Читать книгу Op 'n galop na Buckingham-paleis - Naas Steenkamp - Страница 5
Alhamdulillah
Оглавление“Wat dink jy van die kommunisme?”
“Ek dink dis die beste uitvindsel sedert roomys.”
Die man van die veiligheidspolisie kyk my uitdrukkingloos aan. Hy is nie geamuseerd nie. “Meneer, ek sal jou aanraai om nie ligsinnig te wees nie. Dis ’n ernstige saak hierdie. Wil jy nou werklik hê ek moet ’n negatiewe verslag instuur?”
Ek skrik effe. “Nee, ek het net gedink … dis eintlik ’n erg onnodige vraag om te vra, want watter mens met enige verstand sal dink kommunisme is ’n goeie ding?”
Strakgesig kyk my ’n ruk aan. “Jy sal jou verbaas hoe hulle in jongmense soos jy se breine kan inkruip. Hulle het metodes wat deur die duiwel self ontwikkel is. Dis my werk om seker te maak jy’s nie een van daai breinbesoedelde gevalle nie.”
Ek bedink my.
“Meneer, die kommunisme is ’n bose ideologie, en een wat nie kan werk nie. Ek dink ook hulle wil Suid-Afrika ondermyn en dis ons almal se plig om hulle te keer.”
Die man maak ’n lang aantekening. “Dankie. Ek wil net sê, jy kan bly wees jy’t nie jou grappie met party van my kollegas probeer maak nie. Hulle sou jou gat gou toegestop het. Baai-baai diplomaat-wees. Vinnig agterin die kar, sentrum toe vir ’n láng middag se ondervraging. Vir ’n man wat een van die dae ’n regsgraad gaan hê, het jy darem wragtag swak oordeel.”
Ek probeer onverskillig voel, want ek weet mos ek is klaar gekeur en moet nog net my brief van die departement af kry. Maar dié kêrel wat so dwarsdeur ’n mens kyk, maak my ongemaklik. Hy’t my juis onkant gevang deur sommerso op die kampus aan te kom, my op te spoor, en sy vrae te begin vra.
“Hoekom wil jy ’n diplomaat word?”
Ek besluit om dié keer verstandig te wees. “Eintlik het ek daardie vraag al klaar begin antwoord, Meneer. Ek het sekere talente, soos ’n aanleg vir taal. Ek dink ons land is in gevaar, en ons moet almal ons talente aanwend om die nasionale belang te help verdedig. Ek dink ek kan dit die beste doen in die buitelandse diens.”
Ek kan sien hy is baie tevrede met die antwoord. Hy maak weer ’n aantekening. Dan kyk hy op en hou sy oë stip op my terwyl hy praat. Dis nogal ontsenuend.
“Sal jy ons landsbeleid met oortuiging kan verkondig?”
“Ja, sekerlik, Meneer. Ek … sal ons landsbeleid met oortuiging verkondig.” Sy oë is steeds stip op my, en ek wens hy wil nou end kry.
“Dis al, dankie,” sê hy dan, en groet. Ek stap aan biblioteek toe. Ek dink aan my slim vriend John, wat ek in Johannesburg agtergelaat het toe ek Potch toe gekom het, universiteit toe. Ek wonder wat sou hy vir die veiligheidsman gesê het. Want ek is seker John en sy pa en ma was kommuniste, al het hulle gesê hulle behoort aan die Liberale Party. Dis seker maar net omdat mens nie aan ’n kommunistiese party mág behoort nie. John en sy ouers was permanent ontstoke oor al die onregte van apartheid. Ek kon self nie so emosioneel soos hulle raak nie. Maar hulle het my ten minste laat voel dat mens kommunistiese idees kan hê sonder dat dit van jou ’n monster maak.
In die biblioteek soek ek vergeefs na goeie boeke oor diplomasie. Want ek het ’n probleem. Ek het my verbind om ’n diplomaat te word, maar ek weet nog nie mooi wat ’n diplomaat is of wat hy doen nie. Dis eintlik Ma se skuld.
Toe ek klein was, het ons op ’n myntjie doer in die verre noorde van Suidwes, nou Namibië, gewoon. My pa was een of ander baas op die myn en ons buurman was ’n Italiaanse immigrant, ’n elektrisiën of iets. Sy seun se naam was Giancarlo, en ons het dik maats geword. Sy ma het ons gedurig gevoer, al pratende al kon sy nie ’n woord anders as Italiaans praat nie. Toe ek my kom kry, toe praat ek nogal saam met haar en met Giancarlo. Dis nou by wyse van spreke, want ek het jare later uitgevind dis ’n brabbeldialek wat mens in die werkerstand hoor en wat ek in elk geval baie geradbraak leer praat het.
Suidwes kry besoek van ’n belangrike politikus uit die Unie, en dié hoor toe die Afrikaanse seuntjie praat Italiaans met sy maat. Ma is baie trots toe sy die belangrike man vertel haar seun het sommerso, sonder boeke, leer praat.
“Maar dan moet hy eendag ’n diplomaat word,” sê die politikus. Ma kon dié opmerking nie vergeet nie, en in die jare daarna het dit so half en half aanvaar geraak dat Nasie eendag buitelandse diens toe sou gaan. Vir Ma was die groot wêreld daarbuite ’n eksotiese droom, en toe sy ’n halwe begrip kry van wat diplomate doen, was dit uitgemaak. Haar blink seuntjie sou ’n diplomaat word en konings en presidente en glansmense ontmoet, en eendag sal mense hom as Meneer die Ambassadeur aanspreek.
In my laaste dae op universiteit krap ek in die biblioteek rond vir boeke en artikels oor diplomasie, maar daar is nie veel nie. Ek gaan praat toe met prof Swannie van die regsfakulteit, vriend en vertroueling van elke student. Hy lag. “Jy sal by jou senior kollegas hoor die taak van ’n Suid-Afrikaanse diplomaat is maar net om apartheid te verkoop en kommunistiese organisasies te bestry, want daar is ’n kommunistiese dolk op die hart van die Afrikanervolk gerig. Hier en daar sal jy ook ouens kry wat vir jou sê jou werk is om te help om onregte wat die Engelse ons aangedoen het, reg te stel.”
Hy haal ’n boek uit sy rak. “Die ding van die kommunisme is baie meer subtiel, baie meer ingewikkeld. Jy moet verstaan hoekom dit is dat so baie mense in soveel lande, veral die armes, so passievol oor die kommunisme raak. So revolusionêr. Hoekom daar mense is wat so erg gekant is teen ons christelik-nasionale en kapitalistiese stelsel. Selfs van ons eie mense raak daarvan oortuig.” Hy gee die boek vir my. “Lees hierdie boek en kom gesels dan weer. En die tweede ding – onthou net die Boereoorlog is baie lankal verby.”
Ek het die boek deeglik gelees, en van daardie dag af was ek verbaas hoe vlak ons koerante en ons politici oor iets soos die kommunisme praat. As mens jou in die skoene van die armes plaas, verstaan jy nogal hoekom die kommunisme vir sommiges so aantreklik lyk. Mense soos John en sy ouers, wat tog ordentlike mense is.
Ek is terug na prof Swannie toe. “Professor gaan nog van my ’n kommunis maak,” sê ek speels. Prof Swannie glimlag. “Ek haal Bernard Shaw vir jou aan: ‘A man who is not a communist by eighteen, has no heart. A man who is a communist by twenty-eight, has no head.’ Of so iets. Onthou net, jy is nou ’n opgevoede, denkende mens. Jy neem jou besluite ná behoorlike ondersoek en nadenke, nie omdat iemand anders iets by jou propageer nie. Maar wanneer ons met die massas werk, moet ons dinge eenvoudig hou. Dis hoekom die politici en die koerante vir jou so vlak klink.”
Nadat ek met prof Swannie gepraat het, verloor die biblioteek sy bekoring vir my. Toe koop ek maar Teach yourself Italian, en meesal sit ek Italiaanse werkwoorde en leer. Dit was vir my baie lekker. Teen die tyd dat ek by die Uniegebou inval, kan ek al ’n klompie verbuigings opsê. Maar ek is te opgewonde om veel meer aandag daaraan te gee, want die wonderlike lewe van die kadet-diplomaat gaan nou ontvou.
Dit was ’n groot teleurstelling. Ons het in kantore gesit en papiervliegtuigies gevou en skuifspelde oop en toe gebuig. Eendag hoor ek twee mense in die gang Italiaans praat, en ek val weg en groet en praat met hulle. Dis toe die Italiaanse ambassadeur en een van sy span, op pad na die minister toe. My grootbaas, meneer Boy Viljoen, loop verby. “O,” sê hy later vir my, “jy praat Italiaans! Jy wil seker Italië toe verplaas word?”
My hart pomp vinniger. “Baie graag, Meneer.”
“Wel, dan het jy nou jou kanse behoorlik opgeneuk. In hierdie departement doen hulle dinge altyd gatomkop. As jy glad nie Engels kan praat nie, stuur hulle jou Engeland toe. As jy Duits kan praat, stuur hulle jou Griekeland toe.”
“Hulle kan my maar enige plek stuur, Meneer. Ek sal die taal leer. Ek hou van tale.” Ek was altyd maar ’n bietjie windgat. “Bly om dit te hoor,” sê meneer Viljoen, en stap met ’n glimlag weg.
’n Maand of wat later kry ek ’n groot verrassing. Meneer Viljoen laat roep my na sy kantoor toe en skuif ’n koerant voor my in. “Dink jy jy sal dié ooit kan lees?” Ek staar na die sierlike skrif waarin die koerant gedruk is. “Arabies? Meneer, ek is seker ek sal dit baasraak. Dit lyk wonderlik!”
“This is too good to be true,” sê Boy Viljoen. Hy tel sy foon op en bel ’n nommer. “Bertie? Het jy ’n oomblik?”
So ontmoet ek vir Bertie Hattingh, pas terug van Kaïro af. En ek hoor van MECAS. Hy het ’n jaar daar deurgebring en Arabies geleer voordat hy eers Beiroet en toe Kaïro toe is, en hy is die enigste buitelandse diensbeampte wat vir ons werklik nut kan hê in Arabiese lande.
Tot laat daardie middag sit ek en Bertie in sy kantoor. Ek is meegevoer. MECAS is die Middle East Centre for Arabic Studies. Dis iewers in die heuwels sowat tagtig kilometer van Beiroet af. Dis ’n Britse instelling, en Statebondslande kan ook daarvan gebruik maak. En Beiroet, sê Bertie Hattingh, is ’n wonderlike stad. Hulle noem dit die Parys van die Levant. Jy kan daar leer Frans praat ook. “Moet ek vir hulle sê jy stel belang?”
Ek is ekstaties. Lank reeds word ek bekoor deur die wondermooie Arabiese skrif, ’n taal wat jy van regs na links skryf in daardie pragtige, sierlike, vloeiende patroontjies. En die kere dat ek die taal gehoor het, het die ruwe forsheid daarvan my laat dink aan die Namib.
’n Week later hoor ek die minister het dit goedgekeur, en MECAS het vir my plek. Ek vertrek oor twee maande.
In daardie twee maande is ek permanent volgepomp met adrenalien. Ek verdiep my in Teach yourself Arabic. Liewe hemel, maar dis ’n onmoontlike taal! Wat het ek aangepak? Maar na ’n paar weke het ek darem die alfabet – as jy dit ’n alfabet kan noem – onder die knie, al weet ek nog lank nie wat die woorde beteken nie.
’n Brief word in my kantoor afgelewer. Dit kom van die Foreign Office af in die Londense diplomatieke possak. Al is dit duidelik aan my gerig, is dit reeds oopgemaak, seker omdat dit amptelik is.
Maar die adres boaan die brief is “MECAS, Shemlan, near Beirut, Lebanon”.
Dear Friend
I write this sitting on the patio of the MECAS home, overlooking the hills of Shemlan. I have just heard the splendid news that South Africa will again have a trainee at MECAS. I’m delighted! It’s a long time since we had Bertie Hattingh here. Many congratulations on having been selected for this great adventure.
Among the rewards a diplomatic career offers, becoming a Middle East specialist is surely the richest. The Arabs are diverse and hugely interesting folk, with a long history of great achievements. But more importantly, they are a most agreeable people. One of Britain’s great Arabologists, Lieutenant-General Sir John Glub, says Arabs are “a passionate and warm-hearted people”, and “Arab life is full of laughter and tears rather than bloodshed and avarice … They are the most lovable people in the world”. I wholly agree.
Their language is majestic, and once you’ve got the hang of it, you will have a life-long source of enjoyment. You need not even be a Muslim to enjoy the pure poetry of the Qur’an.
As a foreign service officer and an Arabic linguist, I have had a long association with MECAS. I try to spend time here at least once a year. It is a marvellous little place, and I welcome you most warmly to the MECAS family. Don’t hesitate to let me know if there is anything I can help with. I trust I will soon count you among my valued friends from South Africa.
Cordial regards
George Blake
“Ou George, ja”, sê Bertie Hattingh. “ek onthou hom goed. ’n Baie gawe en hulpvaardige ou. Hy kon nooit genoeg vir ’n mens doen nie. Dis maar ’n kort rukkie dat ek hom geken het, maar mens vergeet hom nie maklik nie. Hy’s nogal ’n held in Engeland, want hy is in die Koreaanse oorlog deur die Noord-Koreane gevang en erg gemartel, maar hy’t kopgehou. Dis werklik gaaf dat hy nou met jou kontak maak, dit kan dinge vir jou baie makliker maak.”
In die tyd wat vir my oor is, verslind ek alles wat ek oor Libanon, oor Beiroet, oor die Arabiere, en oor die geskiedenis van Arabië in die hande kan kry. Ek kan later nie meer wag om te vertrek nie. Ek voel soos ’n hond wat sien sy baas tel die leiband op en stap deur se kant toe.
Die minister van buitelandse sake in daardie tyd was die ou korrelkop Eric Louw. Hy was ’n puntenerige mens, en iemand wat sy koerante altyd baie deeglik gelees het. Hy het lang repe berigte uit koerante geknip en dit dan in die parlement rondgeswaai wanneer hy teen iets of iemand uitvaar. “The crown prince of the press-cutting kingdom”, noem die spotprenttekenaar Bob Connolly hom eenkeer, by ’n tekening van die minister in ’n pak en hoed wat van koerantknipsels gemaak is.
Dis Eric Louw wat die beriggie van ’n paar reëls in die koerant raaksien, ’n “filler”, soos die koerantmanne dit noem: ’n stukkie wat jy insit omdat daar ’n leë kolletjie onderaan ’n kolom is. Die beriggie sê daar het in die heuwels buitekant Beiroet ’n relletjie ontstaan toe een of ander stam ’n grief oor iets ontwikkel het.
Minister Louw laat die beriggie op ’n wit vel papier plak waarop hy die volgende skryf:
Dis ongewens dat amptenare van die departement blootgestel word aan onrus in ’n land soos Libanon, waar daar een of ander tyd ’n uitbarsting moet kom. Indien daar reeds voorbereidings gemaak is dat ’n junior na MECAS gestuur word vir opleiding, moet dit gekanselleer word. Die laaste ding wat Suid-Afrika nou kan bekostig is om hom in ’n kwesbare posisie teenoor ’n Arabiese land te plaas. Hulle vorm ’n blok met Afrika-lande en met ons vyande. Ons kan dan volgende jaar die saak hersien en kyk na die moontlikheid om iemand te stuur.
Dis vir meneer Viljoen baie moeilik om die nuus aan my oor te dra, dit kan ek sien. Ek is verpletter. Meneer Viljoen sê: “Mannetjie, ek weet jy sal my nie aanhaal nie, maar die minister is befok. As ek hom nie beter geken het nie, sou ek met hom gaan praat het om hom te laat insien dis volslae nonsens. Ek het nou net met Bertie gepraat. Hy sê wat daar in Libanon gebeur, is ’n nietigheid en kan geen verskil maak aan ons MECAS-planne nie. Maar Eric Louw weet altyd beter. Jammer.”
Ek loop in die daaropvolgende dae koponderstebo rond, en sê naderhand vir meneer Viljoen ek wil nou liewer iets anders gaan doen. Miskien uitvind waar hulle Arabies aanbied, en dit op my eie gaan leer. Hy reageer baie vinnig. Wag eers, sê hy, wag net ’n klein bietjie, en kort daarna laat roep die sekretaris van buitelandse sake my om vir my te sê ek is spesiaal gekeur om Londen toe te gaan. “Onthou,” sê die sekretaris swaarwigtig vir my, “jy’s ’n Afrikaner!” Van alles wat hy vir my kon gesê het, is dit al wat ek ooit uit sy mond hoor. Dit maak my net meer die bliksem in.
Kort voordat ek Londen toe moet vertrek, kry ek weer ’n briefie van George Blake af.
My dear friend
Strange things have been happening. You are the victim of malevolent forces – that much is clear to me. Co-incidentally, fate has also been dealing roughly with me lately, and it is quite possible that we would not have met at MECAS had you gone.
All I can say is that your minister’s decision is most unfortunate, and that there are absolutely no grounds for his fears. As for you – put it behind you. A posting to London is not the worst thing that can happen to a diplomat at the beginning of his career. I only hope I’ll be around to welcome you.
Until (if) we meet
George Blake
Ek kom bra dikbek in Londen aan, maar tog gemotiveer om werk te maak van die geleentheid. Dalk het die sekretaris dit bedoel toe hy gesê het ek is spesiaal gekies vir dié belangrike werk. Ek is immers een van die elite onder die kadette, metdat ek al ’n vreemde taal kan praat en weet hoe om met mense om te gaan. Die diplomatieke maandblad The Diplomatist skryf ’n beriggie oor my waarin hulle sê ek is “dapper, well-spoken and sociable”, waarvan ek nie eintlik hou nie. Maar heel gou begin ek die diplomatieke toneel geniet, en kort voor lank gaan die belangrikheid van my posisie na my kop toe. Dis ook interessant om so ’n anderse plek te leer ken. Dis darem waaragtig vreemd, sê ek vir myself, dat hierdie land ’n amptelik erkende kommunistiese party het, een wat selfs kandidate in verkiesings kan stel! Ek is min gepla oor hoe goed of hoe sleg die kommunisme is, want teen dié tyd is dit vir my duidelik dat Karl Marx nogal goeie idees en bedoelings gehad het, al is die ding in die praktyk blykbaar ’n ramp. Maar dit bly ’n aardigheid dat mense so in die openbaar rooi vlae kan rondswaai.
Een middag vou ek die koerant in my kantoor oop, en die hoofberig slaan my tussen die oë. BLAKE GETS 42 YEARS. Daar is ’n foto van George Blake op die voorblad, ’n heel aantreklike, glimlaggende kêrel met ’n baard en ’n swierige kuif. Die berig sê Blake is daaraan skuldig bevind dat hy vir Rusland spioeneer. Hy het jare lank geheime en vertroulike inligting na die Russe toe deurgestuur, en het sy posisie by MECAS gebruik om ontvanklike jong studente uit Statebondslande uit te soek en hulle versigtig te werf om ook spioene vir Rusland te word. Hy gaan nou vir twee-en-veertig jaar tronk toe, die langste vonnis – behalwe lewenslank – wat enige Britse hof ooit aan iemand opgelê het.
Ek gaan staan voor my kantoorvenster en staar lank na Trafalgarplein, maar ek sien nie juis vir Nelson op sy suil of die groot leeus wat hom bewaak nie.
’n Briefie van Bertie Hattingh kom in die volgende diplomatieke possak aan.
Ek het waaragtig nie geweet van hierdie dinge van George nie. Ek is stomgeslaan. Ek ag my gelukkig, dalk was ek en hy te kort saam by MECAS vir hom om my te probeer werf.
Wie weet – ek was teen daai tyd so gatvol met wat ons vir volk en vaderland moes doen dat ek miskien ’n pushover vir hom sou gewees het! Maar jy sou darem seker genoeg van ’n stoereboer gewees het, of hoe?
Arme ou George, dat so ’n gawe kêrel nou so iets moes aanvang. Maar as jy dink hoe dit ander mense se lewens kan vernietig, behoort ek seker nie simpatie te hê nie. Hulle sê hy was ’n dubbele agent en het meer as vierhonderd Britse agente verraai. Dus verdien hy seker maar die vonnis.
In ’n fel-helder oomblik weet ek dat ek nie ’n “stoereboer” sou gewees het nie. Met al my bravade is ek glad nie so weerbaar as wat dit dalk vir Bertie Hattingh lyk nie. In my hart der harte weet ek die waarheid: ek is ’n naïewe klein sot wat sou gedink het ek word al weer vir iets belangriks uitgekies.
Ek gaan sit daardie dag en skryf ’n Arabiese uitdrukking wat ek vroeër, daar in my kantoortjie in die Uniegebou, telkemale geoefen het.
Alhamdulillah.
Goddank.