Читать книгу Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen - Страница 4

1

Оглавление

“Jy wil tog nie vir my vertel jy het al die pad van die wildtuin af alleen hierheen gery nie?”

“Nie die wildtuin nie, mevrou …,” begin Dia.

Die eienares van Die Spens plant haar twee besonder stewige arms in haar sye en trek haar asem diep in: “Kyk, kind, enige stad is enige dag gelykstaande aan een standaardwildtuin. Dis soos om losgelaat te word tussen leeus en luiperds en olifante … en … te hol vir jou lewe – om te oorlééf, kind.”

“Volgens die nuusberigte is die platteland deesdae maar net so gevaarlik, mevrou,” kap Dia verontwaardig teë.

Die vrou voor haar verwerdig haar nie eens om daarop te reageer nie en beweeg effe kortasem aan na die volgende onderwerp: “En wat het jy vir padkos gehad?”

Haar frons waarsku Dia voortydig om haar woorde reg te kies: “Ek het ’n pakkie skyfies en koeldrank op die vorige dorpie gekoop.” Is dit hoe al die mense hier gaan wees? Om darem so sonder skroom ondervra te word!

“G’n wonder jy’s so maer nie, kind! Wat van ’n lekker boepensbroodjie saam met die koffie, meisie?” Die vrou mik reeds om ’n bestelling in die rigting van die kombuis uit te roep.

“’n Boepensbroodjie?” kan Dia nie anders as om vlugtig aan die woord te proe nie terwyl sy in haar gedagtes die prentjie van ’n baie vet broodjie optower en byna aan die giggel gaan.

“Ja, kind! Julle stadsmense ken tog seker ook ’n ding soos ’n jaffel? Propvol heerlike mince en groente.”

“O! Ja-nee, ek ken dit goed, mevrou, ek het daarmee grootgeword. Maar ek is régtig nie honger nie.” Toe die vrou haar vreeslik afgehaal aankyk, voeg sy gou by: “Dalk kan ek een wegneem om later vanaand te eet?”

“Ag, waar’s my maniere vandag? Souf, kind. Souf du Preez.” Sy steek ’n pofferhand na Dia uit terwyl sy haar van kop tot toon aandagtig beskou. “Vir julle jongetjies, sommer tant Souf.”

“Dia Malan. Aangename kennis … tant Souf.”

“Jy weet, jy trek nie juis na die Malans wat vroeër jare op Droomkrans gewoon het nie, kind.” Die tante beskou haar steeds deur vernoude oë.

Dia wonder of sy nou haar ID-kaart moet toon voor sy uiteindelik die sleutel vir Droomkrans se huis by die mollige tante sal kry. Net voor sy haar handsak nadertrek, draai die ander vrou om en stap kopskuddend na die kombuis waarvandaan daar die heerlikste koffie- en kosreuke kom. Sy beskou tant Souf se grys hare wat in ’n netjiese grys bollatjie vasgevang is en haar bont rok onder die bande van ’n spierwit voorskoot.

Dia vee ongeduldig oor haar voorkop. Sy wou al op Droomkrans gewees het, maar nou moes sy die sleutel juis by Die Spens kom haal. ’n Onwillige glimlag verdryf haar frons. Blykbaar ken tant Souf nie ’n woord soos “nee” nie. Sy is eenvoudig vriendelik verplig om eers ’n beker koffie saam met haar te drink alvorens sy vort kan gaan.

Sy loer agterdogtig in die rigting van ’n stokou winkelpop wat soos ’n kelnerin aangetrek is. Die belaglike gevoel dat die pop haar met groot groen oë staan en dophou, kan sy nie afskud nie. ’n Koue rilling loop teen haar ruggraat af. Die blonde pruik het duidelik lanklaas ’n was of ’n borsel gesien.

Reg agter die winkelpop is ’n outydse winkelrak met ’n vertoonvenster waarin die grootste kolwyntjies wat Dia al ooit in haar lewe gesien het, met elke denkbare kleur versiersel pryk. Dis moeilik om die vrolike rooi toffieappels, bottels en bottels vol tuisgemaakte lekkers en koekies, skuimpies en stroopblink koeksisters mis te kyk.

Haar oë dwaal na die verskeidenheid koerante wat op die toonbank lê. ’n Regte-egte cowboy town … Tyd is iets wat bloot soggens deur die kraai van ’n haan aangekondig word en ’n datum is net ’n onbenullige syfer op die voorblad van ’n koerant.

Van agter uit die kafee, wat met ’n koffiewinkeltjie gekombineer is, kom die onmiskenbare reuk van ’n vars treksel moerkoffie al sterker aangesweef. Die bonkige, netjies geverfde letters teen die goudgeel muur oorkant Dia kry ware betekenis toe ’n gevoel van behae saam met die koffiereuk binne-in haar kom lê: Geluk word hier gebrou … beker vir beker. Net daaronder staan ’n stewige, volgepakte boekrak en ’n paar gemaklike stoele. ’n Koffietafel met ’n skaakstel van glas staan bo-op ’n Ngunibeesvel.

Dia skuif sodat sy gemakliker op haar stoel sit. Sy was baie optimisties toe sy gedink het sy kan die sleutel net kry en ry. Saam met die aangename koffiereuk kom meteens eienaardige musiek wat geleidelik al harder opklink. Liewe tyd, dít ook nog.

’n Kort, tingerige man, min of meer in die omgewing tussen sestig jaar en droëwors, kom met een of ander snaarinstrument te voorskyn. Skynbaar meegevoer deur die klanke wat hy uit die snare optower, loop hy met ’n veraf uitdrukking deur die koffiewinkel asof sy nie eens hier is nie.

Die lied wil-wil bekend klink, maar Dia is skoon oorweldig deur al die nuwe indrukke om haar.

Wat ’n eienaardige plek is dié Zoetstroom nie!

Zoetstroom … Aha! “Strome van seën”, herinner die dorpie se naam Dia aan die hallelujalied wat haar ma tog altyd so graag gesing het toe sy nog soms naaldwerk gedoen het. Waar’s dié dae? Dia was nog nie eens in die skool nie. Die onverwagse herinnering aan haar ma se lang siekbed wat gevolg het en hulle kwynende verhouding bring die ou hartseer weer terug. Dia sluk. Skielik mis sy haar pa ontsettend baie. Sy wou so graag eers ’n paar dae by hom gaan kuier voordat sy hierheen gekom het, maar hy wat haar so goed ken, sou dadelik geweet het iets is fout.

Met heimwee kyk Dia toe hoe die man na ’n sitplek in die hoek van die winkel mik, nie meer as tien treë van waar sy aandagtig na die gewyde lied sit en luister nie, en ewe plaasneem op ’n voorwerp wat onder ’n helderkleurige, bont, gehekelde kombersie toegegooi is.

Tot Dia se ontsteltenis gee die bedrieglike sitplek onder hom mee. Hy val met ’n hik sodat hy langbeen op die blink gepoleerde houtvloer te lande kom.

Dadelik is sy op haar voete om te red wat daar te redde is, maar die grysaard bly onverstoord sit, toe oë; sy bril haak weens die slag van die val nog net aan die puntjie van sy groterige neus. Steeds bewerk hy die snare behendig tot die lied trillend wegsterf.

Saam met die laaste noot wat stilgeraak het, flikker sy oë weer oop en glimlag hy op in Dia se oë. Hy kom besonder flink op sy voete, sit die musiekinstrument op die naaste tafel neer en stof homself deeglik af.

“Het meneer seergekry?”

Die man skud sy grys kop heen en weer: “Nee wat, dingetjie, daar’s g’n niks wat ’n mens so goed doen soos ’n val nou en dan nie.”

“Ou Petoors! Sal jy nou vandag die stomme waaier vir ’n stoel aansien? Is ook nie meer ’n mooi gesiggie gewoond nie, kind,” maak die tante rooi in die gesig verskoning.

“Ag, Souf, ontspan tog net jou geknoopte spiere.” Hy draai om en pluk die kombers met ’n ietwat teatrale gebaar van die waaier af asof hy op die punt is om die asemrowende resultaat van een of ander kulkunsie te onthul. “Sie’ jy nou? Die ding is nog steeds in een stuk.”

“Ja, toe!” kom dit hard terwyl die tante die skinkbord met ’n skel oranje warmbottel, vrolik geblomde beker, ’n emaljesuikerpot en ’n melkbekertjie voor Dia neersit.

Verlig sak sy terug op die kiertsregop stoel. Sy weet nie mooi of sy aan die gesprek moet deelneem of eerder veilig op die kantlyn moet bly nie. Sy is werklik besorg oor die man se val. Op sy ouderdom …

Maar voor sy haar verder oor hom of sy val kan verknies, raap hy die instrument al weer op en kom plak homself ongenooid teenoor haar neer. “Souf weet te vertelle jy is glo die nuwe meisie van Droomkrans?” Sy grys oë blink openlik nuuskierig.

“Dis reg, meneer …” begin sy en knik haar dankie vir tant Souf wat ’n beker koffie vir haar vanuit die termosfles skink.

“Kyk, dingetjie, verstaan nou vir oom mooi ve’dag: Hier op Zoetstroom bly g’n sulke vreemde goeters soos menere en mevrouens nie. En hier is maar net ’n handjievol juffrouens … by die skool, sien. Die enigste siele met wafferse titels vooraan hulle name, is dokter Gresse en dominee Van Zyl.”

Dia knik en teken ’n voorneme in haar gedagtes aan om ander mense wat sy op Zoetstroom en in die omgewing teëkom, liefs nie op ’n té formele wyse aan te spreek nie, tensy dit werklik nodig is.

Die man steek sy benerige, vereelte hand na haar toe uit. “Piet Petoors, bly te kenne, dingetjie.”

Sy weglêsnor herinner Dia aan twee vlerke wat al wyer uitsprei toe hy breed glimlag. “Of sommer net Petoors.”

“Moet jy jou nou weer kom staan en stuitig hou met die arme kind, ou Petoors?” wil tant Souf skuins duskant vies weet terwyl sy vir haar en die oom ook koffie skink. “Kan jy nie sien sy is dekádes der dekades jonger as jy nie?”

Oom Petoors snuif verontwaardig en ignoreer tant Souf se vermanende blik. “Wat dink jy van my lier, dingetjie?”

“’Skuus? Oom se watseding?” Dan fokus sy op die musiekinstrument voor hom op die tafel. “O, dis ’n baie mooi instrument, oom,” glimlag sy omdat sy besef hy vis eintlik vir ’n kompliment oor sy vaardige hantering daarvan. “En die lied was pragtig. Het sommer weer ou herinneringe opgeroep.”

“Nee, maar die kind het goeie smaak, die’s nou maar klaar.” Hy trek sy skouers bietjie meer agteroor en gee die suikerpot vir Dia aan. “So, dan is jy eigentlik hier om die opstal se sleutel te kom haal?”

“Dis reg, oom.” Dia kyk op in sy verkreukelde gesig: “My pa het my laas week laat weet dat ek dit van ’n verlangse familielid geërf het. Die prokureur hier van Zoetstroom het glo nie dadelik geweet waar om my op te spoor nie, daarom dat ek nou eers hier aankom.”

“Maar wat sal ’n moderne stadsnooientjie soos jy nou hier in die boendoes kom maak, kind?”

“Dit sal die tyd maar moet leer, oom. Ek voel nogal oorweldig deur die besef dat ek nou die eienares van ’n hele plaas is, maar dan weer …” Dia bly skielik stil. Dit was op die punt van haar tong om te erken dat die nuus van Droomkrans wat nou hare is, nie op ’n meer geleë tyd kon gekom het nie.

“’n Plot, dingetjie, nie ’n pláás nie.” Oom Petoors se hoeslaggie laat haar vermoed dat hy dalk ’n ou roker is.

“Is daar dan enige verskil tussen die twee, oom?” Sy leun belangstellend vooroor en vat ’n slukkie van die aromatiese koffie.

“Ag, my liewe aarde tog, my dierbaarste mensie, ek sien jy’t nog baie om te leer van die platteland se dinge. Maar sê eers vir oom, wat doen jy nou eigentlik vir ’n lewe?” Die frons raak tussen die oom se menige plooie weg, maar Dia sien tog die opreg besorgde uitdrukking in sy oë raak.

“Ek het ’n kunswinkel in Pretoria, oom. Toe ek die nuus van die erflating kry, het ek besluit om dit voorlopig aan ’n kennis te verhuur.” Dia besluit terselfdertyd om vir eers suinig te wees met persoonlike inligting. Mens weet nooit. “Ek moet seker eers kyk of ek darem op die been kom hier, oom verstaan?”

“Ja, nooi, van op die been kom, weet ek nou nie eigentlik nie,” sug hy uitgerek terwyl hy betekenisvol afkyk na haar fyn enkels in die rooi hoëhakskoene, “maar jy sal mooi prentjies van Droomkrans kan teken, kind.” ’n Veraf uitdrukking verskyn in sy oë en hy draai sy snor se punte ingedagte om en om.

“Slaat … my … dood, ’n kúnstenaar!” Tant Souf se lewendige oë is duidelik verstom terwyl sy Dia nog ’n keer aandagtig beskou.

Dia help haarself verleë aan ’n tweede beker koffie. Waarom op dees aarde sal die feit dat sy ’n kunstenaar is van soveel betekenis vir tant Souf wees?

Oom Petoors gee tant Souf ’n kwaai kyk en skraap sy keel. “Jy weet natuurlik dat jy nie allenig op Droomkrans gaan loop bly nie, kindjie?”

Tas Zoetstroom se vars lug nou haar verbeelding aan of verander oom Petoors die onderwerp doelbewus?

“Nee, dis die eerste woord wat ek daarvan hoor. Weet oom dalk wie nog daar woon?” Onsekerheid knaag meteens met lang tande aan Dia. Sy moes baie beter navraag gedoen het oor dié Droomkrans wat skielik so wonderbaarlik in haar skoot geval het. Sê nou sy sit in ’n bouvallige plaashuisie met ’n ongewenste huismaat opgeskeep? Is daar ooit elektrisiteit? Wat het haar besiel om sommerso goedsmoeds alles te pak en in die pad te val?

“Kind, jy kyk nou na een van hulle.” Oom Petoors lyk baie vergenoeg oor sy aankondiging.

Dia stik ligweg in haar koffie.

“Oom bedoel …?” Haar moed daal vinniger as die rand tot in haar elegante hoëhakskoene. Tog net nie hierdie betreklik praatsieke en daarby ook nog bemoeisieke omie hier voor haar nie. Sy trek haar hand deur die rooibruin kuif wat oor haar een oog wil-wil val en lig haar ken. “Is dit nou ’n permanente reëling, men … oom?”

“Is dit dan ’n probleem vir jou, dingetjie?”

Die onseker uitdrukking op sy gesig wat met iets soos skok gepaardgaan, laat Dia vir eers nie toe om haar mond verder oor die saak uit te spoel nie. “Ek skat seker nie so nie …” Sy draai beide haar handpalms na bo om aan te dui dat dit nie ’n onoorbrugbare probleem gaan wees nie.

“Dan’s dit goed so, dingetjie, want ek en Jans, Han en Jakob sal sowaar nie herwaarts of derwaarts weet as jy ons nie daar wil hê nie.”

“Is hulle almal … nóg mense?” Sy besef vaagweg haar mond, wat sy in die motor met aarbeirooi lipstiffie opgeknap het, hang letterlik oop van verbasing, maar op hierdie oomblik kan dit haar nie in die minste skeel nie.

Tant Souf trek ook nou ’n stoel uit om plaas te neem.

Dia kyk verslae, maar hoopvol na die tante asof sy vir haar sal sê dis alles net ’n grap. Maar die tante se oë flikker lewendig, wagtend op haar reaksie. Al wat tant Souf nog kortkom, is ’n groot houer springmielies.

“Ja, mensie, hoe dan anders? Dis Jans en Han, kind. Moet dit tog nie waag om vir die man Hans te sê nie, gehoor?” Oom Petoors sluk ’n paar slukke koffie weg asof hy versterking nodig het voor hy die nuus aan haar oordra.

Dia volg sy voorbeeld.

“Die saak staan eigentlik só: Die plek het lank leeg gestaan na Siskatjie … weg is. Blykbaar het Quinten, die prokureur, na die erfgenaam … na jóú begin gesoek. Intussen brand my ou huisie net hier buite die dorp toe mos af terwyl ek hier was en Quinten sê toe, ag, seg hy vir my, wil ék dan nie maar eers na die plek omsien tot tyd en wyl die regmatige eienaar opgespoor is nie.” Oom Petoors maak sy beker leeg.

“En op ’n dag toe kry dié ou sening mos vir Jans jammer,” beduie tant Souf met haar oë in oom Petoors se rigting. “Die arme kind het pas hier aangeland, skoon verwese toe hy onse Zoetstroom tref. Nog maar nat agter ’ie ore, maar darem klaar gekwalifiseer as onderwyser.” Tant Souf geniet dit duidelik om die storie te help vertel terwyl haar hande die heeltyd saam gesels. “Ons help soek toe vir die mannetjie losies, maar al wat ’n gat is, is klaar vol en ons kan tog ‘ie die arme kind op straat sien sit nie. Dis toe dat ou Petoors oorstap na Quinten toe. En dis ook nie hoe lank nie, of meneertjie skrop ook ‘vir eers’ nes op Droomkrans.” Tant Souf beduie met haar vingers dat alles eintlik net tydelike reëlings is.

Verwese knik Dia haar kop om aan te dui dat sy darem nog inneem wat gesê word. Haar moderne kort haarstyl wip liggies saam met dié aksie. “En die ander persoon?” Sy is byna te bang om te vra. “Han …?”

“Ag, moet jou tog nie aan Han steur nie, hartjie,” kom dit skielik hopeloos bondig van tant Souf. Té bondig.

“Maar hoe dan nou, tante? Hy woon tog ook daar?” wil sy verbaas weet toe die vrou haar mond op ’n tuit trek asof sy haar met veel moeite in toom hou om nie verder iets oor die derde inwoner van Droomkrans te rep nie, blykbaar nóg ’n man.

Dia kyk vraend van die tante na die oom, wat skielik na buite tuur en hardop wonder of die enkele piepklein wolkie wat in sig is altemit reën gaan bring.

’n Jong meisie met dromerige oë en ’n mooi glimlag sit twee van Die Spens se boepensbroodjies voor Dia neer en verdwyn weer net so stil soos sy gekom het.

Ingedagte haal Dia ’n broodjie uit die papiersakkie en vat ’n reusehap daarvan. Eers toe sy met ’n mond vol kokend warm maalvleis sit, rek haar oë byna tot dubbeld hulle normale grootte. Sy hou haar hand voor haar oop mond en hoop dat dit vinnig genoeg sal afkoel om te sluk.

“Ag,” gaan oom Petoors duidelik onwillig voort, aangesien tant Souf steeds soos ’n steeks donkie swyg, “Han is maar ’n bietjie … anders, dingetjie. Hoe sal ek nou sê? ’n Soort befoeterdheid wat mens nie aldag agter élke bos uitskop nie, jy weet? Wil nie eigentlik met ons ander meng nie. Hou hom maar eenkanterig.”

“Nou hoe op aarde het dié befoeterde mansmens hom by die opstal ingewurm, oom?” dring Dia nietemin oorbluf aan. In haar gedagtes vorm sy ’n prentjie van haar en drie mans onder dieselfde dak op ’n onbekende plot. Sy, wat die geleentheid met beide hande aangegryp het om uit die stad weg te kom; oom Petoors, skynbaar bemoei- én praatsiek; Jans, jonk en moontlik nog … jeukerig daarby, self seker verwese weens die kultuurskok van stad na platteland, so stel sy hóm voor; en laastens, die ene Han – befoeterd, al is hy ook self van iemand anders se goedgunstigheid afhanklik.

“Nee, dingetjie, ingewurm het hy hom darem nou nie juis nie,” onderbreek die oom haar dwalende gedagtes. Die oë agter oom Petoors se brillense bly soekend na hulp êrens teen die dak terwyl hy skynbaar sy verduideliking probeer formuleer. Meteens is hy glad nie meer so praatsiek soos ’n paar oomblikke gelede nie. “Hy was eigentlik vóór my en Jans al daar. Hy weet te vertel dat hy ’n getekende dokument van Siskatjie in sy besit het om te bewys dat hy lewensreg het op Droomkrans.”

Droomkrans se engelman

Подняться наверх