Читать книгу Hasukkah shel David - Marzanne - Страница 4
Hoofstuk 2
ОглавлениеJerusalem
5 tot 18 Oktober 2015
Ten spyte daarvan dat hulle eers baie laat aan die slaap geraak het, is Marc die volgende oggend vroeg wakker. Hy kom versigtig regop in die bed om Rivkah nie te steur nie. Sy lê op haar maag en slaap met haar donker krulhare oor die kussing gesprei. ’n Groot deernis roer in hom. Sy is swanger. Die Ewige van Israel het dit goedgedink om in hierdie uur van geweld vir hulle weer ’n kind te gee.
Sy bors brand van ingehoue emosie. Hy dink aan die skrikwekkende dinge wat die laaste weke en dae in Jerusalem en oor die hele land gebeur het. Gedurende die eerste nag van Sukkot het hulle ’n bloedrooi maan oor Jerusalem sien opgaan. Rillend het hy en Rivkah op die balkon gestaan en die skouspel dopgehou. In Psalm 89 word die maan ’n getroue getuie in die hemel genoem. Die verskyning van ’n “bloedmaan” het gewoonlik konflik vir die volk Israel beteken. Wat sou die toekoms inhou? het hulle toe onrustig gewonder.
Dit het nie lank geneem voordat dit duidelik geword het nie. Die volgende dag al het toenemende oproer op die Tempelberg uitgebreek. Islamiste wat hulle in die Al-Aksa-moskee verskans het, het plofstof, vuurwerke, pypbomme en klippe ingesmokkel om Jode te teister wat die terrein gedurende die fees besoek. Toe die polisie die oproer onder beheer probeer bring, het geweld in alle erns losgebars. Terwyl die Jode onder by die Kotel die vreugde van Sukkot kom vier het, het oorlog op die Tempelberg gewoed.
Dit was vir almal in Israel duidelik dat Mahmoed Abbas, leier van die Palestynse owerheid, die massas opgerui het. Op die Palestynse staatstelevisiediens en op sy eie webwerf het hy onbeskaamd losgetrek:
“Die Al-Aksa-moskee behoort aan ons en so ook die Heilige Grafkerk. Die Jode het geen reg om dit met hul smerige voete te ontheilig nie. Ons sal hulle nie toelaat om dit te doen nie en ons sal alles in ons mag doen om Jerusalem te verdedig. Elke druppel bloed wat vir Jerusalem gestort word, is heilige bloed solank dit om Allah se ontwil verspil is. Elke martelaar sal die paradys bereik en elke gewonde persoon sal deur Allah beloon word.”
Hy en Rivkah het dié uitbarsting laataand op televisie aangehoor en geweet watter uitwerking dit op die reeds opgestoke Islamiste sou hê. Elke “martelaar” in Israel en daar buite het nou godsdienstige vrywaring gehad vir jihad. Enkele dae later is die Henkins voor vier van hul kinders vermoor. En 48 uur later het die twee mans in die Ou Stad geval. ’n Paartjie in Gasa het dit goedgedink om hul pasgebore baba na Banita-Bennett se moordenaar te vernoem. Die volgende oggend het Abbas na dié moorde as “vreedsame verset teen die besetting” verwys. Hy het gevra daar moet voortgegaan word met dié verset. Een van Abbas se kollegas het na die moorde op Jode as die Palestyne se nasionale plig verwys. Die kommentaar van Ismail Haniyeh, leier van Hamas in Gasa, was: “Die Al-Aksa-intifada het herleef en ons is van plan om ons daarby aan te sluit.”
Israeli’s het hul koppe net wanhopig geskud. Dít is nou sogenaamd die Palestyne se vredesonderhandelaars!
Hoe meer gewelddadig en moorddadig die Arabiere raak, hoe meer word Israel daarvoor blameer. Dit lyk inderdaad of die wêreld se logika is: As die Arabiere so wreed reageer, moet dit beteken dat die Jode nog wreder is.
Die Britse minister van buitelandse sake het opgemerk: “Die einde van Israel se besetting moes lankal in werking getree het. Dis tyd om al die Joodse setlaars uit Judea en Samaria te verwilder.”
Marc staan stil op. Toe hy by hul kamer inkyk, slaap die seuns rustig. Hy sien wel dat Yhoshi se beertjie wat van sy babadae af sy troos was, by hom langs die kussing lê. Styf teen Natan se rug aan kyk Shishi, sy gemmerkatjie, met wye oë op toe sy Marc gewaar. Hy sug effens. Daar is geen manier wat die toenemende geweld vir die kinders geheim gehou kan word nie. En nou ’n baba …
Hy gaan voor die venster in die woonkamer staan en kyk oor die Hurvah-plein uit. Van die oorkant af kom drie Chassidim aangeloop. Hulle is duidelik vir Shacharit op pad Kotel toe. Hy merk dat hulle nie soos gewoonlik stap terwyl hulle driftig praat en met die hande beduie nie. Hulle is stil en hul gesigte ingetoë. Hul voetstappe klink hol oor die nog stil plein.
Marc vat die vensterraam styf vas. Sy kneukels slaan wit deur. “Adonai!” roep hy geluidloos. “Adonai! Ek wil van vreugde uitbars oor wat U gedoen het, maar ek is bang, so bang vir Rivkah se veiligheid en vir die ongebore kind s’n. Vou u shalom en u beskerming oor ons soos ’n tallit. Bevakasha, Abba!”
Omdat dit oor die hoogs heilige dae ook 42 jaar ná die Yom Kippur-oorlog is, het Chaim en ’n paar van sy kamerade van destyds besluit om ’n klein reünie te hou. Sewe van hulle sou die dag ná Shemini Atzeret in die sysaal van Chaim se shul bymekaar kom. Chaim het Henok ook uitgenooi. Hadassah sou vir verversings sorg.
Die manne kom een ná die ander daar aan. Die destydse jong manne, sommige wat nog seuns was in 1973, is almal nou al in hul 60’s en ouer. Henok, wat ’n bietjie vroeër gekom het, bekyk hulle geïnteresseerd. Drie van hulle het baarde en tzitziyot wat onder hul baadjies uithang. Een veteraan se vergrysde peyot bengel onder sy swart hoed uit. ’n Ander een dra, soos Marc ook gewoonlik doen, ’n wit hemp en donker broek met ’n kippah. Die orige twee is kennelik sekulêr. Dis vir Henok duidelik dat hulle oor die jare steeds redelik kontak met mekaar behou het.
Chaim verduidelik dat Henok ’n “nuwerige Jood” is wat soveel moontlik van Israel se geskiedenis wil weet. Omdat hy self in Namibië met oorlogsgeweld te doen gehad het, het Chaim geweet so ’n byeenkoms sal hom na aan die hart lê. Hy stel die manne aan Henok voor. Avigdor, die oudste in die groep, is ’n 70-jarige rabbi. Dan is daar ook Yossi, Gur, Pinhas, Dan, wat ook ’n rabbi is, en Motti.
Hulle skud blad met Henok, die swart man uit Namibië wat in sy laat jare eers ontdek het dat hy Joods is en wat uiteindelik alles in sy ou tuiste opgegee het om by sy antieke wortels te kom wees.
Vir ’n lang ruk gaan die gesprek verstaanbaar oor wat in Israel aan die gang is, maar geleidelik swaai dit om na hul herinneringe.
“Watter soort mens was Anwar Sadat eintlik?” wil Henok in ’n stadium weet.
Dis die 66-jarige Motti, die tweede oudste, wat antwoord: “Weet jy, toe hy by Nasser oorgeneem het, is hy eintlik allerweë as ’n vaal persoonlikheid beskou. Almal het gedink hy sou net Nasser se skoene vol staan totdat iemand met ’n meer charismatiese inslag kon oorneem. Maar hy het ’n metamorfose ondergaan wat hom seker een van die mees kreatiewe, indien nie die waaghalsigste nie, nasionale leiers van die 20ste eeu laat word het.”
Die ander knik hul koppe bevestigend.
Pinhas grinnik. “Interessante man gewees, hoor! Hy was danig trots op sy afkoms as peasant.”
“En soort van ’n askeet ook nog,” vul Chaim aan.
“Ken! Hy het niks daarvan gedink om onderhoude aan besoekende joernaliste toe te staan terwyl hy op die grond onder ’n boom in sy geboortedorpie sit nie – met ’n eenvoudige jellabiya aan.”
Motti knik.
“Sadat het homself beskou as die restoureerder van die Egiptiese volk wat nakend voor die wêreld gestaan het ná die impak van die Sesdaagse Oorlog. Hy het verstaan dat sy mense geloofwaardigheid in die oë van die ander nasies verloor het. Dat hulle besig was om geloof in hulself te verloor. Sonder om doekies om te draai het hy verklaar dat hy bereid was om ’n miljoen soldate op te offer in ’n oorlog om Sinai terug te wen.”
“Ongelukkig het dit nie veel indruk op die IDF gemaak nie,” sê Gur. “Soos die IDF-grootkoppe dit gesien het, was sy weermag nog nie gereed vir oorlog nie. Wat ons egter nie in gedagte gehou het nie, was dat die situasie met die hulp van die Sowjetunie aan die verander was. Daar was sprake van ’n uitgebreide bewapenings- en opleidingsprogram.”
“Geen Israeli was gedurende die Sesdaagse Oorlog beter bekend by die Suid-Afrikaanse publiek as Moshe Dayan nie,” merk Henok op.
Daar gaan ’n paar gedempte, siniese geluide uit die groepie op.
Dan skud sy kop meewarig.
“Dayan het ’n geweldige invloed op Golda Meir se denkwyse gehad. Charismaties soos hy was, het hy haar aanvanklik laat glo daar was geen gevaar van ’n dreigende oorlog nie. Omdat hy die simbool van Israel se verstommende oorwinning in ’67 was, het hy die ikoon van die land se idee van onversteurbare veiligheid geword.”
“Ek het altyd verstaan Golda Meir was ’n bepalende faktor daarvoor dat Israel nie gereed was vir die aanval nie.”
“Ag,” sê Motti, “dis wat mense gesê het oor hulle nie geweet het wat hulle anders oor die ramp kon sê nie. Henok, die feit is dat net omtrent elke veronderstelling van die Israeliese leërleiding oor wat Sadat van plan was om te doen, verkeerd bewys is. Almal was nog dronk van die ’67-oorwinning en kon nie veel verder dink as dat die Arabiese magte tot niks in staat is nie.”
Chaim merk geamuseerd hoe gewoond Israeli’s daaraan geraak het om hul saak aan buitestanders te moet stel, want hulle praat eintlik almal met Henok.
“Daar is hewig op lugondersteuning en volkome op die tenks gereken,” sê Pinhas. “En nie die lugmag of tenkkorps was op ’n gereedheidsgrondslag vir oorlog nie. Golda was ’n goeie premier – onbeweeglik en absoluut toegewy. Maar wat oorlog betref, was haar opinies die goeie instinkte van ’n vrou wat niks van militêre strategie af geweet het nie. Sy het wel geweet wanneer ’n naakte waarheid haar in die gesig gestaar het.”
Gur knik. “Die voorbereiding was ellendig. Al was ek toe net 19 jaar oud, het selfs ek dit besef. Anders as in die Sesdaagse Oorlog toe die reserviste drie weke gehad het om hul vaardigheid op te skerp, hul toerusting reg te kry en hulself ’n bietjie sielkundig voor te berei, het hierdie ouens omtrent grasgroen ingegaan.” Hy lag effens. “Om nie eens van ons te praat nie!”
“Ken!” kom dit byna soos ’n koor. “‘Onvoorbereid’ was die woord. Ysig koud. Ken!”
“En dit op Yom Kippur wanneer elke reservis gewoonlik in of naby ’n sinagoge is!”
“Wat ’n vreemde gesig was dit nie om oor die hele land mans met kippot en talliyot te sien ry of hitch in ’n poging om so gou moontlik by ’n versamelpunt uit te kom nie. Baie soldate met gesinne was haastig op pad om vroue en kinders by familie te besorg voordat hulle koers gekry het na hul eenhede toe,” onthou Motti.
“Ken,” sê rabbi Avigdor nadenkend. “Ek dink in die hart van ons almal – dié wat opgeroep is en dié wat agtergebly het – het die aangrypende melodie van die Unetanneh Tokef-gebed nog weerklink nadat ons dit dié oggend saam opgesê het. Op Rosh Hashanah word ons name ingeskryf en met die Yom Kippur-vas word dit verseël – wie sal lewe en wie sal sterwe, wie het nog ’n lewensjaar voor en wie nie, wie deur water en wie deur die vuur van die lewe ontneem sal word, wie deur die swaard …”
Dis ’n rukkie stil terwyl almal hul eie ervaring van die dag onthou wat opnuut deur die rabbi se woorde oopgevlek is.
Toe praat Chaim: “Ek was in die sinagoge in Ramat Eshkol. Die name is uitgelees van dié wat opgeroep is. Reg voor my het ek ’n jong man met ’n tallit aan sien opstaan toe sy naam geroep word. Sy pa, wat langs hom gesit het, het sy arms om hom geslaan en geweier om hom te laat gaan. Die rabbi het na hom toe gekom en sag vir die vader gesê: ‘Sy plek is nie vandag hier nie.’ Die man het sy seun laat gaan en die rabbi het sy hand op die jong man se kop gelê en hom geseën. Direk daarna het ek my eie naam gehoor.”
“Jou vrou was swanger,” onthou Avigdor.
Chaim knik. “Ken, met Re’uven. Ek het nog tyd gehad om Hadassah na haar ouers se huis ’n paar blokke daarvandaan te neem.”
Pinhas maak sy keel skoon. “In shul Beit Hakerem, waar ek was, het ’n koster die kehillah tot stilte geroep en toe die name begin lees wat die koerier vir hom gebring het. Hy het net ’n oomblik gehuiwer voor hy die naam van sy eie seun gelees het. Dit onthou ek soos gister.”
Dan se vingers tas ligweg na sy tzitzit toe hy sê: “By ons het die rabbi op die podium geklim nadat die name uitgelees is en gesê dis vir ons toelaatbaar om die vas te breek en ’n voertuig te bestuur.”
Chaim kyk na Dan en glimlag. “Jy was mos dié hippie, Dan, dié blommekind in ons midde. Jy met jou hare wat tot op jou skouers gehang het en jeans met wye pype. Jy en jou kitaar wat jy in al die chaos en onmoontlikheid ook nog saamgeneem het!”
Op 60 moet Dan nostalgies lag. “Ken, ken, ken! Those were the days! Ek het beslis nie gehoor hoe my naam in ’n shul uitgeroep word nie. Dit het gekom oor die huisfoon, wat ek uit rebelsheid nie op Yom Kippur afgeskakel het nie.” Hy sug lank en diep.
Die ander lag. “En nou’s jy rabbi Dan!” sê twee manne gelyktydig.
Hy grinnik weer verleë. “Ek onthou goed hoe ons daardie nag in die maanlig met die tenks die pad gevat het. Die geluid van die enjins het soos musiek deur my geklop. Ek was 18 en uit my opleiding het ek met die gedagte gekom dat oorlog soort van romanties is. Daar op die steilte na die Golan het ek ’n metamorfose ondergaan as gevolg van alles wat ek langs die pad gesien het – brandende tenks en verbrande lyke. Die hippie wat in make love, not war geglo het, het as soldaat aan die ander kant uitgekom. En hy het net een idee voor oë gehad – om te oorleef.”
“Ek was darem al 24 en ’n offisier,” onthou Yossi, “maar al wat ek regtig van oorlog geweet het, was wat ek van my pa en ouer broer gehoor het. My idees was ook redelik romanties. Toe ons die plato oorsteek op pad na die Golan, het ons reusevlamme in die verte gesien en aangeneem dis ’n veldbrand wat deur artillerievuur veroorsaak is. Die pad het ons tenks in die rigting van die vlamme gevat. Toe ons nader kom, het ons gesien die brand was op die pad self – dit was ’n ry ammunisielorries wat in vlamme gestaan het. Hulle het ooste toe gewys en ek het besef dat hulle ons s’n is wat op pad was front toe. Toe ons naby genoeg aan die brandende lorries kom sodat ons sigbaar geword het, is ons onmiddellik van alle kante af beskiet. Die Siriese tenks wat die lorries in ’n hinderlaag gelei het, was nog daar. Dis vreemd hoe alles wat jy in die weermag geleer het, op so ’n oomblik meteens inskop.”
“Ken,” beaam Pinhas. “Ek was ook net 18 en doodsbevrees dat ek nie sou weet wat om te doen nie. Maar die oomblik toe die koeëls teen die tenk begin vasslaan, het ek alles onthou.”
“Ek was natuurlik ook al offisier en vir my was die grootste skok dat ons Egipte en selfs Sirië so volkome onderskat het. Die Arabiere was besig om baie dinge te doen wat die Israeli’s nooit verwag het nie,” sê Motti. “Omdat ek die Sesdaagse Oorlog meegemaak het, het ek gedink ek het my emosies onder beheer. Maar ek onthou … ’n Siriese tenk het op die een of ander manier tussen ons s’n ontplooi. Nu, in die donker was ons nie seker of dit een van ons eie tenks of die vyand s’n was nie. Ek het bevel gegee dat die projektor aangeskakel moes word om dié tenk te identifiseer. Toe die wit ligstraal deur die donker breek, sien ons dis ’n Siriese T-55, ’n skrale 50 meter van ons af. Ons het onmiddellik gevuur. Ek het gesien hoe ’n Siriër in vlamme gehul uit die tenk spring en op die grond rol. Dit het my laat wegkyk, want ek het yskoud geword. In ’67 het ek so in die sand by Rafah gerol om die vlamme te blus wat besig was om my te verteer …” Hy bly stil.
“Jy moes ernstige brandwonde opgedoen het,” merk Henok gedemp op.
“Ek was ’n jaar lank in die hospitaal en het 16 operasies ondergaan.”
“Tog is jy terug tenks toe,” sê Chaim.
Motti knik. “Maar ek het op daardie oomblik besef die verskriklike vrees dat dit weer met my kan gebeur, sal my nooit verlaat nie. Ek het myself nie so onder beheer gehad soos wat ek gedink het nie.”
“Dit het so lank geduur voordat die bevelvoerders aanvaar het dis nie weer die tenkoorlog van ’67 nie,” merk Gur op.
“Inderdaad. Ons magte op die Golan is heeltemal deur die Siriese aanval verras. Die omvang van die aanslag was ver bo enigiets wat hulle verwag het. Wie sou ná 1967 ooit kon dink Israel sal twee derdes van sy pantserdivisie binne ’n halwe dag teen infanteriesoldate verloor?” Yossi skud sy kop.
Avigdor stoot sy swart hoed effens terug op sy kop. “Ek onthou een prentjie wat vir my tipies van die oorlog was. Iewers in daardie helse eerste twee dae op die Golan het ek skielik op die tenk se interkom ’n vreemde, gesmoorde geluid gehoor. Dit het uit die drywer se kompartement gekom. Ek het geroep om te hoor wat fout was, maar geen antwoord gekry nie. Toe ek gaan kyk, sien ek die drywer sit daar heeltemal verwese. Ek en van die ander crew het hom uitgehelp. Daar was trane in die reservis se oë en hy het met moeite asemgehaal. Ons het gou besef daar was fisiek niks met hom verkeerd nie. Die stres van die ure en ure vooraf het net te veel geword. Hy het sonder om ’n woord te sê uit die tenk gespring, op ’n half-track met gewondes geklim wat verbygekom het, en net daar gaan sit. Hy kon nie verder gaan nie.”
Al die koppe knik.
“Ek onthou die gesig langs die pad Aleka toe,” sê Pinhas. “Dit het my laat dink aan films van die Tweede Wêreldoorlog – uitgebrande tenks en lorries, gewonde soldate wat terugstap van die front af terwyl hulle mekaar regop hou, vragmotors vol soldate wat die Siriese aanslag probeer ontvlug.”
“Ek was in Strongpoint I 16,” sê Dan.
“Dit was die enigste Israeliese posisie aan die suidelike kant van die skietstilstandlyn wat ná die val van Tel Feris nog beman was,” verduidelik Chaim vir Henok en beduie op ’n ou kaart wat hulle op die vloer uitgesprei het.
“Ek glo nie die Siriërs het geweet hoe min ons was en hoe laag ons ammunisie was nie. Hulle het van buite die fortomheining af op ons bly vuur. Ek is in die proses in my linkerarm gewond toe ’n granaat naby my ontplof het. My koeëlvaste baadjie het gelukkig die grootste deel van die impak geabsorbeer. Maar ek het alle gevoel in my linkerarm verloor en uitgepass.” Hy glimlag wrang. “Daardie nag het ek gevoel hoe ek na die aanloklike verlossing van die dood begin dryf.”
“Ken die gevoel,” prewel Motti.
“Daar was nog net tien man op hul voete. Luitenant Gur was bevrees dat die Siriërs die buitepos sou binnedring en het ons drie gewondes beveel dat ons ons wapens langs ons moet hou. Een wat nog albei sy hande kon gebruik, het die veiligheidsmeganisme van die handgranate losgemaak sodat ons ander wat net een hand kon gebruik, die veiligheidspen met ons tande kon uittrek as dit nodig sou wees.”
“Die Siriërs het nooit binnegekom nie?”
Dan skud sy kop. “En gelukkig het hulle nie toe hulle vertrek ’n handgranaat deur die venster gegooi soos dit op ander plekke gebeur het nie. Ons is uiteindelik deur verkenningspersoneel van luitenant-generaal Musa Peled se divisie weggevoer.”
“In daardie stadium was die ongevallesyfer onder ons pantsermanne onbeskryflik. Die vyfde dag was miskien die verskriklikste dag van die oorlog. Ons het geen reserwes meer gehad nie. Daar was niks oor nie.”
“Julle was almal pantsermanne?” vra Henok.
“Nachon,” knik Motti. “Ons het nie geweet wat in die res van die land aangaan nie. Soms was ons oortuig die hele Israel het al geval.”
“Selfs die immer optimistiese en arrogante Dayan is onkant gevang. Die feit dat Israel ook sterflik was, het hom tot stilswye geskok. Hy het besef dat hy lank nie meer met dieselfde Arabiere van ’67 te doen gehad het nie. En die besef het by hom en almal saam met hom opgekom dat die res van die Arabiese wêreld agter Egipte en Sirië gelê het. Israel se 3 miljoen Jode is deur 80 miljoen Arabiere in die gesig gestaar,” sê Yossi en skud sy kop. “Dit het die held van die Sesdaagse Oorlog van sy voete geruk.”
“Ja,” sug Gur, “as dit nie vir David Elazar was nie …”
“Stafhoof?” wil Henok weet.
“Ken. Die volk het agtergekom die verdedigingslinies was besig om in te gee. Die afgryslike gedagte van nasionale uitwissing het meteens op die nabye horison verskyn. Histerie was in die media aan die orde van die dag. David ‘Dado’ Elazar verdien vermelding in die geskiedenis, al sou dit ook net wees dat hy nie kop verloor het nie. Veral toe die legendariese minister van verdediging, Dayan, ure lank in wanhoop versink geraak en byna die premier saam met hom die donkerte ingesleep het.”
“Dit is toe dat haar vroulike intuïsie haar gehelp het om kop bo water te hou,” grinnik Pinhas.
Die ander lag. “Niemand sou ooit kon sê dat Golda ’n bang haar op haar kop gehad het nie!”
’n Nuwe rondte koffie word geskink en Hadassah, wat uit die kombuis te voorskyn gekom het, bring varsgebakte koekies.
“Baie van die senior offisiere het in die oorlog geveg – altyd met een oor ingestel op nuus van hul eie seuns op die slagveld,” sê Avigdor.
Gur knik. “’n Neef van my wat daardie tyd ’n oorlogskorrespondent was, het vertel dat hy teenwoordig was toe daar aan Peled …”
“Lugmagbevelvoerder,” verduidelik Chaim tussendeur aan Henok.
“Toe daar aan Peled ’n nota oorhandig is terwyl hy met ’n perskonferensie besig was en hy verneem het sy seun, ’n vegvlieënier, is oor die kanaal afgeskiet. Hy het eenvoudig voortgegaan met die konferensie. Hy het eers gehoor dat sy seun gered is toe nog ’n nota ’n paar minute later na hom toe aangegee is. Dit alles terwyl hy besig was om die verslaggewers se vrae te beantwoord.”
“Ongelooflik hoe ’n mens tog die geweldige druk kon hanteer,” mymer Gur.
“En ’n mens het ook dikwels Ariel Sharon se naam gehoor …”
’n Goedige gelag gaan onder die manne op oor Henok se opmerking.
“Arik, ja.” Avigdor sug en skud sy kop. “Hy was ’n briljante strateeg, maar met soveel waaghalsigheid dat dit op talle geleenthede aan vermetelheid en verwaandheid gegrens het. En dit het hom dikwels in die moeilikheid laat beland.”
“Rebelsheid was niks ongewoons by Arik nie,” voeg Yossi by.
“Hy het gewoon telkens bevele verontagsaam en voorgegee dat hy dit nooit gehoor het nie,” sê Motti. “Dit kon Dayan dodelik frustreer al was hulle vriende wat mekaar se bevoegdhede gewoonlik gerespekteer het.”
Chaim glimlag. “Ek het hom en Elazar per geleentheid op mekaar hoor gil. Dan het Dado hom nie Arik genoem nie, maar Sharon.”
“Ariel Sharon was ’n man met ’n persoonlike probleem, en daardie probleem se naam was Ariel Sharon,” sê Pinhas.
“Wat ook al sy swakhede was, hy was inderdaad ’n strateeg sonder gelyke,” sê Dan. “Maar daar was beslis ook ’n ander element aan sy persoonlikheid. ’n Vriend van my, ’n senior offisier onder hom in Sinai, het my vertel waarvan hy self getuie was. Sharon het ’n reservis-majoor in een van die krygsgevangekampe ’n gevangene sien slaan. Sharon het die majoor na ’n tent ontbied waar die gevangenes hulle nie kon sien nie, en hom geklap.”
“Dis waar,” gee Avigdor toe. “’n Mens kon daardie element goed sien in die byna ses jaar toe hy premier was. Hy het foute gemaak – wie het nie? – maar daar was ook ’n karaktervastheid in hom wat by van die ander premiers ontbreek het. Ek meen die wroeging daarvan om sy eie mense uit Gasa te onttrek, het – so glo ek – uiteindelik gelei tot die beroertes wat sy lewe gekos het.”
“Jy kan sê wat jy wil oor Arik Sharon, maar een ding is seker – hy was uiters gewild onder die troepe,” sê Gur. “Die algemene opinie onder die troepe was: As Arik in beheer is, sal dit goed gaan.”
Vir nog ’n halfuur gesels die manne oor hul ervarings. Ook Henok vertel van sy eie belewenisse gedurende die Kassinga-aanval in Namibië se Onafhanklikheidsoorlog. Hulle gesels oor die wonderbaarlike draai wat die oorlog gemaak het. Van Israel se vrees van uitwissing, tot die stabilisering van die situasie en die uiteindelike skietstilstand.
“Ek sê nog altyd Henry Kissinger se briljante tour de force het uiteindelik in die vredesonderhandelinge die deurslag gegee,” sê Gur.
“Nachon,” stem Yossi saam. “Die genade was dat daar glo met die onderhandelinge tussen hom en Sadat ’n onmiddellike verstandhouding was.”
Dan knik. “Ek dink hulle het albei die ander man se uitgeslapenheid, maar ook sy visie gerespekteer en albei onderhandelaars het gevoel hulle kon die ander man vertrou.”
“Goed gesê, Dan,” kom dit van Chaim. “Dit is wat ek ook by nabetragting gedink het.”
“Al wat ek van die skietstilstand onthou, is hoe stil dit daardie eerste nag was ná die verskrikking van soveel vorige nagte,” merk Pinhas op. “Ek het daar onder een van die oorgeblewe tenks in my slaapsak gelê en dink aan hoe baie van my vriende, 18-jariges soos ek, nie meer geleef het nie of baie swaar gewond was. Soveel van hulle het ledemate verloor. Hoeveel van hulle het ek nie daar op die Golan in hul tenk sien doodbrand nie. Ek het so ontsettend skuldig gevoel oor ék nog leef dat ek lank daar gelê en huil het.”
Avigdor knik. “Ek verstaan wat jy sê, Pinhas. Dit was vir my ook so. Ek het, offisier wat ek was, op ’n beter plek as jy gelê. In ’n tent. En ek onthou ek het daaraan gedink dat dit 19 dae van hel was sedert die kantors Kol Nidre op Yom Kippur opgesê het.”
“’n Mens het agtergebly met soveel herinneringe,” sug Yossi. “Die vreemdste is dat sommige van jou helderste herinneringe nogal onbenullige dinge is.”
“Dis waar. Dov, my broer, het onder my naamgenoot Motti Ashkenazi geveg …”
“Jerusalem-brigade?” merk Chaim op.
“Ken. Dov vertel sy kleinkinders vandag nog van Ashkenazi se vier maande oue Duitse herdershond wat hy saam met hom op reserwediens gevat het en tot die verdediging van Fort Budapest bygedra het. Hulle was op die kanaal vasgekeer,” verduidelik hy vir Henok. “Die hond kon die geluide van die Egiptiese artillerie en mortiervuur hoor nog voor die soldate kon. Sy geblaf het hulle betyds genoeg gewaarsku om skuiling te soek.”
“Ek het ook van die hond gehoor,” sê Gur. “Hy het mos oorleef?”
Motti knik.
“Dov sê hy’t vir sommige ouens ’n soort gelukbringer geword. Hulle het gereken as hy oorleef, sal hulle ook. Baie het nie.”
“Hoe briljant Kissinger en al die generaals ook al was, en Sadat ook, nie een van hulle het die uitkoms van die oorlog bepaal nie. Dit was alles in Shomer Yisra’el se hand,” mymer Avigdor.
Dan knik. “Nachon! En Hý alleen sal hierdie nagmerrie van terreur wat op die oomblik aan die orde van die dag is, ook uitsorteer. Nie Bibi se befaamde intelligensie of ál sy raadgewers s’n nie. Alleen die Ewige van Israel is daartoe in staat.”
Erev Shabbat 16 Oktober 2015
Weens die onveiligheid van Jerusalem se strate vier die Cohens en die Kriges dié aand die intrede van Shabbat in hul eie huise. Marc en Rivkah probeer alles so kalm en gewoon moontlik hou. Hulle het besluit om nie nou al die seuns en die res van die familie van haar swangerskap te vertel nie; nie voordat dit teen die einde van Oktober drie maande ver is en alles voorspoedig was nie. Die kinders is egter nie heeltemal te flous oor die omstandighede in die land nie, veral nie Yhoshi nie. Dit was duidelik toe Marc teen hul slaaptyd sonder ophef aankondig dat hulle op Shabbat die volgende oggend liefs die parashah by die huis sal doen en nie na die Messiaanse shul sal gaan nie.
“Is dit so gevaarlik?”
“Miskien nie. Maar waarom sou ons nou kanse vat?”
“En skool toe?”
“Voorlopig sal ek julle met die motor neem.”
“Maar jy en Imma gaan dan elke dag met die Light Rail werk toe.”
“En Imma werk elke dag op al die plekke waar die messtekers is,” voeg Natan by.
Marc en Rivkah kyk vlugtig na mekaar en sy sit haar arm om die kleine se skouers. “Niemand van MADA het nog seergekry nie, Natani. Moenie bang wees nie. Kom, liewer nou bed toe met julle twee. Dis al baie laat.”
Toe dit stil word in die seuns se kamer, skink Marc vir hom ’n stewige glas rooiwyn en hulle gaan in die woonkamer sit. Dis Shabbat en die televisie word nie aangeskakel nie.
Rivkah, wat die oggend gewerk het, lig vermoeid haar hare van haar skouers op en vat dit agter haar nek saam. “Dit was ’n verskriklike week,” sê sy, “en dit gaan nie beter raak in die week wat voorlê nie.”
“Ek dink ook nie so nie.”
Sy soek in haar werktas se sysak en trek ’n sakboekie uit, slaan dit oop en lees: “Saterdag die 10de – vier mesaanvalle in Jerusalem. Gewelddadige protes. Sondag die 11de – vier mesaanvalle in Hadera. Vroueterroris laat brandbom ontplof, twee polisielede beseer. Maandag die 12de – drie mesaanvalle in Jerusalem. Dinsdag die 13de – motor jaag tussen mense by bushalte in, drie dodelike mesaanvalle, 20 gewondes. Woensdag die 14de – 70-jarige vrou met mes oorkant sentrale busstasie aangeval en ernstig gewond. Donderdag die 15de – 13-jarige Palestynse seun wond twee mense ernstig in Pisgat Ze’ev.” Sy kyk na Marc. “Dit is die een van wie Abbas aan die pers gesê het dat Israel hom koelbloedig vermoor het, maar intussen word hy in die Hadassah Mediese Sentrum verpleeg.”
“Ek het daardie toespraak van Abbas vanoggend hier op die Palestynse televisie gesien. Hy het letterlik gesê Israel het die kind Ahmed Manasra koelbloedig tereggestel ‘net soos hulle doen met ander kinders in Jerusalem en in ander Palestynse gebiede’. ”
“Die waarheid is dat hy deur ’n motor raak gery is toe hy deur die strate in Pisgat Ze’ev gehardloop het. Hy is beseer, maar beslis nie dood nie. Hy en sy neef Hassan Manasra se amok met yslike slagtersmesse deur die strate is deur kringtelevisiekameras vasgelê,” sê Rivkah.
“Abbas se aanhitsery is net ongelooflik vir iemand wat sogenaamd ons vredesvennoot is. In dieselfde toespraak beweer hy Israel probeer ’n godsdienstige oorlog begin. Dat ons die status quo op die Tempelberg wil verander sodat die Jode ook daar kan aanbid. Dít sê hy ten spyte daarvan dat Bibi herhaaldelik gesê het Israel sal nooit so iets doen nie.”
“Ek hoor by Re’uven dat Ze’ev Elkin gesê het Abbas, die hoofaanstigter van terreur, behoort self soos ’n terroris behandel te word.”
“Ek sou so dink,” sê Marc. “Ek sien hy het darem vandag gesê die brandstigting by Josef se graf het te ver gegaan. Dit was eers nadat John Kerry hom daaroor aangespreek het.”
“Kerry!” sy blaas deur haar neus. “Wie steur hulle aan hom? Dit gaan eenvoudig net voort. Daar was vandag weer ’n mesaanval op ’n soldaat in Jerusalem. ’n Polisiehond het genadiglik ’n pypbom ontdek wat in Oos-Jerusalem gestel is om die veiligheidspolisie daar naby die lug in te blaas.”
Marc lê sy hand oor hare. “Chamudah, ek is bekommerd oor jou. Nie net oor die omstandighede waaronder jy werk nie, maar die geweldige stres.”
Sy sug weer, neem sy hand en druk dit vir ’n oomblik teen haar mond. Toe vra sy sag: “Is dit die tyd en die plek om nog ’n kind die wêreld in te bring, Marc?”
Hy trek haar in sy arms. “Rivvie, as HaShem, baruch Hu, so vir ons besluit het, kan dit dan die verkeerde tyd wees?”
Sy antwoord hom nie.
Hy soen haar sag teen die kant van haar gesig. “Hmm?”
“Seker nie.”