Читать книгу Pad na Geluk - Moryn Hanzen - Страница 6

3

Оглавление

Jenny! Wie sou dit wees? Dit wonder Nina vir die soveelste keer sedert Ian haar vanmiddag genoem het. Sy lig haar skouers en begin om haarself driftig af te droog. Moontlik ’n vriendin van Ian?

Die stekie jaloesie maak haar sommer vies vir haarself. Wat maak dit nou eintlik saak wie Jenny is?

Nina staan op haar tone om haar gesig in die toegewasemde spieël te probeer sien. Genugtig, moet die spieël dan so hoog hang? Sy dink aan Ian se ellelange lyf en sien in haar verbeelding hoe hy sou moes dubbeld vou terwyl hy skeer as dit laer gehang het.

Sy sien haar groen oë en die nat rooi hare wat teen haar wange hang. Toe trek sy skewemond vir haar dowwe spieëlbeeld en haal die borsel uit haar toiletsakkie.

Jy moet jou regruk en vinnig ook, Nina, maan sy haarself terwyl die borsel onnodig hard oor haar kopvel gaan. Haar tande loop ewe onsag onder die tandeborsel deur terwyl sy die wasem met die handdoek in haar ander hand van die spieël afvee.

Sy leun nader om die rytjie sproete oor haar neus van nader te bekyk. Ja-nee! Dít ook nog! Net ’n paar ure in die buitelug en nie net is haar skouers verlaag na kersierooistatus nie, maar daar pronk boonop ’n goeie strooisel ekstra sproete oor haar effense wipneus.

Sy smeer geurige lyfroom met lang hale aan haar bene en arms. Hier sal sy moet oppas of sy gaan ’n hele paar kilogram optel. Die bruingebakte skaaptjops en aartappelslaai wat hulle vir aandete gehad het, het vorentoe gesmaak, om nie te eens te praat van die pampoenkoekies en ’n watertand-groenboontjiegereg nie.

Wie sou die kos voorberei het? Sy het niemand anders gesien nie, maar sy twyfel of oom Chris of Ian kook.

Selfs nagereg het nie agterweë gebly nie. Sy is bevrees sy het haar byna vergryp aan die heerlike malvapoeding en tuisgemaakte vla.

Malvapoeding. Goeie herinneringe aan gesellige maaltye maak Nina skielik weemoedig. Dit was oupa Dawie se gunsteling-nagereg. Ouma Anita het dit nog nooit weer na sy dood gemaak nie, besef sy nou eers.

Sy smeer nog room aan en sorg dat haar sonvernielde skouers genoeg daarvan kry. Deur die matglas van die badkamervenster agter ’n fyn kantgordyntjie sien sy dat die son al baie laag sit en wonder verbaas hoekom dit dan op die verkeerde plek ondergaan.

Sy trek haar wenkbroue op en sug gelate. Sy gee nie om waar die son ondergaan en môre weer opkom nie; solank dit net op ’n gereelde basis gebeur, sal sy daarmee kan saamleef. Na haar blaps met die diere, sal sy maar liewers nie vir Ian daarna vra nie.

Die huis is besonder stil, besef Nina terwyl sy haarself vir oulaas krities in die spieël bestudeer en haar kort, rooi somerkamerjas aantrek. Met haar wysvinger stryk sy tussen haar oë waar ’n plooi pas verskyn het. Wil jy ook nog voortydig ’n verrimpelde gesig opdoen, Nina du Toit?

Haar vuil klere bondel sy bymekaar en rits die toiletsakkie met heelwat meer drif toe as wat nodig is. Ian! Waarom vul die man haar denke, selfs al is hy nie eens teenwoordig nie?

Dink aan Carl, dink aan jou salon, aan enigiets anders, preek sy vir haarself.

Vererg ruk sy die badkamerdeur oop.

Voor haar staan die voorwerp van haar gedagtes, kaal bolyf, met slegs ’n ligblou handdoek laag om die heupe gevou. Die ligte kleur van die handdoek beklemtoon die sonbruin van Ian se gespierde liggaam selfs nog meer sodat dit onmoontlik is om dit nie met veel, veel meer as net terloopse waardering op te let nie.

Hy lyk ’n bietjie uit die veld geslaan oor die hardhandigheid waarmee die badkamerdeur so pas oopgeruk is. Dan volg sy smeulende oë hul eie pad en trek warm strepies oor haar lyf.

Nina sien hoe sy blik momenteel stol, iewers onder die soom van haar kort rooi kamerjassie wat haar bene blootstel. Dan beweeg sy oë al hoe laer af, stadig oor die lengte van haar bene.

Eindelik fokus hy stip op die grond.

Dan buk hy sonder meer terwyl Nina met ingehoue asem bespiegel of die vou in die ligblou handdoek dié soepel beweging sal kan weerstaan. Haar oë volg hom asof alles in stadige aksie plaasvind, terwyl hy die driehoekige stukkie vleeskleurige kant, wat met die oopruk van die badkamerdeur voor sy voete geval het, tussen sy wysvinger en duim vasknyp en van die grond af oplig.

Dit lyk verspot klein in sy groot hand.

Og, dit kan eenvoudig nie waar wees nie. Dit is nie regtig aan die gebeur nie. Nina knyp haar oë ’n paar oomblikke styf toe.

“Dít,” begin Ian en sy loer met een oog om te sien hoe hy die stukkie lap aandagtig bekyk terwyl hy dit soos ’n vlaggie aan sy wysvinger heen en weer swaai, “behoort beslis nie aan mý nie.” ’n Kuiltjie verskyn en verdwyn herhaaldelik langs sy een mondhoek toe hy dit uiteindelik na haar toe uithou.

Ten spyte van haar groot verleentheid, dwaal Nina se blik vir oulaas sommer vanself na sy sonbruin bors voordat sy haar kantbroekie met ’n gedempte dankie van sy vinger af pluk en haar na haar slaapkamerdeur haas.

Skoon oorweldig deur skaamte, trek en rem sy tevergeefs aan die toe deur.

“Anderkant toe. Die deur maak binnetoe oop, Nina,” hoor sy Ian se geamuseerde stem agter haar. Hy lag saggies terwyl hy die badkamerdeur agter hom toestoot.

Sy hoef nie eens in die spieël teen die muur te kyk om te sien dat haar gesig tamatierooi van die verleentheid is nie.

“Nina? Nina-kindjie?”

Nina hoor hoe haar ouma na haar roep, maar lê doodstil met toe oë op die groot bed. Sy sien eenvoudig nie kans om op te staan en almal ’n goeie nagrus te gaan toewens nie. Veral nie as Ian ook teenwoordig is nie.

Sy luister skuldig hoe haar ouma saggies omdraai en in die gang af stap om vir Ian en oom Chris te gaan nag en dankie sê vir hulle kamers wat so heerlik koel en gerieflik is. Sy sal later vergoed vir die voorgee dat sy reeds slaap.

Haar gedagtes dwaal terug na alles wat gebeur het sedert hulle voordag uit Pretoria vertrek het. Hoe dankbaar is sy nie dat haar oupa vir Gogga gekoop en help regmaak het nie. Sy was nog in haar matriekjaar toe hulle twee saam die verbleikte geel Kewer in die motorhuis afgeskuur en van voor af gespuitverf het. Haar oupa het selfs laggend meegedoen toe die gier haar beetpak om groot swart kolle oral op die tamatierooi bakwerk te verf.

Gogga, het oupa Dawie die Kewer net daar gedoop, terwyl Nina besig was om wimpers en wenkbroue met die oorblywende swart verf bokant die hoofligte te verf.

Ai, die leemte wat haar oupa se heengaan in haar en haar ouma se lewens gelaat het, is onmeetlik groot.

Dan herleef sy weer haar eerste indrukke van die Noord-Kaap. Sy volg die hobbelrige grondpad tot duskant Geluk en eindelik, voor haar, Ian se gestalte op die rug van Bles, sy híngs.

Ergerlik draai sy op haar ander sy. Wat moet die man na die badkamerepisode van haar dink? Sy verwyt haarself omdat sy die deur met soveel geweld oopgepluk het dat daar van haar, wel, allerpersoonlikste kledingstukke in die proses op die vloer voor Ian se kaal voete te lande gekom het.

Ag, wat maak dit tog saak wat hy dink?

Was dit ’n hoender wat gekraai het, of het sy net gedroom? Wag, daar is dit weer! Dit is beslis een. ’n Hoenderháán, Nina. Onthou, die henne kekkel en lê eiers, en die hane kraai.

Sy beter haar stadmaniertjies afskud die rukkie wat hulle hier gaan wees en twee keer dink voordat sy weer een of ander onsinnigheid voor Ian of oom Chris kwytraak. Dit was wel besonders om Ian so uit volle bors te sien lag, maar volgende keer sal sy verkies om haar aan hom te verwonder wanneer hy oor iets anders as haar onkundige uitlatings lag.

Ja! Daar is dit weer en dit is beslis ’n hoenderhaan.

Nina staan op en loer deur ’n skrefie in die gordyn. Dit is nog nie eens lig nie en die haan is al wakker. Dan hoor sy ’n lang uitgerekte moe-geluid. Dit moet ’n bees wees. Maak alle beeste dieselfde geluid? Of is dit net koeie wat so moe? Hoe hard sy ook al in haar geheue probeer delf, sy kan eenvoudig nie dink aan ’n geluid wat ’n bul van ’n koei onderskei soos hoenders nie. Die woord “loei” skiet haar gedagtes binne. Of is dit nou “bulk”? Sy kan om die dood nie onthou wat dié moe-geluid nou weer genoem word nie.

Koffie sal darem nou vorentoe smaak. Sy swaai haar bene van die bed af. Sal sy gou aantrek? Nee wat, die bed lyk darem baie aanloklik; dalk wil sy netnou daarna terugkeer. Gou gooi sy die rooi kamerjas liggies oor haar seer skouers en bind dit sommer in die loop vas. Ongemaklik wikkel sy haar skouers ’n paar keer. Selfs die sagte beddegoed het haar gekarnuffel.

Gelukkig is die gang nog donker. Nêrens brand ’n enkele lig nie. Op die punte van haar tone sluip Nina in die gang af. Die geelhoutplankvloer kraak net elke nou en dan saggies onder haar gewig. Sy onthou die pad na die kombuis besonder goed omdat sy en ouma Anita die skottelgoed na ete daarheen gedra het.

Sy voel-voel al teen die muur langs op soek na die ligskakelaar en slaan ’n hand oor haar mond om ’n gil te onderdruk toe haar vingers skielik aan iets harigs raak. Dan vat sy uiteindelik die ligskakelaar raak en skakel die lig aan. Langs die skakelaar hang ’n hele paar bosse sleutels waarvan die een aan ’n sleutelhouer van ’n stukkie gebreide vel is.

Gelukkig staan die kitskoffie en suiker in glasbottels op ’n rak teen die muur en hoef sy net na ’n beker en ’n teelepel te soek. Sy gooi ’n klein hoeveelheid water in die ketel sodat dit vinnig kan kook. In ’n beker waarop daar iets oor die Springbokke geskryf staan, gooi sy ’n lepel koffiepoeier en twee lepels suiker.

Die gordel van die satynkamerjas gly los terwyl sy die kookwater oor die koffiepoeier gooi. Huiwerig draai sy na die yskas, maak die deur oop en buk om na melk te soek.

“Kry ek ook koffie?”

Nina skiet so vinnig orent dat sy amper agteroor val. Haar rug druk teen ’n mansmens se breë bors.

Ian!

Dit is hy wat reg agter haar kom staan het en die versoek in haar nek gefluister het.

Hy leun vorentoe, styf teen haar rug om kamtig in die yskas te loer. “Aha, ek sien hier is ontbytspek ook! Hoe lyk dit, Nina? Kan stadsmeisies lekker kos maak?”

Dit voel of sy soos ’n ysblokkie in kokend warm woestynsand kan wegsmelt en sommer net heeltemal verdamp. Hoe is dit moontlik dat sy hom nie hoor aankom het nie?

Sy laat sak haar oë na die vloer. Jip, meneer is weer kaalvoet. Haar polsslag versnel: Sy hoop van harte hy het dié slag klere aan.

Wel, sy kan ook nie die hele oggend voorgee dat sy op soek is na iets in die yskas nie. Nou het sy geen ander keuse as om stadig, met al die waardigheid wat sy kan bymekaarskraap, om te draai en hom in die oë te kyk nie. En dít terwyl die voorval gisteraand voor die badkamerdeur en sy donker kyke aan tafel nog helder in haar geheue is.

Ian se bruin oë sak onmiddellik laer af en dit lyk sowaar asof die kleur ’n paar tinte verdiep toe dit op die dun materiaal van haar kort nagrokkie te lande kom.

Verdekselse glibberige gordel! Sy sal nie verbaas wees as hy oor genoeg selfvertroue beskik om te dink sy probeer hom doelbewus uitlok nie.

Wel, sy sal vir hom wys, sy is nié die tipiese desperate-stadsmeisie-soek-’n-boer-soort nie. Inteendeel. Roekeloos gooi sy haar kop agteroor sodat haar hare oor haar skouers terugval en haar sonvernielde rooi vel onder die veterbandjies ontbloot word.

Ian sluk.

Toe sluk hy nog ’n keer voordat sy oë uiteindelik weer tydsaam lig sodat hy elke millimeter van haar kan indrink. Sy oë smeul sonder skroom toe hy ’n stringetjie van haar hare tussen sy vingers beetkry.

Liggies speel hy daarmee. “Nina …” fluister hy hees sodat sy soet asem oor haar warm gesig streel.

Daar is verwarring in sy oë.

“Ja, Ian?” Hoewel onseker van haar eie stem, wil sy meteens weet wat die man regtig op hierdie oomblik dink terwyl hy só na haar kyk.

“Hoekom …?” Nina sien dat hy eensklaps sukkel om die regte woorde te vind.

Sy verbreek oogkontak met moeite en laat haar kop sak, die elektrisiteit tussen hulle onmiskenbaar teenwoordig.

Saggies lig Ian haar kop.

Haar lippe gaan in afwagting spontaan oop. Haar gevoelens wil en kan sy nie meer ontleed nie, want waar sy vingers haar ken en nek aanraak, voel dit of haar vel tintel.

Sy maak haar oë toe.

Sê nou net oom Chris of haar ouma kom nou hier in. Die gedagte ruk haar tot haar sinne. Sy maak haar oë oop en neem sy hand vasberade weg van haar gesig af, probeer hard om nie in sy oë te verdrink of na sy stewige borskas te kyk nie.

Haar lus vir koffie verdamp terwyl sy haar kamerjasgordel so ongesiens moontlik met bewende vingers probeer vasmaak. Sy moet onmiddellik omdraai en terug kamer toe gaan. Hoe kan haar hart so verraderlik weghol met haar wanneer hy net met daardie donker oë van hom na haar kyk?

“Ekskuus, ek moet … um …” Sy draai sonder die koffie van hom weg.

“Nina, wag …”

Sy maak of sy hom nie hoor nie en loop haastig in die gang af.

Terug in haar bed, weet Nina nie hoe sy weer later uit die kamer gaan kom nie, want op hierdie oomblik voel dit asof sy vir die res van die vakansie net hier in die bed kan bly lê. Sy trek die laken oor haar en maak haar oë vir ’n paar oomblikke toe.

Onmiddellik en heeltemal ongevraag, is Ian se beeld lewensgroot terug. Hoe sal dit nou voel as sy mond …?

Nina! Sy sal seker vergaan van die byna onuithoudbare hitte wat hy uit sy hele wese straal.

Enkele minute later klop iemand sag aan haar deur. Sy lê doodstil, haal skaars asem. As dit haar ouma is, sal sy haarself wel innooi, en as dit Ian is …? Wel, hopelik gaan hy weg as sy net nie antwoord nie.

Haar neus begin kriewel. ’n Yslike nies oorweldig haar. “A-a-atiesjoe!”

Die deur gaan stadig op ’n skrefie oop, en Ian loer in. “Gesondheid. Is dit veilig om jou koffie aan te gee of gaan jy my weer met daai groen oë van jou doodkyk?” Die skewe glimlag om sy mond versag sy woorde.

Nina trek die laken nog hoër tot onder haar ken op, asof dit nou kan vergoed vir haar glibberige kamerjasgordel wat juis móés losgegaan het net voor Ian by die kombuis ingekom het.

Versigtig sit Ian die beker langs haar op die bedkassie neer.

’n Paar tellings soek hy na haar oë in die skemer oggendlig van die kamer.

Toe laat sak hy sy hand en vee die laken sagkens ’n paar sentimeter weg sodat al twee haar skouers ontbloot is. Terwyl Nina nog wonder hoekom hy dit doen, buk hy stadig af. Asof gehipnotiseer, hou sy hom dop terwyl hy eers haar een skouer en dan die ander een so sag met sy lippe aanraak dat sy wonder of sy haar dit nie maar net verbeel nie.

Sy knyp haar oë styf toe en hou haar asem op. Na etlike sekondes blaas sy dit weer stadig uit en maak haar oë oop in die hoop dat Ian dalk al weg is.

Maar sy gesig huiwer slegs enkele sentimeters bokant hare. “Ek weet nie hoekom jy dalk so dink nie, maar ek eet regtig nie meisies vir brekfis op nie, Nina,” is al wat hy sê voordat hy eindelik orent kom en uitloop.

Dit is nie vir Ian Nell se verdekselse tande wat sy bang is nie, dit is vir hierdie polsende emosies wat hy in haar wakker maak. Sy probeer doelbewus aan Carl dink, maar kan hom glad nie voorstel in ’n omgewing soos dié nie. Hy sal eenvoudig net nie hier inpas nie.

Weer maak sy haar oë toe en voel skuldig en verlore terwyl sy die salige twee of drie sekondes herleef wat sy lippe net-net met haar seer gebrande vel kontak gemaak het.

Hoe gaan sy dit hierna regkry om ongeërg teenoor Ian op te tree in haar ouma en oom Chris se teenwoordigheid?

Nina moes weer ingesluimer het, ’n halfuur of wat waartydens sy gevoel het hoe ’n heerlike warm asem en streelsagte lippe haar skouers oor en oor liefkoos. ’n Kort ewigheid waarin sy herhaaldelik in die donkerbruin dieptes van Ian se wilsand-oë bly val het.

Toe die deurknop stadig draai, is Nina egter dadelik wakker, vies vir haarself omdat sy teleurgesteld is toe ouma Anita haar verskyning maak.

Sy wil tog niks met Ian te doen hê nie. Carl is … wel, hy’s gaaf en … en …

Doelbewus fokus sy op haar ouma wat stralend lyk in ’n broekpak wat haar besonder mooi pas. Die vakansie doen haar al klaar goed. “Môre, Oumsie. Lekker geslaap?”

“Baie lekker, dankie, kinta. Maar wat moet ék doen om ook so bederf te word?” Haar laggende oë gaan na die beker koffie wat nog onaangeraak op die bedkassie staan.

“O, dit?” kom dit vaag van Nina.

“Wel, ek het jou net kom roep, kinta-lief. Ek en jy gaan na ontbyt saam met Chris uitry veld toe om iets van die wild op die plaas te sien.”

Nina probeer haar gesig neutraal hou sodat haar teleurstelling nie wys nie. Sy spring kamma vrolik uit die bed en trek die nagrok oor haar kop. Haar ouma tel dit op waar dit in ’n hopie op die hoek van die bed val en vryf dit ingedagte tussen haar vingers. “Jy wil tog nie vir my sê jy het hierdie dungewaste ou nagrokkie saamgebring nie?”

Nina trek gou ’n kuitbroek en wit bloesie aan, bewus daarvan dat haar ouma haar vraend aankyk. “Wel, dit is darem nie asof ek op my wittebrood is nie, Ouma, so ontspan gerus,” kry sy dit so ongeërg moontlik uit terwyl sy haar hare kam.

Tydens die heerlike ontbyt hou Nina haar oë pal op haar bord terwyl sy haar verluister aan Ian wat gesels asof niks voor sonop tussen hulle gebeur het nie.

Dan verskyn daar ’n vrou in die eetkamerdeur, met ’n vlekkelose vel, vriendelike goudbruin oë en opregte glimlag. Haar ligpienk insteekskoene pas perfek by die skakering van haar kraakvars uniform.

“Jenny, dis nou Anita en Nina waarvan ons al so baie gepraat het,” stel oom Chris hulle aan mekaar voor. “Jenny is ons huishoudster.”

Die glimlag van die vrou, seker so twintig jaar ouer as Nina, helder elke gelaatstrek in haar gesig op.

Nina glimlag terug en probeer om Ian se warm blik op haar te vermy. So dít is dan Jenny!

“Ek’s Jenny Bock. Baie welkom op Geluk. Ek hoop die aandete het darem nie sta’ en uitdroog op die stove nie. Ek moes gister huis toe voordat julle hier aangekom het.”

“Dit was die lekkerste kos wat ons in jare geëet het, Jenny. Waar het jy geleer om so ’n lekker malvapoeding te bak?” wil ouma Anita weet.

Nina brand om te weet wat Ian dink wanneer hy so aandagtig na haar sit en kyk.

“O, niemand het my geleer nie, mevrou. Dis maar daai een resep wat ek altyd maak. ‘Anita se poeding’, sta’ nogals boaan geskryf,” antwoord Jenny.

Die volgende oomblik slaan sy haar hand voor haar mond. “Haai, moenie vir my sê mevrou is die ‘Anita’ van die resep nie!”

Oom Chris kyk ouma Anita betekenisvol oor die breedte van die tafel aan. “Ek het dit nog al die jare gehou.”

“Nou maar dit is baie lekker om mevrou te ontmoet. Dis amper asof mevrou famous is hierso,” lag Jenny voor sy haarself verskoon en die tafel ywerig afdek.

Ian verskoon hom van die tafel met ’n glimlag om sy mond. Hy sit sy hoed op en verdwyn by die deur uit.

Nina voel afgehaal oor die feit dat hy blykbaar nie eens sover dink soos om haar saam met hom te nooi nie.

“Nou ja, die son sit al hoog. Ons sal moet roer as ons nog ’n gemsbok of twee wil sien.” Oom Chris vat sy hoed wat oor sy stoel se rugleuning hang en hou sy arm sodat ouma Anita kan inhaak.

Agter hulle loop Nina met gemengde gevoelens. Dié Ian, hy’s ’n boer in murg en been. Sy, daarenteen, is deur en deur ’n stadsmeisie. Haar salon is haar heiligdom en sy is vasberade om ’n sukses daarvan te maak. Nie alleen is sy dit aan haarself verskuldig nie, maar sy voel dit is niks minder as reg nie dat sy ’n sukses maak van die onderneming wat sy met oupa Dawie se erfgeld begin het. Nee, daar is geen manier wat sy haarself of haar talent ooit op ’n plek soos hierdie … hierdie woestyn sal begrawe nie.

Sy kan nie ontken dat sy Ian aantreklik vind nie, maar om enigsins daarop te reageer sou malligheid wees.

Wat het daardie soene op haar skouers in elk geval beteken? Voel hy bloot jammer vir die arme stadsmeisie wat haar so in die Kalahari-son verbrand het?

Net omdat Ian ongetroud is, beteken dit nie hy is nié in ’n verhouding nie, tob sy. Hy kan selfs tevrede wees om in die bondel te vry, vir al wat sy weet. Hoekom anders sou ’n gevestigde boer van, sy skat hom om en by agt-en-twintig, nog in hierdie eensame wêreld ongetroud wees? Sy is seker hy kan kies en keur tussen die kontrei se meisies.

Hulle stap uit, en Nina trek haar asem diep in. Dit is vir haar ’n welverdiende blaaskans saam met haar ouma. Sy gaan haar nie die hele tyd loop en verknies oor Ian en sy misterieuse liefdeslewe of selfs die algehele gebrek daaraan nie. Wat haar betref, moet hy net nooit ontdek dat hy van haar binneste basaarpoeding maak met daardie donkertjoklitkyke van hom nie.

Pad na Geluk

Подняться наверх