Читать книгу Op 'n galop na Buckingham-paleis - Naas Steenkamp - Страница 6

Die gyselaar

Оглавление

Ek het Eddie Dunn ontmoet die groot dag in 1958 toe die koukus van die Nasionale Party in Kaapstad ’n nuwe eerste minister moes kies na die dood van mnr Hans Strijdom. In Pretoria, in die wesvleuel van die Uniegebou, staan ’n groepie senior amptenare dié dag angstig om ’n teleksmasjien rond om die nuus uit Kaapstad te hoor. Vir mense wat gewoonlik so bestudeerd kalm is, is elkeen in die groepie duidelik senuagtig. Ek staan in die buitekring, agter twee groterige mans.

“If that crazy Dutchman is elected,” sê die een, “I’m taking up strawberry farming.” Die ander een knik net, en pers sy lippe saam.

Die koukus moet kies tussen drie kandidate vir die premierskap: Eben Dönges, Blackie Swart en Hendrik Verwoerd. Dis ’n ope geheim dat die amptenare van ons buitelandse diens mees al dr Dönges sou verkies – ’n man met ietwat minder politieke bagasie as die ander twee, ’n gematigde man wat dit makliker sou maak om ’n Suid-Afrikaanse diplomaat te wees. Meneer Boy Viljoen sê: “Ek weet nie wat wonder julle nog nie. Die Party kies altyd die grootste vuurvreter. En julle weet wie dít is.” Die teleksmasjien staan stom daar, en die spanning bou op. Dan begin die boodskap knetter: doktor Hendrik Frensch Verwoerd sal die nuwe eerste minister wees.

Die groepie verstar terwyl die nuus insink. Diplomate word geleer om swygsaam en emosieloos te wees, maar op daardie oomblik is die lug swaar van verslaenheid. Dan is hulle meteens nie meer ’n groep saamgebind deur gedeelde nuuskierigheid nie. Hulle draai vinnig om en elkeen kies woordeloos sy eie koers weg, wég van die slegte nuus. Met die omkeer stamp een van die groot manne my amper onderstebo. “Sorry, old chap,” sê hy, en skuif by my verby. Dis hoe ek vir Eddie Dunn “ontmoet” het.

Daar was twee soorte mense in die buitelandse diens: Afrikaners en “Engelse”. Eersgenoemdes was feitlik voor die voet Nasionaliste, party vuriger as ander. Laasgenoemdes … wel, party het hulle heel suksesvol voorgedoen as meelopers in die nuwe politiek, maar oor die algemeen dink ek nie daar was juis feesviering in “Engelse” huise toe die Nasionale Party tien jaar tevore so onverwags aan bewind gekom het nie. Baie van hulle was in die ou bedeling “Smuts-manne”, aanhangers van generaal Jan Smuts en sy Britsgesinde Sappe; oom Jannie was eerste minister maar het ook die portefeulje buitelandse sake behartig. ’n Klompie was teruggekeerde offisiere uit die groot oorlog wat drie jaar voor die Nasionale oorwinning ten einde geloop het. Die verkiesingsuitslag in 1948 was vir hulle ’n geweldige skok, en namate die Nasionale Party se program ontvou het, het hulle vinnig verder vervreem geraak.

Generaal Smuts se opvolger, dr Malan, had min sinnigheid aan die buiteland. Hy het aanvanklik ook buitelandse sake saam met die premierskap behartig, maar mettertyd het hy dit aan sy vertroueling Eric Louw opgedra. Dié het gesorg dat die Nasionale Party en die Broederbond gou sy greep op die buitelandse diens vestig. Teen die tyd dat ek in 1957 kadet-diplomaat geword het, het ’n hele paar “Engelse” reeds ander weivelde gaan soek en was die senior posbekleërs oorweldigend Afrikaners.

Ek was half verbaas toe ek agterkom daar’s ook mense wat in die gange Engels met mekaar praat. Ek het ’n paar van hulle leer ken, en geleer dat hulle oor die algemeen maar ’n gelate houding ingeneem het toe die klimaat ná 1948 so drasties verander het: toe die militêre hoofkwartier Roberts Heights so skielik Voortrekkerhoogte word; toe een van die mees senior ambassadeurs, ’n oud-generaal en nogal ’n “sir”, lank voor die einde van sy termyn deur ’n getroue Nasionalis vervang word. Die agtergeblewe Engelse het hulle daarmee versoen dat die topposte voortaan vir hulle ontoeganklik sou bly. Daar was wel ’n paar ambassadeurs onder hulle, maar nie in die sleutelposte nie. Sommiges het, terwyl hulle in die middel en senior range luier, boeke begin skryf, ander het skouerophalend sonnette begin lees of skilderlesse geneem, en daar was selfs dié, soos die konsul-generaal in Hongkong, wat ’n blokfluit-ensemble op die been gebring het.

Selfs onder die Afrikaners, sou ek uitvind, het min amptenare in die nuwe eerste minister, Hendrik Frensch Verwoerd, heil vir Suid-Afrika se diplomatieke betrekkinge gesien. Saam met die Engelse amptenare het hulle dr Verwoerd meesal – reg of verkeerd – geassosieer met anti-Semitiese en pro-Nazi-gesindhede: nie juis politiek wat maklik in die buiteland verkoopbaar is nie.

Toe ek weer die Engelsman raakloop wat my amper onderstebo geloop het, steek hy sy hand uit en sê: “Hi, I’m Eddie Dunn, sorry about bulldozing you the other day!” Ek hou dadelik van hom. Hy kyk glad nie uit die hoogte na my nie en laat my voel dat hy werklik in my belang stel. Ewe oulik sê ek: “That’s what we’re there for, Sir!”, en hy lag goedig. Die Engelse van die buitelandse diens was gewoonlik stywerig en formeel, en het hulle nie veel met juniors opgehou nie. Maar dié ou was ’n uitsondering, ’n vriendelike, goedige, gawe man. Daardie dag sit hy sy hand op my skouer en sê: “Aren’t you the chappie who’s supposed to speak Italian?”

“Well, yes, in a manner of speaking,” antwoord ek hom (weer oulik), en toe gesels hy verder in skaflike Italiaans en vertel my dat sy forte eintlik Spaans is.

Toe sê hy: “It’s great that you have a foreign language. And unusual. Your Italian doesn’t quite sound like Dante’s, but keep it up! It can be a very valuable asset – even a lifesaver, believe me!”

Ek sou by ander hoor Eddie Dunn is die departement se voorste hispanoloog, en kan Spaans baie beter as Afrikaans praat. Sy vroeëre loopbaan het hy byna uitsluitlik in Spanje en Latyns-Amerikaanse lande deurgebring.

Toe my verplasing uiteindelik kom, was ek verheug om te hoor Eddie Dunn en sy vrou gaan medepassasiers wees op die Stirling Castle wanneer ons op 23 Augustus 1959 Engeland toe vertrek. Eddie was via Engeland op pad na een of ander buitelandse sending waar Spaans gepraat word. Op die dokke in Kaapstad loop ek toe boonop ’n ander bekende uit my verlede raak: professor Bruwer, skrywer oor Suider-Afrika se swart stamme en my volkekunde-dosent toe ek pas na matriek ’n jaar of wat op Stellenbosch was. Ek het op universiteit altyd aan sy lippe gehang, en het uitgesien na die geleentheid om lank en lekker met hom te gesels gedurende twee hele weke op see.

Op die dokke koop ek Die Suiderland, en toe ek die voorbladberig sien, koop ek sommer nog twee. “BRITTE GEBELGD OOR SA-GESANT”, skreeu die voorblad. Die koerant se Londense korrespondent sê dit gons in Whitehall oor dr Verwoerd se aanstelling van dr AJR van Rhijn as die nuwe gesant in Londen. Hulle meen die Suid-Afrikaanse eerste minister behandel Brittanje met minagting. Om ’n bejaarde, uitgediende politikus wat nie meer goed genoeg vir die kabinet is nie in die Unie se allerbelangrikste diplomatieke amp te plaas, is gewoon ’n belediging vir Haar Majesteit en haar regering. Dis bereken om die boodskap oor te dra dat Suid-Afrika geen erg het aan die gewaande intieme band met Brittanje en die Statebond nie. En, word daar gesê, die nuwe gesant het in Duitsland gestudeer, praat glo Duits stukke beter as Engels, en was sterk gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Dis verbluffend dat die Britse regering en die paleis ingestem het tot dié benoeming, want kort tevore het Nederland geweier om ’n nuwe Suid-Afrikaanse ambassadeur te aanvaar omdat hy Duitsland gedurende die oorlog goedgesind was.

My hart sink, want dr Van Rhijn gaan my baas wees in Londen. Ek gaan ten nouste met hom saamwerk van die dag dat hy – ’n maand later as ek – voet aan wal sit. Ek het al gehoor ’n privaat sekretaris is iemand wat álles vir sy baas en sommer die baas se vrou en kinders en familie en vriende moet doen. Tydens die bootvaart lees ek die berig herhaaldelik deur. Hoe nou gemaak? Ek het werklik nie lus om by goed soos Jodehaat en die nyd tussen Engelsman en Duitser betrokke te raak nie.

Eddie Dunn sus my: “Don’t get carried away about these little things, Nasie. It all comes out in the wash.”

Ek gryp die geleentheid aan.

“Eddie, help me please! How would you set about the job I’ve been given?”

So begin ’n lang en kosbare gesprek. Behalwe dat ek en Eddie op die boot die dubbelspelkampioene in die tafeltenniskompetisie word, sit ons ure en gesels terwyl ons vrouens hulle elders doenig hou – Sarie in ons kajuit besig om op te gooi, want sy was ’n hele ent swanger, oggendsiek, én seesiek. Soos ’n welwillende oom probeer Eddie my touwys maak in die weë van ons diplomatieke diens, en van wat in my nuwe werk van my verwag gaan word. Hy vertel my baie van hoe moeilik die verhouding tussen beroepsdiplomate en politieke aanstellings soos dr Van Rhijn kan wees. En van die sinisme wat ’n posvereiste by die diplomaat is.

“Diplomacy, somebody once said – misquoting Von Clausewitz – is the continuation of war by other means. Don’t be bluffed by the pomp and ceremony and the old-world decorum. As a diplomat you are hell-bent on getting your country’s interest served, en vir ons Rooinekke in die Diens word dit nou by die dag moeiliker. Ons tel glad nie meer nie, en die Broeders is maar suspicious oor ons. Maar ’n outjie soos jy, you’ve got it made, even if you aren’t really an establishment type. As for the likes of me, we keep our heads down and make the best of whatever competitive advantage we’ve got – in my case, my Spanish connections.”

“Why must you keep your heads down?”

“Because we’re different, Boetie. Anders. We are hostages to history. Die Broeders is nie baie … hoe sê mens … verdraagsaam oor mense wat nie soos hulle is nie. Fortunately, it is possible to be ‘anders’ and to hang in there, like me. Maybe, who knows, like you too. Just don’t be too anders, my young friend.”

Ek nooi professor Bruwer om te kom saamgesels. Die bonkige, ernstige ou man met die heserige stem vertel ons lank en in groot besonderhede, asof ons studente is, hoedat die vasteland van Afrika allermins homogeen swart is – dis talryke swart volkere wat deur kolonialisasie in onnatuurlike groeperings ingedwing is. Dáárvan kan net moeilikheid kom. Suid-Afrika het nou, met dr Verwoerd aan die stuur, die geleentheid om te bou op wat basies reeds dáár is en nie die pad te volg van olie en water te probeer meng nie.

Eddie Dunn toon heeltyd hoflike belangstelling teenoor die professor, maar sê nie veel nie. Wat hy wel sê of vra, is dikwels effens tergend, maar die professor gaan onverstoord voort. Ek kan nie veel bydra nie, want ten spyte van my jaar in sy klasse voel ek steeds onkundig oor dié dinge. Professor Bruwer kom agter dat hy ons nie na wense oorgehaal kry nie. Hy begin ook lig spottend praat.

“Julle mense wat veronderstel is om ons land in die wêreld daar buite te verteenwoordig behoort darem wragtag meer te weet oor julle eie landgenote! Glo my gerus maar – dís waaroor die politiek van nou af sal gaan: ras, en die verhoudinge tussen die rasse. Ruimtelike ordening! Ek dink ons enigste hoop lê daarin dat ons die volkstrots van elke stam ontwikkel, dan kan ons hulle aanmoedig om hulle eie politiek te bedryf. Anders gaan ons onder.”

Eddie het stilweg hieroor geglimlag, en nie geantwoord nie. Maar daardie laaste oggend in Southampton, terwyl die skip vasmeer, staan ek en hy eenkant vir ’n afskeidsgeselsie. Ons het professor Bruwer reeds gegroet, en omdat Eddie en sy vrou deur vriende ingewag word terwyl ek en Sarie die trein Londen toe moet haal, moet ons ook nou totsiens sê. Ons het geheg geraak aan die ouer egpaar – albei seker oor die veertig – en beloftes is reeds uitgeruil van mekaar vorentoe weer sien.

“Is jy toe bekeer?” vra Eddie Dunn my met ’n skewe glimlaggie.

“Ek … ek dink nie so nie, Eddie. Om eerlik te wees, ek is eintlik maar ’n bietjie deurmekaar oor alles. Ek dink nie ek verstaan die hele ding behoorlik nie. Al die goed oor Suid-Afrika se swart stamme en koninkryke is fassinerend, maar dis vir my so al asof dit nie is waaroor die politiek nou gaan nie.”

“Quite perceptive, young fellow,” sê my kollega. “Dis definitief nie waaroor dit nou gaan nie. Ek dink jy sal dit gou in Londen uitvind. You’ll discover that nobody in Britain can afford to show any sympathy with the things your professor friend has been trying to tell us.”

Dan tuur Eddie Dunn in die verte en sê gewigtig: “It’s going to be hard, my young friend. We’re entering a period when it’s not going to be all fun to be a South African diplomat. I’m okay, I’m getting on. But it’s going to be a lot tougher for you, you know. You’re young, you’re ambitious, you’re an Afrikaner – but you don’t strike me as having all the credentials to succeed in the eyes of your masters in the Union Buildings, at least not yet. And at a personal level I’m not sure I want you to have them. Anyway, London’s going to be a rough ride, but an interesting one. Good luck!”

Van toe af het ek nog meer van ’n spesiale gevoel teenoor Eddie Dunn gehad, en volle vertroue dat hy my nie teenoor die base sou ontmasker as ’n “onbekeerde” nie. Maar ek moenie hier en nou te veel maak van my bedenkinge van destyds nie, want ek was werklik maar ’n snotkop. Daar was eerlikwaar nog lank nie juis intellektuele wroeging by my nie. Ek was te jonk, te naïef, te oppervlakkig, maar darem nie té vatbaar vir my gerespekteerde professor se prediking nie.

Ek sou nóg vir Eddie Dunn nóg vir professor Bruwer ooit weer sien. Ek het iewers ’n foto van my en Eddie met ons spaantjies in ons hande toe ons die prys vir die groot tafeltennistriomf op die wye oseaan ontvang. Ek het nóg ’n foto, een wat in my geheue ingeprent is. Dis ’n dowwe afbeelding van Eddie wat op die voorblaaie van koerante wêreldwyd was toe ’n linkse rebellegroep in El Salvador hom in November 1979 ontvoer. Ek kan die besonderhede nie meer mooi onthou nie, en ek soek ’n tyd lank al vergeefs na antwoorde op al die vrae wat my nou pla.

Hoekom het hulle juis die Suid-Afrikaanse ambassadeur ontvoer? Ons het tog nie eintlik iets met Latyns-Amerikaanse politiek te make nie? Hoekom juis so ’n sagmoedige, onskadelike, wyse, liewe mens? Wat wil hulle van ons hê, of is Eddie maar net die diplomaat wat die maklikste was om by te kom? Sou Eddie Dunn, goedige mens, vlot Spaansspreker, nou sondebok (wie se sonde?), sy nek uit die strik kon loswikkel? Wat gebeur agter die skerms tussen die betrokke regerings, sekerlik ook die skaduagtige Amerikaanse CIA? Vir wie se altaar word Eddie berei?

Die onvergeetlike foto: ’n verskrikte man kyk direk in die kamera deur ’n bril wat wit kolle lig onder sy oë gooi. Dis Eddie, al lyk dit nie soos hy nie. Daar is geen sweem van die urbaniteit, die humor, die wellewendheid nie. Net vrees.

Die rebelle het hom ’n ruk aangehou, en hom toe vermoor.

Professor Bruwer het laatmiddag op 13 Maart 1967 ’n vlug in Port Elizabeth gehaal Oos-Londen toe. Die vliegtuig – die Rietbok – het in stormweer in die see neergestort, en al die passasiers is dood.

Dié twee manne sou my in Londen, en in al die jare daarna, deurentyd bybly.

Op 'n galop na Buckingham-paleis

Подняться наверх