Читать книгу Droomkrans se engelman - Moryn Hanzen - Страница 5

2

Оглавление

Lewensreg! Dia trek haar asem skerp in. Hoekom weet sy niks daarvan nie? “Ek het darem seker ’n sê in die saak?”

“Dit wil so voorkom, my ou kindjie, maar Quinten het gesê ons moet Han maar net met rus en vrede laat. Nie te veel aan hom loop staan en karring nie,” kom dit byna verskonend van onder sy snor.

“Ek sal onthou om die saak met die prokureur te bespreek wanneer ek die dokumente gaan teken,” maak Dia ’n punt daarvan om te wys dat sy haar darem kan laat geld wanneer dit nodig is. Die situasie met oom Piet Petoors en Jans Watsenaam is al klaar ’n onverwagse tameletjie, wat nog te sê daarvan om ’n befoeterde mansmens ook onder jou dak te hê.

En hier het sy byna honderde kilometers met sterre in die oë gery oor ’n afgeleë, stil plekkie van haar eie.

“Hy sal jou nie pla of in die pad wees as jy hóm nie hinder nie, dingetjie,” probeer oom Petoors troos. “Ons sien hom ook net wanneer hy gesien wil word. Ander tye skiet hy wortel voor sy rekenaar en wee die siel wat hom dán gaan hinder. Is glo druk besig met navorsing, as mens nou waarde wil heg aan een van Zoetstroom se gunsteling-bostelegramme. Waaroor kan g’n lewende siel ongelukkig sê nie.”

“Wel, hy moet tog seker die kombuis en badkamer gebruik, of hoe, oom?” Dia besef die vraag neig tot sarkasme, maar sy kan haarself eenvoudig nie keer nie. Dis darem ’n bietjie te veel gevra dat sy saam met nie minder nie as drie wildvreemde mans onder een dak gaan intrek. En dit terwyl die plek háár regmatige eiendom is.

“Ek sou so reken, maar darem mos nie die opstal s’n nie.”

Dia se gedagtes wil-wil ’n onopgevoede grotbewoner optower wat hom glad nie aan ’n huis se … geriewe steur nie, maar oom Petoors kleur die prentjie meer volledig in. “Hy woon mos in die hut, doer anderkant, tussen die hoge bome.”

Vir etlike sekondes is al die wind uit Dia se binneband. Hier sit en vererg sy haar bloedig vir ’n man wat op hoorsê befoeterd is, wat nie eens saam met haar onder een dak gaan woon nie.

Sy bars uit van die lag, baie na aan ligte histerie oor die onmoontlike situasie wat sy op Droomkrans te wagte is: “Regtig?” snik-lag sy terwyl oom Petoors en tant Souf mekaar eers verslae aankyk voordat hulle ook een na die ander saam met haar begin lag. Meteens het hul gelag nie brieke nie sodat die trane naderhand loop.

Die lang gestalte van ’n besonders breedgeskouerde man vul die koffiewinkeldeur. Dia probeer herhaaldelik om haar lag te sluk terwyl hy fronsend na hulle luister asof dit die aakligste geluid is wat hy nog ooit gehoor het. Hy mik om weer uit te stap, maar die jong meisie wat ’n paar minute gelede die broodjies gebring het, stap hom met ’n breë glimlag tegemoet.

Dia grawe in haar handsak op soek na ’n sneesdoekie om die skade te probeer afvee wat sy vermoed haar loperige maskara gedoen het. Dit klink of die meisie vir hom vra of hy sy bestelling kom haal het.

Tant Souf se lag droog onmiddellik op toe sy van die stroewe man se teenwoordigheid bewus word. Met ’n tuitmond por sy oom Petoors dringend aan om ook te bedaar. Toe die oom sy oë opslaan na die lang gestalte, trek sy mond op ’n ernstige plooi. Sy welige snor het abrup ophou vlieg terwyl hy net effens in die rigting van die man met die donkerblonde hare en stoppelbaard knik.

“Dis nou hy, kind! Hán.” Die tante fluister-praat so hard dat Dia verbaas wonder hoekom sy hulle nie maar liewer net aan mekaar voorstel en klaarkry nie. Sy is blykbaar een van daardie mense wat eenvoudig nie sag kan praat om haar lewe te red nie.

Blykbaar het Dia op ’n onverklaarbare wyse onsigbaar geraak, want die man ignoreer haar asof sy glad nie saam met oom Petoors en tant Souf aan tafel is nie. Hy stap na die toonbank om te betaal. Haar oë volg sy gestalte met veel meer belangstelling as wat sy wil toegee. Dis asof sy blote teenwoordigheid alle ander dinge meteens tot stilstand gebring het.

Van sy effense deurmekaar hare tot by die punte van sy stowwerige stewels – sy skat minstens nommer twaalf – straal hy … iets uit. Dia voel hoe haar wange warm word. Van wanneer af staar sy nogal na vreemde mans? Haar oë volg die tydsame beweging van die breërandhoed in sy regterhand wat teen sy bobeen tik-tik.

Heelwat teësinnig om enigiets aangaande die nors man te bewonder, moet sy erken dat, in die stad waar dit krioel van metromanne, stadsjapies en viertrekmanne, sy nog nooit iemand met ’n indrukwekkender gestalte as dié van die sogenaamde befoeterde Han gesien het nie – deurmekaar hare, stowwerige skoene en al! Sy verwens haarself as sy ’n paar oomblikke te lank na sy netjiese agterstewe in die verweerde blou jeans staar en skud haar kop liggies asof sy die beeld daarvan só dadelik sal kan uitwis.

Dia draai doelbewus terug na oom Petoors en hulle raak soos twee uitgelese meteoroloë aan die gesels oor Zoetstroom se reënvalsyfer en klimaat. Sy sien hoe die oom se oë kort-kort na die toonbank dwaal terwyl daar ’n ontevrede trek om sy mond rem. Sy snor se punte sak al hoe laer af toe die meisie agter die toonbank ’n fluistergesprek met Han aanknoop.

Oom Petoors se betekenisvolle blik in tant Souf se rigting ontgaan nie Dia se oplettende oë nie, maar die tante tuur oënskynlik onsiende by die deur uit na waar ’n verdwaalde warrelwind die stof in die grondpad opraap en daarmee vort gaan.

Toe Han eindelik omdraai, haak sy deurdringende groen oë met ongewone intensiteit vir etlike tellings in dié van Dia vas. Sy slaan haar oë gou neer met die vreemdste gevoel dat hy tot in die heel verste verskuilde hoekies van haar menswees kyk.

Dis asof die hele atmosfeer in Die Spens skielik soos ’n mislukte soufflé platval nadat Han die plek verlaat het. Tant Souf skraap ’n paar verdwaalde suikerkorreltjies in haar hand van die tafel af en oom Petoors mompel binnemonds iets van werk wat moet klaarkom.

Met die sleutel in haar hand, groet Dia en bekyk die wêreld om haar met heeltemal ander oë as toe sy sowat ’n uur gelede hier stilgehou het. Die atmosfeer van Zoetstroom begin langsaam nesskop binne-in haar. ’n Heerlike koel windjie speel met die soom van haar rok. Sy haal die selfoon uit haar handsak om te kyk hoe laat dit is, maak haar berekeninge en skat dat sy nie later as halfses op Droomkrans behoort te wees nie.

Haar ligblou Austin Mini staan langs die groot akkerboom waar sy dit vroeër geparkeer het. Dit is tot teen die dak volgepak met alles wat vir haar belangrik genoeg was om saam te bring. Die res is in haar kunswinkel se stoorkamer toegesluit. Volgens haar pa is daar meubels in die huis, sy bekommer haar dus nie oor wat voorlopig moes agterbly nie.

Agter die donkerbril dwaal haar oë na al die ou geboue so ver soos wat die oog kan sien. Sommige daarvan is maklik om te eien. ’n Paar meter van Die Spens is die poskantoor aangrensend aan die polisiestasie. Oorkant die pad sien sy nog ou geboue met naamplaatjies op die deure. Die dokter se spreekkamer en prokureur se kantoor dalk?

Anderkant Die Spens is ’n oop erf en dan ’n winkel met ’n groot stoep, soos die meeste ander geboue hier rond. Die klipkerk met die hoë toring staan wakend reg by die ingang van Zoetstroom bo in die straat. Is dit ooit die regte besluit wat sy geneem het om hierheen te kom? hap die twyfel skielik aan die randjie van haar vol gemoed.

Dia probeer die lastige vrae afskud en klim in die motor. Sy waai vir oulaas in die rigting van oom Petoors en tant Souf wat haar nou weer geselsend staan en dophou. Sy moet ’n bietjie kruideniersware aanskaf voor sy die laaste skof van haar reis aanpak.

Die beeld van die forse Han flikker eensklaps koggelend voor haar geestesoog. Sy skud haar kop, maar elke detail keer net nog sterker terug … in volle kleur. Dis soos om in stereo te kan sien: sy gestalte in diepte waar te neem, ’n salige driedimensionele ontploffing in haar verstand waarteen sy nie bestand is nie. Dié besef is skokkend.

Sy swenk net betyds weg toe ’n wolfhond stertswaaiend reg voor die Mini in oor die pad draf.

“Daar het jy dit nou, Dia!” roep sy haar gedagtes wat soos jillende varkies die vlak vol draf, terug op hok. “Amper help jy die arme, onskuldige hond die ewigheid in deur jou aan al die praatjies oor Han Wieookal te steur. Buitendien, wat is miskien so wonderlik aan dié Han?” vra sy haarself af terwyl sy die Mini langs ’n bakkie voor die winkel tot stilstand bring.

’n Donkerkopman wat op die stoep staan en rook, kyk fronsend na haar.

Ja-nee, dit het sy nou daarvan om oudergewoonte met haarself te sit en praat wanneer haar binneste omgewoel is. Die man moet dink sy is die kluts kwyt, vermoed Dia terwyl hy die winkel binnestap.

In Haal & Betaal word sy dadelik vriendelik begroet deur dieselfde middeljarige donkerkopman en ’n blonde vrou. Sy neem aan hy is dus die eienaar. Dit bly steeds vreemd dat almal hier op Zoetstroom mekaar skynbaar groet, maar sy besef dat dit ’n gewoonte is wat sy sal moet aanleer as sy hier wil inpas … en aanpas.

Twee pakke kerse en vuurhoutjies bevind hulle spoedig in haar winkelmandjie, net vir ingeval … Sy hét dalk bietjie oorhaastig hierheen gekom, erken sy teleurgesteld aan haarself, terwyl sy strek net om twee houers rakmelk af te haal.

“Dag, juffrou Malan. Welkom in ons geweste.”

Dia skrik en draai so vinnig om dat ’n paar items vanuit haar dramandjie op die grond beland. “Hallo,” kry sy dit ietwat vies uit.

Genugtig! Noudat Han so naby is, besef sy eers hoe lank hy regtig is.

Dit lyk ook nie juis asof die gewig van die groot pak meel onder sy arm hom enigsins pla nie.

Hy wys na die melk in haar mandjie. “Droomkrans het twee baie ywerige melkkoeie, hoor.” ’n Effense glimlag haak gemaklik om sy mondhoek terwyl hy na haar hande kyk. “Maar jy sal beslis by ’n brood of twee baat, tensy daai mooi hande van jou brooddeeg kan knie?”

Gmf! Deeg knie? In watter eeu het hý vasgehaak? Sy glimlag wyk nie eens voor haar verergde blik nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof hy haar, of dalk haar inkopies, ietwat amusant vind. En dit is dan nou meneer Befoeterd waarteen oom Petoors haar so gewaarsku het. Afgesien van sy grootte, lyk hy nie juis vreeslik skadelik nie. Stil en afsydig? Gmf! Sê eerder inmengerig. Hy buk om die vuurhoutjies en pakke kerse van die vloer af op te tel en terug in haar mandjie te pak.

“Tensy jy ’n besondere romantiese streep en ’n spesiale vriend het, kan jy gerus maar al hierdie kerse ook laat staan.” Tergliggies speel in sy oë. “Brood. Moenie die brood vergeet nie.”

Dia kners hard op haar tande om nie vir hom tot in die fynste detail uit te spel wat hy gerus met sy pak meel kan gaan doen nie. Die vet weet, sy het nie die hulp of inmenging van Han of enigiemand anders nodig nie. Sy begeer net rus en vrede – iets wat haar blykbaar hier ook nie beskore gaan wees nie. Veral nie as hierdie man so deurdringend na haar kyk nie.

Kan hy nie nou maar net verkas nie? Sy staar oor sy skouer met wat sy hoop ’n hoogs verveelde uitdrukking is na die rak agter hom. Maar Han is nie klaar nie. Nog nie.

“Dit is ’n fraai toppie wat jy aanhet. Ek was ook eens mal oor rose.” Hy wys na die groot rooi en pers rose teen die geel agtergrond van haar lospassende minirok se materiaal. “Dis tog so jammer hulle prag is eintlik maar net ’n illusie wat gou verwelk, maar daai dorings … Dís die enigste realiteit van daai blomsoort.”

As sy nie van beter geweet het nie, het sy dalk gedink hy probeer reaksie by haar uitlok. Haar toppie nogal. En bedrieglike blomme? Die man is seker nie reg wys nie. Kan jy dit nou oorvertel! Hy is natuurlik net lang, vormlose rokke, plat skoene en kaktusse gewoond hier op die … platteland.

Uit die hoek van haar oog sien die innerlik ontstoke Dia die winkelier se vrou nuuskierig na hulle kyk van agter ’n glaspaneel wat seker hul kantoor afskort. Agter haar staan die donkerkopman, met ’n mond wat effens oophang, óók openlik na haar en Han en staar.

Sy maak keelskoon terwyl ’n moedswillige gedagte haar skielik oorrompel. “Ek is oor die algemeen weer mal oor máns. Veral die bedreigde, goedgemanierde soort wat nog hul plek ken.” Hoekom sy toelaat dat hy … sy oë … nee, álles aan hom haar so ontstem, weet sy nie, maar sy wens vurig hy wil nou net sy ry kry terug na sy eensame hut tussen die bome, aldus oom Petoors.

Han haal sy skouers ongeërg op onder die rooi, geruite materiaal van sy hemp. Sy nou breë glimlag wil haar regterknie laat knak. So, dan kan Droomkrans se berugte buffel glimlag sonder om in skerwe te spat.

Immm, en nie net glimlag nie. Aantreklik glimlag.

Genugtig, Dia, waar kom dit nou vandaan?

Dia plaas haar hand teen haar keel waar haar kuiltjie onstuimig klop om haar gevoelens weg te steek.

Die spiere bult onder sy kort hempsmou toe hy vlugtig aan die voorkant van die groot hoed op sy kop raak. “Tot later, juffrou.”

Hy draai om en stap doodluiters weg voordat Dia ’n verdere woord kan kwytraak. Vies kyk sy af na die houertjie melk in haar mandjie. Dink hy miskien sy is bereid om heeldag agter koeie aan te loop vir ’n bietjie melk?

Dis onmoontlik om nie vlugtig weer na sy indrukwekkende figuur te loer nie.

Han steek in sy spore vas en swaai om. “En juffrou Malan, maak tog seker jy trek volgende keer een van daardie kleefbroeke by daai toppie aan. Hier is baie ander mans, behalwe natuurlik ekself, wat ook nie juis goedgemanierd is en hulle plek ken nie.”

Sy kan sweer hy geniet elke oomblik daarvan om haar siel so te vertoorn.

Waar kom hy buitendien aan haar van? Sy krap die rafels van haar vertoiingde emosies bymekaar in die bakhand van haar gemoed met ’n vinnige vryf oor haar oë. Toe sy weer kyk, is sy net betyds om te sien hoe Han klaar betaal en by die deur uitstap. Dia draai om en loop skielik nikssiende deur die propvol winkelrakke. Sy kan meteens nie aan ’n enkele item dink wat sy nog wou koop nie.

Met ’n vaste tred stap sy terug na die rak waar Han skaars twee minute gelede nog gestaan het met daardie ongelooflike groen oë en onverwagse glimlag. Dia! Ergerlik gryp sy nog twee houers rakmelk en voeg dit by die twee wat reeds in die mandjie lê, bedink die saak en stapel ’n verdere ses daarvan bo-op die res van haar skamele inkopies. Die eienaar kom hulpvaardig met ’n trollie nader en sy knik ’n verleë dankie in sy rigting.

’n Koeldrank, twee pakke skyfies en ’n pakkie toffies later, stap sy na die kasregister waar die blonde vrou self die tien houertjies melk met ’n opsigtelik geamuseerde gesigsuitdrukking oplui, saam met die enkele ander items. Dia betaal en stap langs die hulpvaardige winkeleienaar wat help dra tot by haar Mini.

Die enigste plek wat nog nie volgepak is nie, is die passasiersitplek. Sy vat die winkelsakke aan en sit hulle versigtig neer. Sy bedank die man en klim in met haar oë op die twee sakke met houertjies melk. Ja, Dia, dit was nou regtig uiters kinderagtig van jou. Han wéét nie eens van jou melkaankope in groot maat nie, koggel ’n stemmetjie in haar agterkop terwyl sy oë hardnekkig voor haar bly dans.

Grrr … Sy ril onwillekeurig by die blote gedagte aan louwarm plaasmelk in groot blikemmers. Sy is seker dit sal ruik na … gras … mis … of beesasem. So iets, lag sy die verspotte gedagte weg.

Die uitgestrekte grasvelde alkant van die breë stofpad skep die indruk van vryheid en vrede, en sy lê die paar kilometer teen ’n stadige pas af om alles behoorlik te kan bekyk. Sy glimlag. Hier sal ’n boer sy perd vir drie dae sien weggalop, so gelyk is die wêreld.

Sy draai selfs die ruit af en haal diep asem. ’n Huisie doem voor haar in die veld op. Sou dit nog bewoon word? wonder sy vlugtig, maar moet dan weer op die pad konsentreer wat skerp na links draai.

Droomkrans se naambordjie doem onverwags voor Dia op na die lang draai in die grondpad. Sy trap rem sodat die Mini ’n paar meter oor die grond skuur voordat dit tot stilstand kom, die hoofligte skaars ’n handbreedte van die motorhek af. Verlig dat haar motor nog in een stuk is, stoot sy ’n entjie terug en klim uit.

Ag, nee! Haar hakke begin dadelik in die dik sand wegsak en sy probeer op haar tone tot by die hek stap. Sy hoop nie haar skoene verniel te veel nie, dié rooies het haar nogal ’n hele paar rand uit die sak gejaag.

’n Ontevrede frons vorm op haar voorkop terwyl sy na die ketting kyk wat met ’n groot slot om die hekpaal vasgesluit is. Natuurlik. Die sleutel daarvan moet seker aan die groot bos wees wat oom Petoors so plegtig aan haar oorhandig het.

Die slot is effens verroes en dit gee ’n gesukkel af om dit oop te kry. Uiteindelik glip dit oop net voor sy byna moed wil opgee, en Dia strompel holderstebolder en allesbehalwe elegant, laat staan nog enigsins vroulik, deur die sand om die hek oopgestoot te kry. Haar skoene vul geleidelik met sand in elke denkbare gaatjie, en sy kners op haar tande.

Vir al wat sy weet, sit en verlekker Han hom êrens tussen die bome aan haar regterkant vanuit sy hut sodat sy tone eintlik krul terwyl hy elke sukkelende treetjie dophou. Sy glimlag sinies. ’n Man bly mos maar ’n man. Onmanierlik of manierlik, skelm of eerlik, aantreklik of nie, hulle is een en almal skuldig daaraan dat hulle mans is.

Sal sy hom maar iets gee om na te kyk, of hoe?

Met veel meer flair as wat sy voel en met baie meer moeite as wat dit miskien voorkom, swaai sy haar heupe opsetlik terwyl sy terugstap na haar motor. Daar, Han! Ek hoop jou oë peul uit. Jy brand seker nou om jou opinie met my te deel, nè! Gmf! So krý vir jou …

’n Paar dinge gebeur gelyk sodat Dia later nie kon onthou presies watter een eerste was of nie. Die geluid van ’n perd se pote op die grondpad word hoorbaar, die windjie begin skielik sterker waai en haar enkel swik in ’n dik kol sand net voordat sy haar motor bereik. Dia gryp in die lug, maar weet by voorbaat dat sy haar val geensins kan stuit nie.

Met ’n allemintige hik maak sy met die stukkie aarde voor haar kennis sodat haar een skoen deur die lug trek en twee meter verder te lande kom. Dia besef dat sy sonder twyfel haar wind uitgeval het en hyg desperaat, met haar gesig enkele sentimeters van die grond af, om suurstof in haar seer longe te trek.

Die wind, wat reeds voor haar val onmanierlik met die minirok se soom begin speel het, lig die agterpant van haar rok en laat skuif dit ver verby ordentlik op. Mag die perderuiter haar asseblief tog net nie hier sien lê nie …

Sy hyg en snuif en verstik in die sand so reg onder haar neus.

Die perdepote kom al nader, want ongelukkig word haar wens nie vervul nie.

“Ek’s bevrees my perd is nie wit nie en nog minder is ek ’n ridder, maar laat my gerus toe om jou op te help, juffrou Malan.”

Droomkrans se engelman

Подняться наверх