Читать книгу Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen - Страница 6

3

Оглавление

Dia herken die diep stem en knyp haar oë styf toe. Al is hy nie in haar gesigsveld nie, hoor sy sommer duidelik daar haak weer ’n skewe glimlag moeiteloos om sy gevoelige …

Nee, Dia, néé!

Han se groot hande vat haar onseremonieel alkante van haar middellyf vas en hy sit haar, steeds smagtend na vars lug, versigtig op haar voete neer asof sy niks meer as ’n kaggelornament weeg nie.

Nou minder as ’n armlengte van hom af, kom sy agter sy staan windskeef met net die regterkantse skoen nog aan haar voet. Sy gluur hom aan, buk en pluk die skoen uit en gooi dit by die oop deur van haar motortjie in. Kan hy nie net sy neus uit haar sake hou nie? Sy marsjeer om die agterkant van die motor om die ander skoen te soek.

“Nogal rooi, nè?” Dia wens vurig sy kan op die oomblik sy mond met ’n gepaste opmerking snoer, maar alle pittighede ontwyk haar momenteel. Dan glip wat sy liewer nié wou sê nie gladweg oor haar lippe: “Jy glo tog nie nog in dáárdie ouvroustorie nie, meneer Solo?”

“Solo?” Daar keep ’n geamuseerde frons tussen sy oë.

“Han Solo! Dis nou ás die mense op Zoetwater al ooit van so ’n karakter gehoor het.”

Lagplooitjies vorm om Han se oë en helder sy gesig op toe hy haar verwysing na die Star Wars-karakter snap: “Zoetstroom, juffrou.” Hy kug agter sy hand. “Ouvroustories, sê jy?” Sy glimlag verbreed. “Ek kon vandag eerstehands sien dat die ouvroustorie oor rooi skoene aan ’n dame se voete nie die waarheid is nie.”

Dia staar ’n paar oomblikke woordeloos na hom, na sy hoekige ken met die duikie in. Dan snap sy tot haar verleentheid … Hy het heelwat meer gesien as waarop sy enigsins trots is. Vererg klim sy kaalvoet terug in die motor. Sy trek so vinnig weg dat die motor se bande in die los sand tol.

Laat sy tog net van die man af wegkom.

Skuldig loer sy in die truspieëltjie.

Han staan ’n rukkie roerloos in ’n digte stofwolk voor hy sy swart perd met die grootste gemak bestyg. Toe sy etlike sekondes later eers weer voor haar kyk, besef sy dat die smal tweespoorpaadjie al haar aandag gaan verg en pluk die stuurwiel gou na regs.

Met ’n gestamp en ’n gewip is sy terug in die pad.

Sy verwonder haar aan die skilderagtige toneel van die groot wit opstal wat teen die voet van ’n enkele groot heuwel pryk. Dankie tog, dis toe glad nie ’n bouvallige gehuggie nie. Die son steek nog net-net bokant die heuwel uit sodat dit ’n ongelooflike mooi toneel maak.

Sy neem haar voor om dit vanuit hierdie hoek te kom skilder sodra sy nesgeskop het.

Kan dit regtig waar wees dat hierdie pragtige plek nou hare is? Sy hou voor die motorhuis stil en vat die winkelsakke, haar handsak en toiletsakkie van die voorste sitplek af. Kaalvoet begin sy aanstap oor die hobbelrige klippaadjie wat na die ruim stoep en groot voordeur lei.

Toe sy voor die toe deur met kunstige houtsneewerk van ’n kameeldoringboom daarop staan, onthou sy vies dat sy die sleutels in die slot by die hek vergeet het.

Vererg stamp sy haar voet.

Uit die potplant agter haar rug, kom ’n skel gekekkel.

Dia sit die pakkies neer en stel baie versigtig ondersoek in na die oorsprong daarvan. Tussen die blare van die geil rooi malva sit ’n kapokhen en broei. Toe Dia die blare wegtrek, pof sy haar vere op en word die gekekkel as waarskuwing luid herhaal.

Dia laat sak die blare glimlaggend.

Om die hoek van die huis kom ’n groot gemmerkat lui-lui aangestap en skuur teen Dia se bene. Haar glimlag raak al breër. Sy voel sowaar klaar welkom op Droomkrans, ondanks Han.

Sy streel die kat se rug wat op sy beurt spin van genot. “En wie’s jy?” Dis duidelik dat die kat baie van die aandag hou. Siska … die arme dier moes seker aan haar behoort het. Sou oom Petoors of … wat’s sy naam nou weer … Jan? Nee, Jans! Sou hulle dalk vir die kat sorg?

Die geluid van perdepote wat naderkom, laat Dia haar voet ’n tweede keer stamp sodat die hen opvlieg en verwoed aan die kekkel gaan. Natuurlik sal Han die geleentheid nie laat verbygaan om haar onverantwoordelikheid om die sleutel in die slot te los onder haar neus te kom vryf nie.

Sy regop gestalte op dié van die spogperd is indrukwekkend, ondanks al haar negatiewe gedagtes oor hom. Hier is beslis oorgenoeg inspirasie op Droomkrans vir nuwe skilderye. Meer as wat sy ooit kon droom.

Sy skud haar kop by die gedagte. Vir Han sal sy nie skilder solank sy lewe nie.

Hy glip van die hings se rug af en stap nader, die bos sleutels swaaiend aan sy wysvinger, nogal sonder ’n vermaning. Hy sluit die deur oop, stap terug na haar motor en begin ongevraagd die bagasie aflaai.

Uiteindelik word die kapokkie se skril stemmetjie stil.

Dia voel of sy weer normaal kan dink. Sy kan nie net hier staan nie, laat sy minstens van die goed in haar hande ontslae raak voor sy hom probéér keer. ’n Paar keer skarrel sy heen en weer. Sy maak seker sy dra die twee sakke met melk een op ’n slag kombuis toe en stal alles dan in ’n ry op die tafel uit. Dáár. Laat hy gerus sien wat sy van sy goeie raad dink. Gmf!

Toe hy self nog ’n keer met arms en hande vol pakkies by die kombuis instap, bars hy hardop uit van die lag sodat haar binnegoed skoon deurmekaar en onderstebo rondtuimel.

Dia, wat stadig omgedraai en probeer vasstel het waar op die betreklik leë kombuiskaste alles gebêre kan word, is verbaas om te sien hoe Han se hele gelaat verander, hoe hy skielik selfs nog aantrekliker lyk wanneer hy lag.

“Wat is miskien so snaaks?” Die kortaf vraag herstel glad nie die chaos wat hy binne-in haar veroorsaak soos sy vurig gehoop het nie.

Han se lag droog summier op sodat sy afwagtend en skielik onseker op haar onderlip byt. Hy verminder die afstand tussen hulle met enkele groot treë, sy oë skiet skielik klein geelgroen vlammetjies in hare.

“Juffrou Malan, as jy jou soos ’n kind wil gedra, moet asseblief nie toelaat dat ek in jou pad staan nie.” Hy vat haar ken liggies tussen sy duim en wysvinger vas sodat ’n rilling teen haar ruggraat afgly en hoendervleis oor haar arms uitslaan.

Hy is so naby, sy kan elke afsonderlike donker ooghaar sien wat sy oë omraam.

Op ’n laer stemtoon gaan hy voort: “Maar as jy te hardkoppig is om goedbedoelde raad aan te neem, gaan dit my bloot langer neem om jou hier rond touwys te maak.”

Dia bly staan êrens tussen skuins kwaad en verleë, terwyl Han sonder ’n verdere woord by die kombuisdeur uitstap. Die perdepote klink al verder tot sy hulle nie meer hoor nie. Die gemmerkat kom skuur miaauend teen haar bene.

Eers dan kom sy in beweging.

“Jy het maar net gekry waarna jy gesoek het, Dia.” Sy skud haar kop. Dalk is nóú ’n baie goeie tyd om sommer haar gewoonte ook te laat staan om so met haarself te praat. Die heuwel langs die huis kan haar maar bedek as hy ooit hoor wat alles deur haar gedagtes gegaan het sedert sy op Zoetstroom en Droomkrans beland het.

Vlugtig soek sy na iets om vir die kat te gee. Nie een van die leë koskaste lewer katkos op nie en sy trek een van die boksies melk nader asof dit ’n ton weeg. ’n Poedingbakkie met ’n getjipte randjie bo uit ’n kas sal maar moet diens doen.

Sy skink dit vol en sit dit langs die wasbak neer.

Voor sy die enkele inkopies kan wegpak, val dit haar by dat daar nog ’n hele paar goed in die motor is en stap sy heen en weer tot alles in die kombuis rondstaan. Sy gaan trek die Mini in die motorhuis en stap terug huis toe.

Die kat se melkbakkie is leeg en hy kyk met groot, hoopvolle groen oë op na Dia.

Han se oë is byna presies dieselfde skakering. Deksels! Sal alles haar nou skielik herinner aan hom aan wie sy reeds die minste wil dink?

Tot die kat se genot, word die bakkie hervul. Terwyl sy heen en weer skarrel om bêreplekke vir haar kombuisware te kry, sien sy hoe hy nog ’n keer die bakkie ledig en hom dan baie tevrede begin skoonlek.

In die ruim oostelike vleuel van die huis staan Dia terug om die deurmekaarspul van goed wat sy in die middel van die hoofslaapkamer se vloer neergeplak het, in oënskou te neem. Die chaos wat steeds kort-kort binne-in haar na bo kolk soos die warrelwind wat sy op Zoetstroom gesien het, kry sy egter net met groot moeite onderdruk. Sy draai na die glasdeur. Dit behoort soggens vir ’n lieflike uitsig te sorg wanneer die son se eerste strale oor die veld opkom.

Na ’n bietjie speurwerk kon sy vasstel dat oom Petoors en die steeds gesiglose Jans in die westelike vleuel se onderste punt woon. Koulik soos wat sy is, weet sy dit sal nie wys wees om by een van die twee oop kamers daar in te trek nie. Daar sal geen sonlig in die namiddag wees nie en in die winter sal dit saans yskoud wees omdat dit in die skadukant van die heuwel gebou is.

Oom Petoors se kamer is sonder twyfel die een wat die deurmekaarste is met die gereedskapkas argeloos in die middel van die vloer. ’n Botteltjie hoesmedisyne, ’n tang, ’n stukkie draad, vier skroewe en ’n hand vol spykers van verskillende lengtes op sy reeds oorvol bedkassie verklap verder dat hy daar slaap.

Jans s’n is veel ordeliker, met ’n boekrak teen die een muur en ’n lessenaar en rekenaar teen die ander een. ’n Gemakstoel voor die groot plasmaskerm met talle Playstation-speletjies, DVD’s, CD’s, asook ’n klankstelsel wat seker tot by die hek gehoor sal kan word, dui verder daarop dat dit beslis ’n jong man se kamer is.

’n Vertrekkie langs oom Petoors se kamer staan byna vol groot batterye. Waarvoor op aarde dit daar is, sal sy maar later probeer uitvind.

Sy het haar terstond na die oostelike vleuel gehaas en ’n lieflike kamer aangetref waarin al haar besittings nou rondstaan en wag om georden te word.

Moeg en moedeloos, gaan sit Dia in die middel van die kamervloer. Die dag se indrukke laat hulle nie so maklik afskud nie. Die lang, eensame rit vanaf Pretoria, Die Spens se mense en … Han.

Hom kan sy beswaarlik in dieselfde asem as die ander noem. Wat moet sy van sy ongevraagde hulp dink, na die afsydige beeld wat tant Souf en veral oom Petoors van hom geskets het?

Is sy hulp toevallig? Of is dit blote beleefde buurmanskap wat mettertyd sal verflou na ’n kopknik hier en daar?

En wat wás dit wat daar in die kombuis met haar gebeur het toe hy aan haar geraak het? Die byna fisiek voelbare pyltjies wat sy hele liggaam na hare toe oorgeskiet het toe hy so na aan haar gaan staan het? Sy het nie geweet so iets is eens moontlik nie. Voor sy dit vroeër vandag self ervaar het, sou sy gedink het dis iets wat skrywers van liriese liefdesverhale aan hul lesers probeer opdis.

Allesbehalwe! Selfs wanneer sy nou weer daaraan terugdink, is die intensiteit daarvan byna onuithoudbaar.

“O verfdeksels!” Sê nou maar hy het dit ook gevoel?

Haar uitroep laat dwaal haar aandag vir ’n paar sekondes na haar vriendin Nadia en die dag toe hulle in Dia se kunswinkel ontmoet het.

“Verfdeksels!” is Nadia se gunsteling-sêding wanneer sy verbaas of vies is. Dia mis haar, maar sien nog nie kans om weer kontak te maak nie.

Sy blaas haar kuif uit haar oë en fokus doelbewus op die wanorde rondom haar. Waar sal sy tog begin om orde te skep?

Die groot hemelbed is iets waarvoor sy vir dié Siska van wie sy nog net gehoor het, oneindig dankbaar is. Nie alleen is dit iets wat sy nog altyd begeer het nie, dit verseker ook hierdie moeë liggaam van haar van ’n heerlike, salige nagrus.

Vir ’n oomblik lê sy terug teen haar kopkussing wat ook tydelik op die vloer neergeplak is. Sy maak haar oë toe en sukkel om Han se tergende en dan weer ernstige oë uit haar geheue te probeer wis. Het sy nou meteens hier op Droomkrans in ’n bakvissie ontaard, of wat? Elke klein herinnering aan Han, van die oomblik wat sy hom die eerste maal in Die Spens se deur gesien het, by die hek tot in die kombuis, loop soos louwarm heuning deur haar sterkste skanse.

Gedagtes koggel, skiet klein vlammetjies van ongeduld, lag en terg haar onwillekeurig.

Dia vlieg vinniger orent as wat sy gaan sit het en kom rats op haar voete. Sy het wel vele kilometers afgelê om hier te kom, maar die vet weet, sy sal nie vanaand in hierdie chaos tot ruste kan kom nie. Wat sy met die deurmekaarspul binne-in haar gemoed gaan maak, is ’n heel ander saak, maar sy moet dadelik iets doen om die kamer woonbaar te kry.

’n Geskarrel om elke item wat sy saamgepiekel het min of meer te kry waar dit hoort, hou Dia vir die volgende uur en ’n half druk besig. Toe sy haar laaste T-hemp opvou en in die outydse hangkas wegpak, sug sy van verligting en bêre die leë tas voorlopig bo-op die hangkas.

“Jy’t sowaar klaar uitgepak, dingetjie!” Oom Petoors se rasperstem agter haar laat haar verskrik om tol.

“Byna klaar, oom. Ek het nie oom se motor hoor kom nie.” Dia is effe kortasem van die skrik. Sy moet nog gewoond raak daaraan dat sy saam met iemand anders onder een dak woon. Altans, saam met twéé ander mansmense, en moontlik ook nog ’n inmengerige buurman op die koop toe.

“Sal ook nie, dingetjie. Ek en my ou dikwielfiets is só.” Hy beduie met sy wysvinger en middelvinger styf teen mekaar hoe goed die verhouding tussen hom en sy ysterperd is.

“Maggies, oom, dis mos ’n hele entjie se trap tot hier.” Dia kan nie anders as om die oom te bewonder nie. Gelukkig het haar mond nie weer vir haar brein weggehol en iets oor sy ouderdom kwytgeraak nie.

“Is so, dingetjie, is so, maar dit hou my perdfris en gesond. Net ’n ligte ou rokershoesie, verder nie ’n kwaal van ’n dag oud nie.” Hy staan regop om aan te toon dat hy in ’n baie goeie kondisie is. “Nou da’ stap ek maar gou kraal se kant toe om te sien of Jakob klaar gemelk het.” Met sy hand in ’n groetgebaar gelig, verdwyn die oom in die lang gang wat na die kombuis, die woonarea en die westelike slaapkamers lei.

Dia stap by die ruim aangrensende badkamer in en verlustig haar opnuut aan die skakerings van pers en geel waarin die mure, muur- en vloerteëls pragtig harmonieer.

Selfs al kon sy, sou sy niks hiervan verander nie.

Die flouerige straal water laat haar wenkbroue lig. Dan keer sy twee proppe van die dennegeur-badskuim daarin om totdat die skuimbolle geleidelik al kwistiger word. Met haar rok halfpad oor haar kop, val dit haar by hoe oom Petoors homself flus by haar oop kamerdeur ingenooi het en draf sy terug om die sleutel aan die binnekant van die kamerdeur te draai.

Terug in die badkamer stroop sy die stowwerige klere van ’n baie moeë liggaam af en gly vergenoeg in die diep, strelende badwater in sodat net haar kop uitsteek. Stadig maar seker sypel die dag se vermoeienis weg, terwyl sy etlike minute lank in die besonder groot pootjiesbad lê en week totdat sy heeltemal ontspanne is.

In die verte hoor sy ’n perd galop, verbeel sy haar, wat ongevraag die beeld van die forse Han op die swart hings se rug oproep.

Sy spring summier orent asof sy skielik op ’n nes rooimiere te lande gekom het.

Dia wik en weeg of sy nagklere of gemaklike klere moet aantrek, bewus daarvan dat sy honger is en moontlik een of albei van haar huismaats êrens in die huis kan raakloop wanneer sy iets te ete gaan haal.

Sy besluit om ’n denimkortbroek en swart T-hemp aan te trek. In die vollengtespieël beskou sy haarself terwyl sy haar kort hare gou kam. Haar welgevormde bene is tog darem nie ’n skande nie, al wys heelwat meer as wat die minirok kon.

Ligte ergernis gemeng met ’n aweregse tevredenheid spoel deur haar. Wie weet, dalk loop sy weer vir Han raak. En laat hy nou net iets oor die kortbroek sê …

Dia dink vlugtig aan haar pa se bekommerde stem toe hy haar telefonies omtrent die erflating ingelig het. Sy raad aan haar was om die dokumente by die prokureur op Zoetstroom te gaan teken en die plek sonder enige versuim in die mark te sit.

Oudergewoonte hardkoppig, het sy egter besluit om vir ’n proeftydperk haar intrek op Droomkrans te neem voordat sy enige oorhaastige besluite neem.

In die spieël vang haar oog die stapel kunstoerusting in die hoek van die kamer wat sy saamgepiekel het. Nee, regtig, môre is nog ’n dag. Dan sal sy besluit watter vertrek die geskikste sal wees vir ’n ateljee.

Deur die koepelvormige kamervenster waarvan die gordyne op ’n skreef oopgetrek is, sien Dia dat dit reeds donker is en ’n flentertjie maan en sterre helder skyn. Sy kan nie onthou wanneer laas sy so iets aanskou het nie.

Hoeveel aande het sy nie al by haar woonstelvenster uitgestaar om net weer ’n slag ’n stukkie naghemel te bewonder soos in haar kinderdae nie. ’n Oomblik oorweeg sy dit om ’n rukkie op die stoep te gaan sit, maar haar maag begin protes aanteken en sy besluit om sommer kaalvoet kombuis toe te loop.

Die donker gang voel ekstra lank en spookagtig in die flou strale van die maanlig wat slegs hier en daar by ’n oop deur tot in die gang skyn, maar sy besef dis net omdat die plek nog vreemd vir haar is.

Sy het nog nie vasgestel waar om die gang se ligte aan te skakel nie en stap die laaste entjie voel-voel tot by die draai na die kombuis.

Minstens is dié maklik om in die donker uit te ken, siende dat dit slegs ’n boogvormige ingang is sonder ’n deur. Effe gedisoriënteerd, skuifel sy versigtig met uitgestrekte arms vorentoe om seker te maak dat sy nie per ongeluk in ’n kas, stoel of die tafel vasloop nie.

’n Geskokte gil weergalm onverwags toe die punte van haar vingers aan iets harigs raak …

“Whaaa!”

’n Méns se hare, korrigeer haar gedagtes onmiddellik.

Droomkrans se engelman

Подняться наверх