Читать книгу Hasukkah shel David - Marzanne - Страница 5

Hoofstuk 3

Оглавление

Jerusalem

19 Oktober 2015

Hadassah gaan haal die seuns nou smiddae by die skool, aangesien Rivkah se skof weens die verlengde werksure eers ná drieuur eindig. Soms maak sy nog later klaar. Toe Marc dus ’n uur ná hulle tuis kom, het Yhoshi en Natan klaar geëet en is Rivkah nog nie by die huis nie.

Yhoshi kom by Marc staan waar hy sit en koffie drink. “Abba, ek moet ’n essay doen.”

“Waaroor?”

“Nu,” die kind sug, “oor hoe ek op die oomblik oor my land voel.”

“Nou toe nou. En hoe voel jy?”

“Ek weet nie …”

Ek ook nie, dink Marc, maar hy sê dit nie. Hy dink ’n rukkie na terwyl hy sy koffie klaar drink.

“Weet jy,” sê hy ná ’n rukkie, “daar is oor ’n paar minute ’n heruitsending van Bibi se personderhoud verlede Donderdag. Kom ons luister wat hy sê. Dalk kry jy dan ’n idee wat om te skryf.”

Yhoshi knik, maar nie baie entoesiasties nie. Hy gaan haal darem ’n potlood en notaboek.

“Natani,” Marc kyk na sy jongste kind wat op die mat met Shmu’eli, die wolhaarhondjie, sit, “gaan jy teken?”

“Kan ek ’n bietjie teken wat ek hoor Bibi sê, Abba?”

“Dink jy ’n mens kan dit doen?” vra Marc, verras deur die kind se inisiatief.

“Ek sal kyk, Abba.”

Yhoshi het die televisie aangeskakel en kort voor lank verskyn die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, voor ’n groep internasionale joernaliste. Hy lyk verrassend ontspanne en selfs in ’n ligte luim.

“Bibi is nie bang vir hulle nie,” sê Natan gewigtig waar hy met sy sketsboek op die mat voor die televisie plaasgeneem het.

“Hy maak net of hy nie is nie,” laat sy boetie beterweterig hoor.

“Bly julle twee nou stil sodat ons kan hoor wat hy te sê het,” sê Marc.

“Ek gaan eers ’n paar feite duidelik konstateer,” sê die premier vir die joernaliste wat voor hom versamel het. “Laat my dit onomwonde stel: Die huidige terreurveldtog in Israel is die gevolg van voortdurende Palestynse aanhitsing.

“Eerstens, omtrent die Al-Aksa-moskee en die skandelike bewering dat ons besig is om die status quo te verander of van voorneme is om die moskee af te breek – daar is geen gronde voor nie. Maar nou het ons nog ’n nuwe groot leuen. Hierdie nuwe groot leuen is dat Israel Palestyne teregstel. President Mahmoed Abbas het Israel daarvan beskuldig dat ons ’n onskuldige Palestynse seun doodgemaak het – tereggestel het, soos hy dit noem. Wel, hy is nie dood nie – hy leef. Tweedens, hy is nie onskuldig nie, hy het ’n onskuldige 13-jarige Israeliese seun wat op sy fiets gery het met ’n mes probeer doodsteek. Dié seun is in ’n kritieke toestand. Die Palestynse seun word nou in die Hadassah-hospitaal in Israel behandel.

“Die enigste manier wat ons hierdie groot leuen en ál die ander leuens kan beveg wat na Israel geslinger word en op Palestynse sosiale netwerke versprei word en daarvandaan oor die hele wêreld, is om te vertel wat die waarheid is. Dit is wat ons vandag gaan doen.

“Ons vra al ons vriende en alle andere wat bereid is om die waarheid te hoor, om na hierdie feite te kyk en om nie valse ooreenkomste te tref tussen Israeliese burgers en diegene wat hulle met messe aanval en wil doodsteek nie.

“Baie dankie.”

’n Joernalis steek dadelik sy hand op en toe die premier na hom knik, stel hy sy vraag: “Ek het gewonder of Israel oop sal wees vir enige diplomatiese ingryping, insluitend ’n moontlike ontmoeting tussen die eerste minister en president Abbas. En ook of enige buitelandse moondheid soos Amerika al ten behoewe van hierdie kwessie tussenbeide getree het.”

Hierop antwoord die premier: “Ek vra voortdurend vir so ’n ontmoeting, insluitend in my onlangse toespraak in die VN. Ek is ook nou volkome oop daarvoor. Ek het met John Kerry en ander leiers daaroor gepraat. Ek glo dis potensieel nuttig, want dit kan ’n einde bring aan die vlaag aanhitsing en die valse aantygings teen Israel. Dus, ek sal oop wees vir ontmoetings met Arabiese leiers en die Palestynse leierskap in ’n poging om hierdie aanhitsing stop te sit en die ware feite op die tafel te kry.”

Nog ’n hand gaan omhoog. “Ek wil u graag vra … Daar word berig sommige mense is ontsteld oor wat in Duma gebeur het, die brandstigting in Duma … En ek wonder of dit nie vir die regering beter sal wees om hierdie kwessie af te sluit deur die mense wat gearresteer moet word, te arresteer en aan te kla nie? Die volgende deel van hierdie vraag is – as die mense wat aan hierdie misdaad skuldig is, nie die drie mans is wat in aanhouding is nie, hoekom is hulle dan in die tronk?”

Die premier knik. “Ons wend elke moontlike poging aan om hierdie mense te vind en die nodige bewyse te kry om hulle te verhoor. Kan enige regdenkende mens van opinie wees dat Israel hierdie moordenaars sal vrylaat? Ek het dit onmiddellik veroordeel en hospitaal toe gegaan. Ek moet nog ’n enkele woord van veroordeling van Abu Mazen, president Abbas, hoor teen die moorde op ál hierdie onskuldige Israeli’s. Nie ’n enkele woord van veroordeling kom van sy kant af nie. Persoonlik het ek nie ’n oomblik gehuiwer nie. Ek het die brandstigting onmiddellik veroordeel. Ek het hospitaal toe gegaan om die oorlewende seuntjie te besoek. En ons behandel en versorg hom. Daar is ’n asimmetrie hier: Israel sal nie terreur toelaat nie. Van niemand nie – of dit nou Jode of Arabiere is. Ons tref geen onderskeid nie. Daar is egter tog ’n verskil omdat ons ’n aktiewe pad volg. As ons die brandstigters en moordenaars vind en as ons genoegsame bewyse het, sal jy onmiddellik daarvn hoor, glo my. Jy hoef my nie op te keil nie, want ek doen alles in my vermoë om ons veiligheidsdiens aan te spoor om iets te doen wat nie maklik is nie. Dit is baie moeilik. Soms is dit vir ons moeilik om ’n Palestynse terroris aan te keer. Partykeer is dit moeilik, soos in hierdie enkele geval, om die Joodse terroriste te vind. Maar ons sal. Ek het geen twyfel daaroor nie.

“Wat die gedagte betref dat so iets as regverdiging vir die moorde op onskuldige Israeli’s beskou kan word … Wel, wat sal jy sê as ons gesê het: Goed, daar is gronde vir regverdiging. Maar die vraag is: As Jode vermoor word, soos nou gebeur, en daar breek onder die Israeli’s ’n vlaag van vergeldingsmesstekery en -aanvalle uit, sal ek dit goedkeur? Sal ek dit selfs aanmoedig? Ek sal nie. Ek sou sê dis verregaande, skandalig. Niks op aarde regverdig die sistematiese en opsetlike slagting van onskuldiges nie. Niks regverdig dit nie. Ek kan dit nie regverdig nie. Dit is tyd dat president Abbas nie net ophou om dit te regverdig nie, maar ook ophou om mense aan te hits om dit te doen. Hy sê hy wil meer bloed in Jerusalem sien vloei. Dit het tyd geword vir die internasionale gemeenskap en vir onbevooroordeelde mense om daardie onderskeid te tref. Hou op om moord te regverdig en hou op om moord aan te hits.”

Marc merk dat Natan gefokus sit en teken en sien dankbaar dat Yhoshi hier en daar ’n aantekening maak.

’n Vrouejoernalis, blykbaar van die BBC en persoonlik bekend aan die premier, wil ’n vraag stel. Die premier knik terwyl ’n effense siniese laggie om sy mond speel.

“Meneer die eerste minister, u sê u is oop vir internasionale intervensie. Ons verstaan dat die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, hierheen gaan kom. Hy sal heel moontlik sê dat u, meneer die eerste minister, die een of ander tyd na die onderhandelingstafel moet terugkeer. Wat sal u vir hom sê? En as u nie glo dat onderhandelinge die pad vorentoe is nie, wat is dan die uitweg?”

Die laggie raak ietwat sarkasties. “Hy gaan my nogal vrá om die onderhandelinge te hervat? Ek is die een wat daarvoor vra … Woon ons op dieselfde planeet, Liz? Ek vra dit dagin en daguit, op elke forum, in die Verenigde Nasies, in die Amerikaanse kongres, in Israel, in Jerusalem, in Tel Aviv. Ek het dit nog nie in Nepal gedoen nie, want ek het nie daar besoek afgelê nie. Ek het president Abbas gevra om onvoorwaardelike onderhandelinge onmiddellik te hervat. Op hierdie oomblik, terwyl ons praat, is ek bereid om hom te ontmoet. Ek het geen enkele probleem daarmee nie. Ek dink ons moet onmiddellik hierdie vlaag aanhitsing teen Israel stopsit asook hierdie aanvalle, hierdie moorddadige aanvalle op Jode. Die punt wat ek in my verklaring gemaak het, is eenvoudig. Ek is gewillig om hom te ontmoet, hy is nie gewillig om my te ontmoet nie. En jy vra my oor die hervatting van onderhandelings. Kom nou, kom by! Hierdie mense wil nie onderhandel nie en hulle hits geweld aan. Rig jou vraag aan hulle. En verstaan my mooi, ek praat nie van internasionale intervensie nie. Ek praat oor ’n voorstel wat gemaak is dat John Kerry en ek en koning Abdullah en andere moet ontmoet. Ek het geen probleem daarmee nie. Ons het dit ’n jaar gelede ook gedoen. Hoekom nie?”

“Is dit wat u wil doen?” vra die joernalis weer.

Die premier knik. “Dis een moontlikheid. Ek is tevrede daarmee. Ek is gewillig om dit te doen. Maar ek dink president Abbas moet ophou met sy aanhitsing. Jy het hom sien leuens vertel, infame leuens. ’n Onskuldige kind wat deur die Israeli’s tereggestel is. Nee, hy is nie onskuldig nie en hy is nie tereggestel nie. Dis ’n leuen. Hy het onskuldige mense probeer vermoor en byna daarin geslaag. Jy moet jou vrae aan president Abu Mazen stel. Jy kan hom nie sommer ’n vrypas gee nie. Om die waarheid te sê, die internasionale gemeenskap gee Abu Mazen voortdurend ’n vrypas, jare lank nou, maande lank, weke lank, dae lank. En as jy iemand wat geweld aanblaas ’n vrypas gee, dan hou hulle aan om geweld aan te blaas. En raai wat? Die geweld het onder die Palestynse jeug toegeneem en hulle gaan nou uit en vermoor Jode. En daarmee saam vermoor hulle die vrede.”

Toe sê die premier, wat tot in daardie stadium Hebreeus gepraat het: “Ek wil die volgende in Engels sê. Moenie my die reg ontneem nie. Ek wil graag ’n stokkie steek voor ’n paar van die dinge wat ek in die omgang hoor. Hierdie vlaag aanvalle is nie die gevolg van ’n gebrek aan ’n politieke horison vir die Palestyne nie. Israel loop die afgelope 95 jaar onder terreuraanvalle deur – 1920, 1921, 1936 tot 1939, die fedayeen-aanvalle, die intifada-aanvalle – dit het in der waarheid ’n hoogtepunt bereik gedurende die Oslo-vredesproses. En mense het gesê: Wel, dis omdat hierdie Israeli’s nie vrede wil hê nie. So wat was die gevolg? Die rede wat tóé gegee is vir die vlae tereur wat ons getref het, was dat daar vooruitgang met die vredesproses gemaak is.

“Nou sê hulle: Julle het terrorisme omdat daar nie vrede is nie. Nie een van die twee verklarings is waar nie. Hulle val ons nie aan omdat hulle vrede wil hê of nie vrede wil hê nie. Hulle val ons aan omdat hulle ons nie hier wil hê nie. As dit hulle frustreer, kan ek julle verseker dat die frustrasie sal voortduur, want ons gaan aanhou om hier te bly.

“Wat die Joodse nedersettings betref – dié terreur is nie die gevolg van die massiewe aanwas van nedersettings nie, omdat daar nie ’n massiewe aanwas van nedersettings was nie. En tweedens is daar ’n ander feit – en dié feite tel! Dis in werklikheid die moordenaars self wat verduidelik waarom hulle doen wat hulle doen. Hulle laat Faceboek-blaaie agter waarin hulle Palestynse aanhitsing in verband met die Al-Aksa-moskee aanhaal – ál die leuens wat aan hulle vertel word oor ons wat die moskee probeer afbreek of die status quo wil verander. Hulle haal dit aan as rede vir wat hulle doen. Dít is die dryfveer agter die huidige vlaag geweld. Ek is jammer, maar die ou modelle geld nie meer nie. Daar is ’n Palestynse poging om geweld aan te wakker wat gebaseer is op vals beskuldigings dat ons die Tempelberg verander. En nou ook op vals beskuldigings dat ons onskuldige burgers teregstel. Niemand sal dit glo nie. En ek verwag van ons vriende oor die wêreld heen om na hierdie feite te kyk en dit te sien vir wat dit is. Ek hoop dat hulle sal kans sien om hierdie Palestynse aanvalle te veroordeel en by Abu Mazen daarop sal aandring dat hy moet ophou met die aanhitsing en kalmte moet herstel.”

Netanyahu kyk oor die joernaliste heen en vra: “Nog iemand in Engels?”

Niemand versoek dit nie en hy gee ’n volgende joernalis kans om ’n vraag te stel.

“Die Amerikaanse minister van buitelandse sake het sy kommer uitgespreek oor die buitensporige gebruik van geweld waarvan sommige Israeliese veiligheidsmagte gebruik maak. U praat van ’n valse simmetrie, maar is u bekommerd dat u as gevolg hiervan die steun van sommige van u bondgenote kan verloor? En is u ook bekommerd daaroor dat u beheer kan verloor oor hierdie stad, wat u oënskynlik op die punt staan om te verdeel?”

“Nee,” sê die premier en skud sy kop, “ons gaan die stad geensins meer verdeel as wanneer mense ’n aandklokreël in sekere buurte en dorpe in Europa of Amerika instel waar stede by geleentheid in faksies verdeel is nie. So, moenie opgewonde raak nie. Moenie jou hoop die hoogte laat inskiet nie. Dit is punt nommer een.

“Punt nommer twee is – kyk, ons verwag dat eerlike, onbevooroordeelde waarnemers van wat hier aangaan, sal sien dat Israel presies die soort en mate van legitieme mag sal gebruik wat enige ander regering en sy munisipaliteite en sy polisiemag sal gebruik as hulle mense het wat gewapen met skêre, byle en slagtersmesse onskuldige burgers op straat probeer vermoor. Wat dink jy sal in New York gebeur as jy sien hoe gewapende aanvallers ’n groep mense bestorm en van hulle probeer vermoor? Wat dink jy sal hulle doen? Dink jy hulle sal enigiets anders doen as wat ons nou doen? Hulle kan miskien van ander metodes gebruik maak, maar hulle sal beslis nie minder kragdadig wees nie. Ja? En wat sal in Washington gebeur? En wat sal in Londen gebeur? En wat sal in Parys of Rome of Moskou of op enige ander plek gebeur? Natuurlik is hierdie beskuldiging van buitensporige geweld vals. Dis absoluut vals. Dis ook absoluut onregverdig omdat dit so duidelik vals is. Dus verwag ek regverdigheid. Ek verwag dat daar blaam sal wees as dit nodig is, maar nie andersins nie.”

’n Nota word aan die premier oorhandig wat hy vlugtig deurlees. “Hier’s ’n feit. Die hospitaal het ons nou in kennis gestel die besering van die voornemende Palestynse moordenaar is lig, maar die toestand van die jong seun wat hy aangeval het, is uiters kritiek. Dus kom die aanvaller sommerso lig daarvan af. En nogtans tref mense ’n vergelyking tussen die aanvaller en sy slagoffer. En nog erger, hulle beskuldig Israel daarvan dat hy in hierdie geval die skuldige party is. En dit is eenvoudig nie toelaatbaar nie. Julle weet, morele ondubbelsinnigheid is in dié stryd teen terrorisme van kardinale belang. Daar is niks wat terreur regverdig nie en niks wat dit verontskuldig nie. En hou op om dit te probeer goedpraat. Wat hier aangaan, is terrorisme en moord, niks anders nie. Abu Mazen blaas moord aan. Hou hom aanspreeklik en hou op om dit op enige wyse te regverdig – nie met die nedersettings nie, nie met die vredesproses nie, met niks nie. Dit is onregverdigbaar en onaanvaarbaar. En die blote feit dat dit gebruik word as ’n moontlike verduideliking, gee natuurlik … ek moet dit sê … gee die terroriste ’n regverdiging wat hulle nie eens gebruik nie. Hulle kan dit nou begin doen. Maar tot dusver het hulle nie, en dit sê jou nogal heelwat.”

Daarna beëindig hy die onderhoud. “Ek wil julle graag bedank.”

Rivkah het binnegekom kort nadat die onderhoud begin het, die twee kinders elkeen op hul hare gesoen en toe by Marc gaan sit. Toe hy sien dat sy moeg is, het hy haar hand in syne toegevou en vraend na haar gekyk. Maar sy het haar kop geskud en hulle het die res van die program so gesit en luister.

Nou sug sy. “Mag die wêreld hoor wat hy sê.”

“En glo.”

“Nie baie waarskynlik nie.”

Marc druk haar hand ’n oomblik teen sy lippe. “Het jy al geëet?” vra hy toe.

Sy knik.

“Wat nogal?”

Sy lag verleë en sê sag sodat net hy hoor: “’n Yslike stuk sjokolade.”

Dit maak dat hy haar teen hom aantrek en op haar wang soen. “Soos die vorige kere,” sê hy net so sag.

“Wat maak jy?” wil sy by Yhoshi weet om sy aandag af te trek. Hy het as gevolg van die fluistergesprek opgekyk van die boek waarin hy skryf.

“Ek is met ’n essay besig.”

“O ja? Waaroor dan?”

Hy sug belangrik. “Oor wat ek op die oomblik van my land dink.”

“O genade! Is dit hoekom julle na Bibi geluister het?”

“Ken.”

“En,” vra sy wakker ma, “is dit weer die aand voor die stuk ingegee moet word?”

“Ken, speurhond Imma. Dit moet net 600 woorde wees.”

“Dis eintlik moeiliker as wanneer dit 6 000 woorde is.”

“Nie vir my nie.”

“Hoogmoed kom tot ’n val, Yhosh, oppas.”

“Dis nie hoogmoed nie, Imma, dis net vir my maklik.”

“Beseder, ons kyk wat jy regkry. En jy, Natani?”

Natan het nog nie van sy werk opgekyk nie. Hy is druk besig om met sy pastelle in te kleur. “Ek is nog besig, Imma.”

“Hy teken wat hy Bibi hoor sê het,” verduidelik Marc en knipoog vir Rivkah.

“Wow. Dit sal ek nie kan doen nie.”

Natan reageer nie daarop nie en gaan net aan met sy werk.

Dis eers toe Marc vir hulle almal glase bessietee skink en hulle al vier opstaan dat Natani met sy tekeninge na Marc en Rivkah kom. Yhoshi het intussen na die rekenaar in Marc se studeerkamertjie koers gekry om meer dinge op die internet na te lees.

Natan het sy groot sketsboekblad in vier blokke verdeel. Sy ouers kyk sprakeloos van verwondering daarna.

“Hoe het jy geweet om vier blokke te maak?” vra Marc geïnteresseerd in die kind se tegniek.

“Bibi kan partykeer lank praat.”

Toe bekyk hulle die tekeninge een vir een. In die eerste blok lê ’n swart fiets, wat duidelik op die grond laat val is, langs ’n rooi plas bloed. ’n Groot wit wolk wat water soos trane drup, hang bokant die fiets.

Natan druk met sy vingertjie daarop. “Dis Naor Slav Ben Rut se fiets, waarvan Bibi vertel het. ”

Marc beduie na die huilende wolk. “En dié?”

“Dis HaShem wat saam met ons huil.”

Rivkah neem die handjie in hare. “Natani, net voor ek by die werk weg is, het ons gehoor dat Naor wakker geword het ná byna ’n week.”

Die seuntjie se oë word rooi van die trane. “Ek het vir Yeshua gevra dat Hy hom nie moet laat doodgaan nie.”

In die tweede blok is ’n brandende huis met wilde vlamme wat teen die donkerblou hemel opskiet. ’n Pet met ’n duidelike blou Magen David daarop lê reg voor in die tekening op die grond.

Marc en Rivkah kyk vlugtig na mekaar. “Hoekom is dié pet hier, Natani?” vra Marc.

Die kleine plooi sy voorkop. “Abba, Bibi het mos gesê dis Joodse terroriste wat dit gedoen het.”

“Ek sien,” sê Marc, ontnugter deur wat die stil kind dikwels verstaan.

Die derde tekening is selfs meer ontnugterend. Daar vloei ’n stroom bloed langs die Ou Stad se muur verby. In die lug hang daar ’n maan wat so groot is dat dit meer as die helfte van die blok inneem.

“Hoekom is die maan rooi?” vra Rivkah onnodig, meer om haar skrik te vermom.

“Dis mos die bloedmaan, Imma. Onthou jy nie dat hy die eerste nag van Sukkot daar was nie?”

“Maar hoekom het jy hom nóú geteken, babbelossie?” vra Marc ook ontsenu deur die kind se insig en sy artistieke vermoë.

“’n Bloedmaan beteken ons gaan swaarkry.”

“En nou krý ons swaar,” sê sy pa gedemp.

In die laaste blok is daar ’n groot goue menorah. Aan die voet daarvan sit ’n duif.

“Vertel vir ons van dié prentjie?” vra Rivkah, wie se stem wankelrig klink.

“Dis mos Eretz Yisra’el, Imma. Ons gaan goud bly. Hulle gaan ons mos nie uit die land jaag nie. HaShem het so gesê. En Bibi het so gesê.”

Sy ma snuif en knip haar oë teen die trane wat daarin brand.

Marc trek die seuntjie styf teen hom aan, sy hart verteder deur die kind se onmiskenbare talent. “Hoekom sit jou duifie dan op die grond, Natani, en hoekom is hy so klein?”

“Ons het mos amper nie meer shalom nie, Abba. As ons kry, sal die duifie opvlieg.”

Yhoshi het intussen uit die studeerkamer teruggekom. Hy kyk ietwat verwonderd na sy boetie se tekeninge, maar hy sê niks daarvan nie.

“Weet jy nou al wat jy op die oomblik van jou land dink?” vra Marc.

“’n Mens kan nie net van nóú praat nie, Abba. Jy moet kyk wat vantevore gebeur het.”

“O?”

Hy het ’n bladsy by hom wat hy vol geskrywe het. “Dis wat my inleiding gaan wees. Dis wat die Amerikaanse skrywer Mark Twain in 1867 geskryf het toe hy na die land kom kyk het. Hy het baie gereis.”

Marc en Rivkah kyk nie na mekaar nie en elkeen onderdruk ’n glimlag. Mark Twain se woorde staan in albei se koppe opgeskryf.

“Toe was Israel se naam Palestina,” gaan Yhoshi voort. Hy het nie sy ouers se sentiment opgemerk nie. “Maar daar het nie mense met die naam Palestyne gewoon nie, net ’n paar Jode en Arabiere. Ek gaan dit net so in Engels gebruik soos hy dit geskryf het.”

Hy lees voor: “‘Of all the lands there are for dismal scenery, I think Palestine must be the prince. The hills are barren, they are dull of colour, they are unpicturesque in shape. The valleys are unsightly deserts, fringed with a feeble vegetation that has an expression about it of being sorrowful and dispondent. It is a hopeless, dreary, heartbroken land.’ ”

Marc hoor hoe diep Rivkah asemhaal om nie haar emosie te laat oorneem nie.

“Dis maar 57 woorde,” sê Yhoshi. “Dis mos nie te veel vir ’n inleiding nie?”

“Lo,” sê Marc, “dit is reg so. Maar hoekom gebruik jy dit? Gaan jy sê hoe dit nou 150 jaar later hier lyk?”

“Lo, ek hoef niks te sê nie, want wat hy geskryf het, sê dit alles. Almal kan mos sien hoe dit nou hier lyk. Ek gaan net in my volgende paragraaf sê: ‘Is dit omdat ons die wildernis laat bloei het dat hulle ons nou doodmaak? Of is dit dalk omdat ons die ‘hopeless, dreary, heartbroken’ land van Mark Twain lief genoeg gehad het om ’n paradys daarvan te maak?”

Marc sluk. “Dis reg,” sê hy weer, “en wat het jy nog daar?”

“Ek het gebruik wat Bibi gesê het en wat ek aanlyn gelees het van wat ons ambassadeur in Brittanje, Eitan Na’eh, Donderdag in die Telegraph geskryf het. Dat Jode doodgemaak word eenvoudig net omdat hulle Jode is. Dat die storie van ons wat die Al-Aksa-moskee wil afbreek en op die Tempelberg gaan aanbid, al in 1929 gebruik is toe daar ook vreeslike anti-Joodse onluste was. Sy oupagrootjie-hulle se huis is afgebrand. Altesaam 133 Jode is in een week in Hebron doodgemaak. Studente is in ’n yeshiva vermoor. Daar is op die ambulans geskiet wat sy tante, ’n oorlewende van die Shoah, hospitaal toe geneem het vir die geboorte van haar baba.”

Hy kyk weer na die papier waarop hy sy aantekeninge gemaak het. “Soos Bibi sê, daar was toe nie eens Joodse nedersettings nie. Toe soos nou, het Eitan geskryf, is dit eenvoudig die teenwoordigheid van Jode in Eretz Yisra’el wat die grondoorsaak van die begeerte onder Palestynse terroriste is om ons dood te maak.”

Marc knik.

“Dis baie goed, Yhosh. Maar jy moet nog sê hoe jy die land nou sien.”

“Ek weet,” sê sy oudste. “Ek eindig dit deur te sê: Ek sien my land soos toe David HaMelech ’n jong seun was – want ons land is ook nog ’n seun – en hy voor die reus Golyat gestaan het met sy klippies en sy slingervel. Toe almal gedink het hy gaan doodgemaak word, het hy vir die P’lishti gesê: ‘Ek kom na jou toe in die Naam van Adonai Tzva’ot.’ ”

Die kamer is stil.

En dan eindig Yhoshi af met: “Ons is nie bang nie.”

Die trane blink in Rivkah se oë. Sy trek Yhoshi op haar skoot en soen hom.

Marc se keel trek sommer baie nou. Hy moet dit skoonmaak voordat hy kan praat. “Glo jy ook self wat jy geskryf het, Yhosh?”

“Ken, Abba. En toe ek na Bibi luister, het ek gedink hy glo dit ook, al het hy dit nie so gesê nie.”

“Ek hoop van harte so.”

Yhoshi hou die papier in die lug. “Dis presies 600 woorde. Ek gaan dit vanaand netjies in my boek skryf. Kan ek asseblief nou afgaan plein toe? Avraham-hulle is al lankal daar.” Hy beduie na sy selfoon wat hy in die ander hand het.

“Ek gaan ook,” sê Natani en los sy tekenwerk net so.

Yhoshi lyk nie alte gelukkig daaroor nie. Hy sê tog: “Beseder, maar as jy vir Shmu’eli saamvat, gaan jy hom oppas, nè?”

Die kleintjie beloof haastig en die twee vertrek sonder meer.

Marc voel na Rivkah se hand langs hom op die bank en vou dit styf in syne toe. “Adonai het vir ons met ons kinders geseën.”

Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Mag Hy ons genade gee om hulle in hierdie verskriklike tye reg groot te maak.”

Daar is ’n ligte kloppie aan die voordeur voordat dit oopgaan en Re’uven inkom. “Is hier mud beskikbaar?” wil hy weet.

“Betach,” sê sy suster en staan op om dit te gaan haal. “Kom sit. Jy lyk moeg.”

“Jy ook,” sê hy, soen sy suster en sink terug in die groot leunstoel.

“Waar’s die seuns?”

“Plein toe.”

“En die?” Hy wys na die tekeninge op die koffietafel.

Marc gee dit vir hom aan. “Dis wat Natani geteken het toe ons netnou na Bibi se perskonferensie geluister het.” Hy verduidelik wat elkeen beteken.

Re’uven bly woordeloos sit, skud sy kop. “Merkwaardig,” sê hy toe. “HaShem moet ons genadig wees om nou hier kinders groot te maak.” Hy grinnik. “Veral daai Yaniv van my maak my partykeer bekommerd. Ek sien nog hoe hy ’n aktivis word.”

“Hoe so?”

Hy lag. “Ek luister maar hoe hy verduidelik wat Bibi moet doen om die geweld vas te vat.”

“Dis ook maar begryplik. Die kinders is immers nie blind vir wat dag vir dag rondom hulle aangaan nie,” sê Marc.

Re’uven neem sy koffie by Rivkah aan. “Die totaal tot dusver vir Oktober staan nou op 35 mesaanvalle, 4 skietvoorvalle en 3 voorvalle van motors wat tussen mense ingejaag en hulle beseer en gedood het.”

“Waar sal dit eindig?”

“Ek het vanmiddag in Be’er Sheva met ’n man gepraat wat saam met Muhannad al-Aqabi gewerk het.”

“Die terroris wat Omri Levi in Be’er Sheva vermoor het?”

Re’uven knik. “Dit was in die aanval by die Sentrale Busstasie. Yoni, wat in Bnei Brak woon, het die afgelope ses maande saam met hom vir ’n groot maatskappy gewerk. Hy sê Muhannad het dikwels van ISIS gepraat en gesê dat hy met hul godsdienstige idees saamstem. Maar hy wat Yoni is, het nie vir een oomblik gedink Muhannad sou uitgaan en Jode vermoor nie. Hy sê Muhannad was ’n stil mens met ’n sterk geloof in Allah. Hy was ontsteld oor wat by Al-Aksa aan die gang was. Hy was ongelukkig omdat kinders tydens Tzuk Eitan in Gasa gesterf het. Yoni het aan hom verduidelik dat dit was omdat Hamas kinders as menslike skilde gebruik het en daar ook nêrens bomskuilings in Gasa gebou is nie. Yoni glo wat gebeur het, was godsdienstige ekstremisme.”

“Dit is die aanhitsing waarvan Bibi ook in die perskonferensie gepraat het,” voeg Marc by.

“Dat ’n stil en diep godsdienstige man uitgaan om ’n Israeliese soldaat dood te skiet en 11 ander mense te verwond … Wat moet ’n mens nou daarvan dink?”

“Jy moet aan gewelddadige Islam dink, sustertjie, net gewelddadige Islam. En die uitsprake van Mahmoed Abbas.”

“Maar wat vir my amper nog erger is, is die man van Eritrea wat deur die omstanders geskiet en daarna gelynch is omdat hulle gedink het hy is ’n tweede terroris.”

“Ken. Dit sal verskriklik wees as so iets hier begin posvat. Beseder, die mense was geskok en het genoeg gehad van wat aan die gang is. Maar dít is die gevaarlikste ding wat kan gebeur. Ek sien Bibi het dit onmiddellik geweldig veroordeel. Daar is geen manier waarop Israeli’s die wet in eie hand kan begin neem nie. Daar is ’n ondersoek gelas na wie presies die skuldiges is, en hulle sal vervolg word.”

“Maar die kwaad is klaar gedoen …”

“Ken, Marc, ken! Die kwaad is gedaan.” Re’uven tel weer die boek met Natan se tekeninge op. “Dít is waarom ’n kind van agt sulke dinge teken en hoekom ek vrees om kinders in sulke omstandighede hier groot te maak.”

“Ek is swanger, Re’uven,” sê Rivkah voordat sy dink wat sy doen.

Marc trek sy asem verskrik in en sy is self uitasem.

Re’uven kyk haar verstom aan. “Jy is swánger, maar …”

“Ek weet. Nogtans.”

Hy staan op. Groot en sterk staan hy voor haar. Toe trek hy haar uit die stoel op en vou haar in sy arms toe sodat net haar bos krulhare nog uitsteek.

“Achot sheli!” sê hy en sy stem slaan deur. “Mag Abba ons almal genadig wees en ons kinders beskerm.”

Hasukkah shel David

Подняться наверх