Читать книгу Op 'n galop na Buckingham-paleis - Naas Steenkamp - Страница 7
Die swaelstertmanel
ОглавлениеDie dag nadat die sekretaris van buitelandse sake my ingelig het dat ek Londen toe verplaas word, is daar ’n ligte kloppie aan my kantoordeur, en – liewe hemel! – meneer Fourie se gesig verskyn in mý lewe! Hy’s dan een van die heel groot grootkoppe! Waarvoor sou hy by mý kom aanklop? Ek spring orent.
“Geluk,” sê meneer Fourie, “jy kan lekker voel dat jy die plum job in die Diens kry. Dis ’n veertjie in jou hoed!”
“Dankie, Meneer …” Dis al wat ek kan uitkry, want ek kan aan niks anders dink om vir dié belangrike man te sê nie. Boonop voel ek self nie Londen is eintlik die plum job nie. Ek sou baie liewer Parys of Rome wou gehad het. Maar ek dink nie nóú is die plek of tyd om dit te sê nie.
“Hoe lank —”, begin meneer Fourie, maar uit verbouereerdheid begin my mond praat voordat my ore klaar geluister het.
“Nou maar so ’n jaar en ’n half, Meneer, ek —”
“Nee, man, ek bedoel van kop tot voetsole. Voete en duime.”
Ek voel my gesig warm word. “O, ekskuus Meneer, so omtrent vyf voet agt … en amper ’n half. Vyf voet agt en ’n half.”
“Perfek!” glimlag meneer Fourie. “Kom sien my môreoggend halfagt. Jy weet mos waar my kantoor is. Net daar naby die minister s’n. Sien jou môre.”
Ek weet waar dit is, ja. Ek het dié kordate kokkedoor al dikwels daar sien uitstap na die minister se kant toe, of haastig by die minister uitkom met ’n papier in die hand.
Meneer Fourie is skaars weg toe steek my grootbaas Boy Viljoen sy kop by my deur in.
“My magtag, mannetjie, lyk my jy’t ge-arrive! Selfs die adjunksekretaris kom bring hulde aan jou! Wat wou hy hê?”
“Ek weet nie, meneer Viljoen, maar hy gaan my môre sê.”
“Wat dit ook al is, jy moet maar kyk of jy dit kan doen. Brand Fourie is ’n ou wat jy aan jou kant wil hê. Definitief nie téén jou nie!”
Die volgende oggend halfagt, terwyl die gange nog stil is, klop ek aan meneer Fourie se deur en stap huiwerend in. Hy staan op van agter sy lessenaar, kyk my vriendelik genoeg maar vorsend in die oë om my ongemaklik te laat voel, groet my met die hand, en sê: “Kom sit.” Op ’n rusbank staan ’n groot bruin reistas met die deksel oopgeslaan. Binne lyk dit swarterig en ek kan nie raai wat daarin is nie.
“Nou ja, weer eens geluk! Dis ’n pos waar jy jou merk kan maak. Ek was ook daar gestasioneer, ná Berlyn, en as jy goeie werk in Londen doen, maak dit baie deure vir jou oop.”
“Berlyn?! Was Meneer in Berlyn?” In Suidwes het ek by my ouers se Duitse vriende baie oor Berlyn gehoor, daardie wonderlike stad wat later in die oorlog so totaal vernietig is.
“Ja, ek was daar toe Hitler sy opgang gemaak het, en ek was daar toe die oorlog uitbreek. Ons moes letterlik vlug – ontruim word Holland toe, en daarvandaan af Engeland toe. Skaars kans gehad om ons goed in te pak. Soos daai koffer wat jy daar sien staan.”
Ek kyk na die groot swaar leertas met sy koperknippie in die middel en die twee leerbande wat aan die voorkant met gespes vasgebind word, behalwe dat die een gespe vermis is.
“Jy weet seker dat jy spesiale klere in Londen gaan nodig kry?”
“Meneer?”
“Die werk wat jy moet doen, het baie meer seremoniële pligte as meeste van die ander poste. Jy sal dikwels na die Commonwealth Relations Office toe moet gaan, en na Westminster Abbey en die paleis en sulke plekke. En jy sal formele geleenthede soos Ascot moet bywoon waar jy manel en pluiskeil en handskoene en sulke goed moet dra, en ook minder formele geleenthede waar jy net pin-stripe trousers en short black jacket moet dra, en dalk ’n bowler. Alles hels duur.”
En ek het juis net een pak klere wat ek elke dag dra, dink ek. Ek wou ’n tweede koop voordat ek Londen toe vertrek, maar met my maandelikse salaris van twee-en-dertig pond tien sjielings (voor belasting) is die kanse nul. En nou’t ek boonop by mnr Boy Viljoen gehoor: Londen is een van die poste waar die buitelandse dienstoelae te klein is – die manne daar kan nie die mas opkom nie.
Meneer Fourie wag nie op my nie. “Ek het vir jou ’n oplossing. In hierdie koffer is ’n volledige uitrusting van álles wat jy ooit gaan nodig kry. Dis ook van die beste materiaal en die beste snit; dis voor die oorlog in Berlyn gemaak deur een van die heel beste snyers, een na wie al die diplomate altyd gegaan het. Dit lyk my jy’t omtrent my lyf. Pas aan, en as dit reg is vir jou, sal ek jou die lot laat kry vir twintig pond. Dit sal jou ’n fortuin spaar!”
Ek sit nog en wonder wat om te doen of sê, toe’s meneer Fourie op die been. Hy haal ’n swart baadjie uit die oop koffer en hou dit soos ’n stiervegter oopkant na my toe uit. Ek staan op, trek my eie baadjie selfbewus uit, en steek my arms in die baadjie. Dit sit lekker, al voel dit ’n bietjie swaar.
“Dis suiwer wol,” sê meneer Fourie. “Beter kry jy nie. Knoop toe voor. ’n Diplomaat se baadjie moet altyd toegeknoop wees. Daar’s hy! Ja-nee, hy sit reg! Perfek, eintlik. Wat sê jy?”
“Ja, perfek, Meneer. Ek weet net nie —”
“Probeer gou hierdie morning coat,” sê hy asof ek glad nie begin praat het nie, en ek moet weer die een baadjie uittrek en ’n ander aantrek in hierdie bisarre ritueel in die adjunksekretaris se kantoor. En dan nóg ’n baadjie, ’n lange met pante wat lyk soos ’n kriek se stert.
“Dis nou weer ’n aandmanel,” sê meneer Fourie. “Jy sal my nie glo nie, maar ek het hierdie ding aangehad toe ek een aand saam met Hermann Goering was. Jy weet mos, hy sou Hitler se opvolger gewees het as hy nie drooggemaak het nie. Nou gaan ek jou iets vertel wat niemand weet nie. Daardie aand sê Goering skielik vir my: ‘En hoe gaan dit met die Boertjie hier in Duitsland?’ Op Afrikaans! Ja, sy pa was Duitse goewerneur in Suidwes, en as kind was Goering daar en het hy bietjie Afrikaans leer praat!” Hy kyk my met opgehewe wenkbroue aan asof hy ’n respons verwag, maar al wat by my opkom is “Jislaaik, Meneer”, en ek weet sommer dit is nie heeltemal vanpas nie.
Meneer Fourie kyk na die baadjie en vat-vat aan my skouers. “Nee, lyk my hulle is almal nommerpas,” sê hy.
“Meneer, ek weet net nie —”
“Toemaar, dis eenvoudig. Daardie manelbaadjie is morning dress, soos jy Ascot toe sal dra. Die ander een is jou aandmanel. Albei dra jy met pin-stripe trousers, en as jy kan, met kunsleerskoene – daai blinkes, jy weet mos. Kanse is goed dat jy na ’n Commonwealth Ball by Buckingham-paleis genooi sal word, dan moet jy hierdie aanduitrusting dra. En as jy graag met prinses Margaret wil dans, onthou – jy moet voor die tyd die koningin se seremoniële sekretaris vra, en as hy dink dis jou beurt sal hy jou naam op ’n lysie sit en dan kan jy een keer om die vloer met haar ’n draai gooi. Jy moet net nie die fout maak om haar styf te probeer vashou nie, dan skop hulle ons dalk uit die Commonwealth uit.”
“Ek sal onthou, Meneer. Maar ek weet net nie waar ek nou twintig pond in die hande gaan kry nie … Ek …”
“Toemaar, dis nie ’n probleem nie. Ek sal reël dat die departement ’n pond ’n maand van jou salaris aftrek, as jy saamstem, dan’s dit binne twintig maande verby. Eintlik een-en-twintig, want ek sal die koffer vir ’n pond bygooi.”
Daardie aand in ons beknopte woonstelletjie in Sunnyside lê die items oral oor die bed en die rusbank en leunstoele gesprei. Sarie se blou oë is wyd van verstomming, maar dan bars sy uit van die lag. En sy lag. Ek raak al hoe meer onthuts.
“Wat is so blerrie snaaks?” Nou skater Sarie eers, en sak swaarlywig in ’n leunstoel neer.
“Ek moet nou ophou, jy gaan my ’n miskraam gee, Naas, dis sewentiende-eeuse goed hierdie! Wil jy by ’n toneelvereniging aansluit?”
Ek kyk die somber kledingstukke deur. Die streepbroeke lyk nogal deftig, maar die res is maar anderwêrelds en andertyds. Die manelpak wat ek uithaal het lapelle van blink, swart satyn en twee korterige pante aan die voorkant, gepunt en teruggesny soos ’n onderbaadjie. Daar is drie swart knope op elke pant wat skuins afloop na die punte toe. Die agterste manelpante begin op omtrent heuphoogte; agter, by die kruis van die rug, splits hulle, met twee swart knopies wat weerskante van die spleet blink. ’n Klein bosakkie is die enigste plek waar mens iets sou kon insit, seker ’n sysakdoekie.
Dan is daar nog ’n manel van swaar swart wol, maar dié keer met net een knoop aan die voorkant en met geen onderbaadjieagtige puntighede nie en met voorpante egalig gerond tot by die knieë. Agter is die pante baie meer bedeesd. Binne die kraag is die snyer se fyn geborduurde sy-etiket met die naam W Bornemann, Berlin.
Die koddigste van die lot: ’n wit, gestyfde affêre soos die voorkant van ’n hemp, maar sonder ’n agterkant. Daar is net bandjies wat jy soos ’n vrou se bra agter jou rug moet vasgespe – of láát vasgespe – met daarby ’n lang fluweelstrikdas wat voor aan die hemp-affêre gestrik moet word. En ’n slap wit strikdas. En ’n satynsakdoekie. En ’n kamarband wat jy om jou middel moet vasmaak. En baie bedagsaam: ’n gedrukte sketsie met Duitse byskrifte oor hoe om ’n strikdas te strik. Ek besluit net daar ek gaan nie nou probeer leer hoe om so ’n ding te strik nie, iets waaroor ek later nogal spyt sou wees.
Ek het alles toe maar in die groot leerkoffer teruggepak, baie vies vir Sarie en sommer vir meneer Fourie ook.
Aan boord die Stirling Castle op pad Southampton toe vra ek vir Eddie Dunn oor diplomatieke kleredrag in Londen.
“Dit was altyd baie formeel, maar ná die oorlog het dinge verander. I think you might still see quite a few chaps with short black jackets and pin-stripe trousers and bowler hats in and about the City – you know, bankers and stockbrokers and so on. Maar al die ander fênsie klere wat mense in die ou dae gedra het … nee, sulke goed dra mens deesdae nie eintlik nie. Ja, as jy Ascot toe gaan of dalk na ’n garden party toe, moet jy nog die morning coat dra, maar die res … jy sal maar moet sien. Hoekom vra jy?”
Ek vertel hom. Eddie glimlag meelewend. “Yes, old Brand always had an eye for the main chance. And as for twirling Princess Margaret around on the ballroom floor, well … there’s quite a queue for that. Maar jy sal maar moet sien of die diplomatieke kisklere in Londen nog altyd so old-fashioned is.”
Dit is toe ook soos Eddie Dunn gesê het. In die omgewing van Suid-Afrika Huis sien ek soms ’n sprinkeling manne met die kort swart baadjie, altyd netjies toegeknoop, die streepbroek, die bolkeiltjie netjies reglynig op die kop, en die opgerolde sambreel onder die arm. Die hakke van hulle skoene het gewoonlik ook ’n stukkie metaal daarin vasgespyker, sodat hulle met harde, militêre klik in die straat af vorder, selfversekerd en imponerend. Maar na ’n maand of twee het ek nog niks van swaelstertmanelle gesien nie.
Daar kom ’n tuinpartytjie by Buckingham-paleis, en die chargé d’affaires by Suid-Afrika Huis sê vir my ek moet gaan. Sarie mor: sy’s te swanger, sê sy, maar ek sê vir haar dis ’n opdrag van bo, en bowendien, die koningin self het gereeld haar eie tuinpartytjies bygewoon toe sy swanger was. (Ten minste, dis tog seker logies dat sy dit gedoen het.) Toe maak ons maar nog skuld en Sarie kry ’n mooi wit rok vir die tuinpartytjie. As Ma nou hier was, kon sy sommer self vir Sarie ’n rok gemaak het.
Daar is twyfel in my gemoed oor my eie mondering. Ek het darem nou al die koningin se seremoniële sekretaris, Colonel Hugo (“pronounced ‘You-Go’”) ontmoet, ’n kort, vriendelike en hulpvaardige mannetjie, en daar kom eersdaags ’n kans om sy leiding te vra. Ek moet na die stigtingsvergadering gaan van ’n komitee met die naam Commonwealth Technical Training Weeks, waarvan Sy Koninklike Hoogheid – of “HRH” soos Colonel You-Go hom noem, dit wil sê prins Philip – die voorsitter gaan wees.
Ek gaan koop vir my ’n bolkeiltjie en trek my paslik aan in my kort swart baadjie en streepbroek. Ek pronk in Whitehall af na die Commonwealth Relations Office toe, ongelukkig sonder die klik-klak van metaal in my hakke. By die vergadering is ek die enigste een behalwe Colonel You-Go wat dié mondering dra. (Ek sou later uitvind dis eintlik maar sy werksuniform, soos die vloerbestuurders van vyfsterhotelle oral dra.) Prins Philip het ’n gewone grys kantoorpak aan. Niemand lewer egter enige kommentaar op my uitrusting nie.
Agterna bly ek ’n rukkie agter en vra Colonel You-Go uit oor die gepaste kleredrag vir die tuinparty. “Yes, morning dress, of course – tails and pin-stripe, you know, and perhaps a top hat to hold in your hand, or maybe don’t even bother with a top hat – things are getting less and less formal nowadays. O yes, do take gloves along, if by good fortune you are to shake hands with Her Majesty. I know many people don’t wear gloves to these events, but it’s the form thing for a diplomat to do.”
Ek skep moed, want nou weet ek ten minste. Ek het nogal vertroue in dié toeganklike omie. “I’ve got a few things that might be just right, Colonel. Would you mind if I came along and showed you what I’ve got?”
“Uh … of course, by all means,” maar hy sê dit op daardie ietwat vervaarde manier wat die Engelse het as jy ’n voet naby ’n tou neersit. Die volgende dag stap ek met my seleksie in ’n winkelsak in Whitehall af om sy advies te gaan vra. Toe ek die “morning dress” uitstal, reageer Colonel You-Go met groot takt.
“Mmm, yes. Mmm … Good quality, certainly, but from a tailoring point of view not quite vogue. Perhaps you should pay a call on Moss Bros.”
So leer ek van die befaamde Moss Bros, waar mens formele klere vir enige geleentheid kan gaan huur. Liewer nie ’n kans vat met iets wat not quite vogue is nie, besluit ek, en ek neem my voor om binnekort by Moss Bros te gaan kyk wat hulle vir my het. Ek kry nie geleentheid om onmiddellik te gaan nie, en die tuinpartytjie kom nader. Wanneer ek uiteindelik daar uitkom, staar die kêrel agter die toonbank my oorbluf aan.
“Sir, you may not be aware, but there’s a royal garden party at the weekend. You should have booked your morning dress weeks ago.”
Vyf minute se geredekawel later besef ek die man raak al hoe stroewer. Stry of pleit gaan nie help nie. Maar net toe verskyn daar ’n heer iewers van agter en sê:
“Perhaps we can help you after all, Sir, but then you must be prepared to sort of lead the way in the fashion stakes. Our ordinary morning coats – pin-striped trousers and black tailcoat – are all taken, but I have an all-grey outfit that will, I think, fit you perfectly.”
Ek weet al klaar hoe dit voel om nie heeltemal vogue te wees nie, en ek wil nie sommer byt nie.
“Well, you know —”
“Sir, I give you the absolute assurance that it is the height of fashion. It may not yet have taken hold completely, but that’s the way of change in tastes. Mark my words – within a year or two nobody will want to be seen in the old outfit, it will be quite passé …”
Toe ek die grys pak toets, moet selfs ek toegee dat dit my soos ’n handskoen pas. Die snit is dié van die gewone morning dress, maar daar is g’n streepbroek of swart te sien nie: alles net ’n deftige liggrys. Ek gee die man ’n waarskuwende blik.
“If I’m the only person at that garden party in an all-grey outfit, I’ll come and take personal revenge on you,” met ’n poging om dit lughartig te laat klink. Hy antwoord rustig. “You won’t be, Sir.”
By die tuinpartytjie stap ek en Sarie voor by die paleis in en agter op die grasperk uit, tussen ’n horde gaste in. Ek is die enigste menslike wese in sig in ’n grys pak. Niemand kyk te hard na my nie en niemand sê iets nie, maar ek onthou – dis Engeland dié: ’n wag voor die mond en fatsoenlikheid is die wagwoord.
Ek lei Sarie aan die hand agter ’n klompie roosbome in om afsondering te soek. Maar anderkant is nóg ’n skare mense, en ek kyk rond vir vlugkans. Dan merk ek ’n glimp van grys. “Kom,” sê ek vir Sarie; ek gryp haar hand en beweeg met vaste tred in die rigting van die grys pak.
Die eerste bekende gesig wat ek sien, is dié van Colonel You-Go. Hy vang my oog, en wink my nader. Die tweede bekende persoon – die man in die grys pak – is prins Philip. Colonel You-Go raak HRH liggies aan die elmboog en rig hom na my kant toe, en daar word ek en Sarie toe formeel ge-“present”. HRH betrag my geamuseerd op en af, en kyk gemaak skelm om hom rond. Dan steek hy sy hand uit, trek my baadjiepant weg om die Moss Bros-etiket op die binnesak te ontbloot, en sê:
“Ah, I see we frequent the same establishment!”
In die daaropvolgende weke sien ek Sy Koninklike Hoogheid van tyd tot tyd weer in ons komitee se vergaderings, en elke keer verwelkom hy my met min of meer dieselfde opmerking: “Ah, the well-dressed young man from South Africa House!”
Dié herkenning gee my die waagmoed om ’n ding te doen wat normaalweg nie gedoen mag word nie. Ma kom Engeland toe vir Sarie se bevalling, en juis toe dié in die kraaminrigting is, kry ek ’n uitnodiging van die soort waaroor Mams altyd gedroom het. Die Suid-Afrikaanse krieketspan onder Jackie McGlew is in Engeland vir ’n reeks teen die MCC. Oudergewoonte speel hulle ook ’n vriendskaplike wedstryd teen die “Duke of Norfolk’s Eleven” by Arundel Castle. Die koningin en HRH sal vermoedelik ook daar wees, want my uitnodiging sê ek sit in die Royal Box in die groot markiestent wat op die krieketveld opgerig word. Ek nooi my moedertjie om my gesellin te wees. Sy is in die wolke. Sy dos haar in haar fraaiste en fynste uit, waarvoor sy spesiaal ook ’n deftige hoed moet koop. Haar korterige postuurtjie verbloem sy deur ’n paar fyn ontwerpte hoëpolvye met stilettohakke aan te skaf.
Tot haar teleurstelling woon die Queen nie die geleentheid by nie. Maar die res is soos in ’n droom (tot op ’n gegewe moment). Die dag is soos ’n herfsdag in die Kaap. Die son skitter op die reuse-, bladstil eike, die atmosfeer is pure “genteel English”, teekoppies klink, dun komkommertoebroodjies word verorber. Ons sit in die voorste ry van die Royal Box, en voor die wedstryd begin, staan Jackie McGlew en prins Philip ’n paar treë weg en gesels.
“Kom, Mammatjie,” sê ek, en ek vat haar aan die elmboog en lei haar na die twee manne toe. Die reël met royals is “speak when spoken to”, maar ek gaan ter wille van ’n onvergeetlikheidjie vir my moeder daardie reël verbreek. JackieMcGlew kyk effens gesteurd na my toe ons naderstaan, maar HRH sê gul: “Ah, the man of refined sartorial taste from South Africa House!”
Met Mams aan my regterkant, draai ek my na links om prins Philip aan te spreek. “Your Highness, allow me to present my —” en ek draai na regs om my moeder vir hom te wys. Maar sy’s weg, altans nie weg nie, maar omtrent veertig grade skuins bokant die grasperk op pad af ondertoe, haar lyf stokstyf, haar oë gesper, haar mond in ’n gevriesde, geluidlose “O …!” Jackie McGlew het eerste besef dis haar stilettohakke wat in die grasperk wegsink, en dat sy niks daaraan kan doen nie, en hy spring toe dadelik, maar te laat, nader. Prins Philip was tweede byderhand, en ek laaste. Met dofsware plof tref Mams die milde groen grasperk van Arundel Castle plat op haar rug voordat die twee here haar aan haar arms kan ophelp.
“Mother, no, not like that!” sê ek, “a curtsy is something quite different!”
Moontlik, wie weet, het HRH en Jackie McGlew albei later van tyd die storie oorvertel. Ons in die familie hét natuurlik, en dikwels. Ek het dit vir die soveelste keer vertel die Oujaarsaand op die plaas naby Port Alfred toe ons by Mams-hulle se kostuumbal was, iets wat sy vir liefdadigheid georganiseer het. Saam met my op die plaas daardie vakansie was die swaelstertmanel, want ek het in die volheid van my tyd in Londen nie van die groot leerkoffer en sy inhoud ontslae kon raak nie. Ek het met die vertrek see toe onthou om gou in die stofbelade koffer in die garage te gaan krap om my “fênsiedres” uit te haal.
In die kerksaal op Port Alfred is daar ’n boereorkes, en almal moet skoffel en dans. Ek is uitgevat in my swaelstertmanel, die eerste keer dat ek dit dra. Onder die manel is die eienaardige gestyfde half-hempie met die linte wat agterom vasgegespe word. Om my nek is die strikdas wat ek nooit geleer het om te knoop nie, met die een pant wat soos ’n lunsriem na benede hang. Die deftige wolklere is verskriklik warm, en ek kan nie my kant bring in die dansery nie. Ek kan ook nie die baadjie uittrek en met ’n kaal rug dans nie. Naderhand gaan sit ek buitekant die kerksaal op die sypaadjie met die manel op die grond langs my.
Die volgende oggend is ons douvoordag op, want Pa is ’n melkboer, en daar moet gemelk word voor die son opkom. Sors, goeie ou Sors, kom steierend daar aan. Selde hoe uitgefuif hy was, jy kon altyd op Sors reken om op sy pos te wees, al is hy so gespuit dat hy die spene nie mooi kan raak vat nie. Dis toe ek Sors se skraal lyfie daar op die omgekeerde emmer sien sit, bibberend in die vroegoggendluggie, dat die idee na my toe kom.
Die beeld daarna van Sors in die swaelstertmanel besig om laggend en sleeptong-singend te melk was heelwat meer as twintig pond werd.