar toe knik hy. Natani hou hom stip dop terwyl hy die ou man met die baard en kippah en die seuntjie wat hy teen sy bors vasdruk teen die agtergrond van die Kotel teken.

“Abba?”

“Hmmm?” vra hy en skakeer die skadu’s met sy duim in.

“Hoekom teken jy saba Chaim se gesig vir hom?”

Marc kyk en sien verwonder dat dit inderdaad so is.

“Hoekom, Abba?”

“Kom sit hier by my op die bankie, dan sal ek jou vertel.”

Natan klim vinnig op die bank langs Marc en wurm hom afwagtend teen sy pa aan.

“Natani, ek was maar sewe jaar oud, net ’n bietjie groter as Yhoshi, toe my abba weggegaan het …”

“Hoekom het jou abba weggegaan?” val die kind hom in die rede.

“Hy was … siek.”

“Maar ’n mens se abba gaan mos nie weg as hy siek is nie.”

“Dit was ’n soort … siekte waarvoor hy moes weggaan. Jy sal verstaan wanneer jy groter is, Natani. Nou is dit genoeg dat jy weet my abba het weggegaan toe ek ’n klein seuntjie was.” Hy vryf die kleintjie se vingertjies tussen syne.

“Jy gaan nie weg nie,” sê Natani nouliks hoorbaar.

“Nee, babbelossie, ek gaan nie weg nie. Maar weet jy, al word dit baie, baie jare dat jou abba weggegaan het, verlang jy nog altyd na hom. Dis hoekom ek toe daardie saba geteken het. Ek het na ’n abba verlang.”

“Maar hoekom het jy saba Chaim se gesig vir hom geteken?”

“Ek kom daarby. Toe ek hier in Israel kom bly, het saba Chaim vir my die abba geword wat ek nie gehad nie. Hy het daardie leë plek van die abba wat weggegaan het, weer vir my volgemaak. En nou het ek ingedagte sommer sý gesig geteken. Verstaan jy dit?”

Natan knik.

Dis ’n rukkie stil. Marc teken ’n rabbi wat in die middel van die plein met oordrewe handgebare iets aan drie yeshiva-studente verduidelik. Een van hulle knik so instemmend dat sy groot hoed oor sy bril val.

“Abba?”

“Wat, liefling?” vra hy terwyl hy die skets afrond.

“Daardie Kruishake waarvan Yhoshi altyd praat …”

“Hakekruise. Sê liewer Nazi’s, dis makliker.”

“Nasies.”

“Nazi’s. Wat van hulle?”

“Sal hulle ons ook hier kom doodmaak soos daardie by Eilat wat jy help skiet het?”

Marc sug ingehoue. “Luister gou, Natani, daar is nie meer Hake­kruise nie.”

“En Nasies?”

“Nee, ook nie Nazi’s nie,” jok hy maar.

“Wie het dan daardie kinders van Kfar Saba se abba en imma doodgemaak?”

“Terroriste.”

“Palestyne?”

“Palestynse terroriste. Alle Palestyne is nie terroriste nie.”

“Maar dié wat is, sal hulle ons ook kom doodmaak?”

“Nee, hulle sal nie, want ons bly in Jerusalem.” Marc weet nie meer wat om te sê nie.

“Maar ás hulle kom, sal jy hulle dan ook met jou neshek doodskiet?”

Sweet slaan op Marc se bolip uit en hy probeer so kalm moontlik sê: “Natani, jy hoef nie bang te wees nie. Ons is veilig hier. Kyk daar onder in Tiferet Yisra’el, wie kom daar aan?”

“Dis die ou Chassid!” roep die seuntjie en klap sy handjies sodat Shmu’el, wat lê en slaap, wakker skrik en verskrik blaf.

Marc kalmeer die hondjie. “Moet ek hom teken?”

“Ja, Abba, ja!” roep Natan opgewonde.

Die maer, vergrysde ou Chassid kom stadig in die smal straatjie opgestap. Die note van sy vals ou viool hang ’n oomblik in die digte takke van die iepe en verdwyn dan tussen die baie geluide op die plein. Hy doen sy bes om ’n paar stram danspassies te maak.

Marc teken hom met vinnige hale en voel hoe sy hart geleidelik ophou hamer.

“Abba, jy teken mooier as al die ander mense!”

Marc buk af en soen die seuntjie in sy hare wat lank in sy nek krul. “Jy sal nog eendag mooier as dit teken, Natani.”

“Sal ek?”

“Jy sal.” Hy haal ’n noot uit die beursie in sy broeksak. “Hier, gaan steek dit in sy hemp se sak.”

Hy teken die seuntjie wat oor die plein hardloop en op sy tone staan om die geld in die bosak van die ou man se verslete hemp in te druk. In die proses val sy geweefde bont kippah op die grond. Die Chassid buk moeisaam om die kippah op tel en druk dit plegtig op die donker krulkoppie terug.

Ook dit skets Marc met vinnige hale. Om later af te rond met pastelle.

Die ou vioolspeler beweeg stadig oor die plein. Meer mense druk geld in sy sakke. Hy verdwyn weer agter die Hurvah-sinagoge en die laaste onsuiwer note sterf langsamerhand weg.


Dis eers toe hulle in die bed lê dat Marc met Rivkah oor Gadi se voorstel praat.

“Wat is ons planne vir Sukkot?”

“Niks waarvan ek weet nie. Ek sal wel sekere dae moet werk. Hoekom vra jy?”

Hy steek sy arm onder haar deur en trek haar kop teen sy skouer. “Gadi het my genooi om ’n paar dae Parys toe te gaan …”

“O,” sê sy verbaas.

“Ja, dit was vir my ook ’n verrassing.”

“Waarom het hy dít gedoen?”

“Wel, hy reken ek bestee te min tyd aan my kuns. Dat ek weer ’n bietjie kultuur moet gaan inasem.”

“Hy is nie al een wat so dink nie. Ek het ook al vir jou gesê dis terapie vir alles wat met jou in Libanon en Gasa en nou weer by Eilat gebeur het. Jy móét meer tyd bestee aan dit wat jou die naaste aan jou hart lê.”

Hy vryf sy wang teen haar hare. “Jý lê my die naaste aan die hart.”

“Dis nie waarvan ek praat nie, jy weet dit.”

“Dit was net vir my vreemd dat twee mense so kort ná mekaar met my daaroor gepraat het.”

“Waarom is dit vir jou vreemd? Wie was die ander?”

“Dov, die dag toe ek van Tze’elim teruggekom het. Hy het gevoel ek moet my talent gebruik om meer as net die stereotiepe lewe in Israel te skilder. Meer intieme beelde van nie net Jode nie – en dat ek dit die wêreld moet instuur.”

“En daarvoor is dit nodig dat jy Parys toe gaan?”

“Ek weet nie, ek weet eerlik nie of dit nodig is nie.”

Sy doen soos haar gewoonte is. In die flou lig van die lampe onder op die plein wat deur die venster val, trek sy met haar voorvinger liggies die lyn van sy ken en sy mond. “Maar jou hárt dink wel dis nodig,” sê sy sag.

Hy knik effens.

“Nou doen dit dan.”

Hy lê ’n rukkie met haar in sy arms voordat hy praat: “In alles wat ek … voortbring, wil ek onder geen omstandighede die heiligheid van Adonai besoedel nie. Dit moenie aangeraak word nie … sy kavod.”

“Die vrese van Adonai,” sê sy ingedagte.

Hy knik. “Of omstandighede met Gadi dit sal verseker, weet ek nie.”

“Miskien is dit juis vir hom nodig om dit in jou te sien.”

“Dink jy so?”

“Ken. En ook dat jy weer ’n slag ontsnap aan die beskutting, maar tog ook benouing van Tora-onderhouding en weet hoe om ook onder sulke omstandighede by jou beginsels te bly.”

Hy neem haar hand en druk dit ingedagte teen sy mond. “Die Tora benou my nie.”

“Ek weet, maar dis soos Gadi gesê het, jy moet ook die wêreld daar anderkant weer beleef. En miskien terugkom met groter liefde vir wat jy hier het.”

“Jy gee nie om as ek gaan nie?”

“Nee, chamud, ek gun jou dit. Miskien moes ek lankal voorgestel het dat jy so iets doen. Ek dink jy moet gaan. Ná Eilat en alles wat van 2006 af gebeur het, het jou siel dit nodig.”

Hy soen haar hand nog ’n keer. “Todah rabah.”

Kavod Adonai

Подняться наверх