Читать книгу Pad na Geluk - Moryn Hanzen - Страница 5
2
ОглавлениеNina kan haar oë skaars afhou van Ian se breë skouers waar hy op die pragtige perd voor hulle uit galop in die smal tweespoorpaadjie waarin hulle so pas links afgedraai het. Versigtig kruie sy agter hom aan, bang dat sy die onderstel van haar motor op die middelman kan seermaak.
“Ouma,” begin sy nuuskierig, “het Ouma geweet Ian woon ook hier op Geluk?”
Sy kyk vlugtig in die rigting van ouma Anita wat ywerig hare borsel en ’n ligte lipstiffie aansmeer terwyl sy haarself krities beskou in die spieëltjie teen die afgeslane sonkap.
“Ag, Ninatjie, jy weet hoe dit gaan,” kom dit ewe onskuldig. “Dit was die een reëling na die ander en voor ek my kom kry, het ek vergeet om te noem dat Ian die boerdery glo ’n paar jaar gelede by sy oupa oorgeneem het na die dood van Chris se vrou, Ria.” Sy tuit haar lippe om dit met ’n sneesdoekie te klad. “En buitendien het ek jou mos jare gelede al vertel dat Chris se kleinseun ’n landbougraad behaal het en dat sy pa en ma – wat albei dokters is – nou al meer as tien jaar gelede Londen toe geëmigreer het.”
“Ek kan nie glo Oumsie het heeltemal vergeet om te noem dat die oom se einste kleinseun ook nou op die plaas woon en werk nie.” Nina loer weer ondeund na ouma Anita deur haar modieuse sonbril, haar wenkbroue hoog opgetrek. Geheimsinnig is haar ouma gewoonlik nie. Sy hoop net nie sy koester enige hoop of verwagtinge nie …
“Maar, Ninatjie, wat maak dit nou eintlik saak?” Ouma Anita het die borsel reeds in haar handsak by haar voete gebêre en kam effens senuagtig met haar vingers deur die kort hare wat Nina die vorige dag netjies versorg het. “Dalk woon hy nie eens meer in dieselfde opstal as Chris nie. Geluk het ’n kleiner opstal ’n paar honderd meter van die groot huis af, as ek nog reg onthou. Ek was ook so lank gelede hier,” voeg sy ter versagting met neergeslane oë by.
Nina voel sommer opnuut skuldig. Waarom sal sy tog verder aan haar ouma torring oor Ian se teenwoordigheid? Sy wil niks doen om ouma Anita se welverdiende kuier te bederf nie. Nog nooit het haar ouma enige moeite ontsien om haar te help nie. Sy kan net dink dat dit nie altyd maklik was nie.
Dit moes ’n groot skok gewees het toe haar ouma vier-en-twintig jaar gelede gehoor het dat Mariaan, haar en Dawie se enigste en pragtige blonde dogter, in haar matriekjaar buite die eg swanger geraak het. Boonop is die pa, ’n uitruilstudent, terug na sy lewe in Ierland omdat hy nie bereid was om so jonk met Mariaan te trou nie. En die ergste, in die finale maand van haar swangerskap het hulle gehoor dat Mariaan ’n hartkondisie ontwikkel het. Kort na Nina se geboorte het peripartumhartversaking haar ma se lewe geëis. En daar sit haar ouma en oupa met ’n piepklein, rooikop-babadogtertjie en die wêreld se hartseer en selfverwyt dat hulle nie strenger was oor hulle dogter se verhouding met die aangename jong seun nie.
“Ag, Oumsie, dit maak seker nie saak nie. Ian is ook maar net ’n mens. Sal my seker nie opeet of so iets nie,” sê sy terwyl sy voel hoe haar wange weer warm word by die gedagte aan hoe sy minder as vyf minute gelede skielik daardie ernstige oë van Ian Nell, wat mens aan gesmelte tjoklits laat dink, op haar gevoel het.
“Dalk hou hy nie eens van vroumense nie,” redeneer Nina teen haar beterwete terwyl sy aan die frons tussen Ian se digte, donker wenkbroue dink. Êrens in die omgewing van haar naeltjie spiraal ’n warm gevoel plotseling uit. Wat doen hierdie vreemdeling aan haar? Hoe is dit moontlik dat iemand wat sy pas ontmoet het, haar reeds aan die fantaseer het oor hoe salig dit sou wees om in die sjokoladepoele van sy oë te verdrink? Sy moet haar regruk en gou ook, want ’n groot plaashek het sowat veertig meter verder voor hulle opgedoem. Die Kalahari is die laaste plek waar sy haar hart wil verloor.
“Kintatjie, wat laat jou dan dink dat ’n volbloedman soos Ian nie van vroumense sal hou nie?” vra ouma Anita baie terloops. “Jy weet, Chris was ’n aanskoulike jong kêrel op sy dag, maar sowaar, selfs nie hý sou by Ian kon kers vashou nie.” Sy gee ’n genotvolle sug. “Waar’s daai dae! Ek en Chris saam op hoërskool, ek in die meisie- en hy in die seunskoshuis op die dorp.”
Nina kyk met deernis na haar ouma. Sy ken reeds die storie, maar laat haar ouma maar begaan. “Ons was nogal ’n aanvallige paartjie, dít kan ek jou vertel. En ek het nog nooit weer iemand ontmoet wat kon dans soos Chris nie. Die koerant het ons nogal kom afneem by ons matriekafskeid destyds. Ek het die uitknipsel nou nog.”
Daar is ’n veraf uitdrukking in ouma Anita se oë terwyl al die onthou-jy-nogs deur haar gedagtes flits.
“Na skool het ek en Chris albei by die koöperasie op die dorp begin werk. Dit is in dieselfde tyd dat ons vir Dawie en Ria leer ken het. Gou het dinge tussen die vier van ons verander. Ek en Dawie het al hoe meer tyd saam spandeer. Ons het albei gedroom van ’n lewe in die groot stad. Ria het weer tyd saam met Chris deurgebring. Dit was net na my en jou oupa Dawie se verlowing dat Chris dié plaas gekoop het. Drie jaar later is hy en Ria toe ook getroud.”
Ouma Anita se oë blink klam van al die herinneringe. “Ag,” snuif sy, “ek verveel jou al weer met toeka se dinge. Jy ken mos die storie.”
’n Paar oomblikke van stilte.
“Dis altyd lekker om al die ou stories weer te hoor, Oumsie.” Nina se gedagtes is terug by Ian. “Ek wonder, Oums, hoekom sal enige man … enige mens verkies om hier tussen niks en nêrens te woon? Hom onder al hierdie,” sy kyk by haar oop ruit uit, “stof en sand te begrawe? Die hitte te trotseer?”
Nina voel effe lighoofdig toe sy weer die broeiende donker oë wat ’n paar minute gelede nog op haar vasgenael was, in haar gedagtes sien.
Ag, lighoofdig se voet in ’n visblik! Dit is alles net uitputting na die lang rit.
’n Ietwat vervelige vakansie op ’n afgeleë plaas het skielik vir Nina verander in ’n perd van ’n heeltemal ander kleur. “O, aarde, Ouma, dink Oumsie …?” Nina is kortasem en tot by die punte van haar ore vuurwarm. “Dink Oumsie mans wat so alleen en afgesonderd woon, is dalk uitgehonger …?” Sy sny haar eie sin stomp af.
Sy kan mos nie sulke goed vir haar ouma vra nie.
Verleë probeer sy om die groot gestalte van Ian voor hulle mis te kyk, maar skielik is hy al wat sy raaksien. “Dink Oumsie hulle is dalk uitgehonger vir geselskap?” voeg sy gou by toe sy uit die hoek van haar oog sien hoe ouma Anita skuins in haar sitplek draai terwyl sy haar met onverdeelde aandag en ’n geamuseerde glimlaggie beskou.
Nina kyk vlugtig na haar ouma wat blykbaar lank oor haar vorige vraag moet nadink. “Sê my eerlik, wat dink Oumsie van Carl?” vra sy gou in die hoop dat haar ouma die twak sal vergeet wat sy pas kwytgeraak het. Sy wou buitendien lankal weet presies wat haar ouma van hom dink. Sy wens soms hy kan net ’n bietjie meer … méns wees. Selfs partykeer iets verkeerds sê. Ag, soms ook net ’n fout begaan. Alles wat hy doen, is altyd so … korrek.
Haar vriendinne beny haar omdat Carl toenemend haar geselskap opsoek en haar gereeld vra om saam met hom uit te gaan, maar … dit is al asof sy onberispelike maniere en afgeronde voorkoms haar deesdae onverklaarbaar irriteer. En daardie soen van eergisteraand? Waar was die vonk waarvan sy al so baie gelees het, of is dit maar net ’n mite? Dalk was dit net te onverwags.
“Hoe sal Ouma nou vir jou sê? Hy’s intelligent en ooglopend baie toegewyd, duidelik suksesvol in sy beroep. Behulpsaam en ’n goeie vriend vir jou. Sag op die oog en ordentlik.” Nina voel sommer daar kom ’n “maar” aan: “Maar kan jy aan hom dink as ’n moontlike lewensmaat, my kind?”
Verbaas kyk Nina van ouma Anita af na waar Ian van sy perd se rug afgly en met groot treë loop om die hek oop te stoot. Sy sal haar ouma liewer ’n antwoord skuldig bly. Dit het nog nooit eens by haar opgekom dat sy en Carl moontlik …
Vlugtig dink sy terug aan verlede week toe daar ’n waterpyp by die haarsalon gebars het. Midde alles wat tot stilstand kom as daar nie water in die salon is nie, het sy asof vanselfsprekend Carl se nommer geskakel om te hoor of hy nie vir haar raad het nie. Hy was binne ’n halfuur daar, maar het net gebuk en aan die pype gevat-vat voordat hy ’n loodgieter ontbied het. Ian, aan die ander kant, lyk nogal na die soort man wat net daar en dan onder die stukkende pyp sou ingekruip en dit eiehandig reggemaak het.
Nina se ore raak gloeiend warm van die prentjie in haar verbeelding. Liewe tyd, waar kom dít nou vandaan?
Sy ry deur die breë plaashek. Dankbaar vir die sonbril, volg sy elke beweging van Ian met haar oë in die truspieël. Hy trap in die stiebeuel, swaai hom met die grootste gemak terug in die saal en ry verby hulle in die rigting van ’n groot opstal.
“Is dít die huis waarvan Ouma gepraat het?” Nina skeur haar oë met moeite van Ian weg.
Haar ouma knik ingenome.
“Maar hier is dan nie eens bome nie.” Nina se oë fynkam die toneel voor haar en neem ’n groot wit huis in met ’n goed beplande tuin bestaande uit ’n wye verskeidenheid vetplante en plaveisel wat kunstig uitgelê is. Aalwyne vorm die middelpunt van dié eienaardige tuin.
Langs die huis is ’n lang stoep waar ingeboude betonsitplekke ’n wye halfmaan vorm met ’n braaiplek langsaan. ’n Hele bos kannas groei teen die kant van die huis, en Nina vergaap haar aan die blomme se rooi vlammetjies. Aan die ander kant van die huis staan darem ’n enkele witgatboom, perdestalle en die motorhuis. In die yl skadu van die boom lê ’n besonderse vet boepenshond …
Of, nee, wag, dit is g’n hond nie! Toe hulle langs die huis stilhou, het die dier opgespring en nuuskierig nader gedraf.
“Tjoppie, gedra vir jou!” kom dit bevelend van Ian.
Tot Nina se verbasing gehoorsaam die massiewe vark dadelik en kom na Ian toe, wat die teuels van sy perd oorhandig aan ’n jong man in ’n blou oorpak wat vriendelik groet. Die vark kom staan soos ’n wafferse werfbrak by Ian. “Daar’s hy, dit is mos nou ’n soet ot,” gesels Ian terwyl hy hard agter die dier se ore krap. Die vark snork en steun van pure genot en stoot-stoot met die snoet teen Ian se been wanneer hy ophou krap. “Genoeg, Tjoppie!”
Dadelik gehoorsaam Tjoppie en loop lui-lui na die skaduwee aan die kant van die huis. Daar slaan sy soos ’n os neer en rol heen en weer op die grond.
Ian kyk Tjoppie met ’n glimlag agterna. Elke dier op hierdie werf erken beslis sy gesag. Nina is seker haar mond hang oop van verwondering oor al die eerste indrukke.
’n Ouerige, lang man kom by die voordeur uitgestap met ’n piepklein skaaplammetjie al blêrende op sy hakke.
Ouma Anita stap hom tegemoet en hulle soengroet mekaar in blye weersiens. Trane van aandoening dam in Nina se oë op terwyl sy kyk hoe haar ouma en oom Chris mekaar omhels en vir ’n lang ruk so bly staan. Dit moet ’n wonderlike dag vir hulle wees om mekaar na al die jare weer te sien. Hulle was glo baie na aan mekaar as jong mense en het mekaar sedert haar ouma en oupa getroud is, nooit weer gesien nie, net af en toe gebel of ’n brief in die pos gegooi.
“Kom ek stel jou voor aan my oupa,” sê Ian.
Saam loop hulle tot by die ander twee. “Oupa, dis tannie Anita se kleindogter, Nina. Nina, dis nou my oupa Chris.”
Nina hoor die onverbloemde trots in Ian se stem terwyl haar hand wegraak in die ouer man s’n. Oom Chris moes voorwaar besonder aantreklik in sy jong dae gewees het, besluit sy terwyl sy na hom kyk. Hy staan steeds fier en regop, terwyl sy grys hare nog dig om sy kop kartel.
“Het ek jou nie gesê Nina sal ’n skoonheid wees nie, ou seun? Net soos haar ouma,” lag oom Chris. “Maar kom laat ons julle bagasie aflaai. Julle vergaan seker al van die dors.”
“Nooit nie, Oupa. Ons het skaars ’n kwartier gelede heerlike groot bekers egte moerkoffie in die veld gedrink,” antwoord Ian met ’n glimlag in ouma Anita se rigting.
Hy draai om en begin van die tasse uit die motor haal.
Nina help met al die kleiner, los items wat rondlê na die ure lange rit vanaf Pretoria. Sy buk by die linkerkantste voordeur en Ian aan die ander kant.
Hy vat nog ’n kleiner tassie in sy groot hande vas en kyk in Nina se rigting. “Ek hoop jy het ander klere saamgebring as net daardie soort rokke,” sê hy met die frons skielik terug tussen sy oë.
“Natuurlik het ek,” snip sy terug. “Of dink jy dalk ek gaan heeltyd só hier in die gramadoelas rondloop?”
Ian buk om die bagasie langs die motor neer te sit, en Nina kan nie anders as om te bewonder wat sy aan die ander kant van die motor sien nie. Sy voel hoe ’n warm gloed deur haar trek toe hy omkyk.
“Wel, dis goeie nuus. Want hierdie gramadoelas, soos jy dit noem, kan nogal ongenaakbaar met ’n sagte velletjie wees. Ek dink jy het meer as genoeg sonlig vir een dag gehad, Nina. Kom, laat ons jou in die huis kry.” Effens gesteurd wonder sy of sy nou soos die perd en die vark agter hom moet aantrippel toe hy sy stem so dik maak.
“Is daai perd van jou ook ’n wyfie?” Nina kyk op na Ian wat meteens vassteek en uitbars van die lag.
Haar maag draai behoorlik toe sy na die kuiltjies langs sy mond staar. In haar gedagtes sien sy vir Carl. Hy lag eintlik baie min. En beslis nooit so uitgelate soos Ian nie.
“’n Wyfie, sê jy?” Hy proes nog ’n maal hard en skud sy kop voor hy weer verder loop.
“En wat is miskien so snaaks daaraan dat ek wil weet of jou perd ook ’n wyfie is?”
“Ook ’n wyfie? Hoeveel ander wyfies het jy al hier teëgekom, meisie?” kom dit met ’n ingehoue lag wat sy oë laat blink.
“Wel, Tjoppie is ’n wyfie, dink ek, en die perd …? Wel, ek is nie seker nie. Ek het … Wel, ek het nou nie juis opgelet nie.” Nina voel hoe sy tot by die punte van haar ore rooi word, maar sy wil ook nie heeltemal soos die stadsjapie klink wat sy eintlik is nie.
“Oukei, dan!” Dit is duidelik dat Ian sy lag met moeite inhou. “Tjoppie is ’n varksog, so, volpunte vir jou oplettendheid daar.” Die oordrewe artikulasie van die woord varksog, bevestig haar vermoede dat sy so pas haar naam met ’n massiewe plank geslaan het. “En Bles,” hy bulder weer kliphard van die lag, “wel Bles is ’n hings. Een wat nie daarvan sal hou dat jy of enigiemand anders wonder of hy ook ’n wyfie is nie.”
Langsaam onthou sy: O ja, ’n sog en ’n beer. ’n Merrie en ’n hings. Wanneer laas het sy hoegenaamd aan hierdie soort woorde gedink? Hoekom sake onnodig kompliseer met soveel verskillende terme vir die manlike en vroulike vorm van die verskillende dierespesies?
“Wel, ek het jare gelede ’n mannetjieskat gehad. En ek het laas op TV ’n perd gesien. Ek kan nie onthou of dit ’n merrie of ’n hings was nie. Ek is ’n haarkapper, nie ’n plaasvrou nie.”
“So dan is jy ’n haarkapper?” Ian kyk af na Nina wie se kop skaars tot by sy skouer kom.
“Ja, en ’n stilis. Nadat ek klaar geleer het, het ek ’n jaar in ’n salon gewerk voordat ek my eie plek twee jaar gelede oopgemaak het met ’n sommetjie geld wat oupa Dawie aan my bemaak het.” Nina loer sydelings na Ian wat lyk of hy diep nadink.
Hy staan terug sodat sy voor hom by die huis kan instap.
Oukei, niks fout met grootmeneer die Kalahariboer se maniere nie, glimlag Nina. Sy stap met al die grasie waartoe sy in staat is voor hom uit, steeds skaam omdat sy haar flussies probeer slim hou het.
“Maar as jy jou eie haarsalon bedryf, kan jy seker nie negentien of twintig wees nie?” hoor sy Ian verbaas agter haar uitroep, asof hy dit pas besef het.
Sý, nogal ’n skrale negentien, twintig?
Nina steek so skielik in haar spore vas dat Ian trompop teen haar rug bots voordat hy tot stilstand kom. “Wat bedoel jy miskien, twíntig? Ek word oor ’n paar maande drie-en-twintig!”
Die kennismaking met Ian se harde, manlike liggaam het haar opnuut van haar ewewig beroof. Sy trek sy reuk diep in. Dan is dít hoe ’n boer ruik? Pure man. Net son en veld en …
“Naeltjies.”
“Ekskuus?” vra Ian slegs ’n paar sentimeter bokant haar regteroor sodat die hoendervel verraderlik oor haar arms uitslaan.
“Het julle naeltjies in die huis?” is die enigste logiese vraag waaraan Nina kan dink. “Ek verbeel my ek ruik naeltjies.”
Vir ’n paar tellings knyp sy haar oë toe. Hoekom tog altyd sê wat sy dink? Die warm, kolkende gevoel is weer terug agter haar eie naeltjie, iets wat sy netnou vir die eerste keer in haar lewe so intens ervaar het. As sy haar oë lank genoeg toehou, sal sy haar maklik kan verbeel sy sweef, dink sy droomverlore.
Dan ruk sy haar reg en draai om, net om te sien hoe hy haar met ’n geamuseerde glimlag dophou.
“Nie net ’n mooi gesiggie nie,” kom dit tergend. “Wil sommer met die intrapslag begin kook ook, sien ek. Moet tog geen moeite ontsien nie, Nina.”
Nina ignoreer sy tergende opmerking. “Kan jy my asseblief net wys waar ons slaapkamer is?” vra sy so saaklik moontlik om haar verleentheid te probeer verbloem.
“Sjoe, Nina! Is alle stadsmeisies geneig om so haastig te wees, of is dit net die rooikoppe? Ek meen nou maar net, ons kan altyd later van plan verander as jy nog steeds voel ek en jy moet ’n kamer deel, maar miskien moet ek voorlopig net eers jóú kamer vir jou gaan wys.”
Nina gloei van verleentheid. Hoeveel keer sal sy haar nog voor hierdie man verspreek? “Jy weet baie goed dat ek na my en ouma Anita se kamer verwys het,” kry Nina dit net-net uit terwyl Ian se oë haar steeds takseer.
“Kom,” grinnik Ian.
Nina loop agter hom aan deur ’n ruim leefvertrek waarna hy links in ’n gang af stap. Die blink gepoleerde plankvloer kraak onder sy voete. Sy bekyk hom van kop tot stewels terwyl sy nou die geleentheid het sonder dat haar ouma by is om alles met haar wakker oë raak te sien.
Wat aan die man is nou eintlik so … wel, so aantreklik? Sy deurmekaar donkerbruin hare? Dit kan tog nie moontlik wees nie, probeer sy haarself oortuig. Waarvandaan kom die gevoel dan dat sy graag haar vingers daardeur wil trek?
Nina klem die pakkies stywer vas.
Die spiere onder sy hempsmoue bult. Spiere wat beslis nie in ’n gimnasium opgebou is na ’n dag in ’n koel kantoor nie, maar deur harde fisieke werk in die buitelug, onder die ongenadig warm Kalaharison. Haar oë sak outomaties na sy … ummm … netjiese sitvlak en lang bene wat met groot treë voor haar uitstap. Ja-nee, reg, daar is meer as genoeg om na te kyk, en dit is nog net die mansmens se agterkant.
By die derde deur aan die regterkant van die gang kom Ian tot stilstand, sit die tasse neer en maak dit oop.
Wat ’n lieflike ruim slaapkamer is dit nie, met ’n massiewe bed en pragtige antieke meubels wat slim gerangskik is om die maksimum vloerspasie te laat. Die vertrek ruik na meubelolie en vloerpolitoer. ’n Pragtige bont laslappieskombers en wit gehekelde deken op die bed. Eintlik noem ’n mens dit seker ’n katel, dink Nina met ’n glimlag.
“Ons hou die gordyne maar meestal dig toe in die somer,” waarsku Ian haar. “Soos jy nog sal agterkom, is ons afhanklik van sonkrag op die plaas en kan ons die waterverkoeler nie snags ook laat loop nie.”
Ian tel haar bagasie op en sit dit op die riempiesbankie voor die groot venster neer. Hy plant sy hande in sy sye. “Jy’s skielik stil,” torring hy. “Dink jy die kamer sal darem voldoen aan ’n volbloed-stadsmeisie se hoë standaarde?”
“Dit is regtig die lieflikste kamer,” moet sy toegee. “Baie, baie dankie, Ian,” sê sy opreg en sien die verbasing op sy gesig. “En dit is so heerlik koel! Ek en Ouma sal nie weet wat ons getref het om met al die mooi goed bederf te word nie.” Nina kyk na die skoon handdoeke en bakkie met sjokolade toegedraai in helderkleurige blink papiertjies op die spieëltafel.
Op ’n tafeltjie langs die riempiesbank staan ’n handvol van die rooi kannas, lossies in ’n groot deurskynende vaas ingedruk, bo-op ’n stapeltjie tydskrifte. Glad nie sleg vir twee mans nie, dink sy in haar skik. Sy en haar ouma kon beswaarlik vir beter gewens het.
“Die kamer is net vir jou, Nina. Tannie Anita slaap in die kamer langsaan. Die badkamer is die volgende deur laer af in die gang.” Hy begin deur toe loop. Loer dan weer om die kosyn. “O ja, jy kan later self vir Jenny dankie sê vir die mooimaak van die kamer. Ek het regtig niks daarmee te doen gehad nie.”