Читать книгу Nadia - Nadia Beukes - Страница 11

Оглавление

Ek en Xander het in my honneursjaar tydens ’n sêrkompetisie ontmoet. Xander was ’n argitekstudent van Bloemfontein. Hy en sy suster, Ansua, met wie ek tot vandag toe vriende is, was ook deel van die Zing!-opnames, maar ons paaie het nie daar gekruis nie. Een van sy skoolvriende was in ’n verhouding met een van my beste vriendinne Janine Viljoen wat vandag met die rugbyspeler Bryan Habana getroud is.

Ons paaie kruis toe wel in 2004 asof ons vir mekaar bestem is. Op hoërskool het ek telkens halsoorkop verlief geraak en gedink: Nou het ek die regte een gevind! Ek was ’n hopeless romantic! Met Xander was dit weer so. Ek onthou hoe hy een aand vir my onder my koshuisvenster met ’n mussie op die kop en kitaar in die hande geserenade het. Die houtskoolskildery van dansende voete wat sweef, omring deur die lirieke van die einste lied wat hy vir my geskryf het en wat hy ook daardie aand onder my venster gesing het, was een van vele kosbare geskenke wat hy vir my gegee het. In Xander het ek ’n sielsgenoot gevind.

Dit was so ’n mooi, onskuldige romanse – amper te goed om waar te wees. Xander het in daardie stadium van my lewe in die prentjie van ’n pasmaat gepas. Hy was talentvol en kreatief. Hy kón sing en het my passie vir die verhoog en die teater gedeel. Ek het geglo ons is die perfect match. Ons het dadelik gekliek en het baie pret saam gehad. Ons was sulke hegte vriende.

Baie mense was egter skepties oor my en Xander se verhouding voordat ons getroud is. Dalk het hulle iets geweet wat ek nie geweet het nie … Hoewel Xander as baie verfynd, sag of kunssinnig beskryf is, het dit my nie gepla nie, want my waarheid in daardie stadium van sy lewe was dat hy heteroseksueel is – of dalk eerder heteroseksueel wou wees. Hy het geskilder, gesing en gedans, maar ek het nie van stereotipering gehou nie. Ek hou steeds nie daarvan nie.

Jou belangstellings of die aanklank wat jy by sekere aktiwiteite vind, is tog nie dit wat jou seksualiteit bepaal nie. Dit is iets heeltemal anders. Iets wat ek nie toe kon verstaan nie en dalk steeds nooit sal kan verstaan nie, want dit is nie wie ek is nie.

Ek het wel besef jou seksualiteit is nie vir almal vanselfsprekend nie. Vir sommige mense gaan dit gepaard met ’n diep soeke na ’n identiteit waarin hulle gemaklik voel, waarin hulle voel hulle kan wees wie hulle is en lief wees vir wie hulle wil. Maar dis nie altyd aanvaarbaar in ’n Afrikaanse, konserwatiewe omgewing of in die meeste kerke om te sê ek is ’n man en ek hou van mans of ek is ’n vrou en ek hou van vroue nie.

Vroeg in ons verhouding het hy wel een keer gebieg oor die “worstelinge” in hom. Hy het dinge gehad wat hy alleen moes uitsorteer. Ek het nie toe veel daarvan gedink nie, want baie ouens, en selfs meisies, veral in die kunste is somtyds deurmekaar oor hul seksuele oriëntasie en vra hulself daardie vraag af.

Ons het vroeg in 2006 besluit om die verhouding te verbreek. Dit was ’n moeilike tyd waarin ons nie met mekaar gepraat het nie, maar het wel briewe vir mekaar geskryf om ons gevoelens te deel.

Nege maande nadat ek en Xander besluit het om uit te maak, is ek en my vriendin Janine in die vroeë oggendure deur rowers oorval terwyl ons geslaap het. Ons het in daardie stadium saam in ’n kommune saam met nog ’n vriend Johannes Loubser gebly, maar hy was nie die nag daar nie. Die booswigte het deur ’n venster in die leefarea ingebreek en ons kom wakker maak. Janine – nog altyd ’n geestelike rots vir my – het hardop in tale begin bid en die rowers kon haar nie verstaan nie. Hulle het haar beveel om op te hou en het hardhandig met ons geraak. Die twee mans het alles van waarde gebuit. Ons het vir ons lewe gevrees, veral toe hulle sê hulle gaan net die goed in die motor sit en dan terugkom vir ons. “Dan gaan ons ’n bietjie pret hê”, het een gedreig. Die rowers het ons in my slaapkamer oorkant die badkamer en langs die kombuis toegesluit.

Die kamer was ’n gemors. Alles om ons was gestrooi soos wat hulle dit uit die kaste en laaie gegooi het. Ek het ’n sak van die vloer af opgetel en in die sak was ’n sleutel met ’n sleutelhouer wat lees: “Kyk wat ’n groot genade bewys God vir jou.” Dit was die sleutel van ’n agterdeur na buite. Ons kon uitkom en hulp ontbied.

Bryan, toe nog Janine se kêrel, en my pa, was van die eerste mense op die toneel. Xander was een van die eerste mense wat ek gebel het. Hoewel my selfoon gesteel is, het ek sy nommer uit my kop geken. Met daardie nare ondervinding het ons besef dat ons nie sonder mekaar wou wees nie. Die lewe het skielik net te kort en onseker gevoel om nog langer vir mekaar te wag. Ons het weer begin uitgaan.

Ek onthou hy het in daardie tyd vir my ’n leë boks as ’n geskenk gegee. “Wat op aarde is dit?” het ek gevra. Sy antwoord was: “Kom ons begin oor.” Die boks was veronderstel om simbolies van ons verhouding te wees, waar ons weer van vooraf ons goedjies saam in kon bêre.

Ek kon nie my geluk glo toe hy my net ’n maand of wat later op 31 Desember 2006 uit die bloute vra om met hom te trou nie. Ek en hy was onderskeidelik 24 en 25 jaar oud en seker nog nat agter die ore, maar Xander was vasbeslote – hy het in sy hart en in sy kop besluit dit is wat hy wou hê. Ek het hom gevra of hy seker is, waarop hy geantwoord het dat hy glo ons kan dit laat werk. Ek het dit ook geglo.

Ek het na Xander geluister toe hy my vertel het van die stryd wat hy met sy seksualiteit voer, maar ek het dit nie noodwendig verstaan nie en beslis nie besef dat daardie stryd so ingewikkeld is nie. Hoe kon ek? Dit was iets wat hy in sy binneste ervaar het en ek het aan die kantlyn gestaan en toekyk, nes die tyd toe ek op hoërskool as reserwe langs die netbalbaan gesit het en nooit die kans gekry het om ’n doel aan te teken nie.

Ek het gedink dit is ’n besluit wat hy moes maak en sy stryd was bloot ’n vraag waarop hy ’n antwoord sou moes kry. Ek het nooit werklik geglo dat sy antwoord sou wees dat hy homoseksueel is nie. Hoekom sou hy dan in ’n verhouding met my wees en hoekom sou ek gevoelens vir hom en hy vir my hê? As hy nie van vroue hou nie, hoekom sou hy sy, of my, tyd mors? Om nie eers daarvan te praat om my te vra om te trou nie. Ek het geglo hy het die antwoorde op sy vrae gekry. My gevoel was dat ons verhouding op so ’n veilige plek was dat ons enigiets vir mekaar kon sê.

Voor sowat 100 mense het ons in Mei 2007 saam met ons ouers, familie, hegte vriende en voor God trou aan mekaar beloof. Dit was ’n mooi troue in Muldersdrift buite Johannesburg en Xander het veral baie gedoen om dit spesiaal te maak.

Party mense het dit vreemd gevind, maar ek was mal daaroor. Hy het met sy kunstige vaardighede lap vir my rok ontwerp en met silwer verf liefdeslirieke op die materiaal geverf. Ek was die praktiese een – hy daarenteen het kleur aan my lewe verskaf.

Ons het nie voor die huwelik saamgebly of saamgeslaap nie en daar was baie eerstes vir ons. Ons het min lewenservaring gehad. Ons skedules was taai, maar ons het baie saamgewerk en daardie tyd saam probeer benut.

Die werk het ingestroom. Ek het besluit om Cutt Glas te verlaat. Dit was ’n mal tyd en ek het toe boonop ’n rol agter die skerms by Villa Rosa as publisiteitsbeampte gekry. Ek kon nie by alles uitkom nie. Ek het in daardie stadium net ge-go.

Ek en Xander was jonk en verlief. Ons het gedink ons is op die kruin van die golf, dis asof alles in plek geval het.

Soos enige jong getroudes het ons ook oor klein jakkalsies vasgesit, veral as ons inkopies gaan doen het. Ons kon nie die rolle wat ons gedink het van ons verwag word, vol staan nie. Aanvanklik het ons ooreengekom dat ons om die beurt inkopies vir die huis sou gaan doen, maar ons het min tyd en energie gehad om die heeltyd te bepaal wie winkels toe moes gaan. Uiteindelik het ons ’n groter yskas gekoop in die hoop dat as ons dalk net een keer per maand kruideniersware gaan koop, ons minder sou stry. Ek het van my tydskrifte ontslae geraak om meer plek vir sy boeke te maak.

As ek nou aan alles terugdink, het my lewe momentum gekry. Dit was vir my belangrik om vas te klou, en om met al die opwinding en uitdagings by te bly. Dalk moes ek ’n bietjie stadiger beweeg het. Dalk sou ek toe al die krake kon geïdentifiseer het, maar ons was naïef.


Die verhoogstuk The Rocky Horror Show wat in 2008 in die Johannesburgse Victory Teater opgevoer is, was ’n energiebelaaide kragtoer en ek het saam met die res van die toneelspelers die gehoor in vervoering gehad. Die flitsende ligte, die dreunsang van mense en die oorverdowende applous het my na ’n fantasiewêreld meegevoer.

Ek het gevoel ek het die wêreld aan my voete toe ek daardie aand die verhoog met my vlamrooi hare en sexy spykerhakke aan die brand dans. My drome was besig om waar te word. Dit was alles wat ek gedink het dit sou wees, selfs beter as wat ek kon dink. Ek en Xander het die padkaart na die perfekte huwelik gevolg. Ons het al die rede op aarde gehad om gelukkig te wees. Ek was op 25 nog bloedjonk en op die pad na sukses. Ek was maer en almal het my na die vertonings vertel hoe ongelooflik goed en gelukkig ek lyk.

Dit was egter nie die geval nie. Nie meer nie. Binne-in was ek stukkend. Xander wat saam met my in die musiekblyspel was, het die bom daardie oggend laat bars. Ek het skaars wakker geword toe hy teen die kosyn van die kamerdeur staan en sê: “Ek kan nie meer met jou getroud wees nie, ek het ’n fout gemaak.”

’n Koue en nare gevoel het op die krop van my maag kom sit. Hy het dit so direk en met oortuiging gesê dat die impak daarvan my geruk het. Dit kan nie wees nie, het ek gedink. Ek was dan so oortuig daarvan dat Xander my sielsgenoot is? Ons was dan nog nie eens lank getroud nie. Ons lewe saam het pas begin. As hy dit nie wou hê nie, hoekom het hy my dan gevra om met hom te trou?

Die skrif was aan die muur: “Nadia, ek dink ek is gay.” Ek was heeltemal onkant gevang. In daardie stadium het ek steeds geglo dat hy antwoorde op sy vrae rondom sy seksualiteit gekry het. Dat hy dit agtergelaat het toe hy my gevra het om te trou.

Dit was vir my ironies dat ons op daardie tydstip in dié aweregse musiekblyspel The Rocky Horror Show was toe Xander my die waarheid oor sy seksualiteit vertel het. Die stuk het juis oor twee onskuldige mense, Brad en Janet, se seksuele gewaarwordings gehandel.

In dié bekende kultusmusiekblyspel gaan die twee pasgetroudes op ’n avontuur en word dan met baie donker dinge gekonfronteer. Hoewel my ouma Jane gesê het sy gaan nie dié konsert kom kyk nie omdat dit “effens riskant lyk”, was dit ’n prettige blyspel. Baie mense het die liedjies geken en elke vertoning was ’n baie lekker en gesellige ervaring. In my kostuum en met dik grimering op my gesig gepleister, kon ek vlietend in die persona van my rol as ’n phantom, ’n singende en dansende gees, van my realiteit ontsnap. Vir ’n oomblik elke aand kon ek van my bekommernisse vergeet, want daar is genoeg op die verhoog wat jou aandag hou.

Soos die lewe maar is, sluip die waarheid altyd tog maar stil-stil by die teater se agterdeur in. As die vertoning klaar is, gaan die ligte af en die eerste ding wat jy moet doen, is om jou kostuum vir gewone klere te verruil. Die grimering word afgewas en jy moet jouself weer in die oë kyk. Met die gordyn wat na elke vertoning gesak het, het ek niks meer gehad om agter weg te kruip nie.

Op die verhoog sit jy ’n masker op, word jy ’n ander mens. Dit is lekker, want jy weet presies wat om te sê, waar om te staan en wat om te doen. Jy weet wanneer om hartseer te wees en wanneer om gelukkig te wees – te danke aan ’n teks en ’n regisseur wat jou leiding gee.


Ek het dadelik besluit wat om te doen. “Ons sal hierdie huwelik maak werk. Ons het ’n keuse gemaak en nou moet ons doodeenvoudig daardie keuse eer …”

Ek is in so ’n huis grootgemaak. Jy maak jou keuses en jy bly daarby. Wanneer jy jouself tot ’n belofte verbind, veral ’n belofte voor God, dan sien jy dit na die beste van jou vermoë deur tot die einde toe. Jy laat nie toe dat jou omstandighede die koers van jou lewe bepaal nie.

My ouers was definitief in hierdie opsig vir my ’n voorbeeld. Hul huwelik het ook sy uitdagings gehad. Dit sou sekerlik makliker vir my ouers gewees het om te sê kom ons los dit eerder en gaan elkeen ons eie rigting, maar my ouers het mekaar en daardie lewe gekies en hulle het hul belofte gestand gedoen. Ek was van plan om dieselfde te doen.

Daar was ongelukkig niemand wat vir my en Xander kon leiding gee as ons saans ná werk weer by ons klein, eenslaapkamerwoonstel in Weltevredenpark, Johannesburg, aankom nie, grootliks omdat ons ons probleme vir onsself gehou het. Ek het gevoel ons moet probeer om ons huwelik te red al het Xander dit duidelik gemaak dit is sy seksualiteit waarmee hy ’n stryd voer en dat sy besluit oor daardie stryd nou vir eens en vir altyd gemaak was.

Ons het ná Xander se aankondiging saam ’n pastorale sielkundige gaan sien en ons leefstyl aangepas. Ons het meer kerk toe gegaan.

Xander het reguit vir die berader gesê hy is gay, hy kan nie met die huwelik voortgaan nie. Ek weer het nog hoop gehad dat ons die huwelik kan red en dat hy dalk van besluit sal verander. Dit was nie die berader se plek om vir ons te sê wat om te doen nie, maar hy het aan ons benadruk: “’n Mens het net hierdie een kans om te leef en dit help nie ’n mens leef in ontkenning nie. Xander het nou sy waarheid aan jou, Nadia, gekommunikeer en jou waarheid is dat jy meen dit is die moeite werd om vir jul huwelik te baklei. Hy skuld jou dit ook.”

Xander het saamgestem. Hoewel Xander sy besluit geneem en gekommunikeer het, was hy ook bereid om my die ruimte en tyd te gee om te kyk of ons dit kan maak werk. Hy sou alles in sy vermoë doen om vir my, en ons, deur die proses te help.

Ons wou nie die dag as ons besluit om halt te roep onsself met vrae teister nie: as ons maar net dit of dat gedoen het … Die berader het ons egter aangeraai om ’n spertyd op ons probeerslag te sit. Hy kon nie vir ons sê wat om te doen nie, maar het ook gemeen ons kon nie onbepaald so aangaan nie. Ons moes vir ons eie beswil ’n besluit maak. Nie een van ons wou ’n onvervulde lewe lei nie. Ons het ooreengekom om dit tot die einde van daardie jaar kans te gee.

Ons het alles wat in ons huwelik aan die gebeur was, stilgehou. Kort ná The Rocky Horror Show het ek aan ’n nuwe musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog, Ons vir jou, begin werk. Dit was so snaaks, want ek en my hartsvriendin Edrien Erasmus het toe mans gespeel en saans op die verhoog verskyn met ’n snor en ’n baard wat op ons gesigte geplak was.

Ons het grappies gemaak en so hard gelag dat ons snorre afgeval het. Dit was vir my ’n voorreg om in hierdie pragstuk van Deon Opperman saam met my pa, wat die rol van generaal Koos de la Rey vertolk het, te kon werk. Daardie verhoog was my hawe en elke aand wanneer my pa die lirieke van “Hoe sê ’n pa vir sy seun” gesing het, het ek stilweg gewonder: Hoe sê ’n dogter vir haar pa? Ek was nie gereed om hom en my ma by die gebeure en gesprekke tussen my en Xander te betrek nie, want ons het in daardie stadium alles gedoen om die huwelik te maak werk.

Ek het probeer om die beste van die omstandighede te maak. Elke aand wanneer my pa van sy seun moet afskeid neem in die teaterstuk, het ek gevoel hoe iets ook binne-in my sterf, iets wat ek aan die lewe probeer hou het.

My en Xander se huwelik was soos ’n vuurtjie wat ’n mens aan die brand probeer hou het, maar as dit eers dood is, is dit onmoontlik om dit sonder ’n vuurhoutjie aan die brand te steek.

As twee mense ooreenstem en “ja” sê, is dit ’n onverskrokke ja, maar as een dan “nee” sê, beteken die ander een se “ja” nie meer veel nie en dan moet die onderhandelinge begin.

Dit was ’n moeilike tyd, want ons was albei in die openbare oog. Ons moes die heeltyd ’n front voorhou. Ek het gewens dinge kon anders wees, maar ek het geweet dit kan nie. Die realiteit het my elke dag vierkantig in die oë gestaar en ek het bloot die spreekwoordelike sonbril opgesit om die sonstrale van die waarheid af te weer.

Ek was hartseer en verslae. Niks van wat aan die gebeur was, het deel van my toekomsplanne uitgemaak nie.

Ek het nie gedink dit was nodig dat Xander eers met my moes trou om homself uit te figure nie. Ek het gevoel hy moes genoeg guts gehad het om voor die troue met my eerlik te wees. In terugskoue dink ek nie hy kon toe al eerlik met homself gewees het nie en ook nie met my nie.

Xander se besluit het my planne opgemors. By die huis was ons soos twee huismaats. Ons het steeds hard gewerk en die konflik was meestal intern, met onsself. Wat moes ek met hierdie inligting doen? Hoe moes ek dit verwerk? Hoe moes ek sin uit alles maak?

My ontkenning het omgeswaai na teleurstelling. Teleurstelling in myself, in hom, in ons verhouding, in God, in die kerk, in instansies, in sisteme en ek het nie geweet waar om die woorde te vind om te beskryf hoe ek voel nie. Xander se homoseksualiteit het vir my ’n geestelike kwessie geword, iets wat ek gedink het ek net sou kon wegbid. Ek het gevoel hoe moeilik kan dit wees: Kies net! Wees net heteroseksueel, kies dit net! Ek weet vandag dit is nie so eenvoudig nie.

Dit is ’n ingewikkelde individuele soektog wanneer jy jou seksualiteit bevraagteken. Xander se soektog het my met ’n magdom vrae gelaat. Dit was wel vir my baie insiggewend om met my gay vriende en vriendinne oor die situasie te praat. In my gesprekke met hulle het ek empatie vir Xander se situasie gekry. Hulle het my laat besef dat dit nie so eenvoudig is nie. Een van my vriende het vertel oor die tyd toe hy “uit die kas” geklim het. Hoe bang hy was om sy ouers te vertel en oor sy vrees dat hulle hom sou verwerp. Hy het ook vertel dat hy van kleintyd af gevoel het dat hy dalk gay is, maar hy kon dit nie wees nie.

Ek het besef hoe moeilik dit vir Xander moes wees. Ek moes myself in sy skoene plaas. Sy pa is ’n NG predikant en sy ma is, soos my ma, ook ’n onderwyseres. Hoewel sy ouers nie meer saam is nie, is hulle lieflike en ordentlike mense en is hy baie geheg aan sy gesin. Ek kan my indink dat hy hulle ook nie wou verloor nie. Om nie eens te praat van die samelewing waarin ek en Xander onsself bevind het nie, ’n samelewing waarin selfs Christene mekaar so maklik oordeel.

Uit die perspektief van ’n konserwatiewe Afrikaanse opvoeding is gay-wees vir baie net nie aanvaarbaar nie en besin die NG Kerk geledere steeds oor die algehele aanvaarding van homoseksualiteit binne die kerk. Mense was na die verbrokkeling van ons huwelik baie gou om Xander te oordeel, maar vergeet dat ook ek op ons troudag ’n keuse vir hom gemaak het. Ek voel steeds dit is nie my plek om hom te oordeel nie. Vandag hoop ek mense sal met tyd meer en meer genadig teenoor mekaar wees en mekaar die ruimte gun om net te wees wie hulle is.

Die oordeel kom ons nie toe nie. Dit kom net God toe. Dit maak my veral kwaad as Christene ’n oordeel oor ander fel. Wat Christenskap vandag vir my is, is genade. Ek wonder soms of dit nie juis is hoekom dit alles met my gebeur het nie, dat ek ook kon besef dat die lewe nie maar swart of wit is nie.

Voor my verhouding met Xander uitmekaar geval het, was ek baie meer ’n swart-en-wit-mens, sonder perspektief en insig. Mettertyd sou dit wel meer en meer verander, want vandag weet ek daar is veel meer grys areas en genade as wat ek gedink het daar sal wees.

Dalk moes ek deur die pad wat ek gestap het en steeds tree vir tree aanpak, presies dit van Jesus se genade vir ons begin verstaan. Ek rus vandag in die wete dat ek nie al die antwoorde het nie, maar dat ek lesse leer en in myself en my menswees groei. Die vraag is dus nie meer vir my hoekom het dit gebeur nie, maar veel eerder wat ek daaruit kan leer. Jou paaie word aangepas as jy alternatiewe roetes begin oorweeg, maar een ding bly vir seker, jou rigtingaanwyser, God, bly getrou.

Nadia

Подняться наверх